Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Die Ontstaan van die Bybel PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Maandag, 28 Februarie 2011 19:19

DIE ONTSTAAN VAN DIE BYBEL

2011-02-27

deur Jan Louw

(Alle kommentaar binne [vierkantige hakies] is deur die webmeester ingesit.)

Daar word in ons tyd baie klem gelê op die gedagte van mondelinge oorleweringe van die Bybel en dat die Ou Testament in werklikheid eers in die Ballingskap tyd (500 vc) geskryf is. Ek stem nie daarmee saam nie en wil die volgende ter oorweging gee:

Daar is ‘n paar belangrike rolspelers vir die ontstaan van veral die eerste boeke van die Bybel.

Eerstens moet ons nie die rol van Adam onderskat nie. Adam was ‘n intelligente mens wat voor die sondeval intiem met God saamgeleef het. Die Heidelbergse Kategismus (Sondag 6) sê dat God Adam geskep het “in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe.” So het die teoloë van ouds oor Adam gedink. Daar was ’n oop verhouding tussen Adam en God. God het sekerlik met Adam gepraat oor die die skepping wat Hy tot stand gebring het en Adam het Hom daaroor uitgevra. Adam het 930 jaar oud geword.  Vir 930 jaar het hy sy kennis van die verlede en die inligting wat hy by God in die paradys gekry het aan sy nageslagte oorgedra.

Noag is die volgende rolspeler. Hy moes ‘n groot ingenieur  gewees het as hy in staat was om die ark te kon bou soos dit in die Bybel voorgeskryf is. Dit is nie moontlik om ’n projek met die omvang van die ark, sonder planne en berekeninge te kon aanpak nie. Ter wille van kommunikasie met sy seuns en waarskynlik ander helpers, moes Noag die planne op skrif kon stel. As ons aan Noag dink as een of ander primitiewe grotbewoner, is die geskiedenis van die ark ’n illusie. Noag het as beskaafde en gelowige mens die kennis van die verlede waarskynlik skriftelik met hom in die ark saamgeneem.

Dan kom Abraham 400 jaar later. Hy kom van Ur van die Galdeërs. Hy is gebore slegs 2 jaar na Noag se dood en was 150 jaar oud toe Sem oorlede is. Dit was tye van florerende beskawings. Oorblyfsels van die bouwerke by Ur is nou nog te vinde. Die toring van Babel is in daardie tyd gebou en die taalverwarring het plaasgevind. Abraham se tydgenote het skriftelik in spykerskrif op kleitablette met mekaar gekommunikeer. Hierdie kommunikasie het bestaan uit briewe, ekonomiese verslae en regsake. Hammurabi se kode van wette uit daardie tyd bestaan vandag nog. Die volgende uitspraak van ’n sekere koning Shulgi (2100 vC) gee mens ’n idee van die tyd waarin Abraham gelewe het: Now, I swear by the sun god Utu on this very day -- and my younger brothers shall be witness of it in foreign lands where the sons of Sumer are not known, where people do not have the use of paved roads, where they have no access to the written word -- that I, the firstborn son, am a fashioner of words, a composer of songs, a composer of words, and that they will recite my songs as heavenly writings, and that they will bow down before my words...

Abraham was uit daardie heidense wêreld deur God geroep om in God te glo en Hom te dien. Dit sou sekerlik vir Abraham belangrik gewees het, dat die ontsagwekkende geskiedenis van God en die mense, uit die voortyd, wat deur Noag se nageslag aan hom oorgelewer is, vir die volgende geslagte bewaar moes bly. God het aan Abraham beloftes gemaak oor die verre toekoms. Dit was dus noodsaaklik dat die mense in die toekoms die God sou ken wat aan hom verskyn het. Intellektueel was Abraham ook daardie soort mens wat die belangrikheid kon verstaan van dit wat met hom gebeur het. Hy was ’n gesiene en ’n ryk man in sy omgewing. Hy het op ’n stadium oorlog gemaak teen Kedorlaomer en ander konings om Lot te bevry en hy was suksesvol! Dit gee mens ’n idee van die soort mens wat Abraham was.

Josef was ‘n agterkleinkind van Abraham. Hy was onderkoning in die groot Egiptiese beskawing. Hy was ’n man van naam wat God se voedingsprojek vir die hele destydse wêreld bestuur het. By dit alles was hy toegewy aan God van Abraham, Isak en Jakob. Hy het die beloftes van God aan sy volk, ter harte geneem. (Gen 50:22-26; Eks 13:19) Weereens is die veronderstelling nie vergesog, dat Josef die geskiedenis van die aardsvaders en van God se groot dade uit die verlede ter harte sou neem en sou boekstaaf vir die opkomende geslagte nie. Hy was ’n leier van sy volk.

Uiteindelik verskyn Moses. Hy was opgevoed in die paleis van die Farao, maar skaar hy hom by sy volk omdat hy die beloftes van God belangrik geag het. Moses het waarskynlik die basis gelê vir die samestelling van die Pentateug in die woestyntyd.

Ek kan my dus nie vereenselwig met die standpunt in geleerde kringe, dat die mense van Ou Israel primitiewe mense was wat vir duisende jare hulle stories mondelings oorgelewer het nie. Die samestellers van Genesis het duidelik met skriftelike bronne gewerk. Dit blyk uit die woord “toledah” wat herhaaldelik in Genesis voorkom en met verskillende woorde vertaal word. Kyk bv na die volgende:

  • Gen 2:4  Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is.
  • Gen 5:1  Dit is die stamboom van Adam.
  • Gen 6:9  Dit is die geskiedenis van Noag.
  • Gen 10:1  En dit is die stamboom van die seuns van Noag: Sem, Gam en Jafet
  • Gen 11:10  Dit is die stamboom van Sem
  • Gen 11:27  En dit is die stamboom van Tera
  • Gen 25:12  En dit is die stamboom van Ismael
  • Gen 25:19  En dit is die geskiedenis van Isak
  • Gen 36:1  En dit is die geskiedenis van Esau
  • Gen 37:2  Dit is die geskiedenis van Jakob

Die opdrag om dinge neer te skryf kom 14 keer in die Pentateug voor. In Num 33:2 lees ons dat die Here vir Moses opdrag gegee het om hulle kampplekke in die woestyn op te skryf. Dan volg die name van al die kampplekke, ‘n hele hoofstuk vol.

Die woord “boek” kom 146 keer in die OT voor. Van Genesis tot 2 Kronieke (voor die ballingskap), kom die woord meer as 100 keer voor. Die aanhaling van bronne wat die skrywers gebruik het kom ook dikwels in die Bybel voor. Kyk bv na die volgende:

  • Jos 10:13  Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? [kyk ook Joshua’s long day. Did it really happen—and how?]
  • 1 Kon 11:41  En die verdere geskiedenis van Salomo en alles wat hy gedoen het, en sy wysheid, is dit nie beskrywe in die Geskiedenisboek van Salomo nie?
  • 1 Kon 14:19  En die verdere geskiedenis van Jeróbeam, hoe hy oorlog gevoer en hoe hy geregeer het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
  • 1 Kron 9:1  En die hele Israel is in geslagsregisters opgeneem, en kyk, hulle is opgeskrywe in die boek van die konings van Israel. En die mense van Juda is in ballingskap na Babel weggevoer vanweë hulle ontrou. (Mens kan hier aflei dat die (geskrewe) geslagsregisters reeds bestaan het toe die Israeliete dit met hulle in die ballingskap saamgeneem het.)
  • 1 Kron 29:29  En die geskiedenis van koning Dawid, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad,

My probleem met die aandrang van teoloë op mondelinge oorleweringe van die Bybel, is dat dit ’n deur ooplaat om die geskiedenis in die Bybel op losse skroewe te plaas. Ek het êrens gelees dat die Bybelgenootskap sê dat Gen 1-11, ondateerbaar is. In die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk word ook duidelik uitgewys hoe Ou Testamentici, selfs die geskiedenis van Abraham as sages behandel, omdat Abraham volgens hulle dateer uit die tyd van sg mondelinge oorleweringe [kyk Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham].

Dit is nie aanvaarbaar om in die gees van die tyd voor gee dat die geskiedenis onbelangrik is nie. Toe die Sadduseërs Jesus wou vasvra oor die opstanding, het Hy vir hulle gesê:

Mat 22:31  En wat die opstanding van die dooies betref, het julle dan nie gelees wat God vir julle gesê het nie: 32  ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak, en die God van Jakob’? Hy is nie die God van dooies nie maar van lewendes.”

In hierdie konteks sou ons ook kon sê: God is nie ‘n God van mites nie, maar van werklike mense.

 

Kyk ook: