Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wie is Jaap Durand? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Sondag, 28 Junie 2015 22:00

Kyk ook:

Jaap Durand het as predikant in die NGK gelegitimeer, maar het nooit as predikant gedien nie.

Hy het die boek Evolusie, wetenskap en geloof geskryf waarin hy sê dat die wetenskap en geloof geskei moet word. Dus probeer hy evolusie met die Bybel versoen. Vir meer hieroor, kyk:

Kyk ook die volgende artikels:

********

Jaap Durand: Is die NGK 'n kerk vir die Afrikanervolk?

Jaap Durand 2013-05-14

Van HIER gekopieer.

Giliomee is by die ABSA KKNK aangehaal: “Die Afrikaners het al van ’n baie vroeë stadium die idee van ’n volkskerk gehad. Die kerk moet gaan kyk wat die verhouding is met die volk waarin hy geplaas is. Is hy ’n volkskerk of is hy nie ’n volkskerk nie?”

Meyer het hom gevra hoe wenslik die begrip van 'n "volkskerk" is in die godsdiensdiskoers van ons tyd en oor die verhouding tussen die kerk en die volk waartoe sy lidmate behoort. Wat is die rol van sulke faktore soos taal, kultuur en politiek in 'n geloofsgemeenskap? Lees sy bydrae hier. Hier onder reageer Jaap Durand op dieselfde vrae.

Wie is ek? Kerklike konteks

As predikant is ek in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) gelegitimeer, maar het nooit in dié kerk as predikant gedien nie. Ek is in 1961 as predikant georden in die destydse NG Kerk in Afrika en het my bediening begin by Cala in die Transkei. Daarna het ek geskuif na Kwazakhele in Port Elizabeth, totdat ek in 1973 beroep is as professor in die sistematiese teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland met die oog op die teologiese opleiding vir predikante in die destydse NG Sendingkerk. Die NG Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika het in die tagtigs van die vorige eeu een geword as die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suidelike Afrika (VGK). Ek is tans nog lidmaat van die VGK se Rynse Gemeente in Stellenbosch. In 1982 het ek saam met Dirkie Smit die Belydenis van Belhar gereed gemaak vir die Sinode van die NG Sendingkerk. Kort daarna het die NGK my my predikantstatus ontneem, en in die kerklike jaarboek van hierdie kerk word ek nog steeds beskryf as “uit die bediening”. My bydrae kan vanuit hierdie agtergrond beoordeel word.

Die funksionaliteit van ’n debat oor die volkskerkgedagte

Die vraag na die funksionaliteit en relevansie al dan nie van die debat rondom die volkskerkgedagte vandag in Suid-Afrika is moeiliker as wat dit op die oog af lyk. Sonder aarseling kan geantwoord word, ja, dit is uiters relevant, maar terselfdertyd is daar ’n waarskuwende stemmetjie wat neig na die “nee” – nie baie sterk nie, meer gedemp, maar tog onteenseglik daar.

Dat die antwoord “ja” sal wees, spreek byna vanself. Tot onlangs het die idee van ’n volkskerk en die implikasies van so ’n idee feitlik in elke besinning oor die rol en betekenis van die kerk binne die Suid-Afrikaanse samelewing aan die orde gekom, soms selfs oorheersend. Veral was dit die geval binne die kringe van diegene wat tot een van die drie Afrikaanssprekende kerke van gereformeerde oorsprong behoort het. As die grootste van hierdie kerke was dit veral binne die NGK en die familie van NG Kerke (naas die NGK die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk en die NG Kerk in Afrika, wat na eenwording tans die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika geword het, en die Reformed Church in Africa) dat die debat soms heftige afmetings aangeneem het. Die emosies waarmee hierdie debat gevoer is, het te doen gehad met die politieke situasie in die land en was veral aangevuur deur die vingerwysing na die kant van die NGK dat dié kerk nie net kop in een mus was met die destydse Nasionale Party-regering nie, maar inderdaad die teologiese en ideologiese basis verskaf het waarop die regering oor dekades heen ’n apartheidbestel in Suid-Afrika kon handhaaf. Hierdie vingerwysing het nie net gekom van die kant van die sogenaamde “dogterkerke” nie, maar ook van sporadiese en soms geïsoleerde stemme binne die NGK self. Die klag teen die NGK was duidelik en onomwonde: die NGK tree op as ’n tipiese “volkskerk” wat die belange en strewes van die “Afrikanervolk” koester, bevorder en die geestelike hoeder van ’n politieke en sosiale apartheidsamelewing geword het.

Hierdie bondige beskrywing is deel van ’n baie onlangse geskiedenis, en sonder twyfel lê die oortuigings wat daarmee saamhang, nog baie na aan die oppervlak. Dit sou enersyds dwaas wees om te dink dat die sentimente onder die oorgrote meerderheid van diegene wat vashou aan die idee van ’n volkskerk, eensklaps verander het met die volledige diskreditering van die apartheidsideologie. Andersyds is dit onrealisties om te dink dat die teenstanders nie bewus is van hierdie hardnekkige vasklou aan ’n ou ideologie nie. Die debat sal dus voortgaan, maar nou op ’n ander vlak en met meer nuanse.

Hierdie “ja” op die vraag na die funksionaliteit en relevansie van ’n debat oor ’n “volkskerk” moet ons egter temper as ons in gedagte hou dat die funksionaliteit van hierdie begrip afgeneem het in sy relevansie, omdat die tye radikaal verander het. Met die aftakeling van die ou politieke apartheid en die teologiese regsomkeer binne die NGK oor die ideologiese regverdiging daarvan, het die teologiese onderskraging van ’n volkskerk-idee binne die breë laag van lidmate en leiers binne dié kerk baie meer ondergeduik. Nie baie sal bereid wees om die idee soos dit in die verlede geleef het, en nog leef, openlik te verdedig nie.

Tog moet ek, na verdere oorweging, hierdie stelling oor die moontlike afname in relevansie nader kwalifiseer. Die onderduiking van die debat kan moontlik plek maak vir ’n skielike herlewing wat met groter felheid sal geskied, iets wat weer eens binne die geledere van die NGK en die res van hierdie kerklike familie sou kon plaasvind. Die NGK se erkenning dat die teologiese regverdiging van apartheid onskriftuurlik was, by monde van sy sinodes, ander kerklike vergaderings en baie van die leierskap, veral onder jonger predikante, het menige lidmaat ontnugter. Die gevoel dat die kerk die geestelike beskermer was van dít wat vir die volk goed en reg was, is aan skerwe geruk. Vir die eerste keer het die gevoel opgekom, by meer as wat ons dalk vermoed, dat die NGK miskien nie meer ’n kerk vir die Afrikanervolk is nie. Hierdie gevoel is versterk deur hernude pogings deur die kerklike vergaderings om strukturele eenheid tussen die NGK en die ander kerke binne die kerkfamilie te bewerkstellig. Die feit dat hierdie pogings tot dusver nie baie suksesvol was nie, kon die vrees by baie lidmate nie besweer dat eenheid die Afrikanerkarakter van die NGK eventueel sou aantas nie.

Die sterk aandrang daarop dat die onderskeie kerke binne die NG Kerk-familie tot een kerklike struktuur moet verenig, kry ons nie net binne invloedryke kringe in die kerke self nie, maar ook daarbuite, wanneer selfs die Afrikaanse niekerklike pers daarvan melding maak. Die redaksionele rubriek van Die Burger van 12 Mei 2013 – “Eenheid kan die kerk se rol net versterk” – kan selfs sy pleit vir eenheid afsluit met die woorde: “[S]olank die kerke self verdeeld bly, moet hulle nie verwag dat mense daarbuite hulle ernstig sal opneem as hulle oor versoening en heling praat nie.”

Met hierdie woorde van Die Burger is die eenheid van die NGK, die VGK, die NGKA en die RCA geplaas binne die konteks van Suid-Afrika se multikulturele en gefragmenteerde samelewing. As hierdie uiters belangrike en korrekte siening breëre aanvaarding verkry, het dit die potensiaal om ’n nuwe en selfs meer venynige debat oor die idee van ’n volkskerk op te roep.

Die rol van die Belydenis van Belhar moet nie in hierdie verband onderskat word nie. Die aandrang van die VGK dat die Belydenis van Belhar opgeneem moet word as deel van die belydenisgrondslag van ’n verenigende kerk, en die Algemene Sinode van die NGK se aanvaarding daarvan en verwysing na die gemeentes en streeksinodes van die betrokke kerk op soek na ’n tweederde-meerderheid om Belhar deel te maak van die belydenisgrondslag, het eensklaps weer die spook van kerkskeuring opgeroep. Sporadiese stemme in dié verband gaan reeds op waarby die herinnering aan die wegbreek van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in 1987 uit die NGK om kwalik bedekte politieke redes(die Algemene Sinode van die NGK se afwysing van die teologiese regverdiging van apartheid in sy beleidsdokument Kerk en Samelewing) weer dwingend na vore sal kom. Die Belydenis van Belhar sal as skuifmeul gebruik word om ’n volkskerkdebat op te roep waarby faktore soos taal en kultuur weer eens ’n deurslaggewende rol gaan speel ter wille van ’n verskuilde politieke agenda.

As my bostaande ontleding van die kerklike situasie korrek is, gaan die teologiese vraag na die legitimiteit van ’n volkskerkgedagte herleef en nog vir lank by ons wees.

Kommentaar

Johannes Comestor

Jaap Durand se verwysing na Die Burger is foutief. Op Sondag, 12 deser, was daar geen uitgawe van hierdie koerant nie.

Dit val op dat Durand hom heel aan die begin dadelik van die NGK distansieer. Waarvoor hy pleit, is die aanvaarding van die Belhar-belydenis, waarvoor hy en Dirkie Smit pa moet staan. Hy verkwalik die VGK nie vir sy liefdelose standpunt dat Belhar ononderhandelbaar is nie.

Sy kritiek is gerig op die NGK, terwyl die Reformed Church in Africa net so onwillig is om Belhar te aanvaar. Dit gaan hier om twee etniese groepe, wittes en Asiate, wat trots op hulle kulturele identiteit is. Dit is anders met die bruines gesteld, wat om politiek-opportunistiese redes hulleself deesdae graag swart verklaar.

As die NGK finaal voor Belhar swig, sou dit tot verdere skeuring in NGK-geledere lei en 'n hernude uitvloei van lidmate na bv die APK veroorsaak. Durand sou dan daarop aanspraak kon maak dat hy een van die hoofjukskeibrekers was. Wesenlik gaan dit in hierdie sage nie om teologie nie, maar om die oorheersende politiek van die oomblik ter wille te wees.

Dwarsdeur die geskiedenis is kerkgenootskappe gestig om in die behoeftes van bepaalde kulturele groepe te voorsien. Juis daarom sou dit uit die oogpunt van die wittes veel meer sin hê om die drie Afrikaanse kerke te verenig as om eenheid aan die NGK en VGK op te dwing.

Gestel die NGK en die VGK verenig wel. Dan sou daar spoedig die verengelsing van NGK-byeenkomste wees, wat verdere kerkvervreemding by Afrikaners sou veroorsaak; dus politieke wins en religieuse verlies. Dit sou nie die eerste keer wees dat Durand se politieke preokkupasie Afrikaans ondermyn nie. Toe hy viserektor van die Universiteit van Wes-Kaapland was het hy en die rektor, Jakes Gerwel, 'n oorwegend Afrikaanse universiteit in 'n eentalige Engelse universiteit getransformeer; om politieke, dus nie-akademiese, redes. Dieselfde is besig om aan die Universiteit Stellenbosch te gebeur.

Johannes Comestor

*******

10 vrae aan … Jaap Durand

(Verskyn in Kerkbode op 02/08/2013)

PROF JAAP DURAND is in sy tagtigste jaar steeds een van die mees gerespekteerde teoloë in Suid-Afrika. Hy was in sy leeftyd sendeling in die Oos-Kaap, medeskrywer van die belangrike teologiese boekereeks, Wegwysers in die Dogmatiek, dekaan van die Teologiese Fakulteit en waarnemende rektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en mede-opsteller van die Belydenis van Belhar. Vroeër vanjaar het die belangwekkende Evolusie, wetenskap en geloof uit sy pen verskyn. FRITS GAUM het tien vrae aan hom gestel.

1 Wie is Jaap Durand?

’n Afgetrede sendeling-teoloog, wat tog steeds met sy beperkte vermoëns iets probeer vertel van sy eie verstaan van die evangelie van Jesus Christus binne die soms wisselende historiese kontekste waarbinne ons vandag leef. Dat ek nie altyd daarin slaag om reg te interpreteer nie, en ook nie om hierdie beperkte insig duidelik genoeg oor te dra nie, is ’n gegewe wat deur myself en ander aanvaar moet word.

2 Cas van Rensburg skryf onlangs in Rapport na aanleiding van Evolusie, wetenskap en geloof (2013): “Dit is ’n dapper man om in sy 80ste jaar ’n veld te betree wat hom sekerlik ’n paar klappe gaan besorg.” Jou kommentaar?

Om oor evolusie te skryf, hou altyd die gevaar van misverstand in omdat baie mense dit moeilik vind om te onderskei tussen evolusionisme as ’n natuurfilosofiese denkstelsel waarin daar vir God nie plek is nie, en evolusie as iets waarmee natuurwetenskaplikes op verskillende gebiede daagliks worstel – sonder dat dit noodwendig hulle Christelike Godsgeloof aantas. ’n “Paar klappe” is te wagte in enige poging om aan te toon dat daar niks in die Bybelse skeppingsverhaal is wat die moontlikheid van evolusie uitsluit nie.

3 Wentzel van Huyssteen van Princeton skryf in die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (2012) dat evolusie dié manier is waarop God geskep het. Stem jy met hom saam?

Ek wil my antwoord kwalifiseer. Omdat voortgaande ontwikkeling op mikro- en makrovlak volgens natuurwetenskaplikes ’n vasstaande feit is, vorm evolusie deel van God se voortgaande skeppingsdaad. Wat God se oorspronklike skeppingsdaad behels het, gaan bokant alle menslike teorieë en bespiegelinge uit. Daarom gebruik die natuurwetenskappe, net soos die Bybel, metafore om iets daarvan vir ons te probeer vertel. Die groot knal (“Big Bang”) van die teoretiese fisika is een van sodanige metafore.

4 In ’n onlangse artikel in Kerkbode (21 Junie 2013) het jy geskryf: “Maar wat weet enige iemand – wat weet die kerk, selfs die Bybel – oor wie God werklik is?”

Weet ons te min van God? Die onbegryplike God het Hom in Jesus Christus geopenbaar. Meer oor God kan ons nie weet nie en hoef ons nie te weet nie.

5 Hoe sien jy die lewe ná die dood?

Ons lewe is met Christus verborge in God (Kol 3:3). Die dood is die oorgang na ons nuwe lewe wat nou nog by God vir ons in bewaring gehou word. Hiervan het ons die eerste paaiement en waarborg ontvang – die Gees van Christus wat in ons woon ­(2 Kor 5:5).

6 Jy het destyds ’n groot rol gespeel met die opstel van die Belydenis van Belhar. Meen jy dat die aanvaarding van dié belydenis deur die NG Kerk noodsaaklik behoort te wees vir die hereniging van die NG Kerkfamilie?

Ja. Die Belydenis van Belhar speel so ’n groot religieuse en emosionele rol in die lewe van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) dat dit nie van hierdie kerk verwag kan word om daarsonder in ’n kerkhereni­ging in te gaan nie.

7 Hoort die Belydenis van Belhar in dieselfde groep belydenisskrifte as die Drie Formuliere van Eenheid, of pas dit eintlik in ’n ander orde van belydenisskrifte?

Die Belydenis van Belhar is van dieselfde orde as die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Die drie sake waarom dit in Belhar gaan – die eenheid van die kerk, die versoening tussen mense onderling en geregtigheid – word feitlik nie, of slegs vlugtig, in die genoemde Formuliere van Eenheid hanteer.

8 Jy was dekaan van die teologiese fakulteit, vise-rektor en waarnemende rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland toe dié universiteit nog in ’n mate “Afrikaans” was. Hoe voel jy oor die stille vertrek van Afrikaans as akademiese taal aan die UWK?

Ek het ’n groot rol daarin gespeel om die UWK ook vir swart studente oop te stel. In daardie stadium was hierdie universiteit kragtens die apartheidswette uitsluitlik bedoel vir bruin studente. Groot getalle swart studente het gevolglik na die UWK gestroom. Hierdeur het Afrikaans as onderrigtaal noodwendig agteruitgegaan. Ek was nog nooit spyt dat ek hierin aktief meegewerk het om bestaande landswette te ignoreer nie. Wat by die UWK gebeur het, is nie noodwendig die patroon wat gevolg moet word by ander universiteite – byvoorbeeld Stellenbosch – nie. Situasies verskil.

9 In jou boek, Ontluisterde wêreld – Die Afrikaner en sy kerk in ’n veranderende Suid-Afrika (2002), skryf jy dat die NG Kerk-leierskap “die Nasionale Party in hierdie proses (om van apartheid afstand te doen) minstens begelei het”. Die NG Kerk hét dus, naas foute wat gemaak is, na jou mening in dié verband in die 1980’s en 1990’s ’n konstruktiewe rol gespeel. Hoe sou jy die rol wat die NG Kerk en die NG Kerkfamilie tans in die samelewing behoort te speel, wil beskryf?

Die kerk se profetiese roeping word nooit uitgespeel nie. In Die Rynlander, die nuusbrief van die Rynse VGK-gemeente waaraan ek en my vrou behoort, lees ek: “Het jy geweet die VGK gaan die Belydenis van Belhar gebruik om die regering tot orde te roep sodat ekonomiese ongeregtigheid in die land aangespreek kan word?” Dit is maar net ’n beginpunt.

10 Jy was ’n lewenslange vriend en vakgenoot van Jaap Furstenberg, wat onlangs oorlede is. Wat onthou jy veral van hom?

Jaap was soos ’n Bybelse Nataniël, ’n man in wie daar geen bedrog was nie. Hy het die genade ontvang om iets van die onmeetlikheid van God se genade te besef en in sy lewe waar te maak. Evolusie, wetenskap en geloof word uitgegee deur Bybel-Media en kan bestel word by 0860 26 33 42. Dit kos R169,50. Sien ook bl 2.