Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Repliek op Mike Smuts se resensie oor "Die Trojaanse Perd" - Jan Louw PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Sondag, 23 Januarie 2011 20:25

Kyk ook:

Hier volg repliek op Mike Smuts se resensie op die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk:

*************

REAKSIE OP DIE RESENSIE VAN MIKE SMUTS OP DIE TROJAANSE PERD IN DIE NK KERK

Jan Louw - Februarie 2011

Ek is een van die leraars wat betrokke is by die tot standkoming van die boek met die naam Die Trojaanse Perd in die NG Kerk (TP). Die rede hiervoor is, dat ek oor jare reeds met besorgheid kennis geneem het van ernstige afwykings van die leer by toonaangewende leraars en dosente in die kerk. Dit was dus vir my ’n bemoediging toe ek bewus geword het van ’n groep lidmate wat my besorgdhede deel en ek het my gewig ingegooi by die onderneming om die boek tot stand te bring om op die wyse van die kwessies onder die kerk se aandag te bring. As sodanig wil ek graag reageer op Mike Smuts se samevatting van die TP.

Ek is uiteraard baie teleurgesteld met Mike se beoordeling van die boek. Dit het my laat dink aan Julius Caesar se woorde: Et tu Brute.[1] Uiteindelik het ek besef dat Mike se reaksie geleentheid gee om gesprek te voer oor die saak, sodat ons begrip kan kry vir mekaar se sienings oor die belangrike sake in die kerk, wat in die boek te berde kom.

Ek wil aansluit by die drie sake wat Mike te berde gebring het.

1. Die gesag van die Skrif

Dit wil vir my lyk of Mike meen dat die skrywers van die boek die sg meganiese inspirasie teorie voorstaan. Soos Mike die meganiese inspirasie self verduidelik, kom dit daarop neer dat mense glo dat die Bybelskrywers bloot neergeskryf het wat God hulle in die oor gefluister het. Die problematiek waarmee ons te doene het, gaan vir my glad nie hieroor nie. Persoonlik dink ek oor die Bybel kragtens die Nederlandse Geloofsbelydenis se bewoording wat sê dat “God deur Sy besondere sorg vir ons en ons saligheid, sy dienaars, die profete en apostels beveel het om sy geopenbaarde Woord op Skrif te stel”.

Die Bybelskrywers is vir my in ’n sin deel van die “skare van geloofsgetuies”, waarvan Heb 12:1 praat. As ons net praat van die historiese gedeeltes van die Bybel moet ons almal sekerlik erken dat daar nêrens in die wêreld ’n boek is wat naastenby met die Bybel vergelykbaar is nie. Hieroor wil ek ‘n paar dinge sê:

Die koningstyd bv handel oor ’n tydperk van meer as 400 jaar. Dit is ’n ingewikkelde geskiedenis, waarin 42 konings ‘n rol gespeel het. Die meeste van hulle het in twee verskillende ryke parallel geregeer. Die geskiedskrywers van die konings slaag daarin om ’n weergawe te gee van die verweefdheid van die geskiedenis van die konings en hulle koninkryke oor die tydperk vanaf 1000 vC-586 vC. Hulle vertel hoe lank elke koning geregeer het, hoe oud elke koning geword het, wie hulle ma’s was, watter profete in hulle tyd opgetree het, teen wie hulle oorloë gevoer het en wat hulle vernaamste prestasies en sondes was. Die skrywers gee in baie gevalle hulle bronne aan.

Om ’n idee te kry van die prestasie van hulle onderneming, kan ons dit vergelyk met die geskiedenis van Suid-Afrika sedert die koms van Jan van Riebeeck na die Kaap. Ons praat hier van ‘n tydperk van minder as 400 jaar. Die historici van die koningstydperk gee meer detail inligting oor daardie tydperk as wat beskikbaar is van enige van die ander antieke nasies van daardie tydperk. Die eerste Olimpiese Spele het in die koningstydperk plaasgevind in 776 vC en die stad Rome is in 753 vC gestig. Beide hierdie belangrike gebeurtenisse is in legendes gehul. Die Iliad en die Odissea (wat toegeskryf word aan Homerus) uit daardie tydperk, is van die oudste westerse literatuur beskikbaar. Dit is regte godeverhale, waarin werklikheid en fiksie alleen met moeite onderskei kan word. Dit is ook nie leesstof wat baie bevatlik is vir die gemiddelde leser nie.

Die geskiedskrywers van die Bybel het egter nog lank nie by 1000 vC opgehou nie. Hulle het die geskiedenis van Israel nog ’n millennium verder in die verlede gaan haal en gekom by Abraham, Isak en Jakob. Hulle vertel met oortuiging, ook vir ons westerse gemoed, van Josef in Egipte, van Moses, die woestyntyd, van die inname van Kanaan en van die rigters tot by die eerste koning.

Asof dit nie genoeg was nie het, het die Bybelskrywers toe nog verder gegaan, omdat “God hulle dit beveel het” (NGB). Hulle het die aartsvaders se voorgeskiedenis ook opgeteken en by Noag uitgekom. Toe span hulle die kroon oor alles en hulle skryf die geskiedenis op van die “toenmalige” wêreld wat volgens Petrus deur water oorstroom is (2 Pet 3:6). Dit het op ‘n manier vir die gelowiges van destyds bewaar gebly. Daarmee het hulle vir nog ’n millenium en ’n half dieper die gryse verlede in gepenetreer. Hulle vertel vir ons van die skepping van die eerste mense en wat met hulle gebeur het. Hulle noem die name van hulle kinders en vertel hoe oud hulle was toe hulle oudste seuns gebore is, asook die ouderdomme wat hulle elkeen uiteindelik bereik het. So het hulle vir 10 geslagte aangegaan.

In die volle Bybel word die name genoem van 1181 mans en 188 vroue. Die name van 1172 plekke is vir ons aangeteken. Baie van daardie plekke kan nog vandag op ’n kaart gekry word. Ek het met ’n soekfunksie gaan tel, hoeveel keer die woord “jaar” in die Bybel voorkom. In meer as 400 gevalle word die woord “jaar” gebruik om mense se ouderdomme en of tyd wat verloop het aan te dui.

Dit is net ’n paar opmerkings oor die geskiedskrywing in die Bybel. Ons het nog glad nie gekom by die onvergelyklike letterkundige skoonheid in die Bybel, die verstommende wysheid of die profetiese vergesigte in die Bybel nie. Bloot vanuit menslike gesigshoek is die Bybel een van die wonders van die wêreld. Dit is God se geskenk aan sy volk, maar ook aan die wêreld, sodat almal Hom kan ken en in ’n verhouding met Hom kan lewe.

Na aanleiding van Mike se samevatting van die TP het ek toe weer gaan kyk na ’n paar sinodale verslae oor die Skrif wat in die boek ter sprake is en ek kan die frustrasie van ernstige lidmate verstaan. Die wyse waarop daar in die hoogste vergadersale van ons kerk oor die Bybel gepraat word, is om die minste te sê oninspirerend. In die verslag: Gesag van die Skrif, voor die Algemene Sinode van 2002, kry mens die gevoel dat die opstellers van die verslag moeite gehad het om in positiewe terme oor die Bybel te praat. Die volgende soort uitdrukkings, waarvan die TP ook praat, kom met eentonige reëlmaat voor:

  • Dat die Bybel volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie …
  • Klaarblyklik maak die Bybel ook geen aanspraak op historiese eksaktheid nie.
  • As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie.
  • Maar sonder interpretasie van die historiese gebeure, is die "feite" op sigself stom
  • Daarom vertel die Bybel nie maar net feite sondermeer nie, maar wel (on)heils feite, dit wil sê feit plus interpretasie.
  • In naakte feite is die Skrif nie geïnteresseerd nie, maar wel in die betekenis van die feite.
  • Vir die Bybelse skrywers was die onderskeid tussen feit en interpretasie nie naasteby so belangrik as in die moderne tyd nie.
  • Selfs “fiksie” en "foute" staan in diens van die Waarheid.
  • Soms word dit bykans onmoontlik om tussen feit en interpretasie te onderskei.
  • Die waarheid van die Woord is wel ewig, maar nie tydloos nie.
  • Wat in een konteks die waarheid is, is in 'n ander 'n leuen.
  • Een van die heel grootste misverstande ten opsigte van die gesag van die Skrif is dat die Bybel in die eerste instansie 'n boek is wat aan ons foutlose informasie verskaf, wat ons dan moet sluk of stik.
  • Klaarblyklik is (die bedoeling van die Skrif) nie geleë in wetenskaplik korrekte informasie nie, maar in die heilskarakter daarvan.
  • Aangesien in hierdie verslag die standpunt ingeneem word dat die Bybel nie 'n bron van foutlose natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie, sal dit seker vanuit fundamentalistiese kringe bestempel word as self 'n produk van die modernisme.
  • die feit dat die Bybel geen handboek is vir die wetenskap nie.
  • die Skrif ook nie aan ons gegee as 'n onfeilbare bron van eksakte natuurwetenskaplike en historiese informasie nie

As mens na sulke verslae kyk, ontstaan die vraag: Wat is nou eintlik die kerk se probleem met die Bybel? By Sinodes (soos by 2002) word telkens gewys op die problematiek van die Skrif en dan word daar dadelik aanbeveel dat daar by die volgende sinode verder gepraat moet word. ‘n Paar sg teenstrydighede in die Bybel word in die verslag van 2002 aan die klok gehang asof dit ’n yslike probleem is, wat baie interpretasie en vertolking verg. Moet ’n mens nie verwag dat skrywers wat onafhanklik van mekaar opgetree het en in sommige gevalle duisende jare uitmekaar gelewe het, dinge verskillende verstaan en gehoor het nie. Elke dag is regters in die wêreld op soek na die waarheid. Hulle hoor die getuies aan. Uiteindelik kom ’n regter tot ’n konklusie op grond van die oorwig van getuies en nie omdat elke getuie presies dieselfde woorde gebruik het nie.

Waarom is daar soveel beswaardheid? Waarom sluip die woorde “historiese eksaktheid” en “handboek vir die wetenskap” kort-kort in, as daar oor die Bybel gepraat word. Ons sit met 'n goddelike wonder in ons midde, maar dit lyk of iets of iemand die kerk beroof het van sy blydskap en sy passie as ons oor die Bybel praat.

Die skrywers van die TP wil aan die kerk vra of daardie “iets” nie dalk die evolusieleer is nie. Is die evolusieleer nie dalk die vrot appel in die kis, wat besig is om die hele kis te besmet nie. Is dit nie dalk die evolusieleer wat aanhoudend by die agterdeur klop en aanspraak maak op ’n plek in die kerk nie? Daarby sal ek netnou weer wil uitkom.

2. Homoseksualiteit

Mike maak beswaar teen die omskrywing van homoseksualiteit as ’n “afwykende vorm van seksualiteit”, soos dit in 1986 beskryf is. Dit is volgens Mike ’n liefdelose tipering. Die vraag is egter, watter vorm van seksualiteit is ’n homoseksuele seksualiteit dan? Moet ons dit ’n “alternatiewe seksualiteit” noem (soos dit al by die Sinode van Suid-Transvaal in ’n verslag voorgekom het)?

Ek dink ons gaan vorder in ons gesprek as ons reguit vir mekaar kan sê dat ’n homoseksuele oriëntasie ‘n afwyking van die “normale” is. Dit is ‘n seksuele oriëntasie wat nie volgens die aanvanklike bedoeling van God nie. Ons het met ‘n probleem te doen. Ek weet nie van enige ouerpaar wat gemak ervaar het, by die ontdekking dat hulle kind homoseksueel is nie. Dit is telkens ’n krisis in ’n huisgesin. Dit bring bekommernis en verg wysheid en berading.

As ‘n Christen berading moet doen met ’n persoon wat ’n homoseksuele oriëntasie het, sal jy sekerlik ’n Christelike verstaan van die situasie moet hê. Dit lyk vir my dit is hier waar ons paaie uitmekaar begin loop.

Mike is reg as hy sê dat ‘n homoseksuele identiteit of oriëntasie nie op sigself sonde is nie. Ons moet dit vergelyk met enige liggaamlik gebrek. ‘n Gebrek op sigself is nie sonde nie, maar ons kan dit herlei na die sondeval. Ons gebreke is toe te skryf aan die gebrokenheid van die skepping wat by die sondeval ontstaan het. Die vraag is hoe reageer ‘n mens en spesifiek ‘n mens met ‘n homoseksuele probleem op die kruis wat hy gekry het om te dra. Die kerk help so ‘n persoon nie deur vir hom voorsiening te maak vir ‘n homoseksuele verhouding nie. Dit lyk vir my dit is juis waarop Mike afstuur. Mike maak die volgende stelling: “Alle mense is geroep om hulle sondige aard onder beheer van die Gees te plaas sodat Hy hulle identiteit kan heilig. Dit geld vir heteroseksuele en homoseksuele mense!“ Dit is nie vir my duidelik wat daarmee bedoel word nie. Dit lyk of Mike wil sê dat mens heilig voor God in ‘n homoseksuele verhouding kan leef.

Laurie Gaum het gesê:
Kan ek waag om te hoop dat daar nog in my leeftyd ‘n einde aan diskriminasie in ons samelewing sal kom? Ek, synde wie ek is, hoop op ‘n samelewing wat met homofobie klaargespeel het. Ek hoop dat meer mense sal opstaan vir hulle Godgegewe menseregte en nee sal sê om deur ander geboelie te word wat vir hulle en oor hulle wil besluit. Ek hoop dat meer mense bemagtig sal word om hulle stemme te vind en te gebruik. Ek hoop op die dag dat 'n lesbiese vrou of 'n gay man trots en sonder skewe kyke hand aan hand straataf met haar of sy lewensmaat kan stap. Ek hoop op die dag dat ek in die Moederkerk op Stellenbosch, in die Groote Kerk, in Stellenberg, in Vre­delust, in Moreletapark, kan trou as ek wil soos wat straight mense vir hulle daardie reg outomaties toe­-eien.

Dit is hierdie soort denke oor die verskynsel van homoseksualiteit, wat ons tussen die lyne in die sinodale verslae, tussen al die baie woorde lees en wat Mike nou op ’n manier vir ons bevestig het. Ek as een van die medewerkers aan die TP, kan dit nie goedpraat dat die kinders van die Here in ‘n homoseksuele verhouding lewe nie. Dit is teen die heiligheid van die kerk. Dit is ’n lewensstyl wat teen die “natuur” is (Rom 1:27). Dit is nie volgens die bedoeling van God nie. Dit is gedrag wat “onbetaamlik” is (Rom 1:28). ...” [2] Ons het ‘n verantwoordelikheid om mekaar in die kerk op te roep tot selfbeheersing. Paulus sê op ‘n ander plek: Wees manmoedig, wees sterk! (1 Kor 16:13) Verder roep hy ons op om tot eer van God te lewe, deur net te doen wat Hy verlang (Kol 1:10).

Daar is mense in die samelewing wat kennelik ‘n probleem het met hulle eie identiteit, maar uit respek vir die Here ongetroud bly. Daar is ook mense wat normale seksuele behoeftes het, maar ongetroud bly, om al hulle aandag aan die koninkryk van God te wy. Sulke mense moet ons respekteer. Die Here sal hulle beloon.

‘n Belangrike vertrekpunt vir ons as kinders van die Here in hierdie sake is om opnuut met mekaar ooreen te kom oor wat die huwelik is. ‘n Tyd gelede het Chris Jones in die Kerkbode die standpunt in geneem dat die huwelik nie ‘n instelling van God is nie. Hy het ook gesê dat die huwelik nie noodwendig heilig is nie, maar dat ‘n mens se liggaam heilig is. Hierdie uitsprake is gemaak teen die agtergrond van die saamwoon debat.

Hierdie siening is ‘n drastiese afwyking van die Christelike leer van die huwelik deur die eeue. As ons praat van die huwelik as ‘n instelling van God, dan sê ons dit is ‘n samesyn van twee mense volgens ‘n ontwerp van God. Dit is gemaak om te funksioneer volgens ‘n plan van God. Afwykings van die bedoeling van God met die huwelik is nie vir Hom aanvaarbaar nie. As ons sê die huwelik is heilig, beteken dit, dat die huwelik iets van God is. In die Engelse wêreld word daar gepraat van “holy matrimony”, soos van “holy Bible”. Dit beteken dat ons daarvoor respek het.

Alle gelowiges en ook ons medegelowiges wat ‘n homoseksuele oriëntasie het, moet respek hê vir die huwelik as ‘n instelling van God. Dit is die wyse waarop ons soos ‘n stad op ‘n berg moet wees vir God, in ‘n dwase wêreld.

Alles in ag genome, dink ek is daar in die komplekse situasie waarmee ons te doen het, nie ’n beter benadering as die wat in die TP voorgestel word nie: “Ons moet hom help om in te sien dat sy oriëntasie die gevolg van sonde is – die mens se sondige en vervalle bestaan as gevolg van die sondeval – maar dat daar verlossing, vryspraak en lewe is deur Jesus Christus.”

Terloops - die vergelyking wat Mike maak tussen homoseksualiteit en slawerny gaan regtig nie op nie. As ek Paulus reg verstaan uit bv sy brief aan Filemon, dink ek sou hy baie dankbaar wees as hy die afskaffing van slawerny kon belewe. As hy egter moes hoor hoe die kerk sy pertinente onderrig oor homoseksuele gedrag, vandag wil interpreteer, sal hy ten sterkste beswaar maak....”[3]

3. Evolusie

In 1971 het ek begin teologie studeer by Tukkies. Prof Heyns het vir ons ‘n diktaat met die titel “Die Evolusie-Teorie”, gegee. Ek was opgewonde hieroor, want ek het gehoop dat prof Heyns my sou kon help om antwoorde te kry oor evolusie en die Bybel. Ek het egter nie die antwoorde gekry waarop ek gehoop het nie.

In 1974 is ek as predikant gelegitimeer. Die lede van die kuratorium het ons vierde jaars ondervra om vas te stel of ons gereed was om leraars in die kerk te word. Een van die lede se vraag aan my was: “Mnr Louw, was Adam ‘n historiese persoon of nie.” Ek het nie die antwoord op die vraag geweet nie, maar het gemeen dis veiliger om bevestigend op die vraag te antwoord en so is ek die bediening in!

Die Here was my egter genadig. In my eerste gemeente het iemand vir my ‘n boekie gegee met die titel Evidence against Evolution. Die skrywer het vir my op oortuigende wyse uitgewys dat evolusie ‘n filosofie is wat opgekom het uit ‘n ongelowige mensheid wat vir God nie ‘n plek in hulle denke wil gee nie. Die Here het meer en meer boeke op my pad gebring, wat my tot die besef gebring het dat daar geen spanning is tussen die Bybel en werklike wetenskap nie....”[4]

Dit het ‘n paradigmaskuif in my lewe te weeg gebring. Ek was ook in my gemoed gekonfronteer met die argumente wat Mike opper naamlik: Is die hele “wetenskap” dan op ‘n dwaalspoor? Meer nog: Is die kerk mislei deur ‘n leuen? Ek het op ‘n punt gekom dat ek voor die Here gaan staan het en vir Hom gesê het: U het my die verstand gegee wat ek het. U het sekere feite onder my aandag gebring. Ek moet aan myself getrou wees. Ek is bereid om vir U ‘n dwaas te wees in die oë van die wêreld en van my vriende, maar ek kan nie langer op twee gedagtes hink nie. Dit is hoe dit gekom het dat ek vandag (miskien soos Luther) openlik wil sê: Ek is ook een van daardie mense wat Mike ‘n kreasionis (skeppingsleerder) noem. Ek kan nie anders nie.

Ek wil nie verder argumenteer oor natuurwetenskaplike argumente nie. Hennie Mouton wys in my opinie...”[5] op logiese en helder wyse dat die evolusieleer niks anders as ‘n “leer” is nie. Dit is boonop ‘n “leer” wat meer geloof verg, as om in die Bybel te glo. Dit het niks met wetenskap (getoetsde kennis) te doen nie.

In Spr 8 lees ons van Wysheid wat roep langs die paaie, op die hoogtes en by die kruispaaie. So roep skeppingsleerders die kerk vandag tot besinning. Hulle skep webblaaie op die internet, hulle hou seminare, hulle skryf boeke. Daar is nie vir hulle geld daarin nie. Hulle doen dit in belang van die Waarheid. Hulle doen dit vir die Here en vir die eer van sy Naam. Daar is vandag honderdmaal meer inligting en argumente oor die onderwerp op die internet beskikbaar, as 35 jaar gelede toe ek die eerste keer daarmee gekonfronteer is.

Waarom gee Christene nie ag op die inligting wat so ryklik beskikbaar is nie? Waarom kies so baie kinders van die Here vir die dwaasheid van die evolusieleer? Daar is ‘n hartseer werklikheid dat die kerk dikwels optree soos skape wat agter die meerderheid aanhardloop en nie vir hulleself wil dink nie. Mike kom ook met die gedagte van die meerderheid wetenskaplikes...”[6]. Hy is besorg dat ons, ons belaglik sal maak voor die wêreld. Henk Gous het ook min of meer dieselfde besorgdheid oor die skeppingsleerders.

Hieroor wil ek graag herinner aan die woorde van die Here Jesus in Mark 8:38: “Wie hom dan vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam, wanneer Hy kom saam met die heilige engele, en beklee is met dieselfde heerlikheid as die Vader.” Die waarskuwing in hierdie konteks is dat die kerk gesonde verstand kan prysgee, in ‘n lafhartige poging om deur die wêreld aanvaar te word. Wanneer dit gebeur, word die kerk ‘n riet in die wind. Op die dag van die Here, wanneer Hy voor die satan sou wou spog oor sy kinders, sal Hy Hom moet skaam oor hulle onbetroubaarheid.

Die situasie word nog erger as mens let op die woorde wat Jesus in hierdie gedeelte gebruik, as Hy van die wêreld praat. Hy sê dit is ‘n “ontroue” (‘n owerspelige) en ‘n “sondige” geslag. Die apostels beskryf die wêreld met dieselfde soort bewoording. Dit moet dus nie vir ons vreemd wees, as die teenswoordige wêreld hom met dwaasheid en leuens besig hou nie. Dit is eie aan die wêreld. Ons is egter geroep om te bid: Laat U Naam geheilig word. Ons is geroep om ons te beywer vir die eer en die lof van God in ‘n dwase wêreld.

Die volgende argument wat ons dikwels hoor is: Wat maak dit nou eintlik saak, hoe God geskep het? Mike stuur ook in daardie rigting as hy argumenteer dat die Bybel bedoel is vir die saligheid en nie allerande ander sake nie. Dit bring my terug by die vraag wat aan my gevra is toe ek gelegitimeer is: Was Adam ‘n historiese figuur? Waarom het ek daaroor getwyfel? Dit was die evolusieleer, wat meegebring het dat ek verwar geraak het oor die leer van die Skrif. Ek het gedink die wetenskap weerspreek die Bybel. Mens kan nou maar redeneer soos jy wil, maar die evolusieleer, leer iets anders as wat die Bybel ons leer.

Andrew Murray pryswenner, Gideon Joubert, het in sy “Die Groot Gedagte” die verskyning van die mens as volg voorgestel:

  • 1 000 000 jaar gelede - die eerste aapagtige mens (homo erectus), begin regop loop.
  • 250 000 jaar gelede - homo sapiens maak sy verskyning. Mettertyd begin homo sapiens geluide maak en kommunikeer.
  • 35 000 jaar gelede – eenvoudige gereedskap.
  • 10 000 jaar gelede – pyl en boog.
  • 5 500 jaar gelede – skryfkuns.

Joubert doen sy bes om hierdie evolusionistiese konsep met die Bybel te versoen, maar mense wat eerlik wil wees met hulleself en met die Bybel sal dadelik die volgende opmerk:

  • Daar is nie meer in hierdie konsep, ‘n Adam en ‘n Eva nie. Die Bybel leer duidelik dat Eva die moeder was van al die mense. Nou is daar skielik baie Adams en Evas.
  • Daar is nie meer ‘n paradys, waar Adam en Eva in ‘n volmaakte verhouding met God geleef het nie. Die Heidelbergse Kategismus stel dit so: “God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys”. Glo ons dit nog? Kan ons nog voor ‘n katkisasieklas staan en die jongmense met entoesiasme in hierdie waarhede onderrig?
  • Wat moet mens maak met al die kinders en nageslagte van Adam en Eva wat almal in die Bybel by die naam genoem word. Het die Bybelskrywers dit alles uit die duim gesuig? Waarom sou hulle? Dit is nie noodwendig interessante leesstof nie. Is dit hier waar die sinode wil hê dat ons feite moet begin “interpreteer”, of dat die Bybel nie aanspraak maak op “historiese eksaktheid” nie.
  • Waar kom die sonde vandaan as daar nie meer ‘n historiese Adam was nie? Het God die aarde met sonde en al geskep? So word die fondamente van die Evangelie aangetas. Jesus se lewe en sterwe, maak alleen sin vanuit die sondeval. Waar jy ookal probeer om die evangelie te verkondig, Afrika, Asië of Europa, die sondeval is inhernent deel van die Evangelie. Dit was al van Paulus se tyd af deel van die Evangelie, toe hy gepraat het van die eerste Adam en die laaste Adam (Rom 5:12 en verder).
  • Waar kom die dood vandaan? Daar was aan die begin nie dood of lyding nie. Die evolusieleer impliseer egter dat die dood altyd daar was. Volgens hulle voorstelling vertel die baie fossiele van grootskaalse uitsterwe van diere, baie miljoene jare gelede, voordat die mens verskyn het en die dood deur die sondeval veroorsaak is. Hoe antwoord die kerk daarop? Skeppingsleerders oor die hele wêreld, doen navorsing oor die geweldige implikasies van die sondvloed, waarvan die Bybelse geskiedskrywers praat. Dit is ‘n teleurstelling, dat ons teoloë die vloed afmaak as ‘n mite en saam met die ongelowige wêreld glad nie wil rekening hou met die werklikheid van die gebeurtenis, soos dit in die Bybel aangeteken is nie.

(Kyk ook voetnota [7].)

Om saam te vat

Mike wil die skrywers van die TP ten laste lê dat hulle standpunte gemotiveer word vanuit ‘n meganiese inspirasie beskouing. Ek het ‘n uiteensetting gegee van my eie verstaan van die betroubaarheid en gesag van die Skrif. Dit is egter nie my ervaring van die skrywers dat hulle op ‘n bekrompe manier na die Skrif kyk nie. Mike het sy siening gegee oor die kwessie van homoseksualiteit en ek het hom daarop geantwoord. Oor die evolusieleer is ek verbaas dat Mike so ver gaan dat hy dit nie eens meer as ‘n teorie beskou nie, maar skynbaar as getoetsde wetenskap. Ek is werklik verstom daaroor dat hy skynbaar glo dat een soort evolusionêr uit ‘n ander kon ontwikkel. Ek kon nie daarby uitkom om Mike te wys op die ingrypende genetiese herskrywing van inligting wat dit behels nie. (Christene wat in die evolusieleer glo, wil God elke keer in roep om daardie probleem vir hulle op te los, al beteken dit dat God, in stryd met wat vir ons geopenbaar is, oor miljoene jare nuwe programme vir soorte geskryf het en nou nog nie klaar is daarmee nie.) Ek het ook kortliks probeer aantoon hoe die evolusieleer die fondamente van die evangelie aantas.

Wat ek nie kan kleinkry nie is dat Mike nie ‘n woord rep van die werklik ernstige aantasting van die Waarheid by sekere dosente en leraars in die kerk nie. Ek sou vir hom wil sê: “Mike, staan jy regtig koud daaroor dat ‘n dosent wat ons jongmense voorberei om leraars te word, openlik in die koerant en op die Teologiese Fakulteit se webblad aangekondig het dat hy nou ‘n post-teïs is en intellektuele bevrediging gevind het by die panenteïsme?...”[8] Al waaroor jy jou in hierdie verband kan uitspreek is die werkswyse van die skrywers. Jy noem dit “liefdeloos en onbillik!”

Mike, gaan daar nie vir jou rooi ligte aan as die skrywers van die TP ‘n verklaring van 10 afgetrede dosente van UP insluit (bl 103-106), waarin hulle die volgende verklaar nie:

  • Ons aanvaar die geloof dat die Bybel die Woord van God is.
  • Ons distansieer ons van die beskouing van die pan-en-teïsme.
  • Ons aanvaar ‘n transendente werklikheid.
  • Ons distansieer ons van die standpunt ….. wat die transendente bestaan van die Bose ontken.
  • Sentraal tot die verlossingsplan is die Godheid van Jesus.
  • Ons aanvaar dat God in beheer is van die skepping en die geskiedenis.
  • Ons distansieer ons van afwykings en herinterpretasies van enige artikel van die Apostolicum.

Op wie sou hierdie verklaring gemik wees? Op die kerk daar ver in Europa of in Amerika? Nee, dit is gemik op kwessies wat nou ter sprake is by UP en ook wyer in die NG Kerk.

Ruimte het ontbreek om ook in die boek te herinner aan die opstand van ‘n groep teologiese studente in 2005 by UP, oor die leringe van hulle dosente. Daar was ook die DVD van Sarel van der Merwe wat hy met groot moeite en koste saamgestel het om blatante dwaalleringe onder die kerk se aandag te bring. Adrio König het daarna sy boek, Die Evangelie is op die spel, die lig laat sien. Die moderators van die verskillende streeksinodes van die NG Kerk het ook ‘n jaar of wat gelede ‘n verklaring uitgereik waarin hulle bevestig het dat hulle in die liggaamlike opstanding van Jesus glo.

Is al hierdie aksies in die kerk die afgelope tyd, ook vir Mike tekens van liefdelose en onbillike protes? Die skrywers van die TP is volwasse gelowiges, wat aktief betrokke is in hulle gemeentes. Die Naam en eer van God is vir hulle op die spel. Dit is hoekom hulle die onderneming aangegaan het om ‘n boek te skryf. Woorde is geweeg en daar is gebid. Die oogmerk met die boek is, dat daar weer respek sal kom vir die Waarheid en vir die heiligheid van God in die NG Kerk.

Voetnotas deur die webmeester:

[1] Julius Ceasar se laaste woorde volgens Shakespear. Dit beteken "is jy ook een van hulle" en het dit gesê toe hy besef het dat Brutus, sy goeie vriend, ook deel was van die komplot om hom dood te maak.

[2] Kyk ook Die Bybel oor Homoseksualiteit.

[3] Kyk ook Die Bybel oor slawe.

[4] Kyk bv Operasionele vs Historiese wetenskap, wat die verskil tussen operasionele en historiese wetenskap verduidelik.

[5] Kyk oa die boek Skepping & Evolusie – Onversoenbaar!

[6] Kyk Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?

[7] Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?

[8] Kyk Dít wat ons nié dink, deur Julian Muller self.