Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Izak du Plessis is 'n teologies verdwaalde gees PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Christo Landman   
Vrydag, 18 Junie 2010 08:31

Kyk ook:

Die volgende artikel is van hier gekopieer.

***********

Izak du Plessis is 'n teologies verdwaalde gees

Geskryf deur Christo Landman
Vrydag, 18 Junie 2010 08:31

Ds Izak du Plessis het onlangs uit die NGK Valleisig as predikant bedank en wye publisiteit geniet. So gee Neels Jackson volbladpublisiteit aan Du Plessis se afskeidspreek in die Beeld van 8 Junie 2010 [Kyk Lus vir 'n loopdop, dominee?].

Du Plessis is nie drukbaar in 'n blik nie. Toe Du Plessis hom as predikant laat oplei het en as sodanig gelegitimeer is, moes hy geweet het dat hy 'n ampsdraer van 'n kerk word met 'n bepaalde belydenis en dogma. Du Plessis se preek adem 'n rewolusionêre gees van 'n selfvergoddelikende mens.
Izak is 'n biersuiper, vandaar sy behoefte om die plaaslike kroeg te besoek. Let daarop dat hy nie mense daar wil bekeer nie. Om 'n kroegmeisie in nood te help is beter as om in die kerk te wees. Die kerk kan by die kroeg gaan leer om "om te gee". As die kerk relevant wil wees moet hy soos 'n kroeg word. Daarmee demonstreer Du Plessis sy onkunde, want die kerk is daardie plek waar 'n gemeenskap van gelowiges in 'n biddende houding voor God te staan kom. Dit is 'n geloofsgemeenskap waar 'n sekere styl gehandhaaf word en 'n liturgie geld. Wie in God se teenwoordigheid is, is nie 'n biersuiper en losprater nie, maar 'n beskeie mens wat sy beperktheid en aardsheid ken.

Du Plessis erken nou dat die klagtes oor leerdwalinge wat teen hom ingebring is, en waarvan hy oor 19 onskuldig bevind is, wel geldig was. Die vraag is of hy toe die klagtes in behandeling geneem is, die guts en die juridiese weg gevolg het om skuld te erken ... of het dit vir hom toe oor oorlewing gegaan?

Hy sien sy dwaling as sy eie persoonlike saak. Daarmee verraai Du Plessis sy liberale individualisme. In die sentrum van sy lewens- en wêreldbeskouing staan hyself. God, verklaar hy, het die gevangene geword van menslik uitgedinkte stelsels. In Du Plessis se alternatiewe godsdiens doen hy presies dít wat hy teen waarsku: God word in menslike terme deur hom ingekleur. Daarmee maak Du Plessis vir God los van Sy selfopenbaring aan honderde skrywers oor baie jare. God is nie so lief vir Sy kinders as wat hy, Du Plessis vir sy biologiese kinders is nie. Du Plessis moes iewers in die teologie geleer het dat die wetenskap van die liefde die etiek is.

Etiek is 'n intermenslike verhouding. Die mens staan nie in 'n fundamenteel etiese verhouding tot God nie, maar 'n religieuse grondverhouding. Du Plessis soek "compassion" by die mens. Dit is juis God wat in 'n verhouding van "compassion" tot die mens staan.

Du Plessis soek "compassion" vir en teenoor die swanger meisie en die seksuele gaymens, by wyse van spreke, en legitimeer in die proses menslike dade wat in die godsdiens as sonde te tipeer is. Sonde, bedoelende daarmee dat wanneer die sosiale norme van God vir 'n geordende en ordelike lewe gebreek word, die geloofsverhouding tussen mens en God versteur word.

Wat Du Plessis dus doen is om God te vermenslik en af te bring tot die vlak van intermenslike liefde. God, daar en teen, is Almagtig, is 'n God van geregtigheid en wil reg laat geskied, by gebreke waarvan hy die sonde straf. God is 'n God van die verbond wat kontrakte met die mens sluit. God is ook meelewend en genadevol. God word deur Du Plessis verskraal tot die misterieuse, terwyl God Homself duidelik kenbaar maak in die Skrifte.

'n Ander dwaling is dat Du Plessis verklaar dat hy in God leef. Die teendeel is waar: die Gees van God lê beslag op die hart van die mens. Dit is in die hart van die mens waar die uitgange van die lewe is en wat in konkrete dade omgesit moet word.

Du Plessis is ongemaklik met konsepte soos hemel en hel. Die implikasie is duidelik: omdat God nie buite die mens bestaan nie, daarom kan God nie op 'n plek wees waar Sy troon is en waar Hy omring is van hemelwesens wat die lof van God besing nie.

Die ergste van Du Plessis se onkunde is dat hy nie weet wat geloof is nie. Geloof is 'n vermoë waaroor alles mense beskik om met die transendente God in kommunikasie te kan tree. Diep ingebed in die menswees van die mens is sy hunkering om met sy Skepper verenig te word. Godsdiens, daar en teen, is die konteks waarin die gesprek plaasvind. So verklaar Paulus voor die Romeinse Keiser dat hy God, na die voorbeeld van Jesus aanbid. Waarteen Du Plessis dit eintlik het, is nie oor en teen geloof nie, maar oor en teen die geykte godsdiens waarbinne hy as predikant gefunksioneer het.
As predikant was hy in 'n besondere verhouding om nuwe inhoud aan die godsdiens, as konteks vir die waarmaking van die geloof, te gee. Die feit dat Du Plessis bedank het, dui daarop dat hy ook op hierdie kardinale punt gedwaal het.