Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Resensie op "The Birth of Religion", National Geographic, Junie 2011 PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Woensdag, 06 Julie 2011 20:24

Verwante artikels:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk Wie is Jan Louw?.

In die Junie 2011 weergawe van National Geographic het die artikel "The Birth of Religion" verskyn. Hierdie artikel handel oor opgrawings wat nou deur Klaus Schmidt in Turkye gedoen word. Hy het ’n godsdienstige heiligdom blootgelê by ‘n heuwel met die naam Göbekli Tepe (Boepens Heuwel). Die bouwerke toon ooreenkomste met Stonehenge in Engeland. Daar is reuse 16 ton kalksteen blokke wat netjies afgewerk en versier is met beelde in basreliëf (beelde aan die klip), van wilde diere – bokke, slange, jakkalse, skerpioene en wilde varke.

INHOUD VAN DIE ARTIKEL geskryf deur Charles C Mann.

alt

Argeoloë ag hierdie bouwerk as die oudste voorbeeld van monumentale argitektuur in die wêreld. Die plek is sowat 11,600 jaar gelede gebou, m.a.w. 9,600 vC. Dit is 7 millenia ouer as die Groot Piramide van Giza en baie ouer as Stonehenge. Die tyd toe dit gebou is het die grootste deel van die mensdom in klein nomadiese groepies geswerf en na kos gesoek. Hulle was nog jagters. Dit was voor die tyd dat mense begin het om vir hulleself kos te plant. Dit is dus merkwaardig dat hierdie primitiewe mense in staat was om die reuse steenblokke te verskuif sonder die hulp van diere of voor die wiel uitgevind is. Hulle het geleef in ‘n wêreld sonder skrif of metaal of pottebakkery.

Die opgrawings, naby ‘n stad met die naam Sanliurfa, het ons verstaan van die mensdom omvergewerp. Nog sowat 20 jaar gelede, het navorsers gemeen, dat hulle sekerheid het oor die sg. Neolitiese Revolusie. Gordon Childe het in 1920 met die konsep van die Neolitiese Revolusie gekom. Volgens hom het die mensdom in ‘n weerligstraal van inspirasie, die steentydperk oorgesteek en oorgegaan van ‘n jagtersbestaan en soekers na kos, na ‘n mensdom wat die landbou omhels het. Dit was ‘n revolusionêre gebeurtenis - die grootste prestasie van die die mensdom vandat hy die vermoë om vuur te maak bemeester het.

Dit het gebeur in die jare 4000 vC in die Vrugbare Halfmaan gebied, waarvan Sumerië die mees suidelik punt was. Hierdie dramatiese ontwikkeling van die mensdom is grootliks aangehelp deur die einde van die Ystydperk.

Die nuwe agrariese samelewing het volgens antropoloë ook aanleiding gegee tot die ontwikkeling van georganiseerde godsdiens. Tienduisende jare voor daardie tyd was daar alreeds primitiewe godsdienstige praktyke, wat blyk uit rotskuns en uit tekens van begrafnisgebruike. Toe die mense egter groter gemeenskappe rondom hulle landbouaktiwiteite begin vorm het, het daar gemeenskappe van gelowiges ontstaan wat saamgebind is deur ‘n gemeenskaplike wêreldbeeld.

Göbekli Tepe suggereer nou ‘n nuwe scenario. Die konstruksie van ‘n massiewe tempel deur ‘n groep kossoekers of jagters, is die bewys dat georganiseerde godsdiens kon ontstaan het voor die ontwikkeling van die landbou era en ander aspekte van beskawing. Charles Mann verduidelik as volg: “Toe die kossoekers hulle in dorpies begin vestig het, het hulle onvermydelik ‘n skeiding gemaak tussen die menslike werklikheid – ‘n klomp huise met honderde inwoners – en die gevaarlike wêreld buite die kampvuur, wat bewoon is deur dodelik gevaarlike diere.”

Daar het ‘n konsepsuele skuif by die mens gekom, wat hom toegelaat het om vir hom gode te bedink – bonatuurlike wesens wat ooreenkomste met die mens vertoon – wat in ‘n heelal buite die fisiese werklikheid bestaan. Schmidt sê: Die diere by Göbekli Tepe was bewakers van die geestelike wêreld. Die beelde van die diere teen die klipwerke illustreer daardie ander wêreld.

Dit is die manier waarop die “geboorte van godsdiens” dan by Göbekli Tepeverduidelik word.

BEOORDELING:

National Geographic is natuurlik ‘n groot propageerder van die evolusieleer. In hierdie artikel van Chales Mann kry ons ‘n voorbeeld van hoe daar dikwels by evolusioniste met inligting en uiteindelik met die soeke na waarheid omgegaan word.

In die artikel word ‘n stelling gemaak en dan word die stelling “bewys” met ‘n klomp aannames of veronderstellings om die stelling te staaf. In hierdie geval is die stelling: “Die geboorte van godsdiens het by Göbekli Tepe plaasgevind”. Dit is die boodskap op die voorblad. By die aanvang van die artikel is die opskrif: “Die dagbreek van die beskawing”. Kom ons kyk nou na die aannames wat hierdie stelling/s voorafgaan:

  1. Die eerste aanname is natuurlik die evolusionistiese voorstelling dat die mens ontwikkel het vanuit ‘n primitiewe wese wat aanvanklik ‘n bestaan van jag gemaak het, op ‘n stadium ontdek het hoe om vuur te maak en later landbou begin beoefen het.
  2. Die verskynsel dat die mens n godsdienstige wese is, word ook verklaar vanuit die aanname dat dit omgewingsfaktore is wat op die psige van die mens ingewerk het en by hom die denkbeeld van God laat onstaan het.
  3. Schmidt maak die aanname dat dit jagters was wat die bouwerk gedoen het. Hy doen dit op grond van die feit dat hy geen tekens kon kry dat mense die plek bewoon het nie. “Hundreds of people must have been required to carve and erect the pillars, but the site had no water source—the nearest stream was about three miles away. Those workers would have needed homes, but excavations have uncovered no sign of walls, hearths, or houses—no other buildings that Schmidt has interpreted as domestic. They would have had to be fed, but there is also no trace of agriculture. For that matter, Schmidt has found no mess kitchens or cooking fires. It was purely a ceremonial center. If anyone ever lived at this site, they were less its residents than its staff. To judge by the thousands of gazelle and aurochs [Europese buffel] bones found at the site, the workers seem to have been fed by constant shipments of game, brought from faraway hunts. All of this complex endeavor must have had organizers and overseers, but there is as yet no good evidence of a social hierarchy—no living area reserved for richer people, no tombs filled with elite goods, no sign of some people having better diets than others.” Uit hierdie waarneming maak Schmidt die volgende konklusie: "These people were foragers, people who gathered plants and hunted wild animals.”

Dit is in my opinie baie aanvegbaar om ingrypende afleidings te maak net omdat jy nie tekens kry dat die omgewing, 11,600 jaar gelede(!) bewoon was nie. Volgens wat ek op Wikipedia kon nalees, word daar nie melding gemaak van besondere tekens van bewoning, rondom bv die piramides in Egipte of Stonehenge is nie.

  1. Die datum wat vir die bouwerk aangeneem word is 9,600 vC (op die voorblad). Dit is interessant dat die argeoloë juis besluit het op die getal 9,600. Die veronderstelde tydperk dat die mensdom as jagters geleef het, moes seker tienduisende jare gewees het. Die skrywer gee geen aanduiding hoe by die getal 9600 vC uitgekom is nie? Waarom nie 5000, 10,000 of 15,000 nie? National Geographic bevraagteken nie die datering nie en gee ook nie ‘n antwoord op die skynbaar lukrake datering nie.
  2. Daar word ook aangeneem dat Göbekli Tepe ‘n tempel was.Schmidt visualiseer dat pelgrims van heinde en verre daarheen gestroom het omdat dit ‘n godsdienstige sentrum was. Die Zimbabwe Ruines is (volgens Schmidt se datering van Göbekli Tepe), 10,000 jaar jonger. Die Zimbabwe Ruines is ook ‘n ronde formasie soos Göbekli Tepe, maar daar is baie spekulasie onder argeoloë oor die aard van die ruines. Dit word amptelik voorgehou as die paleis van ‘n Zimbabwiese monarg.

Dit is dan sommige van die sanderige aannames wat in die artikel voorgehou word en waarop voortgebou word, om uiteindelik op die voorblad aan te kondig: “The Worlds First Temple” en “The Birth of Religion” en later “The Dawn of Civilization”.

National Geographic is een van die wêreld se bekendste tydskrifte en dra die naam dat dit kennis en wetenskap vir die man op straat aanbied. Dit is ondenkbaar dat iemand National Geographic se deeglike navorsing sou bevraagteken? National Geographic het die boodskap wat hy wil oordra ryklik geïllustreer met indrukwekkende voorstellings van hoe die bouwerk moontlik deur die jagters 11,600 jaar gelede gedoen is – tot die kinders wat die water aangedra het!

In die laaste paragraaf van die 25 bladsye artikel laat die skrywer egter die aap uit die mou: Schmidt emphasizes that further research on Göbekli Tepe may change his current understanding of the site's importance. Even its age is not clear — Schmidt is not certain he has reached the bottom layer. "We come up with two new mysteries for every one that we solve," he says.

Niks is dus eintlik seker oor Göbekli Tepe nie! Hierdie werklikheid word egter weggesteek, in die laaste paragraaf. Op die voorblad word egter met groot stelligheid verkondig (in die naam van wetenskap), waar die godsdiens vandaan kom. Dit is hierdie soort leuenagtigheid, waarmee die gelowiges wat hulle beywer, vir ‘n Christelike lewens- en wêreldbeskouing, gedurig mee rekening sal moet hou. Paulus sê: Die Skrif is daar om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek (2 Tim 3:16). Laat ons nie moeg word hiermee nie. Ons het ‘n verantwoordelikheid om ons medegelowiges te wys op die gees van misleiding, dwaling en dwaasheid, waarmee ons in die “wêreld” te doene het en om nie te twyfel aan die waarheid van God en die Skrif nie.

WAT SÊ DIE BYBEL?

  1. Die mens is van die begin af na die beeld van God en dus as ‘n beskaafde wese geskape (Gen 4:17-22). Die mens het sy hoë posisie voor God verloor en het ontaard. Dit is opgeteken dat selfs God bedroef was dat Hy die mens geskape het. (Gen 6:6)
  2. Na die sondvloed en die toring van Babel het die mensdom oor die aarde begin versprei. Dit het kort voor Abraham se tyd plaasgevind - sowat 2300 vC, of 4300 jaar gelede. Mense wat hulle nie wil steur aan die Bybelse tydraamwerk wat vir ons gegee is nie, verval in allerande dwaashede.
  3. Uit die mens se optrede by die toring van Babel is dit duidelik dat die nageslag van Noag nie deur die sondvloed tot besinning gekom het nie en maar weer van God afvallig geraak het. Hierdie afvalligheid blyk duidelik uit die beelde van afgode wat ons oral op aarde teëkom. Göbekli Tepe vertel nie van die begin van beskawing of die ontstaan van godsdiens nie. As dit ‘n tempel was, is dit net maar die bewys van wat Paulus sê in Rom 1:23: In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.
  4. My siening is dat die mense van die ou tyd voor Abraham, nog oor die organisasievermoë van Noag, beskik het. Hy het ‘n ark gebou wat die grootste storm, wat die aarde ooit getref het, kon weerstaan. Die piramides, Stonehenge en baie ander ou bouwerke op die aarde, is alles tekens van daardie buitengewone vermoëns, die beskaafheid, wat nog in die mense van die ou tyd nageleef het!

Ps 119:15: Ek gee ag op die pad wat U aanwys.

Vir die artikel in pdf-formaat, kliek HIER.