Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Is daar lewe na die dood? - 50/50 - 16 Maart 2009 Kommentaar op George Claassen se stelling PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Daniel Louw   
Donderdag, 26 Maart 2009 20:00

Op Maandag, 16 Maart 2009 het hulle ’n program op 50/50 gehad oor lewe na die dood en daar was ook ’n kort debat daaroor gehou tussen:

  • Dr. Bernard Ficker: Hy is in tegnologiese navorsing, 'n Sewendedagadventis en 'n skeppingsleerder.
  • Dr. George Claassen: Jy kan maar sê hy is die SA weergawe van Richard Dawkins. Hy is ‘n ateïs en die direkter en voorsitter van Skeptic SA (www.skeptic.co.za).
  • Prof. Cornel du Toit: ‘n Teologiese navorser by UNISA.1

Dr. Ficker het gesê dat hy nie in evolusie glo nie omdat daar geen bewyse is dat genetiese inligting kan vermeerder sodat een soort dier evolueer om ’n nuwe soort te vorm nie. Ons kan baie veranderinge sien gebeur in dieselfde soort, maar nog nooit het ons waargeneem hoe bv ’n vis ’n landdier word nie of hoe ’n hond, ’n perd word nie.

George Claassen het daarna redelik aggressief gereageer op Dr. Ficker en gesê dat Ficker se probleem met evolusie is dat hy nie glo dat daar vermiste skakels is nie. Hy het met baie selfvertroue voortgegaan en gesê dat daar 100de voorbeelde van vermiste skakels is en die Archaeopteryx as voorbeeld genoem.

Ek dink Claassen het baie mense beïndruk met sy selfvertroue en “kennis”, maar daar is ’n paar probleme wat ek gesien het met sy stelling:

 

1. Vermy Ficker se argument

Met sy stelling verander hy die onderwerp om seker een van die grootste probleme van evolusie te vermy: dit is dat dit nog nooit waargeneem is dat genetiese inligting vermeerder het nie. (kyk ook Richard Dawkins stumped op www.youtube.com en Was Dawkins stumped?). Dus gee hy nie ‘n antwoord daarop nie.

Verder het ek die volgende kommentaar op George Claassen se stelling dat daar soveel vermiste skakels is en dat Archaeopteryx een van hulle is:

 

2. Archaeopteryx word nie meer regtig as ’n vermiste skakel gesien nie

Die volgende kom uit Refuting Evolution 2 - Jonathan Sarfati:

Alan Feduccia, a world authority on birds at the University of North Carolina at Chapel Hill and an evolutionist himself, says:

"Paleontologists have tried to turn Archaeopteryx into an earth-bound, feathered dinosaur. But it’s not. It is a bird, a perching bird. And no amount of ‘paleobabble’ is going to change that." - Cited in V. Morell, Archaeopteryx: Early Bird Catches a Can of Worms, Science 259(5096):764–65, 5 February 1993.

 

Kyk ook Bylaag A “Ikone van biologiese evolusie, Archaeopteryx – die verlore skakel” (Hennie Mouton) hieronder (ek het die belangrikste in geel gemerk).

 

Kyk ook What biology textbooks never told you about evolution.

 

3. Sogenaamde oorgangsfossiele/diere nie bewyse vir evolusie nie.

Diere wat lyk soos oorgangsdiere/fossiele is nie ’n bewys vir evolusie nie.

Ek was eenkeer in ’n debat met ’n evolusionis (kyk No proof for evolution?) waarin hy die eendbekdier as voorbeeld vir ‘n oorgangsdier gebruik het. Nou kyk, as jy in evolusie glo, is dit ‘n baie logiese gevolgtrekking om te maak, maar die feit dat dit eiers lê soos ’n reptiel en sy kleintjies soog soos ’n soogdier, maak dit nie ’n oorgangsdier tussen ’n reptiel en ’n soogdier en daarom bewys vir evolusie nie. Jy het oorgangsdiere- of fossiele nodig om dit te bewys, en baie daarvan.

Netso is die vraag: “Watter dier is die voorouer van Archaeopteryx?” Niemand weet nie, want daar is nie oorgangsfossiele om dit te bewys nie.

 

4. Fossielrekord is baie volledig:

Toe Darwin sy teorie van evolusie geformuleer het, het hy gesê dat hy verwag dat daar baie oorgangsfossiele gevind sou word. Vandag is daar egter fossiele van ongeveer 88% van alle diere op aarde (as diere wat moeilik fossileer ingesluit word, is die 79.1%), maar daar is geen duidelike vermiste skakels gevind nie. Dus is die fossielrekord eintlik baie volledig. As ’n mens egter kyk na hoe min sogenaamde fossiele as oorgangsfossiele voorgehou word, dan is dit duidelik dat dit nie bestaan nie.

En selfs evolusioniste erken dit. Kyk wat sê Patterson in ’n persoonlike brief:

“I fully agree with your comments on the lack of direct illustration of evolutionary transitions in my book. If I knew of any, fossil or living, I would certainly have included them. You suggest that an artist should be used to visualise such transformations, but where would he get the information from? I could not, honestly, provide it, and if I were to leave it to artistic license, would that not mislead the reader? I wrote the text of my book four years ago. If I were to write it now, I think the book would be rather different. Gradualism is a concept I believe in, not just because of Darwin's authority, but because my understanding of genetics seems to demand it. Yet Gould and the American Museum people are hard to contradict when they say there are no transitional fossils. As a palaeontologist myself, I am much occupied with the philosophical problems of identifying ancestral forms in the fossil record. You say that I should at least “show a photo of the fossil from which each type of organism was derived.” I will lay it on the line – there is not one such fossil for which one could make a watertight argument.”

[Persoonlike brief deur dr. Colin Patterson, 10 April 1979, Senior Paleontoloog by die British Museum of Natural History, Londen, aan Luther D. Sunderland; in Darwin's Enigma, deur Luther D. Sunderland, Master Books, San Diego, VSA, bl. 89, 1984]

Dus kan evolusioniste nie wegkruip agter die fossielrekord wat sogenaamd onvolledig is nie.

(Kyk ook Aanhalings - Vermiste skakels)

 

5. DNS ooreenkomste:

Hoe bepaal evolusioniste die voorouers van diere? Baie keer kyk hulle na die DNS ooreenkomste tussen verskillende diere. Dus, hoe meer ooreenkomste in die DNS, hoe beter is die kans dat dit die voorouer sal wees. Maar dit is egter logies. As die DNS van bv ’n mens en ’n chimpansee nie nader was as die DNS van ’n mens en ’n voël nie, dan moes ’n mens wonder of die DNS wel die genetiese inligting van ’n ding bevat.

Verder is daar ook al gevind dat die DNS van ‘n vlermuis en ‘n perd nader aan mekaar is as die DNS van ‘n perd en ‘n bees, wat glad nie sin maak nie. Kyk ook http://www.newscientist.com/article/dn9402-bats-and-horses-get-strangely-chummy.html en http://creation.com/saddle-up-the-horse-it-s-off-to-the-bat-cave.

Kyk ook What about similarities and other such arguments for evolution?

 

 

Voetnotas

 

  1. Kyk ook Skepping en Ewolusie om 'n idee te kry van Cornel du Toit se Godsbeskouing.

 

 

Bylaag A

Aanhaling uit Skepping & Evolusie – Onversoenbaar!, deur Hennie Mouton

 

8. Ikone van biologiese evolusie

 

8.6 Archaeopteryx – die verlore skakel

In 1859, volgens Charles Darwin in sy boek The Origin of Species, was die onvolledige fossielrekord ’n ernstige probleem vir sy teorie. Omdat hy geglo het dat alle soorte deur opvolgende klein veranderinkies oor baie lang tye ontstaan het, moes die aantal oorgangsfossiele wat dit toon baie groot gewees het. Maar in 1859 is die oorgangsfossiele nog nie gevind nie.

[The Origin of Species, bl. 234-235 en 255, 1859]

Kort daarna is Archaeopteryx ontdek. Dit het gelyk na ’n oorgang-skakel tussen reptiele en voëls, met die volgende besondere eienskappe:

  • vere wat baie goed met dié van moderne voëls ooreenstem;
  • kake met tande soos ’n reptiel s’n, eerder as ’n snawel; en
  • ’n lang stert van been, soos dié van ’n reptiel.

Vandag is daar al agt Archaeopteryx-fossiele ontdek, almal in die Solnhofen-kalksteenformasies in Duitsland. Alhoewel daar op ’n stadium sprake van bedrog was betreffende moderne vere wat na bewering op die een geplak was, is die bewering onwaar bewys en die werklikheid van hierdie fossiele word vandag algemeen aanvaar.

Volgens die sogenaamde geologiese tydkolom behoort die Solnhofen-kalksteen 150 miljoen jaar oud te wees en daarom beskou meeste evolusioniste Archaeopteryx as die eerste ontdekte voël.

Die status van oorgangskakel van Archaeopteryx is egter vinnig besig om te verdwyn. In 1982 het die Neo-Darwinis Ernst Mayr van die Harvard University dit nog as die feitlik perfekte skakel tussen reptiele en voëls beskryf, maar die paleontoloog Larry Martin van die Kansas University het in 1985 geskryf dat dit nie die voorganger van enige groep van moderne voëls was nie. Dit is dus as die eerste ontdekte lid van ’n heeltemal uitgestorwe groep voëls beskou. In 1996 het die paleontoloog Mark Norell van die American Museum of Natural History van New York dit bevestig deur te beweer dat meeste paleontoloë toe geglo het dat Archaeopteryx nie ’n direkte voorganger van die moderne voëls was nie. Die rede is dat daar te veel strukturele verskille tussen Archaeopteryx en moderne voëls is.

Die opvolger van Archaeopteryx is dus onbekend of het nie bestaan nie. Wat van sy voorganger? Die evolusiedoktrine is heel gelukkig met soorte wat uitgesterf het, maar Archaeopteryx moes ’n voorganger gehad het, anders is spesiale skepping die verklaring, en dis vir hulle heeltemal onaanvaarbaar. Siende dat Archaeopteryx die eerste ontdekte voël was, het die voorganger alles te doen met hoe vlug sou ontwikkel het. Weereens bestaan die moontlikheid dat die eerste voël eenvoudig geskep is om van die begin af te kon vlieg, nie in die evolusionis se raamwerk nie, want ook dit sou spesiale skepping impliseer.

Daar bestaan tans twee evolusionistiese teorieë vir die oorsprong van vlug:

  • die “van-boom-na-grond”-teorie; en
  • die “van-grond-na-lug”-teorie.

Die eerste glo dat voëls van vierbeenreptiele afstam, want hulle moes kon boomklim. Die tweede glo dat voëls van tweebeenreptiele afstam waarvan die voorste twee ledemate aanvanklik gebruik was om prooi mee te vang.

Met die eerste oogopslag lyk die van-boom-na-grond-teorie meer waarskynlik, want gravitasie sou gehelp het en die reptiel of wat dit ook al was, kon darem eers stadigaan ontwikkel het om te kon sweef. Daarna kon dit die vermoë om sy vlerke te klap ontwikkel het. Maar ’n nuwe manier van fossiele te klassifiseer – kladistiek – wat op ’n roekelose toepassing van Darwin se teorie berus, het die van-grond-na-lug-teorie as’t ware vlerke gegee.

Lewende dinge word in verskillende groepe geklassifeer, gebaseer op hul ooreenkomste. Carolus Linnaeus was die vader van die moderne biologiese stelsel van klassifikasie en hy het die grondslag daarvoor gelê lank voordat Charles Darwin op die toneel verskyn het. Volgens Linnaeus het die hiërargiese struktuur op die Goddelike plan van die skepping gedui. Volgens Darwin het dit gedui op verskillende soorte se gemeenskaplike voorgangers.

Alhoewel Darwin se teorie vanaf die 1930’s algemeen aanvaar is, het die Linnaeus-klassifikasie nog vir lank onveranderd gebly. Maar teen die 1980’s het meeste evolusionistiese bioloë die biologiese klas-sifikasie begin herinterpreteer volgens Darwinistiese gedagtes. In 1988 het die Berkeley-bioloog Kevin de Queiroz geskryf dat evolusie ’n aksioma is waarvan sistematiese metodes en konsepte afgelei moet word. Alle groeperings word dus in terme van voorganger-nageslag-stelle gedoen. Hierdie metode van klassifisering – kladistiek – vertrou vir sy getuienis geheel en al op homologieë. Soos vantevore gesien, word homologie deur sommige gedefinieer as ooreenkoms weens gemeenskaplike afstamming. Kladistiek kan dus netso min soos homo-logie as getuienis vir evolusie gebruik word, want die waarheid van evolusie is as voorveronderstelling (aksioma) aanvaar om mee te begin. In kladistiek is eienskapsooreenkomste belangriker as enigiets anders, soos byvoorbeeld:

  • Fisiese probleme in die van-grond-na-lug-teorie is van sekondêre belang.
  • Die volgorde waarin diere in die fossielrekord voorkom word dikwels geïgnoreer.

Volgens toepassers van kladistiek moes die voorgangers van Archaeopteryx tweebeen-, voëlagtige dinosourusse gewees het, want die ooreenkomste tussen Archaeopteryx en sodanige tweebeendino-sourusse is groter as tussen Archaeopteryx en vierbeendinosourusse. Die probleem dat geskikte tweebeendinosourusse eers tientalle van miljoene jare later volgens die evolusioniste se eie geologiese tydkolom verskyn het, word nie as belangrik genoeg geag nie. Betreffende hierdie kwessie het die kladistiese paleontoloog Luis Chiappe van die American Museum of Natural History in 1997 in ’n BioScience-artikel gesê dat hulle tyd nie as besonder belangrik sien nie, want hulle beskou die fossielrekord as onvolledig.

Maar kritikus John Ruben, ’n paleobioloog van die Oregon State University, het daarop geantwoord dat die onvolledigheid van die fossielrekord vir skeptisisme vra, nie vir kladistiese spekulasie nie. Hy het bygevoeg dat hulle behoort te erken dat hulle nie weet nie, anders genereer hulle net warm lug.

[BioScience no. 47, bl. 481-485, 1997]

In November 1999 het die artikel ‘Feathers for T. rex?’ in die National Geographic-tydskrif verskyn. Die skrywer het beweer dat hulle nou kan sê dat voëls dinosourusse is, netso seker as dat mense soogdiere is. Die artikel het ’n prent van die Archaeoraptor-fossiel ingesluit, met die verduideliking dat dit presies die eienskappe het wat wetenskaplikes van dinosourusse sou verwag wat met vlug begin eksperimenteer het. Kort daarna het die Sjinese paleontoloog Xu Xing egter bewys dat Archaeoraptor die werk van ’n vervalser was, wat ’n dinosourusstert aan die lyf van ’n primitiewe voël vasgeplak het. Die vervalser se doel was klaarblyklik om groot geld te maak (moontlik het hy) deur presies dit te lewer wat kladiste gehoop het om te kry. Archaeoraptor herinner mens baie sterk aan een van die grootste bekende vervalsings in die wetenskap van alle tye, naamlik die Piltdown-man. Dié geval word in hoofstuk 9 beskryf.

Bambiraptor is in 1993 deur ’n Montana-familie ontdek en in 1995 aan professionele paleontoloë oorhandig. Sy lyf is omtrent die grootte van ’n hoender, maar sy lang stert gee hom ’n totale lengte van byna 1 m. Verder het hy skerp tande en kloue en herinner sterk aan ’n klein Velociraptor, die denkbeeldige wrede roofdier van die ‘Jurassic Park’-fliek wat mense uit lang grasse bespring en verskeur het. Bambiraptor is in April 2000 in Fort Lauderdale, Florida, by die ‘Symposium on Dinosaur Bird Evolution’ deur kladiste as hul beste nuwe oorgang-skakel voorgestel. Alhoewel tydskale volgens evolusionistiese be-skouing aangetoon het dat Bambiraptor 75 miljoen jaar jonger as Archaeopteryx moes gewees het, het kladistiese analise gewys dat dit baie van die skeletale eienskappe het wat Archaeopteryx se voorganger moes gehad het. Soos reeds gesê, is tyd vir kladiste van sekondêre belang. Paleontoloë wat die Bambiraptor-rekonstruksie ondersoek het, het verklaar dat dit die mees voëlagtige dinosourus is wat nog ontdek is, en ’n uitstaande oorgangskakel tussen voëls en dinosourusse was.

Die volgende besware teen hierdie uitstaande oorgangskakel is egter geldig uit die oogpunt van nie-kladistiese en meer objektiewe getuienis:

  • Die rekonstrueerder van Bambiraptor het aan die simposium-gangers verduidelik dat hy doelbewus probeer het om Bambiraptor so voëlagtig as moontlik voor te stel, gegewe sy veronderstelde posisie tussen dinosourusse en voëls. (Dit herinner my aan die RSG-radioprogram ‘Sê wie?’.) Hy het die anatomie van voëls as sy gids gebruik.
  • Hy het slordige vere op die voorste ledemate en iets soos hare op die lyf geplaas, alhoewel daar geen tekens van vere of hare by die oorspronklike fossiel was nie.
  • Bambiraptor is in die Boonste Kryt-rotsformasies gevind, wat dit volgens evolusioniste op ’n ouderdom van 75 tot 65 miljoen jaar gelede plaas. Archaeopteryx word beskou as 150 miljoen jaar oud, wat beteken dat vlug 75 miljoen jaar voordat Bambiraptor homself van die grond af probeer kry het, al baie verder ontwikkel was, want meeste wetenskaplikes glo dat Archaeopteryx kon vlieg. Voëls wat struktuurgewys met moderne voëls ooreenstem het volgens die inligting net hieronder vanaf 140 miljoen jaar gelede verskyn. Bambiraptor is dus heeltemal in die verkeerde tydgleuf volgens evolusioniste se eie tydsbeskouing.

 

Daar was ook verskeie openlike kritici van die dino-na-voël-teorie by die simposium, alhoewel hulle ver in die minderheid was. Een was die wêreldbekende voëlkenner en evolusionis Alan Feduccia van die University of North Carolina, wat voorspel het dat die dino-na-voël-teorie nog as die grootste verleentheid van paleontologie van die 20ste eeu sou uitdraai. Volgens hom is die struktuur van tweebeen-dinosourusse met hul massiewe balanseersterte en klein voorste ledemate heeltemal verkeerd om te dink dat vlug daaruit kon evolueer. Feduccia en sy medewerkers het net vantevore die fossiel van ’n mossiegrootte voël, genoem Liaoningornis, met voetbeentjies en ’n gekielde borsbeen nes moderne voëls ontdek. Dit is deur hulle as 137 tot 142 miljoen jaar oud gedateer. Hierdie ouderdom is ongemaklik naby aan die Archaeopteryx se 150 miljoen jaar, en daarom soek hulle die gemeenskaplike voorganger van voëls nou in nog ’n laer deel van die fossielrekord.

[‘Kentucky fried dinosaur?’, Creation 19(2), bl. 6, 1997]

Voorstanders van die meer logiese van-boom-na-grond-teorie het darem vierbeendinosourusse in die regte geologiese tydperke volgens hul beskouing (in teenstelling met die voëlagtige tweebeen-dinosourusse), maar ’n geskikte voorgangerkandidaat vir Archaeopteryx is ook nog nie deur hulle gevind nie, met ander woorde is ook steeds verlore.

Evolusioniste het dus glad nie ooreenstemming oor wat die voorganger van Archaeopteryx was nie en dink ook nie dit het ’n opvolger gehad nie, of as dit gehad het, is dit ook nog nie ontdek nie. Ek sou dink dat as mens iets as ’n oorgangskakel wil beskou, mens tenminste behoort te weet tussen wat en wat, en dan meer spesifiek as die vae bewering van tussen reptiele en voëls. Die mees gebruikte voorbeeld van ’n oorgang-skakel as ikoon vir evolusie in biologieteksboeke – die Archaeopteryx – is dus duidelik nie ’n goeie voorbeeld nie.

Volgens inligting wat in Nature, volume 417, van 2002 verskyn het, is goed bewaarde spore van voëls in rotslae in Noordwes-Argentinië gevind, wat volgens evolusionistiese tydskale 55 miljoen jaar ouer as Archaeopteryx is. Die ouderdom is bepaal deur die fossielinhoud van die rotslaag, met ander woorde die geologiese tydkolom, en radiometriese datering. Alhoewel evolusioniste erken dat die getuienis sterk is dat die spore byna identies, indien nie heeltemal identies nie, aan moderne voëls s’n is, verkies hulle om dit “voëlagtig” te noem en dit toe te skryf aan ’n tot nog toe onontdekte dinosourus met voëleienskappe. In werklikheid plaas hierdie getuienis ernstige vraag-tekens op die status van Archaeopteryx as eerste voël of die betroubaarheid van die megajaardateringsresultate of beide.

[‘Very old bird tracks claimed to be from an unknown dinosaur’, TJ 17(2), bl. 4-5, 2003]

Volgens die Bybel en skeppingsleer kon voëls en ander vlieënde kreature van die begin af gevlieg het. Sommiges kon wel hul vermoë om te vlieg later verloor het, maar dit is ’n verlies aan genetiese inligting en daarom eintlik die teenoorgestelde van evolusie – dus ook devolusie. Die manier hoe vlug ontwikkel het, sal nooit ontdek word nie, omdat dit netso vinnig – in een dag – soos die skepping van die eerste vlieënde kreature gebeur het. Die fossielrekord weerspreek nie hierdie Bybelse gegewe nie. Archaeopteryx was ’n uitsonderlike voël, maar nietemin ’n voël. Daar is geen teken by hom te vinde dat skubbe besig was om na vere of pote na vlerke oor te skakel nie.

[The Answers Book, bl. 17, 1999]