Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Ver-sterlig-jong-aarde-probleem PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Hennie Mouton   
Donderdag, 12 Julie 2012 15:20
Vir meer skrywes deur Hennie Mouton, kyk die indeks, veral sy boek, Skepping & Evolusie - Onversoenbaar! - Hennie Mouton wat gratis afgelaai kan word.

Hierdie probleem kan soos volg beskryf word:

‘n Ligjaar is die afstand wat lig in een jaar trek. Iets wat 15 miljard ligjaar van ons af is, en wat ons nou kan sien, behoort dus 15 miljard jaar gelede te bestaan het.

Indien die aarde en die heelal slegs omtrent 6000 jaar oud is, soos duidelik in die Bybel beskryf word, en indien ons aanvaar dat die spoed van lig van die begin af konstant was, en indien ons aanvaar dat die sigbare heelal se grootte wel in die omgewing van 15 miljard ligjaar is, hoe kan ons dan vandag lig sien wat afkomstig is van hemelvoorwerpe wat 15 miljard ligjaar van ons af is, as daar net 6000 jaar verloop het vanaf die skepping van die hemelvoorwerpe?

Daar bestaan ’n paar moontlike oplossings vir hierdie probleem.

Ek sal die een tipe oplossing bespreek wat berus op die konsep van tyd wat dramaties verskillend op verskillende plekke in die heelal tydens die skeppingsweek kon verloop het.

alt 'n Voorstelling van hoe Russell Humphreys die heelal sien [Uit New time dilation helps creation cosmology].

My aannames of voorveronderstellings is die volgende:

  • Daar word aanvaar dat God bonatuurlik tydens die skeppingsweek kon opgetree het.
  • Daar word aanvaar dat die heelal ’n eindige grootte en ’n rand of grens het.
  • Einstein se relatiwiteitsbeginsels word aanvaar, wat onder andere beteken dat tyd nie orals en altyd teen dieselfde spoed verloop of verloop het nie.
  • Daar word aanvaar dat die heelal se grootte in die orde van 14 miljard ligjaar is, soos algemeen aanvaar word.
  • Daar word aanvaar dat die aarde en heelal volgens aardse tyd omtrent 6000 jaar oud is, soos gegee in die Bybel.

Na my mening mag voorveronderstellings later verkeerd blyk te wees as die model wat daarop gebaseer is, nie voldoende in staat is om met waarnemings te klop nie. In daardie sin is alle voorveronderstellings nie noodwendig vas nie.

Die skeppingsleerkosmologiemodel wat my en meeste ander skeppingsleerders se gunsteling is, werk soos volg:

Die totale heelal het begin met alle materie in ’n baie kleiner volume as vandag, wat beteken dit het daarna uitgebrei. Dit het egter nie die geweldige digtheid gehad wat die oerknallers postuleer nie. (Dit stem dus gedeeltelik met die oerknalmodel ooreen.)

Definisie van gebeurtenisgrens van 'n swartholte: Die afstand vanaf ’n swartholte waar die benodigde ontsnapspoed kleiner as ligspoed word (hoe groter die afstand hoe kleiner die benodigde ontsnapspoed).

Die aanvanklike volume was aanvanklik so klein dat alles binne die sogenaamde gebeurtenisgrens van ’n swartholte (“black hole”) geval het. (Dit verskil van die oerknalmodel wat die aanvanklike volume nog baie kleiner maak, maar nie reken dit het binne ‘n swartholte gelê nie, al vereis die aanvaarde formules dit.)

Enigiets wat binne die gebeurtenisgrens van ’n swartholte lê, kan nie volgens bekende bestaande natuurwette daaruit ontsnap nie, want ’n wegtrekspoed van meer as die spoed van lig is nodig om daaruit te ontsnap.

God het die uitbreiding egter bonatuurlik laat gebeur deur die materie oor die heelal te begin uitsprei tydens die skeppingsweek, spesifiek op die 4de skeppingsdag. Op die 4de skeppingsdag het alles van binne die gebeurtenisgrens van die swartholte uitbeweeg na buite die gebeurtenisgrens, en die aanvanklike swartholte het dus in die proses verdwyn. Want soos die materiaal uitbeweeg, sal die gebeurtenisgrens krimp, want die gravitasie-aantrekking na die middelpunt word al minder. Tot op ’n sekere tydstip in die 4de skeppingsdag was die aarde nog binne die gebeurtenisgrens, maar meeste materie waaruit God die meeste sterrestelsels en sterre geskep het, was reeds buite die gebeurtenisgrens. Die aarde het dus naby die middelpunt van die aanvanklike (en latere) heelal gelê.

alt

Figuur 1: Die buitelyn van die donkerblou sirkel stel die gebeurtenisgrens voor met die heelal binne-in en die groen aarde ("A") naby aan die middel (voor uitrekking).

Figuur 2: Die gebeurtenisgrens het nou gekrimp en die ligteblou sirkel stel die heelal voor. Die tydsverskil was massief tydens die vierde skeppingsdag net nadat die sterre geskep en uitrekking begin het. Dus verloop tyd baie vinniger op planeet "R" wat aan die rand van die heelal is en aansienlik stadiger op Aarde wat in die middel is.

Figuur 3: Na heelwat uitrekking is daar geen gebeurtenisgrens meer nie omdat dit gekrimp en later verdwyn het tydens uitrekking.

Weens tydsrekking[1], wat inpas in Einstein se relatiwiteitsteorieë, het daar weens hierdie situasie op die 4de skeppingsdag 24 uur op aarde verloop, maar selfs tot miljarde jare het verloop verder weg van die aarde in die heelal, in daardie 24 uur. Geweldige tydsrekking het dus toe gebeur, oftewel tyd het geweldig verskillend verloop op verskillende plekke. Daar was dus genoeg tyd vir die sterlig vanaf hemelvoorwerpe wat miljarde ligjaar ver is, om die aarde te bereik op die 4de skeppingsdag, al het daar op aarde net 24 uur verloop. Ná die 4de skeppingsdag, het tyd naastenby ewe vinnig orals verloop, want die aanvanklike gebeurtenisgrens het verdwyn. Baie kleiner gravitasie-effekte op tyd sou egter bly en dit is vandag nog meetbaar.

Sommige mag die beswaar opper dat om God bonatuurlik te laat optree, soos om materiaal uit ‘n swartholte te laat beweeg, ’n onwetenskaplike “truuk” is. Let daarop dat dit een van my aannames was dat dit vir God moontlik is om bonatuurlik op te tree. Dié beswaar is dus ongeldig gegewe dat ek my voorveronderstellings duidelik gestel het. En let daarop dat die oerknallers eintlik maar hul eie “bonatuurlike” truuks moes uithaal om alles uit die beginpunt te laat beweeg.

alt

Hul een truuk is om posisie in 4 dimensies te definieer (ek praat nie van tyd as die 4de dimensie nie, ek praat van 4-dimensionele posisie) – dit maak byvoorbeeld dat die heelal hipoteties nie ’n rand het nie[2], maar tog nie oneindig groot is nie. As dit ’n aanvaarbare truuk vir hulle is, kan ek net noem dat nog ’n skeppingsleermodel wat in staat is om die ver-sterlig-jong-aarde-probleem op te los, deur dr. John Hartnett gepostuleer is, wat gebruik maak van 5 dimensies vir posisie. Ek sal en kan nie daarop ingaan nie, maar mens kry tog die indruk dat deur genoeg dimensies by te voeg, enigiets eintlik wiskundig oplosbaar is. Daarom verkies ek die 3-dimensionele-posisie-oplossing, want sodra die oplossing dimensies begin vereis wat ons in werklikheid nie ’n begrip van het nie, raak so ’n model na my mening te spekulatief om regtig iets te verklaar of te verduidelik.

Oerknallers se tweede truuk is om te spekuleer dat daar “donker energie” bestaan[3], wat teenoorgesteld aan gravitasie, afstoting veroorsaak. In die begin was die effek daarvan glo baie groter as gravitasie en daarom het die heelal uitgebrei. So terloops, vandag spekuleer hulle ook nog oor “donker materie”, en nie bietjie daarvan nie, omtrent 10× meer as gewone materie, want gravitasie in die heelal moet oorhoofs baie groter wees as wat skattings van die hoeveelheid gewone materie kan oplewer. Daar bestaan egter geen werklike bewysstukke dat “donker energie” of “donker materie” bestaan nie.

Oerknallers se derde truuk is om te aanvaar dat die aanvanklike uitbreiding van die heelal ordes en ordes vinniger as die spoed van lig gebeur het. Dit is deel van wat hulle die inflasieteorie noem, en hoe hulle by hul eie beperking verby probeer kom dat niks vinniger as die spoed van lig kon of kan beweeg nie, is om te spekuleer dat die ruimte of volume as sulks ook uitgebrei het. Met ander woorde ten opsigte van die ruimte het niks vinniger as ligspoed beweeg nie, maar omdat ruimte self teen meer as ligspoed vergroot het, kon die materie daarin ook teen vinniger as ligspoed ten opsigte van hul beginpunt beweeg het. ’n Verdere bewys dat hulle die heelal vinniger as die spoed van lig laat uitbrei het, is hul gepubliseerde verwagting dat die huidige sigbare heelal, wat ongeveer 14 miljard ligjaar groot is (die radius), nou al so uitgebrei het dat dit ongeveer 46 miljard ligjaar groot is. Met ander woorde hulle aanvaar dat dit 32 miljard ligjaar in 14 miljard jaar gegroei het – dus gemiddeld meer as 2× die spoed van lig in daardie tydperk.

Die konsep van die ontstaan en die groei van ruimte self kan hul vierde truuk genoem word en beteken daar het ook nie ruimte buite die aanvanklike volume waarin die oerknaloorsprong hom bevind het, bestaan nie. Soos baie van hul ander hipoteses, is hierdie een ook eintlik onbegryplik en na my mening onbewysbaar.

Is daar enige waargenome eienskap van die heelal wat bogenoemde skeppingsleertydsrekkingmodel ondersteun?

Ja – dit is die verrassende eienskap dat die heelal nie ’n oud-na-jonk-struktuur vertoon nie, en dit is terselfdertyd ’n probleem vir die oerknalmodel. Volgens die oerknalmodel moet hemelvoorwerpe al jonger vertoon hoe verder hulle van ons af weg is, want hul lig wat ons nou bereik, het hoe verder hulle is hoe langer gelede by hulle weggetrek. Toe was die verderes nog jonger as wat hulle nou is, maar ons sien hulle nou soos toe hulle nog jonger was. So byvoorbeeld is die hemelvoorwerp wat op hierdie tydstip as die verste gereken word, ’n volledige sterrestelsel, en omdat dit so naby aan die rand van die sigbare heelal is, is oerknallers verbaas dat ’n sterrestelsel so vinnig kon gevorm het so gou na die begin van hul oerknal.Met ander woorde hulle is verbaas dat so jong hemelvoorwerp volgens hulle model, so oud kan lyk of so vinnig ontwikkel het.[4]

Dis geen probleem vir die skeppingsleermodel nie, want dié model impliseer dat ons nou alle hemelobjekte hier op aarde as naastenby ewe oud kan waarneem. Die rede hiervoor is dat die verste objekte die oudste kan wees, maar die lig wat ons nou vanaf hulle bereik, het hulle verlaat toe hulle nog jonk was. Die naby objekte is eenvoudig nie baie oud nie en daarom wys hul uitgestraalde lig (hul waargenome beeld) ook dat hulle jonk is. Al die hemelobjekte kan dus naastenby dieselfde skynbare ouderdomme hê.

Tydsrekking is ’n begrip wat moeilik is om te aanvaar. Maar dit is deel van die algemeen aanvaarde relatiwiteitsteorieë en is op verskeie maniere al op klein skaal gemeet en bevestig. So byvoorbeeld loop atoomhorlosies teen meetbaar verskillende spoede op byvoorbeeld seevlak en op hoë berge. ’n Praktiese gebruik en bevestiging daarvan is dat die verandering in tydspoed in aanmerking geneem word om die GPS-stelsel so akkuraat te kry soos dit tans is, want die tyd verloop vinniger op satelliete as op die aardoppervlak[5]. Tydsrekking as sulks is dus by verre nie net ’n spekulatiewe gedagte nie. Let daarop dat ’n atoomhorlosie werk met fisiese prosesse, en dat die verskillende tydsverlope dus nie aan iets soos ’n papper battery of papper veer toegeskryf kan word nie. Alle fisiese prosesse verloop dus vinniger op byvoorbeeld die satelliet as hier op aarde indien dit gemeet word met aardse tyd.

Is daar enige meetbare aanduiding dat byvoorbeeld die sterre in ons Melkwegsterrestelsel jonk is?

Ja – die getal supernovas in die Melkwegstelsel gee goeie getuienis daarvoor. Indien die verwagte ouderdomme van die fases van supernovas in ag geneem word, 'n realistiese persentasie sigbaarheid in ag geneem word, en die Melkwegstelsel miljarde jare oud is, behoort ons omtrent 2250 tweedefasesupernovas te sien. Indien die Melkwegstelsel slegs 6000 jaar oud is, behoort ons 107 te sien. In werklikheid word 200 gesien, dit is baie nader aan die verwagting volgens die 6000 jaar[6].

Volgens hierdie gunstelingskeppingsleermodel, wat ook aanvaar dat die heelal ’n rand het, en ons Melkwegstelsel naby die middelpunt is, behoort daar ’n versnellingskomponent na die middelpunt te wees, wat nie volgens die oerknalmodel behoort te bestaan nie. Dit is tot ’n mate bevestig deur die Pioneersatelliet wat met gravitasiemetings resultate gekry het wat van oerknalaanhangers se verwagte berekenings verskil het. Dit staan bekend as die Pioneer-anomalie. Die skeppingsleerder dr. Russell Humphreys, wat die vader is van die model wat ek hier voorstel, kon die Pioneer-anomalie met die skeppingsleermodel verklaar, want dit bevat ’n bykomende versnellingskomponent na die middelpunt, wat die oerknalmodel nie het nie omdat hul heelal nie ’n middelpunt het nie. Die oerknalvoorstanders aanvaar nie dat die heelal ’n middelpunt het nie, en nog minder dat ons naby daaraan is. Selfs al het die heelal ’n middelpunt, is dit vir hulle onaanvaarbaar dat ons naby daaraan sou wees, want die statistiese kans daarvoor is verskriklik, eintlik onmoontlik, klein. Tensy ons deur spesiale ontwerp daar geplaas is, en dit is vir hulle nog meer onaanvaarbaar, want meeste van hulle weier om ’n Ontwerper in hul verstaan van die wetenskap toe te laat[7].

Is daar enige wetenskaplike waarnemings wat wys dat die aarde of sy omgewing moontlik in die middel van die heelal is?

Inderdaad ja[8], en dis gebaseer op dieselfde basiese tegniek wat hoofsaaklik gebruik word om die grootte van die heelal te bepaal – rooiskuifmetings. Rooiskuif gaan oor sterlig se golflengtespektum wat om twee redes na die langer golflengtes kan skuif:

  1. Omdat die ster of sterrestelsel weg beweeg van ons af; of
  2. Omdat die hemelruimte waarin die hemelvoorwerp is, besig is om te rek.

Of die eerste moontlikheid of die tweede hipotetiese moontlikheid, die rede is, kan nie uit die rooiskuiwe onderskei word nie, want beide sou dieselfde rooiskuiwe oplewer. Rooiskuifmetings het gelei tot die sogenaamde Hubble-wet, wat beweer dat afstand gekoppel kan word aan rooiskuif, met ander woorde hoe groter die afstand van ons af is, hoe groter is die mate van rooiskuif. Dit is basies bevestig deur afstand op ander maniere te bepaal, soos deur dit met die intensiteitsafname teenoor afstand van enerse hemelvoorwerpe te vergelyk. So byvoorbeeld sal verder sterrestelsels dowwer wees as naderes. Daar is belangrike uitsonderings op hierdie wet, soos byvoorbeeld kwasars wat duidelik nie aan die Hubble-wet voldoen nie, maar vir baie hemelvoorwerpe lyk dit tog of die wet naastenby geld.

Indien die Hubble-wet op sterrestelsels toegepas word, wat ek dink billik is om te doen, en rooiskuif dus na afstand omgeskakel word, is bevind dat sterrestelsels orals in die gedeeltes van die heelal waar dit bepaal is, in konsentriese sfere om ons lê. Hul radiusse verskil verbasend genoeg telkens met ongeveer 3.1 miljoen ligjaar.Die radiusse van hierdie sfere is sodanig dat sou die waarnemer hom 1.6 miljoen ligjaar weg verskuif van die Melkwegsterrestelsel, die konsentrisiteit sou verdwyn.

Hiervolgens het die heelalstruktuur dus ’n simmetriemiddelpunt en dis presies waar ons Melkwegsterrestelsel hom bevind. Die bloot statistiese kans om toevallig daar te beland het, gegewe die verwagte grootte van die sigbare heelal, is ongeveer 1 uit ’n biljoen (1012 of 1e-12) – dit beteken prakties heeltemal geen kans nie.[9]

Hierdie bevinding ondersteun dus die gedagte van ’n Skepper, en dat Hy ons doelbewus op ’n baie spesiale plek in die heelal geplaas het.

Ons kan beslis al meer van Hom leer soos ons Sy skepping ondersoek. Dié wat Hom nie in Sy skepping wil raaksien nie, is inderdaad sonder verskoning soos die Bybel verklaar. En ek glo dat hierdie soort moontlike wetenskaplike afleidings dien tot bevestiging vir die waarheid van die Bybel as Woord van God. Indien ons met moontlike verklarings kan kom, wat aan beide die wetenskaplike waarnemings en die Bybel voldoen, is dit ondersteuning vir die waarheid van die Bybel, alhoewel dit glad nie beteken dat God dit nog op 'n heel ander manier kon gedoen het nie. Maar selfs die regte oplossing behoort met die waarnemings en die Bybel te klop.

Daarteenoor verkondig heelwat sekulêre wetenskaplike afleidings aan die wêreld die teenoorgestelde, naamlik dat alles sogenaamd naturalisties verklaar kan word, maar hul eie onwetenskaplike truuks is hulle maar stil oor.

Voetnotas

[1] Om tydsrekking te help verduidelik, het Stephen Hawking dit in sy boek A Brief History of Time gedemonstreer met 'n sterrekundige op aarde en 'n ruimtereisiger wat in 'n swartholte inval (LW, die gravitasiekrag in 'n swartholte is baie sterk, dus verloop tyd baie stadig) (vry vertaal):

Die ruimtereisiger is geskeduleer om die gebeurtenisgrens te bereik teen 12:00 in die middag, soos gemeet op sy horlosie. Soos hy daarna val, kyk 'n sterrekundige van die aarde af met 'n teleskoop na die ruimtereisiger se horlosie en sien dat dit stadiger en stadiger loop. Die sterrekundige se muurhorlosie loop een uur terwyl die ruimtereisiger se horlosie slegs een minuut aanskuif van 11:57 na 11:58. En dan neem dit 'n dag op aarde sodat die ruimtereisiger se horlosie aanskuif van 11:58 tot 11:59! Die sterrekundige sien nooit die ruimtereisiger se horlosie 12:00 bereik nie. Al wat hy sien is die beweginglose prentjie van die ruimtereisiger en sy horlosie word slegs rooier totdat dit heeltemal in die niet verdwyn.

Humphreys het die volgende bygevoeg uit die ruimtereisiger se perspektief:

Soos die ruimtereisiger nader kom aan die gebeurtenisgrens, kyk hy terug na die sterrekundige se muurhorlosie op aarde en hy sien dat dit vinniger en vinniger loop. Hy sien ook dat die sterrekundige vinnig rondbeweeg in die laboratorium. Hy sien die planete en sterre vinnig om hulle wentelbane beweeg. Tog verloop tyd volgens sy horlosie heeltemal normaal. Wanneer die ruimtereisiger se horlosie 12:00 slaan, lyk dit of die sterrekundige se horlosie so vinnig soos 'n waaier beweeg. Hy voel geen spesifieke sensasie soos hy die gebeurtenisgrens oorsteek nie, maar nou sien hy helder lig binne die gebeurtenisgrens. Sy horlosie bereik 12:01 en loop steeds normaal.

[2] Hoe hulle dit regkry is deur die heelal as 'n ballon voor te stel: die rubber van die ballon is die 3-dimensionele heelal soos ons dit sien, terwyl die binne- en buitekant van die ballon die 4de dimensie is, ook genoem die hiperruimte. Dit is ook daarom dat hierdie voorstelling van die heelal nie 'n middelpunt het nie: dit is net soos 'n sirkel wat nie 'n begin of 'n einde het nie.

alt

[3] Vir meer oor donkermaterie, kyk Donkermaterie, ’n knoeifaktor (Daniel Louw) of Astronomy and Astrophysics Questions and Answers, onder What is ‘dark matter’, and why does the big bang need it?

[4] Kyk bv Distant Galaxies Look Too Mature for Big Bang en Skepping & Evolusie - Onversoenbaar! - Hennie Mouton, bl 222.

[5] Kyk Tydsrekking, Time dilation of Clock drift.

[6] Kyk Exploding stars point to a young universe.

[7] Kyk The ‘Pioneer anomaly’ en Creationist cosmologies explain the anomalous acceleration of Pioneer spacecraft.

[8] Kyk Ons is in die middel. Dit is baie interessant om te sien wat wetenskaplikes sê as die getuienis daarop dui dat die heelal wel 'n middelpunt het.

[9] Om hierdie waarskynlikheid in perspektief te stel: die waarskynlikheid dat 'n persoon die lotery met een kaartjie sal wen, is 7.2e-8. Kyk heelalberekeninge.xlsx, blad "Waarskynlikhede" om die berekening te sien. Kyk ook Meer oor waarskynlikhede en Hawking.

Kyk ook: