Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Opsomming van skokkende NG Kerk-besluite PDF Afdruk E-pos
Sondag, 23 Oktober 2011 22:04

Kyk ook:

Die NG-leierskap se eerste reaksie op ondergenoemde aanhalings uit hul dokumente sal heelwaarskynlik wees dat dit buite konteks aangehaal is, en/of hulle sal almal weereens probeer sus deur te verwys na die stelling wat dikwels aan die einde van hierdie soort NG-verklarings staan: “Bostaande besluite word nie afsonderlik nie, maar deurgaans as ’n eenheid beskou oor die kerk se standpunt ten opsigte van ... “

Skrifgesag

Die manier waarop in die 2002-verslag van die Algemene Sinode oor die Bybel gepraat word, het nie die effek om lidmate of predikante se geloof in die Bybel as Woord van God te versterk nie, maar om dit af te breek. Die “menslike” aandeel in die totstandkoming van die Bybel word op só ’n manier beklemtoon, dat die oorheersende soewereine werk van die Heilige Gees (2 Pet. 1:21) op die agtergrond gedruk word. Hierdie feit word duidelik uit onder andere die volgende sinsnedes wat in die verslag voorkom:

* “menslike karakter van die Skrif”,

* “gewone mensewoorde”,

* “die Bybel as menslike boek”,

* “menslike “foute” in die Bybel”,

* “volgens moderne standaarde nie voldoen aan wetenskaplike eksaktheid nie”,

* “wetenskaplike “swakheid” ”,

* “geen aanspraak op historiese eksaktheid nie”,

* “Die voorbeelde [van foute in die Bybel] kan eindeloos vermeerder word”,

* “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”,

* “Dus is die Bybel self reeds interpretasie wat in elke tyd opnuut vertolk moet word”,

* “Selfs “fiksie” en “foute” staan in diens van die Waarheid”,

* “Wat in een konteks die waarheid is, is in ’n ander ’n leuen”,

* “bedoeling van die Skrif ... nie geleë in wetenskaplik korrekte informasie nie, maar in die heilskarakter daarvan”,

* “bedoeling nie geleë in historiese eksaktheid nie”,

* “beheptheid met die letter van die Skrif”,

* “juis die moderne tyd as gevolg van dramatiese groei in kennis, ons diep onder die indruk gebring het van die feit dat die Bybel geen handboek is vir die wetenskap nie” en

* “die Bybel nie ’n bron van onfeilbare natuurwetenskaplike en historiese informasie is nie”.

“Vleeswording van die Woord” beteken volgens hierdie verslag onder andere dat daar foute in die Bybel mag en behoort te wees. Mense wat dit nie wil aanvaar nie, is glo “fundamentalisties”. Volgens dié verslag is die “historiese feite vir die Skrif van die allergrootste belang” en “alles in die Skrif draai om hierdie geskiedenis”, maar ’n entjie verder in die verslag staan: “As dit sou gaan om eksakte historiese feitelikheid, kwalifiseer die Bybel klaarblyklik nie as betroubaar nie”! Hoe sinvol is sulke teenstrydighede?

Alhoewel daar ook geldige opmerkings in die verslag is, is die negatiewe en neerhalende tendens ten opsigte van die Bybel duidelik. Dit staan in skrille kontras met die siening wat Christus sélf oor die Woord van God gehandhaaf het. Hy het verklaar “dat die Skrif nie gebreek kan word nie” (Joh. 10:35). Hyself haal die Ou Testament 180 keer aan as betroubare Woord van God!

In teenstelling met bogenoemde kan gekyk word na die geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God wat te NG Witfield in 2003 opgestel is: Geloofsverklaring oor die Bybel as Woord van God.

Selfdegeslaghuwelike

In Oktober 2006 het die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers, drs. Ben du Toit en Kobus Gerber, die Suid-Afrikaanse Regering aanbeveel om voort te gaan om homoseksuele huwelike te wettig. In die betrokke dokument (wat ’n samevoeging is van ’n begeleidende brief aan alle kerke van die gereformeerde tradisie en die voorlegging aan die Parlement self) word daar onder andere die volgende gesê (ons onderstreping):

Met ’n voorlegging aan die parlement is ons basis-dokument die Grondwet – en moet ons die staat help om dit konsekwent te interpreteer tot die beskerming van die regte van alle mense.

...

Dit is daarom tog jammer dat sommige Christelike groepe, partye en kerke vir hulleself die morele hoëgrond opeis deur hulleself daarop te beroem om “die Bybelse standpunt” voor te staan (en dit hoër te ag as ’n sekulêre Grondwet).

...

Die Wetsontwerp op Burgerlike Verbintenisse moes dus (soos alle ander wetgewing) in die lig hiervan, asook in die breëre konteks van die bestaande Huwelikswet (wat tans nie voldoen aan die beginsels van die Grondwet nie – sien die voorlegging) beoordeel word. Hoe het ons in hierdie opsig te werk gegaan?

Eerstens, deur ons instemming met die basiese beginsels van die Grondwet duidelik uit te spel. Dit is belangrik sodat ons in die konteks van die staats-strukture daarop kan aanspraak maak dat ons ernstig opgeneem sal word.

...

Die MA [Marriage Alliance] sien die toekomstige wetgewing, wat homo-seksuele verbintenisse op dieselfde vlak in terme van regte en status met die heteroseksuele huwelik stel, as ’n bedreiging vir die Christelike huwelik. Ons meen dat hierdie vrees ongegrond is, aangesien niks verander rondom die bepalinge van die Christelike huwelik nie. Buitendien is die kerk die beskermer van die huwelik: hoe ons die huwelik wil verstaan en beskerm is ons verantwoordelikheid.

...

Ons as Christene van Gereformeerde tradisie het ook nie almal presies dieselfde beskouing oor homoseksualiteit nie. Soos in die meeste kerke is daar diep verskille oor die saak of mense van dieselfde geslag in ’n verhouding van liefde en trou legitiem verbind mag word.

...

Vir baie Christene in die kerk is weerhouding van seksuele aktiwiteite deur homoseksueles ’n voorwaarde vir aanvaarding, aangesien die uitleef van homoseksualiteit as sonde gesien word. Vir ander is sulke voorwaardelike aanvaarding van gays ’n ernstige probleem in die lig daarvan dat hulle seksualiteit verstaan word as ’n gawe van God wat die potensiaal het om enige verhouding te verryk, as deel van die mees basiese behoefte van alle mense aan sorg en intimiteit.

Dat hierdie verskille berus op verskillende interpretasies van die Bybel as Woord van God, is egter nie relevant vir die doeleindes van die herskrywing van die huwelikswet nie, maar word slegs hier genoem om daarmee aan te dui dat ons hier met ’n baie sterk en diep emosionele saak te doen het, wat op hierdie oomblik in die geskiedenis van die kerk wêreldwyd groot uitdagings stel aan die leierskap van die Christelike geloof. Vir hierdie emosie oor die saak behoort daar by almal van ons begrip te wees. Vir sommige sal dit uitermate problematies wees om te dink aan ’n “huwelik” in terme van mense van dieselfde geslag. Vir ander sal niks minder nie as juis dit, ’n aanduiding wees van die aanvaarding van die gelykwaardigheid van alle mense voor die reg.

...

Ons is dus ten gunste van een oorkoepelende wet, wat moontlik die benaming van Burgerlike Verbintenisse (Civil Unions Act) kan dra, maar waarin daar dan aan al die moontlike kategorieë van huwelike (en verbintenisse) dieselfde waarde toegeken sal word. Daarin sal nie alleen die Christelike huwelik erken word nie, maar ook ander soortgelyke verbintenisse van ander godsdienste en kulture, soos die Jode, Moslem, Hindu’s, Budiste, Afrika-godsdienste, asook dieselfdegeslag-verhoudinge.

...

In die lig van die totale beredenering hierbo, moedig ons die Nasionale Parlement aan om spoedig op te tree om die huidige huwelikswetgewing met Art 9 van die grondwet te versoen deur die daarstelling van ’n nuwe wet wat die gelykwaardigheid van alle mense sal erken. Ons vertrou dat die parlement sodoende homself daarvan sal weerhou om enige maatreëls daar te stel wat geloofsgemeenskappe sal verhinder om die seën van gesonde huweliks- en gesinsstrukture te beleef in ooreenstemming met die oortuiging van daardie geloofsgemeenskap.

Iemand wat daar was, getuig dat een van die parlementêre kommissielede vir drs. Ben du Toit en Kobus Gerber gevra het of hulle hul Kerk verteenwoordig, waarop hulle geantwoord het dat hulle redelik seker is dat dit hulle Kerk se standpunt was. Op daardie stadium was die NG Kerk egter nog besig om te besin oor die derde verklaring oor homoseksualiteit en het eers in Junie 2007 hul amptelike verklaring uitgereik. Ben en Kobus het ook die talle versoekskrifte wat NG-lidmate aan die NG-leierskap gestuur het, eenvoudig geïgnoreer en nogtans voorgegee dat hulle die NG Kerk verteenwoordig.

Homoseksualiteit

Op 8 Junie 2007 reik die NG Kerk sy nuutste verklaring oor homoseksualiteit uit (ons onderstreping):

Die Algemene Sinode besluit soos volg:

1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.

2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse/huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

8. Die AS erken die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Die Algemene Sinode verklaar dat die besluit van 8 punte oor homoseksualiteit as ’n eenheid aan die Sinode gestel is en dat hierdie besluit as ’n eenheid gelees en verstaan moet word.

Dit is ’n verwarrende verklaring: Punt 2 wat beweer dat die verlossing in Christus vir alle mense is en dat die Gees op alle gelowiges uitgestort is, kort ernstige kwalifikasie, soos dat slegs gelowiges in Christus verlos is en dat die Gees slegs op Christengelowiges uitgestort is. As homoseksuele uitlewing veroordeel word, dan is dit nie nodig om te sê dat homoseksuele promiskuïteit veroordeel word nie (punt 5). Party kan dit vertolk dat dit beteken dat homoseksuele uitlewing nie verkeerd is nie, maar wel homoseksuele promiskuïteit, want nêrens in die verklaring word gesê dat homoseksuele uitlewing as sonde veroordeel word nie. Punt 6 doen dit nie – dit verklaar slegs dat dit nie ’n alternatief vir die huwelik is nie. Punt 7 verwag homoseksuele selebaatheid net van predikante, nie van ander ampsdraers of lidmate nie. En wat beteken punt 6 prakties? In die lig daarvan dat die NG Kerk se parlementêre verteenwoordigers vroeër aan die Suid-Afrikaanse Regering voorgestel het dat homoseksuele huwelike gewettig word, wat moet die Kerk met sulke huwelike doen as dit nie ’n alternatief vir ’n huwelik tussen ’n man en vrou is nie? Veronderstel twee ongelowige mense wat in ’n homoseksuele huwelik is kom tot bekering en wil deel word van die NG Kerk, hoe moet die Kerk dít hanteer? Gaan daar van hulle verwag word om te skei? Dit sou baie eenvoudiger gewees het indien die Kerk duidelik verklaar het dat hulle homoseksuele verbintenisse nie erken nie, maar inteendeel – die parlementêre verteenwoordigers het homoseksuele verbintenisse juis gaan aanbeveel!

Onderliggend tot bogenoemde verklaring van die Algemene Sinode, is hul foutiewe aanname dat homoseksualiteit geneties of aangebore is. Dit is lankal reeds bekend, en word al meer en meer deur die nuutste navorsing bevestig dat dit glad nie so is nie, maar dat ’n verskeidenheid van omgewingsfaktore tot homoseksualiteit kan lei. En die belangrike is dat mense deur God se genade daarvan verlos kan word. Die NG Kerk maak ’n skreiende en skandalige fout as homoseksualiteit goedgekeur word eerder as om mense te help om daarvan verlos te word.

Die ironie is dat drs. Ben du Toit en Kobus Gerber deel van die NG Kerk op die hoogste vlak gebly het – dr. Gerber is selfs nou weer lid van die moderamen vir 2011-2013.

In 2015 gaan die Algemene Sinode verder ek besluit dat predikante en lidmate in homoseksuele verhoudings (SGV) mag staan. Kyk 2015 NGK homoseksuele besluit.

Saamwoon

Die 2011-verklaring rondom die huwelik en saamwoon bevat die volgende stellings (ons onderstreping):

4. Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.

...

6. Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik 'n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

(Vir die hele verklaring, kyk Huwelik en Saamwoon - Algemene Sinode NG Kerk - 12 Oktober 2011)

Volgens punt 4 kan seksuele gemeenskap buite die huwelik Bybelse waardes reflekteer, maar volgens punt 6 voldoen dit nie aan Christelike riglyne nie. Wat se teenstrydige stellings is dit? En wat nou as die saamwoonpaartjie na al die aanpas-oefeninge besluit hulle pas nie, was dit dan eers verkeerd? Kan hulle dan maar gaan kyk hoe pas hulle in ’n volgende verhouding? Hoe kan volwassenes op ’n Algemene Sinode van ‘n Christelike kerk sulke inkonsekwente en onbybelse uitlatings maak, en dit dan met ’n meerderheidstem aanvaar? Is dit maar veral om die jongmense te probeer paai en te behou? Kyk hoe skram die Algemene Sinode ook daarvan weg om selfs buitehuwelikse seks sonde te noem.

Daarenteen word voorhuwelikse seks, selfs tussen verloofdes, sterk in die Bybel veroordeel:

Deut.22:21b: Sy moet sterf omdat sy 'n ongehoorde ding in Israel gedoen het deurdat sy met 'n man geslagsgemeenskap gehad het terwyl sy nog ongetroud was. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.

Hos.5:7a,b: Hulle was ontrou aan die Here, want hulle het buite-egtelike kinders verwek. Hy gaan hulle binnekort vernietig.

1 Kor.7:8 en 9: Vir die ongetroudes en die weduwees sê ek: Dit is vir hulle goed om ongetroud te bly soos ek. Maar as hulle nie in onthouding kan leef nie, moet hulle trou, want dit is beter om te trou as om deur hartstog verteer te word.

1 Kor.7:36: As iemand meen dat hy teenoor sy verloofde (ou vertaling: maagd) onbehoorlik handel deur nie te trou nie, en sy begeertes te sterk word en hy voel dat hulle behoort te trou, laat hom doen wat hy graag wil: laat hulle gerus trou. Dit is nie verkeerd nie.

Let wel, Paulus se oplossing, soos gelei deur God, is nie vir mense om maar saam te bly nie, maar wel om te trou. Dit is ook ’n swak verskoning om die oortreding in byvoorbeeld Deut. 22 te probeer goedpraat of te ignoreer omdat die straf van daardie tyd nie sedert Nuwe Testamentiese tye toegepas word nie (waarvoor daar goeie redes is).

(Vir meer, kyk Grense en saambly en Die Bybel oor seks voor die huwelik)

Punt 4 kon soos volg bewoord gewees het:

4’. Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Alhoewel hierdie verhoudings in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit bevat, moet dit afgewys word omrede die seksuele. Kyk ook punt 6.

Bevryding en demone

Die 2011-verklaring rondom die bediening van bevryding bevat die volgende stellings (ons onderstreping):

7. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

(Vir die hele verklaring, kyk Besluite rondom die bediening van bevryding - Algemene Sinode van die NG Kerk - 12 Oktober 2011)

Die onbybelse aard van hul duiwelbesluit, kan gesien word uit byvoorbeeld die volgende gedeeltes in die Bybel: Gen. 3, Job, Mat. 4, Luk. 4, Joh. 8:38-59 en Judas 1. Selfs vir diegene wat Genesis metafories of mities wil hanteer (fout no. 1), behoort die res van die Bybel die aard en werklikheid van die Satan genoegsaam uit te spel

(Kyk ook Die Bybel oor die duiwel/Satan).

Ook die belydenisskrifte laat geen twyfel oor hierdie saak nie:

Heidelbergse Kategismus: Vraag en antwoord: 1, 9, 32, 34, 112, 123, 127, en die Nederlandse Geloofsbelydenis: Artikels 12, 13, 14 en 37. Byvoorbeeld in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 12, staan: “Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Saduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is”.

Punt 7 moes eerder soos volg bewoord gewees het:

7’. Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is beslis ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is tog ook ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer, maar eersgenoemde is die NG Kerk se standpunt gegewe die inligting in die Bybel en die belydenisskrifte.

Diversiteit

Almal is sekerlik nie bewus waaroor die diversiteitsgesprekke in die NG Kerk gaan nie. Die beste plek om daaroor uit te vind, is die sogenaamde Diversiteitsforum wat vroeg in 2010 tot stand gekom het op die NG Kerk se eie webwerf www.ngkerk.org.za. Ongelukkig het heelwat ouer bydraes daar verlore gegaan – sommige deur doelbewuste verwydering. Meeste van daardie argiewe is egter op hierdie webwerf te vinde – gaan kyk na NGK Diversiteitsforum 2010.

Die groot dryf om diversiteit in die NG Kerk te bevorder, word met ’n duidelik liberale agenda beheer en bestuur. Die volgende, nog hier onder die webbestuurderskap van wyle Charles Malan, demonstreer dit baie goed. Slegs sekere skrywes het tipies oorleef. In besonder is alle pogings om die grense van aanvaarbare diversiteit te bespreek, onderdruk. Een van die skrywes wat van die NG-diversiteitsforum verwyder is, is die volgende (geneem uit NGK Diversiteitsforum 2010 (04) (2010-07-05 tot 2010-07-10)):

Hennie (Verwyder deur Webbestuurder, maar eers op 2010-07-11)

2010-07-06

Henry, sluit jou idee van die liefde van Christus vir alle mense die noodsaaklikheid dat hulle in Hom as enigste Verlosser moet glo, in of uit? As jou idee dit uitsluit, hoe maak jy vrede met Joh. 3:16, waarin God sy grootste liefdesgawe beskryf? Maar as jy niks wil weet van sonde nie, sal jy heel moontlik nie die noodsaaklikheid van verlossing insien nie.

Fanie Cronjé skryf elders "Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen dat die Bybel nie oor homoseksualiteit, soos ons dit vandag ken, praat nie." As die "her" in sy herinterpretasie die teenoorgestelde begin sê as die oorspronklike, is dit sekerlik nie verdedigbaar nie. Hy skryf ook "Die vroeër/heersende wyse van Christen wees meen dat net Christene die ewige lewe beërwe. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen die christelike geloof kan nie daarop aanspraak maak dit die enigste ware geloof is nie." Ek meen dis moeilik om uit daardie artikel van hom af te lei dat hy nie met die ontluikendes saamstem nie. Sy skrywes hier bevestig dit. Hoekom Fanie dus nie maar net hier reguit erken dat hy nie glo dat Christus die enigste Verlosser is nie, is vir my tot ’n mate duister.

Gerhard Bothma, dankie vir jou weliswaar indrukwekkende skrywe, nes dié van Fanie. Jy skryf "Ons aanvaar die versoening" ["deur Christus – wat vir almal ... gesterf het"]. Die vraag is hoe ongelowiges (daarmee bedoel ek nie-Christene) dié versoening kan aanvaar as dit nie aan hulle vertel word nie. Of meer nog – hoekom sal ons dit aan enigeen vertel as dit nie nodig vir hulle is om te weet nie? In die Bybel word ons plig om die evangelie uit te dra, en dus ’n instrument te wees in die geloof wat God bewerk, onder andere soos volg gestel: Rom. 10:14-15 : "Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!" Daar is geen rede om te dink dat hierdie evangelie oor enigiets anders as die evangelie van Christus kan gaan nie. Gerhard, ek het nie ’n probleem om te verkondig dat Christus vir almal gesterf het nie, want ek glo dit is wat in die Bybel staan. Maar dit beteken nie dat almal outomaties gered is nie – dit beteken dat Christus gesterf het om aan almal die geleentheid te bied om Sy offer in geloof te aanvaar. Om dit te verkondig is ons taak – om enige ander weg (buiten Christus) te probeer goedpraat of verdedig, is ’n verloëning van Christus. Dit is eintlik waaroor my gesprek met Fanie gaan. ’n Christen mag nooit maar net ontspan as Christus verloën word nie. "Het jy my waarlik lief?" het Jesus drie maal vir Petrus gevra.

Charles, ek verstaan dat jy die diversiteitsbesprekings hier net wil beperk tot sekere aspekte, en dat jy daarom Daniel se antwoorde oor slawerny en sogenaamde foute in die Bybel verwyder het. Maar hoekom het jy dan nie terselfdertyd die vrae en stellings daaroor van die ander manne, wat eintlik daardeur die Bybel probeer diskrediteer, en waarop Daniel geantwoord het, verwyder nie? Hoe kan die antwoord verwyder word, maar die oorspronklike vrae en bewerings bly?”

Onderstaande vraag is 2 maal tydens die 2011-Algemene Sinode op www.facebook.com/kerkbode aan die nuwe moderator prof. Nelus Niemandt gevra, en een maal deur sy skakelpersoon Tobie Wiese, wat mense uitgenooi het om aan Nelus vrae te stuur, per e-pos. Dit is eers baie later beantwoord na ’n 4de probeerslag:

Die kritieke en onbeantwoorde groter vraag aan die diversiteitsforum bly die vraag van wat die grense van aanvaarbare diversiteit binne die NG Kerk is. Gaan hierdie Algemene Sinode hieroor uitsluitsel gee? Die diversiteitsforum omseil hierdie saak al sedert sy ontstaan.

En dit sluit geweldig nou aan by prof. Nelus Niemandt se groot aanhang van die sogenaamde ontluikende kerk-beweging. Kan Nelus nog verklaar dat Christus die enigste weg tot saligheid is en dat die Christelike geloof die enigste ware geloof is? En as hy kan, waaroor ons baie bly sal wees, hoekom distansieer hy hom nie van die talle bekende ontluikendes wat hy graag na verwys, op hierdie kritieke saak nie? Dr. Fanie Cronjé het op die diversiteitsforum geskryf: "Die vroeër/heersende wyse van Christen wees meen dat net Christene die ewige lewe beërwe. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen die christelike geloof kan nie daarop aanspraak maak dit die enigste ware geloof is nie." Waar staan Nelus en die Algemene Sinode betreffende hierdie saak?

Nelus se uiteindelike halwe antwoord, en my verdere skrywe aan hom wat toe nie beantwoord is nie, was op www.facebook.com/kerkbode soos volg:

Nelus Niemandt

Ek dink Hennie moet eerstens die standpunte van ampsbekleërs in die Algemene Sinode en amptelike besluite van die Algemen Sinode uit mekaar hou. Oor diversiteit en die respekvolle wyse waarop gesprek gevoer kan word, het die sinode in die Diversiteitsforum se verslag duidelik geantwoord.

Hennie Mouton

Nelus, ek en heelwat ander NG-lidmate wil nie net (die dikwels vae en dubbelsinnige) antwoorde in AS-besluite weet nie, maar sal graag wil weet wat die moderator self dink, siende jou ontluikende kerk-sentimente wat duidelik in jou boek uitgekom het. Bogenoemde vrae aan jou is nie moeilik nie. Hoekom antwoord jy dit nie maar reguit nie? As jou antwoord op die vraag wat die grense van aanvaarbare diversiteit is, bloot is dat dit gaan oor respekvolle gesprek, maar jy vermy die kritieke kwessie van wat die doelstelling van die gesprek is, wat vir enige Christelike kerk evangelisasie behoort te wees, dan is daar beslis ’n probleem. Dan sluit jy maar net by wyle Charles Malan aan, die vorige NG-diversiteitsforumbestuurder, wat beweer het dat God van niemand verwag om sy geloofsankers prys te gee nie (die gesprek het toe oor ‘n Hindoe gegaan).

In die Rapport van 2011/10/22 het die artikel verskyn “Predikante bieg oor twyfel”. Dit gaan oor ’n boek “Hier staan ek” wat sopas vrygestel is. Die skrywers is Izak du Plessis (gewese NG-predikant), Piet Muller (Toekomskundige en kreatiwiteitskonsultant, skrywer, nuwe hervormer), Jean Oosthuizen (nuusredakteur van Kerkbode en webmeester van die godslasterlike en vloekende kletskerk), Sakkie Spangenberg (nuwe hervormer en gewese NG-teoloog) en Lina Spies (digter, emeritus-professor).

Vyf steeds praktiserende predikante, maar onder skuilname, bieg die volgende in die boek:

Sondae staan hulle op die kansel en preek die Bybel as onfeilbare Woord van God, maar in hul harte glo hulle nie meer die dinge wat hulle aan hul gemeentelede verkondig nie.

“Ek kan nie meer bid nie. Ek voel soos ’n leuenaar in die gemeente. Ek lees nie meer Bybel nie. Huisgodsdiens het vir my ’n ondraaglike las geword, iets wat ek so vinnig moontlik wil verby kry sodat ek met my eie worsteling kan aangaan,” skryf een van die predikante.

“Eensaam. Eensaam en alleen. Verneuk. Verneuk en beangs. Dit is waarskynlik die woorde wat my gevoel tans die beste uitdruk,” skryf een, wat vertel dat hy kort ná sy eerste aanstelling deur die geloofsvrae van ’n gemeentelid op ’n twyfelpad gelei is. Deesdae glo hy nie meer in Jesus se maagdelike geboorte, opstanding uit die dood of lewe in ’n hiernamaals nie.

’n Tweede een, ’n “dominee in my middel-dertigs”, vertel hy is as student al in sy geloof ontnugter, maar het desondanks predikant geword. Hy kon hom egter wel in ’n mate met die Christenskap versoen danksy die aanklank wat hy toenemend by die kontemplatiewe spiritualiteit van die Katolieke mistici vind.

’n Derde, wat 38 jaar ervaring in die bediening het, vertel hy het allerlei vertwyfelings wat hy nie durf uitspreek nie, want hy “het geweet ek sou geëtiketteer en waarskynlik verwerp word … My loopbaan kon ook in gedrang kom.” Tans beskou hy Jesus eerder as “navolgenswaardige leermeester” en die Bybel as wegwyser.

’n Vierde predikant vertel hy is ontnugter deur die wrede verhale in die Ou Testament en die onvermoë van teoloë om sy kritiese vrae te beantwoord.

Die vyfde skryf die Christelike kerk behandel godsdiens soos ’n dieretuin waar God “in ’n hok” aangehou word en dat hy eerder in die “wildtuin van sienings” wil beweeg waar panteïsme, panenteïsme, agnostisisme, post-teïsme en ander lewensbeskouings ook welkom is.

Dié leraars vertel elkeen die geloof wat hul kerkverband bely, rym nie meer met die vertwyfelings wat hulle al jare lank in hul harte ronddra nie. Benewens enkele biografiese besonderhede, verklap hulle bloot dat hulle nog in die bediening is en in hoofstroom-kerke (die indruk word geskep dit is deel van die Gereformeerde susterskerke) werk. Hulle skryf ook dit is vir hulle swaar om een ding in hul binnekamer te glo, maar ’n ander ding van die preekstoel af te bely.

Die boek is ’n bloemlesing van mense se verhale oor hoe hulle van die kerklike verstaan van God en Christelikheid afskeid geneem het. In die voorwoord van die boek, wat deur Griffel Media uitgegee word, skryf die samestellers hulle wil met dié stories twyfelaars gerusstel dat hulle nie alleen is nie. Die stories in die boek kan volgens hulle “’n aanduiding wees van die soort probleme waarmee nie net leke nie, maar selfs ook teologies geskooldes worstel”.

Tot sover die inligting in Rapport.

Die rede hoekom ons hierdie boek onder ons bespreking van diversiteit noem, is omdat heelwat van ons gereeld op die NG Kerk se diversiteitsforum deelgeneem het, en weet dat genoemde sienings sonder twyfel die tipe diversiteit is wat die bestuur daar probeer propageer as aanvaarbare diversiteit binne die NG Kerk. Die een skrywer, Jean Oosthuizen, het ook by meer as een geleentheid die diversiteitsforum op Kerkbode probeer bevorder. Indien in gedagte gehou word wat ons hierbo geskryf het, naamlik dat die diversiteitsforum van die begin af enige gesprek oor die grense van aanvaarbare diversiteit doodgedruk het, raak die doelwit al duideliker – om almal en alles sover moontlik te probeer akkommodeer sonder enige doelstelling van geloof in Christus as enigste Verlosser.