Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Daniel Louw   
Sondag, 14 Februarie 2010 09:45

Kommentaar op Prof. Jurie le Roux se studienotas
(mdiv2.sb.00.2008.doc - mdiv2.sb.06.2008.doc)

LW: Alle onderstrepings in hierdie dokument is deur myself gedoen. Dit kom nie voor in die oorspronklike dokumente nie.

Toe ek Prof. Le Roux se studienotas gelees het, was my eerste gedagte: As dit is wat teologiese studente op universiteit leer, is ek nie verbaas dat sommige van hulle verward is nie. Ek was self verward toe ek hierdie dokument gelees het en ek het ‘n hele paar keer nie geweet wat hy wil sê nie en hoekom hy dit sê nie.

Verder is daar baie teenstrydige dinge in sy studienotas. Dit is so asof hy almal probeer gelukkig hou: beide konserwatiewe Christene, sowel as liberale Christene.

Abraham is nie histories nie

Prof. Le Roux aanvaar duidelik nie Abraham as historiese figuur nie. In e-pos kommunikasie met hom oor sy studienotas, het hy ’n halfhartige poging aangewend om dit te ontken en aan my gesê: “U sê, byvoorbeeld, ek sê ‘dat Abraham nie ’n historiese karakter is nie’. Waar sê ek dit? Ek sê dit is moeilik om sy historisiteit te bewys. Dit is iets anders om te beweer dat hy 'n mitologiese figuur of 'n onhistoriese figuur of wat ook al was.” Verder wou hy homself nie verdedig nie omdat dit vir hom na bewering te lank sou neem om my die hele agtergrond te gee van die kursus.

Dit is moontlik waar dat hy nooit reguit sy opinie uitspreek teen die historisiteit van Abraham nie, maar ek is egter oortuig dat enige-iemand wat sy notas lees tot dieselfde gevolgtrekking sal kom as ek – dat hy nie glo dat Abraham histories is nie. Hy is baie versigtig om ’n opinie te hê, maar haal baie mense aan wat nie glo dat Abraham histories is nie en doen niks om Abraham se historisiteit te verdedig nie. Verder het ek juis hierdie notas gekry van ’n student wat wou wys dat prof Le Roux nie glo dat Abraham histories is nie . Dus, indien ek die notas verkeerd interpreteer, het die student wat self by hom klas geloop het, dit ook verkeerd geïnterpreteer.

Hier volg ’n paar aanhalings uit sy notas wat dit bevestig:

“Hoe sal jy oor Abraham preek terwyl daar soveel historiese probleme in verband met hom is? Hoe kan daar in die kerk nog enigsins oor hom gepraat word terwyl sy historisiteit moeilik bewys kan word? Ons sal so graag Abraham se lewe presies wil ken, maar ons kan nie. Ons sal Abraham so graag meer histories wil verstaan, maar hy bly as 't ware die heeltyd buite ons historiese greep. Dit is nie net frustrerend nie, maar dit het ook vir die prediking konsekwensies. Kan 'n mens oor iemand preek wat jy nie histories kan ‘bewys’ nie?” (“mdiv2.sb.01.2008.doc”) Hierdie gedagte word ‘n hele paar keer genoem in hierdie dokumente. Hoekom anders sal ‘n mens soveel klem daarop lê dat Abraham nie histories bewys kan word nie?

“Ons moet nie die Ou Testament by ons kategorie van geskiedenis laat inpas nie, maar eerder probeer om te verstaan hoe Israel self Jahwe se geskiedenis met hulle verstaan het. Hoe het die mense wat oor Abraham geskryf het, ‘geskiedenis’ verstaan? Beslis nie soos ons nie. Ons het hierdie beheptheid met feite, presiese feite en alles moet volgens ons idee van geskiedenis verloop. Vir Israel was dit nie so. Hulle lag vir ons. Hulle wil ons iets van Jahwe se geskiedenis met hulle vertel. Hulle wil ons 'n ‘geskiedenis-met-'n-boodskap’ vertel. Dit is al.” (“mdiv2.sb.03.2008.doc”) Dit lyk of hy hier wil sê dat daar mense is wat nie glo dat Abraham histories is nie, omdat daar te min detail opgeteken is oor Abraham. Maar hoekom – herinner die skryfstyl aan ‘n sage? Ek sou nie so sê nie. As jy Abraham se geskiedenis vergelyk met ander sages, dan ís daar baie detail. Ons weet selfs wanneer in die geskiedenis Abraham geleef het en hoe oud hy geword het (175 jaar oud, 1996 – 1821 vC).

“...die sages is geen historiese bronne (in verband met Abraham se lewe) nie. Dit het in verskillende kontekste ontstaan en bestaan en is eers laat in die geskiedenis van Israel aan Abraham, Isak en Jakob verbind. Anders gesê: die sages was die vorm waardeur die Abrahamsfiguur gestalte gekry het; dit was die ‘boumateriaal’ waarmee die ‘lewensverhaal’ van Abraham gebou is...” Geskiedenis word nie gebou uit sages nie, maar uit werklike gebeure. Dus suggereer hy weer baie sterk dat Abraham nie-histories/sage is. Dit is ook duidelik dat hy glo dat die geskiedenis/verhaal van Abraham eers lank na die werklike gebeure geskryf is.

"Hy is gekonfronteer met die vraag of Abraham werklik 'n historiese figuur was. Barth het gesê hy weet nie, maar hy meen ook nie dit is waarmee ons ons moet besighou nie. Ons moet eerder op die Abraham van die geloof fokus.” Maar as Abraham se geskiedenis nie integriteit het nie, hoekom kan ‘n mens enigsins glo dat daar integriteit in Abraham se geloof is?

“Voordat ons egter hierby kom, let ons eers op 'n interessante manier waarop Abraham in die verlede verstaan is. Dit is die gedagte van 'n ‘sage’. Dit was nogal 'n baie gewilde benadering gedurende die eerste helfte van die twintigste eeu. Vir die meeste van ons is dit waarskynlik onmoontlik om so oor die Abrahamsverhale te praat. Tereg sal jy opmerk dat dit 'n gemeentelid se geloof kan skok as alles maar net sages is. Ek stem enersyds met jou saam, maar ons mag nie dat die gemeentelid se nie-weet, se onkunde ons norm word nie. Ons moet dit net mooi pastoraal hanteer. Die wonderlike insigte van die Ou-Testamentiese wetenskap kan ons tog nie ignoreer. Jy sal wel weet hoe om dit in die gemeente te hanteer.” (mdiv2.sb.03.2008.doc) Ek sou sê prof Le Roux suggereer hier baie sterk dat Abraham slegs ‘n sage is. In plaas daarvan om Abraham se historisiteit te verdedig, beveel hy aan dat dit "net mooi pastoraal hanteer" moet word. En hier erken hy self die probleem met so ’n siening, maar die probleem is so groot, dat hy nie eers vir voornemende predikante kan raad gee hieroor nie. Hy sê bloot: “Jy sal wel weet hoe om dit in die gemeente te hanteer.”

Verdedig nie Abraham se historisiteit nie

Hy sê: “Voortdurend sê mense die Ou Testament is nie histories waar nie of die Abrahamsverhale is nie geskiedenis nie. Al sou dit geskiedenis wees (wat dit nou nie is nie), was dit ook maar 'n brose menslike onderneming. Mense in ons tyd oordryf die geskiedenisding te veel.” (mdiv2.sb.03.2008.doc) Ek gee hom hier die voordeel van die twyfel dat dit nie hy is wat sê “Al sou dit geskiedenis wees (wat dit nou nie is nie)”, maar ander mense. Maar hy verdedig glad nie Abraham se historisiteit nie. As hy geglo het dat Abraham nie ‘n sage was nie, sou hy woorde gebruik het soos: “Dit is glad nie nodig om, soos andere, Abraham as ‘n sage te sien nie.” of “Ek stem nie saam met menings dat Abraham slegs ‘n sage is nie.” Nêrens in hierdie dokumente kom egter soortgelyke woorde voor nie. Die naaste wat hy wel daaraan kom om Abraham as historiese figuur te verdedig in die hele dokument is: “Dit is 'n belangrike verskuiwing, maar dit skep ook weer vir my soms probleme. Een daarvan is dat ek nie sommer net kan toegee dat Abraham 'n mitologiese figuur was nie. En Israel het ook nie so oor hom gedink nie. Vir my is die Ou Testament nie net 'n versameling storietjies oor die verlede nie. Vir Israel was die ingrype van Jahwe in hulle lewe 'n werklikheid. Iets wat elke dag gebeur het, en waarvan hulle op 'n duisend en een maniere gepraat het. As die ervaring van Jahwe nie 'n reëele werklikheid was nie, was alles vir Israel sinloos (en so ook vir my).”

Maar direk hierna sê hy weer die volgende: ”Samevattend sou ek dus wou sê dat daar êrens in Israel se gryse verlede iemand was vir wie hulle die naam ‘Abraham’ kon gegee het; in Israel se kollektiewe bewussyn of herinnering aan hierdie man het Jahwe hom eendag beloftes van 'n land en nageslag gegee; telkens het dit gelyk asof die beloftes nie waar gaan word nie; hierdie man het 'n besondere verhouding met Jahwe gehad; hy het mettergaan die geloofsvader van die volk en die geloofsgemeenskap geword; oor hierdie figuur het Israel voortdurend gelowig nagedink. Dalk sou Von Rad gesê het hierdie 'n soort ‘teologiese minimum’ is. Ten spyte van wat ek hierbo gesê het, moet ek nogtans sê dat niemand die Abrahamsfiguur histories kan vasvat nie. Hy is ver, net te ver van ons af weg. Lees weer wat ons hierbo gesê het. In 'n sekere sin is hy weg, maar tog ook weer naby; hy is inderdaad ver in Israel se gryse onbekende verlede, maar tog kom hy ook telkens weer naby aan ons. Maar hoe? Deur die inlewing in en meelewing met die ‘religieuse Abraham’; deur die herbelewenis van Abraham se geloof en kleingeloof, sy hoop en momente van wanhoop; in die nadenke oor hom en die oorvertel van die verhale oor hom. In die verband het Von Rad se gebruik van sage my gehelp. Lees eers die onderstaande en dan gesels ons verder.” Let al die teenstydighede op in hierdie gedeelte – so asof prof Le Roux werklik stoei in sy gedagtes.

Teoloë van vandag het lyk my meer insig oor dinge wat in die verlede gebeur het as mense wat baie nader aan daardie tyd geleef het

In die stuk hierbo erken prof Le Roux ook dat die ou Israel Abraham gesien het as histories (“En Israel het ook nie so oor hom gedink nie. [as mitologiese figuur]”). Was Israel dus verkeerd? Is ons vandag in ‘n beter posisie as die ou Israel om te oordeel oor Abraham se historisiteit? Die artikel Genesis: Myth or History? sê dit baie mooi: “Bible authors believed Genesis to be history and they rejected myths and ‘cleverly invented stories’ (2 Peter 1:16). Eminent early exegetes like Josephus, medieval Jewish scholars, church fathers like Basil the Great, Reformers like Luther and Calvin, also all understood it to be historical. C.S. Lewis had strong words to say about modernists writing thousands of years later and far removed from the cultural context, yet claiming to understand the text better that those living much closer to the time and culture of the writings.”

Waar kom God vandaan?

Dit is ook duidelik dat Prof. Jurie le Roux se uitgangspunt is dat die Joodse geloof (en daarom die Christelike geloof) by ander volke geleen is. Hy sê die volgende in sy studienotas oor Abraham, “mdiv2.sb.04.2008.doc”:

  • “Godsdiensgeskiedenis kan die kerk (of dan die Christendom) beter help om sy posisie binne 'n gesekulariseerde wêreldgemeenskap te bepaal; om te begryp wat dit beteken om 'n minderheid in 'n multi-religieuse samelewing te wees; om die gesprek met andere godsdienste te voer.”
  • “Die gestolde dialoog ('gefrorenen Dialog') moet as't ware ontvries word sodat die verskillende godsdienstradisies met mekaar kan 'praat'. Dit moet godsdiensvergelykend werk: Toe Israel verskyn het, was daar reeds baie ander volke met hulle godsdienste. Israel het dus geensins in 'n religieuse vakuum ingestap nie. Daar was reeds godsdienstige praktyke, gewoontes, simbole, ensomeer. Israel het net hierby aangesluit.”
  • “...die ganse godsdiens van Israel is in die Ou Nabye Oosterse godsdienswêreld gedrenk.”

Die probleme met hierdie benadering is groot:

  • Die idee dat jy slegs gered kan word deur Jesus Christus word ongeldig, want alle godsdienste is maar uitgedink deur die mens self. Dus is daar nie ‘n ware godsdiens nie. Dit is presies dieselfde argument wat ateïste gebruik – waarom glo aan spoke en ’n god as dit deur mense self uitgedink is? Dit kompliseer net ’n mens se lewe onnodig.
  • Het ‘n god die aarde geskep?
    • Indien wel, watter een? Sou dit nie sin maak dat die god wat die aarde geskep het hom sou openbaar het aan die eerste mense nie? Dus is die logiese gevolgtrekking dat die oudste godsdiens die ware godsdiens moet wees, want daardie godsdiens sal die god aanbid wat die aarde geskep het. As die Joodse godsdiens (en daarom die Christelike godsdiens) nie die oudste is nie, dan is dit nie die ware/korrekte godsdiens nie.
    • Indien jy nie glo dat ’n god geskep het nie, moet jy jou wend tot die oerknal en evolusie, dieselfde dinge waarin ateïste hulle geloof plaas.
  • Sendelinge wat hulle lewe daaraan wy om die Christelike evangelie aan ander te bring en in die proses groot finansiële en ander opofferinge maak, mors eintlik hulle tyd. En om te sterf vir jou geloof is onsinnig. Dit is seker ook die rede hoekom Prof. Le Roux “gesprek met andere godsdienste” aanmoedig.
  • Twee moontlike gevolge van hierdie benadering is:
    • Ateïsme: As God uitgedink is, dan bestaan God mos nie en dan het God geen invloed op aarde of hierna nie.
    • Agnostisisme: Moontlik kan ‘n mens redeneer dat daar ‘n god moes wees wat alles geskep het, want die wetenskap kan dit nie verklaar nie. Maar as die OT nie histories is nie en uitgedink is deur mense om vir hulle sin in hulle lewe te gee, wat weet ons werklik van daardie god? Was hierdie groep mense (die Israeliete) ooit reg oor God? Is die Moslems nie reg nie? Of wat van die Hindoes of Buddiste?

Ter verdediging kan prof Le Roux seker vra: Is dit nie dieselfde om te glo dat Abraham ‘n ware persoon was sonder enige bewyse van Abraham, teenoor om nie te glo dat Abraham histories is nie, maar dat sy God bestaan? Dit is ‘n baie geldige vraag, want maak nie saak wat jou siening is nie, jy gaan geloof in iets moet hê. (Terloops, selfs ateïste glo in iets – hulle glo dat materie, energie en inligting vanself ontstaan het. Wetenskaplik is dit onmoontlik dat alles vanself ontstaan het. Kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?) Ek glo dat die antwoord daarin lê wat jy glo van die mense wat die Bybel geskryf en saamgestel het. Dus, wat jy glo van geskiedenis. Ek wil twee dinge hieroor sê:

  1. Ek dink dit is arrogant en verkeerd om te dink dat ons vandag meer weet van Abraham as mense wat baie nader aan die kultuur van daardie tyd geleef het. Ek wil weer verwys na die aanhaling uit die artikel Genesis: Myth or History? (kyk hierbo).
  2. ’n Mens kan letterlik alles in die lewe bevraagteken, maar op ’n stadium moet ’n mens ’n besluit maak oor geskiedenis. Daar is volgens my egter geen rede om die Bybel se akkuraatheid te betwyfel nie (sien die volgende paragraaf hieronder).

Geskiedenis word in sy geheel aangeval:

Prof Le Roux val geskiedenis in die algemeen. Hy sê die volgende:

“Vandag is ‘geskiedenis’ 'n groot probleem. Baie (dalk die meerderheid) meen dat as die Ou Testament nie histories waar is nie dan kan hulle dit nie glo nie. Alles moet histories-letterlik geïnterpreteer word. Alles moes presies so gebeur het anders kan 'n mens die Ou Testament maar verwerp. Dit is eintlik so 'n onbillike siening.” (“mdiv2.sb.03.2008.doc”) Dus sal dit nie vir prof Le Roux ‘n probleem wees as Abraham nie histories is nie wat weer bevestig dat hy nie glo dat Abraham histories is nie. As sommige dele egter nie histories is nie, hoe besluit ‘n mens wat wel histories is en wat nie? Wat kan ‘n mens dan nog glo van die OT? En wat moet ons glo van Abraham se verhouding met God en oor God se karakter?

Verder sê hy:

  • “Voortdurend sê mense die Ou Testament is nie histories waar nie of die Abrahamsverhale is nie geskiedenis nie. Al sou dit geskiedenis wees (wat dit nou nie is nie), was dit ook maar 'n brose menslike onderneming. Mense in ons tyd oordryf die geskiedenisding te veel. Mense stel geskiedenis en werklikheid gelyk aanmekaar. Mense dink dat 'n geskiedenis vir jou waarheid vertel presies soos dit was. En natuurlik in hierdie proses kry arme Abraham swaar. Dit is verkeerd om so hoog van geskiedenis te praat. Dit is gewoon verkeerd om (byvoorbeeld) te dink dat die geskiedenisse oor die afgelope vyftig jaar se Suid-Afrikaanse verlede jou die waarheid van hierdie tyd vertel. Dit is bloot 'n perspektief, 'n konstruksie, 'n moontlikheid en niks meer nie. En al sou die Abrahamverhale deur en deur geskiedenis wees wat daarvan? Ja, al sou dit niks anders as die allervoortreflikste stuk geskiedswerk gewees het nie, sou dit ook maar net 'n verhaal, 'n perspektief op die Abrahamsfiguur gewees het; sou dit in 'n bepaalde tyd ontstaan het en die ‘tekens’ van die tyd getoon het; sou dit slegs een moontlike perspektief verteenwoordig het; sou dit ook maar (soos alle geskiedenis) 'n gebrekkige en gebroke konstruksie gewees het wat roep om andere se herinterpretasie en verbetering.” (“mdiv2.sb.03.2008.doc”)
  • “Ons moet nie die Ou Testament by ons kategorie van geskiedenis laat inpas nie, maar eerder probeer om te verstaan hoe Israel self Jahwe se geskiedenis met hulle verstaan het. Hoe het die mense wat oor Abraham geskryf het, ‘geskiedenis’ verstaan? Beslis nie soos ons nie. Ons het hierdie beheptheid met feite, presiese feite en alles moet volgens ons idee van geskiedenis verloop. Vir Israel was dit nie so. Hulle lag vir ons. Hulle wil ons iets van Jahwe se geskiedenis met hulle vertel. Hulle wil ons 'n ‘geskiedenis-met-'n-boodskap’ vertel. Dit is al.” (“mdiv2.sb.03.2008.doc”)
  • “Geen wetenskaplike geskiedenis kan ooit die verlede vasvat of vaste historiese waarhede oor mense en dinge formuleer nie. Kortom: alle sogenaamde wetenskaplike geskiedskrywing is niks anders as 'n verbeeldingryke versinsel oor 'n stuk verlede nie; dit beskryf 'n verlede wat geen historikus ooit volledig kan omvat of peil nie; dit (selfs die allerbeste geskiedskrywing) is 'n blote menslike konstruksie.”

Die standpunt dat Israel ‘n ander siening oor die feitlikheid van geskiedenis gehad het is nie aanvaarbaar nie. Die geskiedskrywers in die Bybel het moeite gedoen om hulle lesers te oortuig van die feitlikheid van hulle navorsing. Kyk na bv Gen 35:27: “by Kirjat-Arba, dit is (vandag) Hebron”; Deut 3:11: “Dit is nou nog te sien …” Die skrywers dui ook hulle bronne aan soos dit tot vandag toe nog pas by enige navorsingswerk. Kyk bv Jos. 10:13: “Dit staan so geskrywe in die Boek van die Opregte” en 2 Kron. 33:19: “...opgeteken in die Verhale van die Sieners”.

Ek kan daarmee saamstem dat geskiedenis amper nooit 100% neutraal is nie, maar hierdie stellings hierbo is net nie waar nie. Wat van geskiedenis soos bloedrivier, 2de vryheidsoorlog, 2de wêreldoorlog, ens. Ek sou sê dat ons ‘n baie goeie idee het wat daar gebeur het. Glo hy dat daar ’n Jan van Riebeeck was wat op 6 April 1652 in die Kaap aangeland het? Natuurlik glo hy dit! Hoekom glo hy dan nie ook dat Abraham werklik bestaan het nie? Natuurlik is álle detail nie opgeteken nie, maar die belangrikste weet ons. Ek wonder wat mense oor 2 000 jaar van nou af sou kwytraak oor wat vandag gebeur het as ons nie vandag soveel tegnologie (soos bv kameras) gehad het om geskiedenis vas te vang nie – sou hulle dalk die Sjoa ("Holocaust") bevraagteken omdat dit net onmoontlik sou lyk dat ’n Duitser so wreed kon wees? Ek verstaan dat slegs ongeveer 3% van mense kon lees in die tyd van die Nuwe Testament, dus was dit heel waarskynlik baie minder in die tyd van die Ou Testament. Dit sê egter niks oor die akkuraatheid van die geskiedenis wat wel in daardie tyd opgeteken is nie. Daar is geen rede dat ons dit hoef te bevraagteken nie.

Die doel van geskiedenis is om vir die nageslag te vertel wat in die verlede gebeur het. Die enigste manier hoe prof Le Roux se stellings hierbo waar kan wees, is as die geskiedskrywers van daardie tyd patetiese werk gedoen het. Hoekom sou mens dit glo? Moet ’n mens glo dat mense wat lank terug geleef het dommer was as ons? Ons het geen rede om dit te glo nie – dit is ’n evolusionistiese gedagte dat ons slimmer word en daar is geen bewyse daarvoor nie (kyk Word ons beter?).

Bybel nie bedoel om moeilik verstaanbaar te wees nie

Soos prof Le Roux met die Bybel omgaan, het ’n mens omtrent ’n graad nodig in teologie om die Bybel te verstaan. Ek is oortuig dat dit nie God se bedoeling/wil is dat die Bybel so kompleks gemaak moet word nie.

Daar word ook beweer dat al hierdie moderne idees oor die Bybel uit die oorspronklike Hebreeus verkry word. Indien dit waar is, is my vraag of die vertalers dit so verkeerd vertaal het? Hulle kon dit mos so vertaal het sodat gewone mense dit ook kon sien. Dit herinner my aan die Middeleeuse tye toe die Bybel slegs toeganklik was vir mense wat Latyn kon lees, en hulle was maar min.

Dit is duidelik dat die lot van die Bybel vandag oorgelaat word aan die filosofie. Is dit nie waarteen die Bybel waarsku in Kolossense 2:8 nie (“Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” – Ou Vertaling)? En dan wonder ek ook net watter waarde hierdie hooggeleerde, hipotetiese, filosofiese spekulasies oor die Bybel toevoeg tot uitbreiding van die evangelie? My opinie is dat dit presies die teenoorgestelde uitwerking het.

’n Afgestudeerde teologiestudent het in 2009 die volgende gesê: “Toe ek my meesters in Kerkgeskiedenis gedoen het moes ek maar met skok ontdek dat ek nooit gereformeerd opgelei is om met die Woord van God om te gaan nie. Die historiese kritiek sowel as vorm kritiek (hierdie metodes kom van Bultmann wat die hele Bybel as 'n mite beskou het) is vir ons gegee as die metodes waarmee ons die Bybel moet benader. Tydens my lees van die kerkgeskiedenis het ek op Abraham Kuyper afgekom wat hierdie metodes as Skrifaanranding beskryf het. Hy het ook gesê dat as hy die Bybel lees is dit nie Moses of Johannes wat tot hom spreek nie maar die Here self. Dit was sy antwoord aan die kritici wat die outeurskap van die Bybel bevraagteken. Die hartseer is dat ek by twee universiteite teologie gestudeer het en by albei is hierdie benaderings gevolg. Ek het onlangs met 'n predikant wat in die 70's opgelei is gepraat en hy het vir my gesê dat dit gebeur het in 1980 toe die kweekskole besluit het om deel van die universiteite te word en so fakulteite geword het. So moes hulle begin om aan wetenskaplike navorsing te voldoen. Die gevolg is dat ons vandag sit met predikante wat vir 3 dekades opgelei is om nie gereformeerd met die Bybel om te gaan nie. Die liberale standpunte wat nou uitkom is maar net 'n tydbom wat gewag het om te bars. Die kweekskole, die NG kerk en gemeentes pluk nou die vrugte van die teologiese opleiding.”

Die probleem met wetenskaplike navorsing is dat ’n mens nuwe dinge moet uitvind en dat ’n mens nie elke jaar dieselfde dinge oor die Bybel kan sê nie. In plaas egter daarvan om nuwe dinge te kry wat die Bybel bevestig, word nuwe maniere gekry om die Bybel te interpreteer. Dit laat my dink aan Handelinge 17:21 “Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie.”

Waar kom hierdie sieninge vandaan?

Ek glo dat die hoofoorsaak vir hierdie sieninge oor die Bybel van evolusie afkomstig is:

Eerstens het die aanvaarding van evolusie en miljoene jare baie mense gedwing om Genesis 1 – 11 te “herinterpreteer”. Dit maak egter die deur oop om ook ander dele in die Bybel te herinterpreteer om met die “wetenskap” te versoen. As jy egter met Hebreeuse kenners, soos Professor James Barr, sou gesels, sou hy vir jou sê dat dit nie interpreteerbaar is nie. Hy het gesê:

“... probably, so far as I know, there is no professor of Hebrew or Old Testament at any world-class university who does not believe that the writer(s) of Genesis 1 to 11 intended to convey to their readers the ideas that:
(a)creation took place in a series of six days which were the same as the days of 24 hours we now experience
(b)the figures contained in the Genesis genealogies provided by simple addition a chronology from the beginning of the world up to later stages in the biblical story
(c)Noah’s Flood was understood to be world-wide and extinguish all human and animal life except for those in the ark.”

[Professor James Barr, Hebrew scholar and Oriel Professor of the Interpretation of the Holy Scriptures at Oxford University. Personal letter to David C. C. Watson, 23 April 1984. Kyk Is Genesis poetry / figurative, a theological argument (polemic) and thus not history?]

Dus, indien jy wil glo dat evolusie en miljoene jare korrek is, beteken dit nie dat ons Genesis 1-11 moet herinterpreteer nie – dit sal beteken dat die wetenskap die Bybel verkeerd bewys het. Vra jouself egter die vraag af: veronderstel die aarde was ongeveer 6 000 jaar oud volgens die wetenskap, sou teoloë nogsteeds beweer dat Genesis 1-11 nie-letterlik geïnterpreteer moet word?

Tweedens, die argeologie gebruik evolusietydlyne as aanname en dit is teenstrydig met die Bybel. Dus word die Bybel baie keer “verkeerd” bewys deur die argeologie, maar min mense besef dat dit is agv die aannames wat gemaak word gebaseer op evolusie. En meer nog, daar is heelwat argeoloë van hoë kaliber wat besef dat die Egiptiese tydlyne aangepas moet word. As dit gedoen sou word, sou die Bybel nog meer deur die argeologie bevestig word. Vir meer hieroor, kyk bv:

Selfs al glo jy dat Abraham histories is (anders as prof Le Roux) en jy glo nie dat Genesis 1-11 histories is nie, beteken dit nogsteeds dat die god van die Jode (en ook die Christene) homself vir die eerste keer aan Abraham geopenbaar het. As daar egter gelowe was voor Abraham se tyd, sit jy weer met die probleem dat die Joodse geloof nie die eerste god aanbid het nie, dus was dit nie die god wat hemel en aarde geskep het nie.

Dit is egter baie belangrik om te weet dat evolusie en miljoene jare historiese wetenskap is wat heeltemal anders is as operasionele wetenskap, wat bv vliegtuie in die lug sit (kyk It’s not science vir meer hieroor). Historiese wetenskap word egter verkeerdelik vergelyk met operasionele wetenskap en alhoewel baie teoloë baie moontlik nie ’n benul het van die werklike wetenskaplike bewyse vir evolusie en miljoene jare nie, glo hulle dit, omdat dit sogenaamde wetenskap is. Daarom voel hulle seker dat hulle ten alle koste moet vermy om ‘n gek van die Christendom te maak en nou word die (historiese) “wetenskap” aanvaar sonder enige teenstribbeling. Die kans is goed dat hierdie mense ook nog onder die indruk is dat dit die kerk was wat ten gunste vir ‘n plat aarde was en wil dus so ‘n verleentheid (weer) vermy. Dit is egter nie waar nie: kyk Countering the Critics Questions and Answers onder “Does the Bible really teach a flat Earth?” en The flat-earth myth and creationism. Kyk spesifiek ook The Galileo ‘twist’ waar gewys word dat daar wel sommiges in die kerk was wat Galileo teengestaan het, maar hoofsaaklik omdat hy teen die hoofstroom wetenskaplikes van daardie tyd gepraat het. Dit is ironies presies dieselfde fout wat die kerk vandag maak.

Om die Bybel te probeer versoen met evolusie en miljoene jare, het ander belangriker teologiese probleme: die sondeval is nou ook in gedrang. Dit het die volgende probleme:

Vir meer hieroor, kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?

En ‘n ander dilemma is hoe hierdie sogenaamde feite aan die gewone lidmate oorgedra word sonder dat hulle die kerk/geloof verlaat? Prof Le Roux erken self die probleem as die Bybel kwansuis verkeerd bewys word met sy stelling: “Tereg sal jy opmerk dat dit 'n gemeentelid se geloof kan skok as alles maar net sages is. Ek stem enersyds met jou saam, maar ons mag nie dat die gemeentelid se nie-weet, se onkunde ons norm word nie. Ons moet dit net mooi pastoraal hanteer.” Die volgende is ’n lys van mense wat hulle geloof verloor het net agv evolusie:

Vir meer, kyk Hoe evolusie mense se geloof beïnvloed.

En ten spyte hiervan, word skeppingsleer/kreasionisme nie eers genoem aan teologiese studente nie, want die kerk se grootste vyande is mos die fundamentaliste. Inteendeel, nie eers NT apologetiek is deel van die teologiese kursus nie.

Die feit dat George Claassen, ’n geharde ateïs, as hoofspreker opgetree het by die UP Teologiese Fakulteit (2 Februarie 2010), maar Dr Mark Harwood van CMI van die hand gewys is, is sprekende bewys van die fakulteit se sentiment rondom skeppingsleerders (kyk UP Teologiese Fakulteit - Claassen in, Harwood uit en Seisoen van (eensydig) luister!).

As daar soveel mense is wat hulle geloof verloor net agv evolusie, wil ek nie weet hoeveel mense hulle geloof in die Bybel, en dus in God, gaan verloor oor die dinge wat mense soos prof Le Roux aan teologiese studente leer nie. Twee onlangse voorbeelde is:

Samevattend

Dit is vir my duidelik dat prof Le Roux nie glo dat Abraham histories is nie:

  • Hy lê baie klem daarop dat Abraham nie histories bewys kan word nie.
  • Hy stel dit baie duidelik dat ‘n mens GEEN geskiedenis kan vertrou nie (wat impliseer dat ‘n mens Abraham ook nie as historiese figuur kan vertrou nie).
  • Hy wend ‘n baie klein poging aan om Abraham wel as historiese figuur te verdedig, maar erken direk daarna weer dat ‘n mens dit eintlik nie kan doen nie.

Dit is ook duidelik dat prof Le Roux glo dat Abraham se geloof geleen is van ander reedsbestaande gelowe van daardie tyd.