Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Om God en die Bybel te verstaan PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Daniel Louw   
Saterdag, 01 Oktober 2011 16:00

Kyk ook:

Inhoudsopgawe

  1. Inleiding
  2. Paar algemene opmerkings
  3. Verskillende kwessies met moontlike verklarings
  4. Wat ons nie kan doen nie
  5. Wat moet ons doen

*********

1. Inleiding

Daar is baie mense wat dink dat God wreed en/of onregverdig is in die Ou Testament (kyk bv www.evilbible.com).

In hierdie dokument word daar gepoog om die volgende vrae te beantwoord:

  • Volgens sommige dele in die Bybel lyk dit of God wreed en onregverdig is. Is daar verklarings?
  • Kan ons alles verstaan van die Bybel?
  • Wat is ons alternatiewe?
  • Hoe moet ons God en die Bybel benader?

2. Paar algemene opmerkings

Voor ek ‘n paar gevalle bespreek, wil ek ‘n paar basiese gedagtes noem:

  • Ons leef vandag in ‘n baie humanistiese samelewing, waar menseregte hoogty vier. Dinge wat vir ons vandag wreed mag wees, was moontlik in die Bybelse tyd glad nie wreed nie.
  • Moord is vir God ‘n baie groot oortreding en die straf vir moord is die dood (kyk Die Bybel oor doodstraf). Medepligtiges aan moord is ook skuldig.
  • God straf goddeloses: of dit op aarde al gebeur en of dit eers ná hulle dood gebeur.
  • Die Bybel is vol geskiedenis van dinge wat gebeur het. Alles wat egter gebeur het, was nie noodwendig God se wil of opdrag nie. Dit was bv nie God se wil dat Kain vir Abel moes doodmaak nie. Ook is poligamie nie noodwendig in God se wil nie – kyk Does the Bible clearly teach monogamy?. Die kultuur van daardie tyd het ook soms ‘n rol gespeel (kyk bv Vrouens en Hoede).
  • Waar mense berou gehad het in die Bybel het hulle ‘n tweede en derde kans gekry. Dink bv aan Hiskia (2 Konings 20 en Jesaja 38) en Dawid wat eers vir Uria dood laat maak het om vir Batseba te kry en toe te veel van homself gedink het en die volk laat tel het. Waar God nasies uitgewis het, was daar heelwaarskynlik nie berou nie (bv 1 Sam 15).
  • Die Bybel is duidelik dat God goed, volmaak, vol liefde en volmaak regverdig is. Maar God laat dinge ook nie ongestraf nie: Rom 11:22 sê: “Let dan op die goedheid en strengheid van God: sy strengheid oor die afvalliges, en sy goedheid oor jou. Maar dan moet jy uit sy goedheid lewe, anders kan jy ook uitgekap word.”
  • Daar is sommige dinge wat ons in hierdie bedeling nie heeltemal sal verstaan nie (Job 38 en 1 Kor 13:9) en in so ‘n geval moet ons vertrou dat daar ander feite is wat nie genoem word nie, maar dat God wel regverdig opgetree het. Dit is egter baie ironies dat dit gewoonlik die meer liberale Christene is wat die God van die Ou Testament van wreedheid beskuldig, maar hulle is ook die mense wat sê dat ons meer nederig moet wees oor die waarheid en hulle beskuldig fundamentaliste daarvan dat hulle dink dat hulle alles weet. Maar in plaas daarvan dat liberales sê dat hulle nie alles in die Bybel verstaan nie, maar aanvaar dat God regverdig opgetree het, skep hulle hulle eie waarhede en verklaar dat die Bybel vol mites is – dinge wat nie werklik gebeur het nie.

3. Verskillende kwessies met moontlike verklarings

Hier volg ‘n bespreking van ‘n paar dinge in die Bybel wat soms moeilik is om sin van te maak:

Hoekom is daar dood en swaarkry in die wêreld?

Iemand het al gesê dat dood en swaarkry vir ons twee opsies oor God gee: (1) Óf Hy is wreed deur dit nie te verhoed nie, (2) óf Hy kan dit nie verhoed nie. Daar is egter ‘n derde opsie, mits jy in ‘n letterlike sondeval glo: God het nie die wêreld so geskape nie, maar dit het so geword nadat Adam en Eva gesondig het (kyk Death and Suffering Questions and Answers).

Was God nie onregverdig om die hele wêreld te straf vir Adam en Eva se sondes nie?
Dit lyk tog of kinders ook onder ouers se sondes gely het in die verlede. In Eksodus 20:5 staan daar: “Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,” (vers 6 lui egter “maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.”) Kyk ook Eks 34:7, Num 14:18 en Deut 5:9.

In Jeremia 31:29-30 staan egter: “(29) In daardie tyd sal hulle nie meer sê: "Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword" nie. (30) Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.”
En Esegiël 18:2-3 : "(2) Waarom gebruik julle in die land Israel hierdie spreekwoord: ‘Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp’? (3) "So seker as Ek leef," sê die Here my God, "julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie.“

Dit lyk of God verander het – dat Hy nie meer kinders vir hulle ouers se sonde straf nie.

Hoekom moet die hele wêreld ly onder Adam en Eva se sonde? ‘n Mens sal nie met sekerheid kan sê nie. Om egter die sondeval te verwerp, sit jy met groter probleme.

Die straf vir sonde is die dood

As God geweet het dat Adam en Eva sou sondig, hoekom het Hy hulle geskape? Hoekom het God hulle nie geskape dat hulle nie kon sondig nie? Is God wreed?

Ek dink nie God wou pionne hê nie: Hy kon seker robotte geskep het wat Hom heeldag lank kon loof en prys en wat sonder sonde was, maar Hy wou mense hê wat Hom loof en prys uit vrye keuse uit. En ‘n mens sou verder kon redeneer dat die kritiek teen God net soveel erger sou wees indien hy mense sonder vrye wil geskep het.

God is ‘n jaloerse God

Die Bybel praat gewoonlik negatief oor jaloesie:

  • Spreuke 27:4 : “Iemand wat kwaad is, ontsien niks, sy woede is ‘n onkeerbare vloed; teen jaloesie is niemand opgewasse nie.”
  • Romeine 1:29 : “Hulle is een en al ongeregtigheid, slegtheid, hebsug en gemeenheid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaadwilligheid.”
  • Romeine 13:13 : “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.”
  • 1 Korintiërs 3:3 : “want julle is nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?”
  • Titus 3:3 : “Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat.”
  • 1 Petrus 2:1 : “Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.”

Maar tog sê die Bybel dat God jaloers is en nie Sy eer deel nie. Kyk die volgende gedeeltes:

  • Eks 20:5 en Deut 5:9: “Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat,” (vers 6 sê darem: “maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.”
  • Eks 34:14 : “Julle mag nie ‘n ander god vereer nie, want Ek, die Here, eis onverdeelde trou aan My. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis.’”
  • Deut 4:24 : “Die Here jou God is ‘n verterende vuur, Hy eis onverdeelde trou aan Hom.”
  • Deut 6:15 : “want die Here jou God eis onverdeelde trou aan Hom. Hy is by jou, en as jy ander gode aanhang, sal sy toorn teen jou ontvlam en sal Hy jou van die aarde af wegvee.”
  • Josua 24:19 : “Maar Josua het vir die volk gesê: "Julle kan nie die Here dien nie. Hy is ‘n heilige God, Hy is ‘n God wat onverdeelde trou eis en julle opstandigheid en sonde nie sal vergewe nie.”
  • Psalm 78:58 : “Hulle het Hom vertoorn met hulle afgodsdiens op die hoogtes en Hom uitgetart met hulle gesnede beelde.”
  • Jesaja 42:8 : “Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.”
  • Jesaja 48:11 : “Ter wille van Myself en daarom alleen, doen Ek dit, Ek laat my Naam nie oneer aandoen nie. Ek gee die eer wat My toekom, aan niemand anders nie.”
  • Jakobus 4:5 : “Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê?”

Dit is interessant dat die 1983 vertaling nie die woord “jaloers” gebruik nie, maar “onverdeelde trou”. Persoonlik dink ek dat “onverdeelde trou” ‘n beter vertaling is as “jaloesie”.

Is die Bybel teenstrydig in die sin dat dit jaloesie negatief uitbeeld, maar ook God as jaloers beskryf? Glad nie. 2 Kor 11:2 sê: “bevestig Ek waak oor julle met ‘n ywer wat van God kom, want julle is soos ‘n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus.” Ek dink ‘n mens moet hierdie “jaloesie”, of eerder "onverdeelde trou" sien soos ‘n huwelik – elke eggenoot het die reg en moet eintlik onverdeelde trou van die ander een eis. Eggenote moenie mekaar die hele tyd wantrou nie, maar as daar geen jaloesie in ‘n huwelik is nie, dan is die vraag of daar werklik onverdeelde trou en liefde in die huwelik is.

Die God van die Ou Testament is vír die doodstraf en vir ‘n-oog-vir-‘n-oog en ‘n-tand-vir-‘n-tand

Hierdie kwessie word aangespreek in die artikel Die Bybel oor doodstraf (soek ook vir die woord “wreek” in die Bybel).

In kort: ek glo die Bybel se bedoeling is dat ‘n-oog-vir-‘n-oog wel geld vir groot dinge soos moord en diefstal, maar vir kleiner dinge moet ‘n mens eerder die lyding verdra sonder om te vergeld. Dit is meestal ook ter wille van jouself sodat jy nie met onvergewingsgesinde, wraakgedagtes rondloop, wat net tot nadeel van jouself is nie (kyk Vergifnis).

Eksodus 7-12: Die tien plae en die verharding van farao se hart

God sê vir Moses om vir farao te vra dat hy die Israeliete sal toelaat om te trek om tot God te aanbid. Maar God sê ook dat Hy farao hardkoppig sal maak sodat God baie tekens en wonders in Egipte kan doen. God sê nie net een keer dat Hy farao hardkoppig sal maak nie, maar ‘n hele paar keer: Eksodus 4:21; 7:3; 9:12; 10:20, 27; 11:10; 14:4, 8, 17. Nou is die vraag: was dit nie wreed van God om Egipte met 10 plae te straf net omdat die farao koppig was nie? En verder het God farao in effek nie eers ‘n keuse gegee nie – God het van die begin af besluit dat hy farao gaan straf én God self het die farao koppig gemaak.

Moontlike verklaring:

1. Hoekom het God die farao koppig gemaak?

God het van die begin af al besluit dat Hy farao wou straf. Hy sê ook so alreeds voor die eerste plaag. Dit was heel moontlik die farao se straf vir wat hy aan die Israeliete gedoen het – die Israeliete het niks verkeerd gedoen nie, maar net omdat die farao bang was vir hulle getalle, het hy hulle eerstens slawe gemaak en tweedens hulle baba-seuntjies doodgemaak. En ons weet hoe God oor moord voel en wat die straf daarvoor is (kyk Die Bybel oor doodstraf).

Numeri 33:4 gee ons ook ‘n leidraad: “terwyl die Egiptenaars nog besig was om hulle eersgeborenes, wat deur die Here om die lewe gebring is, te begrawe. Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het.” Dus was die Egiptenaars gestaf agv hulle afgodediens en soos reeds genoem, is God ‘n jaloerse God en dat God goddeloses straf – of dit al op aarde is en of dit eers na die dood is.

2. Hoekom moes die hele Egipte ly vanweë die farao se hardkoppigheid?

Eerstens het hulle seker almal afgode aanbid.
Tweedens, het die Egiptenaars oorgenoeg tyd gehad om die regte ding te doen. Hulle kon beswaar aanteken oor die slawerny en die moord op die Israelitiese baba-seuntjies.
Verder kon die Egiptenaars met die eerste paar plae sien dat hier iets groots kom en tog lees ons nêrens dat iemand, selfs nie eers die farao se raadgewers, hom geadviseer het om die Israeliete te laat trek nie.

Moses het ook die tiende en ergste plaag aan farao (en heel moontlik sy raadgewers) aangekondig, dus kon hulle iets probeer doen om dit te keer, maar hulle het nie.

Neem ook die geval van Nabal in 1 Sam 25 as voorbeeld: Dawid was goed vir Nabal se veewagters, maar tog wil Nabal later nie vir Dawid met kos help nie. Dawid is so kwaad dat by besluit om Nabal, insluitende al die mans, dood te maak. Vandag lyk dit baie ongewoon dat Dawid almal wou straf oor een man se foute. Maar in vers 14 gaan vra een van die veewagters hulp by Nabal se vrou Abigajil en sy red almal se lewens deur vir Dawid kos te neem. Dit was duidelik 'n kultuur in daardie tyd, dus kon mense onder verkeerde leiers nie hulleself heeltemal verontskuldig vir hulle leier se optrede nie. Hulle was immers in die posisie om iets aan die saak te doen.

Dit is soos Dietrich Bonhoeffer sê: "Om stil te bly in die aangesig van die bose is self boos; God sal ons nie onskuldig verklaar nie. Om nie te praat nie, ìs om te praat. Om nie op te tree nie, ìs om op te tree." (kyk Aanhalings - Geloofskwessies).

Offer van diere in Eksodus

Ons leef in ‘n tyd waar humanisme hoogty vier: menseregte, vroueregte, kinderregte, diereregte en minderheidsregte. Ek dink nie daar was in die geskiedenis soveel vegetariërs en mense wat gekant is teen die dra van pelsjasse nie. En nie-vegetariërs slag nie eers meer self hulle diere nie – dit word by die slagpale gedoen. (In 2008 bv het die bekende TV-kok, Jamie Oliver, lewendige hoenders geslag en sommige mense was geskok daaroor. Kyk bv Jamie Oliver shows the truth about chickens (youtube video) en Oliver to shock viewers by killing chickens. Daarom sal dit vir baie mense wreed klink om in die Bybel te moet hoor dat onskuldige diere geoffer moet word tot eer van God. Ek dink egter enigiemand wat op ‘n plaas woon, waar diere nog keelaf gesny en geslag word, sal dit glad nie so erg ervaar nie.

Verder is daar geen aanduiding in die Bybel dat diere siele het nie. Diere het baie minder verstand as die mens gekry:

  • Job 35:11 na Hom wat aan ons meer verstand gegee het as aan die diere, meer insig as aan die voëls.

Die Bybel is egter heeltemal gekant teen wreedheid teenoor diere en dit is duidelik dat God vir die diere sorg en daarom ook lief is vir hulle. Maar diere het nie dieselfde status as die mens nie en is vir die mens geskep:

  • Spr 12:10 Die regverdige sorg goed vir sy diere, maar die goddeloses is wreed.
  • Mat 10:29 Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.
  • Eks 23:19b Jy mag nie ‘n boklam in sy ma se melk kook nie.
  • 1 Kon 4:33 Hy het verse gemaak oor bome en plante, van die seders op die Libanon tot die hisop wat uit die mure groei; hy het gedig oor diere, voëls, reptiele en visse.
  • Ps 84:3 Selfs ‘n mossie het ‘n nes en ‘n swaeltjie ‘n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige, my Koning en my God!
  • Ps 104:11-12 (11) Daar kom al die wilde diere drink en die wildedonkies hulle dors les. (12) Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke.
  • Ps 104:14 U laat gras uitspruit vir die diere, en groen plante vir die mens sodat hy sy kos uit die aarde kan kry
  • Ps 147:9 Hy gee aan die diere hulle weiding en versorg die jong kraaie wat om kos skreeu.

Die uitwissing van vrouens en kinders

In die Bybel is daar ‘n paar dele waar ‘n hele volk uitgewis word, insluitende vrouens en kinders:

Numeri 31

(1) Die Here het vir Moses gesê:
(2) "Die Israeliete moet die Midianiete straf vir wat hulle julle aangedoen het. Daarna sal jy sterwe."
(7) Hulle het oorlog gemaak teen die Midianiete soos die Here vir Moses beveel het en al die mans doodgemaak.
(9) Hulle het die Midianitiese vrouens met hulle kinders gevange geneem, en al die beeste, kleinvee en besittings buitgemaak.
(10) Die Israeliete het al die stede in die gebied van die Midianiete en al hulle ander blyplekke verbrand.
(11) Daarna het die Israeliete alles wat hulle gebuit en geroof het, mens en dier, gevat
(12) en die gevangenes, die roof en die buit na Moses en die priester Eleasar en die volk Israel toe gebring in die kamp in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan.
(13) Moses en die priester Eleasar en al die leiers van die volk het die leër buite die kamp gaan ontmoet.
(14) Moses was kwaad vir die bevelvoerders van die leër, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd wat van die veldtog af teruggekom het.
(15) Hy het vir hulle gesê: "Julle het al die vrouens in die lewe laat bly,
(16) en deur toedoen van Bileam was juis húlle die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar ‘n ramp oor die volk van die Here gekom het!
(17) Maak al die seuntjies dood en elke vrou wat al met ‘n man gemeenskap gehad het.
(18) Maar elke dogter wat nog nie met ‘n man gemeenskap gehad het nie, mag julle laat lewe en vir julle vat.

Deuteronomium 2

(32) "Toe Sihon en sy hele leër optrek om by Jahas teen ons te veg,
(33) het die Here ons God hulle in ons mag oorgegee, en ons het hom en sy seuns en sy hele volk verslaan.
(34) In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie.
(35) Ons het net die vee en ook wat daar te buit was in die stede wat deur ons verower is, vir ons gevat.

Rigters 21:10

(10) Toe stuur die gemeente twaalf duisend dapper soldate met die opdrag: "Gaan bring die inwoners van Jabes in Gilead om die lewe, ook die vrouens en die kinders.
(11) Dit is wat julle moet doen: julle moet elke man en ook elke vrou wat al geslagsgemeenskap gehad het, doodmaak."

Josua 8:24-27

(24) Israel het al die inwoners van Ai doodgemaak wat vir Josua-hulle in die veld en die woestyn agternagesit het. Die agtervolgers het almal gesneuwel, tot die laaste man toe. Daarna is die hele Israel terug na Ai toe en het hulle al die mense in die stad doodgemaak.
(25) Almal wat daardie dag gesneuwel het, mans en vrouens, was twaalf duisend, al die mense van Ai.
(26) Josua het nie sy hand met die swaard teruggetrek voordat al die inwoners van Ai uitgeroei was nie.
(27) Israel het net die vee en die buit in die stad vir hulleself gevat, soos die Here vir Josua beveel het.

1 Samuel 15

(1) Samuel het vir Saul gesê: "Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here.
(2) So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het.
(3) Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie."

Dit klink baie erg dat Saul ‘n hele volk, onskuldige vroue en kinders ingesluit moes gaan uitwis omdat hulle voorvaders baie jare gelede verkeerd gedoen het.

Kyk 1 Samuel 15 - God Rejects Saul as King vir ‘n baie goeie artikel hieroor.

Moontlike verklaring

In vandag se terme is hierdie dade, wat God se goedkeuring weggedra het, uiters wreed en verkeerd. Kan hierdie waar wees? Hoe kan ‘n God van liefde hierdie dinge toelaat of erger nog, beveel? Daar is drie dinge hiervoor te sê:

Eerstens, hierdie was goddelose volke (kyk bv 1 Sam 15:2, 33) en soos reeds gesê, kan mense onder goddelose leiers nie hulleself verontskuldig teen hulle leier se optrede nie.

Tweedens, moet hierdie wreedhede in perspektief gestel word. Ons lees in die Bybel van baie ander erger wreedhede:

  • Ons weet hoe wreed Jesus se kruisiging was (indien jy nie weet nie, stel ek voor dat jy die fliek, Passion of the Christ van Mel Gibson, kyk).
  • Ons lees ook in die Bybel van ontmandes: dit was mans wat heel moontlik tydens oorlog gevange geneem is en waar die vyand hulle ontman het.
  • Ons lees van volke wat hulle kinders geoffer het aan hulle gode (2 Kron 28:3, Jes 57:5, Eseg 20:31; 23:37).
  • In 1 Samuel 18:25-27 lees ons hoe Dawid 200 Filistyne gaan doodmaak het net om Saul se dogter as vrou te kon kry.

Dit is baie duidelik dat dinge in daardie tyd baie wreder was as vandag.

Derdens wys dit hoe ernstig God is dat mense nie van hom afvallig moet raak nie. In Mat 18:9 lees ons “En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.” Dit is duidelik dat ons alles in ons vermoë moet doen om getrou aan God te bly. En dit is heel moontlik ook die rede hoekom God gesê het dat die vrouens en kinders ook doodgemaak moes word – sodat die vrouens nie die Israelitiese mans met hulle afgode moes verlei nie. Ook moes dit nie moontlik wees dat die vrouens hulle kinders met afgode tussen die Israeliete grootmaak en hulle so verlei met afgode nie. Dit maak baie sin, want wat help dit dat jy jou lewe lank goed aan mense gedoen het, maar afvallig van God geword het.

Verwag God vandag nog dat ons ongelowiges moet doodmaak?

Verseker nie. Die Bybel is baie duidelik dat ons ander volke van Jesus moet gaan vertel (Kyk Die Bybel oor Sending). En selfs in die Ou Testament was God baiekeer nie-Israeliete goedgesind wanneer hulle God aanbid het:

  • Ragab: Ragab het die verkenners wat Jerigo verken het versteek en sy is daardeur gered (Jos 2:1,3; 6:17-25, Heb 11:31, Jak 2:25)
  • Rut: Rut was ‘n Moabitiese meisie wat goed gedoen het aan haar skoonma, Naomi. Sy was Dawid se oumagrootjie.

Mense wat nooit van God hoor nie

Die Nuwe Testament is baie, baie duidelik daaroor dat geen goeie daad jou sal red nie, want dan sou Jesus se kruisiging niks beteken het nie. Dit sou beteken dat mens jouself kon red (kyk die Nuwe Testament oor Redding). Wat gebeur egter met mense wat nooit van Jesus hoor voor hulle sterf nie. Sal hulle goeie dade hulle nie dalk moontlik red nie?

Paulus vra self hierdie vraag in Romeine 2:14-15. In vers 16 sê Paulus in effek dat hy nie weet nie, maar dat ons maar sal moet sien: “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.”

Die uitverkiesing

Die uitverkiesing bly ‘n tameletjie:

Romeine 9

(10) En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak.
(11)-(13) Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: "Die oudste sal die jongste dien." Daar staan ook geskrywe: "Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat." Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.
(14) Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie!
(15) Vir Moses het Hy gesê: "Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees, en Ek sal My ontferm oor wie Ek My wil ontferm."
(16) Dit hang dus nie af van ‘n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is.
(17) In die Skrif sê God immers vir die farao: "Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word."
(18) Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Dit klink baie onregverdig as God sê: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Paulus sê baie duidelik “Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie!”, maar Paulus gee nie werklik ‘n antwoord nie. Wat hy sê is dat dit gaan oor God se barmhartigheid. Al wat dit sê is dat ons slegs uit genade gered word, maar dit gee nog nie ‘n verduideliking nie. Is God dan slegs barmhartig met sommige mense?

Ek glo tog dat mens (gedeeltelik) ‘n vrye wil gekry het. In ‘n groot mate kan jy vír of téén God kies. Maar volgens die uitverkiesingsleer is dit nie jy wat die eer moet kry as jy wel vir God kies nie – dit was God wat eerste na jou toe gekom het. As dit egter so is, hoekom het God nie na alle mense gekom nie? Dit is net so dat sommige mense meer kanse as ander kry: Ek persoonlik, kom uit ‘n Christelike huis, Paulus is wonderbaarlik tot bekering geruk, CS Lewis sê dat God baie geduld met hom gehad het, want hy wou nie ‘n Christen word nie (op die ou einde het hy). En so is daar seker baie ander voorbeelde. En dan is daar ander wat nooit hoor nie of wat net een keer hoor.

Die beste moontlike verklaring wat ek gehoor het is dat almal die dood verdien agv ons sonde. Dus moet ons nie redeneer dat dit onregverdig is as sommige mense hel toe gaan nie, maar dat díe wat hemel toe gaan, baie geseënd is. Dit impliseer egter dat God witbroodjies het.

Hierdie is een van daardie gevalle wat ek net moet erken dat ek nie weet nie en dat ek baie verlig is dat God weet wat Hy doen.

Kyk ook God se hart vir God se mense - Uitverkiesingsleer onder die vergrootglas deur Johan Kriel.

4. Wat ons nie kan doen nie

As jy ongelukkig is met bogenoemde of enige ander dele in die Bybel omdat dit teenstrydig lyk, gaan die volgende dinge nie help nie:

Verwerp dele in die OT of lees dit selektief

Die reël is: lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, ens. 'n Mens kan nie geskiedenis in die Bybel waarvan jy nie hou nie, verklaar as poësie of mites om daarby verby te kom nie. Dit sal dus baie inkonsekwent wees was jy die Ou Testament selektief lees, want op grond waarvan besluit jy wat waar is en wat nie?

Verwerp die hele OT

Om die hele Ou Testament te verwerp sal ook inkonsekwent wees. Verder kan jy nooit die Ou Testament los van die Nuwe Testament lees nie – daar is dosyne gevalle waar die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys.

As jy die Ou Testament verwerp, verwerp jy die rede hoekom Jesus aan die kruis gesterf het. Kyk bv wat sê Richard Bozarth en Frank Zindler in Aanhalings - Is Evolusie en die Bybel versoenbaar?.

Dit help ook nie om net die God van die Ou Testament te verwerp nie, want dan moet jy ook heelwat uitsprake van Jesus in die Nuwe Testament verwerp. Die Nuwe Testament is baie duidelik oor Jesus se liefde en lojaliteit teenoor God (van die OT) en anders om (kyk Die Nuwe Testament oor Redding onder “God se liefde vir Jesus en anders om”).

Verwerp die Bybel

As jy die Bybel verwerp dan kan jy werklik bitter min van God weet. Jy kan jou eie idees van God skep wat gebaseer is op die figuurlike bril wat jy aanhet wat gevorm is deur die hedendaagse kultuur, jou vriende en jou ouers, maar jy kan met geen sekerheid praat van bv ‘n hemel en ‘n hel of die karakter van God nie. Hier volg ‘n paar opsies as jy die Bybel in sy totaliteit verwerp:

Panenteïsme

Dit is die siening dat God in alles is en alles in God is. Daar is twee probleme:

  • Geen vrye wil nie. Jy kan nie anders as om in God te glo nie.
  • Maar ‘n groter probleem is dat alle slegte dinge van God af kom, want God is in alles.

Moslemgeloof of ander gelowe

Die Moslemgeloof bevat ook redelik baie van die onsekerhede van die Christelike geloof en verder beveel die Koran om nie-Moslems uit te moor, wat ook wreed en anti-humanisties is. Kyk bv Watter geloof is reg? en soek vir die woord “Moslem”.

Skep jou eie geloof

Jy kan jou eie geloof skep wat gebaseer is daarop dat jou goeie dade jou hemel toe sal neem (indien jy besluit dat daar wel ‘n hel is). Dit is niks anders as wat die liberale teoloë vandag doen nie – hulle skep vir hulle ‘n God wat gebaseer is op die God van die Bybel (dit is wat onder andere Rob Bell doen).

Die probleem hiermee is natuurlik dat jy self besluit wat God se karakter is en het jy dus geen gronde vir jou siening nie. Dit is net so goed jy maak vir jou ‘n goue kalf en aanbid dit.

Agnostisisme

Dit is die leer dat ’n mens niks omtrent God of die hiernamaals kan weet nie. Dit is onmoontlik om te weet of daar ’n god is en wat sy karakter is. Hierdie is ‘n goeie opsie vir mense wat eintlik ateïste wil wees, maar wat besef dat alles nie vanself geskep kon gewees het nie. Hierdie leer is egter gebaseer op onsekerheid, dus gaan dit niks help om weg te kom van die onsekerhede in die Bybel deur ander onsekerhede te skep nie.

Verwerp God (Ateïsme)

‘n Mens kan God verwerp en ‘n ateïs word, maar die grootste probleem van ateïsme is die ontstaan van die heelal (materie/energie) en lewende wesens (inligting). (Terloops, dit is heel moontlik hoekom mense wat aan evolusie glo soveel makliker hulle geloof verloor: as jy kan glo dat alles self kon ontwikkel, is dit net soveel makliker om ook nie aan God te glo nie - kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed.) Ateïste werp hulle na evolusie en die oerknal in plaas van ‘n god wat geskep het, maar die spontane ontstaan van materie/energie en genetiese inligting is heeltemal teenstrydig met die eerste en tweede wet van termodinamika en is nog nooit waargeneem nie. Kyk bv:

Verder word daar met ongelooflike klein waarskynlikhede gewerk en verg dit meer geloof om te glo dat hierdie lae waarskynlikhede kon materialiseer as om in ‘n god te glo wat nie gesien kan word nie (kyk Meer oor waarskynlikhede en Hawking).

Veronderstel dat God werklik 'n slegte, wrede, nare, onregverdige God is wat nie lief is vir mense nie, wat gaan dit in elkgeval help om Hom te verwerp? Wat dink jy gaan jy vir hierdie "slegte" God sê as jy by die hemelpoorte kom? Dat jy nie in Hom wou glo nie omdat Hy te sleg was? Ek gee jou een raai waarheen Hy jou dan gaan stuur...

********************

Die gevolgtrekking is: maak nie saak wat jou wêreldbeskouing of geloofsoortuiging is nie, ‘n mens sal nooit ‘n teorie kry wat geen onsekerhede of onbekendes bevat nie.

5. Wat moet ons doen

Daar is eintlik net een logiese opsie om te volg en dit is om te aanvaar dat ons nie alles van God of die Bybel sal verstaan nie, maar om te aanvaar dat die hoofboodskap korrek is: Dit is dat God lief is vir sy kinders en dat Hy ten alle tye regverdig is. Dit word bevestig in die Bybel:

Romeine 9 (wat handel oor die uitverkiesing):

(19) Nou sal jy vir my sê: "Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?"
(20) Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: "Waarom het jy my so gemaak?"
(21) Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?
(22) En as God dieselfde wou doen? Hy wou sy toorn laat sien en sy mag bekend maak. Daarom het Hy die voorwerpe van sy toorn, die mense wat reg was om verdelg te word, met groot geduld verdra.
(23) So sou Hy ook die rykdom van sy heerlikheid bekend maak oor die voorwerpe van sy ontferming, die mense wat Hy vantevore voorberei het om aan sy heerlikheid deel te hê.

Job 38-39

In Job 38-39 verwyt Job vir God oor sy swaarkry en impliseer dat God nie werklik weet wat Hy doen nie, maar dan antwoord God vir Job in Job 40:

(1) Die Here het verder vir Job gesê:
(2) "Wil jy ‘n saak maak teen die Almagtige en Hom bestraf? Wil jy vir God teregwys? Antwoord Hom dan!"
(3) Job het toe vir die Here gesê:
(4) "Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly.
(5) Ek het gepraat, maar ek kon nie ‘n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal ek stilbly."

En dan praat God weer verder in Job 40:

(6) Die Here het weer vir Job aangespreek uit die stormwind uit:
(7) "Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra, antwoord jy My.
(8) Wil jy my beslissing tot niet maak? Wil jy My skuldig verklaar sodat jy vrygespreek kan word?
(9) Het jy die mag wat Ek het? Kan jy jou stem uit die onweer laat hoor soos Ek?
(10) Tree dan op met jou trots en jou groot mag, handel in jou majesteit en heerlikheid.
(11) Laat brand dan jou gloeiende toorn, sien elke trotsaard raak en sit hom op sy plek,
(12) sien elke trotsaard raak en verneder hom, trap die goddeloses plat.
(13) Begrawe hulle almal, lê hulle weg in die graf.

In Job 42 is dit ‘n baie nederiger Job wat besef dat hy nie opgewasse teen God is nie:

(3) Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie: u wonderdade was te groot vir my, ek het dit nie verstaan nie.

Wat belangrik is, is dat God nie vir Job presies laat verstaan het hoekom hy so moes ly nie. Job moes maar besef dat hy net nederig voor God kan staan, selfs al verstaan hy nie alles nie.

1 Korintiërs 13

(9) Want ons ken maar gedeeltelik, en ons profeteer maar gedeeltelik,
(10 maar wanneer die volledige kom, sal wat gedeeltelik is, uitgedien wees.
(11) Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind.
(12) Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

Sekere dinge moet ons nie eers probeer om te verstaan nie.