Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Nelus Niemandt praat met Marida Fitzpatrick: Hy het vrede, ook oor Belhar PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Saterdag, 30 Mei 2015 21:00

Kyk ook:

Die volgende artikel het op Netwerk24 verskyn.

**********

Nelus Niemandt praat met Marida Fitzpatrick: Hy het vrede, ook oor Belhar

Deur Marida Fitzpatrick, Saterdag 30 Mei 2015 02:50

Lanklaas het ’n kerkmoderator soveel houe gevat soos Nelus Niemandt. Hy praat oor die haat-SMS’e en -oproepe, die swart man wat sy tweede pa was, en of die NG Kerk gaan skeur.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, by sy huis in Pretoria. Foto: Theana Breugem

’n Mens moet jouself nie so ernstig opneem nie, sê Niemandt. “Veral ons dominees. Ons moet leer om met ’n lightness of being deur die lewe te gaan.” Foto: Theana
Breugem

Sy e-posse eindig hy altyd op dieselfde manier: “Vrede, Nelus.” Nie “groete” of “beste wense” of “mooi bly” nie. Vrede.

In dié stadium wensdenkery, want lanklaas was daar soveel ónvrede in die NG Kerk. En lanklaas moes ’n moderator soveel houe vat soos prof. Nelus Niemandt (58).

“Volksverraaier”, noem sommige hom, boelie, moeilikheidmaker, vyand. “Daar is mense wat my bel en sê ek is ’n ongelowige en gaan in die hel brand.”

Dit alles oor die Belydenis van Belhar, die NG Kerk se poging “om die belang van geregtigheid, versoening en eenheid in ons dag en tyd te bely”.

Dalk ’n paar dekades te laat? Ja, dit moes lankal gebeur het. “Ek vind dit verbasend dat ons in rugby en in die sakewêreld mekaar maklik kon vind, maar nie... Ek dink Belhar het ’n veelkantigheid wat dit ingewikkelder maak.”

Want die ding is: Dit gaan nie hier net oor rassepolitiek nie, maar ook oor tegniese teologiese kwessies soos die werkinge van belydenisse.

“Ons het te lank ons lidmate grootgemaak op ’n spyskaart van belydenisskrifte wat belangriker is as die Bybel,” sê hy.

“Hulle het nooit verstaan dit kan verander en verbreed nie. Hierdie goed is so vas...”

Vas genoeg dat die kerk daaroor kan skeur?

“Nee,” antwoord hy beslis. “Ek was bang daarvoor, maar ek was by die meeste streeksinodes en daar is glad nie aanduidings daarvan nie, glád nie.”

Maar van die mense is woedend, “natuurlik”, en daardie woede rig hulle op een mens: Nelus Niemandt.

“As hulle ’n gesig soek,” sê hy gelate, “dan is dit ek, ja.”

*****

Bene gekruis en hand op die ken sit hy in hul voorstedelike gesinshuis in Pretoria. Die sitkamer het daardie musiekjuffrou-gevoel: blinkbruin staanklavier, Persiese tapyt, ’n paar helder Portchie-skilderye teen die muur. Êrens in die agtererf blaf die honde, desperaat om by die gaste uit te kom.

“DAAR IS HEFTIGHEID, MAAR DIS POSITIEF.”

- prof. Nelus Niemandt

“Die gesprekke oor dié goed het baie energie,” sê hy. “Daar is heftigheid, maar dis positief.” Self is hy baie sterk ten gunste van Belhar.

“Die Bybel sê jy kan nie in die kerk van die Here mense op rassegronde skei nie. Ek voel dit is iets wat mens met oortuiging moet sê. Híér staan jy. Die evangelie is hier op die spel.”

Met geen respek vir Belhar of die evangelie nie, bars twee raafswart mopshonde die volgende oomblik die sitkamer in ’n blinde vaart binne. Krulstert en uittong spring hulle in vrolike boë tot by hom, hul blink, ronde koppe onder sy hande.

“Hier is die wagters van die huis.” Hy lag hoog, seunsagtig, met ’n vrolikheid wat hom selde tydens die onderhoud verlaat. “Kom groet tog nou en kry klaar!”

Die een is Jackson (genoem na een van Johnny Cash se liedjies) en die ander een Juliette (genoem na Niemandt se gunsteling-aktrise, Juliette Binoche). Soggens groet hulle hom al pratende, vertel sy vrou, Marthinet. Met niemand anders gesels hulle so nie, net met hom. “Nelus is mal oor hierdie hondjies,” sê sy. “’n Mens leer baie by honde,” mymer hy. “Hulle staan elke oggend op asof dit die eerste dag van hul lewe is. Hulle vergewe al gister se sondes. No regrets.”

Dis ’n luukse wat mense nie het nie, kerke ook nie. Regrets is daar baie en gister se sondes haal jou in.

Los die politiek uit die kerk, pleit van die briefskrywers. “Moet ons die politiek dan vir die politici los?” vra hy driftig, trek sy wenkbroue in ’n skerp V. “Dán het jy ’n ramp. Dis ook nie asof ek, jy weet, ’n ruiter alleen op ’n wit perd is wat my eie reis ry nie. My opdrag kom van die algemene sinode.”

Maar die streeksinodes het gestem en die antwoord was “nee”. Een streeksinode, in die Noord-Kaap, was so briesend oor Belhar, “hulle het geweier dat ek daaroor met hulle gaan praat”.

Ook in die Vrystaat is daar baie voor wie jy nie eens Belhar moet noem nie. “Ek het baie deernis daarmee. Dit gaan baie sleg in die Vrystaatse platteland. Daardie mense is kwaad oor baie goed. Nou sê hulle sommer nee vir alles. Hulle voel: ‘Die kerk is al waar my stem nog tel. So, nee.’

“In baie van daardie dorpe is die NG gemeentes die enigste gom wat die plek nog aan mekaar hou. Dis daai mense wat self die slaggate toemaak, wat die skole aan die gang hou, wat ’n gemeenskapslewe koester.

“En hulle voel hulle is uitgelewer aan alles, en nou kom die kerk ook nog en sê vir hulle: ‘Jy moet skuldig voel, Belhar verteenwoordig die nuwe bedeling.’”

Maar dis nie wat die kerk sê nie, hou Niemandt vol. “Almal het ’n aanspraak op reg en geregtigheid. Die skeidslyn is nie wit of swart nie, die skeidslyn is ofdaar onreg aan jou gedoen is.”

Maar net so is daar baie lidmate “wat ontsaglik passievol en ernstig is oor Belhar”, sê hy.

“Veral jonger lidmate en jong dominees wat sê vir húlle simboliseer Belhar hul nuwe lewe, waar die land nie op rassegrondslag verdeel is nie.”

Die NG Kerk het die laaste 20 jaar sowat 400000 lidmate verloor, grootliks weens die negatiewe bevolkingsgroei onder Afrikaanses. “Hier’s ringe waar hulle rekord hou, dan sê hulle hulle het 80 begrafnisse gehad en 10 dope.”

Maar die kerk staan nog meer as ’n miljoen lidmate sterk. Presies hoeveel van hulle vir Belhar of teen Belhar gestem het, weet hulle nog nie. “Ek skat dis so 50/50. Ons gaan September ’n hele analise saam met demograwe doen.”

Vir die kerk om Belhar as ’n belydenis te kon aanvaar, moes twee derdes van elke streeksinode daarvoor gestem het. Dit het nie gebeur nie en daarom is die “kerkregtelike wysiging” van die baan.

Maar Niemandt glo “die tendens loop in die rigting van baie sterk oortuiging vir Belhar”.

Dan is daar ook nog die kwessies van kerkeenheid, homoseksualiteit... “Ek dink die ideale uitkoms sou wees as mens alle mense, ongeag (seksuele) oriëntasie, waardig behandel en volledig opneem in ’n kerklike lewe, sonder om teen enigiemand te diskrimineer.”

As diakens, ouderlinge en predikante ook? “Ja, alles, volledig.” Hy sug, gooi sy arm oor die leuning. “As jy dit skryf, sien ek nou weer die SMS’e...”

’n Sluk van sy koffie, ’n moedelose lag. “Maar dis oukei, ek sê dit al lank.”

*****

Hierdie sagte plekkie vir die verdruktes en die verloorders het hy al sy hele lewe: As kind in Kempton Park met ’n burgemeesterspa wat net so graag met deurwagte en drywers as met hoëlui wou praat. As jong polisiekapelaan in Johannesburg, Commissionerstraat, tussen dossiere vol mensetragedie in Johannesburg-Sentraal. Dominee in Triomf, op huisbesoek by armes, gebrokenes, broses.

En dan was daar Johannes. Johannes Pooe, die Tswana-man wat vir Niemandt ’n tweede pa was op sy pa se plaas by Swartruggens. Oor hom raak sy oë sommer waterig, sy stem skor. “Hy’t my leer beeste dip en inspuit, leer ploeg op ’n trekker, kar bestuur, ek het saam met hom gejag in die jagveld. Hy het ’n baie diep rol in ons familie gespeel.”

Hy haal ’n maroen sakdoek uit sy sak, blaas sy neus hard. “So tien jaar terug is hy oorlede. Ek het nog sy begrafnis in Leandra gehou. Hy was ’n mentor en ’n vriend vir my, soos ’n tweede pa. Hy was nie net ’n arbeider op die plaas nie.” ’n Ruk lank dink hy na. “Sulke goed het dalk op ’n manier ’n ou se lewe op ander trajekte geplaas.”

Die dominee-trajek was ’n “bietjie van ’n skok” vir sy ouers. “My pa’t gesê ek moet asseblief enigiets anders doen.”

Op universiteit het hy Marthinet ontmoet, later getrou en drie kinders gehad. Marthinet se pa was destyds die NG moderator. Toe, as jong lat, was Niemandt maar skrikkerig vir sy aanstaande skoonpa, nie vir ’n oomblik het hy gedink hy gaan self nog daai warm stoel volsit nie.

En hier sit hy nou, met die kerk en die land se probleme op sy skouers.

Toe hy en die fotograaf later buitentoe gaan vir foto’s, skud Marthinet haar kop bekommerd, sê haar man het te veel ysters in die vuur. “Ek het nou die dag vir hom gevra of hy weet hoe dit voel om vir ’n oomblik nie spanning te hê nie. Hy het heeltyd druk. En hierdie SMS’e wat die koerant so kry... Dis vir my verskriklik.”

Haar oë skiet vol trane. “Nelus cope beter, maar ek en die kinders... Dis nie ’n werk wat hy doen vir enige vergoeding nie, hierdie moderatorskap, hy kry niks daarvoor nie. Maar hy doen sy kant en hy’s ’n wonderlike, gelowige mens. Hy maak elke keer die saak met die Here uit.”

Sy vee die trane uit haar oë uit. “Dis vir my net baie sleg. Ek voel net so half hy verdien dit wrágtig nie.”

Self steur hy hom lankal nie meer aan die briewe en SMS’e nie, het hy vroeër gesê: “Man, die punt is net: Die Here wat my lewe oordeel, is ’n genadige en baie liefdevolle God.”

En daarom, ongeag die uiteindelike uitkoms van die Belhar-stryd, het Nelus Niemandt vrede. “Want ek is eintlik oukei,” sê hy. “Selfs al ís ek verkeerd, is dit oukei vir die Here.”