Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Hoe slaap dominee dan? (Sakkie Spangenberg)) PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Beeld   
Saterdag, 26 Maart 2011 18:00

Kyk ook:

Die volgende artikel wys wat Sakkie Spangenberg dink van gebed.

******

Hoe slaap dominee dan?

2011-03-26 10:40

(http://www.beeld.com/By/Nuus/Hoe-slaap-dominee-dan-20110326)

Kirby van der Merwe

Elke keer wanneer Sakkie Spangenberg ’n woord rep, trek ’n gegrom deur die geledere van gelowiges. Hy maak hulle sommer lekker die bliksem in – hierdie keer oor die stilte ná die dood. Maar, het dié teoloog aan Kirby van der Merwe vertel, hy kán nie anders nie.

Sakkie Spangenberg lyk rustig en innemend, amper soos die proponent wat hy eens was.

Ons sit aan vir middagete agter in die tuin van Paputzis in Linden, Johannesburg.

'n Rustige plek, lowergroen, koffie voor ons op die tafel. ’n Vreemde voël kwetter op die agtergrond. (Hy is ’n ywerige voëlkyker, sê Sakkie.)

Tog verwag ek amper iemand, vriend óf vyand, gaan ons onderbreek en hom kwaai op die skouer kom tik.

Want Sakkie, ’n professor in teologie aan Unisa en kenner van die Ou Testament, het pas weer ’n klomp mense die harnas ingejaag met sy uitsprake oor die skepping en die hiernamaals:

Die mens is nie die kroon van die skepping nie, bloot ’n vertakking aan die “boom van lewe”. Die mens het nêrens in sy evolusie ’n siel bygekry wat nadoods sal voortlewe nie – ons is bloot “selfbewuste grootape”.

Dié misverstaan van selfbewussyn het aanleiding gegee tot die idee van ’n onsterflike siel, maar sodra die brein sterf, is selfbewussyn daarmee heen.

Niks behalwe die materie waaruit ons bestaan, leef voort nie. Net soos niks voortleef wanneer ’n olifant of ’n renoster sterf nie.

So sê Sakkie, en hieroor is vele gelowiges nou sommer lekker knorrig. Soos hulle al soveel keer tevore vir hom was.

“Ek het al oor baie jare aanvegbare goed aangeroer,” sê Sakkie. “Ek is maar so aanmekaar- getimmer.

“Ek is ook nie by die universiteit om studente te sus nie, maar om hulle met kritiese vrae uit te daag.”

Nee, sê die Pretorianer, hy is nie “uit huis uit iemand wat moedswillig wil wees nie”.

“Dis vrae wat by my spook, en ek wil ander ouens uitnooi om saam met my te dink en te praat oor dié goed.”

Sakkie het van 1979 af agt jaar Bybelkunde aan die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit gedoseer en in dié tyd sy doktorsgraad oor “gedigte oor die dood” in die Bybelboek Prediker voltooi.

Sedert die middel-tagtigerjare is hy dosent in teologie aan Unisa, waar hy ’n vyftigtal akademiese artikels en ’n sewetal boeke, onder meer sy omstrede boek Jesus van Nasaret, gepubliseer het.

Die eerste “bom” het in 1996 oor sy kop gebars, onthou hy met ’n verskonende laggie.

“In dié tyd het die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk nog steeds gestoei met die vraagstuk of die Bybelboek Jona letterlik of figuurlik gelees moet word!

“My vraag was eerder: Kan ons ná 1994 en onder ’n nuwe bewind – waar die staat alle godsdienste op gelyke vlak behandel – en nadat ons van apartheid en rassisme afskeid geneem het, steeds op godsdiensvlak meerderwaardig bly?

“Soos die Nederlandse filosoof Van Peursen dit gestel het: Kan ons die leer van die mensdom horisontaal neerlê as die leer van die godsdienste nog orent bly met die Christendom heel bo?”

Toe Sakkie se menings die koerante begin haal, was daar ’n bohaai. “Kort daarna is ’n klag teen my by die ring van Lyttelton ingedien.”

Hoekom? Omdat hy kwansuis “die sogenaamde uniekheid van Jesus sou misken”.

Hy lag. “Dit was ’n groot saak. Uiteindelik is ek onskuldig bevind. Hulle was tevrede met die antwoorde wat ek gegee het.”

Toe laat Sakkie hom in 2002 en 2003 oor die erfsonde uit, en daar’s nog ’n drama.

“Dit het die kameel se rug gebreek,” sê hy – en die einde van sy lidmaatskap van die NG Kerk beteken.

“Ek verskil steeds met die idee dat alle mense in sonde ontvang en gebore word, leef onder die toorn van God en verdoem is na die hel, en dat net die Christendom jou ’n paspoort na die hemel kan gee.

“Ek is onderlê in die Bybel- wetenskappe – ek sien myself eerder as ’n Bybel-wetenskaplike as as ’n teoloog – en nêrens in die Bybel kry ek die harde leer oor die erfsonde nie.

“Vir my gaan dit oor hoe ek my kennis van die Bybel en die wetenskap met my geloof versoen. Kan ons rêrig vandag – gegewe die kennis waaroor ons beskik – daardie harde dogma nastreef?”

Hy moes destyds oor sy siening van die erfsonde voor die ringkommissie verskyn.

“Maar skielik was die kwessie nie meer die erfsonde nie, maar of ek nog die opstanding bely. Dit terwyl ek my nie daaroor uitgelaat het nie.”

Toe die kerkleiers vir hom sê sy standpunte beteken die NG Kerk is dalk nie die regte plek vir hom nie, het hy besluit om die kerk te verlaat.

“Ek het besef as ek bly, gaan dit beteken ek moet kort-kort voor die kerkleiers gaan hakke klap om te verduidelik hoe ek dink en hoekom ek dink soos ek dink.”

In 2004 was hy een van ’n groep teoloë wat as die Nuwe Hervorming-netwerk “probeer het om die gesprek rondom godsdiens ’n oop gesprek te maak”.

Daar is vele gelowiges wat hom dit steeds nie kan vergewe nie, weet hy.

“Ons het oop gesprekke gehou oor dinge soos hoe ons die tradisionele dogmas kan verstaan – dogmas soos dié rondom Jesus se maagdelike geboorte, sy opstanding, sy kruisiging.

Of hy wel aan die kruis gesterf het vir jou sonde. En of die kruisiging ’n godsdienstige of ’n politieke gebeurtenis was.”

Sakkie glo self “dit was ’n politieke gebeurtenis”. “Ek meen Jesus sterf nie daar aan ’n kruis om God se woede te stil nie; hy het aan die kruis gesterf omdat die Romeine woedend was.”

Glo hy self in die bestaan van Jesus?

Hy knik instemmend. “Daar is mense wat sê dis alles net stories. Ek sê daar wás so ’n historiese persoon, maar dat daar later – veral rondom die vierde eeu ná Christus – allerlei dogmas rondom hierdie persoon ontwikkel het.”

Wanneer die kelner ons met middagete onderbreek, vra ek: Slaap hy snags rustig, so met die wete dat hy mense se geloofsekerheid, hul rots, met sy kritiese bevraagtekening ondergrawe?

Hy dink ’n rukkie na, sê dan: “Baie mense raak ontsteld as hul geloof bevraagteken word. Vir ander is dit weer gerusstellende nuus.”

Maar wat dan van die siel, die oordeelsdag? Christene het immers aan moedersknie daarvan geleer ...

“As ’n mens ouer word, dink jy aan jou eindigheid, die dood. Maar Sakkie soos hy hier sit, kan onmoontlik hierna voortbestaan.

Soos ’n ander teoloog gesê het: Ons liggaam en ons siel is verweef. As ons dood is, is ons dood. Ons behoort onsself te vra: Wat maak ons so spesiaal?

As God alles geskep het, waarom is net mense belangrik? Hoekom moet net ons uit die dode opstaan, maar nie die res van die diereryk nie?”

Net soos Copernicus die Aarde uit sy plek as die middelpunt van die heelal verplaas het, het Charles Darwin die mens sy waardigheid as’t ware ontneem deur te sê hy is net ’n takkie aan die boom van lewe, sê Sakkie.

“’n Mens besef hierdie Aarde bestaan nie net ter wille van hierdie spesie nie, maar ter wille van alle spesies.”

Deesdae word ook van the greening of Christianity gepraat, sê hy. In die gees van die tyd moet die Christendom vergroen.

“Ons moet op ’n nuwe manier kyk na God en na alle lewe op die Aarde. Ons moet die kennis wat ons uit die biologie en natuur- wetenskap verwerf het, probeer versoen met ons geloof in Jesus.”

Maar dit, sê hy, kán ons nie op die tradisionele manier doen nie. “Die Christendom moet ’n paradigmaskuif maak, maar dit hou aan met dieselfde ou deuntjie.”

Is dit hoekom NG kerke al hoe leër loop?

“Ek dink dis ’n geval van die dekstoele op die Titanic rondskuif,” sê hy.

“Mense skuif na verskillende denominasies op die groot skip. Dit geld vir al die kerke en denominasies.” Dis nie net die NG Kerk wie se lidmate swerf nie, meen hy, dis deesdae die lot van alle kerke.

En? waag ek. Glo hý nog?

“Nie meer tradisioneel nie,” sê hy met ’n laggie. “Ek beaam nie meer die tradisionele dogmas nie.”

Maar stuur hy nog soms ’n skietgebedjie op?

Hy lag lekker, geamuseerd. “Ja, dis ’n snaakse ding. Ek was vyftig jaar lank deel van die kerk.

Hoe haal jy vyftig jaar se teologie uit jou lyf uit sonder dat jou verlede outomaties inskop?

My vrou, Dina, praat dikwels van jou parental voice. Jy hoor jou ouers in jou kop praat, en hulle praat tot die dag van jou dood.”

In sy oomblik van nood, hoop hy, sal dit egter eerder sy vriende en familie wees wat sal “nader staan” om hom te help.

“Dis vreemd,” sê dié pa van twee volwasse seuns, albei ingenieurs en kerklidmate, ingedagte.

“Ek doen nog ’n tradisionele tafelgebed wanneer ons as gesin saam aan tafel is.

Om kos op die tafel te hê en by jou gesin teenwoordig te mag wees, is vir my amper ’n religieuse oomblik. En daardie oomblik wil ek op ’n bepaalde manier vier.”