Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Hou op ‘opstaan’ vir God – en lééf PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Sondag, 27 November 2016 21:00

Kyk ook:

In die volgende artikel kritiseer Stephan die manier hoe leerstellige kwessies in groot denominasies hanteer word. Hy gee egter geen sinvolle voorstelle nie. Hy voel eerder dat daar goed gedoen moet word in die Here se naam.

Die enigste afleiding wat sin maak, is dat die homoseksuele kwessie nie vir Stephan so belangrik is nie.

Wat dink hy sou Jesus of Paulus gesê het as hulle hier was? Ek weet nie van Stephan nie, maar ek moet my laat lei deur die Bybel:

As Stephan regtig iets sinvols wou sê, kon hy dalk sy opinie oor die homoseksuele kwessie gelig het. Daar is baie mense wat na hom opkyk en dit kon miskien in hierdie kwessie waarde toegevoeg het.

Die volgende vraag is een keer aan RC Sproul gevra:

Why should we engage in debate since it seems to cause division in the church? What message does that send to those outside the church?

Sproul se antwoord was briljant:

God forbid that we should ever debate the truth of the gospel, that we should ever follow in the footsteps of the apostle Paul, who debated the matter every day in the marketplace and who wrote all these epistles to correct error and distortions of the truth of God. Weren’t those letters the apostle wrote to the Ephesians, to the Galatians, and the Colossians divisive? Nothing divides like truth. Nothing divides like Jesus. But we have this idea that the only real sin that you can have is dividing a church.

Well, there are churches that need to be divided, and they need to be divided—not over minor matters, not over pecadilos—but over substantive issues of the truth of God. And our Lord, when He was asked by Pontius Pilate, ‘what are you about?’ He said, ‘I came to bear witness to the truth. And those who are of the truth, hear My voice.’ And then the next thing Jesus said, ‘but I sure don’t want to divide anybody over the truth.’ Thank you for laughing, but it’s really not funny. But that’s what they said. The worst thing you can say is that truth is important. When you do that, what happens then is that truth gets slain in the streets and anything goes.

(Uit The Truth Divides (kyk ook hier).)

Hier volg die artikel met enkele kommentare in [rooibruin blokhakies].

**********

Hou op ‘opstaan’ vir God – en lééf

Rapport, 27 November 2016

Stephan Joubert

2016 sal onthou word as die jaar van plaaslike kerklike warboel. Of so iets.

Die algemene sinode van die NG Kerk het pas 2015 se sinodebesluit ongedaan gemaak. [Kyk 2016 NGK homoseksuele besluit.] Vroegjaar het die Gereformeerde Kerk besluit dat vroue nie ouderlinge of leraars mag wees nie. ’n Paar maande gelede het die Hervormde Kerk gesê diegene wat hulleself vroeër vasgeloop het in daardie kerklike “reg van toegang voorbehou”-bordjies is nou welkom. [En die Hervormde Kerk het ook ruimte gemaak vir homoseksualiteit, soos die NGK in 2015 gedoen het – kyk 2016 Hervormde Kerk homoseksuele besluit.]

Terwyl kerklike binnegevegte oral woed oor bogenoemde sake, lyk dit asof die koeëlvaste bedryfsisteme van hoofstroomkerke besig is om dramaties ondoeltreffend te raak. Ongestoord volhard die meeste kerke eeue lank reeds met dieselfde soort demokraties aangedrewe samekomste, voorskriftelike prosedures en gestandaardiseerde hantering van probleme.

Lank in die tand, of wat!

Hoe die wêreld ook al verander, kerklike hekgeld bly grootliks dieselfde. Steeds is dit die basiese aanname dat wanneer leerstellige kwessies op kerklike tafels beland, moet dit formeel deur kundiges ondersoek word. Die skuif is altyd weg vanaf persoonlike verhoudings en plaaslike gemeentes na papieraangedrewe ondersoeke.

By gesentraliseerde kerklike vergaderings word sulke leerstellige probleme gewoonlik deur afgevaardigdes gedebatteer. Uiteindelik, nadat die groot olifante klaar gestry het en die sagte kerklike gras dikwels seergekry het, word “dié kerk” se standpunte by wyse van demokratiese stemmings bepaal. Hierna moet gemeentes genoemde standpunte plaaslik eerbiedig.

’n Neweproduk van die kerk se sementagtige bedryfsisteme is dat die Bybel al hoe meer die eksklusiewe gestalte van ’n “amptelike Leerstukboek” begin aanneem. (Of is dit die “Groot Kerk­like Verseboek?”)

Dit verskraal die Bybel tot ’n vreemde, geslote boek wat net “amptelik” ontsluit kan word deur kerklik-betiteldes. So word die verhalende kontekste waarbinne God in sy eie Boek aan die woord kom en geloof oproep, onderspeel.

God se wil verskraal toenemend binne huidige kerklike kringe tot raaisels wat formeel ontrafel moet word. Bykans enigiets waaroor daar ’n verskil van mening is, word in die kerk as “vraagstukke” gekonseptualiseer en dienooreenkomstig hanteer.

Die ironie is egter dat die bedryfstyl van raaisel-ontrafeling die kerk op vele plekke tot ’n onpersoonlike instelling laat vervaag, al word steeds gepraat van ’n familie wat veronderstel is om op intieme onderlinge verhoudings geskoei te wees.

[’n Mens kan beswaarlik van ’n familie praat as daar sulke uiteenlopende sieninge oor belangrike kwessies in die Bybel is.]

“Broer en suster”-etikette wemel steeds in die kerk, maar die feit dat kerklikes mekaar gedurig ook nog “u” noem, weerspreek dit ietwat. Wys my ’n gesonde familie wat soos die meeste kerke vergader, besluite neem, of probleme oplos . . . !

[Enige voorstelle om dit anders te doen as die familie so groot is?]

Daardie gevleuelde woorde wat met Martin Luther verbind word: “Hier staan ek, ek kan nie anders nie”, het kerklikes se verbeelding aangegryp op maniere wat die Hervorming nooit voorsien het nie. Sedertdien moet alle kerklikes blykbaar ’n standpunt hê, nie ’n leefpunt of ’n looppunt nie. Daar moet gedurig opgestaan word vir die waarheid!

[Dit is absoluut so dat ’n mens gedurig moet opstaan vir die waarheid (net soos Martin Luther), want dit word so gedurig bevraagteken en aangeval.]

Ons het vergeet 1 Petrus 2:15 roep ons eintlik op om goed te doen in die Here se naam, nie om bloot net op te staan nie! Ons het vergeet Jesus is die eintlike punt, die leefpunt, vir die kerk. Hy het nie gesê: “Volg my leerstellings” nie. Hy het gesê: “Volg My.” Ja, Jesus het ook leerstellings. Vir seker vra Hy gehoorsaamheid hieraan, maar dit gebeur altyd binne verhoudings op voetsoolvlak. Op verhoudingsvlak skaaf ons aan mekaar en praat ons dinge mond tot mond uit.

[Dit is absoluut so dat daar hopeloos te veel tyd aan hierdie leerstellings spandeer word, maar wat is die alternatief? Ons kan nie ooreenkom om te verskil (“agree to disagree”) nie. Nie op sulke kern leerstellige kwessies nie.]

Op grondvlak kry die Bybel regtig lyf wanneer dit uitgeleef en prakties op ons voetspore en vingerafdrukke afgee. God se waarheid is altyd relasioneel, dit is nie klinies verpak, soos in vele kerklik-afgetekende verklarings of formules nie.

Nooit maak die Nuwe Testament die Gees-leiding eksklusief aan kerklike vergaderings vas nie. Laasgenoemde is ook belangrik, maar dit is beslis nie die enigste, of finale venster op sy leiding nie. Hiervoor het ons ander lense broodnodig, daardie soort lense wat fyner fokus op plaaslike gemeentes, asook groter lense wat fokus op die ­wêreld-omarmende koninkryk van God.

Plaaslike geloofsgemeenskappe hou juis hier die sleutel. Hulle het die volmag om die Skrifte te lees en om verbeeldingryk binne God se groot koninkryk te leef.

[Impliseer Stephan dat NG gemeentes self oor selfs kernkwessies moet besluit? Selfs homoseksualiteit? Wat sou hy sê is die doel van die sinode dan? ’n Groot denominasie het ’n sinode nodig. As jy nie ’n sinode wil hê nie, dan kan ’n groot denominasie nie funksioneer nie.]

Kerk is heel eerste plaaslik sigbaar en voelbaar. Hier word die kerk se ware omgeekleure gewys; hier leef geloof . . . of nie!

Die enigste “wenners” in die manier hoe baie kerke tans probleme hanteer en dogmas beredeneer is die media. So lank as wat sulke prosesse in stand gehou word, sal dieselfde soort konflik en groepvorming die kerk se voorland wees.

[Weereens, wat is sy voorstel? Die homoseksuele kwessie is te belangrik om ooreen te kom om te verskil.]

O ja, so ook krimpende kerke en ’n toenemende verlies aan openbare geloofwaardigheid.

[Dit is die resultaat van die feit dat dwaalleer nie lankal reeds vroeg in die kiem gesmoor is nie. Die leiers van die NG Kerk die afgelope 15 jaar sal hand in eie boesem moet steek. Dwaalleer is vir te lank getolereer en nou sit ons met hierdie gemors. Toe die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk in einde 2010 gepubliseer is, het min mense daarop ag geslaan. Selfs mense wat nou baie sterk veg teen die homokwessie, het toe gevoel dat die skrywers die duiwel agter elke bos uitskop. Nou wag daar skeuring op die NG Kerk.]

Prof. Stephan Joubert is buitengewone professor in eietydse ekklesiologie aan die Universiteit van die Vrystaat.