Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Josef ontvang ook die wonder PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Dinsdag, 26 Desember 2017 21:00

Kyk ook:

Soos baie ander teoloë is Hermie van Zyl maar vaag oor sy eie siening oor (in hierdie geval) die maagdelike konsepsie. Dit lyk of hy moontlik in die maagdelike konsepsie glo, maar dit is vir hom belangriker om nie sy liberale vriende te verloor nie.

’n Mens lei af dat hy erken dat daar geldige argumente bestaan om te glo dat Maria nie ’n maagd was nie, maar in plaas daarvan dat Hermie hierdie argumente van liberales uitwys as swak argumente probeer hy argumenteer dat ons eerder op die boodskap moet fokus wat die skrywers wou oordra. Die essensie van Hermie se artikel word in die volgende sin gegee aan die einde van die artikel:

“Ons moet ons dus nie blind staar teen die “onmoontlikheid” van die maagdelike ontvangenis van Jesus nie, maar eerder oog kry vir die bedoeling daarvan”

Hermie probeer ruimte laat dat die skrywers van Matteus en Lukas geskryf het nie noodwendig om histories korrek te wees nie, maar om ’n punt oor te dra. Dit is egter nie waar nie. Die skrywers, Matteus en Lukas, wóú geskiedenis oordra; hulle wou aan lesers oordra dat Maria werklik ’n maagd was toe sy swanger was met Jesus. Natuurlik is al die simboliese betekenisse van die maagdelike konsepsie waar, maar indien dit nie ook histories waar was nie, dan het Matteus en Lukas mense probeer mislei.

Vir meer argumente oor Jesus se maagdelike ontvangenis, kyk Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken waar Willie Cilliers van NG Kerk Kuilsrivier Moedergemeente die maagdelike bevrugting/konsepsie van Maria bevraagteken.

Hier verskyn Hermie van Zyl se artikel soos dit in die Volksblad verskyn het met kommentare in [rooibruin blokhakies].

************

Josef ontvang ook die wonder

Prof Hermie van Zyl

Volksblad

19 Desember 2017

Kerstyd met die kriptoneel is bekend: die herders, wyse manne, diere, Maria met die baba Jesus in die krip, en – Josef. Maar hoort Josef daar? Bely Christene nie dat Jesus uit die maagd Maria gebore is nie? [Ek verstaan nie die vraag nie. As die herders, wyse manne en die diere by die krip staan, moet Josef mos vanselfsprekend ook daar wees. Hy was immers Maria se man, ongeag of hy Jesus se biologiese pa was of nie.]

Baie Christene is vandag ietwat verleë met hierdie belydenis. [Dalk sy eie verleentheid?] Ja, sonde, genade, vergiffenis, versoening – dít is sake wat vir ons sin maak.

Maar maagdelike konsepsie? Is dit nodig om hieraan te glo om ’n Christen te wees? Is dit nie maar ’n argaïese oorblyfsel wat ons nie so ernstig hoef op te neem nie?

Daar is inderdaad Christene wat ’n saak daarvoor uitmaak dat ons dit maar kan ignoreer. [Dus glo Hermie dat hierdie mense redelike argumente vir hierdie kwessie het.] So word gesê dat dit net op twee plekke in die Nuwe Testament voorkom (Matt. 1 en Luk. 1); nêrens elders word weer daarna verwys nie. [Ek verstaan nie hoe hierdie feit enigiets sê oor die geldigheid van die maagdelike konsepsie nie.]

Dit is dus nie ’n sentrale gedagte nie en kan goedskiks weggelaat word. Verder, maagdelike konsepsies was ’n gewilde manier waarmee antieke skrywers die gewaande goddelike herkoms van belangrike figure voorgestel het. Die Evangeliste sou dus as kinders van hul tyd by hierdie literêre konvensie aangesluit het om die goddelikheid van Jesus te beklemtoon. [Eerstens: hierdie argument impliseer dat die skrywers, Matteus en Lukas, oneerlik was. Die bedoeling van die skrywers was om feite oor te dra (kyk ook Die verskillende genres van die Bybel). Indien hierdie feite foutief is, dan kan mens nie die integriteit van die skrywers vertrou nie. Tweedens: Die Christene het ander afgode verafsku. Waarom sou hulle van ander afgode wou leen?]

Maar die idee van maagdelike konsepsie is vandag oud-modies en kan dus laat vaar word.

En, les bes, ons weet almal waar babas vandaan kom; iets soos ’n goddelike verwekking sonder die tussenkoms van ’n man is vandag nie geloofwaardig nie. [As mens hierdie in twyfel wil trek, sal Jesus se opstanding uit die dood net totaal buite die kwessie wees. Almal weet immers dat ’n dooie nie weer lewend kan word nie.]

Maar met al hierdie besware mis ons die hele punt wat die Evangeliste wou maak met die insluit van hierdie tradisie. [Hulle wou nie ’n punt maak nie. Hulle het geskiedenis geskryf. Jesus se maagdelike konsepsie is in hierdie geskiedenis ingesluit omdat dit so ’n belangrike punt is, ook vir die simboliese redes daarvan.] Om dit te verstaan moet ons iets begryp van hoe in die antieke tyd gedink is oor voortplanting. Die man is gesien as die uitsluitlike draer van die nageslag. By geslagsgemeenskap word hierdie nageslag letterlik aan die vrou toevertrou. Daarom was dit ’n groot skande vir die vrou as sy nie kon kinders baar nie. Sy is beskou as die skuldige party wat nie aan die man sy nageslag kon “teruggee” nie.

By die maagdelike konsepsie word die man egter heeltemal uitgeskakel in die voortplantingsproses. Hy word geban tot ’n skadufiguur aan die rand van gebeure. Die manlike trots word teruggedruk en die Goddelike inisiatief en beplanning word op die voorgrond geplaas.

Dis sigbaar in sowel Matteus as Lukas se weergawes. By Lukas is die gesprek tussen die engel en Maria; Josef is glad nie in die prentjie nie. Wat op die voorgrond is, is dat alles by God moontlik is, selfs om ’n swangerskap te bewerkstellig sonder dat ’n man betrokke is. [Die vraag is of Hermie dit glo. Glo hy dat Maria swanger geraak het sonder dat daar ’n man betrokke was?] En by Matteus word Josef die blote ontvanger en uitvoerder van Goddelike inisiatief en beplanning. Josef word as ’t ware ontman tot ’n skadufiguur op die agtergrond.

Waarom hierdie uitskakeling van die man? So word beklemtoon dat God die man in sy trots en vermoë om ’n nageslag te verwek, verbygaan. Nie die voortplantingsvermoë van die mens nie, maar die skeppingskrag van God staan voorop. Die vleeswording van die Seun van God is nie ’n triomf van die mens nie, maar ’n magsdaad van God.

Verder, dit gaan oor die skepping van ’n nuwe mensheid, die tweede Adam, Jesus Christus. Die eerste mensheid het immers misluk. Die eerste Adam het met sy opstand teen God almal verkneg in sonde. Die nuwe Adam deel nie in hierdie sonde nie. Hy is direk van God; Hy is die Hoof van ’n nuwe mensheid.

Ons moet ons dus nie blind staar teen die “onmoontlikheid” van die maagdelike ontvangenis van Jesus nie, maar eerder oog kry vir die bedoeling daarvan: Dis ’n belydenis van die nuwe begin wat God met die mensdom gemaak het, van God wat Mens geword het. Dís wat Kersfees sê.

Josef hoort dus wel by die kriptoneel, maar nie as trotse patriarg nie. Hy is ook net ontvanger van hierdie wonder.