Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
NGK vra SA parlement dat homoseksuele huwelike gewettig word (Okt 2006) (*) PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Dinsdag, 03 Oktober 2006 21:00

Kyk ook:

Dit is skokkend dat die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers (dr Kobus (JJ) Gerber en dr Ben (BJ) du Toit) in Oktober 2006 die SA parlement geadviseer het om homoseksuele huwelike te wettig. Hier is die amptelike voorlegging aan die parlement namens die NG Kerk.

Kyk ook die kommentaar onderaan.

**************

Begeleidende Brief met Voorlegging oor Huwelikswet

Datum : Oktober 2006

Wanneer ons as kerk voorleggings maak ten opsigte van die wetskrywende proses van die Nasionale Parlement, geld die volgende as riglyne:

1. Ons moet, saam met ander rolspelers, ons daarvoor beywer dat die Grondwet se uitgangspunte te alle tye deur wetgewing konsekwent toegepas word. Dit is dus belangrik dat ons ons daarvoor sal beywer dat sake soos die gelyke regte van alle mense, godsdiensvryheid, vryheid van spraak en die beginsels van vrye assosiasie tot uitvoering gebring sal word.

2. Hierdie saak (onderworpenheid aan die Grondwet van die land) is vir ons onverhandelbaar, aangesien hierdie beginsels vir ons as kerk die veilige ruimte moet skep waarbinne ons kerk kan wees in terme van ons belydenis en oortuigings, nie net in leer nie, maar ook in die lewe en organisatoriese inrigting van die kerk.

3. Hierdie reg wat ons vir onsself opeis, moet ons ook vir ander gun. Met ander woorde, dit is belangrik dat ons ons ook vir die regte van mense wat van ons oortuigings mag verskil, sal beywer. So kan ons verseker wees dat ons eie regte in terme van die Grondwet verskans word.

4. Dit mag beteken dat ons ons sal beywer vir die gelyke regte van mense in ’n bepaalde situasie, ten spyte van die feit dat ons hulle standpunte teologies nie noodwendig onderskryf, of vanselfsprekend net so deel nie. Die maklikste voorbeeld hiervan is egskeiding: Ons as kerk kan nooit eties-moreel egskeiding goedkeur nie. Volgens ons verstaan van die Woord is dit vir die Here onaanvaarbaar. Maar ons sou wou saampraat om die regte van mense in ’n egskeiding te beskerm, veral die regte van minderjariges – en in alle gevalle, al die partye betrokke in so ‘n geding. En, in sommige gevalle, sal ’n mens met die konsep werk van ’n keuse tussen “the lesser of two evils.”

5. ’n Voorlegging aan ’n portefeulje-komitee oor ’n bepaalde saak sal dus inhoudelik anders lyk as ’n verslag en aanbeveling aan ’n sinode (of kerkvergadering). In die geval van die kerk (byvoorbeeld ‘n sinode) is die Bybel en ons belydenis-tradisie die maatstawwe waarvolgens ons ons aanbevelings maak – en besluite tot standpunte formuleer, met verrekening van gesonde, aanvaarbare hermeneutiese (vertolkings-) prosesse. Met ’n voorlegging aan die parlement is ons basis-dokument die Grondwet – en moet ons die staat help om dit konsekwent te interpreteer tot die beskerming van die regte van alles mense.

6. Natuurlik het die kerk ook ’n roeping om ’n getuienis te lewer oor dit wat vir ons duidelik as waarheid geld – oor wat ons glo die wil van God is. Die geleentheid vir so ’n getuienis is dan ook moontlik wanneer ’n bepaalde voorlegging gemaak word.

7. Dit behoort as vanselfsprekend aanvaar te word dat die Grondwet nie vir ons gelykstaande aan die Bybel is nie, of selfs daarbo verhewe is nie. Vir ons as Christene het die Woord van God die hoogste gesag. Ons sou dus die inhoud van die Grondwet kon uitdaag in terme van ons oortuigings indien ons meen dat die inhoud daarvan op ’n bepaalde punt ons regte bedreig (sien punt 1 hierbo). Daarvoor is daar (egter) ’n neergelegde, konstitusionele prosedure wat gevolg behoort te word. Dit is daarom tog jammer dat sommige Christelike groepe, partye en kerke vir hulleself die morele hoëgrond opeis deur hulleself daarop te beroem om “die Bybelse standpunt” voor te staan (en dit hoër te ag as ’n sekulêre Grondwet). Weereens: hierdie is nie ’n sinodeverslag nie.

8. In die opstel van ’n voorlegging moet voortdurend kritiese vrae aan ons argument wat gevoer word geantisipeer word. Met ander woorde, mens leer later watter soort vrae deur portefeuljekomitees gevra word – en selfs ook van watter voorsitters ’n mens bepaalde vrae kan verwag. So word daar dus somtyds vir oningewydes in ’n paragraaf ’n saak beredeneer wat op die oog af lyk asof dit onnodig is – en oënskynlik nie in terme van die kerk se standpunt noodsaaklik is nie. Hierdie is egter ’n baie belangrike aspek van ’n voorlegging om dit so doeltreffend as moontlik te maak.

Die Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse moes dus (soos alle ander wetgewing) in die lig hiervan, asook in die breëre konteks van die bestaande Huwelikswet (wat tans nie voldoen aan die beginsels van die Grondwet nie – sien die voorlegging) beoordeel word. Hoe het ons in hierdie opsig te werk gegaan?

Eerstens, deur ons instemming met die basiese beginsels van die Grondwet duidelik uit te spel. Dit is belangrik sodat ons in die konteks van die staatsstrukture daarop kan aanspraak maak dat ons ernstig opgeneem sal word.

Tweedens, deur die historiese verloop van die saak waaroor dit gaan in perspektief te stel soos wat ons dit verstaan – en om daarmee die saak binne konteks te plaas.

Derdens, stel ons kortliks en bondig ons eie standpunt oor die saak: Ons verstaan die huwelik as ’n verbintenis tussen een man en een vrou. Daarmee saam die belangrikheid van die gesin en die beskerming van ’n gesonde waardestelsel.

Vierdens doen ons ’n beroep op die parlement om hierdie reg wat ons het in terme van godsdiensvryheid en vrye assosiasie nie deur toekomstige wetgewing in gevaar te stel nie.

Vyfdens, beoordeel ons die wetsontwerp ter sprake in terme van die Grondwet en kom tot ’n bepaalde gevolgtrekking – in hierdie geval dat dit gemeet aan die Grondwet self, nie voldoen aan die vereistes daarvan (asook die uitspraak van die Konstitusionele Hof) nie.

Laastens, probeer ons om met konstruktiewe, haalbare voorstelle die parlement te oortuig om die saak op ’n bepaalde manier aan te pak – in hierdie geval die totale hersiening van die huidige huwelikswet, op so ’n wyse, dat een enkele wet die regte van alle mense te midde van ’n verskeidenheid van beskouinge en gebruike gelykwaardig sal hanteer.

In terme van ander Christelike voorleggings wat gemaak word, en spesifiek met verwysing na die Marriage Alliance (MA) se spesifieke strategie in hierdie verband, moet die volgende in ag geneem word:

1. Die MA sien die toekomstige wetgewing, wat homoseksuele verbintenisse op dieselfde vlak in terme van regte en status met die heteroseksuele huwelik stel, as ’n bedreiging vir die Christelike huwelik. Ons meen dat hierdie vrees ongegrond is, aangesien niks verander rondom die bepalinge van die Christelike huwelik nie. Buitendien is die kerk die beskermer van die huwelik: hoe ons die huwelik wil verstaan en beskerm is ons verantwoordelikheid. As daar ’n bedreiging ten opsigte van die Christelike huwelik is, moet die kerk(e) hulleself aanspreek om beter te doen. Homoseksuele verbintenisse word in elk geval uitgeleef, of die kerk dit sou erken of nie.

2. In gesprekke met die MA het dit uiteindelik duidelik geblyk dat hulle ’n verandering aan die Grondwet voorstel. Volgens hulle wil hulle hê dat die heterosekuele huwelik in die Grondwet ingeskryf word. Hieroor die volgende opmerkings:

o Dit sou onmoontlik wees vir die parlement om bestaande Grondwetlike regte van enigiemand weg te neem. Met die uitspraak van die Konstitusionele Hof – en die opdrag om die wetgewing so te verander dat aan homoseksuele persone dieselfde regte en status ten opsigte van hulle verbintenisse gegee word as aan die heteroseksuele huwelik – is daarmee alreeds aan homoseksuele mense dieselfde regte toegeken. Dit sou dus tot ongrondwetlike optrede lei indien dit nou weggeneem word. Daar is dus nie ’n kans dat dit sal gebeur nie – ons regsadviseurs is daaroor eenstemmig.

o Vir sommige lede in die MA is die inskrywing in die Grondwet waarna hulle verlang, een waarin die huwelik as ’n heteroseksuele verbintenis gedefinieer moet word. Dit beteken vir sommige van die partye in die MA nie noodwendig ’n monogame verbintenis nie. Volgens hulle is daar baie Christelike huwelike waarin daar een man met meer as een vrou is. Vir baie van hulle is dit aanvaarbaar. Nou moet mens vir jouself die vraag afvra of ons as kerk ons hiermee kan vereenselwig? Dit is ook om hierdie rede dat die Moslems saam met die MA aan optogte deelgeneem het. Hulle ondersteun ook die poligame huwelik.

o Indien dit dus vir die MA gaan oor ’n Grondwet-wysiging, dan behoort hulle die relevante, vasgelegde prosedure daarvoor te volg. Dit sal nie help om nou alreeds optogte te hou ten gunste daarvan as hulle nog nie die konstitusionele weg gevolg het nie. In ’n baie definitiewe sin van die woord is hulle optrede (let wel, nie noodwendig hulle standpunte nie) dus irrelevant.

Ten slotte: ’n Mens het werklik begrip daarvoor dat daar by baie van ons ‘n groot behoefte bestaan dat (ons) bepaalde waardes en morele vertrekpunte in wetgewing neerslag sal vind – selfs in die Grondwet. Die vraag is dan egter net: wie se waardes? Is dit in hierdie betrokke geval die waardes van diegene wat die huwelik sien as ’n monogame, heteroseksuele verbintenis (slegs een man en een vrou met die uitsluiting van enige ander). Dit is tans die definisie van die huwelik in die huidige Huwelikswet. Of, sal ons genoeë neem daarmee as dit die waardes weërspieël van diegene wat die huwelik wil sien as ’n heteroseksuele verbintenis, waarin daar ook die moontlikheid is van poligame verbintenisse (een man met meer as een vrou). Laasgenoemde is tans die posisie van die wet op tradisionele gebruike – wat dus ook wyd ondersteun word deur baie Christene (aldus lede van die MA self). Hierin is daar wel gedeelde waardes met die Moslems en ander tradisionele Afrika-godsdienste.

Die blyk dus die wyse keuse te wees om toe te sien dat wetgewing wel aan sodanige vereistes sal voldoen, sodat daarmee aan ons die ruimte verleen word (dit ons regte beskerm) om ons eie waardes en morele standaarde te kan leer en uit te leef. Die gesprek oor die saak is uiteraard hiermee nie afgesluit nie. Ons moet voortgaan om oor hierdie en ander sake met mekaar so duidelik as moontlik te kommunikeer sodat alle misverstande uit die weg geruim sal word.

Dis belangrik om daarvan kennis te neem dat hierdie voorlegging aan alle kerke van Gereformeerde tradisie (namens wie die parlementêre lessenaar van die NG Kerk die wetskrywende prosesse moniteer en daarop reageer) gestuur is vir beoordeling en kommentaar – ook aan die moderatuurslede van die Algemene Sinode. Ons onderneming met mekaar is van sodanige aard dat die onderskeie kerke hulle eie voorleggings sou kon maak indien hulle verskil van die voorlegging van die lessenaar van die NG Kerk. Die enkele kommentaar wat ons voor die sperdatum ontvang het is verwerk in die finale weergawe soos wat dit amptelik verskyn.

Ons vra dus dat ons voorlegging aan die portefeulje-komitee beoordeel sal word in die lig van bostaande.

Vriendelike groete

Ben du Toit en Kobus Gerber.

NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK

DUTCH REFORMED CHURCH
Posbus/PO Box 13528
HATFIELD 0028 SA
Tel +27 (0)12 342 0092 Fax +27 (0)12 342 0380
Hierdie e-pos adres is teen spambotte beskerm, jy moet JavaSkrip op jou webblaaier ontsper om dit te kan sien www.ngkerk.org.za

 

3 Oktober 2006
Sy Edele HP Chauke
Voorsitter van Portefeuljekommittee
Binnelandse Sake
Nasionale Vergadering
Posbus 15
Kaapstad
8000

Geagte Mnr Chauke

Voorlegging aan die Portefeulje-Komitee van die Departement van Binnelandse-Sake oor die wysiging van die Huwelikswet (Wet No. 25 van 1961): reaksie op die Konsepwet vir Burgerlike Verbintenisse (Civil Unions Bill)

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk) wil graag hiermee, namens die meeste kerke van Gereformeerde belydenis/tradisie, die volgende skriftelike voorlegging maak – en hiermee dan ook versoek om dit mondelings te doen ten tyde van die sitting van die portefeulje-komitee in Oktober 2006 te Kaapstad (parlement).

INLEIDING:

Die NG Kerk (en kerke van Gereformeerde belydenis) bevestig die beginsel van die gelykwaardigheid en menswaardigheid van alle mense. As Suid-Afrikaners is ons trots op ons land en al sy mense. Ons kerke bied vrye lidmaatskap aan enige persoon ongeag ras of geslag. Ons is trots op ons grondwet wat die respek vir die waardigheid en gelykheid van alle mense as fundamentele waarde beskerm – en ook dat dit so voor die reg sal geld. Vanuit ons diep oortuiging as Christene, sou ons daarom ook die gelykwaardige status van die Christelike huwelik in terme van ons diverse godsdiens en kulturele gemeenskap wou verdedig en toesien dat dit wat ons vir onsself as ’n reg toe-eien, ook aan alle ander burgers van die land gegee word. Ons sou graag in hierdie verband deel wil neem aan die openbare debat oor die hersiening van die Huwelikswet van 1961, as deel van die totale korpus van wetgewing wat sedert 1994 met die aanvaarding van die huidige grondwet in die vooruitsig gestel is. Ons is dan ook amptelik betrokke by die konstruktiewe herskrywing van die hele wetboek, en wil daarom graag ’n bydrae maak tot die beoordeling van die pas-verskene Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse (Civil Unions Bill) na aanleiding van die jongste eis van die Konstitusionele Hof in terme van die Huwelikswet.

DIE MORELE NOODSAAKLIKHEID VAN DIE HERSKRYWING VAN DIE HUWELIKSWET VAN 1961 (Wet 25 van 1961)

Sedert die aanvang van die proses van herskrywing van die wetboek, met die aanvaarding van die grondwet in 1994, onderskryf ons die noodsaaklikheid dat al die wette van ons land sal voldoen aan die fundamentele beginsels soos vervat in ons grondwet en die Handves vir Menseregte (oa art. 9, 10, 14). Derhalwe moes ook die Huwelikswet van 1961 in aanmerking kom vir herskrywing in die lig van ons nuwe demokratiese bedeling. Ons erken die feit dat die bestaande Huwelikswet (25/1961) sy oorsprong in die Europese, Christelike konteks het (as deel van ons Romeins-Hollandse reg erfenis), en gedurende die apartheidstydperk onder meer ook gelees is in samehang met die Wet op Bevolkingsregistrasie (1950), die Ontugwet (1957) en die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike (1949) – almal wette wat intussen van ons wetboek verdwyn het.

As gevolg van die oorsprong en doel van hierdie wet was daar geen erkenning gegee aan die huwelike van ander godsdienste (soos die Moslems, Jode, Hindu’s, Budiste, asook die tradisionele Afrika-godsdienste) nie. Trouens, net so onlangs as 2003 verklaar die hof in die saak Daniels v Campbell NO and Others “[M]arriages by Muslim rites have . . . not been recognised by South African courts as valid . . . marriages, firstly, because such marriages are potentially polygamous and hence contrary to public policy (whether or not the actual union is in fact monogamous) and secondly, because such marriages are not solemnised by authorised marriage officers in accordance with the provisions of the Marriage Act 25 of 1961”

In 1998 is die Gewoonte-Huwelikwet (Recognition of Customary Marriages Act 120 of 1998) aanvaar waarin daar vir diegene, wat hulle met die Afrika tradisies vereenselwig die moontlikheid van ’n poligame huweliksisteem aangebied word – met ander woorde, een man kan meer as een vrou hê. Hierdie reëling is in skerp teenspraak met die huidige Huwelikswet waarin ’n huwelik gesien word tussen een man en een vrou, met die uitsluiting van enige ander. Terwyl hierdie wet meestal seksueel neutraal geskryf is (dus hoofsaaklik na “spouses” verwys), is dit tog ’n dringende vraag of die algemene gebruik daarvan (naamlik dat mans meer as en vrou mag hê, maar nie andersom nie), nie gesien moet word as ’n aantasting van die gelykwaardigheidsbeginsel van alle mense nie. Word die gelykheid van geslag hierin nie dalk misken nie? Hierdie spesifieke paternalistiese beginsel (een man met meer as een vrou, maar nie andersom nie) kan ook afgelei word uit die inhoud van Artikels 6; 7 (4)(b); 7 (6) en 8 (4)(b). In der waarheid het ons hier te doen met ’n wetlike en konstitusionele teenstrydigheid, wat ook juis die herskrywing van die huidige Huwelikswet ’n noodsaaklikheid gemaak het.

Daar is alreeds die afgelope drie jaar ’n konstruktiewe proses aan die gang rondom die herskrywing van die Huwelikswet. Toe die Konstitusionele Hof aan die einde van 2005 die opdrag gegee het tot die uitbreiding van die Huwelikswet, om erkenning te gee van die gelykheid van verhoudings van dieselfde geslag met heteroseksuele huwelike, beide in regte en pligte, asook in status, is daarmee nuwe dringendheid aan die saak van herskrywing van die wet gegee. Dit was van die begin af duidelik dat die huidige Huwelikswet nie maar net met enkele woorde geamendeer kan word nie – ofskoon dit dalk die hoofaspek van die saak wat voor die konstitusionele hof gedien het sou bevredig. Die totale herskrywing van die wet in terme van die diverse godsdiens- en kulturele konteks en geskiedenis van Suid-Afrika is egter ’n absolute noodsaaklikheid. Dat die verhouding van mense van dieselfde geslag (homoseksuele oriëntasie) ook deel sal wees hiervan, is ’n logiese gevolge van Art 9 van die Grondwet, wat die fundamentele beginsel van die gelykwaardigheid van alle mense onomwonde stel, ook ongeag seksuele oriëntasie.

CHRISTENE HET VERSKILLENDE SIENINGE OOR DIE HUWELIK EN HOMOSEKSUALITEIT

Ongelukkig is dit so dat Christene verskillende standpunte het oor hoe hulle die huwelik sien, asook oor wat hulle oor homoseksualiteit glo. Vir ons as Gereformeerdes is die erkenning van die huwelik tussen een man en een vrou onverhandelbaar. Ons leef egter ook in ’n tyd waarin daar al meer enkel-ouergesinne voorkom en gesinstrukture nie meer altyd volgens tradisonele vorme bestaan nie. Tog word die huwelik verstaan as die kern-eenheid van die Christelike gesinstruktuur en, alhoewel die huwelik nie alleen primêr gerig is op voortplanting nie, is dit die algemeen Christelik-aanvaarbare manier waarbinne kinders verwek en in die lewe gebring sal word – en in die Christelike gesin gekoester sal word. Enigiets wat dus hierdie kernstruktuur van die Christen-huwelik bedreig, sal deur die Gereformeerde kerke beskou word as ’n ernstige bedreiging van ons geloofsoortuigings.

Enige toekomstige wet wat hierdie fundamentele oortuiging nie beskerm nie, sal nie alleen in botsing wees met die Grondwet van ons land nie (waarin die reg tot vryheid van godsdiens erken word nie), maar sal ook op geen manier vir miljoene Christene binne en buite die Gereformeerde tradisie aanvaarbaar wees nie.

Boonop behoort die staat erkenning te gee aan die belangrike rol wat gesonde huwelike en gesinstrukture in die breër Suid-Afrikaanse gemeenskap speel, veral terwille van vrede, stabiliteit en vooruitgang, asook ten opsigte van die vestiging van gesonde waardes. In die huwelik en gesin word die waardes van liefde, trou, sorgsaamheid en verantwoordelikheid geleer en bevorder – een van die fundamentele hoekstene van ’n gesonde nasie. Dit is die staat se verantwoordelikheid om toe te sien dat wetgewing nie hierdie noodsaaklike funksie van die godsdienstige gemeenskap ten opsigte van ons land se vreedsame toekoms bedreig nie. Ons aanvaar dat wetgewing alleen nie verantwoordelik is vir goeie of slegte huweliksverhoudinge en gesinslewe nie. Hierdie verantwoordelikheid berus primêr by die kerke (en godsdiens) as die beskermers van die Christelike huwelik.

Ons as Christene van Gereformeerde tradisie het ook nie almal presies dieselfde beskouing oor homoseksualiteit nie. Soos in die meeste kerke is daar diep verskille oor die saak of mense van dieselfde geslag in ’n verhouding van liefde en trou legitiem verbind mag word. Ten spyte hiervan aanvaar ‘n oorweldigende meerderheid van kerke vandag dat seksuele oriëntasie (in onderskeiding van seksuele gedrag) ’n komponent van ’n mens se seksuele identiteit is waaroor mense weinig doelbewuste keuses kan uitoefen. Ook die Gereformeerde kerke sal ernstige beswaar hê teen diskriminasie teen homoseksuele persone op grond van hulle seksualiteit as sodanig. Vir baie Christene in die kerk is weerhouding van seksuele aktiwiteite deur homoseksueles ’n voorwaarde vir aanvaarding, aangesien die uitleef van homoseksualiteit as sonde gesien word. Vir ander is sulke voorwaardelike aanvaarding van gays ’n ernstige probleem in die lig daarvan dat hulle seksualiteit verstaan word as ’n gawe van God wat die potensiaal het om enige verhouding te verryk, as deel van die mees basiese behoefte van alle mense aan sorg en intimiteit.

Dat hierdie verskille berus op verskillende interpretasies van die Bybel as Woord van God, is egter nie relevant vir die doeleindes van die herskrywing van die huwelikswet nie, maar word slegs hier genoem om daarmee aan te dui dat ons hier met ‘n baie sterk en diep emosionele saak te doen het, wat op hierdie oomblik in die geskiedenis van die kerk wêreldwyd groot uitdagings stel aan die leierskap van die Christelike geloof. Vir hierdie emosie oor die saak behoort daar by almal van ons begrip te wees. Vir sommige sal dit uitermate problematies wees om te dink aan ‘n “huwelik” in terme van mense van dieselfde geslag. Vir ander sal niks minder nie as juis dit, ’n aanduiding wees van die aanvaarding van die gelykwaardigheid van alle mense voor die reg.

Ook homoseksuele persone is oor hierdie saak (dat hulle verbintenis ‘n “huwelik” genoem behoort te word) nie altyd eenstemmig nie. As gevolg van die bevraagtekenbare reputasie van die heteroseksuele huwelik om ’n bydrae tot ’n stabiele gemeenskap te maak (nie slegs net meetbaar aan die uitermate hoë egskeidingsyfer in ons land nie, dink maar net verder aan al die aangemelde gesinsgeweld), verkies sommige mense (beide homoseksuele en heteroseksuele) om hulle verbintenis nie as huwelik te sien nie, terwyl daar tog by gays ’n verstaanbare aandrang is op gelyke status met die bestaande huwelike wat al die regs-voordele insluit. ’n Wet wat die wetlike reëling tussen mense van dieselfde geslag insluit, behoort dus omvattend en breed genoeg te wees om hierdie verskillende standpunte te kan akkommodeer.

STAAT EN GODSDIENS HET ONDERSKEIE VERANTWOORDELIKHEDE

In ‘n sekulêre regstaat, soos wat dit in Suid-Afrika onder die nuwe Grondwet die geval is, word die terreine van staat en godsdiens (in die algemeen) en die kerk (spesifiek) van mekaar geskei. Aanvanklik is hierdie verhouding tussen kerk en staat gesien as ’n neutrale een, maar gaandeweg, in die afgelope dekade, het daar ’n belangrike filosofiese skuif gekom in hierdie verhouding. Dit was nêrens meer duidelik as in die gesprekke rondom godsdiens en onderwys nie. Tans, egter, word aanvaar dat die verhouding van die staat tot die kerk ’n onpartydige een is. Daarmee erken die staat die belangrike rol van godsdiens in die samelewing van die land (sien art 15.2 van die grondwet), maar word daar nie vir ’n bepaalde godsdiens of denominasie kant gekies nie (dus onpartydig). In hierdie sin behoort daar wedersydse respek te wees vir mekaar se rolle en verantwoordelikhede, sonder om voorskriftelik te wees, behalwe in terme van die aanvaarde Grondwet van 1994. Dit is die staat se verantwoordelikheid om wette te maak, dit toe te pas en te sorg dat daar behoorlike regspleging plaasvind. Dit behoort so gedoen te word dat dit, byvoorbeeld, ’n veilige ruimte skep vir godsdiensbeoefening in terme van die oortuigings van die spesifieke groep, in soverre as wat dit nie in teenspraak met die grondwet van die land is nie. Daar is met die Codesa-onderhandelinge spesifiek gekies vir ’n sekulêre grondwet in onderskeid van die vorige bedeling waarin die Christelike geloof ‘n dominante rol gespeel het, selfs in die formulering van die wette van die land. Hier dink mens juis aan die aantal wette wat huwelike gereguleer het (soos hierbo genoem), asook byvoorbeeld die Wet op die Verbod van Handeldryf op Sondae (Sabbatswette) en wette wat die verbod op georganiseerde sport op Sondae gereguleer het. Ook baie van die ander 150 apartheidswette wat bestaan het – waarin onder andere die beginsels van Christelike Nasionalisme toegepas is, kan hier genoem word. Die gevolge hiervan was die ingrypende aantasting van gelyke regte van alle mense.

Aan die anderkant het die kerk die reg om in terme van die beginsel van godsdiensvryheid (Art 15), en in ooreenstemming met die teologiese en kerklike standpunte van die betrokke kerk en geloofstradisie, sigself te organiseer en te struktureer – terwyl individue hulleself in terme van die beginsel van vrye assosiasie (Art 18) gewilliglik verbind tot sodanige reëlings. In hierdie opsig dien die Bybel vir die Gereformeerde kerke as riglyn vir die inrigting van kerklike aktiwiteite. Hiervoor moet wetgewing oor alle sake verwant aan die bedryf, leerstellings en bestuur van die kerk ruimte en beskerming bied. Dit is daarom die kerk se verantwoordelikheid om steeds op ’n deurlopende basis die wil van God te soek ten opsigte van etiese en morele sake soos die voltrekking van huwelike, asook die hantering van egskeiding van lidmate, ofskoon die kerk in beginsel nie ten gunste is van egskeiding nie. Eweneens is dit die kerk se verantwoordelikheid om steeds die vraagstukke rondom die dieselfdegeslag-verhoudinge in terme van die legitimering daarvan, al dan nie, te bly ondersoek in die lig van die Skrif – maar dan in elk geval, soos met egskeiding, saam met ander rolspelers te besin oor die wettiging daarvan.

Die feit, egter, dat daar min kerke wêreldwyd is wat op hierdie stadium bereid is om ’n huwelik (of legitieme verhouding) tussen mense van dieselfde geslag te bevestig, behoort nie vanselfsprekend te dien as rede vir die staat om nie wetgewing hieroor in die lig van die grondwet te formuleer en deur die parlement te laat aanvaar nie. Die Gereformeerde kerke in ons land erken hierdie reg van die staat. Dit is nie die staat se verantwoordelikheid om die Bybel (of die Koran) te interpreteer nie, maar dis die staat se verantwoordelikheid om die Konstitusie (Grondwet) te interpreteer en toe te pas met die oog op wetgewing. Die staat het die plig om wetgewing te toets aan die grondwetlike beginsels – en om die regte van alle mense op gelyke basis te stel. Terselfder tyd moet die staat godsdiensvryheid verdedig deur aan die kerke die versekering te gee dat hulle beheer mag behou oor hulle onderskeie godsdienstige rites, waarby die godsdienstige aspek van die huwelik ingesluit word.

DIE BEOORDELING VAN DIE WETSONTWERP OP BURGERLIKE VERBINTENISSE IN DIE LIG VAN VOORAFGAANDE

Ons het begrip vir die feit dat die uitspraak van die Konstitusionele Hof aan die betrokke staatsdepartemente heeltemal onvoldoende tyd gegee het om die saak behoorlik uit te pluis en aan al die rolspelers in die Suid-Afrikaanse gemeenskap genoegsame tyd te gee om daaraan mee te werk.

Ons het begrip en waardering vir die feit dat die Departement van Binnelandse Sake met die daarstelling van die Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse reg wou laat geskied aan die eis van die Konstitusionele Hof om regte toe te ken aan permanente verhoudings van dieselfde geslag, gelykwaardig aan die van heteroseksuele huwelike.

Ons meen egter dat die daarstelling van ’n afsonderlike wet vir die regulering van burgerlike verbintenisse en huishoudelike vennootskappe (domestic partnerships) juis nie hierdie verbintenisse op dieselfde gelykwaardige basis stel as huwelike onder die huidige Huwelikswet nie. Hier is die waarskuwing van regter Sachs betekenisvol, naamlik “that separate but equal is not an option.”

Hierdie situasie is nog meer onhoudbaar in terme van die gelyke regte van alle mense, in die lig van die feit dat die wetsontwerp nêrens die herroeping van die huidige Huwelikswet aantoon nie (wat onvoldoende is in terme van die regte van ander nie-Christelike geloofsgemeenskappe) – of selfs die bestaan van nog ’n aparte Gewoonte-Huwelikwet vir diegene van die Afrika-kulture (Recognition of Customary Marriages Act 120 of 1998) nie in aanmerking neem nie.

Die verwysing na ongeregistreede huishoudelike vennootskappe (Unregistered domestic partnerships) in deel IV van die wetsontwerp is egter ’n wins vir die erkenning van die regte van minderhede en moontlike benadeeldes, wat kan voortspruit uit die ontstaan van langdurige informele verhoudings en verdien verdere aandag in terme van toekomstige wetgewing.

DIE PAD VORENTOE

Ons is van mening dat daar net een wet vir almal behoort te wees. Alleen so sal daar reg kan geskied aan die gelykwaardigheid van alle mense. Aangesien daar nie voldoende tyd is om aan die bevel van die Konstitusionele Hof gehoor te gee nie, wil ons aanbeveel dat die suggestie van die Konstitusionele Hof aanvaar word en die huidige Huwelikswet deur enkele begripswysiginge uitgebrei word om ook aan dieselfdegeslag-verhoudinge dieselfde status en regte toe te ken. Dit moet egter as ’n interim maatreël gesien word – wat dus duidelik tydelik van aard is. Volgens die uitspraak van die hof sal dit in elk geval by verstek gebeur (default), indien daar nie voor die bepaalde datum alternatiewe, aanvaarbare voorstelle kom nie.

Ons wil dan voorstel dat die Departement van Binnelandse Sake (of toepaslike staatstruktuur) kennis sal gee van die behoorlike herskrywing van die bestaande Huwelikswet – met in agneming van (ten minste) al die punte wat hierbo genoem is. Ons is dus ten gunste van een oorkoepelende wet, wat moontlik die benaming van Burgerlike Verbintenisse (Civil Unions Act) kan dra, maar waarin daar dan aan al die moontlike kategorieë van huwelike (en verbintenisse) dieselfde waarde toegeken sal word. Daarin sal nie alleen die Christelike huwelik erken word nie, maar ook ander soortgelyke verbintenisse van ander godsdienste en kulture, soos die Jode, Moslem, Hindu’s, Budiste, Afrika-godsdienste, asook dieselfdegeslag-verhoudinge.

Die verantwoordelikheid van godsdienste om huwelike en verbintenisse te wettig in ooreenstemming met hulle onderskeie oortuigings, bly dan ook (soos tans) die prerogatief van die betrokke godsdienstige instansie.

Die geskiedenis van ons land illustreer maar te pynlik die onhoudbaarheid en onreg daarvan om veelvoudige wettige en administratiewe meganismes te skep, ten einde dieselfde doelstelling te bereik, maar vir verskillende kategorieë van mense. Aparte wetgewing vir spesifieke mense (ras, kultuur, geslag) kan nooit voldoen aan die eis van gelykheid nie. Ons kom uit ’n geskiedenis van diskriminasie op grond van menslike verskille waarvoor daar nie ’n keuse is nie. Ons kan nie weer so ’n situasie bekostig waar mense se menswaardigheid deur wetgewing op ongelyke basis gestel word nie.

TEN SLOTTE

In die lig van die totale beredenering hierbo, moedig ons die Nasionale Parlement aan om spoedig op te tree om die huidige huwelikswetgewing met Art 9 van die grondwet te versoen deur die daarstelling van ‘n nuwe wet wat die gelykwaardigheid van alle mense sal erken. Ons vertrou dat die parlement sodoende homself daarvan sal weerhou om enige maatreëls daar te stel wat geloofsgemeenskappe sal verhinder om die seën van gesonde huweliks- en gesinsstrukture te beleef in ooreenstemming met die oortuiging van daardie geloofsgemeenskap.

Dankie vir die voorreg om hierdie voorlegging aan u te maak. Vriendelike groete

Die uwe

JJ Gerber (Dr) BJ du Toit (Dr)

Algemene Sekretaris Parlementêre Lessenaar
Algemene Sinode Algemene Sinode Nederduitse Gereformeerde Kerk
Nederduitse Gereformeerde Kerk

*************

Kommentaar

Kerk mag regte beperk

26 Oktober 2014

In die “Begeleidende brief met voorlegging oor huwelikswet” maak drr. Ben du Toit en Kobus Gerber namens die NG Kerk die volgende stelling.

“ ’n Voorlegging aan ’n portefeuljekomitee oor ’n bepaalde saak sal dus inhoudelik anders lyk as ’n verslag en aanbeveling aan ’n sinode (of kerkvergadering). In die geval van die kerk (byvoorbeeld ’n sinode) is die Bybel en ons belydenistradisie die maatstawwe waarvolgens ons ons aanbevelings maak X en besluite tot standpunte formuleer met verrekening van gesonde, aanvaarbare hermeneutiese (vertolkings-)prosesse. Met ’n voorlegging aan die parlement is ons basis-dokument die Grondwet X en moet ons die staat help om dit konsekwent te interpreteer tot beskerming van die regte van alle mense.”
Dit wek die indruk dat ’n voorlegging van die kerk, opgestel deur persone in die kerk, twee verskillende bronne of basisdokumente kan hê.
Die vraag is of die kerk ooit ’n ander basis-dokument vir sy lewe kan hê as die Bybel (en sy belydenistradisie). Dit kan tog nooit wees dat die maatstaf vir die kerk se gesprek met die owerheid, of vir ’n voorlegging van die kerk aan ’n portefeuljekomitee van die parlement, net die Grondwet is nie. Hoe belangrik die Grondwet en die kerk se eerbiediging daarvan ook al is. Dit word nie onderskat of in twyfel getrek nie.
As Suid-Afrika ’n diktatuur was sonder enige godsdiensvryheid, of ’n staat met die absolute skeiding van kerk en staat, sou ’n mens miskien nog kon redeneer dat die enigste maatstaf vir ’n gesprek tussen kerk en staat die grondwet van die land is. Maar Suid-Afrika is ’n land waar die Grondwet godsdiensvryheid waarborg en die owerheid verplig om dit te bevorder.
Dit beteken dat kerke in ’n gesprek met die owerheid die vryheid het om met vrymoedigheid hul Bybelse getuienis en hul standpunt as kerk te laat hoor. Dit beteken dat kerke, gegewe hul geloofsidentiteit, die vryheid het om regte van lidmate in bepaalde omstandighede te beperk. Daarom kan daar nie ongekwalifiseerd gesê word dat die kerk die regte van alle mense moet bevorder nie.
Die algemene sinode van die NG Kerk het nog nie ’n besluit oor die burgerlike verbintenis tussen persone van dieselfde geslag geneem nie. Miskien was hierdie voorlegging, wat namens die NG Kerk vra dat dieselfde waarde “aan al die moontlike kategorieë van huwelike (en verbintenisse) toegeken sal word”, voortydig of net die mening van die ondertekenaars.

P. Coertzen, Stellenbosch