Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Repliek op Herman Toerien se "Die Trojaanse perd in die NG Kerk: ’n evaluasie" PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Hennie Mouton   
Woensdag, 12 Januarie 2011 09:46

Hieronder volg kommentaar van Herman Toerien op die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk met repliek deur Hennie Mouton (die gedeeltes tussen "[]" en in bruin). Die oorspronklike kommentaar is te siene op Herman Toerien se blok by Die Trojaanse perd in die NG Kerk: 'n evaluasie.

________________________

Die Trojaanse perd in die NG Kerk: ’n evaluasie

Die Trojaanse perd is nie ‘n boek wat ek self sou koop nie, en wat ek ook geen planne gehad het om te lees nie. Immers het ek al regstreeks en onregstreeks met van die outeurs en hul opvattings te make gehad, en het toe reeds drasties daarvan – die “creation science” verskil.

[Ek is bly om te sien dat Herman Toerien skeppingsleer nie meer verwar met “christian science” soos hy skynbaar vantevore gedoen het nie. Hy praat darem nou van “creation science”. Ons aanvaar glad nie “christian science” wat basies die wetenskap bo alles probeer verhef nie. Ons boek gaan natuurlik oor heelwat meer sake as skeppingsleer.]

Voorts is die boek teen die NG Kerk gemik. Aangesien ek nie ’n lidmaat van die NG Kerk is nie, voel ek dit is onvanpas om my oor sekere aspekte uit te spreek. Sekere aspekte, soos die status van die huwelik en homoseksualisme, kom ook in die debat in my kerk, die NH Kerk, te berde en daarom is dit goed dat kennis geneem word.

’n Groot deel van die argumente word teen die Nuwe Hervorming gemik, en ook die ateïsme, dele waaroor ek meen die betrokkenes “vir hulself” moet praat.

[Stem Herman Toerien met enige van tenminste hierdie argumente saam met die skrywers van die boek? Soos duidelik in die boek gestel, is die doel daarvan nie om die NG Kerk af te skiet nie, maar om veral die NG Kerk meer te laat terugkeer na die waarheid van die Woord.]

Die boek is egter by my huis afgelewer, en die boodskapper het gemeld dat dit van Anna Louw van Ladybrand (een van die samestellers) kom. (Anna, die e-pos na jou kom afgelewer terug as adres onbekend, anders het ek dankie laat weet). In die boek is met die hand ingeskryf: “Met die komplimente van Johann Perkins.” Perkins is ‘n bekende briefskrywer in Volksblad en veral die internet-weergawe, wat sterk op ‘n letterlike verstaan van die Bybel aandring. So sterk dat hy nie aanvaar dat Genesis twee skeppingsverhale bevat nie, en bv die uitwys van teenstrydighede soos die volgorde waarin mens en dier geskep is, as godslastering beskou. Hy is self nie ‘n lidmaat van die NG Kerk nie (een van die deelnemers aan die internet-debat het hom aangeraai om by ‘n kerk aan te sluit wat sy sienings deel, en hy het gereageer dat hy reeds in so ‘n kerk is).

[Daar kan op logiese gronde gewys word dat Genesis se sogenaamde twee skeppingsverhale slegs een ware verhaal is, en dat daar nie teenstrydighede is nie. In “Skepping & Evolusie – onversoenbaar!” het ek dit soos volg verduidelik:

“Sommige wat nie die direkte betekenis van Genesis aanvaar nie, beweer dat daar twee teenstrydige skeppingsverhale in Genesis is – een in Gen. 1:1 - 2:4a en die ander in Gen. 2:4b - 2:25. Hulle voer aan dat die skrywer van Genesis dit doelbewus gedoen het om te verhoed dat mens enige wetenskaplike of kronologiese inligting uit hierdie of ook sommige ander Skrifgedeeltes probeer haal. Hierdie argument verval natuurlik indien aangetoon kan word dat die teenstrydighede nie werklik is nie, maar net skynbaar. Skeppingsleerders glo dat die twee verhale bloot aanvullend is, en dus nie teenstrydig nie, op die volgende moontlike maniere:

  • Die eerste verhaal beskryf die totale skepping met die volgorde baie duidelik uitgespel. Die tweede verhaal brei hoofsaaklik uit op die gebeure van die sesde dag, met ander woorde op die sesde dag is die diere geskep, vervolgens Adam, daarna het Adam al die voëls en wilde diere wat die Here na hom gebring het, name gegee, en toe het die Here vir Eva gemaak terwyl Hy Adam laat slaap het.
  • Volgens Gen. 2:19 lyk dit of die voëls en diere tussen Adam en Eva geskep is wat teenstrydig sou wees met die skeppingsvolgorde van Gen. 1. Die tyd van ’n werkwoord word in Hebreeus bepaal deur die konteks van die sin waarin dit gebruik word. In die lig van Gen. 1, behoort die woord “gevorm” in Gen. 2:19 dus “wat reeds gevorm was” te wees. So gesien, verdwyn hierdie skynbare teenstrydigheid. Dit val binne die grense van die moontlike betekenis van die Hebreeus.
  • Dit lyk of die bome in Gen. 2:9 uitgespruit het ná die verskyning van die mens wat in Gen. 2:7 geskep is. Dit is nie strydig met Gen. 1 wat verklaar dat plante en bome voor die mens geskep is nie, want baie bome het natuurlik sedert die eerste skeppingsdag uitgespruit. Die bome van Gen. 2:9 is in elk geval bome in ’n spesiale tuin wat die Here aangelê het en nie die bome in die algemeen waarna Gen. 1:12 verwys nie.
  • In die algemeen kan gesê word dat die eerste skeppingsverhaal die volgordes baie duidelik uitspel, terwyl die tweede skeppingsverhaal nie noodwendig al die gebeure waarna dit verwys kronologies opnoem nie.

Sommige het die beswaar dat daar te veel dinge op die sesde skeppingsdag gebeur het dat dit ’n gewone dag kon gewees het. Die volgende gebeure van die sesde dag word in Gen. 1 en 2 beskryf:

1. God het elke landdier en kruipende gogga geskep (Gen. 1:24, 25).
2. God het vir Adam gemaak (Gen. 1:26, 27 en Gen. 2:7).
3. God het die tuin van Eden gemaak (Gen. 2:8, 9).
4. God het Adam die opdrag gegee om daarvoor te sorg (Gen. 2:15).
5. God het Adam verbied om van die Boom van Kennis van Goed en Kwaad te eet (Gen. 2:16, 17).
6. God het besef dat Adam alleen was (Gen. 2:18).
7. God het sekere landdiere en voëls na Adam gebring waarvoor hy name moes gee (Gen. 2:19, 20).
8. God het Adam laat slaap (Gen. 2:21).
9. God het vir Eva gemaak (Gen. 1:27, Gen. 2:22).
10. Adam het Eva ontmoet en ’n paar kort, waarderende opmerkings gemaak (Gen. 2:23).
11. God het aan die mens die opdrag gegee om te vermeerder en oor die aarde te heers (Gen. 1:28).
12. God het aan die mens gesê wat hulle, die diere en die voëls se kos sal wees (Gen. 1:29, 30).

Meeste van hierdie aksies behoort nie baie lank te gevat het nie, want al God se skeppingsaksies kon oombliklik gebeur het, en sy opdrag- en inligtingsoordraging aan die mens sou geen noemenswaardige tyd geneem het nie. Siende dat Adam waarskynlik ’n tipiese man was, sou sy waarderende opmerkings oor Eva waarskynlik ook nie ’n ewigheid geduur het nie (:-). Al die opdragte, buiten moontlik die naamgewings hoef in ieder geval nie op die sesde dag al afgehandel te gewees het nie, maar was opdragte vir die toekoms. Die naamgewings lyk egter na ’n aksie wat relatief lank kon geneem het en Adam moes dit op daardie dag al afgehandel het:

Gen. 2:19 : En die HERE God het uit die aarde geformeer al die diere van die veld en al die voëls van die hemel en hulle na die mens gebring om te sien hoe hy hulle sou noem. En net soos die mens al die lewende wesens genoem het, so moes hulle naam wees.
Gen. 2:20 : So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie.

Let daarop dat hier gepraat word van diere van die veld, terwyl in Gen. 1:24 en 25 gepraat word van diere van die aarde. Diere van die veld is moontlik ’n substel van diere van die aarde, maar hierdie aanname is nie eers nodig om te sien dat Adam se taak binne een dag heel doenbaar was nie, soos in die volgende paragraaf aangetoon word. Sou die gedagte van ’n substel wel waar wees, kon dit byvoorbeeld die diere van Adam se omgewing gewees het. Daar is geen noodsaaklikheid om te glo dat al die diere op aarde ook by Eden geskep is nie – God kon hulle, soos die plante, op die sesde dag wyd verspreid op die aarde geskep het. Let ook daarop dat Adam nie die diere en voëls moes gaan soek het nie, maar dat God hulle na hom gebring het (Gen. 2:19). Verder moet hierdie naamgewing ook nie vergelyk word met ’n klassifikasie van spesies soos die van Linnaeus duisende jare later nie. Seekreature, plante en goggas was byvoorbeeld nie in hierdie aanvanklike naamgewingsaksie ingesluit nie. Baie meer spesies het in elk geval later eers uit die aanvanklike Bybelse soorte ontwikkel, soos in 2.3 bespreek is. Die aanvanklike Bybelse soorte was na alle waarskynlikheid duidelik onderskeibaar, en Adam moes bloot vir hulle beskrywende name gee. Teen ’n gemaklike pas van vyf diere of voëls per minuut sou Adam, waarskynlik in absolute verwondering oor God se skepping, in sewe ure meer as 2 000 soorte name kon gee soos God hulle vir hom persoonlik bring, terwyl hy onder ’n boom sit en vrugte eet. Dit klink na die Paradys – wat dit inderdaad was.

Die volgende syfers wys dat bogenoemde aanname van ’n substel nie nodig is nie. Minder as twee miljoen plant- en dierspesies word vandag geklassifiseer, waarvan by verre die meeste insekte is en maar ’n klein persentasie plante is. Slegs 2% van hulle is gewerweldes, dus ongeveer 40 000. Dié getal verminder verder indien die 25 000 mariene gewerweldes en 4 000 amfibieë afgetrek word. Die oorblywende getal is ongeveer 11 000 spesies. Die Bybelse soort is baie eerder vergelykbaar met die biologiese klassifikasie van genus, wat tipies heelwat spesies insluit. Dit bring mens maklik by die 2 000 soorte wat hierbo in die voorbeeld genoem is. Al die take kon dus op die sesde dag gedoen gewees het.”

Gen. 1 en 2 beskryf een skeppingsgebeurtenis, net soos wat die vier evangelies verwys na een eerste koms van Jesus Christus as mens na die aarde, al is daar oppervlakkig skynbare verskille.]

Die boek bevat enkele nuttige aspekte, soos ‘n nuttige, hoewel ongelukkig plek-plek foutiewe, woordelys. Dit stel ook sake op die tafel sodat die gerefomeerde kern van die susterkerke kennis kan neem van fundamentalistiese denke, en hoe dit die betrokke kerke probeer indring. Niemand sal met die hele inhoud verskil nie, (anders as bv in die boekies van Pieter Pelser, een van die bydraers, waarvan die moeilik is om nie sin vir sin te verskil nie) maar ongelukkig is dit as pakket aangebied, en word die indruk geskep dat die skrywers deurlopend slegs hul sienswyse as ‘n geldige, Christelike, beskouing sien.

[“Fundamentalisme” is so ‘n vae, algemeen beledigende, en dikwels ontoepaslike term, dat kommentaar hierop waarskynlik onnodig is.]

Ongelukkig bly die negatiewe aspekte nie lank uit nie. Sommer die derde woordomskrywing is verkeerd. Blykbaar verwar die skrywers die definisie van Deïsme (eintlik verwysend na Deïstiese evolusie) met die definisie wat gereeld aan “intelligent design” gekoppel word. ‘n Mens kry dus die indruk dat die skrywers Deïstiese evolusie as strooipop vir “intelligent design” opstel en op hierdie manier probeer diskrediteer. Volgens die skrywers glo Deïste God het in die begin geskep, en daarna die skepping as’t ware aan sy lot oorgelaat. Die waarheid is dat Deïstiese evolusioniste juis van toevallige evolusioniste hierin verskil. Vgl bv die derde skeppingsverhaal in die Bybel, in Joh 1: 1 – 3.

[Dit lyk of Herman Toerien eintlik die een is wat verward is met sekere definisies. Teïstiese (of Deïstiese) evolusie kan glad nie met Intelligente Ontwerp verwar word nie, want laasgenoemde wys juis spesifiek uit hoeveel wetenskaplike probleme daar met die evolusiehipotese is. Sy stelling dat ons ‘n strooipop opstel lyk eerder self na ‘n strooipopopstelling deur hom. Dis immers hý wat ons verwysing na Deïsme aan Deïstiese evolusie gelykstel, en dan beweer ons verwar dit met Intelligente Ontwerp! Deur in die HAT te kyk (Deïsme sien God as Skepper, maar nie as Onderhouer nie, terwyl Teïsme God sien as Skepper en Onderhouer), of na die oorgrote definisies op die internet te kyk, sal bevestig kan word dat ons definisie van deïsme nie verkeerd is nie. Volgens sy skrywe “ ’n Saak vir Deïstiese Evolusie” beteken Deïstiese evolusie “Godgedrewe evolusie”. Hy stel dit by herhaling. Dan stel hy sy idee van Deïstiese evolusie téénoor “toevallige evolusie” soos hy ook hierbo bevestig het. Maar volgens die HAT en meeste internetdefinisies dui deïsties juis op ‘n god wat op die beste net by die aanvanklike skepping betrokke was, met ander woorde daarna het alles bloot toevallig of wetmatig verloop. Herman Toerien se “ ‘n Saak vir Deïstiese Evolusie” verdedig dus allesbehalwe Deïstiese evolusie, want hy gebruik sy eie foutiewe idee van die begrip! Boonop is sy skrywe baie meer van ‘n aanval op skeppingsleer as ‘n verduideliking of verdediging van evolusie, van watter aard ookal. Die titel van sy skrywe is dus in meer as een opsig swak gekies.]

Dié wanvoorstelling word ongelukkig ook na elders in die boek herlei, soos verwysings dat nie alle evolusioniste ateïste is nie, maar dat evolusie ateïsties is. (Die teenstrydigheid word ontleen aan die skrywers se aanname dat die eerste twee skeppingsverhale letterlik gelees moet word, en dat enige ander, Skrifgetroue vertolking, onbybels moet wees).

[Daar is reeds aangetoon dat die enigste wanvoorstelling merendeels by Herman Toerien self lê. Dat alle evolusioniste nie ateïste is nie, maar dat die evolusiehipotese in sy wese ateïsties is, is geen teenstrydigheid nie. Enige gelowige kan in sy onkunde nog sekere ongelowige, bygelowige en selfs ateïstiese dinge glo, maar dit nie besef nie. Die ateïstiese aard van evolusie word in ons boek onder meer verduidelik deur te wys op heelwat openbarings in die Bybel wat die evolusiehipotese weerspreek. Ons stel dit soos volg:

“God is die direkte Skepper van alles, insluitende alle vorme van lewe. Niks het ontstaan deur een of ander toevallige proses soos deur die evolusieleer gepostuleer word nie.
God het ná elke dag van die Skeppingsweek verklaar dat Hy alles goed geskep het. Die skeppingsproses het dus nie die uitwissing van die swakkere om die sterkere tot stand te bring, ingesluit nie.
Die eerste twee mense is geskep nog voordat daar enige dood van selfs diere was. Dood het eers ná die sondeval in die wêreld gekom. Die hele geologiese kolom met sy duisende fossiele van diere, dui dus op diere wat ná Adam en Eva se sondeval omgekom het.
In die Bybel word by herhaling verklaar dat soorte volgens hulle soorte sou voortplant. Daar is dus nie sprake daarvan dat een soort in ’n ander soort kan verander nie.
Alle soorte organismes (nie alle spesies nie), tot die mees komplekse, was daar van die eerste week van die skepping af – dit het nie geleidelik oor baie lang tydperke ontwikkel nie.”]

Die vertrekpunt van die skrywers blyk ook duidelik dat konsekwent na evolusie as hipotese verwys word, iets wat die wetenskap nie aanvaar nie.

[Daar is heelwat wetenskaplikes wat evolusie nie as ’n geldige wetenskaplike teorie beskou nie – daarom noem ons dit op die beste slegs ’n hipotese. Dit is waar nie net vir skeppingsleerwetenskaplikes nie, maar ook vir voorstanders van Intelligente Ontwerp. Laasgenoemde besef Herman Toerien moontlik nie – waarskynlik omrede sy gebrekkige kennis van hul posisie soos hierbo na verwys. Ek sou baie graag aanbeveel dat hy tenminste Lee Strobel se boek “A Case for a Creator” of die vertaling “ ‘n Saak vir ’n Skepper” lees sodat hy kan weet waaroor Intelligente Ontwerp eintlik gaan. Alle voorstanders van Intelligente Ontwerp is nie eers Christene nie, maar hulle wys dat die evolusiehipotese op baie swak wetenskaplike gronde berus – ’n intelligente ontwerper van een of ander aard klop baie beter met die dikwels komplekse wetenskaplike data. Skeppingsleerders stem met baie van hul argumente saam, maar dring daarop aan dat die intelligente ontwerper slegs die God van die Bybel kan wees. Herman Toerien behoort dus tenminste met sekere aspekte van Intelligente Ontwerp en skeppingsleer saam te stem, maar hy sal eers beide posisies beter onder die knie moet kry om dit te besef.]

Die skrywers ontken ook die wyse waarop die boek, Daniël dikwels as kodeskrif uit die tyd van die Makkabeërs uitgelê word (met teksbewyse leidrade en al, bv: “In die derde regeringsjaar... “ wat weerspreek word in Kronieke en Jesaja) dui duidelik daarop dat die boek ook ‘n fundamentalistiese aanslag op die begrippe gereformeerdheid en reformatoriese is. Die beskrywing van wat as “gereformeerd” beskou word, is baie selektief en verdoesel die werklike betekenis van ‘n onvoltooide proses waar deur deurlopende Skrifstudie, die ware bedoeling van die Bybel en sy inhoud gesoek en bestudeer moet word. In wese beskryf die skrywers gereformeerdheid as ten nouste verweef met fundamentalisme, wat eintlik as die teenoorgestelde van werklike gereformeerdheid beskou kan word.

[As mens duidelike stellings en verklarings in die Bybel begin bevraagteken en ontken, soos wat Herman Toerien klaarblyklik met sy idee van evolusie doen, val dit sekerlik buite die definisie van gereformeerdheid. As mens evolusionisties wetenskaplike vertolkings se gesag bokant die waarhede in die Bybel probeer stel, is dit ook geensins meer gereformeerd nie.
As mens glo Genesis is eers geskryf tydens die ballingskap in Babel, is dit nie vreemd dat jy sal glo Daniël is (gedeeltelik?) eers geskryf in die tyd van die Makkabeërs nie. Daniël, Kronieke en Jesaja weerspreek mekaar nie noodwendig betreffende Jojakim se regeringsjaar nie, want daar was ‘n beleggingstydperk voor Jerusalem ingeneem is, dis onbekend hoe lank Joahas afgesit was voor Jojakim begin regeer het, en Jojakim het nog ’n tyd lank teen Nebukadneser gerebelleer nadat hy die eerste keer verslaan is. Die saak is eenvoudig baie ingewikkelder as om bloot enkele verse te vergelyk en die afleiding van byvoorbeeld teenstrydigheid te maak. Iemand soos Herman Toerien met sy Admissiestudie-agtergrond, behoort juis hierdie soort probleme rondom oorvereenvoudigde afleidings te besef.]

Teen die agtergrond van sommige van die skrywers by die “creation science” is eintlik verwag dat meer hierop geput sal word, maar dit is meestal op die agtergrond teenwoordig wanneer standaard-wetenskappe verdag gemaak word. Die boek verwys byvoorbeeld na die “onakkuraatheid” van radiodatering, (vermoedelik radio-aktiewe verval van elemente na hul halfleeftyd) sonder om te meld dat ander metodes dit ondersteun. Trouens, die skrywers maak daarop aanspraak dat die ander metodes dit weerspreek. Dit klink verdag baie na die “creation science” se argon-bedrog met die Mount St Helens-lawa.

[Watter bedrog was daar met die Mount St Helens-lawa? Is sogenaamde bedrog die beste verskoning wat evolusioniste kan aanbied vir resultate wat deur wêreldwyd gerespekteerde laboratoriums bepaal is, wat die evolusionistiese aanname van miljoene en miljarde jare ernstig bevraagteken? Wil Herman Toerien nou regtig al die bewese falings van radiodatering betreffende talryke lawa-uitbarstings op talle plekke op aarde se geldigheid ontken? Heelwat daarvan word gelys in die boek “Skepping & Evolusie – onversoenbaar!” en op die webwerf www.creation.com.]

Die indruk word trouens deurlopend gewek dat die skrywers probeer om nie onnodig ou aarde kreasioniste (bv proff Piet en Danie Strauss) te vervreem nie, en taamlik vaag na “bewyse van ‘n jonger aarde” verwys. (Die veel jonger is, wat die jong aarde kreasioniste betref waarvoor van die skrywers bekend is, die aarde se ouderdom van etlike miljarde jare na slegs sowat 6 000 jaar “terugneem”).

[Hierdie boek het eenvoudig nie gegaan oor die kwessie van die ouderdom van die aarde nie – daarom is dit nie in enige diepte bespreek nie. Heelwat van die boeke en webwerwe waarna in die boek verwys word het egter uitgebreide inligting oor die ouderdom van die skepping.]

Die indruk word geskep dat die middelstroom-denke in die NG Kerk die produk van post-modernisme is, en soos ‘n Trojaanse perd die NG Kerk binnegekom het. Terwyl dit ten opsigte van enkele aspekte die waarheid mag wees, is die intrek van die wetenskap hierby eerder omgekeerd. Augustinus, en lank na hom, Thomas van Aquina tydens die Middeleeue, het reeds bemerk dat die letterlike opneem van die Genesis-skeppingsverhale nie met die wetenskaplike kennis van hul eie tydperke te versoen is nie. Hulle het die probleem “oorkom” deur die Genesis-skeppingsverhale as “die waarheid in die geloofskonteks” te verklaar.

[Beide Martin Luther en Johannes Calvyn het geglo aan ‘n sesdagskepping. Hul sienings is eerder van toepassing op ons gereformeerde belydenis as dié van Augustinus en Thomas van Aquina. Maar die belangrikste is wat in die Bybel self staan. En die tragiese is dat sommige Christene geensins objektief na wetenskaplike vertolkings van data wil kyk wat 100% met die Bybel klop, soos dit geskryf is nie.]

Met my eie Admissiestudie dertig jaar gelede het ek geen konflik meer ervaar nie omdat die Bybel as groter eenheid beskou is, en tekste soos dié van Psalm 90: 4 en 2 Petrus 3:8 saam met beter uitlegte van die Hebreeuse woord “yom” en die begrip “duisend” geneem is.

[In “Skepping & Evolusie – onversoenbaar!” beskryf ek hierdie saak, en verwante opmerkings, soos volg:

“Sekerlik is die Bybel nie in die eerste plek ’n wetenskaplike handboek nie – daar bestaan nie ’n indeks waarin mens ’n spesifieke wetenskaplike onderwerp kan opsoek, en dan alles daaroor mooi bymekaar beskryf kan vind nie. Maar skeppingsleerders glo dat die wetenskaplike en geskiedkundige gegewens in die Bybel waar is. Wat sou die sin vir die alwetende God gewees het om foutiewe wetenskaplike inligting in die Bybel te laat aanteken het? Hoekom sou die Here ’n fiktiewe verhaal van Adam en Eva gebruik om die begrip van die oorsprong van die mens se sonde oor te dra, en eeue later sy eniggebore Seun werklik laat sterf het vir die sondes waarvan die oorsprong slegs simbolies is? Skeppingsleerders glo dat die eenvoudige antwoord is dat Adam en Eva en wat daarop volg, werklik gebeur het.

Moet alles in die Bybel dus letterlik verstaan word? Nee – die Bybel moet verstaan word soos dit geskryf is:

  • metafore as metafore;
  • poësie as poësie;
  • letterlike geskiedenis as letterlike geskiedenis ensovoorts.

Skeppingsleerders glo dus wel dat sekere beskrywings simbolies van aard is, en dit kan meestal uit die konteks van die Skrifgedeelte afgelei word, maar heelwat beskrywings is nie bedoel om slegs simbolies te wees nie. As daar dus in 2 Pet. 3:8 staan dat ’n duisend jaar vir God soos een dag is en een dag soos ’n duisend jaar, is dit slegs ’n begrip wat oorgedra word, moontlik soos dat God nie tydgebonde is nie, en bokant tyd staan. Dit beteken nie dat elke verwysing na tyd in die Bybel nou enige tydslengte kan hê nie. Die woordjie “soos” beteken nie “gelyk aan” nie. As daar egter in die Bybel staan dat Adam 930 jaar oud geword het, word 930 jaar werklik bedoel. Natuurlik kan sommige gebeurtenisse werklik gebeur het en ook simboliese betekenis hê. Noag se vloed wat ook heenwys na die doop, volgens 1 Pet. 3:20 en 21, is ’n voorbeeld daarvan:

Net ’n klein klompie in die ark, agt in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.

Die vier hoeke van die hemel in Jer. 49:36, die vier hoeke van die aarde, soos beskryf word in Jes. 11:12, Opb. 7:1 en Opb. 20:8, en die vier hoeke van die land in Esg. 7:2, is netso min ’n letterlike beskrywing as Jesus se verwysing na die vier winde van die aarde in Mat. 24:31 en Mark. 13:27. Dit beteken bloot “van orals” of “orals op” of “beskou alles” en probeer duidelik nie die vorm van die hemel, die aarde of die land Israel weergee nie. Bogenoemde kan byvoorbeeld hoegenaamd nie in terme van beskrywings van werklikhede met Gen. 1 - 11 vergelyk word waar werklike gebeure, name, ouderdomme ensovoorts weergegee word nie. Daar is in ieder geval ’n paar verwysings in die Bybel na die rondheid van die aarde – Job 26:10, Spr. 8:27 en Jes. 40:22 en dan word in Job 26:7 ook nog genoem dat die aarde in die leë ruimte hang. Alhoewel hierdie verwysings ook moontlik simbolies is, wonder mens nogal oor die objektiwiteit van die Bybelkritici wat nooit na hierdie verse verwys nie. Die historikus Jeffrey Russell het aangetoon dat die kerk nooit aan ’n plat aarde geglo het, of gedink het dat dít die implikasie van die vier hoeke van die aarde is nie. Slegs ’n paar eksentrieke karakters, yl versprei oor die laaste 20 eeue, het dit verkondig.

Die belangrikheid om Jesus Christus se woorde (en sy Woord) te glo, ook betreffende waarneembare, aardse dinge, is deur Jesus self in Joh. 3:12 gestel: Ek het julle van die aardse dinge vertel en julle glo dit nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?

Sommige Christene beskou die vyf boeke van Moses – Genesis tot Deuteronomium – as redelik ontoepaslik vir die moderne tyd. Maar hoor wat Jesus in Joh. 5:46 en 47 gesê het: As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want Hy het van My geskrywe. Maar as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

Let ook op die woorde van 2 Tim. 3:16 : Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek.

As mens die skrywers van die Bybel nie kan glo oor die Goddelike inspirasie van die Bybel nie, hoekom sal mens hul ander mededelings glo?“]

Dit is jammer dat die skrywers basiese feitefoute maak – en juis ten opsigte van dit wat hulle onder verdenking probeer plaas sodat die indruk van moedswilligheid gelaat word, omdat ‘n mens andersins sou aanbeveel dat predikante van die susterkerke die boek lees om agter die kap van die fundamentalistiese aanslag (die werklike Trojaanse perd) te kom. Met die feitefoute moet die gemiddelde leser te veel begeleiding kry om die foute uit te wys.

[As Herman Toerien met hierdie “evaluasie” enige betekenisvolle feitefoute uitgewys het, kon mens dalk tot ‘n mate met sy stelling saamgestem het, maar duidelik het hy nie. Dat hy die inligting met ‘n ander bril op vertolk, is egter sekerlik so. Besef en waardeer hy die verskil tussen feite en vertolking?]

Daar is lastige slordigheid. Die eerste hoofstuk bespreek ene “prof. Britz” wat eers in ‘n latere hoofstuk as “prof Dolf Britz” geïdentifiseer word. Moontlik sal die gemiddelde NG-lidmaat nie deur sulke slordighede in die duister gelaat word nie soos dit vir my gelaat het.

[Hierdie een sal ons regstel. Maar dis onwaarskynlik dat enigeen wat die boek behoorlik lees, nie sal besef dis dieselfde prof. Britz nie.]

Of die NG Kerk op die boek moet reageer – en in die besonder die lidmate betrokke? Dit hang van die NG Kerk af. Ek sou voel dat die kerk, en veral die “dwalende teoloë” die geleentheid gebied word om in amptelike publikasies te reageer. Die probleem is egter dat van hierdie skrywers ook ander media aanwend om hul boodskap (creation science) oor te dra. Voorheen het terloopse waarnemers soos ek nie die noodwendige –eintlik onwaarskynlike lyn –na die NG Kerk deurgetrek nie, en het die NG Kerk se beeld min of meer intak gebly.

[Hoekom is dit ‘n probleem as skeppingsleerders ook ander media aanwend? Eintlik is dit noodsaaklik want heelwat van die amptelike publikasies blokkeer skeppingsartikels soos in die boek aangetoon is.]

Ek wil graag beklemtoon dat hierdie geen volwaardige resensie is nie – ek kan en wil byvoorbeeld nie namens die Nuwe Hervormers praat nie.

[Eintlik het Herman Toerien in baie opsigte reeds namens die “Nuwe Hervormers” gepraat – hy besef dit dalk net nie.]

Uit ’n wetenskaplike hoek, geomorfologie, weet ek die skrywers is verkeerd oor hul “veel jonger aarde” en is ek nie vatbaar vir dit wat die skrywers in hierdie opsig probeer te kenne gee nie. My eie kerk het tydens sy jongste Algemene Kerkvergadering op verdere studie oor die homoseksuele kwessie besluit, en ek glo ’n teologiese en Christelike antwoord sal eventueel op die tafel geplaas word. As lidmaat is vaste stellings oor die kwessie dus voortydig.

[Herman Toerien sal goed doen as hy kan leer om tussen feite en vertolking in oorsprongwetenskappe, soos byvoorbeeld geomorfologie, te onderskei. Historiese datering behels veronderstellings en aannames, en wetenskaplikes behoort dit te besef, en te erken. Daarom weet Herman Toerien dalk nie wat hy dink hy weet nie. Sy nie-vatbaarheid vir skeppingsleerargumente blyk nie net uit sy skrywe hierbo nie, maar bevestig hy direk in sy laaste paragraaf. Dit is nie tekenend van iemand wat graag so goed as moontlik by die waarheid wil uitkom nie, wat baie jammer is.]

[Ek voeg hier ook nog die stuk uit "Skepping & Evolusie -- onversoenbaar!" oor die sogenaamde gapingsteorie in, aangesien heelwat gelowiges een of ander vorm daarvan aanhang:

" Sommige gelowiges lees graag ’n ongespesifiseerde, lang tydperk in tussen Gen. 1:1 en 1:3 (meestal tussen 1:1 en 1:2).
Gen. 1:1 : In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Gen. 1:2 : En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.
Gen. 1:3-5 : En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Dit staan as die gapingsteorie bekend en aanvaar ’n sogenaamde pre-Adamitiese skepping. Daar bestaan verskillende weergawes van hierdie siening, maar die bron van almal is gebore uit die behoefte om die miljoene jare van die sekulêre geologie met die Bybelse gegewens te versoen. Die volgende twee aanhalings spel dit uit:

Relegate fossils to the primitive creation, and no conflict of science with the Genesis cosmogony remains. {Scofield Study Bible}

When men finally agree on the age of the earth, then place the many years (over the historical 6 000) between Genesis 1:1 and 1:2, there will be no conflict between the Book of Genesis and Science. {Dake’s Annotated Reference Bible}

Die gapingsteorie het die eerste keer in die 17de eeu verskyn en wel in die geskrifte van die Hollander Episcopius. In die 19de eeu het Thomas Chalmers, ’n Skotse teoloog, verskeie lesings daaroor gegee en G. H. Pember het ’n boek daaroor geskryf, naamlik Earth’s Earliest Ages. Arthur C. Custance het in die 20ste eeu die mees akademiese verdediging vir dié teorie in sy boek van 1970, Without Form and Void, gegee. Dit kom daarop neer (onthou, daar is meer as een weergawe) dat God êrens in die verre verlede, lank voor Adam en Eva, ’n volmaakte hemel en aarde geskep het. Satan was die heerser van daardie aarde en dit is deur ’n ras van "siellose mense" bewoon. Uiteindelik het Satan, wat in die tuin van Eden gebly het (Esg. 28), gerebelleer deur soos God te wou wees (Jes. 14). Omrede Satan se sondeval – sy rebellie – het God se oordeel van ’n vloed die aarde getref (soos aangedui deur die water van Gen. 1:2), gevolg deur ’n wêreldwye Ystydperk, toe die lig en die hitte van die son op een of ander wyse versper was. Hierdie vloed was "Lucifer se vloed" en dit het die aarde woes en leeg laat word. Al die fossiele van die geologiese kolom is van hierdie pre-Adamitiese wêreld afkomstig en die "mense" en diere van daardie tyd het geen genetiese verband met die hedendaagse mense en diere nie. Daarna het God ’n nuwe goeie wêreld geskep en Adam en Eva het die opdrag gekry om die wêreld te hervul (Gen. 1:28).

Daar is verskeie probleme met die gapingsteorie:

  • Dit is inkonsekwent ten opsigte van Eks. 20:11, waar God verklaar dat Hy die hemel en aarde en oseane, en alles daarin, in ses dae gemaak het.
  • Dit plaas dood, siekte en swaarkry vóór Adam se sondeval, wat strydig is met die Skrif. Rom. 5:12 : Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.
  • Daar kon geen ander ras van mense voor Adam gewees het nie, want Adam was die eerste mens. 1 Kor. 15:45 : So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees.
  • Gen. 1:2 se oorspronklike beteken nie "het woes en leeg geword" nie, maar eintlik "was nog ongevorm en ongevul". ’n Pottebakker wat ’n kruik uit klei maak, is ’n goeie analogie. Terwyl hy die bol klei in sy hande neem, is dit nog ongevorm. Nadat hy die kruik gemaak het, is dit gevorm. Nadat hy dit met water gevul en blomme daarin geplaas het, is dit gevul.
  • Gen. 1:28 se opdrag om die aarde te vul het nie die oorspronklike betekenis in Hebreeus van hervul soos skynbaar blyk uit die KJV-weergawe (King James Version) se "replenish" nie. "Replenish" het van die 13de tot die 17de eeu n.C. "vul" beteken, en het eers daarna die betekenis van "hervul" gekry. Die KJV is in 1611 gepubliseer, toe dit nog "vul" beteken het.
  • Jes. 14 en Esg. 28 verwys na die konings van Babilon en Tirus onderskeidelik en waarskynlik nie na Satan nie. Die naam Satan verskyn nêrens in die twee hoofstukke nie. Jes. 14:12 verwys na "die môrester" maar die oorspronklike Hebreeuse woord beteken "die skynende een" en het baie later vir die eerste keer as Lucifer in sommige Bybelvertalings verskyn. "Die skynende een" verwys dus glad nie noodwendig na die Satan nie. Die koning van Tirus was in die tuin van Eden volgens Esg. 28 maar dit verwys nie na die oorspronklike tuin van Eden nie, want op verskeie ander plekke in Esegiël word na die tuin van Eden verwys bloot as ’n vergelyking. Die koning van Tirus se tuin was dus so mooi of vrugbaar dat dit met die oorspronklike Eden vergelyk kon word. Hierdie twee mense was ook nie gode nie maar het hulself as gode beskou. {‘The Fall of Satan: Does the Bible Teach It?’, deur Julian Spriggs, 2006}
  • As Lucifer se vloed die oorsaak van die geologiese kolom met sy massas sedimentêre lae is, waar is die getuienis van die vloed van Noag? Sommige gapingsaanhangers beskou daarom Noag se vloed as slegs plaaslik, maar dit druis in teen talle Skrifgedeeltes soos reeds in 3.2 genoem is.
  • Die gapingsteorie is aanvanklik ontwikkel om die sekulêre geologie se miljoene jare te bevredig sonder om skynbaar van die Bybelse gegewens afstand te doen, maar baie min megajaarwetenskaplikes sal dit vandag in ieder geval aanvaar. Die rede is dat meeste fossiele duidelik verwant, en soms selfs identies aan moderne mense en diere is.
  • Alhoewel die voorstanders van die gapingsteorie evolusie teenstaan, laat dit steeds die sogenaamde miljoene jare van die geologiese kolom toe, wat grotendeels die basis van die evolusiedoktrine vorm. Dit aanvaar dus dat getuienis vir spesie-ontwikkeling van die diepste tot die vlakste lae bestaan en dat genoeg tyd vir natuurlike ontwikkeling beskikbaar was.
  • Dit ignoreer heelwat wetenskaplike getuienis wat die Bybelse gegewens van ’n jong aarde ondersteun (kyk na 6.1 verder aan).
  • Dit ondermyn die verlossingsboodskap van Jesus Christus, want dit skryf die getuienis van God se oordeel oor Adam en Eva se nageslag weens die sondeval, soos te siene is in die vloed, toe aan ’n vorige skepping wat niks met die regte mensdom te doene het nie. Vergelyk die Skrif van 2 Pet. 3:2 - 14 in hierdie verband. Getuienis van God se oordeel oor regte mense is immers goeie rede om Jesus se verlossing te aanvaar, want dit beklemtoon die werklikheid van God se komende oordeel. Verder nog is hedendaagse bevestiging van ’n wêreldwye katastrofe, wat vier hoofstukke in Genesis beslaan en waarna verskeie kere later in die Bybel weer verwys word, ’n baie goeie rede om die geloofwaardigheid van die Bybel te aanvaar. Vir baie moderne mense is die geloofwaardigheid van die Bybel juis een van die grootste struikelblokke van hul geloof. {The Answers Book, hoofstuk 3, 1999}

Die Skeppingsweek was ’n gewone week betreffende tydsduur, maar ’n geheel en al bonatuurlike week ten opsigte van die aksies wat daarin plaasgevind het. Dit is wat in die Bybel verklaar word. Alternatiewe modelle, selfs deur gelowiges opgestel, is nie oortuigend gemeet aan die totale Skrif nie. "]

 

Comments 

 
+3 #3 Hennie Mouton 2011-02-02 15:26
Thys, 1 Kor. 15:45 praat ook van die siel van Adam. Verkies jy daar ook 'n ander woord? Wat is jou punt? Wie dink jy het siele en wie nie? Watter Hebreeuse en Griekse woorde (H- en G-getalle) is vir jou die regtes vir siel?
 
 
-1 #2 Thys Human 2011-01-25 12:35
Net een punt (vir nou):

Hennie skryf: "Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees."

Kan Hennie asb die verwysing in die Bybel gee waar Adam 'n "siel" gekry het. Ja, ja ek weet dit is wat in die 53-vertaling staan, maar die 83-vertaling van Genesis 2:7 stel dit duidelik dat Jahweh het asem in Adam geblaas en toe het hy 'n "lewende WESE" geword. Ek het onlangs by 'n Joodse vriend wat oor 'n veelheid Joodse werke beskik navraag gedoen oor hierdie vertaling en hy het onmiddellik uit een van dik werke kon bevestig dat die nuwe vertaling korrek is.

Dus: Gee asb die vers waarin sonder enige twyfel gestel word dat Adam 'n siel gekry het.
 
 
+1 #1 Gideon Aggenbag 2011-01-13 23:22
Hoe ookal geredeneer word - daar is geen ruimte vir die gapingsteorie in die Bybel nie, nl. dat God in ses dae alles - van begin tot einde - geskep het.

Enige poging om iets anders te verstaan as wat daar geskryf is, sien ek as 'n poging om ander leerstellings as dít wat ons in die Bybel het, te akkommodeer. Waarom anders sou ons iets anders daarin wou inpas?