Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Opbou tot NGK homoseksuele besluit van 2015 PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Donderdag, 08 Oktober 2015 23:00

Kyk ook:

Die volgende artikels gee die opbou tot die NG Kerk se besluit oor homoseksualiteit tydens die algemene sinode van 2015 (kliek op die opskrif om die hele artikel onder te lees):

1. Algemene sinode gaan stil word saam met Rut

Dit is interessant dat die boek Rut gekies is vir hierdie sinode waar almal geweet het dat die homoseksuele besluit die belangrikste besluit was. Rut gaan oor 'n Moabitiese vrou wat aanvaar is in Israel en wat uiteindelik die oumagrootjie van koning Dawid sou wees. Dus gaan dit oor 'n vrou wat nie 'n Israeliet was nie, wat ingesluit is by die Israeliete.

Is dit dalk opsetlik so beplan? Waarom nie stilstaan by 1 Korintiërs nie? Spesifiek hoofstuk 6:

(9) Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen
(10) of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Sou dit nie meer gepas wees vir die onderwerpe van bespreking nie?

Jan Louw het die volgende opmerking gemaak:

Die kruks van die Sinode se probleem word beskryf in die woorde van die voorsitter van die Taakspan oor homoseksualiteit, Andries Kritzinger:
Dr Andries Kritzinger van die taakspan wat die verslag voor die sinode opgestel het, het gesê daar is twee “bronoorleweringe” waaruit mense se oortuigings oor die saak gevoed word. Die een is die nuwe taal en manier van dink oor kerkwees wat gevoed word deur die denke oor die heil in Christus. Die ander is die sewe anti-gay tekste in die Bybel. Die taakspan is sterk oortuig dat die sewe tekste nie ʼn kritiese weeg kan oorleef nie.
Die Sinode en die Kerk het nou eenmaal besluit dat die Bybel nie meer die basis vir hulle besluitneming is nie. Plaas dat hulle liewer hulle tyd bestee het aan Bybelstudie oor die betrokke teksgedeeltes oor homoseksualiteit. Die Bybel funksioneer glad nie in hierdie besluitneming nie. Miskien is hulle bang daarvoor, want dit is so duidelik soos daglig wat daar staan. Hulle is in hierdie belangrike besluitneming eerder met die boek met Rut besig.
Dit is interessant wat ds Fay van Eeden wat die dagwyding oor die boek Rut gedoen het gesê het:
Fay wonder of die gebroke wêreld van vandag ook sou regkom as ons weer terugkeer na streng nakoming van die Ou Testamentiese wette? Sy merk op dat streng nakoming in daardie tyd hartseer gebring het. Die Israelitiese mans wat tydens die ballingskap met Moabitiese vrouens getrou het, moes hulle gesinne wegstuur. Die wet het immers bepaal dat Moabiete nie deel mag word van die volk van God nie. Deuteronomium 23 bepaal: “Geen Ammoniet of Moabiet mag lid van die gemeente word nie. Niemand uit hulle nageslag mag ooit lid van die gemeente word nie, selfs nie eers een van die tiende geslag nie.” Die boek Rut het teen hierdie agtergrond ontstaan...... Die boek Rut kom in opstand teen nakoming van die streng wette en trek ’n streep deur die negatiewe geskiedenis tussen die Israeliete en die Moabiete.
Ek het 'n probleem daarmee dat die skrywer van die boek Rut sulke bedoelinge gehad het met die skrywe van die boek. Let ook op dat die boek per implikasie na die ballingskap gedateer word.
Ek lees vanmôre Jeremia 11:15: "Waarom wil die volk wat ek liefhet, sy sondige planne in my tempel uitvoer"

2. Nuwe moderator: ‘Kreatiewe oplossing is nodig’

Uit die artikel is dit duidelik dat Nelis pro Belhar en pro gay is.

3. Lakmoestoets vir NG Kerk

Frits Gaum wys weer waar sy sentimente lê. Hy is pro-Katolieke kerk, pro-Belhar en pro-Homoseksualiteit.

Prof. Fanie Snyman, wat by prof. Johan Janse van Rensburg oorgeneem het as moderator van die Sinode Vrystaat, is openlik pro-homoseksualiteit. Hy skaar hom ook by die kuratorium van Stellenbosch (kyk Laat NG kerkrade oor gays besluit). En volgens hom voel die meerderheid ander professore by Vrystaat ook so.

4. Gay dominee het vir 1ste keer hoop na NG Kerk-gesprek

Die gays en pro-gays dink dat die sinode baie goed vorder om die homoseksuele besluit van 2007 te verander.

5. ‘Bekyk anti-gay tekste krities’

Uit hierdie artikel kom dit weer duidelik vorendag dat die gay-debat op grond van emosies gevoer word en nie oor wat die Bybel sê nie.

6. Die gay-debat: Wat is God se wil?

Die volgende artikel deur Arno van Niekerk het op 8 Oktober 2015 in Volksblad verskyn in reaksie op die artikel "Bekyk anti-gay tekste krities" hierbo.

7. Die ware evangelie van Christus op die spel met die NG Kerk se algemene sinode 2015

Artikel van Ds Slabbert le Cornu.

8. Selfdegeslagverhoudings - standpunt Tsumeb

Hier volg 'n ope brief aan Namibiese afgevaardigdes na die algemene sinode van die NGK 2015 deur Ds Johannes de Koning.

Kliek HIER.

*****************

1. Algemene Sinode gaan stil word saam met Rut

1 Oktober 2015, Neels Jackson

Afgevaardigdes na die Algemene Sinode kan gerus ʼn tydjie maak om vooraf die verhaal van Rut deur te lees. Die dagwydings by die sinode gaan aan die hand van hierdie Bybelboek gedoen word.

Rut bied ʼn paar belangrike perspektiewe vir die NG Kerk, veral teen die agtergrond daarvan dat die NG Kerk besluit het sy wil ʼn missionale kerk wees, sy wil antwoord op God se roepstem, volg waar Hy lei.

Die Noordelike Sinode wat gasheer speel vir die Algemene Sinode, neem verantwoordelikiheid vir die dagwydings. Ds Kobus Myburgh van Wierdapark sê hulle het op Rut besluit omdat dit ʼn antwoord bied op die harde teologie van Esra en Nehemia.

Rut bied perspektiewe op God as die God ook van ander en hoe Hy God deur mense by mense is. Dit sê vir die kerk iets oor die oorsteek van grense, en oor oorvloedige geregtigheid.

Nico Simpson se sketse op die voor- en agterblad van die agenda beeld aspekte van die verhaal uit. Daaroor skryf hy: “In die verhaal van Rut is God altyd daar, maar op die agtergrond. Amper soos die koringare wat ʼn stralekrans in die agtergrond maak. Dit herinner ons aan die Brood wat lewe gee en aan God se sorg en seën. Die vier panele beeld gedeeltes uit Rut se verhaal uit. Die eerste een fokus op verhoudings – Rut se lojaliteit, Naomi se saamreis en Orpa se huiwering. Die tweede vertel van uitgestoot wees, van uitgelewer wees aan ander se genade en soms gasvryheid, maar ook van inisiatief neem en waagmoed. Die derde is broos en intiem en herinner aan plannetjies maak en kwesbaar wees. Die laaste wys ʼn vrou wat intree in haar krag en die wêreld vierkant in die oë kyk.”

2. Nuwe moderator: ‘Kreatiewe oplossing is nodig’

Deur Pieter Steyn, Dinsdag 6 Oktober 2015 03:50

Ds. Nelis Janse van Rensburg kort nadat hy Maandag op die Algemene Sinode se sitting in Pretoria as nuwe moderator van die NG Kerk aangewys is. Foto: Herman Verwey

Hy wil so gou moontlik ná die Algemene Sinodesitting van die NG Kerk ’n paar dae in die Kalahari gaan uitspan.

Só het ds. Nelis Janse van Rensburg (55), nuutverkose moderator van die NG Kerk, Maandag ná sy verkiesing gesê.

Janse van Rensburg, wat ook die moderator van die Wes- en Suid-Kaaplandse sinode is, is in ’n snikhete Pretoria ná ’n verkiesing van drie rondes tot die warm stoel verkies. Hy volg prof. Nelus Niemandt op.

Janse van Rensburg, leraar van die Welgemoed-gemeente in Bellville, was voorheen by gemeentes in Oudtshoorn en Postmasburg in die Noord-Kaap.

Ds. Dirkie van der Spuy (68), wat teen Janse van Rensburg gestaan het vir moderator, is tot assessor (ondervoorsitter) verkies. Hy volg dr. Braam Hanekom op.

Van der Spuy is die oudste afgevaardigde op die sinode en is ’n predikant in die megagemeente Moreletapark in Pretoria, asook moderator van die oostelike sinode. Prof. Johan van der Merwe (51), hoogleraar in kerkreg en geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, is tot aktuaris verkies. Hy volg dr. Johann Ernst op.

Janse van Rensburg, wat sterk ten gunste van die belydenis van Belhar is, het gesê die kerk moet nou met kreatiewe oplossings kom om die Belhar-tameletjie te hanteer. Die kerk kon nie ’n tweederde-meerderheid van sy lidmate kry om artikel 1 van die kerkorde te wysig nie. Die voorgestelde wysiging sou ruimte skep vir gemeentes om Belhar as belydenisskrif te aanvaar.

“Ons moet die diversiteit van standpunte respekteer en ’n kreatiewe oplossing kry. Ons moet dit doen sonder om die lidmate te irriteer.”

Hy het gesê daar sal nie weer oor Belhar gestem word nie.

Later vandeesweek gaan ’n beskrywingspunt dien wat deur Janse van Rensburg se sinode ingedien is. Daarvolgens word die Algemene Sinode gevra om streeksinodes toe te laat om belydenisskrifte te gebruik wat nie teenstrydig met die Bybel is nie en nie in teenstelling is met ander belydenisskrifte nie.

Volgense Janse van Rensburg laat dit ruimte vir sinodes om te besluit of hulle byvoorbeeld Belhar wil gebruik.

Hy het beklemtoon dat dit ’n “generiese” beskrywingspunt is wat nie spesifiek na Belhar verwys nie.

“Die beskrywingspunt is nie om ander sinodes te beïnvloed nie.”

Oor dieselfdegeslagverhoudings wou hy hom nie veel uitlaat nie.

“Ons moet besef dit is nie net ’n saak nie. Daar is mense betrokke. Ménse, lidmate, gelowiges.”

Hy het gevra vir geduld met die prosesse van die kerk wat dié kwessie betref.

“Mense moet ons nie kwalik neem omdat die kwessie oor dieselfdegeslagverhoudings stadig beweeg nie. Ons moet biddend volhoubare besluite neem. Dit vat tyd. Die debatte daaroor het in ’n mooi gees en gesindheid geskied.”

Oor jong mense voel Janse van Rensburg, pa van vier, sterk.

“Ons is bekommerd oor ons jong mense, maar nie oor ander kerke wat hulle lok as sodanig nie.

“Ons hier, by die sinode, gaan nie vír jong mense besluit nie. Ons gaan vir hulle ruimte skep en hulle moet self besluit. Ek is jaloers op kinders wat in dié opwindende tye jonk kan wees. Ek wens dit was ek!”

3. Lakmoestoets vir NG Kerk

Frits Gaum, Dinsdag 06 Oktober 2015 05:30

Met die sinode van die NG Kerk wat vandeesweek sit, kyk Frits Gaum na die agenda en vra of dié Kerk nog saak maak.

Maak die kerk nog saak?

Já, as ’n mens hoor van die oorweldigende ontvangs van pous Franciscus met sy besoek verlede week aan die VSA. Já, as ’n mens na die uitbreiding van die kerk in verskillende gestaltes in Afrika en Suid-Amerika en China kyk.

Já, as ’n mens sien hoe miljoene mense oor die wêreld nog elke Sondag kerk toe gaan.

Já, as ’n mens verneem dat net die NG Kerk vanjaar R1,1 miljard vir welsynswerk begroot.

Maar néé as jy kyk hoe sekularisasie/sekularisme veral in Europa, eens die bakermat van die Christendom, die kerk daar laat kwyn. Néé, as jy hoor hoe die molesteringskandaal die grootste kerk op aarde, die Rooms-Katolieke Kerk, geknou het. Néé, as jy ag slaan op die verlies aan lidmate van baie hoofstroomkerke in die wêreld – ook in Suid-Afrika, ook in die NG Kerk.

Die NG Kerk hou dié week algemene sinode in Pretoria. Vir sommige mense beteken die woord “sinode” min en wek dit eerder teenstand op. Maar daar is wel mense vir wie die NG Kerk en die sinode nog saak maak.

So gee die Afrikaanse openbare media ook steeds baie aandag aan die doen en late van die NG Kerk – ten goede en ten kwade.

Blaai jy deur die dik agenda van die algemene sinode – 462 bladsye plus 100 aanvullend – is daar oorgenoeg stof tot nadenke. En wel ook baie tekens dat hier ’n kerk is wat erns wil maak met die land en die tyd waarin ons leef.

Dit is ’n kerk wat relevant wil wees, wat nie rigied en onbuigbaar êrens in die verlede vasgevang wil sit nie. In die “roepingsverklaring” voorin die agenda word juis verklaar dat die NG Kerk “met ’n leerbare gees die wil van God deur sy Woord wil leer ken en uitleef in die uitdagende en komplekse wêreld waarin ons leef”. “Ons buig voor die Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Ons is gestuurdes.”

Die agenda vertel ons dat die NG Kerk sy apartheidsisolasie deurbreek het en nou lid is van ’n stuk of tien wêreldwye ekumeniese liggame, ’n hele paar van hulle in Afrika gesetel. Die agenda bevat studiestukke oor xenofobie, aborsie (hoewel daar vir die huidige nog gehou word by die 1982-besluit wat aborsie in al sy vorme gebrandmerk het as “ontoelaatbaar en nié volgens God se geopenbaarde wil nie”), en genadedood (studie daaroor moet volgens die agenda voortgesit word ten einde “ ’n Christelike etiese bydrae tot konsepwetskrywing te kan lewer”).

Grondhervorming kom aan die beurt. Soos ook die gesag van die Bybel wat deesdae uit baie oorde bevraagteken word.

Menswaardigheid kry heelwat aandag – die hele NG Kerkfamilie staan midde-in ’n sogenaamde seisoen van menswaardigheid – en vier “waardes” word in dié verband beklemtoon: respek, luister, omarming en liefde.

Die sinode word verder gevra om sy vorige besluit oor die Bose te handhaaf. Daar bestaan dus ruimte vir verskillende antwoorde op die vraag of die Bose ’n “persoon” of “nie-persoonlik” is. Die realiteit van die Bose word egter deur almal erken.

’n Groot teleurstelling is dat net 26 uit die 200 afgevaardigdes na die sinode vroue is. En net 6 uit die 100 predikante wat sinode toe gaan, is vroue. Ek kon ook nêrens ’n verwysing na Adri-Louise van Renen-Fourie raaklees nie: die enigste vrou wat redakteur van die kerk se 166 jaar oue amptelike blad, Kerkbode, was en verlede jaar tragies oorlede is.

Die bespreking van die Belydenis van Belhar en homoseksualiteit is ongetwyfeld die twee sake wat die gemoedere die meeste gaande gaan maak. Die hantering daarvan sal vir baie die lakmoestoets oor hierdie sinode se relevansie wees.

Met Belhar het die NG Kerk ná die onlangse kerkstemming – wat, ten spyte van goeie bedoelings, lomp gehanteer is – in ’n moeilike posisie beland. Hoewel die meeste afgevaardigdes na die verskillende streeksinodes, as hulle saamgetel word, ten gunste van die opname van Belhar as opsionele belydenisskrif van die NG Kerk gestem het, kon die vereiste algehele tweederde-meerderheid nie verkry word nie.

’n Interessante voorstel dien voor hierdie sinode: dat streeksinodes wat wil, wel toegelaat word om Belhar in hul belydenisgrondslag op te neem, al doen die kerk as geheel dit nie.

Oor homoseksualiteit bestaan in die NG Kerk nog ’n verskil van mening. So was dit ook met apartheid. Maar nadat die kerk in 1986 duidelik van apartheid afskeid geneem het, is nie teruggekyk nie.

Apartheid, is besef, was mens-onwaardig, dit was liefdeloos, dit was onregverdig. Daar was destyds as gevolg van die sinode se besluit ’n skeuring in die kerk. Maar dit was die régte besluit, nie ’n oomblik te vroeg nie. Dit is nou weer so.

Die sinode se huidige besluit oor homoseksualiteit is beter as dié van baie ander kerke, maar tas nog altyd die menswaardigheid van gay mense ernstig aan, en is op stuk van sake liefdeloos en onregverdig.

Dit vereis ’n selibate lewenstyl van homoseksuele predikante (maar nie van heteroseksuele predikante nie) en vra van gay mense om alleen deur die lewe te gaan – ’n lewensmaat is, anders as vir die res van ons, vir hulle verbode.

Die algemene sinode se moderamen het twee jaar gelede ’n kundige taakspan aangewys om dié saak weer te ondersoek. Die taakspan het deeglike navorsing gedoen, talle en talle gesprekke gevoer en ’n goeie verslag aan die moderamen voorgelê.

Maar toe spreek die moderamen as’t ware wantroue in sy eie taakspan uit, aanvaar nie die verslag nie (dit word net ’n aanhangsel tot hul eie verslag) en wil ook niks weet van die taakspan se duidelike aanbevelings nie.

Daar moet verder oor die saak gepraat word, meen die moderamen, en nog ’n taakspan moet aangewys word om weer te praat en te luister en te studeer . . .

Maar tussenin gebeur daar toe iets anders. Die NG Kerk-dosente van die teologie-fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch en hul kerklike beheerliggaam, die kuratorium, stuur ’n beskrywingspunt na die algemene sinode wat die aanvullende agenda net-net haal.

Hulle wys in dié beskrywingspunt op die hermeneutiese (Bybels-uitlegkundige) inkonsekwensies van die bestaande besluit oor homoseksualiteit, en vra “dat die addisionele voorwaarde van die selibaat (addisioneel tot die voorwaardes wat aan heteroseksuele afgestudeerdes gestel word) geskrap word” en dat “die NG Kerk amptelike erkenning gee aan die burgerlike verbintenis tussen homoseksuele pare wat ’n durende verhouding van liefde en trou aan mekaar wil bevestig, en dat hierdie verbintenisse met die seën van die NG Kerk kan geskied”.

Dié eenparige versoek van die Stellenbosse NG dosente word volgens alle aanduidings sterk gesteun deur ’n groot meerderheid van die dosente aan die ander twee teologie-fakulteite waar NG predikante opgelei word, dié van die universiteite van Pretoria en die Vrystaat.

Die dekaan van die Vrystaatse fakulteit – wat tradisioneel as die mees “behoudende” van die drie beskou word – prof. Fanie Snyman, het by navraag gesê: “Ek steun Stellenbosch se beskrywingspunt volledig en is daarvan oortuig dat die oorgrote meerderheid van ons dosente ook die beskrywingspunt steun. Dit is net onhoudbaar dat selibaatheid as vereiste bygevoeg word vir afgestudeerde teologie-studente met ’n homoseksuele oriëntasie en wat graag predikante in die NG Kerk wil word.”

Dit is amper 30 jaar gelede dat die destydse algemene sinode ’n besonder onvriendelike besluit oor homoseksualiteit geneem het.

Tien jaar later het dit opnuut as “kwessie” op die tafel van die Wes-Kaapse streeksinode beland. Dié sinode het toe opdrag gegee dat die saak deeglik ondersoek moet word.

Van daar af het dit weer op die algemene sinode se agenda gekom, en die een verslag ná die ander, die een versoekskrif ná die ander, die een “ope brief” ná die ander, is bespreek, gekou en herkou.

Dit is soos die man wat dit nie oor sy hart kon kry om sy hond se stert af te kap nie en dit toe uit liefde maar stuk-stuk gedoen het.

Nou het die algemene sinode van 2015 in die lig van die Stellenbosse beskrywingspunt die kans om finaal oor hierdie Rubicon te kom en ons gay naaste se menswaardigheid voor God en mens eens en vir altyd in elke opsig te erken.

Ja, juis in die “seisoen van menswaardigheid”!

Is die NG Kerk nog ter sake? Hier is ’n lakmoestoets soos min.

4. Gay dominee het vir 1ste keer hoop na NG Kerk-gesprek

Deur Claudi Mailovich, Dinsdag 06 Oktober 2015 18:59

Vir die eerste keer ooit het ds. André Muller, stigter en leraar van die Reformerende Kerk, hoop na 'n gesprek in die NG Kerk oor selfdegeslagverhoudings. Muller is gay, was langer as 20 jaar gelede 'n NG Kerk-leraar en het Dinsdag in die besoekersgallery gesit en luister na die NG Kerk se algemene sinode se oop gesprek oor selfdegeslagverhoudings.

"Wanneer 'n spreker daai tyd gepraat het en hy het hard en liefdeloos opgetree, dan het die vergadering saamgestem. Jy kan mos sien in hul liggaamshouding, hul koel koppe, hulle stem saam."

"Maar hierdie keer het ek die belewenis gehad van die liefde van die Here wat uitstraal met die mooi dinge wat hulle sê oor hoe die kerk gay mense moet verstaan en omarm en dan kyk ek na ander mense en hoe die meeste kopknik en saamstem."

Dit is hierin wat hy sien daar is verandering in die kerk se mense.

"Ek is oortuig daarvan en dit is wat my hart laat lig."

Dr. Marietjie van Loggerenberg, skrywer van 'Gaygelowig- Ingesluit in die gesprek', het in trane die Afrikaanse Hoër Seunskool se skoolsaal, waar die sinodesitting is, verlaat.
"Vir die eerste keer in só 'n sinodale vergadering het ek weer die liefde van die Here beleef. Ek het gevoel ek wil in die kerk bly – dis mý kerk. Ek is lief vir die kerk, want die kerk gaan nie net daaroor om 'n groepie te beskerm nie, maar gaan oor eer van die Here."

"Ek was baie emosioneel."

Wat veral haar hart geraak het, is diegene wat vertel het hoe hul siening verander het nadat hulle in aanraking met gay mense gekom het.

"In die verlede is dit as 'n anomalie beskou. Jy kan nie gay wees en 'n Christen wees nie. Dis onderling uitsluitend. En vandag het ek gehoor van mense se belewenisse – dat hulle beleef het wat ek al vir 14 jaar beleef."

Sy vertel sy kry self seer, maar veral namens diegene soos Muller wat langs haar sit en moet luister na mense wat "hard" en "amper liefdeloos" is.

Tog is nie sy of Muller kwaad vir mense wat anders as hulle dink nie.

"Aan die een kant kry 'n mens seer, maar aan die anderkant . . . het 'n mens deernis met mense wat nog totaal en al oningelig is."

■ Die verslag oor die etiese riglyne rondom selfdegeslagverhoudings binne die NG Kerk word Woensdag deur die Algemene Sinode bespreek. Daar is geen aanbevelings van die taakspan in die verslag gepubliseer nie. Die moderamen het self net drie aanbevelings gemaak – een was die oop gesprek wat Dinsdagmiddag in Pretoria plaasgevind het.

5. ‘Bekyk anti-gay tekste krities’

Talle predikante vertel hoe hulle ‘bekeer’ is

Deur Pieter Steyn, Woensdag 07 Oktober 2015 03:30

Daar kan nie sonder vraagtekens na die sewe anti-gay tekste in die Bybel gekyk word nie.

“Dis maklik om oor die algemeen daarmee om te gaan, maar daar moet krities daarmee omgegaan word,” het dr. Andries Kritzinger, lid van die taakspan wat selfdegeslag-verhoudings ondersoek het, Dinsdag op die NG Kerk se algemene sinode gesê.

Hy en dr. Elize Morkel, ook ’n lid van die taakspan, het inleidend gepraat voor die oop gesprek waaraan afgevaardigdes kon deelneem. Geen besluite is geneem nie omdat dit net ’n oop gesprek was en beskrywingspunte en verslae oor dié kwessie vandag behandel gaan word.

Morkel het gesê daar is met baie gay lidmate en proponente gesels voordat die verslag opgestel en aan die moderamen oorhandig is. Die moderamen het glo gereken die kerk is nog nie gereed vir die verslag en aanbevelings nie en dit is daarom nie aan die sinode beskikbaar gestel vir die oop gesprek nie.

Verskeie predikante het gesê daar is gay paartjies in hul gemeentes wat hulle moet bedien. Baie van die leraars het vertel hoe hulle “bekeer” is nadat hulle op verskeie vlakke met die paartjies te doen gehad het. Die gemeentes aanvaar dié paartjies deur die bank.

Gert van Rensburg, ’n afgevaardigde, het daarteen uitgevaar en gesê die Bybel is die kerk se handleiding en daar kan nie daarvan afgewyk word nie. “Dis vir my hartseer dat die saak enigsins op die agenda is. Die Bybel spreek hom duidelik uit daaroor.”

Die gays moet hul eie kerk stig en kyk of dit oor 80 jaar nog bestaan. “Daar kan geen aanwas wees nie, so oor 80 jaar sal die kerk nie meer bestaan nie. ’n Mens word nie so gebore nie. Ek is lief vir hulle, maar ons moet hulle tot bekering bring. God het Adam en Eva gemaak, nie Adam en Steve nie,” het hy gesê terwyl baie afgevaardigdes hul asem skerp ingetrek het.

Dr. Tiana Bosman van Pinelands in die Kaap het haar ongemak uitgespreek oor Van Rensburg se uitlatings en gesê dit klink vir haar of sy en sekere deelnemers aan die gesprek “verskillende Bybels” lees.

“Die Adam en Steve-opmerking is disrespekvol. Om die skeppingsverhaal as basis van ’n argument oor selfdegeslag-verhoudings te gebruik is onaanvaarbaar. Party van ons moenie dink ons is kenners op ’n gebied wat ons nie is nie. Die Bybel sê niks oor die menslike biologie en fisiologie nie.”

Danie Crafford van Prieska het gesê hy benader die debat deur homself af te vra wat sal sy kinders hom oor 30 jaar vra – wat die rede vir die besluit is.

“Wat sal my pa sê as ek hom nou kon vra waarom die kerk apartheid goedgepraat het?”

Ds. Attie Nel van Pretoria het gesê die afgelope jaar vra hy sy belydenisklas oor die gay-vraagstuk. “Dis vir hulle ’n non-issue. Hulle sê bring die mense in.

“Die Bybel moes nog altyd en moet nou ook in die konteks van die tyd gelees word. Ons kan wetenskap nie ignoreer nie.”

6. Die gay-debat: Wat is God se wil?

Die berig ‘Bekyk anti-gay tekste krities’ op 7/10 van Pieter Steyn verwys. In die Kerk se gesprekke en debatte oor homoseksualiteit, moet ons onsself afvra waarna ons eintlik op soek is? God se wil? As dit God se wil is dan is die Bybel ons eerste handleiding – nie ons interpretasie daarvan nie, maar dít wat daarin staan. Toe Jesus versoek is, was Sy antwoord duidelik: “Daar staan geskrywe…” Maar as ons op soek is na mense se opinies, ‘beste argumente’ en dit wat gepas is, dan is die menseregte handves ons handleiding. Die Kerk moet besluit of hy mét die tydsgees of déúr die tydsgees wil praat, want albei kan hy nie. Die NG Kerk se Algemene Sinode neem besluite oor waar die kerk moet staan ten opsigte van homoseksualiteit. In al die vooraf taakspan-dokumente, en besprekings op die Sinode, het niemand die kernvraag beantwoord nie – wat ís God se wil hieroor? Argumente word by die wetenskap geleen, by die sielkunde, by die sosiale omgewing, ens. maar niemand sê hulle het gebid oor die saak en by die Here gehoor nie. God het nog altyd geantwoord ás daarna gevra word. Die Kerk is g’n sosiale klub wat onsself besig hou met kerkgoedjies nie; ons het ‘n enorme verantwoordelikheid om ‘n profetiese stem in die samelewing te wees. Dáárvoor moet ons ten eerste God se wil onderskei en bekend maak sodat gebrokenheid genees kan word. Rom. 12:2 sê duidelik: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

7. Die ware evangelie van Christus op die spel met die NG Kerk se algemene sinode 2015

Deur Ds Slabbert le Cornu. Kyk HIER op sy blog.