Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Repliek op Mike Smuts se resensie oor "Die Trojaanse Perd" - Amptelik PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Vrydag, 11 Februarie 2011 15:27

Kyk ook:

Repliek deur Gideon Aggenbag, Hennie Mouton en Daniel Louw

Onderstaande bestaan uit dr. Mike Smuts se uitgebreide resensie op ons boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme” met ons kommentare daarop in [vierkantige hakies] ingevoeg. Ongelukkig het dr. Smuts allesbehalwe ’n gebalanseerde en objektiewe, of selfs in baie gevalle ’n akkurate, resensie gelewer.

*****

Kommentaar deur Mike Smuts op: Die Trojaanse Perd in die NG Kerk

Besonderhede van de boek:

Skrywers: Besorgde lidmate en leraars

Titel en subtitel: “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusionisme en liberalisme”

Uitgewers: Privaat uitgegee?

Publikasiedatum: 2010

Inleiding

Die titel en inhoud van die boek behoort enigeen wat die NG Kerk lief het tot kommer te strek. Daarom moet dit nie ligtelik geïgnoreer word nie. Ek het die boek noukeurig nagegaan en lewer graag my kommentaar en bevindinge daaroor.

[Dr. Mike Smuts het die subtitel verkeerd. Ons maak ’n onderskeid tussen evolusie en evolusionisme (wat eintlik ’n ekstrapolasie van evolusie is). Ons glo nie slegs evolusionisme is soos ’n kanker nie, maar selfs die evolusiehipotese ook.]

Eers gee ek ‘n kort oorsig oor die doel en bevindinge van die boek, en daarna behandel ek ’n paar van die belangrikste sake wat in boek aangesny word.

Ek het aanvanklik ook ’n aantal algemene opmerkings gemaak oor die werkwyse en styl van die boek, maar die dokument het te lank geword. Dit verskyn nou aan die einde van die dokument vir diegene wat daarin belang stel.

Doel en oorsig

Volgens die voorwoord “is daar groeiende kommer by baie NG-predikante en lidmate oor ’n devaluering van die Bybel en afwykende leerstellige tendense in die Kerk.” Die skrywers beweer dat die saak “krisisafmetings” aangeneem het en hulle is oortuig dat dit onder aandag van medegelowiges gebring moet word.

Oorsig van die inhoud: Volgens die opstellers is die “wortel van die probleem” die aftakeling van die gesag van die Skrif. Dit word in hoofstukke 1 en 2 aan die orde gestel. Hoofstukke 3 tot 8 word gewy aan die “belangrikste gevolge” hiervan en sluit sake in soos homoseksualiteit, postmoderne denkwyses, evolusie en evolusionisme en die huwelik. Hoofstuk 9 word gewy aan ’n moontlike pad vorentoe.

In een van die Bylaes (D) word lesers aangeraai om by beroeping van ’n predikant ’n reeks aanbevole vrae aan kandidate te stel voordat hulle vir beroep na ’n eie gemeente oorweeg word.

Vervolgens kyk ons na die volgende spesifieke sake wat die kern van die boek uitmaak:

  • Die gesag van die Skrif
  • Die Bybel en homoseksualiteit, en
  • Die Bybel en evolusie

[Ons vind dit vreemd dat dr. Mike Smuts nie liberalisme hier ook as een van die kernsake van die boek noem nie – dis immers deel van die boek se titel en is regdeur die boek ter sprake.]

Spesifieke sake 1: Die gesag van die Skrif

Onderliggend aan al die besware wat die boek hanteer is ’n radikale verskil in Skrifbeskouing. Die talle verwysings na liberalisme dui op mense wat nie hulle siening van die Bybel saamstem nie. Dit is jammer dat die skrywers nie hulle eie siening van die Bybel en sy gesag formuleer nie. Wat ons wel kry is hulle besware teen die heersende siening van die Algemene Sinode oor die Skrif en die gesag van die Skrif.

[Wil dr. Smuts nou regtig sê dat hy, wat sekerlik ’n ander Skrifbeskouing in sekere opsigte as ons het, geen van die talle liberales wat in die boek aangehaal word, se uitsprake té liberaal vind nie? Of kan mens hier al sien dat hy baie selektief net foute volgens hom in die boek gaan soek, sonder om eers tenminste te erken dat hy oor sekere sake met ons saamstem? ]

1. Die menslike karakter van die Skrif

Op bladsye 30 en 31 haal die skrywers verskeie sinsnedes aan uit die verslag wat in 2002 voor die Algemene Sinode gedien het. Die seleksie van sinsnedes het almal op een of ander manier te make met die “menslike karakter van die Skrif”. Teenoor die erkenning van die menslike karakter, soos in die verslag, stel die skrywers dit soos volg: “Die ‘menslike’ aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op so ‘n manier beklemtoon dat die soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet.1:21) op die agtergrond gedruk word.” (p.30)

Die vraag is dus: Is die Bybel ook ’n menslike boek en indien wel, watter implikasies het dit vir ons siening van die gesag van die Bybel as God se Woord?

[Hierdie vraag van Mike Smuts is ontoepaslik want dit is ’n verdraaide voorstelling van wat die skrywers voorstaan. Dit bring mee dat hy besig is om die strooipop wat hy self opgestel het, af te skiet – en hy gebruik bladsye en bladsye van sy resensie om dit te doen. Kyk ondertoe vir die verduideliking waarom ons dit sê.]

Om by die antwoord op die vraag uit te kom, moet ons eers kyk na ons verstaan van hoe die Heilige Gees die skrywers van die Bybelboeke geïnspireer het. Gewoonlik word verwys na 2 Tim.3:16-17 waar daar staan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer ......”. Eintlik is die “Skrif” waarna 2 Tim. verwys nie die Bybel soos ons hom vandag ken nie. Dié het toe nog nie bestaan nie. Dit verwys na die Skrifte van die huidige Ou Testament. Ons glo egter dat dit ook op ons huidige Bybel van toepassing gemaak kan word.

[Ons stem saam met die verklaring in laasgenoemde sin.]

Die vraag is nou: Hoe het God die skrywers geïnspireer? Daar word gewoonlik ten minste twee moontlikhede genoem: ’n meganiese inspirasie of ’n organiese inspirasie. Met meganiese inspirasie word bedoel dat die Heilige Gees die teks van die Bybel woord vir woord vir die skrywers gedikteer het. Indien dit die geval is, sou dit beteken dat elke woord Goddelike inspirasie dra en dat daar geen menslike faktor in die skryf van die Bybel op die spel is nie.

Met organiese inspirasie word bedoel dat God die boodskap vir die skrywers geïnspireer het, maar dat hulle dit in hulle eie taal en volgens hulle eie idioom en skryfwyses geformuleer het. Met hierdie siening van God se inspirasie, beteken dit dat heelwat van die mens wat die boodskap op skrif stel ook gaan deurskyn, asook die omstandighede en kultuur waarin die skrywer opgetree het.

Voorbeeld: Ek illustreer hierdie menslike element met een voorbeeld van baie waarvan die Bybel vol is: Lees asb. 1 Kor.1:10-17. Uit die hele brief aan die Korintiërs is dit duidelik dat die ontstaan van partyskappe en verdeeldheid binne die gemeente ’n groot probleem was. Blykbaar het die mense aanhangers geword van die persone wat hulle gedoop het. So ontstaan Paulus, Apollos, en ander “partye”. Paulus is hieroor baie ontsteld en spreek die gemeente daaroor aan. Hy vra selfs: “Is Christus stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig of is julle in die naam van Paulus gedoop?” Hy gaan dan met heftige oortuiging voort as hy sê: “Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie.” Dan onthou hy dat dit nie heeltemal waar is nie. Daarom voeg hy by: “behalwe Krispus en Gaius.” Met dieselfde oortuiging gaan hy voort: “Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie.” Dan onthou hy: “Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop.” Daarna is hy totaal onseker of hy miskien nog iemand gedoop het: “... maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie.”

[Hierdie Skrifgedeelte demonstreer die onwaarskynlikheid van meganiese inspirasie, maar hoekom Mike Smuts die gegewens in die Bybel moet oordryf om sy punt te maak, weet ons nie.]

Uit die gedeelte is dit duidelik:

  • Dat die teks van die bogenoemde perikoop duidelik nie deur God meganies gedikteer is nie.
  • Dat Paulus die mens hier aan die woord is en sy ontsteltenis, vergeetagtigheid en onsekerheid laat blyk.
  • Dat die menslike omstandighede in die gemeente van Korinte ’n groot rol speel.
  • Dat die boodskap van die belangrikheid van die eenheid van die gemeente en die sonde van verdeeldheid steeds met God se gesag oorgedra word.

2. Affekteer die erkenning van die menslike in die Bybel die gesag daarvan?

Die opstellers van die Trojaanse Perd (TP) reken dat dit wel so is. Hulle verklaar dat die beklemtoning van die menslike in die totstandkoming van die Bybel die “oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees op die agtergrond” druk. (p.30) Nadat hulle die aantal sinsnedes uit die verslag van die Algemene Sinode aangehaal het, verklaar hulle op p.32 : “Die opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is, kom in wese daarop neer dat ons die Bybel nie meer kan vertrou nie.”

[Hierdie is oneerlike verdraaiing deur Mike Smuts, naamlik om die saak van oorbeklemtoning waarvan die boek praat, te vervang met slegs beklemtoning. Die presiese sin in die boek waarna hy verwys en dan verdraai, is: “Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet. 1:19-21) op die agtergrond gedruk word.” Vanuit hierdie wanvoorstelling, vra hy bogenoemde en die volgende ontoepaslike vraag.]

Die vraag is of die aanvaarding van ’n organiese inspirasie die gesag van die Bybelse boodskap verminder?

Laat ek illustreer met ‘n voorbeeld: ’n Bestuurder van ‘n besigheid wil ‘n brief aan ‘n kliënt laat tik. Hy neem sy diktafoon in die hand en dikteer die brief. Sy sekretaresse sit haar oorfone op en tik meganies presies soos wat die bestuurder gedikteer het. Sy naam word onderaan getik en hy teken dit. Alhoewel sy dit getik het, is dit sy brief met sy woordkeuses en styl onder sy naam.

Die bestuurder wil ook ’n brief aan ’n ander kliënt laat tik. In die geval gee hy aan sy sekretaresse opdrag om die brief vir hom op te stel en hy verduidelik ook aan haar wat sy vir hulle moet skryf. Hierdie keer formuleer sy die inhoud van die brief self (organies). Dit is haar sinsbou, woordkeuses en styl. Onderaan tik sy die bestuurder se naam en neem dit vir hom om dit te teken. Vir die kliënt wat die brief ontvang is dit die bestuurder se brief en sy handtekening bevestig die gesag daarvan. Die tweede brief het geensins minder gesag as die eerste nie, omdat albei die handtekening van die bestuurder dra.

Ons glo dat die Bybelse boodskap deur feilbare mense geskryf is en dat die menslike gedurig deurskemer, maar dat die boodskap steeds God se “handtekening” daaronder het. Die erkenning van die menslike in die Bybel doen geen afbreuk aan die Goddelike gesag van die Bybel nie.

[Die saak van meganiese of organiese inspirasie is nie ter sake betreffende ons boek nie, want ons het nêrens die menslike aandeel ontken, of beweer dat dit die gesag van die Bybel sou aantas, soos Mike Smuts skynbaar aflei of wil voorgee, ons gedoen het nie. Hy verwar klaarblyklik die glo van feite in die Bybel waar die skryfstyl feitelik is, met meganiese inpirasie.

Ons aanvaar ook organiese inspirasie, maar wel nie die oordrewe soort organiese inspirasie wat dr. Smuts bepleit nie. Sy idee van organiese inspirasie is skynbaar dat, om sy voorbeeld te gebruik, die sekretaresse sommer nog paragrawe vol foutiewe inligting bygesit het. Natuurlik stel hy dit nie so in sy voorbeeld nie, maar klaarblyklik dink hy dit betreffende byvoorbeeld heelwat van die inligting in Genesis – die Bybelskrywers het byvoorbeeld inligting oor skeppingsdae, ’n wêreldwye vloed en hoofstukke vol name en ouderdomme van mense bygevoeg, wat volgens dr. Smuts se siening onwaar is.

Ons punt is: die oordrewe erkenning van die menslike in die Bybel doen wel afbreuk aan die gesag van die Bybel, en dít is waarteen die boek waarsku.]

3. Die Bybel het ’n spesifieke gesag!

Hierdie stelling mag skokkend klink, maar is baie belangrik – veral vir die beoordeling van latere hoofstukke van TP.

[Wat Mike Smuts hiermee bedoel, is dat die Bybel net beperkte gesag het. En ongelukkig beperk hy hierdie gesag nie net tot die sake waaroor in die Bybel geskryf is nie. Selfs oor sommige sake waaroor die Bybel direk skryf, reken hy die Bybel het ook nie dáároor gesag nie. Om spesifiek te wees – volgens hom is die geskiedenis en feite wat in die Bybel beskryf word, nie noodwendig waar nie. Hiermee stem ons beslis nie saam nie, en ja, verskil ons radikaal van hom.]

Kom ons kyk weer na die bekende 2Tim.3:15-17. Paulus skryf aan die jong Timoteus: “...en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur geloof in Jesus Christus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswandel te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome toegerus en voorberei sal wees vir elke goeie werk.” (Eie onderstreping)

Die teks beklemtoon dat die Skrif “groot waarde” het en beklemtoon dan veral drie sake:

  • Dit bring kennis wat lei tot verlossing deur geloof in Jesus Christus, en
  • Dit stel ons in staat om in ons diens aan God “volkome toegerus en voorberei te wees vir elke goeie werk.”
  • Dit stel ons in staat om in belang van die regte lewe in diens van God “die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel.”

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) “beperk” ook die doel van die Skrif tot die openbaarmaking van die wil van God en die kennis tot saligheid. Artikel 2 handel oor die middele waardeur ons God kan ken. Hy stel dit dan eerstens dat ons Hom ken “deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld.” (Ons kom later na hierdie eerste manier terug.) Die tweede manier waarop ons God kan ken is deur sy Woord. Die NGB stel dit so: “Tweedens maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome bekend en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe tot sy eer nodig is en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.” (Eie onderstreping)

Artikel 5 handel oor die gesag van die Heilige Skrif en sê: “Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grond en daarmee te bevestig.” (Eie onderstreping)

Artikel 7 van die NGB stel dit so: “Ons glo dat hierdie heilige Skrif die wil van God volkome bevat en alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. ....” (Eie onderstreping)

Indien ons 2 Tim.3:15-17 ernstig opneem en ook die bogenoemde artikels van die NGB , is die geïnspireerde openbaring van die Bybel ’n openbaring met ’n baie spesifieke doel. Dit openbaar wie God is, sy verlossingsplan en riglyne vir ’n lewe in diens van God. Dit is waaroor die Bybel handel en dit is sy gesagvolle openbaring.

Om die Bybel gesagvol vir ander doeleindes te wil gebruik, is om die Bybel te misbruik!

In die behandeling van die Algemene Sinode se verslag, sê die skrywers van TP: “Hoe sal ons die vals apostels van 2 Kor.11 herken as ons nie die Bybel as meetinstrument gebruik en glo nie?” (p.33) (Eie onderstreping) Ek is in die versoeking om te reageer op die ongelukkige verwysing na “valse profete” in die behandeling van die verslag van die Sinode en ook die ontoepaslike gebruik van 2 Kor.11:13-15 in die verband, maar ek laat dit daar. Ek wil graag aansluit by die woord “meetinstrument” wat in die bg. aanhaling gebruik word.

Natuurlik kan ons die Bybel as meetinstrument gebruik, maar dan vir die doel waarvoor God Hom gegee het, nl. om Hom beter te leer ken, sy wil te ontdek, sy verlossing in Christus te aanvaar en Hom in gehoorsaamheid te dien. Ons kan egter nie die Bybel as “meetinstrument” gebruik om die geldigheid van wetenskaplike bevindinge te toets nie! Net so min as wat ons ‘n termometer kan gebruik om die lengte van ‘n paal te meet. Hy is nie daarvoor bedoel nie.

Om die Bybel aan te wend vir doeleindes waarvoor hy nie bedoel is nie, is om aan die Bybel en sy geloofwaardigheid ’n onreg aan te doen! Ons moet die gesag van die Bybel erken op die terreine wat God bedoel het dat hy gesag moet hê en nie daarby verby beweeg nie. Later meer daaroor as ons kyk na die hoofstuk oor evolusie.

[Hierdie is ’n onaanvaarbare argument. God het vele male regdeur die Ou Testament, met die Israeliete en hul voorgangers deur werklike geskiedenis gepraat en gewerk. Dit is deel van God se verlossingsplan. Veral die feitelike werklikheid van Adam en Eva en die sondeval is vir die mens belangrik om te kan verstaan wat die oorsprong van die mens se sonde is, en waarvan die mens verlos moet word. Hierdie geskiedenis is ’n onontbeerlike deel van God se verlossingsplan. Vertel julle kinders van die groot dade wat die Here gedoen het, staan in Ps. 78:3 en 4: “Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van die HERE en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het.” Kyk ook na 1 Kron. 16:8 “Loof die HERE, roep sy Naam aan, maak onder die volke sy dade bekend!” God se handelinge (in terme van werklike geskiedenis) met Israel moes as bewyse óók aan ander volke dien dat daar net een God is.

Daar is geen manier waarop die Bybel die gedagte kan akkommodeer dat, waar die skyfstyl geskiedkundig van aard is, dit uit onwaar stories bestaan nie. Die belydenisskrifte verklaar nêrens dat die Bybel slegs gesag betreffende direkte geloofsake het nie. Die Bybel verklaar dit ook nie oor homself nie. “ … vir elke goeie werk” in 2 Tim. 3:17 bevestig sekerlik dat die gesag van die Bybel nie beperk kan word soos dr. Smuts dit probeer doen nie. Daar staan nie “… vir een goeie werk” nie.

Om ’n multidoelige meetintrument slegs vir een doel te gebruik, en dan te verklaar dat die gebruik van die ander doele daarvan misbruik is, is ’n onsinnige verklaring en ’n uitstekende voorbeeld van onkundige gebruik.]

4. Menslike skryfwyses

Die mense wat die Bybelse boeke op skrif gestel het, het dit onder inspirasie van God se Gees gedoen. Die boodskap is deur God geopenbaar, maar die (organiese) inkleding daarvan is deur mense in mense taal en volgens die kultuur en skryfwyses van hulle dag.

Ongelukkig stem die skrywers van TP nie met die siening saam nie. ‘n Erkenning van die menslike in die Bybel word geïnterpreteer as ‘n miskenning van die rol van die Heilige Gees.

[Dr. Mike Smuts is verkeerd en is hier nog steeds besig met sy wanvoorstelling van die skrywers se uitdruklike bewoording en bedoeling. Met organiese inkleding stem ons beslis saam. Maar let wel – dit gaan oor “inkleding”, nie oor onwaar uitgebreide byvoegings deur die Bybelskrywers nie.]

Op p.66 sê hulle : “Vir die een groep predikante en teoloë is die Bybel ‘n baie ou boek wat in ooreenstemming met die kultuur en wêreldbeskouing van daardie tyd geskryf is. Die kultuur en wêreldbeskouing van daardie tyd het dus bepaal wat in die Bybel geskryf is (let op: nie die Heilige Gees nie.)” (Opmerking in hakies ook die van die skrywers)

[Weereens borduur Mike Smuts hier voort op sy foutiewe afleiding dat ons meganiese inspirasie van die Bybel voorstaan. Dit is ’n goeie voorbeeld van ’n strooipop-argument – stel jou opponent se argument verkeerd of verdraaid voor, en skiet dit dan af. Dit lyk oppervlakkig goed, maar is in werklikheid nie goeie argumentering nie.]

Ek wil graag aan die skrywers die voordeel van die twyfel gee en dat hulle die verduideliking tussen hakies nie moedswillig geskryf het nie, maar dat dit is hoe hulle dit verstaan.

[Nee, dr. Smuts, ons verwys hier na hedendaagse mense wat so swaar op die kultuur en hulle idee van die wêreldbeskouing van daardie tyd steun, dat hulle self die rol van die Heilige Gees misken. Die miskenning doen hulle nie noodwendig direk nie, maar wel indirek deur allerlei gegewens in die Bybel as onwaar te aanvaar. “Die voorbeelde {van foute in die Bybel} kan eindeloos vermeerder word” staan byvoorbeeld in die 2002-sinodeverslag oor Skrifgesag.]

Indien dit so is dat hulle dit sien dat ‘n skrywe binne die kultuur en wêreldbeskouing van die tyd beteken dat die Heilige Gees nie daarin ‘n rol speel nie, slaan hulle die bal heeltemal mis. Binne die aanvaarding van ‘n organiese inspirasie kan ons heel gemaklik sien dat die Heilige Gees die boodskap inspireer en dat die skrywer dit inklee volgens sy aard, kultuur en skryfstyl. Dit beteken beslis nie dat die kultuur die boodskap bepaal en dat die Heilige Gees nie daarin betrokke is nie! Die boodskap word deur die Gees geïnspireer en die inkleding van die boodskap word kultureel beïnvloed.

[Mike Smuts se kritiek op ons boek op hierdie punt is onvanpas soos reeds aangetoon. Dit is hý wat die bal mis slaan betreffende ons siening. Ons kan heeltemal met sy laaste sin saamstem, behalwe as hy daardeur sy idee van foute in die Bybel, of onaanvaarbare hervertolkings, wil regverdig.]

Nog meer oor skryfwyses: Vergelyk ‘n mens die briewe van Paulus met die van Johannes is daar herkenbare stylverskille. Net so het Lukas herkenbare eie voorkeure vir woorde en uitdrukkings. Hierdie verskille volgens die persoonlikheid en styl van die onderskeie skrywers kan beslis nie aan die direkte inwerking van die Gees toegeskryf word nie.

[Ons stem saam, maar die Heilige Gees sou nie toelaat dat verskillende skryfstyle die waarheid affekteer nie. Ons het dit ook teen die hervertolking van wat geskryf is om die teks iets anders te laat beteken as die oorspronklike. Ons het geen beswaar aangeteken teen die invloed van die destydse kultuur op die skryfstyl, die manier van sê, of hoe dit geskryf is nie (organiese inspirasie). Ons het dit duidelik teen die bewerings dat die kultuur en wêreldbeskouing bepaal het wat in die Bybel geskryf word (dus blote "mensewoorde óór God") –nie hoe dit geskryf is nie.]

Ons vind in die Bybel ‘n verskeidenheid van literatuursoorte soos vertellings, geskiedenis, poësie, wetboeke, profesieë, wysheidsliteratuur, evangelies, briewe, opebaringsliteratuur, ens. Die literatuurvorme is nie uniek aan die Bybel nie. Dit is ontleen aan die style van die tyd en deur die skrywers van Bybelboeke benut om die boodskap van God aan hulle mense deur te gee. Die style en skryfwyses en woordkeuses is menslik, maar die boodskap is van God self. Om die gesagvolle openbaring van God beter te kan ontvang, is dit belangrik om die verkillende literatuursoorte te onderskei en respekvol te interpreteer.

[Ons stem absoluut saam dat daar verskillende literatuursoorte in die Bybel is. Daarom behoort byvoorbeeld Genesis 1-11 verstaan te word as werklike geskiedenis, want die skryfstyl is geskiedkundig van aard. Die probleem is egter dat Mike Smuts nie eers dit wat byvoorbeeld as geskiedenis neergeskryf is, wil glo nie. Is dit miskien om die evolusiehipotese te akkommodeer? Of van waar af is hy bereid om die geskiedenis in Genesis te glo? Van hoofstuk 12 af? Hoekom nie van vroeër of later nie? Soos aangetoon in ons boek, is prof. Jurie le Roux heel bereid om die historisiteit van Abraham te laat vaar (bl. 18), maar Abraham se geskiedenis begin eers in Gen. 17. Bepaal dr. Smuts se geloof in evolusionistiese wetenskaplikes se “meerderheidsopinie” die mate waartoe hy bereid is om die Bybel te glo? Dit lyk inderdaad so. Dit is egter glad nie konsekwent om so met die Bybel om te gaan nie en daardeur word eintlik ’n bespotting gemaak van Christene. Kyk wat sê Dawkins in Aanhalings - Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?]

In die openbaring van Homself sluit God Hom aan by die begripsvermoë en denkwêreld van die mense. Soos ’n mens moeilike sake anders vir klein kindertjies verduidelik as wat jy dit vir grootmense sal bekend stel, gee God sy openbaring binne die bevatlikheid van die mens; die mens wat God nooit volkome sal kan begryp nie. Die mense van die Bybelse tyd het geglo dat die aarde plat is en op pilare staan, dat die hemel ’n soliede koepel is met water bokant dit. God probeer dit nie wetenskaplik reg stel nie, maar gebruik dit om daardeur Homself as die Skepper van alles bekend te stel. Met die bekendstelling van Homself en sy wil, doen Hy dit binne die verwysingsraam van die mense van die tyd sodat hulle dit kan verstaan. As ’n mens nou hierdie “onwetenskaplike” wêreldbeeld in die Bybel ontdek en die betroubaarheid van die Bybelse boodskap daaraan te toets, is dit om die Bybel ’n onreg aan te doen. Dit is ook verkeerd om dit weg te redeneer.

[Dit is onsinnig om te beweer dat die Bybel ooit ’n plat aarde voorgestaan het in absolute terme. Dit is ’n baie ou, foutiewe argument. Op bl. 4 van ons boek, voetnota 10, word daar na ’n paar artikels verwys wat die plat-aarde-kwessie aanspreek, en waar Mike Smuts se presiese stelling hierbo weerlê word. Nee, dr. Smuts, die Bybelskrywers, geïnspireer deur die Heilige Gees, was nie te dom om die begrip van ’n ronde aarde te kon verstaan nie. Daar is in ieder geval ’n paar verwysings in die Bybel na die rondheid van die aarde – Job 26:10, Spr. 8:27 en Jes. 40:22 en dan word in Job 26:7 ook nog genoem dat die aarde in die leë ruimte hang.

Om die hemel as ’n koepel voor te stel is waar vir enige aardse waarnemer, want die atmosfeer en die hemelruim vorm ’n koepel in die spesifieke verwysingsraamwerk van ’n waarnemer op aarde. Met verwysingsraamwerk bedoel ons sy geometriese verwysingsraamwerk – ook ’n heeltemal geldige begrip in die moderne wetenskap. Die verskil tussen ’n absolute en relatiewe beskrywing moet begryp word om te verstaan waarom relatiewe beskrywings ook waarheid beskryf. Moderne wetenskaplikes praat nog steeds van die son wat opkom en ondergaan – dit is vandag, net soos lank gelede, ’n geldige beskrywing van die werklikheid.

Hoe verduidelik dr. Smuts byvoorbeeld die baie hoë ouderdomme van die aartsvaders? Glo hy dit, of indien nie, hoekom sou daardie gegewens die sogenaamde dommer mense (met hul onwetenskaplike wêreldbeelde) van daardie tyd gehelp het om enigiets beter te verstaan of te glo? Nee, onrealistiese ouderdomme sou alles vir hulle slegs minder geloofbaar gemaak het. Daarom, selfs met hierdie lyn van redenering, sou God die waarheid laat opteken het. Maar dan moet mens ook nie die sogenaamde wetenskaplike bevinding glo dat Genesis eers in die Babiloniese ballingskap uitgedink is nie. Soos dikwels, lei een fout maar net tot volgende foute.]

5. Slotsom oor die gesag van die Skrif

Dit is duidelik dat die siening van ‘n organiese inspirasie van die Bybel geensins die Goddelike gesag van die Bybel aantas nie, maar eerder die eie aard van die Godsopenbaring erken en eerbiedig. God kom met gesag deur die Woord om Homself aan mense bekend te stel sodat hulle sy verlossing kan smaak en volgens sy wil kan lewe. Om die Bybel vir ander doeleindes aan te wend of oor ander sake te laat spreek, is om die Bybel se gesag te oorspan op maniere waarvoor hy nie bedoel is nie. Respek vir God se Woord behoort te maak dat ons hier baie versigtig en met groot onderskeiding beweeg!

[Weereens – meganiese teenoor organiese inspirasie is ’n ontoepaslike argument betreffende ons boek. Wat die aanvaarbare perke van die menslike bydrae in die Bybel is, sou ’n toepaslike bespreking gewees het.

Hoe kan respek vir God se Woord ooit beteken dat dit wat daarin as feite en geskiedenis geskryf is, nie as waarheid geglo word nie? Jesus sê in Joh. 3:12 “As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?” Nee, die Bybel bring sy uiters belangrike geestelike boodskappe, in meeste gedeeltes van die Bybel, gegiet in en gekoppel aan werklikhede. Die werklikheid van Gen. 1-11 is ’n baie belangrike deel van die evangelie.

Dink dr. Smuts eerlikwaar dat die volgende woorde in die 2002-sinodeverslag tekenend is van respek vir God se Woord?: "Geen aanspraak op historiese eksaktheid nie", "Die voorbeelde {van foute in die Bybel} kan eindeloos vermeerder word", "As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie", "Selfs "fiksie" en "foute" staan in diens van die Waarheid", "Dus is die Bybel self reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word", "Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen" (Ons onderstreping). (Vir meer aanhalings uit die 2002-sinodeverslag, kyk Kommentaar deur Jan Louw en die volledige verslag.)]

Spesifieke sake 2: Die Bybel en homoseksualiteit

Voordat ek kommentaar lewer op TP se hantering van die onderwerp, wil ek eers verklaar dat ek my ten volle kan vereenselwig met die Algemene Sinode se versigtige benadering van die saak, met sy die deernis teenoor homoseksuele mense en met die soeke na die leiding van die Gees vir die regte pad om in die verband te loop. Mag die Here die kerk lei om tot sy eer en tot heil van almal wat hierdeur geraak word, die regte pad te loop.

Ek wil eers kommentaar lewer op die boek se hantering van die onderwerp en daarna kyk na die vraag of die Here die kerk kan lei tot insigte wat blykbaar bots met die skynbare posisie van die Skrif self.

[Mike Smuts vra hier die vraag of die Here die kerk kan lei na insigte wat volgens hom skynbaar met die Skrif bots. Die vraag is natuurlik of dit skynbare of blatante botsing is. Indien dit blatante botsing is, soos ons glo dit is, is die antwoord eenvoudig.]

Kommentaar op TP se hantering van die Bybel en homoseksualiteit (pp. 49-51)

Die kernprobleem met die skrywers se hantering van die saak lê in die volgende opmerking op p.49: “Niks sal die Bybelse verklaring vir homoseksualiteit, en ander sondes, se oorsprong kan wegneem nie, naamlik dat die oorsprong in die sondige aard van die mens se hart lê.” (Eie onderstreping) Op p.50 word ook beweer: “Die primêre oorsaak (van homoseksualiteit) is die mens se sondige hart, wat die gevolg is van die sondeval.” (Eie onderstreping en hakies)

Homoseksualiteit word aan sonde gelykgestel en van daaruit behandel. Aan die einde van die betrokke hoofstuk handel die skrywers oor die “Benadering van die homoseksuele persoon.” Omdat homoseksualiteit as sonde getipeer word, is dit nie vreemd dat die skrywers die oplossing sien in bekering en bevryding van die “sonde” nie. Hulle sê: “Ons moet hom help om in te sien dat sy oriëntasie die gevolg van sonde is – die mens se sondige en vervalle bestaan as gevolg van die sondeval – maar dat daar verlossing, vryspraak en lewe is deur Jesus Christus.” (p.71)

Hierdie standpunt van die skrywers van TP is uiters problematies. Let o.a. op die volgende:

1. Homoseksualiteit is ’n aspek van identiteit, net soos heteroseksualiteit ’n aspek van identiteit is. Die verwysings na die effek van die sondeval geld vir alle mense – heteroseksueel en homoseksueel. Dit veroorsaak by alle mense die neiging tot sonde, maar die identiteit self kan nie as sonde gesien of behandel word nie. Alle mense is geroep om hulle sondige aard onder beheer van die Gees te plaas sodat Hy hulle identiteit kan heilig. Dit geld vir heteroseksuele en homoseksuele mense!

2. Omdat homoseksualiteit in sigself nie sonde is nie, is die siening van bekering en vryspraak as die oplossing misplaas. Homoseksuele persone kan hulle seksuele oriëntasie laat lei tot ’n sondige lewe en dade van sonde – net soos die geval met heteroseksuele persone. Dit kan lei tot die noodsaak van bekering, maar dit verander nie die persoon se homoseksualiteit of heteroseksualiteit as identiteitsmerker nie.

[Dit wil voorkom asof Mike Smuts die hele tyd van die veronderstelling uitgaan dat die boek:

Niks van homoseks self sê nie, maar net van seksuele oriëntasie praat; die homoseksueel-geöriënteerde veroordeel vir sy oriëntasie; en liefdeloos is deur homoseksualiteit af te wys (al veroordeel God se Woord dit as ’n gruwelike sonde).

Ons pleit egter juis daarvoor dat die homoseksuele persoon met deernis benader en begelei moet word (bl. 68-73). Waarom sou dr. Smuts hierdie standpunt heeltemal ignoreer en ons benadering van deernis en begeleiding veroordeel as “liefdeloos”? Is dit hoegenaamd eerlik as hy, soos hy self skryf, die boek “noukeurig nagegaan” het?

Alle sondige gedrag is sondig voor God en moet erken word – ons het dit nooit anders gestel nie.

Homoseksualiteit, net soos ander gebreke in die wêreld, is die gevolg van sonde – spesifiek die sondeval van alle mense se voorouer – Adam. Die oplossing vir homoseksuele uitlewing is bekering en vryspraak deur Christus. Dit staan direk so in die Bybel: 1 Kor. 6:9-11: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.”

Dr. Smuts praat hier van homoseksuele identiteit, maar eintlik dink hy homoseksuele uitlewing binne ’n homoseksuele verbintenis is ook nie ’n probleem nie. Ondertoe word dit duidelik. Daaroor verskil ons onomwonde van hom. Hierdeur bevestig hy die tipe tendens waarteen ons in die boek gewaarsku het. Die sinodebesluite het die grond hiervoor begin voorberei.]

3. Die kompleksiteit van die ontwikkeling van identiteit word misken. Op pp.50-51 word vier opmerkings gemaak oor moontlike faktore wat kan lei tot die “sonde” van homoseksualiteit. Dit is totaal ontoereikend en ’n miskenning van die kompleksiteit van faktore wat ’n rol speel in die vorming van identiteit. Een saak wat wel in navorsing duidelik na vore kom, is dat homoseksuele persone nie kies het om homoseksueel te wees nie. Wat wel waar is, is dat daar gewoonlik ’n stadium kom waar hulle moet kies om eerlik daarmee “uit te kom”. Om tot daardie punt te kom, gaan gewoonlik met worsteling gepaard omdat hulle weet wat die houding van die gemeenskap teenoor homoseksuele persone is.

[Dr. Mike Smuts is skynbaar heeltemal oningelig oor baie bevindings oor homoseksualiteit. Daar is talle voorbeelde waar verkeerde keuses, dwang deur ouer mense of omstandighede gelei het tot ’n homoseksuele lewe. Byvoorbeeld, katolieke priesters in die VSA sterf aan VIGS teen ’n vier maal hoër tempo as wat die gemiddelde bevolking daar aan VIGS sterf – kyk http://www.peje.co.za/catholic-priests-dying-america039s-hidden-aids-epidemic. Die rede is hul hoë mate van aangeleerde homoseksuele gedrag. Om te impliseer dat geen homoseksuele persoon ooit deur keuses homoseksueel geword het nie, is eenvoudig onwaar.

En verder ontken ons nie dat daar ’n moontlikheid is dat mense so gebore kan word nie. Op bl. 49 is daar geskryf: “Verskeie wetenskaplike studies is al gedoen om die oorsaak te probeer plaas op breinverskille, genetiese oorerwing of selfs op verskille in die gene self. Geen werklik bruikbare verwantskap is al gevind nie.49 Selfs al sou so ’n verwantskap in die toekoms bepaal word, kan morele waardes nie beïnvloed word deur biologiese afwykings nie. As ’n persoon byvoorbeeld gebore word met ’n geen wat veroorsaak dat hy ’n kleptomaniak is, kan ’n mens nie daarom diefstal wettig omdat die persoon so gebore is nie.50”]

4. Die enkele tekste waarop die skrywers hulle standpunte bou (o.a. Rom.1:26-23) handel oor dade van losbandigheid en kan nie op homoseksualiteit as identiteitsmerker toegepas word nie.

[Ons het by herhaling homoseksuele uitlewing as sonde uitgewys – nie Mike Smuts se sogenaamde homoseksuele identiteit as sulks nie. Hy is hier ook dus besig om sy eie strooipop te probeer afskiet. Maar die Bybel veroordeel nie net homoseksuele losbandigheid nie – dit veroordeel enige homoseksuele uitlewing – kyk verder.]

Die skrywers behandel die Algemene Sinode se standpunte in die verband en sien in 2002 “ ‘n groot omkeer” in die standpunte van die sinode van 1986 (p.51).

Was daar ‘n groot omkeer? Ja en nee.

Ons kyk eers na die “nee”:

1. Die sinode het nie in 1986 homoseksualiteit as sonde getipeer, soos wat die skrywers van TP doen nie. Dit word in die nuwe besluite van 1986 ook nie gedoen nie.

[Dr. Smuts verstaan blykbaar nie dat as iets ’n gevolg van die sondeval is, dit nie noodwendig in sigself ’n sonde is nie. Voorbeelde daarvan is siekte, gebreke, kleptomanie en aangebore homoseksuele oriëntasie, sou dit bestaan. In werklikheid is dit nog steeds nie wetenskaplik bewys dat so ’n oriëntasie bestaan nie, want geen homoseksuele geen is al ooit gevind nie.]

2. In 1986 het die sinode verklaar dat homoseksuele persone nie “die belewing van die gemeenskap van die heiliges ontsê (mag) word nie en geleentheid tot diens in belang van die koninkryk van God ontsê word nie.” Dit is steeds die standpunt van die Sinode.

Daar was wel ‘n omkeer waaroor ek baie dankbaar is:

1. In 1986 is homoseksualiteit getipeer as ‘n “afwykende vorm van seksualiteit.” Hierdie liefdelose tipering is laat vaar en teenoor homoseksuele persone bely. Dit klop met hoe Jesus mense benader het wat vanweë hulle tipering as sondaars uitgeskuif is.

[Sou dr. Smuts meer gehou het van die beskrywing “ ’n onnatuurlike of ’n skandalige vorm van seksualiteit” in lyn met Rom. 1? Of is hy ten gunste van ’n herskryf van die Bybel van hierdie gedeeltes omdat die mens nou beter weet as wat die Heilige Gees, weliswaar deur organiese inpirasie, laat neerskryf het?]

2. In 1986 is homoseksuele verhoudings onder andere summier afgewys. Nou wil die sinode weer biddend soek na die Here se lig oor die saak en is hulle nie bereid om so maklik ‘n afwysende houding in te neem nie. Weereens ’n optrede wat deur liefde bepaal word waarvoor ek baie dankbaar is.

[Kan enigiemand ontken dat die Bybel op die minste ’n afwysende houding teenoor homoseksuele verhoudings inneem?]

Die laaste opmerking bring egter die vraag of die soeke na leiding oor die saak enige lig kan bring, aangesien die enigste verwysings na seksuele verkeer tussen mense van dieselfde geslag in die Bybel in ’n negatiewe sondige lig gesien word? Kan die kerk tot ander gevolgtrekkings kom, as die wat in TP voorgestaan word?

[Nee, die kerk kan nie, tensy die gesag van die Bybel afgewater word. En dit mag die kerk nie doen nie, tensy dit ’n bloot humanistiese kerk wil word.]

Om die vraag te antwoord, wil ek graag ‘n analogie trek met die kerke/Christene se standpunt oor slawerny.

Standpunte oor sake wat skynbaar bots met dit wat pertinent in die Bybel genoem word.

Die vraag is of die kerke en geloofsgemeenskappe standpunt kan inneem oor sake wat nie pertinent in die Bybel voorgeskryf word nie, of selfs skynbaar in stryd met die Bybel is? Ek behandel dit graag na analogie van die standpunt rondom slawerny.

As ‘n mens die verwysings na slawerny in die Bybel nagaan, sou jy ‘n sterk saak ten gunste van die behoud van slawerny kon uitmaak. Die Bybel bevat talle verwysings na slawe en voorskrifte van hoe hulle behandel moet word. Hulle kon selfs lyfstraf ontvang wat tot die dood kan lei (Eks.21:20-21). Nêrens word slawerny verbied nie, maar wel gereguleer (Eks.21:1-11; Deut.15:12-18; Lev.25:35-55). In die Nuwe Testament is daar wel aansprake dat slawe billik behandel moet word (Ef.6:9; Kol.4:1) en Filemon word aangemoedig om sy slaaf Onesimus soos ’n broer terug te ontvang.

‘n Mens sou dus “op Bybelse gronde” ‘n sterk saak kon uitmaak vir die behoud van slawerny.

In die laat 18e eeu het Christene egter tot die oortuiging gekom dat slawerny verkeerd is. Vandag ontstel die handel in mense en slawerny ons en word dit algemeen sterk veroordeel, terwyl die Bybel dit nie pertinent verbied nie. Wat het gebeur? Ek vermoed dat veral twee Bybelse beginsels hierin ‘n rol gespeel het. Die eerste is dat Gal. 3:28-29 verklaar: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: In Christus is julle almal één.” Verder stry die hele praktyk van slawerny teen die Bybelse beginsel van naasteliefde, dat ek vir ander sal gun wat ek myself gun. Dit doen ook die Bybelse eis van barmhartigheid geweld aan.

Kom ons trek nou die analogie na die posisie van homoseksuele persone. Die vraag waarmee die kerk worstel, is nie of losbandige dade tussen homoseksuele persone toegelaat moet word nie. Dit is sonde by heteroseksuele sowel as homoseksuele persone. Die vraag is ook nie of promiskuïteit sonde is nie. Dit is so vir alle mense, heteroseksueel en homoseksueel.

Die vraag is wel of ’n monogame lewenslange verbintenis tussen twee persone van dieselfde geslag as sonde beskou moet word, of deur die kerk erken moet word? Die probleem is dat die Bybelse beeld van die huwelik altyd die verbintenis van man en vrou is en dat die Bybel nie melding maak van huwelike tussen mense van dieselfde geslag nie. Net soos die Bybel geen verbod teen slawerny bevat nie, maar ons dit tog op Bybelse beginsels afkeur, is die vraag of ons nie die begeerte tot ’n huwelik van mense van dieselfde geslag moet goedkeur nie?

Dit is die vraag waarmee Christene oor die wêreld tans worstel.

[Die analogie van slawerny is geheel en al onvanpas. In voetskrif 165 op bl. 196 in ons boek word spesifiek verwys na ’n artikel oor slawerny waar die hele saak deeglik bespreek word met goeie Bybelse begronding. As dr. Mike Smuts met soortgelyke Bybelse begronding vorendag kan kom betreffende homoseksuele uitlewing, is hy welkom om dit voor te lê. Maar die kans lyk uiters skraal, siende dat God dit in die Bybel ’n gruwel noem. Hy kan nie argumenteer dat slegs promiskue of losbandige homoseksuele uitlewings in die Bybel veroordeel word nie, want Lev. 18:22 en 20:13 gaan oor eenmalige gebeurtenisse. Ons noem dit op bl. 54 van ons boek. Hoekom bespreek Mike Smuts nie hierdie Bybelverse in sy siening van sake nie? Het hy dit ook nie in ons boek raakgelees nie, of ignoreer hy dit doelbewus?]

Slotsom: Dit is duidelik dat is dat die wyse waarop die skrywers van TP homoseksualiteit as identiteitsmerker aan sonde gelyk stel en as vertrekpunt gebruik, heeltemal van die merk af is! Dit is ook duidelik dat die versigtige benadering van die Algemene Sinode in die verband groot meriete het.

[Ons kon moontlik duideliker tussen homoseksuele oriëntasie en uitlewing onderskei het, maar dr. Mike Smuts ignoreer die talle gevalle waar ons duidelik uitspel dat ons fokus op homoseksuele uitlewing is (kyk byvoorbeeld bl. 53 en 54 in ons boek). Hy daarenteen, bepleit (op ’n baie diplomatiese manier) dat slegs promiskue of losbandige homoseksuele uitlewings sondig is – nie monogame lewenslange homoseksuele verbintenisse nie. Daarin verskil ons radikaal van hom – sy siening is ’n onhoudbare verdraaiing van die Bybelse riglyne en opdragte.

En dan is daar die vraag: Sou dr. Mike Smuts sê dat Paulus saam sou stem met sy siening oor homoseksualiteit? Nêrens pleit Paulus vir die aanvaarding van die homoseksuele persoon sonder verandering nie. Hy het egter die volgende te sê oor die saak:

  • Rom 1:27: Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.
  • 1 Kor 6:9-11: Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Op grond van wat in die Bybel staan (1 Kor. 6:9-11), en baie hedendaagse voorbeelde, weet ons dat mense wat in homoseksualiteit vasgevang is, daarvan verlos kan word. Die kerk sal eendag daarvoor aanspreeklik gehou word as hulle mense valslik oortuig dat homoseks, van watter aard ookal, maar reg is, en sodoende in plaas van ’n instrument in God se hand tot bekering te kon wees, ’n belemmering van sy evangelie was en mense aktief na die hel meegehelp het (1 Kor. 6:10). Let wel, hierdie is nie maar sommer ons opinie nie – dit is wat God in die Bybel laat skryf het. As dr. Smuts hierdie gedeeltes in die Bybel wil hervertolk om iets anders te beteken, is hy met sy idee van (oordrewe) organiese inspirasie besig om die aanvaarbare grense te oorskry.]

Spesifieke sake 3: Die Bybel en evolusie

Die samestellers van TP lig evolusie uit as die belangrikste bedreiging vir geloof in die gesagvolle spreke van die Bybel. Dit word in die subtitel uitgesonder as ‘n kanker in die kerk. In die inleiding word gesê dat evolusie en evolusionisme “steeds ‘n beduidende rol in die bevraagtekening en verwerping van die Bybel as Woord van God” speel. (p.2) die titel van hoofstuk 6 wat aan evolusie gewy word, noem dit “die vrot appel in die kis!” (p.109)

In Bylae D gee die skrywers ’n aantal vrae waaraan predikante kandidate voor ’n beroep getoets moet word. Die eerste vraag lui: Glo jy dat Genesis 1-11 letterlik waar is: dat God in ses 24-uur dae geskep het, ongeveer 4000 v.C. en dat daar ’n wêreldwye vloed was wat almal op aarde uitgewis het behalwe die mense en diere op Noag se ark?” (p.246)

Dit is dus duidelik dat die skrywers ’n keuse wil afdwing tussen ’n letterlike verstaan van Gen.1-11 teenoor die aanvaarding van evolusie. Die eerste moontlikheid word gesien as geloof in die Bybel as die Woord van God en die tweede as ’n posisie van ongeloof.

[Hierdie is weereens ’n eie interpretasie van dr. Smuts – iets waarvan hy ons beskuldig onder “4. Eie interpretasies en valse beskuldigings:” hieronder. Hierdie vraag word nie gevra om enigiemand in ’n spesifieke rigting te dwing nie. Die skrywers van TP besef dat daar wedergebore gelowiges is wat aan evolusie glo, ten spyte van die magdom teenstrydighede wat dit inhou (kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?)]

Is dit waar? Is dit die enigste moontlike keuse?

Ek wil nie in my kommentaar die wetenskaplike teorie van evolusie probeer verdedig of beoordeel nie. Dit lê buite my vlakke van kundigheid. Ek sal wel enkele opmerkings maak oor hoe die boek die wetenskap geweld aandoen. My eintlike doel is om aan te toon dat die wetenskaplike bevindinge rondom die verskynsel van evolusie nie noodwendig in stryd met die Bybel is, soos wat TP probeer voorgee nie.

[Dr. Mike Smuts stel hierbo dat hy nie evolusie probeer verdedig of beoordeel nie, want dit lê buite sy vlakke van kundigheid. Maar dan gaan hy voort en doen paragrawe vol van verdediging van evolusie in die direk daaropvolgende! Kan enigiemand dit miskyk hoe hy hieronder evolusie verdedig en dit uiteraard positief moes beoordeel het om dit so aan te hang?

Hoekom lewer dr. Mike Smuts nie kommentaar op die spesifieke bewysgronde wat ons lys, wat wys dat die Bybel nie met evolusie versoenbaar is nie? Vir seker kan hy nie sy onkundigheid betreffende evolusie as rede aanvoer nie, want daarvoor maak hy heeltemal te veel uitsprake oor evolusie (hieronder).]

‘n Misleidende definisie: Aan die begin van die boek word ’n woordelys gegee waarin ’n aantal begrippe se definisies gegee word. Die woord “Evolusie” word ook beskryf. Oor die korrektheid van die beskrywing wil ek my nie uitlaat nie, maar wel oor die woord “hipotese” wat in die definisie voorkom. In die wetenskap word na evolusie as ’n teorie verwys, en nie as ’n hipotese nie. Vir die oningewyde mag die twee woorde nie veel verskil nie, maar vir wetenskaplikes is daar ’n groot verskil.

Wanneer ’n wetenskaplike in sy studieveld ’n verskynsel waarneem wat hy wil verklaar, formuleer hy ’n vermoede van wat die verklaring kan wees. Die geformuleerde vermoede word ’n hipotese genoem. Daarna word die hipotese met navorsing getoets. Die navorsing het die effek om die hipotese as geldig te bewys, of as ongeldig. Indien dit ongeldig is, word die hipotese verwerp. Indien die hipotese deur navorsing voldoende as korrek bewys word, word dit ’n teorie genoem. Wetenskaplikes publiseer hulle hipoteses en navorsingsresultate sodat dit ook deur ander wetenskaplikes getoets kan word. In die proses word die teorie sterker of dit bly by ’n hipotese wat nie bewys kan word nie, of verkeerd bewys is.

’n Wetenskaplike teorie geniet dus al meer erkenning na mate meer en meer wetenskaplikes dit toets en as geldig aanvaar. Dit is die geval met die evolusieteorie en namate navorsingstegnieke verbeter word die begronding van die teorie ook verder versterk.

Sommige Christene maak evolusie af as “maar net ’n teorie.” Hulle besef nie dat die woord “teorie” in die gewone omgangstaal ’n ander betekenis het as in die wetenskap. In die gewone omgang dra “teorie” die kwaliteit van ’n ongetoetste idee – min of meer wat die wetenskap ’n “hipotese” noem, terwyl “teorie” in wetenskaplike taal van ’n getoetse feit praat. Dit is duidelik dat die skrywers van TP die verskil ken en doelbewus kies om van evolusie as ’n hipotese te praat. Daarmee ignoreer hulle die konsensus van die oorgrate meerderheid van wetenskaplikes oor die wêreld.

[Dr. Mike Smuts is tenminste hier grotendeels reg betreffende wat ons in die boek skryf. Ons beskou evolusie nie eers as ’n teorie in die wetenskaplike sin nie, want die getuienis daarvoor is eenvoudig onvoldoende. Verder is daar soveel onbeantwoorde vrae, sou evolusie waar wees, dat geen ingeligte denkende wetenskaplike dit as ’n wetenskaplike teorie behoort te beskou nie.

Toegegee, vir Mike Smuts behoort die meerderheidsopinie die maklikste te wees om maar aan te hang. Maar net soos in sy veld van geloof, is die meerderheidsopinie ook nie noodwendig die waarheid nie. Glo hy die meerderheidsgeloofsopinie? Sekerlik nie. Nou hoekom nie? Dit gaan daaroor dat mens ’n waardebepaling van die argumente moet kan maak – die meerderheidsopinie is by verre nie goed genoeg nie. Baie van die argumente betreffende skepping en evolusie is nie so moeilik om te verstaan nie. Om boedel oor te gee in terme van die meerderheidsopinie, is maar tragies, veral vir ’n gelowige.

In ons definisie van evolusie op bls. v en vi lys ons vier ontwikkelings wat deur natuurlike prosesse moes plaasgevind het, sou evolusie waar wees. Omdat daar nie redelike getuienis vir enige van daardie ontwikkelings deur natuurlike prosesse bestaan nie, gee ons definisie alreeds die motivering waarom evolusie op die beste ’n wetenskaplike hipotese is. As dr. Smuts reken ons doen hierdeur die wetenskap geweld aan, moet hy tenminste poog om te verwys na oortuigende getuienis (nie spekulasie nie) vir bogenoemde vier ontwikkelings.]

“Skeppingsleer (kreasionisme) teenoor evolusieleer” (p.109)

Hierdie teenstelling, wat net na die inleiding van hoofstuk 6 as opskrif gebruik word, is veelseggend. Die skrywers verklaar self dat hulle hiermee ‘n kort samevatting gee van die groter geheel. Dit is duidelik dat die teenstelling ten grondslag lê van die hele betoog oor evolusie. Daarom is die belangrik om dit van nader te bekyk.

1. Skeppingsleer (kreasionisme): Die skrywers ondersteun duidelik die leer van die kreasionisme (“creationism”). Dit is ook opvallend dat die meeste van die voetnotas in die boek na of www.creationism.com of www.glodiebybel.co.za verwys – albei webtuistes wat op die standpunt van kreasionisme staan. Hulle beveel ook die lesers aan om die webblaaie te besoek.

[Net ’n regstelling op ’n foutjie van dr. Smuts: Bogenoemde moet www.creation.com wees. Dit verklap waarskynlik dat hy nog nooit die webwerf probeer besoek het nie.]

Die skrywers verduidelik die skeppingsleer so: “Alles wat Genesis ons oor die skepping leer, het werklik so gebeur. Ons verwerp die siening dat dit slegs simbolies of mitologies verstaan moet word. God het alles met Goddelike bonatuurlike krag tydens die Skeppingsweek geskep, soos verklaar word in die Bybel.” (p.110)(Eie onderstreping) Binne die geledere van die voorstanders van kreasionisme is daar ook verskillende sieninge. Sommige verwerp enige vorm van evolusie in die skepping. Die skrywers van TP aanvaar wel ’n beperkte evolusie binne die soorte. Hulle aanvaar nie dat een spesie uit ‘n ander kon ontwikkel nie, maar wel dat binne ‘n bepaalde spesie verskillende soorte kan ontwikkel.

Kreasioniste gebruik die stamregisters in Genesis om die ouderdom van die aarde te bepaal. Daar is meer as een stamregister in Genesis en hulle verskil van mekaar, maar kreasioniste vind dit tog moontlik om dit met mekaar te versoen. Uiteindelik bereken hulle die ouderdom van die aarde op tussen 4000 en 6000 jaar. Die skrywers van TP stel dit op 4000 jaar en is so oortuig daarvan dat ‘n predikantskandidaat se geloof in die Bybel as die Woord van God daaraan getoets word! (p.246)

[Hierdie gedeeltes het Mike Smuts baie sleg gelees of verstaan. Ons aanvaar dat verskeie spesies binne een oorspronklike soort ontwikkel het, maar beslis nie dat verskeie soorte binne een spesie ontwikkel het soos hy beweer nie.

Ook argumenteer ons nie, en geen skeppingsleerder waarvan ons weet, vir ’n aarde-ouderdom van slegs 4000 jaar nie. Ons glo wel dis ongeveer 6000 jaar, op grond van relatief eenvoudige en direkte gegewens in die Bybel (kyk Geslagsregisters en tydsdure). Ons sou graag wou weet watter stamregisters in Genesis, waarin ouderdomsinligting gegee word, sodanig van mekaar verskil dat hulle onversoenbaar is. Die stamregisters wat wel verskil, is die stamregisters in Matteus 1 en Lukas 3. Daarvoor is daar ’n baie goeie verduideliking: Matteus 1 bevat Josef se geslagsregister en Lukas 3 bevat Maria se geslagsregister. Kyk The Virginal Conception of Christ (paragraaf 5. Reliability of the birth narratives, b, 3).

Indien Mike Smuts die probleem van natuurlike toename in genetiese inligting verstaan, wat die evolusiehipotese nie kan beantwoord nie, en dat spesie-ontwikkeling binne ’n soort gepaard gaan met afname in genetiese inligting, sou hy nie beweer het dat ons ’n beperkte evolusie voorstaan nie. Het hy ooit raakgelees wat op bl. 117 van ons boek oor genetiese inligting geskryf is? Prosesse soos mutasie en spesiasie, wat beide gepaardgaan met afname in genetiese inligting, kan eenvoudig nie gebruik word ter ondersteuning van evolusie wat natuurlike toename in genetiese inligting vereis nie.]

Kreasioniste is gekonfronteer met bevindinge van verskillende vertakkings van die wetenskap wat die aarde se ouderdom bereken op 4.5 biljoen jaar. Die berekenings van verskillende wetenskaplike dissiplines verskil met 1% of minder. Een van die metodes wat o.a. in die geologie en paleontologie gebruik word, ontleed die verskillende rotslae in die aardkors. Die ouderdom van fossiele wat in die lae voorkom word ook o.a. daarvolgens bepaal. Dit stel kreasioniste voor ‘n probleem, beide ten opsigte van hulle berekening van die aarde se ouderdom en ook die bevindinge wat op ‘n proses van evolusie dui. Hulle oplossing is om die gelaagdheid van die aardkors aan die groot vloed van Gen. 7 & 8 toe te skryf. Dit is buite my kundigheidsveld om dit beoordeel, maar wetenskaplike werke wat ek daaroor gelees het, toon aan dat dit alles nie aan een vloed toegeskryf kan word nie.

[Al hierdie redes van Mike Smuts om nie die geskiedenis in die Bybel as waarheid te aanvaar nie, word deeglik in verskeie skeppingsleerskrywes bespreek en weerlê. (So terloops – hy wou eintlik 4.5 miljard jaar geskryf het – nie 4.5 biljoen jaar wat 1000 maal groter is nie. Om by die 1%-akkuraatheid uit te kom, moet mens ongelooflik selektief te werk gaan. Veral moet die ORDES wat resultate dikwels verskil, heeltemal geïgnoreer word.) Dit sal dr. Smuts, en enigeen wat in die duister is oor hierdie saak, baat om ’n webwerf soos www.creation.com te besoek en om dit wat daar geskryf is, objektief te lees en te oordink. Dit is interessant dat die meerderheid wetenskaplike metodes die ouderdom van die aarde baie jonger skat (kyk 101 bewyse vir ’n jong(er) aarde en heelal).

Ek stel voor dat dr. Smuts nog meer wetenskaplike werke lees as wat hy wel al oor vloede gelees het, veral dié wat aantoon dat verskillende fases van dieselfde wêreldwye vloed wel die huidige geologiese kolom kon veroorsaak het. En meer as dit – dat sekere eienskappe van die geologiese kolom duidelik uitspel dat die verskillende strata so vinnig op mekaar neergelê is, dat die onderste laag nog nie eers verhard het met die volgende laag se neerlegging nie. Polistratafossiele verskaf in baie gevalle ook uitstekende getuienis vir baie vinnige neerleggings van opeenvolgende lae. Die sogenaamde kambriese ontploffing kan ook baie beter verklaar word met ’n baie vinnige neerlegging van die diepste lae van die geologiese kolom, as met enige evolusieproses. Kyk bv. Geology Questions and Answers.]

2. Evolusieleer? : Teenoor die skeppingsleer stel die skrywers, wat hulle noem, “evolusieleer.” Die byvoeging van die woord “leer” by evolusie is vreemd en onaanvaarbaar. Dit impliseer dat ons hier met ’n alternatiewe geloofsleer te make het. So ’n siening sal gelowige wetenskaplikes, wat evolusie as wetenskaplik bewese teorie aanvaar en met vrug in hulle navorsing gebruik, ten sterkste sal ontken.

Die skrywers erken dat daar gelowiges is wat evolusie aanvaar, maar handhaaf dat die basis daarvan ateïsties is. Hulle sê: “Alle evolusioniste is nie ongelowig nie, maar die basis van die evolusieleer is ateïsties, want dit is strydig met die Bybel en ontken ‘n Skepper.”(p.114) Geloof en wetenskap word vermeng op ’n manier wat tot die soort verkeerde standpunt lei. Meer oor geloof en wetenskap by paragraaf 4.

Die skrywers, soos ander kreasioniste, beroep hulle dan op wetenskaplikes wat hulle posisie ondersteun om daardeur aan te toon dat hulle standpunt ook wetenskaplik op voete staan. Die probleem is dat hier uitgegaan word van ’n standpunt van kreasionisme en dan gesoek word na wetenskaplikes wat dit ondersteun en die ander word verwerp. Die feit is dat die wetenskaplikes wat so geselekteer word by verre in die minderheid is en nie die breë konsensus van die wetenskaplike gemeenskap deel nie. (‘n Mens dink onwillekeurig aan die rampspoedige gevolge vir ons land toe Pres. Mbeki in verband met HIV/Vigs, hom laat lei het deur wetenskaplikes wat afwyk van die internasionale konsensus.) In die wetenskap word hipoteses en teorieë wetenskaplik getoets en aangepas, aanvaar of verwerp op grond van behoorlike navorsingsmetodes. Om wetenskaplike gronde vir voorafingenome standpunte te vind deur net die wetenskaplikes te selekteer wat met jou saam stem, is uiters onverantwoordelik.

[Dr. Smuts is heeltemal reg dat ons meen dat evolusie eintlik ’n alternatiewe geloof is. Die geloofsbasis van evolusie word selfs deur sekere evolusioniste erken. Wat sal dr. Mike Smuts oortuig? Aanhalings deur evolusioniste self, of logiese stellings soos dat “om te glo dat alles ’n natuurlike verklaring het”, ’n geloofstelling is?

Of glo hy in teïstiese evolusie, met ander woorde God het die proses bestuur? Dink hy regtig hy het daarvoor die meerderheids-wetenskaplike-opinie? Indien nie, waarop gaan hy dan sy wetenskapskeuses baseer?

Het Mike Smuts enigsins bylaag A van die boek gelees waar die geloofsbasis van die evolusiehipotese met talle voorbeelde gedemonstreer word? Hoekom verwys hy dan nêrens in sy resensie na bylaag A nie, of probeer hy weerlê wat daar geskryf is nie?

Nee, dr. Smuts, dis uiters onverantwoordelik om onnadenkend agter ’n valse meerderheidsopinie aan te hardloop. En veral vir ’n gelowige wat in die proses sy eie geloofsboek negeer of beperk tot slegs geloofskwessies wat ontkoppel is van die werklikhede wat dit ook beskryf.

Dr. Smuts se ontoepaslike verwysing na Thabo Mbeki se VIGS-flaters word ondertoe bespreek.]

3. Net twee moontlikhede?: Dit is tragies dat die skrywers by die kreasionistiese posisie hou dat daar net twee moontlikhede is: Of jy aanvaar Gen.1-11 as letterlik en hulle betwyfel nie jou geloof nie, of jy of jy aanvaar evolusie en jou geloof in die Bybel word in twyfel getrek. Die teenstelling is nie geldig nie.

Dit is moontlik om steeds God as die Skepper te erken en te aanbid, en die wetenskaplike teorie van evolusie te aanvaar.

[Ons het nêrens ontken dat laasgenoemde moontlik is nie. Ons het wel gewys dat dit baie moeilik verdedigbaar en inkonsekwent is. Ons het ook na talle voorbeelde verwys waar mense weens hul geloof in evolusie nie net Genesis nie, maar later die hele Bybel as waarheid verwerp het.]

Om die skeppingsverhale van Gen.1 & 2 te beskou as wetenskaplike uiteensettings van hoe God geskep het, is om nie die Bybel en sy spesifieke doel te eerbiedig nie. Ons het reeds gesien dat 2 Tim.3:15-17 duidelik sê dat die Skrif gegee is om ons te lei tot geloof in Christus en om ons in staat te stel om in diens van God volkome toegerus te wees vir elke goeie werk. Ons het ook gesien dat die Nederlandse Geloofsbelydenis die gesag van die Skrif op die manier afgrens. Dit gaan om ‘n bekenstelling (openbaring) van God as Skepper en onderhouer van sy skepping, oor Jesus Christus wat mens geword het en vir ons gesterf en opgestaan het en oor die Heilige Gees wat sy kerk lei in diens van Hom. In kort, die twaalf artikels van die apostoliese geloofsbelydenis wat ons elke Sondag bely, bevat ’n opsomming van waaroor dit in die Skrif gaan en wat ons geroep is om te glo.

[Dr. Smuts argumenteer weereens hier vir ’n beperkte verstaan van die betekenis van die Bybel. Om te stel dat die Bybel ’n sekere iets beteken, sê nie noodwendig dat dit NET DIT beteken nie. Dit is ’n ongeldige begrensing – betreffende die Bybel en die belydenisskrifte. Dít doen die Bybel ’n ernstige onreg aan.]

Die vraag is dan hoe ons die skeppingsverhale van Gen. 1 & 2 moet lees? Ek kan nie in volle besonderhede ingaan nie, maar wil kortliks met ‘n paar stellings saamvat hoe ek dit sien en glo:

  • Gen. 1 & 2 bevat twee verhale wat handel oor God die Skepper van die heelal en die mense as sy skepsels. In die Bybelse tyd was die vertel van verhale om waarhede oor te dra algemeen bekend. Trouens, die Here Jesus het self gelykenisse (verhale) as onderrigmiddel vir die geloof gebruik. Die feit dat ‘n verhaal/gelykenis fiksie is, maak nie sy boodskap ongeldig nie.

[Daarom word gelykenisse gelykenisse genoem – om dit te onderskei van geskiedenis of werklike gebeure. Ook hier moet dr. Smuts sy eie raad van hierbo volg, naamlik om literatuursoorte te onderskei en te waardeer vir wat dit is. In die repliek op Herman Toerien se kommentaar op ons boek, is die sogenaamde twee botsende verhale van Gen. 1 en 2 bespreek. In werklikheid is hulle nie botsend nie, maar beskrywings van dieselfde werklike gebeure maar uit verskillende hoeke. Dit is in beginsel net soos die vier evangelies wat dieselfde gebeure beskryf, maar ooreenstemmende en aanvullende inligting weergee. Moet ons nou op grond van die skynbare verskille tussen die vier evangelies besluit dat die werklikheid van Christus se eerste koms nie geldig is nie? ]

  • In die lees van die skeppingsverhale moet ons vra wat dit ons leer van God, van ons as mense en van ons verhouding tot Hom. As ons dit doen vra ons vrae wat die Bybel bedoel is om te antwoord. Die Bybel is nie ’n wetenskap handboek nie, maar ’n openbaring van wie God is.

[Regtig, slegs ’n openbaring van wie God is, maar geen openbaring oor wat Hy gedoen het nie?! Glo Mike Smuts homself eerlikwaar op hierdie punt? Hoekom sal ons hierdie siening net op Gen. 1-11 toepas en nie maar op Christus se eerste koms ook nie? Ons sal mos minder ongelowiges afskrik as ons maak asof ons nie glo dat Jesus uit ’n maagd gebore is, allerlei wonderwerke gedoen het, en uit die dood opgestaan het nie? Daaroor sal ons ook die meerderheidsopinie van die wetenskap hê! Waarom kan die hele boodskap van Jesus se eerste koms nie maar ook net ’n onwerklike verhaal wees nie?

Nee, die Genesisverhaal is ’n onlosmaaklike deel van die evangelie. Reeds in Gen. 3:15 word Hy beloof (“die moederbelofte”). Óf beide vertellings (Genesis én Jesus Christus se eerste koms is waar, of beide is mites! Die een kan nie sonder die ander nie.

Hoekom erken dr. Smuts nêrens in sy resensie tenminste die ernstige probleem wat ons uitwys van liberale teologiese dosente in die NG Kerk wat ook die werklikheid van die gebeure in Jesus se tyd ontken nie? Of stem hy ook eintlik met hulle saam?]

  • Vra ons hierdie vrae oor God en die mens aan Gen. 1 & 2, leer ons dat God die Skepper van die hele kosmos is, die hemel en aarde en alles daarop, dat Hy die mens geskep het met ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom, dat die mens in sy wese sondaar is wat ontvanklik is vir die duiwel se versoeking om soos God te wees en dat God die sonde straf.

[Ja, maar veel meer as dit, soos dat God soorte geskep het om in hul soorte voort te plant, en dat die mens self wil besluit wat reg en verkeerd is. ’n Voorbeeld in die hedendaagse tyd betreffende laasgenoemde is homoseksuele uitlewing, al verbied God dit by herhaling. Dit is ’n skande dat ’n bekende teoloog in die NG Kerk, soos dr. Smuts, ’n vorm van laasgenoemde bepleit.

Die verbysterende is egter dat dr. Smuts nog oor hierdie “boodskap” (van iets wat nooit gebeur het nie) kan skryf “… dat God die Skepper van die hele kosmos is, die hemel en aarde en alles daarop, dat Hy die mens geskep het met ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom, dat die mens in sy wese sondaar is wat ontvanklik is vir die duiwel se versoeking om soos God te wees en dat God die sonde straf.” “Watter sonde?” wil mens onwillekeurig vra. Waarom sê die Bybel dan dat God alles “baie goed” geskep het? Die evolusiehipotese erken mos nie ’n sondeval nie, met ander woorde ’n punt in die geskiedenis, nadat die mens op die toneel verskyn het, waar dood van asemhalende wesens vir die eerste keer ingetree het? Die Genesisverhaal is mos nie waar nie?

Waarom lees ons dan in Rom. 5 dat die sonde en dood deur die eerste Adam na alle mense deurgedring het en dat die laaste Adam (Jesus Christus) ons daarvan kom verlos het – fisies, werklik, sigbaar – nie ’n gelykenis nie!?]

4. Geloof en wetenskap: Die vraag bly nou: Wat van die evolusieteorie van die wetenskap en die Bybel? Om dit antwoord wil ek graag aansluit by die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB), een van ons kerk se drie belydenisskrifte.

Art.2 van die (NGB) handel oor die “middele waardeur ons God kan ken.” Die eerste deel van die artikel lui soos volg: “Ons ken Hom deur twee middele: Eerstens deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin Hy alle onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en Goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom.1:20).”

Die tweede middel waardeur ons Hom kan ken, is deur sy Woord Daaroor het ons vroeër gehandel. Nou kyk ons kortliks na die eerste middel. Ons glo dat die skepping ons van God bewus maak, soos ‘n skildery ons bewus maak van die skilder.

[Let daarop dat dr. Smuts nêrens in sy betoog dat evolusie nie met die Bybel in stryd is nie, die spesifieke Skrifgedeeltes wat ons in die boek na verwys het, bespreek nie. Sy enigste argument kom daarop neer dat die feite en geskiedenis in Genesis nie as feite en geskiedenis geglo mag word nie.]

Die wetenskap hou hom besig met die bestudering van alle aspekte van die geskape heelal; van die makrokosmos tot by die mikrokosmos. Soos wat die tegnieke van die wetenskap ontwikkel, word steeds meer en meer van die “mooi boek waarin al die onsigbare dinge van God” opgesluit is, vir ons aan die lig gebring.

Dit beteken nie dat alle wetenskaplikes God se skepperhand daarin erken nie, net soos nie alle mense wat die Bybel lees, tot geloof kom nie. Dit maak egter nie die ontsluiting van die wondere van die skepping, selfs deur ongelowige wetenskaplikes, ongeldig nie. Die genade om God se hand in die skepping te herken, is die werk van die Gees.

Die wetenskapsbeoefening is nie in sigself ’n geloofshandeling nie. Geloof lê buite die veld van die wetenskap. Vir die gelowige is die ontsluiting van die natuur deur die wetenskap ’n wonderlike aanmoediging om saam met die hele skepping oor God se wonders te juig.

5. Die Bybel en die wetenskap in botsing? Omdat die twee “boeke” oor God, die skepping en die Bybel, oor dieselfde Waarheid handel, behoort hulle nie in konflik met mekaar te kom nie. Indien die boodskap teenstrydig is, het dit waarskynlik te make met ons as mense se beperkte insig in die Bybel of die wondere van die natuur. Dit noop ons om telkens weer terug te gaan en ons verstaan van beide te heroorweeg. Dit gebeur voortdurend in beide die teologiese wetenskap en die natuurwetenskappe.

Die konflik wat sommige tans tussen die evolusieteorie en ons verstaan van Gen. 1 & 2 beleef, vra dat ons as gelowiges ons verstaan van die Skrif op die terrein heroorweeg.

[Dit is 100% korrek dat daar nie konflik behoort te wees tussen die Bybel en die wetenskap nie, maar hoekom vra dit nie eerder dat die evolusionistiese vertolkings van oorsprongdata heroorweeg moet word nie?! ’n Mens kan mos nie sommige dele in die Bybel “anders interpreteer” om dit met die wetenskap te versoen nie. Altwee kan nie reg wees nie. Hier erken dr. Smuts eintlik self dat evolusie en die Bybel teenstrydig is en dat daar ’n plan gemaak moet word. Dit is tragies dat hy soveel geloof in evolusionistiese wetenskaplikes, waarvan baie ongelowig is, se vertolkings het. Hoekom het hy so min vertroue in sy eie geloofsboek en in God se inspirasie daarvan?

Dr. Smuts maak dit duidelik dat hy die uitsprake van evolusionistiese wetenskaplikes oor die eerste “boek” (die natuur waardeur God [ook] geken kan word) absolute mag gee, en skeppingsleerwetenskaplikes geen inspraak gun nie. Hy impliseer ook dat (evolusionistiese) wetenskaplikes se uitsprake , waar daar blykbaar konflik tussen die natuurboek en die Bybel is, die groter gesag het. Alhoewel hy voorstel dat ons verstaan van beide heroorweeg mag word, gebeur dit nie hier nie. Die evolusiehipotese word geglo en die Bybel word bevraagteken en ge-herinterpreteer om ruimte te maak vir die “onbetwisbare waarheid” van wat sommige wetenskaplikes sê hulle bevind het – dat lewe vanself ontstaan het, dat die mens ’n gemeenskaplike voorouer met ape deel, ens. Dit is dáárom dat die skeppingsverhaal, die sondeval en alles wat daarmee gepaard gaan, nie meer geglo kan word nie.]

Dit is nie die eerste keer dat wetenskaplike bevindinge so ‘n heroorweging van die verstaan van die Bybel noodsaak nie. Die bekendste voorbeeld is waarskynlik die bevindinge van Galileo (1564-1642) oor die aarde se verhouding tot die son. Hy was ‘n merkwaardige fiskus, wiskundige, sterrekundige en filosoof. Hy het verneem van die uitvinding van die teleskoop in Nederland, dit nagevors en self ‘n verbeterde weergawe gebou. In sy bestudering van die sterre het hy merkwaardige ontdekkings gedoen en uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat die son nie om die aarde wentel nie, maar dat die aarde om die son gaan.

Dit het groot konsternasie veroorsaak omdat geglo is dat dit in stryd met die Bybel is. Tekste wat aangehaal was, is o.a.:

Ps.93:1: “Die wêreld staan vas, dit wankel nie” (“The world is firmly established; it can not be moved” (NIV))

Ps.103:5: “U wat die aarde stewig gevestig het, sodat dit nooit sal wankel nie.” (“He set the earth on its foundations; it can never be moved.” (NIV))

Pred.1:5: “Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom.”

Vandag aanvaar feitlik alle Christene die wetenskaplike feit dat die aarde om die son wentel sonder dat dit ons geloof in die betroubaarheid van die Bybel affekteer. Ons aanvaar dat die bg. gedeeltes nie bedoel is om letterlik gelees te word nie, maar dat dit binne die wêreldbeeld van destyds, getuig het van God se beheer oor die heelal.

Dit is jammer dat die skrywers van TP nie rondom Gen. 1-11 tot dieselfde insig kan kom nie.

[Psalms is oorwegend poëties van aard, en Genesis geskiedkundig. Hoekom neem dr. Smuts nie sy pleidooi vir verskillende literatuursoorte in die Bybel hier in ag vir sy verduideliking nie? Prediker hierbo gee ’n 100% wetenskaplik geldige relatiewe beskrywing van die son se beweging ten opsigte van ’n waarnemer op aarde. Moderne wetenskaplikes praat nog steeds van die son wat opkom en ondergaan.

Dit is tragies dat dr. Smuts nie tot die oortuiging wil kom dat skeppingsleerwetenskap nie net goeie wetenskap is nie, maar by verre ’n beter manier is om die God van die Bybel in sy skepping raak te sien as iets soos die evolusiehipotese wat met die Bybel in stryd is! Ja, God kan sonder twyfel in sy skepping gesien word, maar nie net in operasionele wetenskap (omdat ons Sy alvermoë in Sy ontwerp van die natuurwette ontdek) nie, maar ook omdat ons die bevestiging van Sy woorde in die Bybel in die oorsprongwetenskappe kan sien. Hoekom probeer dr. Smuts so hard om laasgenoemde te ondermyn? Kan hy nie insien dat “om God in die skepping te sien” ver meer beteken as om maar die evolusionistiese vertolkings te glo wat alles bloot natuurlik (sonder enige Skepper) probeer verklaar nie?

Galileo se saak is heelwat ingewikkelder as wat meeste mense dink. Sy siening oor ons sonnestelsel is aanvanklik goed deur die pous ontvang, maar die moeilikheid vir hom het gekom toe hy die pous self begin beledig het. In ieder geval het Galileo die meerderheids-"wetenskaplike"-opinie van sy tyd teëgegaan. Dit het dus eintlik aanvanklik oor wetenskap versus wetenskap gegaan. Daaroor het hy van ander wetenskaplikes ernstige besware gekry. Die eerste godsdienstige besware teen Copernicus het ook van ’n wetenskaplike gekom. Dit het dus ook gegaan oor wetenskap versus wetenskap, en die misbruik van godsdiens deur ’n jaloerse mede-wetenskaplike om iemand stil te maak. Galileo en Copernicus is dus nie juis goeie gevalle om vir "wetenskap teenoor godsdiens" te argumenteer nie, of vir die nodigheid om die Bybel te hervertolk nie. http://creation.com/galileo-quadricentennial en http://creation.com/the-galileo-affair-history-or-heroic-hagiography bevat baie goeie inligting oor hierdie gevalle. Dit sal baie goed wees as alle Christene dit wou lees, om te besef hoe onsinnig hierdie standaard beskuldiging is.

Hierdie is dus nié ’n voorbeeld waar wetenskaplike bevindinge ’n heroorweging van die verstaan van die Bybel noodsaak nie, want die Bybel beweer nié dat die aarde plat is of dat die son om die aarde draai nie. Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat God in ses dae, soos ons dit vandag ken, geskep het, dat Hy die plante en diere volgens hulle soorte geskep het, en dat die sondeval, sondvloed en toring van Babel werklike geskiedenis was.]

6. Augustinus gee wyse raad: Die vraag na die letterlike interpretasie van alle dele van die Bybel, is nie nuut nie. Dit is ook nie die gevolg van die aansprake van die moderne wetenskap nie. Dit bestaan vir so lank as wat mense die Skrif bestudeer het. Francis Collins maak in sy boek “The language of God” ‘n paar merkwaardige aanhalings van wat die kerkvader Augustinus (354-430 nC.) in die verband geskryf het. [Kyk Harmony and discord vir ‘n resensie oor “The language of God”.]Ek haal die Engelse vertaling aan, soos Collins dit gebruik:

Oor die letterlike vertaling van die Bybel: “In matters that are so obscure and far beyond our vision, we find in Holy Scripture passages which can be interpreted in very different ways without prejudice to the faith we received. In such cases, we should not rush in headlong and so firmly take our stand on one side that, if further progress in the search for truth justly undermines this position, we too fall with it.”1

Augustinus het reeds in sy werke oor Genesis twyfel uitgespreek oor die letterlike verstaan van die skepping in sewe dae soos ons dit ken.2

Die volgende lang aanhaling van Augustinus bevat ’n merkwaardige waarskuwing vir ons as gelowiges om nie van ons geloof ’n bespotting vir ongelowiges te maak, deur blindelingse vas te hou van ’n letterlike vertaling van Gen. 1&2 nie:

“Usually, even a non-Christian knows something about the earth, the heavens, and other elements of this world, about the motion and orbit of the stars and even their size in relative positions, about the predictable eclipses of the sun and the moon, the cycles of the years and the seasons, about the kinds of animals, shrubs, stones and so forth, and this knowledge he holds as to be certain from reason and experience.

“Now it is a disgraceful and dangerous thing of an infidel to hear a Christian, presumably giving the meaning of Holy Scripture, talking nonsense on these topics; and we should take all means to prevent such an embarrassing situation, in which people show a vast ignorance in a Christian and laugh it to scorn.

The shame is not so much that an ignorant individual is derided, but the people outside the household of faith think our sacred writers held such opinions, and, to the great loss of those for whose salvation we toil, the writers of our Scriptures are criticized and rejected as unlearned men. If they find a Christian mistaken in a field which they themselves know well and hear him maintaining his foolish opinions about our books how are they going to believe those books and matters concerning resurrection of the dead, the hope of eternal life, and the kingdom of heaven, when they think their pages are full of falsehoods on the facts they themselves have learned from experience in the light of reason?”3

[Mike Smuts haal graag vir Augustinus aan, maar hy doen dit, moontlik onbewustelik, selektief, en gee daardeur heeltemal die verkeerde prentjie. Augustinus het in ’n jong aarde en ’n baie kort skeppingstydperk geglo – eintlik oombliklike skepping omrede die Latynse vertaling van die Bybel wat hy gebruik het. Sy sienings het ook oor die jare verander. Maar hy het nooit geglo dat die skeppingsdae lang tydperke was nie, of dat die aarde meer as ’n paar duisend jare oud was nie. Hy het nie geglo dat een soort in ’n ander soort verander het nie (die basis van evolusie wat eeue later eers gedefinieer is). Alhoewel hy aanvanklik ’n allegoriese vertolking van sekere dele van Genesis voorgestaan het, verduidelik hy in sy latere belangrike werk “De Genesi ad litteram” die noodsaaklikheid om Genesis letterlik op te neem. Kyk gerus na http://creation.com/augustine-young-earth-creationist wat Augustinus se somtyds komplekse sienings beskryf. Skeppingsleerders kan Augustinus dus eerder ter ondersteuning gebruik as evolusioniste en liefhebbers van miljarde jare.]

7. Samevatting: Die skrywers van TP maak ‘n ernstige fout om die Bybel as maatstaf te gebruik om die bevindinge van wetenskaplikes mee te beoordeel. Dit is teenstrydig met die doel waarvoor die Bybel aan ons gegee is. Op die manier word ‘n onreg gepleeg aan beide die Bybel en die wetenskap. Augustinus se waarskuwing dat ons ‘n bespotting kan maak van die Bybel en ons geloof, is ter sake.

1 Collins, Francis: “The Language of God”, p.83

2 Ibid 151

3 Ibid 156-157

[Hoekom sou die doel van die Bybel wees om vir ons geestelike waarhede deur te gee, aan die hand van onder andere beskrywing van geskiedenis en oorspronginligting, terwyl die geskiedenis en die inligting onwaar is? Glo Mike Smuts dat God, wat die Bybel geïnspireer het, slegs gebrekkige kennis het soos wat Ben du Toit van Jesus geglo het?

In ieder geval word wetenskaplikes in die algemeen se bevindings nie in ons boek beoordeel nie, maar spesifiek sekere oorsprongwetenskaplikes s’n. Dit is belangrik om die verskil tussen operasionele en oorsprongwetenskappe te verstaan (dit word verduidelik op bl. 113 in ons boek). Laasgenoemde verg geweldig baie vertolking, en by vertolking speel voorveronderstellings ’n baie groot rol. Die wetenskaplike wat die toepaslike inligting in die Bybel as waar aanvaar (byvoorbeeld die skeppingsgebeure en die wêreldwye Genesisvloed), sal uiteraard ander vertolkings van dieselfde wetenskaplike data verskaf as wetenskaplikes wat glo alles moet ’n natuurlike verklaring hê, of Genesis is slegs mities, of geen Skeppergod bestaan nie ensovoorts.

Mike Smuts se verwysing elders in sy skrywe dat die skrywers dieselfde fout as Thabo Mbeki met sy VIGS-beleidsflaters gemaak het, bevestig dat hy onwaarskynlik die verskil tussen oorsprongwetenskappe (soos skeppingsleer en evolusie) en operasionele wetenskappe (dit kan nou en hier herhaaldelik getoets en gemeet word, soos VIGS-navorsing) verstaan en voldoende begrip van het.]

Samevatting:

Die ywer van TP om die Bybel te beskerm, moet erken word. Ongelukkig is dit duidelik dat hulle verkeerd te werk gaan en in die proses juis die teenoorgestelde bereik. Mense word gedwing om tussen die Bybel en wetenskaplike bevindinge te kies en dit word aangebied as ‘n keuse tussen geloof en ongeloof. Die waarskuwing van Augustinus teen die gevaar om die Bybel en ons geloof in die oë van ongelowiges belaglik te maak, is ter sake.

[As oorsprongwetenskaplike vertolkings die Bybel weerspreek, soos die evolusiehipotese sonder twyfel doen, is dit belangrik dat gelowiges die regte keuse sal maak. Om nie vir die Bybel te kies nie, is nog meer onverskoonbaar as die betrokke wetenskaplike hipotese op soveel wetenskaplike gronde faal soos wat onder andere in ons boek aangetoon of na verwys word. Tenminste erken Mike Smuts elders in sy skrywe dat hy nie in staat is om oor wetenskap te oordeel nie. Maar tog glo hy soveel in evolusie dat hy sy sterk ondersteuning vir evolusie herhaaldelik duidelik verklaar. Sy aanhang van evolusie is dus sonder twyfel ’n kwessie van geloof. As hy nie van ander evolusioniste wil glo dat dit by hulle ook oor ’n geloof gaan nie, behoort hy tenminste te weet dat dit van homself waar is.

Die waarheid is altyd belangriker as die moontlikheid van bespotting. Kyk ook na Paulus se woorde in 1Kor. 1:23, 24: “maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir dié wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.” Die meerderheidsopinie, ten opsigte van geloof, en selfs ten opsigte van oorsprongwetenskappe wat baie vertolking vereis, is nie noodwendig die waarheid nie. Daar is baie redes hoekom soveel wetenskaplikes verkeerd kan wees met evolusie. Kyk Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?.

Mike Smuts se onvanpaste aanhaling van Augustinus (want hy het in ’n jong aarde en ’n baie kort skeppingstydperk geglo) is net hierbo aangetoon. ]

In die subtitel van die boek word verwys na “die kanker van evolusie en liberalisme” in die NG Kerk. Ongelukkig voorsien hulle in hulle “woordelys” aan die begin van die boek, nie ‘n verklaring van die begrip “liberalisme” nie. Klaarblyklik bedoel hulle dat alle mense wat van hulle eng letterlike verstaan van die Bybel skuldig is aan liberalisme – selfs in so ‘n mate dat predikante wat vir beroep na ‘n gemeente oorweeg word, hieraan getoets word.

Teenoor die gewaande kanker van liberalisme is my ervaring van die manier waarop teologie in die NG Kerk beoefen word, verantwoordelik en onder toesig van die kerklike liggame wat daarvoor aangewys is. Dit beteken nie dat daar altyd eenstemmigheid onder teoloë sal wees nie, maar wel ‘n gesonde dialoog. Prof. EP Groenewald het dikwels aan ons gesê dat die teologie uit ’n dialoog groei. Die styl van die boek is egter nie ’n uitnodiging tot dialoog nie, maar ’n waarskuwing teen almal wat van hulle eie standpunt verskil.

[Let op hoe Mike Smuts hier sy eie gevolgtrekking maak (“klaarblyklik bedoel hulle dat”) maar ondertoe is hy erg beswaard daaroor dat die skrywers gevolgtrekkings maak oor ander teoloë se skrywes. Hoekom mag hy dit doen, maar ander nie? Dink hy regtig ons het geen billike gevolgtrekkings gemaak nie?

Dit is interessant en opmerklik dat mense wat baie gedeeltes van die Bybel nie glo soos dit geskryf is nie – simboliek as simboliek, poësie as poësie, maar dan ook geskiedenis as geskiedenis – selde besef dat hul sienswyse liberaal is. Indien iemand nie kan besef dat die sienswyses van Julian Müller, Ben du Toit en vele ander, soos uit hul eie geskrifte aangehaal in ons boek, te liberaal is nie, gaan ’n definisie van liberalisme nie veel help nie.

Ons aanvaar dié gedeeltes in die Bybel as letterlik waarvan die skryfwyse duidelik wys dat die bedoeling letterlik is. Ja, dié wat nie die duidelik letterlike dele in die Bybel as letterlik wil aanvaar nie, beskou ons as te liberaal.

Ons kan daarmee saamgaan dat teologie uit dialoog ontwikkel, maar as God en Sy Woord nie die dialoog se uitkoms bepaal nie, is dit valse teologie. Dan is dit bloot menslike opinie. En die gevaar in die NG Kerk (die Trojaanse perd!) is dat die bloot menslike opinie al meer gepropageer word.]

‘n Eerlike beoordeling van die inhoud en styl van die boek oortuig nie dat daar ‘n Trojaanse perd in die NG Kerk aanwesig is nie en ook nie dat ‘n “kanker van liberalisme” die NG Kerk bedreig nie. Dat “evolusie” ‘n vrot appel in die kis” is wat die NG kerk bedreig, is ook nie waar nie.

Daarmee word nie gesê dat alles in die NG Kerk is soos die Here dit wil nie. Die kerk bestaan uit onvolmaakte verloste sondaars, en word bedien deur onvolmaakte predikante en teoloë. Die NG Kerk is wel ‘n kerk onderweg onder leiding van die Heilige Gees, in die lig van sy Woord met ‘n roeping in die wêreld van vandag vir die mense van vandag.

Laat ons bid vir die NG Kerk en alle ander kerke wat Jesus as Here bely, dat die Koning van die Kerk op aarde, steeds sy Koninkryk deur ons bediening sal laat kom!

[Ons het al soveel positiewe terugvoer oor die boek gekry dat Mike Smuts se bewering dat “die boek nie oortuig nie” self nie oortuig nie. Natuurlik is dit reg om te besef dat die kerk uit onvolmaakte sondaars bestaan. Maar om dinge wat volgens die Bybel sonde is net gelate te aanvaar en nie aan te spreek waar dit bekend is nie, is sekerlik strydig met duidelike opdragte in die Bybel (bv. Eseg.3:17-21; 33:2-9; Mark.8:38; 1 Kor. 5:9-13).

Ek wonder of Mike Smuts ooit die duidelike oproep tot gebed, met selfs ’n geskrewe voorbeeld, spesifiek vir die NG Kerk, in die boek gesien het. As hy dink dat skeppingsleerders in die algemeen nie die uitbreiding van die evangelie in gedagte het nie, is hy heeltemal verkeerd. En deur God se genade het talle mense al tot uiteindelike geloof in Christus as enigste Verlosser gekom nadat hulle besef het dat die Bybel vanaf die eerste vers, ook betreffende aardse dinge soos oorspronge, geglo kan word.

’n Mens wonder ook waarom hy veral op hierdie punt, maar ook nêrens elders, na die boek se bylaag C oor geloofsekerheid, verwys nie. Of beteken dit tog dat hy miskien met sommige van die groot gedeeltes in die boek waaroor hy niks geskryf het nie, saamstem?]

Bylae: Algemene opmerkings

Aanvanklik was die onderstaande algemene opmerkings deel van die bg. teks. Ek het egter later geoordeel dat dit die aandag kan weglei van die essensie waaroor dit gaan. Dit beteken egter nie dat hierdie opmerkings nie geldig is nie. Daarom word dit as bylae bygevoeg vir die wat daarin mag belang stel.

1. Begrippe onduidelik: Aan die begin van die boek word ‘n aantal begrippe gedefinieer. Ongelukkig is daar belangrike begrippe soos “liberalisme” en “post-modernisme” wat herhaaldelik deur die skrywers gebruik word sonder dat hulle dit vooraf gedefinieer het. By die lees daarvan kry ek die gevoel dat hulle betekenisse daaraan heg wat verskil van myne.

[Beide hierdie begrippe is moeilik om te definieer, want daar bestaan baie grade daarvan. Die belangrike is egter om die tendens en die wortel daarvan in baie teologiese uitsprake, teologiese opleidingsmateriaal en preke raak te sien, en die gevaar ten opsigte van Skrifwaarhede te besef. Natuurlik verkondig alle liberales of post-moderniste nie die ekstreem van liberalisme of post-modernisme nie. Maar om die noodsaaklikheid van die basiese gedagterigting en die moontlike uiteinde daarvan te besef, is tog sekerlik voor die hand liggend.]

2. Gesag van die Bybel: Die boek konsentreer op die “devaluering van die Bybel” en dat “daar nie gehou word by die Bybel as die absolute norm vir ons geloof nie.” (p.xii) Op p.1 word ook gesê dat “die aftakeling van die gesag van die Skrif is.” Wat tot die boek gelei het. Ongelukkig gee die skrywers nie ‘n duidelike uiteensetting van hoe hulle die regte verstaan van die Skrif sien nie. Hulle gee wel talle aanduidings van wat hulle as die verkeerde hantering van die Skrif sien en ‘n mens is genoodsaak om daarvan af te lei wat hulle as die regte lees van die Skrif beskou. ‘n Duidelike uiteensetting van hulle siening sou die beoordeling van hulle standpunt vergemaklik en groter billikheid daarin verseker.

[Daar word na my mening genoeg voorbeelde van verkeerde en regte Skrifgebruik gegee, dat ek nie dink ’n poging tot ’n omvattende uiteensetting sou enigiets duideliker gemaak het nie. ’n Mens kan ’n vrot appel maklik uitken sodra of selfs voor jy daaraan hap, sonder ’n deeglike uiteensetting van wat ’n goeie en wat ’n vrot appel is.]

3. Toeskryf van motiewe: Op verskeie plekke word uiters negatiewe motiewe toegedig aan persone teen wie skrywers reageer. Dit is jammer aangesien dit onbillik is en stry teen die gebod van die liefde. Die volgende is voorbeelde daarvan:

  • Op p.29 word gesê: “Om die teologie van die nuwe Skrifbeskouing of historiese kritiek soos prof. Britz dit noem, aan te hang en nogtans te sê dat jy in die Bybel as die Woord van God glo, is om ‘n eierdans met woorde te probeer uitvoer.” (Eie onderstreping) Daarna word gesê dat sulke mense liewer uit die kerk moet bedank. Verder word gesê dat hulle dit nie sal doen nie en die volgende motiewe, wat verseker nie waar is nie, aan die betrokkenes toegeskryf: “En om ‘n bestaande kerk oor te neem behoort immers makliker te wees as om ‘n nuwe kerk te stig.”

[Hoekom sou laasgenoemde motief nie waar wees nie? Hoekom bly sulke mense dan in die Kerk en probeer in talle gevalle hul bes om baie in die Kerk van hul on-Bybelse sienings deur allerlei skrywes en verklarings te oortuig? Of doen hulle dit maar net om die koerante en ander media te haal, waarin hulle duidelik slaag?]

  • Op p.31 word die Algemene Sinode (2002) se verslag oor die gesag van die Skrif so beoordeel: “Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik.” Dit is jammer dat die skrywers nie die verslag as bylae aangeheg het sodat ons as lesers self die slegte beoordeling daarvan kan toets nie. Nou word uiters selektiewe sinsnedes uit die verslag deurgegee met hierdie onbillike karakterisering van die verslag daarby.

[Op bl. 29, voetnota 32 is daar wel ’n skakel na hierdie verslag: “NGK besluit oor skrifgesag (2002-10-13)” – http://www.glodiebybel.co.za/component/content/article /104-ngk-besluit-oor-skrifgesag-2002-10-13.html. Ek glo vir geen oomblik dat ons ’n onbillike karakterisering gedoen het nie. Dit staan lesers immers vry om self te gaan seker maak of ons aanhalings uit die betrokke verslag nie is wat dit wil voorkom om te wees nie. Kyk ook Kommentaar deur Jan Louw vir meer volledige aanhalings uit die verslag.]

  • Op p.34 word oor dieselfde verslag van die Algemene Sinode onder andere gesê: “(in die verslag)...is daar ‘n diepe gebrek aan ootmoed en eerbied vir die Bybel as God se onfeilbare Woord ...word die soewereine leiding van die Heilige Gees nie eerbiedig nie ..... Onder mooi klinkende woorde word dit wat eintlik in die verslag gebeur verberg .....” (Eie onderstreping)
  • In Hoofstuk 5 handel die skrywers oor hulle siening van die “aanslag op die Woord vanuit die postmodernisme”. Hulle praat oor “onsekerheid” wat volgens hulle kenmerkend van die postmodernisme is. Hulle sê dan: “Ten diepste is dit ‘n weiering om te aanvaar en te gehoorsaam wat die Bybel duidelik sê. ... Onder voorwendsel dat ek nie kan verstaan wat die Bybel sê nie, weier ek om te gehoorsaam wat God van my vra.” (p.78) (Eie onderstreping)

4. Eie interpretasies en valse beskuldigings: Op verskeie plekke gee die skrywers eie interpretasies van wat persone bedoel en beoordeel dan die interpretasie as dit wat die betrokke persoon eintlik bedoel. In die meeste gevalle sou die persoon wat beoordeel word, waarskynlik nie met hulle toegeskryfde interpretasie saam stem nie. So ‘n benadering is onbillik en kan lei tot valse beskuldigings. Die volgende is enkele voorbeelde daarvan:

  • Op badsye 19-20 word ‘n lang aanhaling gegee van wat Prof. Jurie le Roux sou geskryf het (sonder ‘n bronverwysing) en dan sê die skrywer na die aanhaling: “Met ander woorde (hulle interpreteer), volgens Prof. Le Roux is wat in die Bybel oor Abraham geskryf is, maar ‘n gebrekkige en gebroke konstruksie indien dit ooit geskiedenis is.” En dan volg ‘n volgende eie interpretasie: Hieruit is dit tog duidelik dat sy dunk van die Bybel tog geensins is dat dit Goddelike gesag het nie.” (p.20) Ek twyfel of prof Le Roux met die interpretasie sou saam stem. (Eie onderstrepings)

[Voetnota 23 op bl. 18 gee ’n verwysing na waar prof. Le Roux se studienotas volledig gelees kan word. Hoe kan Mike Smuts beweer daar is geen bronverwysing nie? As die Bybel byvoorbeeld Abraham se gebeure beskryf as ware geskiedenis, maar prof. le Roux kom met sy siening dat dit maar ’n gebrekkige en gebroke konstruksie is indien dit ooit geskiedenis is, het hy mos duidelik ’n lae dunk van die Bybel. Hoe kan die Bybel dan van Goddelike gesag wees? En hoekom mag skrywers nie hul interpretasies van ander se skrywes gee nie, veral as Mike Smuts dit self doen (en nog soms verkeerd gekry het) soos hierbo aangetoon is? Verder het een van die skrywers vir prof. Le Roux persoonlik per e-pos gekontak en hom daaroor gevra. Hy het aanvanklik ’n halfhartige poging aangewend om te ontken dat hy nie glo dat Abraham nie histories was nie, maar na verdere vrae het hy dit nie eers meer probeer ontken nie. En selfs al sou hy glo dat Abraham histories was, skep hy baie verwarring by studente met sy studienotas.]

  • Op bladsye 30-31 word die verslae van die Algemene Sinode oor die gesag van die Skrif behandel en dan volg nog ‘n onbillike eie interpretasie wat die Algemene Sinode beslis sal ontken. Dit luit so: “Die opmerkings oor die Bybel wat hierbo aangedui is kom in wese daarop neer dat ons die Bybel nie meer kan vertrou nie.” (p.32) (Eie onderstrepings)

[Die skrywers se interpretasie is uiters billik gegewe al die aanhalings uit die verslag soos weergegee op die betrokke bladsye.]

  • Op bladsye 128-131 word ‘n artikel van Prof. Julian Muller aan die orde gestel en elke aanhaling word gevolg deur eie interpretasies. Die skrywers verduidelik hierdie werkwyse soos volg: “Omdat ons sy hele redenasie ‘n bietjie onduidelik gevind het, het ons sekere verduidelikende voorstelle van hoekom ons dink dat hy redeneer soos hy redeneer, bygevoeg.”(!) (p.128) (Eie onderstrepings) Weer erkende eie interpretasies waarmee die oorspronklike skrywer waarskynlik nie sal saam stem nie. So ‘n werkwyse is liefdeloos en onbillik!

[Nee dis geensins onbillik nie – as die leser twyfel oor die kommentare, is hy welkom om prof. Müller se eie woorde te lees. Het Mike Smuts eerlikwaar geen beswaar teen Müller se eie woorde nie? Dis ook nie liefdeloos nie – om iemand maar net te laat begaan veral as hy honderde mense met hom saamsleep oor die afgrond, sou liefdeloos gewees het.

Hierdie klagte dat die skrywers van die boek nie eie interpretasies mag doen nie, is nogal ironies in die lig daarvan dat dr. Smuts nie net hierbo interpretasies van gedeeltes in die boek gedoen het nie, maar in die gevalle van meganiese inspirasie en homoseksuele oriëntasie dit heel verkeerd gehad het.]

5. Wetenskap onder verdenking: Op p.37 word beweer dat die staat die teologiese fakulteite befonds en dat die fakulteite daarom “aan sogenaamde wetenskaplike vereistes moet voldoen en die wetenskap het gewoonlik ‘n ongelowige uitkyk.” In die volgende paragraaf meer oor die staat en die teologiese fakulteite. Nou wil ek net die gedeelte wat ek onderstreep het, uitlig. Die tipering dat die wetenskap ‘n “ongelowige uitkyk” het, is totaal misplaas. Die gedagte funksioneer ook wanneer evolusie teenoor die Skrif gestel word asof ‘n letterlike verstaan van die Skrif die geloofsposisie is en die wetenskap teenoor die geloof staan. Die wetenskap het nie geloof of ongeloof nie. Dit is nie ‘n persoon wat kan glo of nie glo nie. Die wetenskap ondersoek verskynsels en poog om dit te verstaan, te verklaar en te benut. Geloof lê op ‘n vlak buite die wetenskaplike ondersoek. Talle wetenskaplikes (moontlik selfs die meerderheid) is ook gelowiges en sien die hand van God die Skepper in die natuurverskynsels wat hulle bestudeer. Ander wetenskaplikes gebruik dieselfde wetenskaplike metodiek en kom tot dieselfde bevindinge van hulle onderwerp, maar bly ongelowig. So ‘n negatiewe houding teenoor die wetenskap, soos in die bogenoemde aanhaling, is sleg vir ons verantwoordelike omgang met die Here se Woord.

[Alhoewel Mike Smuts die woorde in die boek “gewoonlik ‘n ongelowige uitkyk” korrek aanhaal, laat hy die “gewoonlik” uit in sy opvolgende bewering. Dit is misleiding. Die tipe wetenskap wat in die teologiese fakulteite ingevoer word, wat meehelp daartoe dat die Bybel al meer gesien word as “mensewoorde oor God” in plaas van “woorde van God”, bevestig ons standpunt.

Hierdie gedeelte van dr. Smuts se skrywe hierbo, lig, sonder dat hy wil, ’n belangrike waarheid uit. Hy skryf: “Die wetenskap het nie geloof of ongeloof nie. Dit is nie ’n persoon wat kan glo of nie glo nie. Die wetenskap ondersoek verskynsels en poog om dit te verstaan, te verklaar en te benut.” Sy eerste twee sinne is heeltemal reg, maar sy laaste sin is heeltemal verkeerd. Die “wetenskap” kan niks ondersoek nie, maar “wetenskaplikes” kan. En wetenskaplikes het geloof en ongeloof. ’n Mens kan nie die wetenskap van die wetenskaplike skei nie. Kyk na die stelling wat Albert Einstein teenoor Werner Heisenberg gemaak het, soos opgeteken in “Physics and Beyond”, bl.63, 1971: “But on principle, it is quite wrong to try founding a theory on observable magnitudes alone. In reality the very opposite happens. It is the theory which decides what we can observe.” Die wetenskaplike se voorveronderstelling (sy hipotese of teorie) bepaal nie net sy vertolking nie, maar selfs wat hy sal waarneem, volgens Einstein. Kyk bv. die aanhalings Aanhalings - Evolusie is 'n geloof.]

6. Die staat en die aanstelling van teologiese dosente: Op p.47 stel die skrywers die vraag: “Sal die kerk byvoorbeeld oorweeg om haar eie kweekskole, onafhanklik van enige staatsbeheer, tot stand te bring? Uiteraard sal die Kerk dan teologiedosente kan aanstel wat nog staan by gereformeerde Bybelse beginsels.” Die indruk word gewek dat die subsidie wat die staat voorsien, aan hom die reg gee om oor die leerstellige suiwerheid van kandidate wat vir doseerposte oorweeg word, uit te spreek of daarby in te meng. Hierdie indruk is misleidend en strook nie met die waarheid nie. Die staat stel wel vereistes t.o.v. die akademiese kwalifikasies van kandidate, maar die keuring t.o.v. leer en Christelike lewe word deur die Kuratoria van die kerk self gedoen. Dit is jammer dat die skrywers van die boek met sulke opmerkings ons teologiese fakulteite onder verdenking bring.

[Ons het hiermee ’n moontlike verduideliking aangebied waarom die teologiedosente soveel van gereformeerde Bybelse beginsels afgewyk het. Die feit van hul afwykings lê nie in die korrektheid van die verduideliking nie, maar in hul uitsprake en studiemateriaal self, soos voorheen reeds met talle voorbeelde aangetoon is. Indien enigiets, versterk Mike Smuts hier die waarskuwing van die boek dat die teologiese opleiding in die NG Kerk ernstige probleme het. Hy maak maar net, sonder dat hy wil, die kuratoria deel van die oorsaak van die probleem waarmee ons saamstem, want hulle tree duidelik dikwels nie op wanneer en soos hulle behoort nie.]

7. Onwetenskaplike omgaan met statistiek: Op pp.36-37 word beweer dat baie lidmate koers kry na “kerkgenootskappe wat bely dat hulle die Skrif as betroubare Woord van God glo.” Daarna haal hulle ‘n verslag van Ds. Kobus Schoeman aan om aan te toon hoe die lidmaattal van die NG Kerk van 1981 tot 2006 gedaal het. Direk daarna gaan hulle voort met hulle interpretasie van die syfers as hulle sê: “Een van die redes vir die opsegging van lidmaatskap van die NG Kerk is ongetwyfeld die prysgawe van geloof in die Bybel as die Woord van God ....” (p.37)

Daar is geen wetenskaplike gronde vir die bewering nie. Ds Schoeman se bevinding oor lidmaattalle in die NG Kerk (Kerkspieël 2006), wat die skrywers van TP kies om nie te noem nie, is soos volg: “Dat ...1) die totale lidmaattal die afgelope 10 jaar stabiel bly, 2) die kerk ten spyte van emigrasie stabiel gebly het (belangrik!), 3) die kerk verouder (interessant: die bo-60-jariges is nou byna gelyk aan die onder-16-jariges! Terloops: in 1981 was ⅓ doop en ⅔ belydend, en in 2006 was ¼ doop en ¾ belydend) en 4) denominasionele verskuiwings weglaatbaar klein is, maar dat gemeentelike migrasie in 6 jaar verdubbel het van 2000 af. Die goeie nuus is dus dat ons eintlik baie beter gedoen het as wat die rapporte oor ons was, maar dat dit wil lyk asof ‘n verbruikerskultuur besig is om te begin posvat.”4 (Eie onderstreping)

[Hoekom beweer Mike Smuts dat ons nie die veroudering van die Kerk noem nie, terwyl ons dit juis pertinent noem? Wat het gemeentelike migrasie met enigiets hier te doen? Kobus Schoeman se syfers gaan immers oor die aantal mense in die NG Kerk as geheel – gemeentelike migrasie binne dieselfde Kerk verander niks daaraan nie.

Sommige van ons stellings is gebaseer op ons as skrywers en mede-skrywers se kennis van die redes wat mense gee, wat ons self ken, waarom hulle die NG Kerk verlaat het. Daarom kan ons beweer dat “prysgawe van geloof in die Bybel as Woord van God” ongetwyfeld een van die redes is.

Dat die NG-lidmaattalle van 1996 tot 2006 konstant gebly het, al het dit verminder vanaf 1981, is darem minder negatief. Maar in (byvoorbeeld) die Centurion-omgewing groei die charismatiese kerke. En alhoewel ons nie met al hul leerstellinge saamstem nie, staan hulle in baie opsigte sterker op die waarheid van die Bybel as baie NG-gemeentes en -teoloë. Dat denominasionele verskuiwings weglaatbaar klein is, is waarskynlik so volgens amptelike syfers. Maar dat dit die werklike situasie is, is bevraagtekenbaar. Ons weet van talle mense wat nou in charismatiese kerke is, maar wat nooit hul lidmaatskap by die NG Kerk opgesê het nie.

’n Baie interessante statistiek sal die afname in die verhouding van kerkbywonende lidmate tot lidmate wees. Met ander woorde, al het die lidmaattal op die oog af vir 10 jaar konstant gebly, hoeveel het die deelname gedaal? Die groter probleem is immers nie die lidmaatgetalle nie, maar die geestelike stand van die lidmate en hul leraars, gemeet aan die Bybel. Dr. Braam Hanekom se artikel in die Kerkbode van Januarie 2011 “Dán bewys dalende syfers die kerk 'n guns ...” bevestig hierdie probleem.

Hierdie boek is bedoel om ’n oproep aan twyfelaars (veral binne die NG Kerk, maar nie uitsluitlik nie) te wees om opnuut aan die Bybel as die onfeilbare Woord van God vas te hou. Hierdie boek is bedoel om mense te waarsku teen verkeerdhede (Eseg.3:17-21; 33:6,7) en dit reg te stel deur God se genade. Hierdie boek is bedoel om as ’n wag op die “mure” die trompet te blaas en alarm te maak. Maar dr. Smuts is een van die wat roep: “Vals alarm! Alles is reg! Daar is niks verkeerd nie!”.

Dr. Smuts, die NG Kerk mag geen van die wesenlike problem in haar geledere, soos onder andere beskryf in die boek “Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme”, ontken of ignoreer nie. Ons weet jy verskil van ons oor baie sake, maar wil jy nie maar nog meer bid en dink oor ons boek se waarskuwings, miskien ook na aanleiding van hierdie kommentare op jou resensie nie?]

Voetnotas:

1 Collins, Francis: “The Language of God”, p.83
2 Ibid 151
3 Ibid 156-157
4 http://www.gemeentes.co.za/webbladsye/kerkspieel.html