Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Stephan Joubert: Vloeibare NGK, soos dit hoort PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Stephan Joubert   
Sondag, 18 Oktober 2015 21:00

Kyk ook:

Stephan Joubert het die volgende artikel geskryf oor die pas afgelope Algemene Sinodesitting van die NG Kerk.

Alhoewel hy blyk dat hy bekommerd is oor hoe die NG Kerk met die Bybel omgaan, is hy vreeslik versigtig om enige standpunt in te neem. Is dit dalk omdat hy sy vriendskap met Nelus Niemandt so hoog ag...?

***********

Stephan Joubert: Vloeibare NGK, soos dit hoort

Deur Stephan Joubert, Sondag 18 Oktober 2015 05:10

’n Winspunt is dat die koers nie meer van ‘bo af’ aangedui word nie, sê Stephan Joubert.

Die Amerikaanse leierskapkenner Max De Pree sê iewers: “The first responsibility of a leader is to define reality.” Ná die NG Kerk se afgelope sinodesitting in Pretoria is hierdie woorde meer as ooit relevant.

Ek is nie deel van formele kerkstrukture of kerklike vergaderings nie. Tog merk ek op dat by die afgelope twee sinodes van die NG Kerk ’n groot bandwydte geloofsidentiteite probeer versoen is.

Toe daar meningsverskil was oor die bestaan van die duiwel, is besluit dat individue hieroor kan glo soos hulle self verkies. By die afgelope sinode is ’n soortgelyke roete oor Belhar ingeslaan. Streeksinodes kan nou die Belhar-belydenis in beginsel deel maak van hul belydenisgrondslag, sou hulle instem.

Dieselfde koers is ook gevolg oor dieselfdegeslag-verhoudings. Die algemene sinode het erkenning gegee aan die status van burgerlike verbintenisse van mense van dieselfde geslag. Hierdie verbintenisse kan deur predikante wat wil, bevestig word.

Tog is die uiteenlopendheid van beskouinge oor dieselfdegeslag-verbintenisse in die NG Kerk erken en die reg van kerkrade bevestig om hieroor hul eie standpunte en praktyke te reël.

Bogenoemde drie vlakke van identiteitsvorming, naamlik die verstaan van die bonatuurlike (die duiwel), sosiale geregtigheid (Belhar), asook die wese van die huwelik (heteroseksueel of nie) is oorgelaat aan plaaslike sinodes, gemeentes en individue om standpunte hieroor in te neem.

Hierdie posisie is tekenend van ons tyd wat deur die filosoof Zygmunt Bauman as “liquid modernity” omskryf word. Ou bedelings, wat oorheers is deur gesentraliseerde besluite van “bo af” en waar gesagsinstellings die finale hekwagte vir die waarheid was, is uitgedien. Binne ’n vloeibare realiteit sal sulke instellings nie lank oorleef nie – “because they decompose and melt faster than the time it takes to cast them” – soos Bauman in Liquid Times geskryf het.

Die vraag is nie meer of die breër kerk gereed is vir hierdie nuwe leiersmodel nie, want die algemene sinode het reeds op kardinale punte hiervoor gekies. Dit beteken dat plaaslike leiers en gemeentes nou eie verantwoordelikheid moet aanvaar om identiteitsvorming op selfstandige maniere te fasiliteer. Die winspunt hiervan is dat plaaslike geloofsgemeenskappe weer as die mees outentieke uitdrukking van kerkwees verstaan kan word, soos dit hoort. Die uitdaging egter is om groepvorming van eendersdenkendes en ideologiese afgrensings van gemeentes te ondervang. Gaan daar ruimte wees vir groeperinge wat hulle nie tuis voel binne sulke debatte of die verskillende groeperings in hierdie verband nie? Gaan die nuwe werklikheid slegs een wees van “vir of teen?” En gaan plaaslike geloofsgemeenskappe, wat meen hulle kry nie genoegsame teologiese koersaanduidings “van bo af” nie, geldelik en andersins lojaal bly aan hul kerkverband?

Die rol van die Bybel is ook sterk in die soeklig geplaas by die afgelope sinodes. Synde ’n kerkverbandskap wat die Sola Scriptura-beginsel (“die Skrif alleen”) onderskryf, is die uiteenlopende verstaan hiervan opvallend.

Enersyds is die historiese gesitueerdheid van die Bybel sterk gebruik in gesprekke oor die duiwel en eie geslagtelikheid, as sou bepaalde Bybeltekste nie direkte toepaslikheid het binne huidige kontekste nie. Terselfdertyd is verwysings na die Bybel in Belhar-gesprekke dikwels as polities-aangedrewe afgemaak.

Miskien betaal die kerk die prys vir ’n jarelange eklektiese ["eklektiese" beteken "selektiewe"] omgang met die Skrif as slegs ’n “Groot Verseboek” propvol losstaande tekste wat as bewysplase moet dien vir of teen bepaalde morele en sosiale gedragvorms. Of vir die teologiese “post mortems” wat sommiges op die Bybel wou uitvoer.

Die Bybel is nie genoegsaam in die kerk geïnternaliseer as God se amptelike reddingsverhaal wat gelowiges se eie lewensverhale herskryf en waaruit hulle kreatief dink en leef nie. Derhalwe sal die kerk vorentoe moet aandag gee aan vrae soos of tydbepaalde gebruike tydlose beginsels in die Bybel oortref. En op watter wyses sosiale geregtigheid en seksualiteit ’n wesenlike deel uitmaak van ons geloofsidentiteit.

Die skuif na missionaliteit by die afgelope twee sinodes van die NG Kerk is ook opvallend. Die nuwe verstaan van die kerk as ’n missionale gemeenskap wat ’n lewende seën vir ander moet wees, is ’n groot winspunt. Die uitdaging is egter om sulke taal in nuwe verhoudings en dade te omskep. Dit sal bevestig of die kerk op voetsoolvlak steeds glo dat Jesus op soek is na God se verlore eiendom. En of die kerk Christus se praktiese hande en voete is om liefdevol met armoede en onreg te handel.

Die hartklop van die Christelike identiteit, en hoe dit in groter verbande en op plaaslike vlak moet uitspeel, is die NG Kerk en ander kerke se uitdaging.

Hoe gaan kerke hul realiteit(e) defi­nieer te midde van die vloeibare Suid-Afrikaanse werklikheid? Hoe gaan mense met integriteit begelei word om saam met Jesus op water te loop?

Net die tyd sal leer.

■ Stephan Joubert is buitengewone professor in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.