Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Ons unieke planeet aarde PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Daniel Louw   
Woensdag, 12 September 2012 21:30

Kyk ook:

Die volgende is hoofsaaklik ‘n opsomming van die DVD “The Privileged Planet” wat gebaseer is op die boek met dieselfde titel. Die DVD is net oor 1 uur lank en is ook beskikbaar op www.youtube.com.

************************

Kopernikus het vir die eerste keer verklaar dat die aarde om die son draai (heliosentriese beskouing) en dat dit nie die aarde is wat stilstaan en alles daarom draai nie (geosentriese beskouing). Later het die Koperniese beginsel hieruit ontstaan – dit is die idee dat die aarde net nog ‘n gewone planeet is. Die Koperniese beginsel word soms ook die “beginsel van middelmatigheid” genoem.

“Our planet is a lonely spec in the great enveloping cosmic dark.”

Carl Sagan (ateïs)

Dit was vir die middeleeuse kerk ietwat van ’n krisis om te moes hoor dat die aarde blykbaar nie ’n spesiale posisie in ons sonnestelsel beslaan nie, maar dat die aarde net nog ‘n planeet is. Evolusioniste en ateïste het hierdie beginsel verder geneem en argumenteer vandag dat indien die aarde net nog ’n planeet is, dan is daar heelwaarskynlik nog soortgelyke planete elders in die heelal en dan is dit ook moontlik dat daar lewe op ander planete is. Maar is dit so? Kom ons kyk:

Daar is gevind dat die fisikawette wat ons vandag ken nie net op die aarde van toepassing is nie, maar ook op die res van die heelal. Indien daar dus lewe op ander plekke in die heelal is, sou verwag word dat dit ook koolstofgebaseerde lewe sou wees. Indien dít in ag geneem word, is daar ‘n hele paar faktore nodig om komplekse lewe op ‘n planeet te bewerkstellig. Die volgende is sommige van daardie faktore:

Water

Water is noodsaaklik vir lewe op enige planeet. Dit is egter nie net ‘n kwessie van “voeg water by” en dan het jy lewe nie. Die media en/of huidige wetenskaplikes is vandag baie skuldig daaraan: as daar ’n teken van water op ’n planeet is, dan word die vraag sommer gevra of daar nie dalk voorheen lewe kon gewees het nie[1]. Die teenwoordigheid van water is maar slegs een van die boustene wat in plek moet wees om lewe op ’n planeet moontlik te maak. Water is belangrik vir die volgende redes:

  • Die see is ’n groot bron van kos vir lewe.
  • Die eienskappe van water is net so belangrik:
    • Dit het ’n baie hoë warmtekapasiteit wat hitte van die son absorbeer en so die temperatuur op aarde beheer om ‘n gematigde klimaat te veroorsaak.
    • Water het ’n ongelooflike interessante en uiters kritiese eienskap: water se hoogste digtheid is by 4°C wat veroorsaak dat water in mere en damme by hierdie temperatuur na onder sak en slegs die boonste lagie vries. Dus kan visse oorleef onder die lagie ys aan die bokant.
    • Water vries hoog bo seespieël en val terug aarde toe wat keer dat die aarde voortdurend water verloor na die buitenste ruimte.
    • Water los nutriënte op en vervoer dit na en in lewende organismes.

Jaarperiode

Somer is lank genoeg om te saai en te oes.
Winter is kort genoeg sodat diere kan oorleef sonder kos wat in die somer vervaardig word.

Aarde se wentelbaan om die son

As die aarde 5% nader aan die son was, het al die water op aarde gekook en het die aarde soos Venus gelyk - dus geen lewe.
As die aarde 20% verder was, het die water gevries en CO2-wolke sou vorm wat sou verhinder dat die son se strale deurkom.

Verder is die aarde se wentelbaan feitlik ’n perfekte sirkel wat ’n baie gematigde klimaat veroorsaak: as die wentelbaan ovaalvormig was, sou dit baie hoë temperature veroorsaak het wanneer die aarde naby aan die son was, en baie koue temperature wanneer die aarde ver van die son was.

Son se grootte

As die son kleiner was, soos 90% van die ander sterre in die heelal, sou die aarde baie nader aan die son moes wees om in sy wentelbaan te bly[2]. Die verhoogde gravitasiekrag tussen die son en aarde sou dan veroorsaak dat die aarde se rotasie gesinkroniseer sou word met sy wentelbaan om die son (net soos die maan se rotasie gesinkroniseer is met sy wentelbaan om die aarde). Die resultaat sou wees dat die een kant van die aarde altyd na die son sou wys en die ander kant altyd weg van die son sou wys (soos in die geval met die maan). Die temperatuur aan die sonkant sou baie warm wees en die donker kant baie koud. Lewe op so ’n planeet sou baie onwaarskynlik wees.

Die inklinasiehoek van die aarde se as

Die aarde se as het net die korrekte inklinasiehoek relatief tot die son (kyk figuur 1):

As die inklinasiehoek nul was, sou daar geen seisoene wees nie: Dit sou veroorsaak het dat dit te warm sou word by die ewenaar en te koud by die pole.

As die hoek te groot was sou dit te lang dae veroorsaak het aan die kant van die ewenaar waar dit somer was en te kort dae waar dit winter was. Dit kon ook selfs agt seisoene in ’n jaar tot gevolg hê.

aarde inklinasiehoek

Figuur 1: Verduideliking van seisoene

Aarde se rotasiespoed

Die aarde se rotasiespoed is net reg sodat die lengte van dae en nagte net reg is:

  • As die rotasiespoed te stadig was, sou dit lang dae en nagte tot gevolg hê wat baie warm dae en baie koue nagte sou veroorsaak.
  • As die rotasiespoed te vinnig was, sou dit kort dae en nagte tot gevolg hê. Dit sou weerpatrone negatief beïnvloed en sou veroorsaak het dat dit baie minder gereën het. ’n Vinnige rotasiespoed sou ook veroorsaak dat (1) atmosferiese gasse moontlik van die atmosfeer ontsnap het en (2) dit sou baie sterk winde op aarde tot gevolg hê.

Massa en grootte van die aarde

Die grootte (en daarom die massa) van die aarde bepaal nie die wentelbaan van die aarde om die son beïnvloed nie, maar dit bepaal wel ander dinge. Die massa van die aarde bepaal die volgende twee dinge wat help om die aarde se atmosfeer bymekaar te hou:

  • As die aarde kleiner was, sou die gravitasiekrag op aarde kleiner wees en sou dit nie die atmosfeer bymekaar kon hou nie.
  • Die aarde se magneetveld vorm agv die sirkulasie van yster in die aarde se kern. As die aarde kleiner was, sou die magneetveld te klein wees en sou die atmosfeer verwyder word deur sonwinde (dit is winde wat veroorsaak word deur die son se straling).

As die aarde groter was, sou die gravitasiekrag te sterk wees wat sou veroorsaak dat mense en diere baie meer energie nodig sou hê om te beweeg. Dit sou ook baie nadelig wees op groter diere se gewrigte en mense se knieë, wat baie meer spanning sou moes verduur.

Plaattektoniek

Die aarde het ‘n relatiewe dun kors en is verdeel in ‘n hele paar tektoniese plate. Hierdie is noodsaaklik om die volgende te beheer:

  • Temperatuur van die kern van die aarde.
  • Hersirkuleer koolstof.
  • Meng chemikalieë wat noodsaaklik is vir lewe op aarde.
  • Vorming van kontinente.

Samestelling van die aarde se atmosfeer

Die balans tussen stikstof (N2) en suurstof (O2) is net reg vir lewe op aarde. Indien daar meer suurstof was, sou dit byvoorbeeld baie moeilik gewees het om vure te blus terwyl as daar minder suurstof was, sou dit baie moeilik gewees het om vuur te maak.

Die digtheid van die atmosfeer is ook genoeg om genoeg wrywing te veroorsaak om groterige meteoriete te laat uitbrand wanneer dit die aarde se atmosfeer binnedring. Indien die atmosfeer minder dig was, sou baie meer en groter meteoriete die aarde se oppervlak getref het. ’n Minder dig atmosfeer sou ook meer skadelike X-strale en ultravioletstrale deurlaat.

Die aarde se atmosfeer het ook die regte hoeveelheid osoon om skadelike ultravioletstrale te filter.

Groot maan

Die aarde het ‘n groot maan wat die inklinasiehoek van die aarde stabiliseer by 23.5° wat weer nodig is vir seisoene (soos reeds genoem).

Die grootte van die maan beïnvloed ook die seëgetye: te hoë getye sou te veel erosie veroorsaak by die kus en te lae getye sou veroorsaak dat sekere seëlewe sou uitsterf.

Die aarde se oppervlak

Die aarde se oppervlak is baie gelyk in vergelyking met ander planete. Dit maak die grootste gedeelte van die aarde bewoonbaar.

Gasreuse naby aarde

Die gasreuse Jupiter en Saturnus het ’n baie groot gravitasiekrag en beskerm die aarde van botsings met ander groot, swaar liggame deur ander hemelliggame wat moontlik met aarde kan bots, aan te trek en in te suig.

Temperatuur van die son

Die son se massa (en daarom sy grootte) en die spoed van die aarde om die son bepaal die afstand tussen die son en aarde sodat die aarde in ’n wentelbaan om die son is[2].

Daarom, as die son se temperatuur warmer was, sou dit die volgende tot gevolg moes hê:

  • Aarde verder van die son -> son groter om die wentelbaan te behou -> die son is reeds een van die 10% grootste sterre in die heelal, dus word die waarskynlikheid nog kleiner om ’n werkbare sisteem te kry.
  • Aarde verder van die son -> aarde se spoed om die son stadiger om die wentelbaan te behou -> langer seisoene -> langer winters -> mens en dier te lank sonder kos + groter temperatuurskommelinge op aarde.

As die son kouer was, sou dit die volgende tot gevolg moes hê:

  • Aarde nader aan die son -> loop die gevaar dat die aarde se rotasie gesinkroniseer sou word met sy wentelbaan om die son -> aarde roteer nie meer nie -> baie warm aan die een kant van die aarde en baie koud aan die ander kant.
  • Aarde nader aan die son -> aarde se spoed om die son vinniger -> korter seisoene -> korter somers -> nie genoeg tyd vir gewasse om kos te produseer tydens die somer nie.

Opsomming

Ter opsomming, kom ons kyk na nog ’n paar scenarios:

  1. Aarde groter of kleiner: Die grootte, en daarom die massa van die aarde sou nie die wentelbaan van die aarde om die son beïnvloed nie, maar dit sou ander probleme veroorsaak – kyk “Massa en grootte van die aarde” hierbo.
  2. Son groter-> son se gravitasiekrag groter ->
    1. Aarde moet vinniger om die son wentel om steeds in ’n wentelbaan te bly -> ‘n jaar word korter -> somer moontlik te kort vir gewasse om kos te produseer.
    2. Aarde moet verder van die son moes wees om steeds in ’n wentelbaan te bly -> die son se temperatuur moet warmer wees om te verseker dat die temperatuur op aarde nie te koud is nie.
    3. Son kleiner:As die son kleiner was, soos 90% van sonne in die heelal, sou die aarde óf stadiger om die son moes wentel, óf die aarde sou nader aan die son moes wees om steeds in ’n wentelbaan te bly. As die aarde stadiger om die son gewentel het, sou seisoene langer word met die probleme daaraan verbonde. As die aarde nader aan die son was, sou daar ’n gevaar wees dat die aarde, soos die maan, nie meer in die rondte sou draai nie.
      1. Aarde moet stadige om die son wentel om steeds in ’n wentelbaan te bly -> ‘n jaar word korter -> langer seisoene.
      2. Aarde moet nader aan die son moes wees om steeds in ’n wentelbaan te bly -> die aarde se rotasie kan gesinkroniseer word met sy wentelbaan om die son.

Die soektog vir ander intelligente lewe in die heelal

Daar is gevind dat daar aan ongeveer 20 faktore voldoen moet word om lewe moontlik te maak op ‘n planeet. Sommige van die 20 is:

  • Regte ligging in die sterrestelsel.
  • Regte afstand van die son.
  • Beskerming deur ander groot planete teen ander hemelliggame.
  • Die planeet se son moet net reg wees – nie te warm of te koud nie.
  • Groot maan.
  • Magnetiese veld sterk genoeg.
  • Atmosfeer bestaan uit die regte verhouding van stikstof (N2) en suurstof (O2).
  • Genoeg water.
  • Korrekte massa.
  • Amper ronde wentelbaan om son.
  • Plaat tektoniek.
  • Rotasiespoed nie te vinnig of te stadig.
  • Moet bewoon wees (“terrestrial planet”)

Indien konserwatiewe waarskynlikhede gekoppel word aan hierdie faktore, is die waarskynlikheid dat daar nog ‘n planeet soos aarde sal wees 10e-15 (dit is 1 gedeel deur 1 met 15 nulle). Vergelyk dit met ongeveer 10e+11 sterre in die melkwegsterrestelsel, dan is dit feitlik onmoontlik om nog so ‘n planeet te kry soos aarde.

Sonsverduisterings

Sonsverduisterings word as baie vanselfsprekend aanvaar. Tydens sonsverduisterings word baie kennis rondom die heelal ingewin. Dit is slegs moontlik omdat die maan die son net mooi toemaak tydens ’n sonsverduistering (kyk heelalberekeninge.xlsx, blad “Sonsverduistering”). Indien die maan bietjie groter of kleiner was of verder of nader van die son was, was dit nie moontlik nie (kyk figuur 2). Tydens sonsverduisterings word sonlig waargeneem as ‘n prisma (‘n hol silinder). Hierdie verskynsel het ster-astrofisika oopgemaak vir die mens. Met inligting verkry tydens sonsverduisterings kon ook bv Einstein se relatiwiteitsteorie bevestig word mbt ligbuiging om ‘n planeet agv sy gravitasiekrag (kyk figuur 3).

sonsverduistering

Figuur 2: Die son, aarde en maan is so geposisioneer sodat dat maan die son net-net toemaak tydens ‘n sonsverduistering

alt

Figuur 3: Uit inligting wat verkry is uit sonsverduisterings kon Einstein se teorie oor ligbuiging om ‘n planeet bevestig word

Die gedagte het begin ontstaan of die geskikste plek in die heelal (of in ‘n sterrestelsel) vir lewe nie ook die geskikste plek is om vanaf waarnemings oor die heelal te maak nie.

Uit 70 planete waarvan inligting ingewin is het slegs 7 planete ‘n atmosfeer gehad, maar nie een van hierdie planete se atmosfeer was geskik vir lewe nie en ook nie een hiervan se atmosfeer was deursigtig nie, dus sou waarnemings van hierdie planete onmoontlik wees.

Uit die elektromagnetiese spektrum is dit slegs sigbare lig wat waardevol is én noodsaaklik is vir lewe. Die res (radio, mikrogolf, infrarooi, ultraviolet, X-straal en gamma) is nutteloos en/of skadelik. Dit is ook dieselfde nou spektrum (10e-24 van die totale elektromagnetiese bestek van die heelal) wat die meeste inligting bevat oor die verskillende strukture wat ontdek is in die heelal. Gelukkig is hierdie die tipe lig wat die son in oormaat produseer én ook die lig wat ons atmosfeer maklik indring. (Bv as ultraviolet nodig was vir fotosintese en X-strale nodig was vir waarnemings, sou ultraviolet deurgelaat word en X-strale nie, en sou ons nie soveel waarnemings op die heelal kon maak nie.) ’n Merkwaardige toevalligheid? Ek dink nie so nie.

Ligging in die Melkweg sterrestelsel

As jy in die aand na die Melkweg kyk, dan kyk jy in werklikheid na die ander sterre in ons sterrestelsel, die Melkwegsterrestelsel. In die middel van ons sterrestelsel, is dit ‘n baie aggresiewe omgewing en sou dit die aarde bedreig. Aan die buitekant kom daar te min yster (Fe), magnesium (Mg) en suurstof (O2) voor wat die hoof boustene van die aarde is. Die aarde sit verder ook net mooi tussen die spiraalarms van ons sterrestelsel (kyk figuur 4). Indien dit in een van die spiraalarms gesit het, sou dit baie moeilik wees om waarnemings te maak, want dit sou moeilik wees om te bepaal wat is ver en wat is naby.

alt

Figuur 4: Posisie van ons sonnestelsel in die Melkweg sterrestelsel

Die aarde sit dus op die beste plek in ons sterrestelsel om goeie waarnemings te maak.

“The most incomprehensible thing about the universe it that it is comprehensible”

Albert Einstein.

Nog ‘n baie merkwaardige feit is dat indien enige van die fundamentele konstantes net effens verander, dan is daar geen sterrestelsel en geen lewe moontlik nie. Konstantes sluit in:

  • Spoed van lig
  • Gravitasiekrag
  • Sterk kernkrag
  • Swak kernkrag
  • Elektromagnetiese krag
  • Protonmassa
  • Elektronmassa
  • Boltzman konstante
  • Planck se konstante

Fisikawette

Verder is die natuurwette baie eenvoudig. Indien dit meer ingewikkeld was, sou dit baie moeilik wees om die heelal te verstaan.

“I have deep faith that the principles of the universe will be both beautiful and simple.”

Albert Einstein

Die drie hoof wette is verbasend eenvouding:

1. Relatiwiteit: alt

2. Gravitasiekrag: alt

3. Elektromagnetiese krag: alt

“The mechanism of the universe, wrought for us by a supremely good and orderly Creator the system the best and most orderly artist of all framed for our sake”

Nicolaus Copernicus

Ontdekbaarheid is nie ‘n voorvereiste vir oorlewing nie. Hoekom het planeet aarde toevallig beide hierdie eienskappe: die eienskappe om lewe moontlik te maak én die eienskappe om die res van die heelal te ontdek?

Waarskynlikhede

Soos reeds gesê is die waarskynlikheid (konserwatief bereken) ongeveer 1e-15 dat al die dinge in plek is om oorlewing van komplekse lewe op aarde moontlik te maak. Om ’n idee te gee hoe klein dit is: die waarskynlikheid dat iemand die lotery met een kaartjie sal wen (6 uit 49 nommers), is 7.2e-8 (kyk heelalberekeninge.xlsx, blad “Waarskynlikhede”). Maar daar is slegs 1e+11 sterre in die melkwegsterrestelsel. ’n Mens kan redeneer dat daar baie meer sterre in die heelal is, wat die waarskynlikheid sal vergroot dat daar nog ’n planeet soos aarde is. (Daar is 1e+11 tot 1e+12 sterre in die melkwegsterrestelsel en daar is ongeveer 1e+11 tot 1e+12 sterrestelsels in die heelal. Dit gee ’n totaal van 1e+22 tot 1e+24 sterre in die heelal). MAAR, ons weet nie eers van een planeet wat enige van aarde se eienskappe besit om komplekse lewe moontlik te maak nie.

Verder, as ontdekbaarheid bygevoeg word in die vergelyking, word die waarskynlikheid nóg kleiner.

**********

Die slotsom van die DVD is dat dit feitlik onmoontlik is dat alles self kon gebeur het – daar moes ‘n ontwerper van ‘n aard gewees het. Die tragedie is dat God se naam nie regtig genoem word nie. Nie een keer word God die eer gegee vir Sy handewerk nie.

Uit ‘n Christelike oogpunt is dit duidelik hoekom (1) die aarde so spesiaal is en (2) hoekom ons die res van die heelal kan verken: God wou vir ons wys dat ons nie ‘n ongeluk is nie en Hy wil vir ons wys hoe almagtig Hy is. Verder het Hy vir ons net genoeg verstandelike vermoë gegee om hierdie dinge stadig maar seker te ontdek.

In die bonus materiaal van die DVD, “Questions and Answers”, nommer 5, het hulle ‘n onderhoud met Robert Jastrow. Hy het die boek God and the astronomers geskryf. Hy sê dat indien jy na die feite kyk, moes daar ‘n begin gewees het. Dit wil sê daar moes ‘n skepper gewees het. Hy is egter ‘n agnostikus maar hy erken egter dat ‘n skepper nie aanpasbaar is met agnostisisme nie. Hy was egter so geïnteresseerd dat hy die boek geskryf het om dit met ander te deel. Dit lyk egter nie of hy afgesien het van agnostisisme nie.

Hier volg sy aanhaling:

“If you reverse our motion of the galaxies and go backward in time, they come closer and closer together and you reach a point where they are finally nearly infinite in density and temperature and further than that you cannot go...so there is a beginning...I am an agnostic... if there was a beginning, a moment of creation, then there was a creator and a creator is not compatible with agnostisism... I found that this is the most extraordinary thing. I felt a strong compulsion to share it with others, so that is why I wrote that book [God and the Astronomers]”

In die DVD Expelled, vra Ben Stein aan Richard Dawkins wat hy sal sê as hy doodgaan en daar is wel ’n god en God vra hom hoekom hy nie aan Hom geglo het op aarde nie. Dawkins se antwoord was dat Bertrand Russell reeds hierdie vraag geantwoord het deur iets te sê in die lyn van: “Hoekom het u soveel moeite gedoen om u-self weg te steek?” As jy egter na hierdie feite kyk, steek God Homself nie weg nie. Dit is maar net die mens wat so blind en hardkoppig is om nie aan God die eer vir Sy skeppingswerk te gee nie.

Voetnotas

[1] Kyk bv Mission to Mars.

[2] Dit is volgens die formule r = GMs/v2, waar G die universele gravitasiekonstante is, Ms die massa van die aarde en v die spoed van die aarde om die son. Kyk ook heelalberekeninge.xlsx, blad “Son-aarde ewewig”.