Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wie is Willie Esterhuyse? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Woensdag, 16 Maart 2016 13:00

Kyk ook:

Willie Esterhuyse is 'n emeritus-professor in filosofie en besigheidsetiek aan die Universiteit van Stellenbosch. In sy boek Geagte Jahwe, stap hy finaal weg van die gedagte dat God 'n persoonlike wese is.

Sy geloofsoortuiging word baie mooi weergegee in die artikel hieronder, US Woordfees: God is 'n metafoor, deur Jean Oosthuizen.

Kyk ook:

***********

US Woordfees: God is 'n metafoor

(Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].)

Jean Oosthuizen

2016-03-15

Hy het finaal weggestap van die gedagte dat God 'n persoonlike wese is, het die filosoof Wille Esterhuyse tydens die bespreking van sy jongste boek, Geagte Jahwe, by die US Woordfees gesê.

“Ek kan nie werk met die idee van 'n skeppergod wat toelaat dat die wêreld lyk soos wat hy lyk nie.”

Vir hom is “God” 'n metafoor, maar 'n baie belangrike metafoor. God kan nie verantwoordelik gehou word vir die goed en die kwaad wat in die wêreld gebeur nie. Die mens is self daarvoor verantwoordelik.

“As mens kyk na die enorme wreedhede waarmee daar regdeur die geskiedenis oorlog gevoer is en hoe Moslems en Christene mekaar al uitgemoor het, móét ek my afvra hoe kan dit wees as ons sê dit is God se wil.”

[As Esterhuyse bereid was om evolusie vaarwel te roep en in 'n sondeval te glo, kon hy die dood en swaarkry van die lewe verklaar sonder om sy Godsbeeld te verander - kyk Death and Suffering Questions and Answers.]

In sy gesprek met Chris Jones sê Esterhuyse hy dink ook nie mens het 'n kerk nodig om gelowig of spiritueel te wees nie.

Godsdiens het volgens hom wel 'n deurslaggewende rol gespeel in die mensdom se morele verbreding. Daar is egter ook van die wreedste en onmenslikste dade gepleeg in die naam van God.

Behalwe godsdiens is daar ook ander tradisies, soos die humanistiese tradisie en die liberale tradisie, wat tot morele waardes bygedra het.

[Kyk egter Morality and Ethics Questions and Answers.]

Hy self kies ten gunste van 'n Christelik-geankerde waardestelsel. “My kritiek daarteen is wanneer mense se waardestelsel van so 'n aard is dat dit ander mense se regte ondermyn.”

Daar moet gestreef word na 'n kultuur van verdraagsaamheid.

Die Bybel bly vir hom 'n belangrike boek, maar géén teks as sodanig is heilig nie. So is die Bybel ook net 'n boek met verhale. Daar is ook ander heilige boeke, soos die Koran.

Vir Esterhuyse is die teks wel heilig, omdat daar baie dinge in die teks is wat mens kan gebruik om van die wêreld 'n beter plek te maak. Hy glo ook nie die Nuwe Testament is die vervulling van die Ou Testament nie. Dit is eerder 'n korreksie op die Ou Testament.

Hy lees die Ou Testament anders as toe hy jonk was. Dit is vol geykte maniere van dink oor etiek in antieke tye.

Of Jesus nou uit 'n maagd gebore is of nie, maak nie vir hom saak nie. “Daar is baie verwysings in die geskiedenis na maagdelike geboortes. Dit het 'n groot rol gespeel in die antieke tye toe daar anders gedink is oor die seksuele.

['n Mens wonder hoe daar in die verlede anders gedink is oor die seksuele. Wil Esterhuyse met hierdie stelling sê dat die Bybelskrywers nie geweet het waar babas vandaan kom nie? Kyk ook Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken.]

Wanneer daar van Jesus gepraat word as Seun van God, sien hy dit as 'n metafoor, want daar was nie 'n goddelike geboorte nie.

Jesus se boodskap gryp hom wel aan en hy identifiseer ten volle daarmee. “Jesus se etiek was 'n etiek van omgee en 'n afwysing van die Joods-ortodokse manier van dink oor moraliteit.”

[En Jesus het homself ook as God gesien. Dus moet jy Hom as 'n malmens beskou of op jou knieë voor hom neerval en Hom aanbid as die Seun van God - kyk Die Bybel oor Jesus se godheid.]

Esterhuyse sê hy is nie geïnteresseerd in die hiernamaals nie. Sy verbondenheid aan Jesus se boodskap is om van die hiérmaals op aarde 'n beter plek te maak. Jesus is vir hom onsterflik omdat sy boodskap onsterflik is. “Paulus leef ook vir my, al was hy soms 'n lastige figuur en ietwat kwasterig.”

Tydens vraetyd wou iemand by Esterhuyse weet hoe moet mens dan bid om al die wreedhede wat in die wêreld plaasvind te beëindig as God 'n metafoor is. Esterhuyse sê vir hom is gebed 'n manier om te besin oor die lewe. Mens kan dit nie gebruik om die gang van die natuur te verander nie. Daardie dinge gebeur vanself.

[Vir die gelowige, kyk Aanhalings oor gebed.]