Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Die inspirasie en ontstaan van die Bybel PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Dinsdag, 15 Junie 1999 19:00

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk die indeks.

Junie 1999

OORSIG

Ek het die artikel in 1999 geskryf met die oog op ‘n byeenkoms van ringspredikante.

Ons noem die Bybel die Woord van God, maar dit is dan mense wat die boeke van die Bybel geskrywe het en dit is uiteindelik vergaderings van die kerk wat besluit het watter boeke ingesluit moet word in die Bybel en watter nie. Waar kom die Boek se gesag vandaan dat ons, ons geloof juis daarvolgens moet inrig?

Ek het in hierdie artikel betoog dat ons nie die gesag van die Bybel moet probeer begrond vanuit ‘n bepaalde inspirasieleer van die Bybel nie. Dit is nutteloos om te probeer verduidelik hoedat die Gees op ‘n “ander” of unieke manier in mense gewerk het, die oomblik toe hulle aan die boeke van die Bybel meegewerk het en dat ons op dié wyse gesag aan die Bybel as die Woord van God wil gee.

Ons moet die gesag van die Bybel herlei na die uniekheid van die kerk as heilige gemeenskap van God. Deur die Gees het God van die begin af in sy kerk gawes uitgedeel van onder meer geskiedskrywing en profesie. God het hierdie “geloofsgetuies” se nalatenskap beskik sodat die Bybel tot stand gekom het en op dié wyse het Hy sy openbaring en goddelike wil aan die mense bevestig.

Ons geloof is uiteindelik gebou op die versekering dat die "Gees van die waarheid", die kerk deur die eeue in die waarheid gelei het en steeds in die waarheid sal lei (Joh 16:13).

DIE MENSLIKE AANDEEL BY DIE ONTSTAAN VAN DIE BYBEL

In die dogmatiek leer ons van die verskillende inpirasie teorië. Al die teorië probeer om uitdrukking te gee aan die wyse waarop God en die mens saamgewerk het by die skrywe van die Bybel. Toe ek ‘n student was op universiteit, is ek gekonfronteer met die groot aandeel wat die mens skynbaar gehad het by die skrywe van die Bybel. Ek het met die sg tekskritiek te doene gekry. Onderaan elke bladsy van die Hebreeuse en die Griekse Bybels was daar ‘n streep getrek en daaronder is ‘n lys van variante lesings aangebied. Ek het verneem dat die mense deur die jare foute gemaak het met die oorskryf van die Bybel en dit is nou die taak van sekere mense om hierdie verskillende lesings te vergelyk en te probeer uitsorteer watter een die mees waarskynlikste is. Ek het ook geleer van die proses van die kanonvorming. Ek was verras om te verneem dat dit gewone kerklike vergaderings, sinodes was wat moes besluit watter boeke in die Bybel opgeneem moes word en watter nie. Ek het ook gehoor van die apokriewe boeke wat nie in die Bybel opgeneem is nie.

Hierdie feite het deur die jare vir my ‘n bron van nadenke gebly en ek het so nou en dan kennis geneem van wat ons kerk se teoloë oor die Bybel sê. Dit lyk vir my daar is ‘n tendens in die teologie om so voort te borduur op die menslikheid van die Skrif dat die geloofwaardigheid van die Skrif naderhand onder verdenking kom. Ons het by die vorige byeenkoms gehoor van die argumente van Spangenberg. Hy het melding gemaak van die sg paradigmaverskuiwings wat ons telkens in die geskiedenis belewe. Dit beteken dat mense van ‘n bepaalde tydvak vasgevang is in ‘n denkraamwerk.

Ek glo dit is waardevol om hierdie denkverskuiwings in die geskiedenis van die mensheid te bestudeer, maar dit kan ook só op die spits gedryf word dat voorgegee word dat ons nouliks kontak het met mense van die verlede. Die saak word naderhand so voorgestel dat mense van ‘n vorige era se uitkyk op die werklikheid en die waarheid so ver van ons verskuif is dat ons as’t ware in verskillende wêrelde lewe. Daar word voorgegee dat ons eers groot brûe na die mense van die verlede moet bou voordat hulle sinvol met ons kan kommunikeer.

As mens hierdie argumente op die Skrif toepas het dit ingrypende implikasies. Dit wil impliseer dat die mense van die Bybel en die skrywers van die Bybel so ver van ons verwyderd is dat ons nouliks met hulle om een tafel kan sit. Wat hulle vir ons nagelaat het is so verweef met hulle verouderde paradigmas dat dit min konkrete waarde vir ons tyd het. Hulle het vir ons hulle (primitiewe) geloofsbelewenisse neergeskryf. Ons moet dit eers dekodeer voordat dit vir ons bruikbaar is.

‘n Praktiese voorbeeld hiervan is dat die dissipels en die Christene van die vroeë kerk die sg Jesusbeweging genoem word. Dit is in hierdie trant dat ‘n professor van die Ned Hervormde Kerk by die Teologiese Fakulteit by die UP by ‘n VTO (Voortgesette Teologiese Opleiding) kursus wat ek bygewoon het gepraat het. Hierdie Jesusbeweging het allerande oordrewe dinge toegedig aan die Jesusfiguur wat die stigter van hulle beweging was. By ‘n internasionale NT Teologiese Konferensie, die Jesus Seminaar in die VSA ‘n paar jaar gelede het teoloë van oor die hele wêreld geluister na referate waarin hulle probeer het om uit te sorteer watter verhale in die Evangelies as histories aanvaar kan word. Die skrywers van die Evangelies was volgens hulle so bevooroordeeld dat ons nou die taak het om op “wetenskaplike” wyse te soek na die “historiese Jesus”.

Die indruk wat ek kry is dat ons eie kerk se teoloë nog huiwerig is om op hierdie wyse met die NT om te gaan, maar daar is min huiwering om hierdie gedagtes op die OT toe te pas. Prof Hermie van Zyl van Bloemfontein het onlangs (1998 of 1999) in die Volksblad vir Ruda Landman probeer “bemoedig” oor haar onsekerhede t.o.v. Adam en Eva en Jona in die vis soos dit vir ons in die Bybel opgeteken is.

Prof van Zyl redeneer op die volgende wyse: Hy gebruik die voorbeelde van die slang wat volgens die Bybel in die paradys gepraat het en die Israeliete wat droogvoets deur die Rietsee geloop het en die son wat stilgestaan het en Jona wat drie dae in die vis se ingewande was. Hy sê as mense hierdie verhale nie letterlik kan aanvaar nie, tas jy nie daarmee die gesag van die Skrif aan nie. Hy sê ons moet ‘n onderskeid maak tussen die godsdienstige gesag van die Bybel en die historiese gesag van die Bybel. ”Dit behels dat die Bybel gesagvol praat oor sake wat die kern van ons verhouding met God raak, maar nie noodwendig oor historiese aangeleenthede nie.” Hy erken verder dat dit nie so eenvoudig is om die godsdienstige en historiese kategorië uitmekaar te haal nie. “Dit veroorsaak nie 'n geloofkrisis om te verneem dat Jona dalk nie regtig drie dae in ‘n vis se maag was nie. Maar dit is totaal iets anders as jy sou verwerp dat Jesus drie dae dood was, begrawe is en toe weer opgewek is. Of dat Jesus uit ‘n maagd gebore is. Hoewel hierdie waarhede in antieke konsepte "verpak" is vorm hulle sentrale heilswaarhede van die Christelike geloof. Hier is dit nie so maklik om die historiese en godsdienstige gesag van die Bybel uitmekaar te hou nie…… Daar is so iets soos kern- en buiterandwaarhede. Om te glo dat Jesus uit die graf gered is, is nader aan die kern van ons Christelike geloof as om te glo dat Jona uit die vis se maag gered is.”

Wat mens ook dikwels hoor is dat die Bybel nie ‘n “geskiedenishandboek” is nie. Ons taak is om te soek na die “boodskap” in ‘n bepaalde litterêre genre in die Bybel. So kan ons nog steeds handhaaf dat die Bybel die Woord van God is, al gee ons ‘n ander inhoud aan dit wat in die Bybel vir die “waarheid” of as “geskiedenis” voorgehou word.

DIE BETEKENIS VAN DIE KERK VIR DIE ONTSTAAN VAN DIE BYBEL

Ek wil in hierdie aanbieding ‘n ander koers vir ons nadenke oor die Bybel probeer aanwys. Die kerk is volgens Paulus “die draer en beskermer van die waarheid” in die wêreld. (1Tim 3:15) Hoe kan ons as predikers met entoesiasme die waarheid van God teenoor die leuen van die satan verkondig en verdedig as daar in ons eie gemoed soveel onsekerheid is oor die inhoud van die Skrif?

Ek wil uitgaan van die standpunt dat ons nie die gesag van die Skrif moet gaan soek in ‘n bepaalde inspirasieteorie nie. Ons sal nooit die wyse waarop God se Gees in die mens werksaam is met ons verstand kan peil nie. Ek het al in die teater gesit en luister na ‘n uitvoering van ‘n simfonie van Beethoven. Na die tyd staan die mense op en roep: “Bravo, Bravo!” In my gemoed sê ek dan ook: Bravo! Maar ek roep nie “Bravo” vir die orkeslede nie. Ook nie vir Beethoven nie. Ek sê in my gemoed: “Bravo, my Heer in die hemel!” Dit is my vaste oortuiging dat ‘n mens nie in staat is om sulke harmonië in sy eie gees te bedink of te produseer nie. Dit is nie die dowe Beethoven na wie ons geluister het nie, dit was ‘n stukkie van die hemel wat God in sy goedheid vir ons op die aarde laat hoor het. Beethoven was maar net die instrument van God se genade. Hoe God dit gedoen het weet ek nie, maar dat dit God se werk is, is vir my duidelik. Beethoven was ‘n komponis. Dit was sy lewenstaak, maar dit wat hy vir ons nagelaat het, het hy ontvang. Dit is deur God vir hom ingegee. Hoe weet ek nie.

Op dieselfde wyse dien dit geen doel om diepsinnig teologies te spekuleer oor die wyse waarop God die Bybelskrywers geïnspireer het toe hulle aan die Bybelboeke gewerk het nie. Ek glo ons moet ‘n ander invalshoek hê as ons wil besin oor die gesag van die Bybel. Die invalshoek waaraan ek dink is die werklikheid dat God van die begin af vir Hom ‘n kerk onder die mense in stand gehou het. Die bestaan en ontstaan van die Bybel hang ten nouste saam met ons belydenis in HK Son 21: (Ek glo) “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou …”

Ons kan sê die kerk is groter as die Bybel. God wou nie in die eerste plek ‘n Bybel daarstel nie. Hy wou ‘n kerk daarstel. Die Bybel is net sy gawe aan die kerk. Die Bybel is net ‘n instrument, ‘n middel waardeur God sy kerk wil onderhou en seën. By die voleinding sal daar nie meer ‘n Bybel nodig wees nie. Dit sal verbygaan soos kennis en profesië as gawes in die kerk, eendag uitgedien sal wees.

Om die Bybel se inspirasie en ontstaan te begryp moet ons dus begin om weer na te dink oor die karakter van die kerk en sy mense en die wyse waarop God in die kerk teenwoordig is.

1. DIE KERK IS VAN DIE BEGIN AF ‘N EENHEID

Ons bestaan in die “eenheid van die ware geloof”. Die apostel Paulus sê in Ef 4:4: “Daar is net een liggaam en net een Gees … een hoop … een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal”. Hierdie woorde moet nie net Nuwe Testamenties verstaan word nie. Dit is waar van die kerk van die begin af. Toe die Here Jesus op die berg van verheerliking was, was Moses en Elia saam met Hom daar. Hulle het die kerk oor ‘n tydperk van meer as 1500 jaar verteenwoordig. Tog kon hulle saam as deel van die een kerk van God op aarde vergader.

Jesus het van Saggeus gesê: “Ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (Luk 19:9) Dit is meer as net ‘n biologiese verwantskap. Dit beteken dat hierdie man ook deel het aan die beloftes wat God aan Abraham gemaak het. Die God van Abraham, Isak en Jakob is ook Saggeus se God. Die Hebreërbriefskrywer verwys in Hebr 11 na Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses en uiteindelik die rigters, Dawid en die profete as deel van die groot skare geloofsgetuies. Hy hou hulle voor vir die NT’e kerk as voorbeelde om ons te inspireer.

Waarom is dit so dat oud en jonk in die kerk vandag so lief is vir die Psalms van Dawid? Dit is omdat ons almal vervul is met een Gees. Die Gees wat in Dawid gewerk het is ook dieselfde Gees wat in ons werksaam is na 3000 jaar. Dawid se geloofservaringe is ook ons geloofservarings. Wat hy van God geleer het vind weerklank in ons gemoed, want dit is een Gees wat in ons almal werk en dit is een God wat ons almal dien.

Ons kan dus nie aanvaar dat daar sulke groot klowe tussen ons en die Bybelskrywers bestaan nie. Die kerk, die versameling van God se uitverkorenes vorm ‘n eenheid al word ons deur die eeue van mekaar geskei. Paradigmas, denksisteme het gekom en gegaan. God het aan ons miskien meer van Homself geopenbaar as aan hulle, maar daar is ‘n liefdesband wat ons almal omsluit en ons saamvoeg tot ‘n eenheid, van Adam se tyd af tot vandag toe.

2. GOD HET GAWES IN DIE KERK GEGEE

Die gawes of charismata het nie eers in die NT ontstaan nie. God het van altyd af deur sy Gees gawes in die kerk gegee waarmee die kerk as geheel gedien is. Hulle het ‘n belangrike bydrae gelewer om die Skrif tot stand te laat kom. Voorbeelde hiervan is:

Die geskiedskrywers in Israel: Dit was hulle roeping om die groot dade van God waarvan hulle getuies was of navorsing oor gedoen het neer te skryf en so na te laat vir toekomstige geslagte. Dit is duidelik dat die geskiedskrywers bedoel het om geskiedenis weer te gee. Die baie name van mense en streke wat hierdie geskiedskrywers opgeteken het, is ‘n teken dat hulle in feite geïnteresseer was en moeite gedoen het dat dit nie verlore moes gaan nie. Dit is nie noodwendig vir almal interessante leesstof nie, maar die aard van die geskiedskrywing het vereis dat dit opgeteken word. Verder het hierdie geskiedskrywers soms melding gemaak van die bronne wat hulle geraadpleeg het om hulle boeke te skrywe. Vgl bv Josua 10:13; 1 Kron 4:22; 2 Kron 9:29. ‘n Merkwaardig eienskap van die geskiedskrywers is die groot mate van objektiwiteit wat hulle geopenbaar het. Hulle het nie net die goeie dinge van Israel en die konings neergeskryf nie, maar ook die slegte. Hulle was in die eerste plek dienaars van God. Hulle het die geskiedenis vanuit God se oogpunt beoordeel sonder aansiens des persoons. Die Bybelse geskiedenis word soms "heilsgeskiedenis" genoem. Dit beteken egter nie dat dit ‘n “onwerklike” tipe geskiedenis is nie. Die Bybelse geskiedskrywers het hulle bloot bepaal tot ‘n tema en ‘n tydperk. Dit geld egter alle geskiedskrywing. (Vgl bv die tema van prof C.F.J. Muller se werk: “500 jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis”)

Die vier evangeliste in die NT val ook onder hierdie kategorie. Hulle het elkeen vanuit hulle eie hoek ‘n boek geskryf oor die woorde en die werke van Jesus wat die Here en Verlosser van die kerk geword het. Die Handelinge van die apostels gee ‘n weergawe van die geskiedenis van die vroeë kerk in die tyd van die apostels.

Die profete: God het Homself op ‘n besondere manier aan sekere mense geopenbaar. Hulle is ook “sieners” genoem. Israel het hulle gerespekteer vir die gawe wat hulle gehad het. Die volk het geweet dat hulle na die profete moes luister om die Woord van God te verneem. Baie van hierdie profesië is so hoog geag dat die mense dit op skrif gestel het sodat dit nie sou verlore gaan nie. God het ook sy planne vir die toekoms aan hierdie profete bekend gemaak. Dit beteken nie dat die profete altyd self volledige insig aangaande God se toekoms gehad het nie. Ons hoor soms dat hulle tydens ‘n openbaring self gevra het wat die betekenis is van die gesigte wat hulle gesien het. In baie gevalle het die kerk eers baie jare ná die profeet se optrede verstaan wat die Gees bedoel het deur die woorde van die profete.

Daar is vandag ‘n tendens in die teologie dat die profete slegs beskou word as predikers vir hulle eie tyd. Dit is die basis vir die debatte oor bv Jes 53. Die werklikheid is dat Israel en die profete self nie die implikasies van die profesië verstaan het totdat Christus gekom het nie. Christus was die ontsluiting en die vervulling van profesië soos Jes 53. Wie dit wil ontken en dit so in die kerk leer is ontrou aan die Gees van die profesie soos wat dit altyd in die kerk deur die vromes gerespekteer is. (Luk 2:29-33)

Die wysheidsleraars: Die beoefening van die wysheid was ‘n tendens wat wyer as net Israel gestrek het. In Israel was daar egter ook konings en ander mense wat na wysheid gesoek het. Hulle het tot die konklusie gekom dat alle wysheid begin by die dien van die Here. Hulle het ook hulle werk te boek gestel en dit is in Israel bewaar.

Die digters en komponiste: Dawid het baie bygedra daartoe dat God in die heiligdom met liedere en musiekinstrumente gedien is. Hierdie liedere is veral in die Psalms opgeteken. Die Psalms het deur die inspirasie van die Gees tot stand gekom en is daarom ook profeties van aard.

Die apostels: Die apostelamp was ‘n gawe van die Gees, waardeur God, die kerk wat uitgebreek het uit die grense van die Jodendom, gevestig het. Hierdie manne was beklee met die gesag om die OT’e geskrifte te interpreteer en die kerk te onderrig. Hulle geskrifte is bewaar en oorgelewer omdat hulle as ‘n gawe van God aan die kerk gerespekteer is. Ook op ons rus die verpligting om hulle lering te respekteer en God te dank vir die nalatenskap van die apostels.

3. DIE KERK IS HEILIG

God verwag van sy kerk om heilig te wees soos Hy heilig is. Daarom het Hy sy wet vir sy kerk gegee en ook die Gees om in sy kinders te lewe. Dit geld ook en veral van hulle wat by die opstel van die Skrif betrokke was. Die Bybelskrywers het onder dieselfde wet van God gestaan as ons vandag. In hulle het dieselfde Gees geleef as die Gees waardeur ons gelei word. Dit is dus verkeerd van die sg Bybelwetenskaplikes wat wil voorgee dat die Bybelskrywers nie onderworpe was aan die morele standaarde wat vandag geldend is by die skryf van boeke nie. Bybelskrywers sou dit dan volgens hulle nie as verkeerd ervaar het om in iemand anders se naam ‘n boek te skryf nie. Dit kom algemeen voor in kommentare dat Petrus bv nie regtig die briewe van Petrus sou gekryf het nie en Paulus nie regtig al die die briewe van Paulus nie. Dit was glo iemand anders wat voorgegee het om Paulus te wees. Op dieselfde manier word geleer dat Salomo nie die boek Prediker geskryf het nie. Dit was ‘n ander wysheidsleraar uit ‘n later tydvak wat bloot voorgegee het om Salomo te wees. Dieselfde geld van die boek Daniël.

Die saak word ernstiger as ons sou aanvaar saam met baie Ou Testamentici vandag dat die Bybelskrywers verhale vir hulle volk geskryf het onder die voorwendsel dat dit Israel se geskiedenis is. Spangenberg sê dat die hele OT eers in die tyd van Dawid in aanvang gekom het. Daar word voorgegee dat die Pentateug eers in die ballingskaptyd geskryf is. (500 vC!) Ds Leon Fouche van Stellenbosch-Welgelegen het in 1992 ‘n Pinksterreeks gepubliseer wat hy in die gemeente gehou het oor Gen 1-11 (Uit Gods hand). Hy sê dat Israel in die ballingskaptyd met die Babiloniërs se skeppingsverhaal in aanraking gekom het. Die Babiloniërs het elke jaar feesgevier om Marduk se oorwinning en die skepping van die aarde te herdenk. “Dan wou hulle (Israel) dit uitskreeu dat Jahwe, die God van Israel, die enigste God is en dat Hy die hemel en die aarde geskape het. …. Toe verskyn daar ‘n Israelitiese PROTESGESKRIF teen hierdie valse godsdiens en ideologie. …. Die skeppingsverhaal van Israel is ‘n getuienis wat die mede-Israeliete oproep tot hernieude geloof in hulle God en ook die Babiloniërs uitnooi om in Israel se God te begin glo.” In die voorwoord van dieselfde boek skryf prof. Dirkie Smit dat die geskiedenisse in die Ou-Testamentiese tye net een ding was nl “lewensverhale, verhale oor die lewe, verhale vir die lewe, verhale oor die lewe voor die aangesig van God, verhale oor die lewende God …”

Die implikasie van hierdie siening (lering?) is verreikend vir die kerk. Dit is vir enige objektiewe leser voor die hand liggend, dat ten minste die eerste 500 bladsye van die Bybel die intensie het om geskiedenis aan te bied. Watter verwarring bring dit nie in die gemoed van ‘n opregte Christen (en onkundige wat na die lewende God in die Bybel soek), om “gesaghebbend” te verneem, dit is eintlik maar net verhale nie? Dit is nie bedoel om geskiedenis te wees nie. Hierdie opvatting bring die integriteit van die mense wat destyds die “verhale” geskryf het in gedrang. Hulle gee dinge voor wat nie regtig waar is nie. Dit bring die kerk onder wie se toesig hierdie “verhale” geskryf is en vir die waarheid voorgehou is ook in gedrang. Met respek gesê dit bring ook die integriteit van die God wat hier voorgehou word in gedrang. Al sy openbaringe onder die mense, al sy beloftes, al sy dade, waardeur Hy sy mag sou bekend gemaak het, is toe uiteindelik maar net verhale - stories vir die mense, van die mense, onder die mense, aangaande ‘n God met die naam Jahwe! Mens wil uitroep saam met Paulus in 1 Kor 15:15 waar hy standpunt inneem teen die mense wat die opstanding van Jesus ontken: “Dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig.”

4. DIE GEES LEI DIE KERK IN DIE WAARHEID

In Jes 63:11 en verder kry ons hierdie merkwaardige woorde: “Toe het sy volk gedink aan die ou dae, aan die tyd van Moses, en gevra: Waar is Hy wat sy kudde dwarsdeur die see gebring het saam met hulle herder? Waar is Hy wat sy Heilige Gees onder hulle gegee het? ……. Soos ‘n trop beeste na ‘n groen vallei toe afgaan, so het die Gees van die Here sy volk na ‘n woonplek toe gebring, so het U, u volk gelei om die roem van u Naam te vermeerder.” Die Gees lei die kerk op ‘n pad van verheerliking en nie van verwarring nie. Ons kan vertrou op die teenwoordigheid en die leiding van die Gees in die kerk. Dit was ook die Here Jesus se belofte in Joh. 16:13: “Wanneer Hy kom die Gees van die waarheid sal Hy julle in die hele waarheid lei.”

Daar is ‘n baie groot troos in hierdie belofte. Dit gee ons die versekering dat die kerk in sy belydenis steeds in die waarheid sal bly. Al ken ons ten dele, kan ons verseker wees dat die kerk nie langs die pad die spoor byster geraak het nie. Dit is mense wat die boeke van die Bybel geskryf het, mense wat die boeke, beoordeel het en ingesluit het in die kanon of dit afgekeur het. Dit is mense wat die Bybel geïnterpreteer het en die waarhede van die Bybel in belydenisskrifte geformuleer het. Hoe weet ons dat ons voorgangers nie langs die pad die spoor byster geraak het nie? Dit is die belofte van die Gees in die kerk wat ons troos is. Dit is die belofte van Jesus toe Hy gesê het: “Ek sal my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Mat 16:18)

Die Gees lei die kerk in die waarheid deur indiwidue wat die gawe van kennis en onderskeiding het, maar veral ook by die samekomste van die gelowiges. Ons ken almal die uitspraak van die eerste “sinode” in Jerusalem oor die belangrike besluit aangaande die besnydenis in die kerk: “Die Heilige Gees en ons het besluit”. (Hand 15:28) Ons sê vandag nog “Amen!” op daardie besluit. So werk God in sy kerk deur al die eeue. In die kerk vind onderlinge korreksie en beoordeling van die waarheid plaas. Valse profete word uitgewys. Dit is ook ons waarborg dat ons nie geheel en al die spoor byster geraak het nie. Dit is ook ons waarborg dat die Gees sy hand gehou het oor die proses van die kanonisering van die Bybelboeke. Ons moet nie twyfel aan die leiding van die Gees by die tot standkoming van die Bybel nie. Inteendeel, hoe meer ons met die Skrifte omgaan, hoe meer verbly ons, ons daarin, want ons ervaar dat “die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is.” (NGB Art 5)

GENESIS 1-11:

Ek wil graag ten slotte iets meer sê oor die eerste hoofstukke van die Bybel omdat daar so baie uiteenlopende standpunte oor hierdie gedeelte is. In hierdie gedeelte word vir ons ‘n werklikheid geskets wat ons vandag nie meer ken nie. Ons lees bv. dat daar aan die begin ‘n wonderlike paradystoestand op die aarde was. Die voorouers van die hele menslike geslag het in dié paradys gebly. Hulle het in ‘n volmaakte verhouding met God en met mekaar geleef, maar hulle is deur die slang verlei en mislei om aan ‘n opdrag van God ongehoorsaam te wees. Die gevolg was dat die hele skepping deur God vervloek is en lewe op aarde nooit weer dieselfde was nie.

Verder lees ons daar dat Adam en sy nageslag baie hoë ouderdomme bereik het. Dit het vir sowat ‘n millennium en ‘n half geduur en toe het die mense se boosheid so toegeneem dat God besluit het om die aarde te verwoes en al wat lewe uit te delg. God het egter nog ‘n toekoms vir die mense gehad en daarom het Hy beskik dat Noag ‘n groot skip gebou het waarin sy gesin en voorbeelde van die hele diereryk versamel is. Toe het God deur ‘n waterramp die aarde verwoes. Na hierdie gebeurtenis het God die aarde opnuut bevolk. Die name van Noag se nageslag wat uit sy seuns Sem Gam en Jafet gebore is, is aangeteken asook die plekke waar hulle, hulle gevestig het. Al die mense het net een taal gepraat, maar by Babel het God ‘n taalverwarring onder die mense gebring sodat hulle skielik verskillende tale begin praat het. Driehonderd jaar na die waterramp is Abraham gebore uit die geslag van Sem. Van hom lees ons in Gen 12 en verder.

Hoe moet ons hierdie gedeelte van die Bybel interpreteer? Ruda Landman het onlangs by die Sinode van Suid-Transvaal uiting gegee aan die onsekerhede wat in baie moderne kerklidmate se harte leef oor bv die bestaan van Adam. In ‘n pamflet van die Bybelgenootskap wat uitgegee is saam met die leesrooster wat deur die Bybelgenootskap opgestel is, staan daar dat Gen 1-11 “ondateerbaar” is. Prof Willie Jonker het êrens die opmerking gemaak dat ons moet aanvaar dat daar “mitiese stof” in hierdie gedeelte is. ‘n Ander bekende teoloog het onlangs opgemerk dat mens die verhaal van Noag eintlik net vir kinders kan vertel en nie in volwasse geselskap nie kan gebruik nie.

Ek wil vra dat ons weer ‘n slag ernstig na hierdie gedeelte van die Bybel as betroubare geskiedenis sal kyk. Die Babiloniese skeppings- en sondvloed verhale is nie naastenby vergelykbaar met dit wat in die Bybel opgeteken is nie. Ons kan hulle nie op dieselfde vlak as mites (godeverhale) hanteer nie. Dit is duidelik dat die skrywer/s van Gen 1-11 bedoel het om geskiedenis weer te gee. Ons kry in hierdie gedeelte soos verder in Genesis herhaaldelik die frase: “Hier volg die geskiedenis/geslagsregister (tolidoot) van .....” Dan voorsien die skrywers vir ons die name van mense dikwels met hulle ouderdomme. Verder gee hulle die besonderhede oor die afmetings en materiaal van die ark. Hulle noem die name van die streke waar mense hulle gevestig het en die stede wat hulle gebou het. Dit kan tog nie alles fiktief wees nie.

Waarom is dit vir ons so moeilik om Genesis 1-11 as geskiedenis te aanvaar? Ek wil glo dat die grootste enkele rede vir ons probleme die evolusieleer is wat vandag die aanvaarde leerstelling is waarvolgens die ontstaan van die wêreld verklaar word.

Eerstens bots die Bybel met die tydraamwerk van die ewolusieleer. Daarvolgens word gedink in terme van miljoene jare en nie duisende jare nie. Volgens die Bybelse geskiedskrywers was die vloed 1656 jaar na die skepping en is Abraham 1948 jaar na die skepping gebore. Dit is die basis waarvolgens die skepping tradisioneel 4000 jaar v.C (6000 jaar gelede) bereken is.

Teoloë wat nog historiese waarde heg aan die geslagsregisters beklemtoon gewoonlik dat die geslagsregisters nie volledig is nie. Dr J.H. Kroeze stel voor dat die geslagsregisters net die stamhoofde weergee. So sê hy “verkry ons baie eeue tydwins.” Ons kan miskien die Bybelse datering op die wyse met ‘n paar eeue rek, maar nie met miljoene jare soos wat die ewolusieleer wil hê nie. Iemand wat ‘n geslagsregister wil aanbied wat strek oor ‘n miljoen jaar is in elk geval met bog besig. Dit val heeltemal buite die parameters van geskiedskrywing.

Tweedens bied Genesis ook ‘n heeltemal ander weergawe van die geskiedenis van die mens as die evolusieleer. Die evolusieleer se voorstelling is dat toe die primitiewe homo sapiens uit die diereryk uit ontwikkel het daar baie voorbeelde was. Die mens was nie alleen nie. Daarenteen ken die Bybel nie ‘n primitiewe mens nie. Adam was van die begin af ‘n verantwoordelike mens gewees wat die gevolge moes dra vir sy oortreding. Verder was Adam en Eva alleen. Uit hulle gene het die hele menslike geslag ontstaan. Bybels is elke mens op aarde ‘n afstammeling van Adam en Eva. Elkeen van ons het die sonde van hulle geërf.

Om jouself met hierdie Bybelse konsepte in die wêreld te identifiseer waar die “wetenskap” die laaste woord spreek, vra die moed van jou oortuiging. Daar is in ons tyd ‘n byna afgodiese verering vir die wetenskap en vir die opinie van mense wat in die populêre media wetenskaplikes genoem word. Wat myself betref het ek die keuse gemaak om my denke in te rig volgens dit wat die Bybel vir ons leer en wel om die volgende redes:

  1. Jesus sê: “Wie hom vir My en my woorde skaam te midde van hierdie ontroue en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom saam met sy heilige engele.” (Mark 8:38) Ek glo dit is ook hier van toepassing.
  2. Verder is ek oortuig daarvan dat die evolusieleer die grootste en suksesvolste leuen is waarmee die satan die mensdom in hierdie tyd mislei. (Dit is ‘n onderwerp op sy eie.) Ons het geen rede om die Bybel aan te pas om onsself meer aanvaarbaar te maak vir hierdie geslag wat deur die evolusionisme mislei is nie.
  3. Die begin van die Bybel bied vir ons die basis van die evangelie. Dit is deel van die evangelie. Dit gee die rede waarom Christus moes kom. Jy kan nie die een as ‘n historiese feit verkondig en die ander as ‘n “storie met ‘n boodskap” voorhou nie.
  4. Die tydraamwerk waarbinne die buite-Bybelse geskiedenis van die ander volke soos die Chinese en die Egiptenare funksioneer stem met die Bybel ooreen. Dit is net die paleontoloë wat voorgee dat hulle die geskiedenis van die mense in terme van miljoene jare kan uitlê.

Ek wil dus pleit dat die kerk vandag nuwe aandag aan Gen 1-11 sal gee. As ons hierdie gedeelte van die Bybel respekteer vir wat die skrywers dit bedoel het om te wees, sal dit vir die Christendom nuwe vergesigte open vir nadenke oor God se handelinge in die geskiedenis van die mensheid en die aarde waarop ons woon. Predikers vir wie Gen 1-11 nou ‘n verleentheid is, sal weer met nuwe entoesiasme en groot vrug daaruit preek.

Ten slotte: As Gen 1-11 dan ‘n betroubare bron van historiese inligting is ontstaan die vraag: Waar het die Bybelse geskiedskrywers hulle inligting vandaan gekry? Ek wil graag my siening hieroor aanbied:

Daar is ‘n paar belangrike rolspelers. Eerstens Adam. Adam was ‘n intelligente mens wat aanvanklik voor God geleef het in volkome “kennis, geregtigheid en waarheid”. Hy het 930 jaar oud geword. Vir 930 jaar het hy sy kennis van die verlede vir die opkomende nageslagte bekend gemaak. Noag is die volgende rolspeler. Hy moes ‘n groot ingenieur gewees het as hy in staat moes wees om die ark te kon bou soos dit in die Bybel voorgeskryf is. Noag het hierdie kennis van die verlede waarskynlik skriftelik met hom in die ark saamgeneem. Dan kom Abraham. Hy is gebore in die tyd toe Noag nog geleef het. Hy kom uit ‘n beskaafde wêreld waar mense skriftelik met mekaar gekommunikeer het. As man van God is dit waarskynlik dat hy die kennis oor die verlede versamel en vir sy kinders oorgelewer het. Josef was die agterkleinkind van Abraham. Hy was onderkoning in die groot Egiptiese beskawing, maar hy het ook die beloftes van God aan sy voorvaders op die hart gedra. Uiteindelik verskyn Moses. Hy was opgevoed in die paleis van die Farao, maar skaar hom by sy volk omdat hy die beloftes van God belangrik geag het. Moses het waarskynlik die basis gelê vir die samestelling van die Pentateug.

Die geskiedenis van die Bybel het op ‘n logiese manier tot by ons gekom. Ons hoef nie teen ons menslike rede in, in die Bybel te glo nie. Deur die beskikking van die Heilige Gees is die Bybel die geskenk van God aan sy kerk. Die Bybel getuig van menslike arbeid, maar veral van Goddelike inspirasie. Die litterêre skoonheid, die historiese betroubaarheid, die profetiese insigte, die goddelike wysheid en die merkwaardige wyse waarop die Boek ‘n afgeronde eenheid vorm is alles die vingerafdrukke van die Gees van God. Ons het so baie rede om die Bybel aan te prys en sy lof te besing voor die wêreld. Dit is ‘n tragedie dat dit juis die teoloë in die kerk is wat die meeste bedenkinge het en kompromiëe met die teenswoordige wêreld wil aangaan. Op die wyse word die Gees uitgeblus en die prediking sy krag ontneem.