Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Terugblik op die Algemene Sinode 2013 PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Woensdag, 16 Oktober 2013 20:00

Die volgende kommunikasie is op 16 Oktober 2013 deur die Sinode Hoëveld uitgestuur en gee 'n opsomming van die sinodebesluite. Vir ander kommentaar oor die Algemene Sinode van 2013, kyk ook Die NG Kerk het sy liefde vir die waarheid vaarwel geroep, deur Jan Louw.

***********

Vanjaar het die Oos-Kaapse sinode vir die eerste keer as gasheer van ’n Algemene Sinodesitting opgetree.

Die Veremarksaal, wat uit die 1800’s dateer en in die Port Elizabeth middestad geleë is, is as lokaal vir die 15de Algemene Sinode van die NG Kerk ingeruim. Hierdie saal wat oorspronklik as ’n mark vir die volstruisvere-bedryf gebou is, huisves die grootste losstaande pyporrel in die land wat meesterlik deur prof. Albert Troskie tydens die sitting gespeel is.

Tydens die afgelope sinodesitting is die vorige Moderatuur herkies – Prof. Nelus Niemandt (moderator), dr. Braam Hanekom (assessor) en dr. Johann Ernst (aktuarius). Dr. Kobus Gerber (algemene sekretaris) sal ook in ’n adviserende rol vir die moderamen aanbly.

Verskeie waarderende gesprekke waaronder teenoor die NG Kerk en eenheid, versoening en geregtigheid het om die tafels plaasgevind. Vanuit die tafelgesprek oor die Belhar Belydenis, is verskeie getuienisse oor wat die Belydenis van Belhar vir mense beteken het, gedeel. Die Heidelbergse Kategismus, wat vanjaar 450 jaar oud is, het ook aandag by die Sinodesitting geniet toe vraag en antwoord 105-107 as afsluiting verlede Dinsdag gebruik is. Op elke vraag het die hele sinode hardop geantwoord.

Sinode Hoëveld is deur 21 afgevaardigdes verteenwoordig. Hulle is:

Prof. Nelus Niemandt, drs. Neels du Randt, Hugo van der Linde, Bertus Koorts, Gideon Kok, Johan Gouws en Danie Malan; di. Theo Danzfuss, Gerrit Visser, Corneil du Plessis, Elise Klut, Giel Roux en Braam van Wyk; mnre. Piet Klut, Eric Poalses, Japie van der Merwe, Flip Froneman en Danie Smit; mes. Esmé Arnott, Lorna Louwrens en Netta van der Walt

Hieronder volg verskeie besluite wat tydens die Algemene Sinodesitting 2013 geneem is:

1. Nuwe Artikel 1 van Kerkorde

Die Algemene Sinode het met ‘n groot meerderheid aanvaar dat die volgende voorstel vir Artikel 1 na die kerkverband toe kan gaan vir goedkeuring:[1]

1. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God.

2.1 Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, word verwoord in die ekumeniese belydenisse, naamlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius; en die Drie Formuliere van Eenheid, naamlik die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.

2.2 Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.

3. Die Kerk aanvaar dat haar roeping om haar geloof te bely, altyd geld en dat ʼn uitbreiding van haar belydenisgrondslag sonder dwang geskied.

[Dit was reeds lank voor die sinode baie duidelik dat die moderamen alles in hulle vermoë sou doen om Belhar op een of ander manier in die NG Kerk in te kry. Die vraag bly of die kerk dit kon/kan doen. Kyk Die Algemene Sinode besluit om die NG Kerk te skeur, deur Wynand Louw.]

2. Kerkhereniging

Die Algemene Sinode keur die volgende besluite goed oor kerkhereniging:

1. Die Algemene Sinode is dankbaar oor die vordering in die gesprek en verhouding met die VGKSA en onderskryf die werk van die Moderamen in die verband.

2. Die Algemene Sinode keur die Memorandum van Ooreenkoms met die VGKSA goed.

3. Die Algemene Sinode keur die roetekaart vir ’n kerkherenigingsproses goed sover dit kerkordelik en regtens haalbaar is.

4. Die Algemene Sinode bevestig dat sinodes, ringe en gemeentes hulle selfstandigheid en verantwoordelikheid ten opsigte van besluitneming en bedieningstrukture in ’n nuwe kerkverband mag behou.

5. Die Algemene Sinode keur die beoogde Algemene Predikantekonferensie goed en versoek die kerkverband om dit moontlik te maak vir leraars om teenwoordig te wees.

6. Die Algemene Sinode keur die daarstel van ’n Loodskomitee vir Kerkhereniging en ’n Taakspan vir ’n Tussenorde en Konsepkerkorde goed, en dra die samestelling daarvan aan die moderamen op.

7. Die Algemene Sinode spreek weereens sy wens uit dat al vier kerke van die NG Kerkfamilie in een kerkverband moet tuiskom en dra dit aan die Moderamen op om in die onderhandelinge met die VGKSA asook die NGKA en die RCA alles moontlik te doen om dit moontlik te maak.

3. Seisoen van Menswaardigheid

’n Voorlegging oor die instelling van ’n Seisoen van Menswaardigheid is deur verteenwoordigers van die VGKSA (ds. Godfrey Betha), die RCA (ds. Victor Pillay) en ds. Nelis Janse van Rensburg gedoen. Dit is nie net ’n NG Kerk-inisiatief nie. So is dit ook bevestig deur die deelname en motivering van die verteenwoordigers van die Kerkfamilie in die sinodevergadering.

Die volgende besluite is deur die sinode aanvaar:

4.1 Die Algemene Sinode verbind haarself heelhartig tot deelname aan die Seisoen van Menswaardigheid en versoek die kerkverband ernstig om deel hiervan te wees.

4.2 Die Algemene Sinode verbind haar om die vier waardes van die Seisoen van Menswaardigheid, nl. respek, luister, omarming en selfloosheid te bevorder.

4. Vlugtelinge, Vreemdelinge in ons Midde

Die oorgrote meerderheid van die vlugtelinge is mense wat op soek is na ’n beter lewe. Ons weier ons dat immigrante met kriminele intensies, ons verhouding sal definieer met ontwortelde mense, wat slegs verlang na ’n beter en veiliger lewe tussen ons. Die Woord van God leer ons dat ons die vreemdeling met gasvryheid in ons midde behoort te ontvang.

Besluit:

1. Die AS doen ’n beroep op ons lidmate om uit te reik na die vlugtelinge, om hulle met respek en waardigheid te behandel en om goeie bure te wees vir ons medemense.

2. Die AS doen ’n ernstige beroep op al ons gemeenskappe om hulle te weerhou van enige vyandigheid teenoor kwesbare mense in ons midde.

3. Die AS versoek die SA regering om die regte van die vreemdelinge in ons midde te bevestig en te verdedig.

4. Die AS doen verder ’n beroep op ons regering om beslissend in te gryp om die vloei en integrasie van vlugtelinge in ons midde te reguleer, sodat die konsentrasie van vlugtelinge in sekere plekke nie ’n onhoudbare las op arm gemeenskappe word nie.

5. Die AS versoek die regering om die saak van vlugtelinge deel van ons nasionale welsyns-opdrag te maak.

6. Die AS bid tot God, wat in die Kind Jesus saam met sy nederige ouers vlugtelinge in Egipte was, om die vreemdelinge tussen ons te beskerm, om ons eie harte met ontferming teenoor hulle te vul en om die lig van Christus se teenwoordigheid te laat skyn in ons bediening van omgee en sorg aan die ontwrigtes.

7. Die AS dra dit aan die moderatuur op om saam met die familie van NG Kerke en die breë Ekumene hierdie saak op te neem met die betrokke rolspelers, sodat die vreemdelinge tussen ons in ons ontfermende uitreik na hulle die liefdevolle hart van ons Here sal ervaar.

5. Die Apostoliese Geloofsbelydenis – ’n eietydse uitleg

Die gespreksdokument, “Die Apostoliese Geloofsbelydenis – 'n Eietydse uitleg” is beskikbaar by Apostolicum.

Dit is aan die vergadering voorgelê en die volgende besluite is deur die sinode aanvaar:

1. Die Algemene Sinode bedank die teoloë uit die NG Kerkfamilie wat die dokument, Die Apostoliese Geloofsbelydenis – ’n Eietydse uitleg, as geskenk vir die Kerkfamilie voorberei het. Bybel-Media, wat ’n sewe-weke gespreksgids, gerig op lidmate, oor die dokument ontwikkel, word ook bedank.

2. Die Algemene Sinode ontvang hierdie eietydse uitleg as ’n gespreksdokument wat eerlik wil kyk na al die baie vrae wat oor ons geloof gevra word, maar ook kontoere wil gee waarbinne na antwoorde in die lig van die Skrif gesoek moet word.

3. Die Algemene Sinode stuur die dokument na die verskillende sinodes vir bespreking en terugvoer, met die versoek dat gesprek wyd oor die dokument gevoer word. Die Moderamen wys ’n projekspan aan om die proses van gesprek, evaluering en terugvoer te begelei.

[Kyk Kritiek op die Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis, deur Jan Louw]

6. Samehang van die sakramente in verbondsteologiese perspektief

Twee uitstekende verwante voorleggings – soos in die agenda verwat en ideaal vir prediking rondom die doop en nagmaal is, het voor die sinode gedien.

Die volgende besluite is deur die sinode aanvaar:

11.1 Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om in die viering van die sakramente die belydenis van die kerk voor oë te hou en die samehang van die twee sakramente te verreken.

11.2 Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om in die kategetiese onderrig die samehang van die sakramente uit te lig en die kardinale rol daarvan in die proses van geloofsformasie tot sy reg te laat kom.

11.3 Die Algemene Sinode moedig ouers aan om in hulle saamleef met hulle kinders die troosryke werklikheid van die sakramente na die oppervlak te laat kom in gesprek en lewensvoorbeeld in ooreenstemming met die doopbelofte.

7. Huwelik/Saamwoon

Die volgende besluite is deur die sinode aanvaar:

3.2.1 Die Algemene Sinode probeer om tans die volgende perspektiewe ten opsigte van saamwoonverhoudings te stel in die besef dat dit saamhang met omvattende sake soos die huwelik, egskeiding en seksuele etiek van gelowiges, wat deurlopend met deernis en sensitiwiteit deur die kerk onderskei en begelei moet word. Die verskillende punte hieronder moet daarom deurgaans met mekaar in verband gelees word.

3.2.2 Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is. Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting van die man, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.

3.2.3 Die Algemene Sinode is daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit 'n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.

3.2.4 Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

3.2.5 Die Algemene Sinode is daarvan bewus dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ‘n werklikheid in die samelewing is. Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon. Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie. Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar. [Nie net eties nie, maar ook Bybels onaanvaarbaar.]

3.2.6 Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom sommige pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, voordat hulle trou. Van hierdie verhoudings streef in sekere opsigte na die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit. Tog is dit minder as wat die Christelike verstaan van die huwelik verwag en word daarom ontmoedig. ["Ontmoedig" is maar 'n sagte woord. Mense word ook ontmoedig om te rook of sleg te eet. Word saamwoom met hierdie dinge vergelyk?]

3.2.7 Die Algemene Sinode wil mense wat in 'n saamwoonverhouding leef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte in plek te kry.

3.2.8 Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ’n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.

3.2.9 Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasies rondom die bevestiging van ’n enkel kerklike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en is daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.

8. Twyfel saai oor Geloofswaarhede

Rakende die beskrywingspunt van ons Sinode in hierdie verband, lê die Taakspan die volgende aanbevelings aan die Algemene Sinode voor:

Aanbevelings: Geloofswaarhede

4.2.1 Die Algemene Sinode herbevestig weereens die NG Kerk se standpunt oor die gesag van die Woord van God as enigste norm vir ons geloof.

4.2.2 Die Algemene Sinode herbevestig weereens dat die NG Kerk die belydenisskrifte sien as normatief in die sin dat dit volgens die Skrif ons geloof bely.

4.2.3 Die Algemene Sinode herbevestig dat die Skrif en Belydenis gelees moet word binne hulle historiese konteks en dat hulle met verantwoorde hermeneutiek vertolk sal word, sodat ons die leiding van die Gees vir ons tyd kan hoor.

4.2.4 Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat ons met mekaar in gesprek sal tree voordat mense verdag gemaak word, of van leerdwaling beskuldig word, want verdagmaking en leuens is net soveel sonde as leerdwaling.

4.2.5 Die Sinode besef dat baie lidmate geweldige onsekerhede op baie vlakke beleef en wil lidmate verseker van deernis met hulle situasie. Die Sinode wil ook lidmate en leraars daarop wys dat, juis wat ons van die Bybel en Belydenisskrifte as antwoord hierop glo, ons weerhou van fundamentalisme (aan die een kant) en vrysinnigheid/radikale sekularisme (aan die ander kant).

9. Armoede

Die NG Kerkfamilie is al vir lankal bewus van die feit dat die armoede (sommige meen ons moet eerder praat van sosio-ekonomiese gestremdheid) van ons Suid-Afrikaanse gemeenskap ons vyand No 1 is vir ’n vreedsame toekoms in ons land. Die verlies aan vertroue in die regering om regtig daaraan iets te doen (verskeie redes is daarvoor verantwoordelik), lê ’n al groter verantwoordelikheid voor die deur van die kerk as deel van die burgerlike samelewing. Die kerk sal sy rol hierin moet herwaardeer en besef hoe bepalend sy rol is vir die aanspreek van hierdie uitdaging. Die kerk moet dit nie net doen ter wille van ’n vreedsame toekoms nie, maar omdat dit ons opdrag is om die menswaardigheid van alle mense te bevestig – daarom ook die omsien na die minderbevoorregtes, wat ook en veral beteken, aandag aan konstruktiewe, sistemiese en holistiese aanspreek van die omstandighede wat daartoe aanleiding gee.

10. Stryd teen Armoede en Sosiale Ongeregtigheid

Besluite:

6.1 Die Algemene Sinode bevestig opnuut dat die volgehoue stryd teen armoede en ongeregtigheid ’n hoë prioriteit op die kerk se agenda moet wees. Derhalwe versoek die Algemene Sinode die Kerklike Maatskaplikediensteraad (KMDR) en Verenigde Diensgroep Diens en Getuienis (VDDG) om:

6.1.1 verder navorsing te doen oor die impak van kerklike programme op armoede en ongeregtigheid;

6.1.2 navorsing te doen oor die verhouding en samewerking tussen gemeentes en kerklike maatskaplike diensorganisasies ten opsigte van die stryd teen armoede, werkloosheid en ongeregtigheid;

6.1.3 navorsing te doen oor die verband tussen arbeidsverwante wetgewing en die optrede van vakunies aan die een kant en werksverliese, armoede en sosiale ongeregtigheid aan die ander kant

6.1.4 die riglyne in die verslag verder te ontwikkel in strategie wat deur gemeentes geïmplementeer kan word;

6.1.5 Hugenote Kollege te betrek om gepaste kursusse te ontwikkel wat gemeentes in die uitvoering van hulle diakonale roeping kan ondersteun.

11. Bediening van bevryding

Besluite:

Die Algemene Sinode vervang die huidige punt 7 van die 2011-besluit met die verbeteringsvoorstel (aangepas) wat die Oostelike Sinode in hul beswaarskrif stel, te wete:

Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ‘n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

[Hierdie is 'n niksseggende stelling en laat steeds ruimte aan mense wat nie aan die duiwel wil glo nie.]

1. In die lig van al die onderwerpe wat gedien het by leerstellige- en aktuele sake by die Algemene Sinode van 2013 is die behoefte baie duidelik identifiseer aan ‘n indringende gereformeerde hermeneutiek wat verantwoordbaar en prakties toepaslik is. [As 'n mens na al die beswaarskrifte kyk (kyk Beswaarskrifte), is dit eerder duidelik dat die Algemene Sinode van 2011 'n fout gemaak het met die besluit om ruimte te maak vir diegene wat nie aan die duiwel wil glo nie. Waaroor moet daar nog gepraat word? Die Bybel is baie duidelik oor die saak (kyk Die Bybel oor die duiwel/satan).]

2. In die lig van ons luisterproses wil ons aanbeveel dat die Algemene taakspan vir leerstellige- en aktuele sake [ATLAS] bruikbare materiaal (Bybelstudiemateriaal) uitbring met praktiese voorbeelde aangaande die lees, verstaan en vertolking van skrif en belydenisskrifte ten opsigte van leer- en etiese sake. [Let daarop dat Ben du Toit die skriba van ATLAS is en self glo hy nie aan die bestaan van die duiwel nie (kyk NGK laat ruimte vir botsende sienings oor duiwel).]

3. Die bestaande besluite van die kerk oor Skrifgesag en Skrifgebruik en vertolking van belydenisskrifte moet daarin gereflekteer word.

4. Dit moet aan elke sinode beskikbaar gestel word vir bespreking en gesprekvoering.

12. Homoseksualiteit

Die besluit van 2007 word in sy geheel bevestig (sien 1.5.1 hieronder). Wat dan nou hier verder volg, is die prosesvoorstel ten opsigte van die voortgesette gesprek oor homoseksualiteit deur die moderamen wat deur die sinode aanvaar is, naamlik:

Die Algemene Sinode

1.5.1 bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ‘n deeglike eksegetiese en teologiese studie.

1.5.2 gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ‘n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings, in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie.

1.5.3 besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.

1.5.4 verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die seisoen van menswaardigheid.

Die huidige besluite van die Algemene Sinode 2007 oor homoseksualiteit lui soos volg:

1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.

2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.

3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ʼn huwelik beskou kan word.

5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.

6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ʼn alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.

7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ʼn funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ʼn selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.

8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

[Alhoewel die 2007 besluit nie ideaal is nie (kyk NG Sinode: Verslag oor homoseksualiteit), is dit baie goed dat die voorgestelde veranderinge nie aanvaar is nie. Kyk Versoek dat NGK gays sal aanvaar.]

13. Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling

Besluite:

1. Die Algemene Sinode versoek die Moderamen om binne die raamwerk van die verslag voort te gaan om op so veel as moontlike vlakke versoening en sinvolle oplossings te bemiddel.

2. Die Algemene Sinode verwys die verslag na die onderskeie sinodes om dit na goeddunke en binne konteks op die tafel van gemeentes te plaas, in die hoop dat dit die NG Kerk se sinvolle bydrae op voetsoolvlak/gemeentevlak sal verhoog. (Verslag is beskikbaar by http://www.kaapkerk.co.za/wp/index.php/dokumente/kerk-en-samelewing/).

3. Die Algemene Sinode versoek die Moderamen om, as NG Kerkfamilie en ekumeniese vennote, die aangeleenthede in die verslag waaroor ernstige kommer heers dringend met die Nasionale Regering op te neem.

4. Die Algemene Sinode is diep verontrus oor die morele verval in die land, maar veral binne die landbousektor (sien punt 4.6.1.4 in verslag). Dit behoort as ’n prioriteit binne die NG Kerkfamilie hanteer te word – met ’n duidelik geformuleerde uitkomsgebaseerde omkeer-strategie.

5. Die Algemene Sinode is diep verontrus oor die impak wat veral bogrondse mynbedrywighede in sekere vrugbare dele van die land op die landbou en die omgewing het en doen ’n beroep op die regering om deur streng wetstoepassing en volhoubare gemeenskapsontwikkeling ’n einde daaraan te maak.

6. Die Algemene Sinode doen ’n beroep op lidmate in die landbousektor om die gesins- en familielewe van hulle werkers te koester, hulle onderwys te verseker en kerklik met hulle mee te leef.

7. Die Algemene Sinode versoek sy Taakspan vir Ekologie om die moderamen dringend met advies oor hidrobreking te voorsien met die oog op standpuntformulering.

14. Media-polemiek

Besluite:

1. Die AS neem met sorg kennis van ’n groeiende tendens dat lidmate en leraars wat vanuit hulle persoonlike perspektiewe en oortuigings verskil met kerklike prosesse, besluite, uitsprake, benaderings en ampsdraers, kies om elektroniese kommunikasie en publieke forums te gebruik om veldtogte van verdagmaking, beskuldiging en selfs karakterskending te loots.

[Hierdie stelling is hoogs waarskynlik gemaak na aanleiding daarvan dat dr Wynand Louw vir prof Nelus Niemandt gevra het om homself uit te spreek oor sy siening rondom sekere teologiese kwessies. Dr Wynand is toe as 'n verdagmaker afgemaak en prof Nelus het tot vandag toe nie die paar eenvoudige vrae beantwoord nie. Kyk Moderator ontmasker "aanstootlike leuens" - prof Nelus se brief. Ook, die rede hoekom elektroniese kommunikasie en publieke forums gebruik word is omdat daar nie geluister word nie. Kyk bv Die NG Kerk het sy liefde vir die waarheid vaarwel geroep, voetnota [7]. Wat staan bekommerde lidmate anders te doen?]

2. Terwyl die AS verbind bly tot openhartige publieke gesprek, betreur ons dit dat sommige van hierdie persone met sodanige veldtogte nie skroom om afbrekend, vervolgend en negatief te wees en selfs vergaderings en mede-gelowiges se integriteit af te kraak nie. Sodoende is en word mede-gelowiges diep seergemaak en die Liggaam van Christus leed aangedoen.

3. Omdat die AS begrip het daarvoor dat daar altyd uiteenlopende perspektiewe en verskille in die kerk was, is en sal wees, wil die AS ’n ernstige beroep op alle lidmate en leraars doen om op ’n Christelike manier met mekaar in gesprek te tree sodat die uitkoms van uitklarende gesprekke tot opbou van die kerk van Christus sal wees.

4. Die AS verklaar daarom aan alle lidmate en leraars dat hulle sal weet dat die NG Kerk in al sy strukture en ampsdraers altyd oop en toeganklik is vir uitklarende gesprekke oor enige aangeleentheid in die gesindheid en styl van ons Here Jesus Christus. (vlg Matt 18). Derhalwe word lidmate genooi om van geleenthede gebruik te maak en deur die beskikbare kanale aan gesprekke t.w.v. uitklaring deel te neem.

5. In die lig van reeds afgelope gebeure van misverstand, konflik en ongelukkigheid en ook nog moontlike sodanige insidente in die toekoms, versoek die AS die ASM om ’n ad hoc taakgroep aan te wys wat herstellende gesprekke in die gees en met die waardes van die luisterseisoen met en tussen betrokkenes kan bemiddel, sodat die kerk daadwerklik haar roeping tot en belydenis van die bediening van versoening kan uitleef.

Voetnotas

[1] Artikel 1 lui tans soos volg: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.