Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Prof. J.W. (Hoffie) Hofmeyr   
Saterdag, 20 Maart 2010 20:00

Kyk ook:

Die volgende artikel is oorspronklik gepubliseer in BY - 'n bylaag van Beeld, op Saterdag, 20 Maart 2010. Dit is oorgetik deur Henrietta Klaasing.

************

Broer Julian moet dalk maar soos Flip maak

Die BY – artikels “Was David Bosch reg?“ deur Neels Els (13 Maart 2010) , “Die prentjie in jou kop“ deur Flip Schutte (13 Maart 2010) en “Dít wat ons nie dink” hierdeur Julian Müller (6 Maart 2010) verwys.

Ons het hier met ʼn besondere weerspieëling van teologiese nadenke gedurend die laaste paar dekades in die gereformeerde/reformatoriese kerke in Suid-Afrika te doen.

Aan die een kan staan die artikel van Els wat vra of Bosch “reg was” rakende die kwessie van versoening. Hierdie internasionaal bekende lidmaat was nie alleen ʼn teoloog van visie nie, maar hy het ook die hoofstroom van briljante teologie in Suid-Afrika verteenwoordig.

Hoewel hy in sy tyd baie kritiek ook uit eie geledere ontvang het vir sy eerlike worsteling, is hy inderdaad as Bybelgetroue maar eietydse teologie nie net wat betref versoening nie, maar ook ten opsigte van baie nader terreine, reg bewys.

Hy was ʼn navolgenswaardige teoloog vanweë sy balans, sy vernuwende respek vir sy eie tradisies en sy haas onkreukbare integriteit.

In die tweede plek staan die artikel van Schutte, ʼn teoloog en voormalige predikant van die Hervormde Kerk oor die "prentjie in jou kop". Hy kom tot die slotsom dat ons miskien maar "nederig en stil moet wees".

Hoewel Schutte waarskynlik geen teoloog van die hoofstroom is nie en wil wees nie en ook nie internasionaal bekend is nie, kom sy artikel waarskynlik wel uit ʼn baie eerlike worsteling.

Hy het byvoorbeeld, terwyl hy homself nie meer binne die NH Kerk tuis gevoel het nie, die moed van sy oortuiging aan die dag gelê om as predikant te bedank. Vir sy eerlikheid en integriteit moet ʼn mens die respek hê.

In die laaste plek staan die artikel van Müller oor “Dit wat ons níe dink nie”.

Hoewel ek as hoofstroommens respek het vir hom en ook teenoor ander aksente verdraagsaam is, staan Müller se teologie sodanig in die gees van die postmodernisme en sy eksesse (panenteïsme, post-teisme, ensovoorts) dat jy wonder of hy nie maar, in sy eie woorde “onherroeplik (moet) aanbeweeg” nie.

Dis nou as hy nie die kerk langs kerklike weë van sy nuwe insigte kan oortuig nie.

Die soort standpunt wat Müller nou al geruime tyd subtiel maar met taamlike stelligheid bevorder, spreek nie juis van genoegsame balans, ʼn lojaal-kritiese kyk op sy eie tradisie of werklike hoofstroom- en internasionale belang nie: dit kom maar grootliks vanuit die kring van ʼn randverskynsel en lyk maar baie soos die omgekeerde spieëlbeeld van fundamentalisme.

En, soos hy self weet, sê Müller se gebegte, in Schutte se woorde, baie van die “eie bagasie wat (hy) maar daagliks met (hom) saamdra.

Miskien moet my broer Julian óf tot inkeer kom, óf as hy werklik eerlik wil wees en met integriteit wil optree, die moedige pad van Schutte loop en uit sy roeping as predikant en kerklike professor bedank.

Dit het moontlik tyd geword dat kerk teologie en samelewing in Suid-Afrika in gebalanseerde verdraagsaamheid en liefde hulle nie meer te veel aan al hierdie eksesse van eensydigheid steur nie, maar voorbeweeg op die pad van eerlikheid en integriteit.

Dit is om waarlik goeie teologie te versterk en van daaruit die kerk in die 21ste eeu nie tot ʼn vrysinnige nie, maar tot ʼn relevante, vernuwende en geloofwaardige instelling uit te bou.

Op hierdie pad is daar ook uit die verlede die ryke spektrum van baie en knap Suid-Afrikaanse teoloë soos David Bosch, Ferdinand Deïst, Johan Heyns, Willie Jonker, Dionne Crafford, Jan van der Watt, Bart Oberholzer en Amie van Wyk.