Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Julian Muller se Panenteïsme: ‘n Nuwe verstaan van God vir ‘n nuwe tyd? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Wynand Louw   
Woensdag, 21 September 2011 21:36

Julian Muller se Panenteïsme: ‘n Nuwe verstaan van God vir ‘n nuwe tyd?

Christene wat in die NG kerk groot geword het en die Here daar aangeneem het voel deesdae soos vreemdelinge in hulle eie kerk. Ek praat nou die dag met my suster – sy sê sy was maande laas in die kerk.

Ek vra versigtig uit hoekom.

Die antwoord? “Ek voel nie meer tuis in die kerk nie. Die dominee het in sy preek verduidelik dat alle mense – ook die in ander gelowe – uiteindelik gered sal word. Dit was die laaste keer dat ek kerk toe gegaan het.”

My persoonlike assistent het 'n soortgelyke storie. Sy is 'n diep gelowige christen maar woon nie meer die dienste by haar plaaslike Baptiste gemeente by nie “omdat hulle oorgeneem is deur die nuwe teologie”.

Ek lees 'n artikel in die JOY tydskrif oor Rob Bell (kyk ook Rob Bell se Noomas), 'n Amerikaanse popteoloog wat die bestaan van die hel en die ewige verdoemenis ontken, en skielik raak ek bewus van nuwe dinge: Die sg Ontluikende Kerk en Nuwe Reformasie.

Dit was vir my aanvanklik moeilik om te verstaan waaroor dit gaan, maar gelukkig kom ek af op 'n artikel deur Julian Muller, waarin hy 'n “nuwe wêreldbeeld”, panenteïsme, bepleit omdat die ou teïstiese wêreldbeeld volgens hom nie meer voldoende is vir die post moderne mens nie.

http://www.julianmuller.co.za/panenteisme-n-nuwe-verstaan-van-god-vir-n-nuwe-tyd.html

Eintlik is sy “nuwe wêreldbeeld” stokhoringoud, gewortel in neoplatonisme van Plotinus (204 – 270 na Christus) wat ten spyte van die pogings van verskeie filosowe deur die millenia nie kon deurbreek na die hoofstroom van Christelike denke nie.

Tot nou toe.

Om die “nuwe reformasie” en “ontluikende kerk” te verstaan moet jy hulle wêreldbeeld verstaan.

Panenteïsme beteken letterlik “Alles (pan) – in (en) -god (theos) -isme”. Alles is dus in god (en god is in alles.)

Ongelukkig is 'n wêreldbeeld 'n moeilike dier om te vang. Dit vorm die fondasie van 'n persoon se geloof, en is as sodanig onder die grond en buite sig. 'n Hindu panenteïs sal byvoorbeeld die Apostoliese Geloofsbelydenis kan opsê en werklik elke woord daarvan glo. Hy aanbid egter nie die Drie-enige God van die Bybel nie, maar 'n Hindu god wat op eerste oogopslag presies soos die God lyk wat ons aanbid. Maar krap jy dieper kom jy agter woorde en simbole het skielik ander betekenis, en die inhoud van die geloofsbelydenis verander totaal, sonder dat dit vir die toevallige toeskouer enigsins sigbaar is.

Daar is baie mense in leiersposisies in die Christelike geloofsgemeenskap wie hulle wêreldbeeld reeds vervang het. En mens kom dit moeilik agter omdat hulle steeds die regte klanke maak en dinge doen. En hulle slaag daarin om hierdie “nuwe” onbybelse teologie bietjie vir bietjie in te bring in ons kerk in om ons wêreldbeeld te verander sonder dat ons dit weet!

Wat sê die Bybel?

Hier volg 'n vergelyking tussen moderne panenteïsme en die Bybel. Let asb op dat panenteïsme die 'n homogene leerstelling is nie en dat daar in panenteïsme geen ortodoksie bestaan nie. Ek probeer dus nie voorgee dat die onderstaande 'n juiste weergawe is van enige spesifieke panenteïs se wereldbeskouing nie. Maar ek glo tog dat dit die breë stroom van panenteïsme goed verteenwoordig.

Ek wil ook duidelik stel dat ek nie 'n kenner is nie, en dat die kennis wat ek in die afgelope paar weke opgedoen het uit verskeie bronne op die internet kom, maar ook uit die volgende boek, wat ek beslis kan aanbeveel:

Panentheism: The Other God of the Philosophers, deur John Cooper.

Kry dit maar op Amazon (kliek hier).

 

Bybelse wêreldbeeld

Panenteïsme

God is die skepper.

Gen 1:1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep

God is die skepper.

In sommige weergawes van panenteïsme is god nie die skepper nie maar onstaan hy in verhouding tot die skepping, stuur hy die ontstaan van die skepping, en neem hy dit op in sy wese.

God skep apart van homself.

Dit beteken die skepping is nie God nie en God is nie die skepping nie.

Gen 1:2 b: ... die Gees van God het oor die waters gesweef.

Rom. 1:25: Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig.

God het wel alles “in Christus” geskep. Die woord “in” verwys hier na die skepping se verhouding met Christus.

Kol. 1:16: Want in Hom (Christus) is alle dinge geskape wat in die hemel en op aarde is, wat sienlik en onsienlik is... (1933 vertaling)

(Die meeste moderne vertalings gebruik hier die woord “deur”.)

Na die sondeval is slegs wedergebore, verlosde gelowiges “in Christus.” Die wie verlore gaan is baie beslis nie “in Christus” nie. Dit staan reëlreg teen die aanspraak van panenteïste dat die hele skepping “in god” is.

Alles is in god geskep, en god is in die skepping. God en die skepping se wesensbestaan (ontologie) word aan mekaar gelyk gestel.

Die woord “in” kan verskillend interpreteer word in panenteïsme:

Stanford Encyclopedia of Philosphy:

1) Part/Whole Analogical Meaning

Take part in something that is greater and different from any and all the parts. The world is in God by participating in God through being and action.

2) Emergence Analogical Meaning

A specific part/whole analogy that indicates that being in something is to be at least a partial source for a more complex entity.

3) Mind/Body Analogical Meaning

The mind provides structure and direction to the organization of the organism of the body. The world is God's body in the sense that the world actualizes God and manifests God while being directed by God as different from the world. Many but not all panentheists utilize the mind/body analogy to describe the God/world relation in a manner that emphasizes the immanence of God without loss of God's transcendence.

http://plato.stanford.edu/entries/panentheism/

Alhoewel daar onderskeid tussen god en die skepping is, is dit slegs in die sin dat die skepping vryheid het van god en dat god groter is as die skepping.

God is 'n dipool, as gees is hy ewig en oneindig, as sigbare skepping is hy tydelik en beperk. Die skepping het dus deel en neem dus deel in die godheid.

Daar is dus logies geen rede waarom die skepping nie aanbid sou kon word in panenteïsme nie!

God (Christus) hou die skepping deur sy magswoord in stand.

Heb.1:3:Hy hou alle dinge deur sy magswoord in stand.

God is die gees van die skepping, en die skepping is god se liggaam.

God is radikaal anders as die skepping (transendent). Hy is ook groter as die skepping. Hy is ewig (buite tyd, nie gebonde aan tyd nie), alwetend en almagtig.

Jes. 44:7: Wie soos Ek is, laat hom dit sê, laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê; laat hom 'n verklaring gee van wat gebeur het vandat Ek my volk lank gelede gemaak het en ook van wat sal gebeur; laat hy vertel van die dinge wat kom.

God is nie transendent in die sin dat hy anders is as die skepping nie. Hy is slegs transendent in soverre hy groter is as die skepping. Alhoewel hy ewig is, is hy nie noodwendig almagtig en alwetend nie.

Panenteïsme is 'n blante ontkenning van God se eis van eksklusiwiteit soos blyk uit Jesaja 44:7.

God is radikaal teenwoordig (immanent) in die sin dat hy orals en altyd absoluut teenwoordig is in sy skepping – in ruimte en in tyd, behalwe waar hy verkies om nie te wees nie.

Ps. 139:7: Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. (die transendente) Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. (die immanente)

God is immanent in die sin dat hy self die gees of wese van die skepping is.

Let asb op dat panenteïsme die konsep van immanensie heeltemal anders interpreteer as die Bybel.

God is radikaal teenwoordig deur die inkarnasie in Jesus. In Jesus identifiseer hy homself radikaal met die gevalle mensdom.

Matt. 1:23: Die maagd sal swanger word en 'n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.

Aangesien die hele skepping uit god spruit, is die inkarnasie van Jesus niks buitengewoon of spesiaal nie. Ons is tog almal deel van god!

Moltmann stel “perichorese”, die verhouding tussen die persone van die drie-eenheid, as die model van die verhouding tussen god en die skepping. Jesus se posisie in die godheid is die model vir ons eie uiteindelike posisie in die godheid.

Gevolgtrekking: Die enigste verskil tussen Jesus en ander mense is dat Jesus volledig van sy godheid bewus is, terwyl ander mense nog nie is nie.

Jesus is die enigste persoon wat uit of van God kom. Geen skepsel kan dieselfde aanspraak maak nie.

Joh. 6:46: Dit wil nie sê dat iemand anders al die Vader gesien het nie; net Hy wat van God af kom, Hy het die Vader gesien.

Joh. 8:23: Toe sê Hy vir hulle: “Julle is van hier onder; Ek is van daar bo. Julle behoort tot hierdie wêreld; Ek behoort nie tot hierdie wêreld nie.

Joh. 8:42: Maar Jesus sê vir hulle: “As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het van God af gekom*, en hier is Ek nou. Ek het immers ook nie uit my eie gekom nie, maar Hý het My gestuur.

* Die 1933 vertaling sê: “...Ek het uit God uitgegaan en gekom..” - “emanated from God.”

Die hele skepping en dus alle mense kom van god af.

Die hele skepping en dus alle mense het uit god gegaan en gekom. (“Emanated from God.”)

God is die vader van almal.

Dit is 'n direkte ontkenning van Jesus se aansprake op eksklusiwiteit in Johannes 6 en 8.

God is radikaal teenwoordig deur die inwonende Heilige Gees in gelowiges.

Rom. 8:9: Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie.

God se gees is teenwoordig in die hele skepping, dus ook in alle mense.

Dit is 'n direkte ontkenning van Romeine 8:9 wat leer dat slegs die wie aan Christus behoort sy Heilige Gees het.

God is persoonlik. Dit beteken hy het al die kenmerke van 'n persoon, naamlik emosies, intellek en wil.

Emosies: Joh. 2:16: God het die wêreld so liefgehad...

Intellek: Ps. 139:14: Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!

Wil: Joh. 6:40: Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê...

Die panenteïstiese god is nie noodwendig persoonlik nie, dit hang af watter panenteïs se werk jy lees.

God is transpersoonlik, in die sin dat hy homself in drie afsonderlike Persone openbaar, die Vader, Seun en Heilige Gees.

Die Heidelbergse kategismus, Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees ? Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

God is transpersoonlik, in die sin dat elke persoon, (maar wel ook plant, klip, ster en sterrestelsel) in die skepping in wese god is.

Volgens Histories-trinitariese panenteïsme is god ook drie-enig, vader, seun en gees. (Nie alle panenteïste onderskryf die drie-eenheid nie.)

Die gevolgtrekking is dat die drie-enige God soos in die Bybel openbaar word nie werklik spesiaal is nie. Ons is tog almal deel van god en dus in wese deel van 'n multi-enige god!

God is absoluut soewerein

Jes. 41:4: Wie het dit bewerkstellig, dit gedoen? Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal? Dit is Ek, die Here! Ek is die eerste, en wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek nog die Here wees.

Jes. 43:13 Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.

Jes. 45:9: Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het, 'n potskerf tussen potskerwe van klei. Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: “Wat maak jy?” Durf wat jy gemaak het, van jou sê: “Hy kan nie sy hande gebruik nie!”

Omdat die mens deel het in die godheid en die mens soewerein is

- kan god nie volle beheer hê oor wat die mens doen nie.

- ken god nie noodwendig die toekoms nie.

- leer god uit die mens se vrye keuses

- dra die mens se vrye keuses by tot die aktualisering van god: Die skepping (mens) is deel van die proses waardeur god as ewige, transendente moontlikheid 'n immanente werklikheid in tyd word.

Die mens se vryheid beperk dus god se vryheid binne die grense van die mens se keuses in tyd. God het dus slegs verenigbare (compatibilistic) vryheid.

Dit is in skrille teensteling teen die boodskap van die Bybel, soos in bv. Jesaja hiernaas dat God soewerein is en dat geen mens sy vryheid sal beperk nie!

God is absoluut heilig en volmaak.

Lev. 11:45: Omdat Ek heilig is, moet julle ook heilig wees.

Mat.5:48: Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.

(Nota: Let op dat God se aanspraak op ons lewens absoluut is omdat hy die mens volmaak en heilig geskep het!)

Omdat alles in god is en god in alles is sonder enige ontologiese onderskeid word alle sonde in god, as deel van god, gepleeg.

Panenteïsme verklaar die bestaan van boosheid en sonde op grond van god se onmag om dit te keer!

'n Panenteïstiese god kan dus in beginsel potensieel heilig wees maar beslis nie in praktyk nie. Omdat die skepping onvolmaak is as gevolg van die sonde is dit ook vir god onmoontlik om volmaak te wees!

God het die mens in sy eie beeld geskep. Ons is die Imago Dei.

Gen. 1:27: God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.

Die mens spruit voort uit god. Die mens is dus in wese god, of 'n inkarnasie van god. Die mens is dus veel meer as net die beeld van god.

Die mens word onderskei van god nie in wese nie maar in sy vryheid van god.

Die mens is goed, volmaak en volledig geskep.

Gen. 1:31: Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.

Omdat die mens goed, volmaak en volledig geskep is was die sondeval nie onvermydelik nie. As die sondeval onvermydelik was sou dit beteken die mens is defektief geskep.

Die sondeval is dus beslis nie die logiese gevolg van die skepping nie.

Die sondeval 'n onvermydelike gevolg van die skepping, omdat dit die afskeiding van vrye skepsels van god is.

Die mens is met vrye wil geskep omdat God liefde is. Ware liefde is net moontlik as daar vrye wil is.

Omdat die mens se vrye wil 'n genadegawe van God is, perk dit geensins God se vrye wil in nie – God kan dit op enige oomblik wegneem. Die mens is dus vry net in soverre sy vryheid met God se wil ooreenstem, met ander woorde soos God dit toelaat.

God se absolute vryheid beperk die mens se vryheid binne die grense van die ewige Goddelike wil. Die mens het dus slegs verenigbare (compatibilistic) vryheid.

Luk. 13:34: Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos 'n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!

Die mens het absolute vrye wil omdat hy deel in die godheid, en vrye wil is 'n kenmerk van god. Die mens se vrye wil beteken egter dat god ingeperk word.

Die mens het sy vrye wil gebruik om te sondig. Vrye wil maak sonde moontlik.

Alhoewel God by volle mag is om die sonde te keer, laat hy dit toe volgens sy ewige raadsplan.

Die Dortse Leerreëls, Hoofstuk 3, par 1: Die mens is van die begin af na die beeld van God geskep. Verstandelik was hy toegerus met ware en heilsame kennis van sy Skepper en van geestelike sake. In sy wil en hart was hy met geregtigheid toegerus, en sy hele gesindheid was suiwer. Hy was dus volkome heilig. Maar deur die ingewing van die duiwel en uit sy eie vrye wil het hy hom van God losgeskeur en homself van hierdie uitnemende gawes beroof.

Sonde is die onvermydelike gevolg van die skepping. Die mens sondig onvermydelik omdat hy vrye wil het. God is onmagtig om die sonde te keer, omdat sy wil ingeperk word deur die mens se wil.

Die hele skepping is vervloek of verydel as gevolg van die sondeval.

Gen. 3:17: Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, “is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Rom. 8:20: Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê.

Hoe is dit dan moontlik dat die skepping vervloek kan wees as dit in wese deel van god is? Sal god homself vervloek?

In panenteïsme blyk dit vir my of die skepping fundamenteel defektief is.

Die mensdom het sy skeppingsposisie verloor met die sondeval en is van God verwyder.

Gen. 3:23: Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk, die aarde waaruit hy gemaak is. Die Here God het die mens uitgedryf, en om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak, het Hy oos van die tuin van Eden gerubs gesit, en ook 'n vlammende swaard wat heen en weer beweeg.

Omdat die mens in wese god is, is dit onmoontlik om van god verwyder te wees.

In die panentiestiese wereldbeeld kan verwydering van god slegs beteken dat die mens nie meer bewustelik god is nie, of dat hy op een of ander manier mislei is om te dink hy is nie god nie.

Sonde is rebellie teen God. Sonde stel die skepsel gelyk aan die Skepper, en in plek van die Skepper.

Gen. 3:4: Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”

Es. 28:6: “Daarom,” sê die Here my God, “omdat jy jou verbeel het jy is 'n god, daarom gaan Ek ander nasies, wrede volke, teen jou laat optrek.

Hoe kan god teen homself rebelleer? Die mens is 'n spruit van god, deel van god en dus self goddelik. Panenteïsme stel dus die mens gelyk aan god.

Die konsep van sonde as rebellie teen god kan nie regtig bestaan in panenteïsme nie. Die naaste wat panenteïsme aan sonde kan kom, is

-dat ek as mens nie besef dat ek eintlik god is nie. Ek het kontak met my ware self (my godheid) verloor.

-dat my ek my vrye keuses uitoefen in teenstryd met god se visie vir homself en die skepping.

Verlossing is versoening met God

Rom. 5:10: Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.

Omdat daar nie regtig 'n konsep van verwydering van god in panenteïsme kan wees nie, is daar ook nie werklik 'n konsep van versoening nie.

God en die skepping ondergaan 'n evolusionêre proses waardeur die hele skepping weer met die godheid saamsmelt.

Hierdie samesmelting word beskryf in terme van die drie-eenheid. Die mensdom word dus opgeneem in die godheid van die een god, as afsonderlike persone, soos wat die lede van die drie-eenheid steeds afsonderlike persone is.

Mistici streef nie na verlossing nie maar na “verligting” of “enlightenment”, waarin die mens onder die indruk van sy eie godheid kom.

Verlossing is herwinning van ons posisie vóór die sondeval.

Rom 8:1: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.

In panenteïsme kan die mens nie sy posisie in god verloor nie omdat hy deel in god se wesensbestaan.

Omdat God nie sy skepping is nie en geskape persone (engele en mense) met vrye wil geskep is bestaan die bose apart van God in rebellie teen God. Satan en sy demone is engele wat uit vrye wil besluit het om teen God te rebelleer.

Joh. 8:44: Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af 'n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen.

Ef. 6:7: Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Omdat engele manifestasies van god is kan hulle nie teen god rebeleer nie. In panentiesme is daar dus 'n paar moonlikhede:

1) God is beide goed en boos. (dualisme) Boosheid en sonde is 'n manier waarop god nuwe ervarings opdoen.

2) God is goed maar onmagtig om die bose te keer omdat sy almag ingeperk word deur die die vrye wil van die skepping.

3) Satan en sy demone bestaan nie.

Nie almal word verlos nie.

2 Tes. 1:9: Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Uiteindelik sal almal verlos word.

Die hel bestaan, en is ewige, bewustelike verwydering van God. Die hel is dus 'n deel van die skepping waar God nie is nie, of alternatiewelik 'n toestand van 'n skepsel van totale verwydering van God.

2 Tes. 1:9: Die ewige verdoemenis sal hulle straf wees, altyd geban uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.

Die hele skepping is in god, daarom is daar geen plek in die skepping waar god nie is nie, of geen denkbare toestand van 'n skepsel van totale verwydering van god nie.

Die totale afwesigheid van god beteken dus noodwendig ook die totale afwesigheid van skepsels.

Alhoewel panenteïste in teorie die konsep van hel mag beaam, is die konsep van hel logies onmoontlik in panenteïsme.

Die mens is as gevolg van die sondeval totaal verdorwe, en dus onmagtig om uit homself die waarheid te ken, uit te vind of om selfs daarna te vra.

Rom 3:10: Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.

2 Kor. 3:5: Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God.

Die mens is by uitstek toegerus om die waarheid te vind, omdat hy in wese god is. Sy soeke na waarheid keer hom in homself, dit is 'n reis van self ontdekking totdat hy god in homself ontdek.

Julian Muller: “ Die nuwe wêreldbeeld maak nie meer voorsiening vir ‘n hiërargiese, van-bo-na-onder hantering van waarheid nie. Die klem verskuif weg van ‘n eenmaal klaar geformuleerde waarheid, na ‘n voortdurende ontdek van waarheid. Die klem verskuif van waarheidskonsepte na die proses van soeke na die waarheid.”

Die mens is afhanklik van God om homself deur die natuur, die profete, Christus, die Bybel en die inwonende Gees te openbaar.

Heb. 1:1: In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God.

Mat. 16:17: Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.“

1 Kor. 12:3: ...niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

“Outoritêre openbaring” is verdag. Elke mens moet sy eie waarheid vind. Dit is waarom die “nuwe reformasie” soveel moeite doen om die tekstuele integriteit van die Bybel te vernietig.

Julian Muller: “Die postmoderne mens voel hoedat die kettings van hom/haar afval. Die verslawing van

konsepte wat van bo afgekondig word, volgens die Teologiese Wêreldbeeld, word nou verbreek.”

God openbaar die waarheid van die Bybel aan gelowiges direk en persoonlik deur die inwoning van sy Gees. Ons ervaar persoonlik hoe God sy openbaring (die Bybel) in ons lewens lewend maak. Slegs deur 'n persoonlike ontmoeting met die Jesus van die Bybel kan ons die Bybel verstaan.

Mat. 16:17: Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie 'n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.“

1 Kor. 12:3: ...niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Persoonlike ervaring geniet voorrang bo enige openbaring van God.

Julian Muller: “Eie ervaringe kry geldigheid en mense ontvang vrymoedigheid om daaroor te praat en aanvaar nie meer die konsep van ‘n "hoër werklikheid" wat voorskriftelik vir die aardse lewe funksioneer nie.”

Omdat God transendent en almagtig is gryp hy dikwels bonatuurlik in deur wonderwerke.

Omdat god beperk word deur die skepping werk hy deur die skepping op “natuurlike” maniere. Bonatuurlike wonderwerke word dus bevraagteken.

Panenteïsme as rebellie teen God.

Moderne panenteïsme het twee belangrike kenmerke:

Die mens deel in god se wesensbestaan (ontologie). Die mens spruit voort uit god, is in god en sal uiteindelik terugkeer na die wese van god. Dit plaas die mens dus op dieselfde vlak as die persone van die drie-eenheid.

Die mens het absolute vryheid. God se soewereiniteit word deur die mens se vryheid beperk, sodat god slegs vry is in soverre dit verenigbaar is met menslike vryheid. (compatibilistic freedom)

Die gevolge hiervan is verreikend:

Die mens verhef homself tot god.

Die mens se vryheid is groter as die van God, omdat die mens se vryheid god se vryheid beperk. Dit is in teenstelling met wat die Bybel leer, dat God soewerein is en nie aan mense verantwoording doen nie.

Die mens is dus vry van God en nie verantwoordelik aan God nie. God se wet is nie absoluut nie maar slegs riglyne. God het geen aanspraak op die mens nie, behalwe om voorstelle te maak en riglyne te gee.

Panenteïsme plaas die mens dus bo God. Dit is die toppunt van rebellie teen God.

Julian Muller se rebellie teen God is duidelik is die volgende aanhaling:

“Die postmoderne mens voel hoedat die kettings van hom/haar afval. Die verslawing van konsepte wat van bo afgekondig word, volgens die Teologiese Wêreldbeeld, word nou verbreek.”

Dit is duidelik dat hy God se openbaring (die Bybel) wat “van bo af verkondig word” as verslawende kettings beskou, en dat die mensdom bevry moet word van God se absolute aanspraak op hulle lewe.

Dit is wat die God vandag vir die panenteïste sê:

Es. 28:6: “Daarom,” sê die Here my God, “omdat jy jou verbeel het jy is 'n god, daarom gaan Ek ander nasies, wrede volke, teen jou laat optrek. Hulle sal die prag wat jou wysheid vir jou gebring het, met die swaard aanval en jou prag skend. Hulle sal jou in die graf in laat stort, jy sal die dood van 'n gesneuwelde sterf daar op jou eiland in die see. Sal jy vir dié wat aan jou 'n einde gaan maak, nog kan sê jy is 'n god? Vir dié wat vir jou dood gaan sorg, sal jy 'n mens wees, nie 'n god nie.

Panenteïsme as wêreldsgodsdiens.

Moderne panenteïsme is die direkte afstammeling van Plotinus se neoplatonisme. Dit staan in opposisie teen die Bybel se teïsme. Panenteïsme is egter nie beperk tot westerse filosofie nie. Alhoewel oosterse filosofiee grotendeels panteïsties is (Alles is god), is daar 'n beduidende panenteïstiese tradisie in beide Hinduisme en Buddhisme. Panenteïsme is ook die wêreldbeeld van verskeie takke van die New Age beweging en Wicca (neopaganisme met bande met satanisme).

Panenteïsme neem posisie in tussen teïsme en panteïsme, dit word wyd beskou as die teologie wat wêreldgodsdiense kan verenig.

As dit nie koue rillings teen jou ruggraat laat afgaan nie, het jy nie onlangs die boek van Openbaring gelees nie...

Tekens dat 'n gemeente se wêreldbeeld moontlik aan die verskuif is.

Die fokus is nie meer op 'n ontmoeting met Christus as die gekruisigde nie maar op 'n mistiese ervaring van god.

Daar word nie meer oor sonde gepreek nie.

Die wet van God is slegs riglyne, en is nie noodwendig bindend nie.

Indien daar wel oor sonde gepreek word word dit minimaliseer, en die verwoestende, destruktiewe aard daarvan word verswyg.

Omdat daar nie meer oor sonde gepreek word nie word God se verlossende genade nie meer eksplisiet verkondig nie.

Dit word onaanvaarbaar om mense aan te spreek oor sonde. Daar word gesê dat jy nie die splinter uit 'n ander se oog mag haal nie omdat jy self 'n balk het. Jesus se woorde “Raak ontslae van die balk in jou eie oog sodat jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal” word verswyg. Die hele punt van die teks is Christus se opdrag dat ons ander moet help met hulle splinters, omdat ons die Een onmoet het wat ons van balke kan genees!.

Die kerklike tug word nie meer toegepas nie.

In plaas daarvan om God se ongelooflike heiligmakende genade te verkondig word mense gepaai as hulle besluit om in hulle sonde te volhard. Egskeiding word in praktyk aanvaarbaar “omdat God vergewe”(al word daar lippediens gegee dat dit sonde is). Mense word selfs aangemoedig om te skei wanneer hulle huwelike in sonde verval het.

Homoseksuele praktyke word kondoneer of selfs aangemoedig.

Daar word nie oor God se regverdige straf en die ewige hel gepreek nie.

Die bestaan van demone word bevraagteken.

Die bestaan van die hel word bevraagteken.

Christus se genade word aangebied as oplossing vir ons eie onsekerhede, selfbeeld probleme en persoonlike mislukkings in plaas van as oplossing vir ons sonde. (Christus het beslis nie vir my swak selfbeeld gesterwe nie. Hy het vir my sonde gesterwe. Die herstel van my selfbeeld is slegs die sekondere vrug van my verlossing van sonde.)

Psigoterapie word van die kansel verkondig onder die voorwendsel dat dit wetenskaplik is en dat “enige waarheid God se waarheid is”. Die waarheid is dat psigoterapie nie wetenskaplik is nie omdat dit nie aan die vereistes vir 'n wetenskap – die wetenskaplike proses – voldoen nie.

In plaas van heiligmaking moet ons psigoterapie ondergaan om beter mense te word. Psigoterapie ontneem mense van die verantwoordelikheid vir hulle sonde. Ons doen slegte dinge as gevolg van ons kindertrouma, of ons “reptielbrein”, nie omdat ons sondaars is nie.

Persoonlike groei word 'n “spirituele reis”, wat meer te doen het met mistiese ervarings en tegnieke om dit te bereik as met heiligmaking. Rituele en meditasie word aangemoedig.

In die pastoraat vervang psigoterapeutiese beginsels en tegnieke God se evangelie van reddende en heiligmakende genade. Tydens berading staan Christus en sy Evangelie nie sentraal nie maar word vervang deur psigoterapie.

Sending is nie meer die verkondiging van die evangelie aan die verloregaande wêreld nie maar word vervang met intergeloofsgesprek.

Die gelowiges word aangemoedig om ander gelowe te respekteer en daarvan te leer.

Universalisme word verkondig: Ander gelowe bevat waarheid wat ook tot verlossing mag lei.

Basiese feite van die geloof word onder verdenking geplaas, bv die maagdelike geboorte, Christus se opstanding in die vlees ens.

Die historisiteit van Christus se wonderwerke word onder verdenking geplaas.

Die integriteit van die Bybel as die onfeilbare woord van God word onder verdenking geplaas.

Twyfel word verhef tot iets goeds in plaas daarvan dat mense tot geloofsekerheid gelei word.

Die bestaan van absolute waarheid word ontken, elke mens moet sy eie waarheid ontdek.

Daar word klem gelê op “sosiale geregtigheid” (social justisce), “geslagsgeregtigheid” (gender justice) en “ekologiese geregtigheid.”

God se trans-geslagskenmerke word beklemtoon, en daar word dikwels van god of die heilige gees in vroulike terme te praat.

Wynand Louw

September 2011

www.hierstaanek.com

 

Comments 

 
0 #1 Nico 2011-10-28 19:54
"Julian Muller: “Die postmoderne mens voel hoedat die kettings van hom/haar afval. "
Ps 2:2-5 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: