Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wat sê die Bybel...regtig? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Dinsdag, 27 Maart 2007 21:00

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Beeld verskyn (skakel1 en skakel2).

****************

Wat sê die Bybel...regtig?

27 Mar 2007 10:23:20:860PM

Die NG Kerk se gay-debat verskerp namate die algemene sinode se sitting naderkom. Die debat sal grootliks gaan oor hoe die Bybel gelees word, skryf Johannes de Villiers.

Daar is ’n (waarskynlik apokriewe) storie oor ’n kerk in Nederland wat, soos die res van die kerkwêreld, oor homoseksualiteit gedebatteer het.

Dié mense wou nie onverdraagsaam lyk nie – dit is immers Nederland – maar het hulle telkens vasgeloop in die Bybelverse wat lyk asof dit homoseksualiteit veroordeel.

Uiteindelik het hulle toe maar ’n beleid geformuleer wat uit slegs twee sinne bestaan:

1. Die Bybel veroordeel homoseksuele gedrag. 2. Ons stem op dié punt nie met die Bybel saam nie.

Die aannames wat dié staaltjie onderlê, is iets wat ’n mens wyd in kerkkringe vind: dat die Bybel homoseksuele gedrag en verhoudings duidelik veroordeel; en dat die gay-debat gevoer word tussen mense wat bereid is om die Bybel te gehoorsaam en diegene wat net nie wíl luister nie.

Die debat oor wat in die Bybel oor homoseksualiteit staan, het die laaste paar weke weer begin luier in die aanloop tot die algemene sinode van die NG Kerk in Junie, wanneer dié kerk ná jare van uitstel en wroeging ’n beleid oor hierdie kwessie moet aanvaar.

Die moderator, dr. Coenie Burger, het aangedui hy steun persoonlik ’n meer behoudende standpunt, maar na verwagting sal die taakspan oor homoseksualiteit twee voorstelle indien, onderskeidelik behoudend en progressief, en sal die sinodegangers tussen dié twee kies.

Wat behels so ’n keuse? Is dit inderdaad ’n keuse tussen die “Woord van God” en ’n onbybelse humanisme?

Diegene wat meen die Bybel veroordeel homoseksualiteit onomwonde, steun tradisioneel op die ses Bybelverse waarin die kwessie uitdruklik ter sprake is. In die eerste, Genesis 19:5, dring die mans van Sodom daarop aan om Lot se kuiergaste “te ken” – ’n sonde só gruwelik dat Sodom kort daarna vernietig word. In twee verse in Levitikus (18:22 en 20:13) – verse wat opduik tussen allerlei reëls oor wat ’n mens mag eet, wat jy waar mag plant en wie almal gestenig moet word – word homoseksuele gedrag tussen mans ’n doodsonde genoem.

Die Nuwe Testament bevat drie anti-gay-tekste: In 1 Korinthiërs 6:9 en 1 Timoteus 1:10 word “manne-slapers” in ’n sondelys gegroepeer met onder andere afgodedienaars en ontvoerders.

Die verdoemendste teks is Romeine 1:27, waarin Paulus kla oor mans wat “skandelikhede met ander mans” pleeg. Harde woorde. Maar is dit regtig so eenvoudig?

In die jongste uitgawe van die godsdiensvaktydskrif Scriptura is vier akademiese artikels deur Afrikaanse Bybelkenners wat meen die behoudende kamp lees dié ses tekste verkeerd.

Drie van die artikels is gegrond op ’n werkseminaar in 2005 in die teologiefakulteit van die Universiteit van Stellenbosch.

Prof. Johann Cook, ’n Hebreeus-kenner aan dié universiteit, vra dat weer na die vroegste vertalings van die Ou Testament gekyk word – onder meer na die Griekse Septuagint uit die tweede eeu v.C. – om te sien hoe die vroegste lesers dié teks¬te verstaan het. Dit sal illustreer wat die skrywers in hul destydse kontekste daarmee bedoel het.

Waar die mense van Sodom byvoorbeeld Lot se huis omsingel en daarop aandring dat hy sy kuiergaste aan hulle uitlewer sodat hulle hulle kan “ken”, word die woorde “om te ken” (wat seksuele konnotasies het) in die jongste Afrikaanse vertaling aangegee as “om geslagsgemeenskap te hê”.

Sommige ou vertalings het egter nie só gelui nie, wat daarop dui dat vroeë lesers nie eerstens die seksuele deel van die Sodomiete se gedrag wou beklemtoon nie, maar eerder die verbreking van die destydse gasvryheids¬reëls.

Ook prof. Louis Jonker, ’n Oud-Testamentikus, skryf die verhaal van Sodom gaan oor gasvryheid: Een Bybelhoofstuk vroeër is beklemtoon hoe gasvry Abraham sy gaste ontvang; maar wanneer dieselfde gaste in Sodom aankom, wil die mense hulle verkrag (’n wyse waarop mans in Nabye Oosterse kulture soms hul vyande verneder het).

Jonker herinner ook dat in die Ou Testament telkens na Sodom verwys word, maar dat die skrywers dan nooit sê die stad is weens homoseksualiteit verwoes nie. In die oorspronklike Hebreeus, skryf Cook, maan die Levitikus-verse teen mans wat met ander mans “op die bed van ’n vrou slaap”. Levitikus 18:22 lui byvoorbeeld letterlik: “Maar met ’n manlike persoon mag jy nie slaap op die bed van ’n vrou nie.”

Dié stelling impliseer ’n afkeer in mans wat by ander mans slaap, maar uit die konteks waarin dit gebruik word (’n stel reëls wat met godsdienstige gebruike en reinheid te make het), lyk dit asof dit bedoel mans wat met ander mans slaap as deel van afgodsaanbidding.

Jonker wys daarop dat die Levitikus-skrywer dikwels na dié mans se gedrag verwys as ’n “afskuwelike ding”.

Dit is dieselfde woorde waarmee afgodery elders beskryf word.

Dié tekste is geskryf toe Israel omring is deur volke wat blykbaar as deel van hul godsdiens soms manlike tempelprostitute aangehou het.

Indien ’n mens aanneem dat die verse deel vorm van die sogenaamde Heiligheidskodeks (Levitikus 17-26), waarin die Levitikus-skrywer vir Israeliete raad gee oor hoe hulle anders as die omliggende heidenvolke kan wees, lyk dié verse meer na ’n veroordeling van afgodery as van homoseksuele gedrag.

Op die kongres waar Cook en Jonker hul idees aanvanklik voorgelê het, is ook die drie “homoseksualiteit”-verse uit die Nuwe Testament bespreek. Dié lesings is nie in artikelvorm gepubliseer nie.

Dr. Francois Wessels, ’n lid van die NG Kerk se taakspan oor homoseksualiteit, het vertel dat hy dié drie verse tog as ’n veroordeling van homoseksuele gedrag lees.

Romeine 1:25-27 lui byvoorbeeld: “(26) Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hul vroue verander die natuurlike omgang in ’n teen-natuurlike omgang. (27) Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulself die verdiende straf vir hul perversiteit.” In vers 27 word gesê dat omgang tussen mans en vroue natuurlik is. Wanneer die skrywer dus “teen-natuurlike” gemeenskap veroordeel, verwys hy duidelik na homoseksuele gedrag.

Wanneer die Bybel na homoseksualiteit verwys, is dit altyd negatief, sonder dat binne die teks daaroor gedebatteer word, meen Wessels.

Prof. Johan Thom, ’n Grieks-kenner van die Universiteit Stellenbosch, het egter vertel die Nuwe Testament kan anders gelees word. Daar is nie algehele duidelikheid oor wat die “skandelikhede” nou juis is wat gepleeg word nie. So kon vroue wat ’n “teen-natuurlike omgang” pleeg, byvoorbeeld beteken het vroue wat nie ’n onderdanige rol aan mans wou vervul nie.

Boonop moet ’n mens versigtig wees vir Paulus se beskrywing van dinge as “teen-natuurlik”. In 1 Kor. 11:14-15 sê Paulus byvoorbeeld: “Die natuur self leer julle dat dit skandelik is vir ’n man om lang hare te dra.”

Wanneer Paulus van “natuurlik” praat, bedoel hy waarskynlik die sosiale konvensies van sy tyd, eerder as iets biologies, soos ’n moderne mens dit sal verstaan.

In die Grieks-Romeinse wêreld was homoseksuele gedrag algemeen, volgens Thom. Selfs heteroseksuele mans het soms by mekaar geslaap, al was hulle met vroue getroud. Seksuele verhoudings tussen mans is gesien as ’n manier waarop mans kon rondslaap as hulle nie vir hul vrou lus was nie.

Paulus sou dié verskynsel geken het; en wanneer hy teen homoseksuele gedrag uitgevaar het, het hy spesifiek bedoel mense wat hul huweliksmaats verneuk of buite ’n vaste verhouding rondslaap. Of hy teen homoseksualiteit sou uitgevaar het indien hy die vaste, monogame (selfs wettige) gay-verhoudings van vandag geken het, is te betwyfel.

Die Bybel bestaan egter nie net uit dié ses verse nie, het Thom opgemerk. Dalk moet ook na ander verse gekyk word as mense besluit hoe hulle teenoor hul gay naaste wil optree. Die liefdesgebod staan byvoorbeeld sentraal in die Nuwe Testament.

Daar is veel meer verse wat aandui dat God alle mense gelyk ag en dat Jesus deernis vir verstotenes gehad het. Die Nuwe Testament beperk nie seksuele verkeer tot die uitsluitlike doel van voortplanting nie.

Talle teoloë (moontlik die meerderheid aan minstens twee van die land se groot teologiefakulteite) meen verse oor liefde en inklusiwiteit kan ons meer oor die rol van gay mense in die kerk vertel as die ses verse waarby mense dikwels vashaak.

As hulle ’n minder konserwatiewe benadering oor homoseksualiteit inslaan, is dit nie omdat hulle opgehou het om die Bybel ernstig te bejeën nie. Inteendeel. Die teoloog prof. Hendrik Bosman, organiseerder van die genoemde Stellenbosse werkseminaar, meen albei kampe is ernstig oor die Bybel.

“Daar is genoeg argumente van weerskante om vir ons aan te dui die debat is tussen mense wat aan albei kante op ’n ewe ernstige manier met die Bybel omgaan, al lei dit hulle dan ook tot verskillende gevolgtrekkings.”

  • Johannes de Villiers is ’n godsdiensskrywer.