Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
ATLAS AS 2011 Bediening van bevryding PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrateur   
Vrydag, 25 Oktober 2013 22:47
Afkortings:
ATLAS = Algemene Sinode Taakspan Leer en Aktuele Sake
AS = Algemene Sinode

Die volgende verslag van ATLAS (Algemene Sinode Taakspan Leer en Aktuele Sake) is aan die Algemene Sinode van 2011 voorgehou oor die bediening van bevryding. Die aanbevelings in hierdie verslag is tydens die AS 2011 net so aanvaar (kyk Besluite rondom die bediening van bevryding - Algemene Sinode van die NG Kerk - 12 Oktober 2011).

Let egter daarop dat die opdrag was om leiding te gee oor 'n bediening van bevryding. As jy egter na die verslag kyk kom hulle skielik uit die bloute by punt 7 na vore met die vraag: BESTAAN DIE DUIWEL REGTIG? Daarvandaan beweeg hulle verder met die vraag by punt 9: ‘N PERSOONLIKE DUIWEL?

Dit het alles niks te doen met die opdrag nie, maar hulle het die geleentheid benut om hierdie idees van hulle in te gooi.

Na die aanvaarding van hierdie aanbevelings is heelwat kapsie gemaak teen punt 7. Kyk Die Kerk wil hê ons moet met mekaar praat. Vir die AS van 2013 is nie minder nie as 10 verskillende beswaarskrifte teen punt 7 ingedien (kyk Beswaarskrifte: AS besluit oor bediening van bevryding).

Daar is egter nie op een van hierdie beswaarskrifte ag geslaan nie (behalwe miskien die Oostelike Sinode se beswaarskrif, wat egter niksseggend is).

Kyk ook:

*******************

ATLAS BYLAAG 2

BEDIENING VAN BEVRYDING

1. OPDRAG

1.1 SINODE VAN WES- EN SUID-KAAP OKTOBER 2007

Enkele leraars en lidmate het in 2006, na besoeke aan Mosambiek waar hulle in aanraking gekom het met die sogenaamde “bediening van bevryding”, dr Pierre Goosen (Sinodale Kommissie vir Predikantebediening) genader om van sinodale kant leiding oor hierdie saak te gee. Daar is aan die versoek voldoen en ’n ad hoc-kommissie, met die hulp van Buvton (Buro vir verdere teologiese opleiding en navorsing- nou Communitas), is byeengebring om die saak te bespreek. SKLAS is ook genooi om betrokke te wees. By die sinode van 2007 het SKLAS gerapporteer: “Ds Heerden van Niekerk sal voortaan as sameroeper van die navorsings­groep optree. Daar sal op SKLAS se begroting vir die werksaamhede van die navorsingsgroep plek ingeruim word” (Voorlegging 8.5.1).

1.2 ALGEMENE SINODE JUNIE 2007:

Die Algemene Sinode herhaal sy opdrag aan die Taakspan Leer en Aktuele Sake om voort te gaan met die studie oor die bediening van bevryding. Beskikbare dokumentasie van die bevrydings­bediening moet oorweeg word.

1.3 ALGEMENE TAAKSPAN LEER EN AKTUELE SAKE (ATLAS-VERGADERING 18 MEI 2009)

“Aangesien SKLAS Wes- en Suid-Kaapland besig is met hierdie studie, besluit ATLAS om nie tyd en energie te dupliseer nie maar om die rapport en besluite van SKLAS Wes- en Suid-Kaapland af te wag en dan na bevind van sake op te tree.”

2. BEGRIPSVERKLARING

2.1 Die “bediening van bevryding” verwys na die praktyk om bose geeste of demone uit mense te dryf of hulle daarvan te bevry.

2.2 Meeste NG leraars wat pleit vir die erkenning van die bediening van bevryding verkies om nie te praat van “duiwel- of demoonbesetenheid” en daarom ook nie van “duiwel- of demoon­uitdrywing” nie. “Hierdie uitdrukkings dui op heeltemal te veel beheer” (André O’Kennedy, ’n Getuienis, bl 5). Hy verkies die term “gedemoni­seer wees”. Dit is beslis te betwyfel of ’n gelowige Christen werklik deur die duiwel of ’n demoon beset of besit kan word. Die Heidel­bergse Kategismus Vraag en Antwoord 1 leer ons tog dat ons enigste troos ook daarin lê dat ons “aan Christus behoort” en dat Hy “met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het”.

2.3 Aan die ander kant waarsku die Bybel dat selfs na Christus se oorwinning oor die Bose in sy dood en opstanding, die duiwel steeds soos ’n brullende leeu rondloop (1 Pet 5:8), dat hy strik­ke vir gelowiges stel (2 Tim 2:26), dat hy hom voordoen as die engel van die lig (2 Kor 11:14), dat die boodskapper van satan Paulus met die vuis slaan (2 Kor 12:7). In Ef 4:27 word gelowiges gewaarsku: “Moenie die duiwel vatkans gee nie”. Dit is dus tog wel moontlik dat die Bose inderdaad ’n groot invloed selfs oor gelowiges kan kry – en in sommige gevalle selfs ’n houvas op ’n gelowige.

2.4 In hierdie dokument word dus ds André O’Kennedy se voorgestelde terminologie gebruik deur te praat van mense wat “gedemoniseer” was of is, op spoor van die Nuwe Testament se gebruik van die Griekse woord daimonizomai, om daarmee aan te dui mense – insluitende Christene – wat, om watter oorsaak ook al, in een of verskeie aspekte van hulle lewe buitengewoon sterk onder die invloed van die Bose is – op wie die Bose ’n houvas het.

2.5 Die bediening van bevryding verwys dus na die praktyk om mense van die buitengewone invloed van die duiwel of demone te bevry. Dié demone word – deur die voorstanders van die bediening van bevryding – gesien as in diens van die duiwel. Dit is dus nodig om aan die begin uitsluitsel te kry oor die duiwel/satan.

3. OU TESTAMENT

3.1 Die Hebreeuse woord satan word meestal vertaal met “teenstander”. In die OT word satan dikwels gebruik as beskrywing van ’n mens wat bloot iemand se teenstander is, byvoorbeeld Hadad, Salomo se teenstander (1 Kon 11:14, 1 Sam 29:4), Haman die teenstander van die Jode (Ester 8:1). Vier keer verwys die OT na “satan” as ’n bo-menslike wese (Day 1999:727). In Numeri 22 word Bileam voorgekeer deur ’n malak JHWH, ’n “engel van die Here”, wat ook beskryf word as ’n satan. Bileam se donkie wil nie verder loop nie, maar Bileam sien eers die satan na die donkie begin praat. In hierdie vertelling is die satan nie die hoogste manifestasie van boosheid nie, trouens hy is ’n boodskapper van die Here.

3.2 In Job 2 (waarskynlik geskryf in middel van 6de eeu vC) verskyn ha-satan (Job 1:6) by ’n vergadering van hemelwesens (“seuns van God”). Die lidwoord “die” maak dit byna seker dat satan hier nie ’n eienaam is nie – dus steeds “die teenstander” of “die satan”, volgens Day (1999:727). Ander geleerdes meen dat “satan” hier verwys na ’n titel wat in die regspraak van die tyd gebruik is, iets soos “die aanklaer”, maar hieroor is daar nie konsensus nie. Hoewel Van der Hoeven meen dat ons nie hier met die “eigenlijke Satan” te doen het nie (“hij is nog te dicht bij God en is veeleer tegenstander van mensen dan van God” (1998:152), en Day meen dat ha-satan hier nie “an independent, inimical force” is nie, erken Day self dit tog wel dat dit uit die vertelling duidelik is dat ha-satan hier ’n bo-menslike wese is wat die geldigheid van God se morele orde in twyfel trek en dit wil toets (1999:728) – dus op bo-menslike vlak God se uitdager of teenstander is.

3.3 In Sagaria 3 (waarskynlik geskryf na herbou van die tempel in 520 vC, vgl Rogerson 2003:721) word ’n toneel beskryf waar twee opponerende partye voor “die engel van die Here” staan: aan die een kant Jesua, die hoëpriester, en aan die ander kant, ha-satan. Die engel van die Here tree op as God se boodskapper en bestraf ha-satan, wat duidelik hier optree as die Groot Teenstander. Die engel van die Here laat die hoëpriester sy vuil klere uittrek en skoon klere aanttrek – ’n simbool van reiniging. Ha-satan is hierteen gekant. In die Bileam-verhaal in Numeri 22 is God se boodskapper en satan een persoon, maar in Sagaria 3 is hulle twee opponerende partye. Sou dit dalk dui op ’n ontwikkeling by Israel oor die begrip van die bose en Satan?

3.4 In 1 Kronieke 21:1 (finale redigering en te boekstelling volgens Day, 73, kort na 520 nC), lees ons “Satan was teen Israel. Hy het Dawid aangehits om ’n sensus van Israel te hou” (volgens die parallelle gedeelte in 2 Sam 24:1: “Op ’n keer was die Here vertoorn op Israel. Hy het Dawid teen hulle aangehits ...: ‘Gaan tel die Israeliete en die Judeërs’.) Volgens meeste uitleggers wou die Kroniekskrywer misverstande wat uit 2 Samuel se weergawe voortgespruit het, korrigeer en duidelik maak: Dit was nie God wat Dawid aangehits het nie, maar sy teenstander, Satan.

3.5 Reflekteer dit ’n ontwikkeling in die denkwyse van die skrywers van die OT, en dus in Israel se verstaan, van die rol van die Bose en Satan? Peggy Day (1999:730) ontken dit omdat sy meen: 1) dwarsdeur die OT is satan nie ’n eienaam wat dui op ’n bomenslike persoon nie, 2) Numeri en Sagaria verskil oor of satan die engel van die Here is of sy teenstander – dus word hier nie van dieselfde persoon gepraat nie, en 3) die finale te boekstelling van Numeri, Sagaria en 1 Kronieke almal waarskynlik in die sesde eeu vC plaasgevind het en dat daar nie genoeg tydsverloop vir ontwikkeling was nie.

3.6 Die argument teen Day is egter sterk as aanvaar sou kon word dat agter die finale te boek­stellings tekste en tradisies lê wat uit verskillende tye dateer: eers word in Numeri van satan gepraat as ’n boodskapper van die Here, dan praat Job 2 van ’n teenstander, wat tog steeds afhanklik van God is. In Sagaria 3 is die satan ’n teenstander van die engel van die Here, en in 1 Kronieke werk satan duidelik teen God se bedoeling. Of dit ’n bewuste ontwikkeling was, is moeilik om te verklaar maar ’n ontwikkeling word baie sterk gesuggereer.

4. TYDPERK TUSSEN OU EN NUWE TESTAMENT

4.1 So ’n ontwikkeling word nog verder gesuggereer as ’n mens na die tydvak tussen die Ou en Nuwe Testament kyk. Die woord satan kom min voor in Joodse geskrifte uit die Tweede Tempel Periode (ongeveer 500 vC – 70 nC) maar hy verskyn tog wel, byvoorbeeld in 3 Henog 23:16 en in die Qumran-geskrif 4 Qber (Day 1999:730). In die Griekse vertaling van die OT, die LXX, word die Griekse woord diabolos (teenstander) verkies (Riley 1999:244), ook as ’n vertaling van satan in byvoorbeeld Job 1 en 2 en 1 Kronieke 21:1), en word so spesifiek gebruik dat dit wel soms die gewig dra van ’n eienaam, Die Teenstander. Riley is oortuig van ’n ontwikkeling wat na sy mening versnel is in die tydperk tussen die twee testamente deurdat die Jode in daardie tyd beïnvloed is deur die Zoroastrianisme-godsdiens wat sy oorsprong in Iran gehad het. In daardie tyd was daar ’n sterk Joodse gemeenskap in Iran. Die uitruil van idees is vergemaklik deurdat Grieks sedert Alexander die Grote se suksesvolle militêre veldtogte in die jare 334-330 vC die lingua franca van daardie tyd geword het.

4.2 Die Zoroastrianisme-godsdiens was ’n half-monoteïstiese godsdiens. Dit het een groot kenmerk gehad: ’n skeppergod wat teengestaan is deur ’n duiwelfiguur (in Griekse geskrifte diabolos, die “teenstander” genoem). ’n Belangrike element in die Zoroastrianisme was die idee van ’n finale geveg tussen die skeppergod en die diabolos waarin die diabolos in ’n hel van vuur gegooi sou word. Volgens Riley (1999:245) het hierdie idees vanuit die Zoroastrianisme invloed uitgeoefen op sommige Joodse denkers in die tussen-testamentêre tyd. In die Zoroastrianisme, byvoorbeeld, speel die mite van die oorsprong van die Geeste van Lig en Duisternis ’n belangrike rol, en dit kon aanleiding gegee tot soortgelyke taal en denke in die Judaïsme van dié tyd, miskien in sommige van die Qumrangeskrifte – in een van dié geskrifte Die Oorlog tussen die Kinders van die Lig en die Kinders van die Duisternis (in die geskrif beskryf as “die krygsmag van Belial”).

4.3 Ander navorsers wys egter daarop dat die oorsprong van die gebruik van sulke terme soos die kontras tussen Lig/Duisternis, Belial, Beëlsebul nie noodwendig in die Zoroastrianisme te vind is nie. Dit is wel duidelik dat die terminologie van die Zoroastrianisme soms gebruik is (bv Beëlsebul, Mk 3:22), maar dat intertestamenêre Judaïsme nooit gedink het in terme van die twee magte, God en Satan, wat ewe magtig is nie. Die Ou Testament en in die Joodse geskrifte wat tussen die twee testamen­te geskryf is, is eenstemmig dat die mag by God gesetel is wat op sy tyd die magte van die Bose sal vernietig.

4.4 Die oorsprong van ’n meer uitgebreide Joodse denke oor die Satan en sy bose magte lê waarskynlik veral in die apokaliptiese geskrifte. Dié geskrifte, wat meestal dateer uit die tydperk 200 vC – 100 nC, is almal geskryf in ’n tyd toe Israel deur ’n ander land of ryk beheer is. Dikwels is die Jode deur die vreemde heersers onderdruk en is daar hard probeer om hulle godsdiens te verander of uit te delg, soos byvoorbeeld gebeur het onder Antiochus Epiphanes se inname van Jeru­sa­lem in 167 vC (en die Makkabese opstand wat daarop gevolg het). In dié tye van onder­drukking deur vreemde heersers het die apokaliptiese geskrifte ontstaan, dikwels as ’n openbaring (Grieks: apokalips) wat die skrywer gesien het van Israel se verdrukking en uiteindelike verlossing. In dié apokaliptiese geskrifte is die vreemde oorheersers dikwels beskryf as bo-menslike bose figure of gevalle engele. (Vir Christene, vertroud met die boek Openbaring, is die bekendste voor­beeld hiervan die verwysing na die Romeinse keiser (waarskynlik Domitianus) van dié tyd as “die dier” en “die anti-Chris”.) Van der Hoeven (1998:159) verwys na die Joods-apokaliptiese boek 1 Henog waarin die name van die tien bose engele genoem word.

4.5 Volgens Meier (1999:89) het die lang tye van verdrukking die Jode as ‘t ware gedwing om onwille­keurig meer oor die bose na te dink, met die gevolg dat gevalle engele, heidense heersers as mani­festasies van die bose (soos die Dier in Openbaring) al hoe meer profiel in die Joodse apokaliptiese literatuur vanaf 200 vC begin kry het. In die tweede deel van 1 Henog (die sg Similitudines) is daar byvoorbeeld reeds sprake van “de preëxistente hemelse ‘zoon des mensen’, die recht op aarde zal brengen en de bozen alsmede ook die gevalle engelen zal richten” (Van der Hoeven 1998:161), en in 1 Henog 53:3 word die bose engele gelys as “werktuie van Satan” In ’n ander apokaliptiese geskrif, Jubileë, is Mastema, malak JHWH, “die engel van die Here”, die hoof van die bose engele. JB Russell (1977:204) skryf oor Mastema: “Jubilees set up Mastema as someone instantly recognisable to later generations of Christians, a force for evil whose power might not quite match that of Yahweh but who remains at least semidetached from the omnipotent God”.

4.6 Dit is belangrik om te let dat hoewel hier ooreenkomste is met die Persiese Zoroastrisme, die Joodse apokaliptiek geensins die dualisme van die Zoroastrisme (naamlik dat die skeppergod en die bose ewe sterk is en voortdurend in ’n magstryd betrokke is) reflekteer nie. Russell stel so: “...for if the Lord created darkness and allows it to rule, for whatever length of time, He must have ultimate responsibility for it. Satan is still the mal’ak Yahweh, no matter how head strong, envious and hostile” (214).[1]

4.7 In die Qumran-geskrifte (waarskynlik geskryf in die 2de-1ste eeu vC), vind ons dieselfde beskouing: “geen absoluut dualisme (anders dan in het Zoroastrisme): die Vorst van de duisternis blijft een schepsel Gods” (Van der Hoeven 1998:163).

4.8 Die ontwikkeling van die konsep van Satan in die tydperk tussen die Ou en Nuwe Testament is dus dat die ondervinding van Israel van “wreedheid, ongelijkheid, pijn en lijden” op ’n geweldige skaal (Schillebeeckx 1975:101) – en daarby kan ’n mens voeg: ballingskap buite en binne Israel – die smeltkroes is wat lei tot die oortuiging dat die Bose groter en magtiger is as die boosheid in mense.

5. DIE DUIWEL EN DEMONE IN DIE NUWE TESTAMENT

5.1 Die gevolg van die ontwikkeling in die konsep van die Bose in die tussentestamenêre tydperk is duidelik in die NT. Die duiwel en bose geeste word baie meer in die NT as in die OT genoem. As ons Markus, waarskynlik die eerste evangelie, lees, is dit duidelik dat Jesus se stryd van die begin af nie net teen vlees en bloed is nie maar teen die satan en sy trawante. Reg aan die begin van Jesus se bediening “het die Gees Hom weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly en deur satan (nou ’n figuur) versoek is” (Mk 1:12). Onmiddelik na Jesus sy eerste dissipels by die meer geroep het, leer hy in Kapernaum waar hy onderbreek word deur “ ’n man wat van ’n onrein gees besete was’ (Mk1:23). Jesus dryf die gees uit die man uit, tot groot verbasing van die omstanders: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom” (Mk 1:27). Daarna volg daar talle genesings maar ook spesifiek uitdrywing van duiwels en demone.

5.2 Prof Hermie van Zyl (2000:9) behandel in sy artikel, Die duiwel ontmasker – ’n Nuwe-Testa­ment­iese perspektief, die gegewens uitvoerig. Hy verdeel die voorstellings van die Bose in die NT in drie kategorieë:

*1 Die aanvoerder van die bose magte: Onder verskillende name – diabolos (Mt 4:1), satan (Mt 4:1), Beëlsebul (Mt 10:25), Beliar, die aanvoerder van die demone (Mt 9:34), die owerste van hierdie wêreld (Jh 12:31, 1 Kor 2:,6,8), die god van hierdie wêreld (2 Kor4:4), die vors van die onsigbare magte (Ef 2:2) – verlei hy mense, veroorsaak siektes, kla en straf sondaars. Uiteindelik sal hy saam met al die demone en boosdoeners in die poel van vuur gewerp word (Mt 25:41; Op 20:9-10. “Tot dan kan hy egter baie skade aanrig” (1 Pt 5:8; Op 12:12) (Van Zyl 2000:12).

*2 Boosaardige demone: Van Zyl wys daarop dat die NT onderskei tussen die “hoofduiwel” en “demone” (Grieks: daimonia)/bose geeste. In die Sinoptiese evangelies (Mt, Mk, Lk) lees ons veral van die demone wat as bose geeste deur Jesus uit mense gedryf word. In dié evangelies is die verband tussen demoonuitdrywing en genesing van siekte baie sterk. Van Zyl beskryf demone as “nie-menslike, geestelike wesens” (2000:12). In Johannes lees ons nie van uitdrywings nie, maar word na satan as die “vader van die leuen” (Jh 8:44), die “owerste van die wêreld” (Jh 16:11) verwys. Die prentjie wat van satan in die Johannes-evangelie geskilder word, is nie soseer die oorsaak van siektes nie, maar die “argetipe van sondige opstand teen God en daarom as oorsaak en bewerker van sonde” (2000:15).

*3 Onpersoonlike magte: Dit is veral in die Pauliniese briewe waarin ons lees van “bonatuur­like, onpersoonlike mag(te) waaraan die mens uitgelewer is” (2000:13). Die Griekse woorde in gebruik is woorde soos aragai, eksousia, of die begrip “antichris”.

*4 Die duiwel magtig maar oorwonne: Verder wys Van Zyl daarop, dat hoewel die NT, in vergelyking met die OT, meer oor die duiwel praat, daar tog in die NT, in vergelyking met buite-Bybelse geskrifte, “weer ’n terughoudendheid is in die wyse waarop oor die duiwel geskryf word (2000:16). Daar word byvoorbeeld geen verklaring gebied vir die oorsprong van die Bose of die duiwel nie. Verder word daar duidelik gemaak dat die duiwel magtig is – magtiger as die mens – maar tog beperk deur God se mag; dat die duiwel ‘n oorwonne vyand is – hy het soos ’n weerlig­straal uit die hemel geval (Lk 10:18), en alle bose magte is aan die gekruisigde en opgestane Christus onderwerp (Ef 1:22, Flp 2:9-11, Kol 1:15-20, 2:10.)

6. MITOLOGIESE TAAL WAT ONTMITOLOGISEER MOET WORD?

6.1 By die lees van die Bybel ontstaan die vraag: in hoeverre is die taal van die Bybel mitologiese taal wat onmitologiseer moet word? Is dit nie ’n geval dat die mense van Jesus se tyd nie die kennis en begrippe gehad het om sekere siektetoestande te beskryf nie – en dus die logiese weg geneem het om van ’n siek persoon te sê dat ’n bose gees in hom gevaar het? Dit is tog ’n verskynsel wat ons in ander voorwetenskaplike kulture aantref. Mense – in verskillende kulture – wat nie die mediese kennis het om ’n epileptiese aanval te diagnoseer en so te beskryf nie, beskryf so ’n gebeurtenis gewoonlik as ’n bose gees wat iemand in besit neem. Dit is die voor die hand liggende verklaring binne ’n wêreldbeeld wat Van Peursen (1972:26) ’n mitologiese wêreldbeeld noem.

6.2 By die lees van die Sinoptiese evangelies – waar die uitdrywing van bose geeste by uitstek beskryf word – sien ons dat dit soms wel die geval is: daar is duidelike gevalle in die Sinoptiese evan­gelies waar ons gevalle kry van mense wat aan siektes ly wat ons vandag ken – maar wat die mense in Bybelse tye nie as siektes geken het nie, en waarvoor hulle dus die mees beskikbare beskrywing gebruik het – hulle is “van die duiwel besete”. ‘n Voorbeeld hiervan is die seun wat dikwels aanvalle gekry het wat hom laat val het, soms in die vuur (Matt 17:14-20). Dit lyk oënskynlik na ’n duidelike voorbeeld van wat ouer mense “vallende siekte” genoem het en wat ons vandag epilepsie noem.

6.3 As ons dit erken (sê baie Bybelverklaarders), word Jesus se wondergenesing nie in twyfel getrek nie. Daar word net gesê dat hy die seun van epilepsie genees het en dat die omstanders dit op die enigste manier waaroor hulle daaroor kon praat, beskryf het – deur te sê dat Jesus ’n demoon uit die seun gedryf het.

6.4 Nog ’n voorbeeld hiervan is die genesing van Petrus se skoonma. In Lukas 4:38 lees ons dat Jesus die koors bestraf het – en “dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan” (v 39). Hier word nie van ’n demoon gepraat nie, maar die ander elemente van bevryding is daar: die koors word as ‘n “persoonlike” mag aangespreek en “bestraf” – waarop die koors (soos ‘n gehoorsame demoon) die vrou verlaat. Die interessante is egter dat in Matteus se weergawe van dieselfde gebeure die genesing nog altyd wonderlik is maar die vertelling is sonder enige demoniese of bevrydingstaal: “Toe Jesus in die huis van Petrus kom, sien Hy Petrus se skoonma siek lê met ‘n hoë koors. Hy het haar hand gevat, en die koors het haar verlaat. Sy het opgestaan en Hom bedien” (Matt 8:14-15).

6.5 Dié voorbeelde bevestig die indruk dat baie van die demoon-uitdrywings in wese genesings was, en dat die mense bloot van “demoon-uitdrywings” gepraat het omdat hulle nie ander taal en begrippe vir die verskynsels gehad het nie. As ’n mens die verwysing na die demone of die duiwel uitlaat, verloor die gebeure niks van sy trefkrag nie. Dalk was die verwysings na demone en duiwels en na bevryding slegs ’n tydsgebonde manier van praat oor genesing – en is die bose geeste wat “uitgedryf word” nie wesenlik deel van die wonder nie. Dit is slegs die taalgebruik waarin die genesing beskryf word.

6.6 Maar is alles mitologiese taalgebruik?

6.6.1 Die probleem is egter dat daar in NT ander materiaal is wat nie so maklik as ’n tydsgebonde “manier van praat” verklaar kan word nie. Daar is gevalle in die evangelies wat die omstanders beleef het dat iemand nie alleen genees is nie maar dat een of ander bose mag in die persoon verbreek is. Gebeure waarin die bose geeste klaarblyklik nie net ’n tydsgebonde wyse van praat oor epilepsie is nie maar wesenlik deel is van die gebeure. Neem byvoorbeeld die verhaal van die besetene van Gerasa (Mk 5:1). Die man tussen die grafte “het Jesus al van ver af gesien en nader gehardloop. Hy het voor Hom neergeval en hard geskreeu: ‘Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste?’ “ – en toe Jesus hom na sy naam vra, antwoord hy “Legio”, waarop die man Jesus “ernstig gesoebat het om hulle (die bose geeste) nie uit die landstreek weg te stuur nie”. Jesus het die versoek toegelaat en die bose geeste het in ‘n trop varke ingevaar.

6.6.2 Dan is daar die uitspraak van Jesus in Lukas 11:20: “Maar as Ek deur die vinger van God die duiwels (daimoniai) uitdryf, dan het die koninkryk van God waarlik by julle gekom” – wat die indruk gee dat Jesus se demone-uitdrywing gesien is as direkte oorwinning oor Satan en sy magte.

6.6.3 Die indruk by die lees van hierdie tekste is nie dat “die uitdryf van demone” bloot ’n tyds­gebon­de manier is om ’n genesing van ’n onbekende siekte te beskryf nie. Dié uitspraak van Jesus in Lukas 11:20 kom juis voor in ’n twisgespek met die Fariseërs wat beweer dat Jesus “met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels (daimoniai)”, die duiwels uitdryf. Jesus se optrede en woorde hier klink eerder as ’n teregwysing van die Fariseërs oor die oorsprong van sy mag.

6.6.4 Die verwysing na bose geeste is in hierdie gedeeltes nie net ’n manier van praat oor ’n diagnoseerbare siektetoestand nie. In hierdie gedeeltes is dit duidelik dat Jesus se woorde en optrede, soos neergeskryf deur Lukas, in hierdie stuk intensioneel van aard is – Jesus dryf met opset die bose geeste uit – om so duidelik te maak dat Hy sterker as die bose is en dat sy koninkryk groter is as die mag van die bose (Adrio Konig in sy boek, Een wat sterker is[2].)

6.6.5 Dit is ook duidelik dat ’n mens nie die optrede teen die bose magte in ander dele van die NT buite die Sinoptiese evangelies as genesings kan verklaar nie. Wanneer Paulus in Kol 2:15 skryf: “Hy (God) het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer”, is dit duidelik dat dit vir hom en sy lesers nie gaan om genesing van een of ander siekte nie maar om bo-menslike magte en kragte wat deur Christus oorwin is (so ook Ef 1:21, Filip 2:9-11, Kol 1:15-20). In Op 12 lees ons van die kwaad wat veroorsaak word deur die vrou en die draak – dus boosheid wat nie ’n projeksie is van die mens se gees nie, maar sy oorsprong het buite die mens.

7. BESTAAN DIE DUIWEL REGTIG? DIE POSISIE VAN DIE KLASSIEKE TEOLOGIE

Wie oor die bediening van bevryding wil praat, moet duidelikheid kry of daar wel ’n duiwel bestaan – in die sin van Jaap Durand se omskrywing: “ ’n Godvyandige, bose mag wat bo die individueel menslike uitgaan en ten slotte gestalte kry in die persoon van die duiwel” (1978:89). In die klassieke ortodokse teologiese tradisie was daar tot en met die Verligting[3] in die 18de eeu min of meer eenstemmigheid dat die duiwel wel bestaan het. Volgens H-M Barth (1974:124) is die eerste teologiese verhandeling oor die Non-Existenz des Teufels in 1778 geskryf. Hierbo is probeer aantoon dat wat die skrywers van die OT betref, maar veral van die NT, daar wel ’n Godvyandige bose mag bestaan het. Die vraag is nou: kan ons dié oortuiging van die Bybel­skrywers deel, of is dit nodig dat ons dit moet erken as hulle tydsgebonde mitologiese taalgebruik wat ons as verantwoordelike Christene nie in die 21ste eeu kan herhaal nie?

Daar is ten minste twee argumente wat aangevoer word waarom ons vandag nie meer van die duiwel kan praat nie:

7.1 DIE DUIWEL EN BOSE MAGTE IS PRE-MODERNE TAALGEBRUIK WAT DIE WARE BOODSKAP VAN DIE EVANGELIE VERDUISTER

7.1.1 Die begrippe van ’n “duiwel”, “Satan”, bose geeste of demone was inherent deel van die pre-moderne wêreldbeeld. CA van Peursen (1972:26) noem dit ‘n “mitologiese wêreldbeeld” – ’n perspektief op die omgewing rondom jou waarin alle voorwerpe wat met die oog waargeneem kan word (mense, bome, huise) deur onsigbare magte beweeg of beset is. In elke rivier wat jy moes oorsteek, was daar ’n riviergees wat besweer of oorwin moes word vir ’n veilige oortog. Die Bybelse wêreldbeeld van gelowiges het hulle van meeste sulke vrese bevry omdat hulle geglo het die aarde (met al sy riviere, bosse, huise en mense) behoort aan en is ondergeskik aan die God van Abraham. Tog het die bevryding nie gelowiges ’n ander taal laat praat nie – hulle het, soos hulle heidense tydgenote, gedink en gepraat in terme van voorwerpe en mense wat deur geeste beïnvloed of beset is hoewel hulle oortuig was dat God dié geeste oorwin het en hulle daarom nie die “bose geeste” hoef te vrees nie.

7.1.2 Vandag, met ons wetenskaplike kennis vir natuurverskynsels, weet ons ook dat dit wat mense beweeg nie “bose geeste” is nie maar hulle eie sielkundige samestelling en hulle sosiologiese verbinding (of gebrek daaraan) met ander mense. Derhalwe is dit nie net onnodig om in “die duiwel” of “bose geeste” te glo nie, maar ook onwys – want so vervreem ons onsself en ons Goeie Boodskap van ons moderne medemense wat moontlik nog in ons boodskap van en oor Jesus belangstel, maar afgesit word deur ons pre-moderne, vreemde en mitologiese gepraat oor “die duiwel” en “bose geeste” – wat nog te sê bose geeste uit mense te dryf.

7.1.3 In antwoord op hierdie argument sou ’n mens die volgende kan sê:

7.1.3.1 Ons kan nie ontken nie dat ook die NT se skrywers kinders van hulle tyd was, en dus tuis was in ’n wêreldbeeld waarin verskynsels wat hulleself nie kon verklaar nie toegeskryf is aan die werking van die bo-natuurlike. Dié besef maan ons om ons eie oordele krities te oorweeg – sou dit dalk wees dat ons dieselfde doen: dat ons verskynsels (bv sielkundige toestande waarmee ons onbekend is) toeskryf aan die werking van ’n bose gees of demoon? Dit is op grond van hierdie argument dat sommige Christene oortuig is dat iets soos die bediening van bevryding nie ’n Christelike pastorale opsie is nie want die bestaan van iets soos bose geeste of die duiwel is ’n denkwyse wat vasgevang is in ’n pre-moderne denkskema.

7.1.3.2 Maar die teenoorgestelde is natuurlik ook waar: dat ons ons nadenke oor wat vir God moontlik is, laat indruk in ’n keurslyf van ’n empiries-aanwysbare oorsaak-en-gevolg-skema, en dat ons God slegs beweegruimte toelaat binne dit wat na ons mening, binne die beperkinge van oorsaak-en-gevolg, moontlik is. Dit is juis een van die punte van kritiek van diegene wat ’n bediening van bevryding beoefen op hulle kritici, naamlik dat dié kritici vasgevang is in ’n positivistiese wêreldbeskouing waarin rasionalisme en empirisme die laaste woord het.

7.1.4 Tussen dié Scylla en Charibdis moet ons deurvaar. As moderne mense kan ons nie anders om te erken dat dit juis die kritiek van die Verligting sedert die 18de eeu is wat ons samelewing vandag vrygemaak het van bygelowe en vrese, waarvan baie godsdienstig van aard was. Aan die ander kant is dit ook so dat, as ons die empiriese kriteria van die aanduibare oorsaak-en-gevolg sou aanvaar as die grense van ons teologiese nadenke en praktyk, ons nie in Jesus se wonders, sy opstanding uit die dood glo nie en sou ons ook nie met vrymoedigheid vir die genesing van siekes kon bid nie.

7.2 DIT IS ETIES ONVERANTWOORDELIK OM DIE OORSAKE VIR MENSE SE OPTREDE BUITE HULLESELF TE LOKALISEER

7.2.1 Die tweede argument teen die herhaling van Bybelse ”pre-moderne taalgebruik” rakende die duiwel en bose geeste lui so:

As ons die duiwel en bose magte aanwys as die oorsake vir mense se a-sosiale gedrag, geneigdheid tot perverse seks, wreedheid of wat ook al, verskuif ons ons eie en hulle verantwoor­de­lik­heid. Dit is soos ’n drankverslaafde wat verduidelik dat hy drink “omdat die duiwel my laat drink”. Solank hy so dink, aanvaar hy nie verantwoordelikheid vir sy gedrag nie, en ook nie vir die moontlike verandering in sy gedrag nie – met die gevolg dat hy in meeste gevalle voortgaan om te veel te drink. ’n Bediening aan bevryding (so word geargumenteer) doen – onbedoeld, maar nogtans – dieselfde: in plaas daarvan om mense met sielkundige probleme te begelei om hulle persoonlikheidstekorte en gebrek aan sosiale vaardighede te erken en, saam met ander onder­steuners, daaraan te begin werk, word die oorsaak van hulle probleme as ’n eksterne demoon geïdentifiseer en dan uit­gedryf. Die katarsis wat in so ’n geval veroorsaak word deur die emosi­onele uitdrywing­sessie (en die voorberei­ding wat dit voorafgaan) bring ’n verligting wat in meeste gevalle egter kortstondig van aard is. Wanneer die persoon dan weer later dieselfde gedrag begin openbaar, is sy nog verder van genesing af, want nou is sy oortuig dat die demoon haar weer in besit geneem het.

7.2.2 In antwoord op hierdie argument moet die waarskuwing teen die verskuiwing van verantwoor­delik­heid ernstig geneem word. Dit geld nie net vir diegene wat pleit vir ’n goedkeuring van ’n bediening van bevryding nie maar ook diegene wat in die algemeen geneig is om die oorsaak vir sonde buite die mens te soek. So word die Bybelse les dikwels vergeet: die mens self is die grootste oorsaak van sy eie sonde. “So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte” (Rom 7:21). CS Lewis het beroemd geword vir sy Screwtape Letters waarin die duiwel se raad aan sy vakleerling-duiwel is om nie sy prooi te probeer mislei met ’n tromp-op versoeking nie maar eerder die mens se eie selfsugtige neigings bloot aan te wakker. Maar NP van Wyk Louw het dit miskien die raakste gesê in sy Ballade van die bose: “Ken jy my nou?/ Het jy die spieël gesien/ en ken jy jou?... Die veles meen/ hulle ken my gesig,/ maar ek skuil te glansryk,/ te na aan die lig, / en as jul wil waarsku/ en wysheid gee, / dan praat ek reeds / in die woordklank mee...”

8. DIE 20ste EEU: DIE DUIWEL KOM WEER

Maar hoewel dit waar is dat die bose dikwels binne ons self skuil, is daarmee nie genoeg gesê oor die reikwydte van die bose nie.

8.1 IN DIE GEREFORMEERDE TEOLOGIE

8.1.1 Dit was ’n kenmerk van die hoofstroom Gereformeerde tradisie dat die mens se sondigheid as oorsaak van sy selfsug en sondige optrede nooit onderskat moet word nie. Daarom was daar ’n sekere terughoudendheid om te veel oor die duiwel te spekuleer ingeval dit ons aandag van ons eie sondige neigings sou aflei. Desnieteenstaande was daar in dié tradisie in die verlede min twyfel dat daar wel ’n duiwel/satan bestaan het. Vir Karl Barth is die bose die moeilik vertaalbare “das Nichtige” (die Nietige, the Nothingness) – want “das Nichtige” is beslis nie niks, “Nichts” (Weber 1975:145) nie. Das Nichtige is die bose wat nie deur God geskep is nie en tog deel van God se skepping is, en verkry sy “ontiese samehang” deurdat dit teen God handel – ‘n “genadevreemde, genade-ontkennende, genadelose bestaan” (Weber 1975:145). ’n Mens sou miskien kon sê die Bose kry en maak sy bestaan slegs deurdat hy/dit teen God handel. Dit sou verkeerd wees om hiervan af te lei dat Barth meen die duiwel bestaan nie. Dit is eerder dat hy so duidelik as moontlik wil sê dat die duiwel as die groot Negatief slegs bestaan omdat hy teen God optree.

8.1.2 Otto Weber wys daarop dat ons nie “in” die duiwel glo nie, maar “teen” die duiwel – maar die mag teen wie ons glo, is ’n realiteit (Weber 1959:539). Die bose in onsself sluit aan by die Bose, maar die Bose kan nie gelykgestel word met die boosheid in onsself nie. “Niemand kan die bestaan van die duiwel ‘bewys’ nie. Maar die gelowige ken sy Vyand” (Weber 1959:539). Dieselfde argument vind ons by Berkouwer (1958:90-119, “het bijbels getuigenis deze ‘macht’ self reken met een Ander”,106) en Johan Heyns (1978:166). Beide Berkouwer en Heyns beklemtoon dat, ten spyte van die Bose se mag, dit nie ’n outonome mag is nie maar funksioneer binne “ruimte wat God in sy Raad aan Satan afgestaan het... nie ’n ruimte om in te lewe nie, maar om in te sterwe” (Heyns 1978:168. In sy boek Die Sonde (1978:99) praat Jaap Durand goed­keurend van die Gereformeerde tradisie van “’n Godvyandige, bose mag wat bo die individueel menslike uitgaan en ten slotte gestalte kry in die persoon van die duiwel”.

8.1.3 Maar iemand sou kon sê dat dit is wat ’n mens van Gereformeerde teoloë verwag. Maar wat van ander denkers?

8.2 BY CHARISMATE EN ATEÏSTE

8.2.1 Aan die een kant is dit waar dat vir ’n groot deel van die 20ste eeu die modernistiese denk­wyse geweldig invloedryk geraak het en dat daar al hoe minder ruimte gegun is vir wat beskou is as enige “bo-natuurlike” denkpatrone. In die hoofstroom-teologie is daar ’n geregverdige reaksie teen ’n prediking uit vorige tye waar die duiwel dikwels gebruik is as bangmaker om mense na God toe te laat vlug. Die gevolg is dat dit waar is dat al hoe minder oor die duiwel en demone gepraat word.

8.2.2 Aan die ander kant is dit ook waar dat, vanaf ongeveer 1970, daar veral deur die groeiende invloed van die charismatiese beweging, al hoe groter aandag vir die stryd teen die duiwel en demone, vir duiweluitdrywing en “geestelike oorlogvoering” gevra word. Maar selfs voor die charismatiese belangstelling in die duiwel en demone was daar vroeër in die 20ste eeu ’n groeiende belangstelling in die werking van die “demoniese”.

8.3 DIE 20STE EEU: DIE DUIWEL IN DIE STRUKTURE VAN DIE SAMELEWING

8.3.1 Nadat die 19de eeuse Protestantse hoofstroom-teologie geneig was om al hoe ’n kleiner rol aan die bose toe te ken, het die oortuiging in die tweede helfte van die 20ste eeu verander – hoofsaaklik weens hulle ontnugtering dat, eerstens, ten spyte van ’n ryk kultuur die Weste in die 20ste eeu twee wêreldoorloë beleef het, en tweedens, die ontdekking dat die Weste se eie proses van kolonisasie nie deur die ontvangers daarvan as ’n beskawing ervaar is nie, maar as ’n daad van magsmisbruik en lyding. Nie net teoloë nie maar ook filosowe en geskiedkundiges het ’n nuwe ontsag gekry vir die omvang van menslike lyding – en die boosheid wat daaragter lê. Durand (1974:81) skryf hieroor: “Die openbaring van die kwaad in die moderne samelewing, veral in en na die tyd van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, het sulke afmetings aangeneem en sulke afgronde van ongeregtigheid het oopgegaan, dat die mens van hierdie eeu vir homself moes rekenskap gee van die vraag of ons hier met verskynsels te doen het waarvoor ’n uitsluitende menslike verklaring gegee kan word. Gevolglik klink meer en meer stemme op waarin blyke geee word van ’n erkenning dat die kwaad oor ’n mag is wat bopersoonlike trekke kan aanneem. Juis rondom die verskrikkinge wat hierdie eeu beleef het, hoor ons weer begrippe soos “demonies” en “satanies”, wel hoofsaaklik as byvoeglike naamwoorde om die handelinge van mense daarmee aan te dui, maar dan tog ook om uitdrukking te gee aan die oortuiging dat die bose ook iets buite die mens is wat van hom besit neem.”

8.3.2 Voorbeelde hiervan is die Hervormde teoloog Hendrikus Berkhof se boek Christus en de machten, en die sendingwetenskaplike Johannes Verkuyl (1992:270) wat praat van “stromingen, ideologieën en religiueze bewegingen... (waardeur) worden hele volkeren a.h.w. met blindheid geslagen... door demonische machten die sterker zijn dan individuele mensen”.

8.3.3 ’n Tweede, baie interessante voorbeeld is die sonderlinge essays deur Ernst Bloch, Joods-gebore neo-Marxistiese filosoof, oor die demoniese in die Duitse samelewing van die 1920s (aangehaal deur Berger 2000:24). Sonderling omdat Bloch, ’n ateïs, self nie in die persoonlike bestaan van God of die duiwel geglo het nie maar nogtans oortuig was dat daar ’n onverklaarbare boosheid in die struktuur van die samelewing van sy tyd gesetel was. Dieselfde punt maak ’n ander ateïs, die neo-Marxis Leszek Kolakowski in 1970s, wat meen die moderne mens se slaafse navolging van die modernistiese patroon wat geen plek vir enige bo-natuurlike gegewe soos die duiwel maak nie is insigself demonies van aard omdat dit so magtig is (aangehaal deur Thielicke 1982:448).

Die feit dat kultuurkritici en filosowe in die 20ste eeu ons aandag vestig op wat hulle “die demo­niese” in ons samelewings noem, is natuurlik nie ’n bevestiging van die tradisionele geloof in die duiwel en in duiweluitdrywing nie. Wanneer baie van hierdie denkers – soos die neo-Marxiste Bloch en Kolakowski, en die Hervormde teoloog Berkhof[4] – van die demoniese in die samelewing praat, dink hulle nie aan die duiwel en sy demone nie maar gebruik dit as metafore vir wat hulle beskou as strukture van boosheid in die samelewing (bv die wapen­wedloop in die 1970s en 1980s). Aan die ander kant weer skryf ander denkers in dieselfde tyd soortgelyke boeke waarin hulle wel van die duiwel as ’n metafoor praat maar tog ook van die duiwel en demone as werklikhede praat – soos byvoorbeeld die bekende Franse skrywer Denis Rougemont in sy The Devil’s Share geskryf net na die Tweede Wêreldoorlog.

8.3.4 Nog ’n stap verder gaan Walter Wink, professor in die teologie aan die Auburn Teologiese Seminarium in New York, in sy boeke Naming the Powers (1982) en Unmasking the powers (1986). Wink identifiseer drie tipes van “demoniese manifestasies”: a) kollektiewe besetenheid – waarin hy soos die skrywers hierbo waarsku oor die strukture van boosheid in die samelewings (ideologieë, konstellasies van magsgroepe ens), b) innerlik-persoonlike besetenheid, waarmee hy eintlik nie besetenheid deur demone bedoel nie maar eerder die “demone” in die sin van siel­kundige wanaanpassings en c) uiterlik-persoonlike besetenheid, waarin hy skryf oor gevalle in sy bediening wat, na sy mening, inderdaad op geen ander manier verklaar kan word nie as dat hulle van demone besete was. Enkele kenmerke van hierdie gevalle is: ’n “evil presence or perso­nali­ty” wat in die betrokke persoon aanwesig is, die persoon wat in stemme of tale praat wat aan homself onbekend is, ’n ongebreidelde sug om teen “God and everything sacred” te laster en “onmoontlike kontorsies” in die liggaam van die persoon. Die bekende sielkundige en skrywer M Scott Peck bepleit in sy People of the Lie (1983) ’n instituut om sulke derglike gevalle (met wie hy oor jare in sy praktyk te doen gehad het) te dokumenteer en bestudeer.

9. ‘N PERSOONLIKE DUIWEL?

9.1 Sou dit dan beteken dat daar tog ’n duiwel as ’n persoonlike wese bestaan? Helmut Thielicke, Lutheraanse teoloog, meen (in sy Evangelical Theology vol 1, 1982:) daar is net een rede waarom ons nie in die werklikheid van die duiwel kan glo nie – en dit is dat ons tydsgees ons dit nie toelaat nie. Hy meen dit sou oneerlik wees om die mag van die duiwel en die demoniese in die samelewing te erken (soos baie teoloë na die Tweede Wêreldoorlog gedoen het) maar die persoonlike karakter van die demoniese te ontken. Hy skryf: “If we speak decidedly only of a power of the demonic without emphasizing its personal character, the question necessarily remains whether we are not innocent victims of usurpation of their own personality” (1982:450).

9.2 Klaus Berger, professor in NT aan die Universiteit van Heidelberg, skaar hom in sy boek Zit de duivel achter alle kwaad? by die neo-Marxis Ernst Bloch se pleidooi om die demoniese trekke in die moderne samelewing te erken en om nie, onder die invloed van “die rasionalisme of sosiologie of psigologie”, die mag van die bose in ons samelewing te onderskat nie (2000:23). Dit is vir Berger “onbewist dat het bij de duivel (= de boze) gaat om een verschrikkelijke, onzichtbare werkelijkheid” (2000:153). Vir Berger is die duiwel “een vorm van intelligentie”, maar hy is huiwerig om van die duiwel as “persoon” te praat, nie omdat hy die werklikheid van die Bose wil geringskat nie, maar omdat hy meen die term “persoon” –“in onzer zeer beperkte, westerse betekenis van indvidualiteit” (2000:153) – is ’n moder­ne begrip wat nie van toepassing is op die duiwel en demone nie. Daarom verkies hy om nie te praat van die duiwel as ’n persoon nie, maar dit moet nie misverstaan word nie – asof hy daarmee die werklikheid van die duiwel bevraagteken: “De duivel van de Bijbel is dus machtig en intelligent, fassine­rend en via taal te bereiken, maar hij is geen persoon in onze betekenis” (Berger 2000:154).

9.3 Jaap Durand erken die werking van die duiwel in die bose strukture van die samelewing – so sterk beklemtoon na die Tweede Wêreldoorlog – en wys daarop dat veral in die Pauliniese taalgebruik hierdie werking van die Bose erken word, byvoorbeeld wanneer in Ef 1:21 Christus se oorwinning van “elke mag en gesag, elke krag en heerskappy” in sy opstanding ’n werklikheid word (vgl ook Kol 1:13, Ef 2:2, Ef 6:12, Gal 1:4, Rom 3:16, 2 Kor 5:19). Maar, vervolg Durand, dit beteken nie dat dit al manier is waarop die Bose sy mag uitoefen nie. Die duiwel is ook “’n reële mag wat personale gestalte kry in die persoon van satan en sy ryk van demone” (Durand 1978:90).

9.4 Die Suid-Afrikaanse Lutherse teoloog Klaus Nürnberger verkies om nie van die duiwel as persoon te praat nie maar wel van die duiwel as ’n “mitologiese gestalte”, maar dit beteken “geensins dat die krag van boosheid, waarvoor hierdie figuur staan, nie werklik is nie!” (1975:267).

9.5 Selfs Michael Green, bekend as ’n evangeliese en behoudende Britse skrywer, wat geen twyfel het dat daar ’n duiwel is nie, meen in sy I believe in Satan’s downfall (1981) dat ’n mens in Christelike kringe nie moet praat van die duiwel as persoon nie: “But what do we mean by saying that Satan is a personal devil? What most people mean by that is to claim that Satan is an organising intellect, a single focus and fount of evil inspiration. That seems to me to be a very proper inference to draw from the teaching of the Bible. But it is doubtful if we can call him ‘personal’ in any other sense”.

9.6 Die probleem met die begrip “die duiwel as persoon” is dat dit ’n mens byna onwillekeurig daartoe bring om te dink aan ’n rooi wese met ’n mens se lyf, ’n bok se pote, ’n vampier se vlerke en ’n pylstert wat sy slagoffers in ’n poel van vuur gooi. Dit is egter die Middeleeuse beeld van die duiwel maar nie die Bybel s’n nie – en sal op baie ewewigtige mense in die 21ste eeu nie groot indruk maar nie.

9.7 Miskien help dit ons om te onthou dat daar nie ’n Bybelse leer is dat die duiwel soos ’n mens lyk of soos ’n mens ’n figuur is nie. Dit is so dat die duiwel wel moontlik in ’n menslike gestalte aan Jesus verskyn het by sy versoeking in die woestyn, maar dit is belangrik om te onthou dat die versoeking net sowel ’n visioen kon gewees het. Dié ervaring word nie beskryf asof dit ’n ontmoet­ing in gewone tyd en ruimte plaasgevind het nie. By die eerste versoeking is Jesus in die woestyn, by die tweede versoeking bring die duiwel Hom “in ’n oogwink” op ’n hoogte en net daarna staan hulle altwee skielik “op die hoogste punt van die tempel” (Lk 4:5-9). Die gegewens dui daarop dat hier ’n visioen of droom beskryf word. Dit sou verkeerd wees om uit hierdie gegewens af te lei dat die duiwel ’n figuur soos dié van ’n mens was omdat hy hier praat soos ’n mens praat.

10. “GLO JY AAN ‘N PERSOONLIKE DUIWEL?’ IS NIE DIE REGTE VRAAG NIE

10.1 Hierdie bespreking van verskillende standpunte oor “die persoonlike duiwel” het ’n belang­rike punt na vore gebring – naamlik dat die vraag: “Glo jy aan die duiwel as persoon?” nie geskik is om mense se geloofsoortuigings oor die Bose te toets nie. Die rede daarvoor is dat die term “as per­soon” baie meer onduidelik is as wat ons vermoed. Dit is heel moontlik dat twee teoloë wat dieselfde standpunt oor die duiwel huldig, verskillend op die vraag sal antwoord. Jaap Durand en Michael Green glo albei dat daar iets soos die duiwel bestaan. Altwee glo dat die mens se eie sondige neigings die groot rede is waarom ons sondig – maar albei meen dat die werking van die Bose ook hierin ’n belangrike rol speel. Albei glo die Bose het hom tuisgemaak in die bose strukture van die samelewing, en albei glo dat die duiwel net so fluks werksaam is in ons as individue. Albei glo dat die Bose manifesteer as ’n mag soos in ’n valse en gevaarlike ideologie, maar albei glo ook dat die Bose ’n “single focus and fount of evil inspiration” (Green:266) is. Maar waar Durand praat van ’n “reële mag wat ’n personale gestalte kry”, wil Green nie praat van ’n “devil as a person” nie.

10.2 Die verskil lê egter nie daarin dat Durand en Green verskillend oor die Bose dink nie, eerder dat hulle verskillende opvattings oor die term “persoon” het. Durand gebruik die woord “personale” om te beklemtoon dat die Bose ’n werklike mag is, maar Green vermy die woord “persoon” omdat hy meen dit bring ons onwillekeurig daartoe om aan die Bose te dink as ’n persoon in menslike terme – ’n bose persoon met ’n menslike liggaam.

Dikwels word die vraag gestel, “Glo jy in die duiwel as ’n persoon?”. Dit is egter te betwyfel of dit die regte vraag is. Die kwessie waarom dit gaan is nie of ons glo die Bose het ’n kop, hande, voete en dalk ’n pylstert nie, maar of ons glo dat die Bose ’n werklike wese is.

10.3 Dit is belangrik om te onthou dat Christene wel bely dat God in Jesus mens geword het maar hulle bely nie dat die duiwel mens geword het nie. Die geloofsartikel dat God in Jesus van Nasaret ’n menslike persoon geword het, is vir die Christen ononderhandelbaar – maar daar is nie so ’n geloofsartikel oor die Bose se vleeswording nie. Christene glo wel dat die Bose ’n werklikheid is, maar dit is verwarrend om daarop te staan dat die duiwel ’n persoon is – want dan klink dit asof ons sê dit is ’n wesenlike geloofsartikel van die Christelike geloof dat die Bose hom as ’n menslike figuur manifesteer – wat nie die geval is nie. Christene glo in die werklikheid van die Bose, en dat die Bose in Christus oorwin is maar dat ons nog nie volkome van hom verlos is nie – maar nie noodwendig dat die Bose hom as persoon manifesteer nie.

10.4 Dit sal dus beter wees om nie aan te dring op die term “’n persoonlike duiwel” nie maar eerder te beklemtoon dat ons hier praat van ’n selfstandige wese wat werklik bestaan.

Maar wat dan van demone en hulle demonisering van mense?

11. DEMONE EN DIE DEMONISERING VAN MENSE: ‘N WERKLIKHEID?

11.1 As die werklikheid van die Bose erken word wat oor bomenslike mag beskik, is dit waarskynlik dat die Bose ook oor die mag beskik om individue op ’n buitengewone manier onder sy invloed te kry.

11.2 Daar is in die Bybel getuienis dat Jesus se stryd teen die Bose nie met sy kruisiging en op­stan­ding afgehandel is nie. Dié getuienis is duidelik: met Jesus se kruisiging en opstanding is “die owerste van hierdie wêreld uitgegooi... buitentoe” (Joh 12:31). ’n Deurslaggewende oorwin­ning is behaal, maar die Bose is nie finaal vernietig nie. Hy loop steeds rond soos ’n brullende leeu (1 Pet 5:8), soos die engel van die lig (2 Kor 11:14): daarom is sommige se “verstand deur die god van hierdie wêreld verblind” (2 Kor 4:4), daarom waarsku Johannes teen “die werk van die duiwel” (1 Joh 3:8), en Paulus: “Moenie die duiwel vatkans gee nie” (Ef 4:27). Die mens is voortdurend in stryd met sy eie sondige vlees, maar daarby is daar ook nog ’n stryd teen “aanslae van die duiwel” (Ef 6:12); en dié “stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug” (Ef 6:12). Daarom moedig Paulus sy lesers aan om “die volle wapenrusting... wat God julle gee” aan te trek en so as Christene teen die duiwel en sy magte op “julle pos kan bly staan” (Ef 6:13).

11.3 Dit is duidelik: die Bose sal al sy magte aanwend om die gelowiges te keer om ootmoedig met God te wandel. Dit sal dwaas wees om sy mag te onderskat en te meen dat hy nie al sy magte sal inspan om ’n wig tussen gelowiges en God in te dryf nie.

11.4 Die Bose sal beslis dié destruktiewe werk probeer doen – en dit sou naïef wees om te dink hy sou nie bose geeste gebruik nie. Die Bose sal doen wat ook al moontlik is om mense van God te vervreem – en dit is heel moontlik dat hy soms selfs gelowiges stewig in sy magsgreep sal kry. Die Bybel erken die moontlikheid – maar dan is dit steeds belangrik om te onthou dat die Bybel dit nie as die gewone gang van sake sien nie.

11.5 Die Bybel laat blyk wel dat dit moontlik is dat die Bose – miskien aangehelp deur ’n reeks donker gebeurtenisse – wel ’n gelowige so in sy mag toegespin kan kry dat ons kan praat van iemand wat onder die mag van die Bose is, wat “gedemoniseer” is. Al is dit iets wat selde gebeur en daarom vir baie gelowiges vreemd, kan ons nie die Bybelse getuienis oor die moontlik­heid daarvan en die getuienis van gelowiges dat hulle dit ervaar het, ontken nie. Alhoewel dit buite die ervaringsveld van meeste van sy lidmate en leraars lê, behoort die NG Kerk dit nie te ontken dat, as gevolg van buitengewone omstandighede, sommige mense, ook gelowiges, so in die mag van die Bose toegespin kan word dat ons wel van hulle kan praat as mense wat gedemoniseer is.

11.6 Wanneer dit toegegee word, is dit egter van belang om te onthou dat ons hier van uitsonderlike gevalle praat. Juis in dié gedeelte van sy briewe waarin Paulus die duidelikste oor die mag van die bose praat – Efes 6:10-20 – is Paulus vas oortuig dat die gelowiges, bemagtig deur die Gees, die aanvegting van die Bose sal kan weerstaan. Hulle het tog die “volle wapenrusting” van God ontvang. Paulus verwag ’n felle aanslag maar ook dat die gelowiges “die brandpyle van die Bose (sal) kan afweer” (Ef 6:16). Met Paulus se waarskuwing teen die Bose “gaan ook gepaard die troosryke versekering dat Satan al reeds oorwin is, en dat daar grense aan sy verwoestingswerk gestel is” (Heyns 1978:168).

11.7 Dit is van die grootste belang dat dié klem in die nadenke oor die stryd teen die Bose in gedagte gehou word. Ons enigste troos in lewe en in sterwe (verseker die Heidelbergse Kategismus vr 1 ons) is dat ons nie aan onsself behoort nie maar aan ons Verlosser, Jesus Christus wat vir ons sonde met sy bloed betaal het en ons “uit alle heerskappy van die duiwel verlos het”.

11.8 Dié geloofsartikel waarsku ons, dat, indien ’n bediening van bevryding toegelaat sou word, dit nie die gewone, roetine bediening van die leraar en kerkraad sou kon wees nie. Dit sou slegs by uitsondering kan geskied, as ’n buitengewone maatreël, vir die gelowige wat deur buitengewone omstandighede uit die oog verloor het dat die duiwel oorwin is.

11.9 Voor ’n besluit oor die bediening van bevryding geneem sal word, is dit belangrik om die konteks waarin die NG Kerk die besluit sal neem, in gedagte te hou. Daar is veral twee aspekte wat ons aandag vra: die konteks van diversiteit onder ons lidmate en die konteks van Afrika waarbinne die NG Kerk die evangelie wil verkondig.

12. DIE KONTEKS VAN DIE GESPREK IN ONS KERK

Vir die gesprek is dit belangrik om die konteks van ons gesprek te onthou. Ten minste drie kontekste is hier van van belang: 1) Die diversiteit van opvattinge onder NG lidmate, 2) die konteks van kerk van Afrika en 3) die nadenke van sekulêre geesteswetenskaplikes oor die verskynsel van geesuitdrywing.

12.1 DIVERSITEIT ONDER NG LIDMATE

12.1.1 Die ondersteuning wat die betrokke Ring van Tulbagh-gemeentes van NG lidmate gekry het (nadat hulle ’n bediening van bevryding begin beoefen het), is ’n aanduiding dat hulle nie alleen is in hulle simpatieke oordeel oor ’n bediening van bevryding nie. Pieter en Helene Theron, ’n egpaar met ’n soortgelyke landswye bediening, het hulle ondersteun, en leraars en lidmate uit een ge­meente (in die Ring van Tulbagh) het ’n seminaar oor die bediening van bevryding by die NG Kerk Moreletapark bygewoon. Dit kom dus voor dat daar heelwat ander NG lidmate is wat soortgelyke ondervindinge gehad het of wat glo in die bestaansreg van ’n bediening van bevryding. Ds André O’Kennedy gee inligting oor verskillende mense wat landswyd verskillende soort bedieninge van bevryding beoefen, ook onder NG lidmate (Navorsingsgroep, bl 5).

12.1.2 Vir die meerderheid van NG lidmate is die bediening van bevryding waarskynlik nie iets wat ’n groot rol in hulle lewens speel nie. Meeste van hierdie lidmate glo in die bestaan van die duiwel maar is onseker tot skepties oor die bediening van bevryding aan gedemoniseerdes. Hulle het in hulle geloofslewe nog nooit daarmee te doen gehad nie en het ook nie die begeerte om daarby betrokke te raak nie. Hulle glo in die bestaan van die duiwel, dat hy soos ’n brullende leeu op soek is na sy prooi en dat hy hom soms soos ’n engel van die lig voordoen. Juis daarom is baie lidmate skepties oor die bohaai wat meestal met die uitdrywing van demone gepaard gaan. Sommige van hulle wonder of dit nie dalk ’n slim set van die duiwel self is nie – om Christene om die bos te lei om hulle tyd en energie te mors op die opspoor van watter demoon vir watter sonde verant­woorde­lik is nie, eerder as om hulle sonde te bely, vergifnis van God en hul naaste te vra, reg te doen, liefde te bewys en ootmoedig met God te wandel nie (Miga 6:8). 

12.1.3 Maar dan is daar ’n derde groepering lidmate wat sterk daaroor voel dat enige geloof in demone en selfs die duiwel nie in pas is met hulle moderne lewensbeskouing nie. Wat hulle betref, is die oorsaak van abnormale menslike gedrag gesetel in die brein of psige van die individu, hoe­wel sy abormale gedrag deur die sosiale konteks beïnvloed kan word. Derhalwe moet die oplos­sing vir die abnormale gedrag en genesing van die individu kom uit ’n korrekte diagnose en ’n korrekte mediese of sielkundige behandeling van die individu. Een lid van die besprekingsgroep oor bevryding, ’n psigiater, het dié benadering so opgesom: “Reën is afkomstig van waterdamp wat styg, kondenseer en reën vorm – depressie word veroorsaak deur ’n tekort aan seretonien in die brein, skisofrenie is ’n neurodegeneratiewe siekte, suikersiekte is ’n tekort aan insulien, epilepsie ’n versteuring van breingolwe, ensovoorts...” Geen abormale gedrag kan toegeskryf word aan die invloed van die duiwel of sy demone nie – dit is ”psigiatriese siektes soos skisofrenie, depressie, middel-intoksikasie, somatovorme steurings, dissosiatiewe steurings, impulskontrole-steurings, neuropsigiatriese siektes, byvoorbeeld Tourette-sindroom of epilepsie.” Daarom is dié persoon gekant teenoor die “premoderne praktyk van bevryding” en was hy van mening dat dit nie toegelaat moet word voordat daar 1) psigiatries diagnostiese vaardighede, 2) bewysde kriteria vir besetenheid en 3) langtermyn positiewe resultate beskikbaar was nie. Vanuit hierdie perspektief is daar dus die oortuiging dat geestesbesetenheid niks anders as ’n psigotiese steurnis is nie, meestal gevalle van meervoudige persoonlikheidsteurnis (“multiple personality disorder”).

12.1.4 ’n Mens sou verder kon noem dat daar oor die kwessie van bevryding waarskynlik ook drie reaksies onder predikante is: (1) Een groep wys die bediening van bevryding ten sterkste af. Hulle wys op die gevaar van die bediening. Hoewel goed bedoel, mag verkeerde diagnoses gedoen word met katastrofale gevolge vir die “gedemoniseerde pasiënt” en pastor. Die groot gevaar van sug­gestie tydens bevrydingsessies is ook ’n bron van kommer. Hierdie groep steun in hulle beoorde­ling van ’n bediening van bevryding sterk op die lig wat die mediese wetenskap op sodanige ver­skyn­sels gee. (2) ’n Tweede groep lê groot klem op die verlossing van Christus en die implikasies daarvan vir ’n bediening van bevryding. Hulle glo in die bestaan van die duiwel as ’n selfstandige wese en sluit nie die moontlikheid uit nie dat die duiwel ook demone kan aanwend in sy aanslag op die mens – maar is bekommerd oor die gevare vir beide pastor en gedemoni­seerde wanneer verkeerde diag­noses gemaak word in ’n bediening van bevryding. (3) ’n Derde groep is positief oor die bediening van bevryding – dit is vir hulle God se oor­winnings­antwoord vir almal wat gedemoniseerd is. Hulle is bekommerd dat die mag van die duiwel en demone uit die Bybel “wegverklaar” word en is bekommerd dat die destruktiewe rol wat die duiwel en bose demone speel as deel van ‘n tydgebonde wêreldbeeld wegverklaar word. Hulle wys nie mediese en sielkundige diagnoses af nie, maar meen dat daar mense is wie se abnormale gedrag nie bloot die gevolg van sielkundige of sosiale faktore is nie maar dat hulle onder die buiten­ge­wone invloed van Satan en sy magte gekom het, waarvan hulle bevry moet word.

12.2 KERK IN AFRIKA

12.2.1 Die NG Kerk is steeds hoofsaaklik ’n wit kerk. Lidmate van kleur kom meestal uit die bruin gemeenskap. NG lidmate wat in ’n swart Afrika-kultuur grootgeword het, is ’n klein groep lidmate, meestal lidmate van die agt Engelssprekende NG gemeentes. Dit neem egter nie weg dat die NG Kerk haar voortdurend daaraan moet herinner dat sy in die eerste plek kerk in Afrika is nie. Daarby moet onthou word dat die situasie dramaties sal verander na die hereniging van die NG Kerkfamilie. Dit is dis belangrik by die besluitneming hoe daar in ’n tradisionele swart kultuur en swart kerke oor die kwessie van die duiwel en sy bose geeste gedink word.

12.2.2 Prof Gerrie ter Haar is professor in godsdienswetenskap en menseregte aan die Instituut voor Sociale Studie in Den Haag, Nederland. Sy is ’n deskundige oor veral die Christelike godsdiens in Afrika. Sy beklemtoon in haar boek, How God became African (2009), dat vir die meeste mense in tradisionele Afrika-kulture die interaksie van die geesteswêreld vanselfsprekend is, en dat Afrika-kulture nie die materiële en geestelike sfere van die lewe skei nie, soos dikwels in die intellektuele tradisies in die Weste gebeur nie. Sy skryf: “African traditions of thought tend to view reality not in terms of binary oppositions and mutually exclusive categories – in other words, in terms of either/or. Rather, they tend to view reality in categories that are inclusive – in terms of and/and. Hence, in African discourses, a person can be considered as being dead while physically alive, like a zombie, a living person who is spiritually dead. Vice versa, a person can be physically dead, but considered to be spritually alive, like an ancestor... The same logic applies in African Christianity, in which the invisible world is perceived to have a real existence and to interact with humans in the visible, material world” (2009:19).

12.2.3 Die gevolg van hierdie wêreldbeskouing is dat in meeste Afrika-kulture die slegte invloed vanuit die geesteswêreld as ’n vanselfsprekende moontlikheid aanvaar word. Dit kan met bykans enigeen gebeur – en dus word diegene wat slegte invloede uit die geesteswêreld kan keer of beheer soveel meer waardeer. In die inheemse Afrika-kerke is die stryd teen die bose invloed uit die geestes­wêreld ’n baie belangrike deel van hulle bediening, terwyl dit in die historiese hoofstroom-kerk­genoot­skappe dikwels deur die kerkleierskap met wantroue bejeën word. Hierdie verskil in hulle bediening­style is, na die mening van Ter Haar, die hoofrede waarom die inheemse kerke soveel vinniger groei as die historiese kerkgenootskappe. Sy illustreer die gevolge van die hoofstroom-kerke se gebrek aan ’n bediening wat die invloede uit die geesteswêreld aanspreek deur te verwys na die voorbeeld van Emmanuel Milingo, voormalige aartsbiskop van die Rooms-Katolieke Kerk in Zambië, wat in die jare 1970-1980, ten spyte van teenkanting van Rome, ’n baie suksesvolle bediening van genesing en eksorsisme in Zambië beoefen het maar uiteindelik die Katolieke Kerk verlaat het.

12.2.4 Sonder om in detail hierop in te gaan, kan hier slegs gemeld word dat in die kultuur waarbinne ons susterskerk, die VGKSA, funksioneer die werklikheid van die nadelige mag en invloed van bose geeste op die lewens van mense deur baie algemeen aanvaar word. Leraars in die Reformed Church in Africa is deur hulle eie ervaring van die bediening aan mense wat veral uit ’n Hindoe-agtergrond kom, sterk oortuig van die noodsaaklikheid om dié (vermeende en werklike) invloed uit die geesteswêreld met ’n kerklike bediening die hoof te bied.

12.2.5 Hoewel die NG Kerk hoofsaaklik ’n wit kerk is, is dit belangrik om hierdie konteks te onthou, veral waar ons op ’n pad van kerkhereniging is. Verder is belangrik om te onthou hoe die saak van ’n bediening aan bevryding op SKLAS se agenda gekom het: ’n Groep lidmate en leraars uit verskillende gemeentes in die Ring van Tulbagh het by verskeie besoeke aan Mosambiek (ongeveer in die jare 2000-2004) en die noorde van Kwazulu-Natal te doen gekry met gelowiges wat na hulle mening gedemoniseer was en wat van hierdie toestand bevry is deur ’n bediening van bevryding. By hulle terugkeer in Suid-Afrika het hulle hieroor nagedink en toe hulle in hulle pastorale bediening met erge probleemgevalle te doen gekry het, het hulle gewonder of dié persone nie dalk gedemoniseer was nie. Hulle het in verbinding gekom met ander mense in die NG Kerk wat wel so ’n bediening beoefen het en uiteindelik het al dié ervaringe gely tot ’n beoefening van die bediening van bevryding in veral die Goudini-gemeente.

12.2.6 Dit is dus belangrik dat die Afrika-element as ’n integrale deel van ons kultuurkonteks onthou moet word wanneer ons oor ’n bediening van bevryding nadink.

12.3 DIE PERSPEKTIEWE VAN DIE PSIGOLOGIE, PSIGIATRIE EN ANTROPOLOGIE

12.3.1 Die psigiater in die besprekingsgroep was oortuig dat die meerderheid van sy kollegas nooit abormale gedrag sou toeskryf aan die invloed van die duiwel nie – dit is ”psigiatriese siektes soos skisofrenie, depressie, middel-intoksikasie, somatovorme steurings, dissosiatiewe steurings, impulskontrole-steurings, neuropsigiatriese siektes, byvoorbeeld Tourette-sindroom of epilepsie” (Pienaar 2008:3).

12.3.2 Ons moet aanvaar dat dié siening deur die meeste van sy kollegas gedeel word. Tog is dit nodig om daarop te let dat daar sielkundiges en antropoloë is wat ’n so ’n rigiede rasionalistiese interpretasie en beoordeling van die geesteswêreld bevraagteken. Twee sulke voorbeelde is die Suid-Afrikaanse sielkundige Gavin Ivey (Universiteit Witwatersrand) en die Amerikaanse antropoloog Felicitas Goodman. Hoewel beide Ivey en Goodman ’n duiwel en demone as “mitologiese” (en dus nie werklike) wesens beskou, glo hulle tog dat ’n bediening van bevryding (of soos hulle dit noem: eksorsisme) wel terapeuties en helend kan werk.

*1 Gavin Ivey, sielkundige

Gavin Ivey is ’n psigo-analitiese sielkundige en professor aan die Departement Sielkunde van die Universiteit van Witwatersrand. Een van sy navorsingsgebiede is die psigodinamiese aspekte van demoon-besetenheid. As sekulêre sielkundige is die duiwel en demone vir hom mitologiese verskynsels, maar die duiwel en demone is vir hom belangrike “metafore” wat help om die rol van die bose te beskryf. Dit is vir hom belangrik want, in ons huidige Westerse samelewing, is die normale taalgebruik van die sielkunde nie in staat om al die dimensies van die bose te beskryf nie. In ’n artikel, Diabolical discourses: demonic possession and evil in modern psychopathology (2002), skryf hy: “Evil... implies not simply the absence or the diminution of good, but an active principle seemingly bent on the negation or destruction of goodness, and ultimately, life itself” (Ivey 2002:54). Hy sê verder: “If, as I believe, evil and its demonic personifications are a supernatural portrayal of human otherness, then this otherness has to be claimed and reclaimed as an aspect of our identities” (2002:54).

Ivey is van mening dat die taalgebruik van demone en besetenheid die psigologie kan help om die omvang van die bose te beskryf. Gewone taal is nie hiervoor voldoende nie, soos hy dan ook in die beskrywing van twee gevallestudies aantoon (2002:56-58)[5]. Hy erken dat hy dié taal­gebruik net in ’n metaforiese sin gebruik en nie as beskrywing van “literal spiritual entities” (2002:58) nie. Maar, vra Ivey, is dit nie ook waar van die kernbegrippe van die psigoanalitiese sielkunde nie? Hy argumenteer dan dat sekere kernbegrippe in die psigoanalise soos instinkte, fiksasie op objekte en “introjects” self niks anders as metafore is nie. Sy artikel vra dus of die begrippe waarmee die psigoanalitiese sielkunde ontologies (dus: werklik, in hul wese) anders is as die “mitologiese” begrippe soos “demone”, “besetenheid” en “demoon-uitdrywing”. Hy skryf: “I raise this point to question the ontological status of the psychoanalytic concepts employed” (2002:58).

Ivey vra ’n belangrike vraag: is dit werklik so eenvoudig om te onderskei tussen taalgebruik wat iets beskryf wat “werklik” is en dit wat “metafories” is? En laat sy lesers met die volgende suggestie: Die vraag na die ontologiese werklikheid van “metafore” (soos hy dit sien) soos gebruik deur sekere behandelingsprosedures is nie al belangrike vraag wat gevra moet word nie. ’n Belangriker vraag is dalk of die begrippe en behandelinge (soos gebruik en toegepas deur psigoanalise of eksorsisme) uiteindelik ’n positiewe genesingsuitkoms lewer of nie. Volgens Ivey is die vraag ten opsigte van eksorsisme dat dit wel kan gebeur[6].

Dieselfde vraag word van ’n ander hoek gevra deur Gerrie ter Haar, professor in godsdien­swetenskap in haar boek How God became African (2009) en deur Felicitas Goodman, ’n Amerikaanse antropoloog. Ons het alreeds na Ter Haar verwys; Goodman vra ons aandag.

*2 Felicitas Goodman, antropoloog

Maar is geestesbesetenheid nie bloot meervoudige persoonlikheidsteurnis (“multiple persona­lity disorder”) nie? Is dit nie soortgelyk aan epilepsie, wat in kulture wat daarmee onbekend is, ook as geestesbesetenheid beskou word nie?

Ter Haar verwys na Felicitas Goodman (1992), ’n Amerikaanse antropoloog, wat op hierdie vraag ’n interessante antwoord gee. In haar navorsing vergelyk sy meervoudige persoonlikheid­steurnis met geestesbesetenheid.

Volgens Goodman vertoon die twee verskynsels op oppervlak dieselfde kenmerke (die persoon neem, soms blitssnel, verskillende personasies aan), en dit is ook so dat die neurofisologiese veranderinge in die brein tydens die toestande van besetenheid en meervoudige persoonlikheids­steurnis baie dieselfde is[7].

Daar is egter een belangrike verskil: “societies that culturally approve of spirit possession sub­mit it to ritual control, which is not the case with behaviour seen as psychiatric” (Ter Haar 2009:40). Dié “ritual control” word meestal uitgeoefen deur “spirit mediums” wat deur die gemeenskap erken word. In die geval van inheemse Afrika-kerk en sommige hoofstroomkerke (soos biskop Milingo se bediening) funksioneer die bevrydingsessie onder leiding van kerklike ampsdraers binne die gekontroleerde ruimte van die kerk as ’n instrument van kontrole – en bring dit dikwels genesing, nie in die sin dat die persoon vir altyd van die steurnis verlos is nie, maar wel ’n tydelike verligting.

Dié tydelike verligting is nie net ’n geval dat die persoon deur ’n katarsis emosioneel ontlaai het, ontspanne is en dus beter in staat om stres te hanteer nie. Daar is, volgens Ter Haar, sterk aan­duidings dat die trans-toestand waarin die persoon verkeer gedurende die uitdrywingsessie, neurofisiologiese veranderinge kan aanbring ( “a change in the brain map of the sufferer”, 2009:41) – soortgelyk aan die verandering wat die toepaslike medikasie sou aanbring. Goodman (1992:14) verwys na die duiweluitdrywer (die “spirit medium”) as “the ‘turner’, the one who is called on to wipe the injurious map off the slate, so that health may be restored”. Met ander woorde, die bevrydingsessie, toegepas in ’n situasie van kontrole (deur kerklike ampsdraers, in die ruimte van ’n genesings-erediens) kan soortgelyke genesing bring wat medikasie sou bring.

Dié bewering klop met die indruk wat selfs lede van die besprekingsgroep wat skepties teenoor die bediening van bevryding staan, gekry het: dat dit nie ontken word dat die toepassing van bevryding ten minste soms terapeuties werk nie.

12.3.3 Om dus die gesigspunte van dié afdeling saam te vat: in hulle beoordeling van duiwel­besetenheid en godsdienstige uitdrywingsrituele deel drie internasionale wetenskaplikes (’n Suid-Afrikaanse sielkundige, ’n Nederlandse godsdienskundige en ’n Amerikaanse antropoloog) die volgende gevolgtrekkings: Nie een van hulle glo dat daar ontologies wesens soos ’n duiwel of demone bestaan nie. Nogtans is hulle van mening dat sommige bevrydingsessies (onderwerp aan kontrole van gemeenskapsgroep) terapeutiese resultate mag voortbring, soortgelyk soos die terapeutiese resultate voortgebring deur sielkundige of mediese behandeling.

12.4 SAMEVATTING: BEOORDELING TE MIDDE VAN DIVERSITEIT

12.4.1 Uit die paragrawe hierbo blyk duidelik die wye diversiteit van opvattings oor die duiwel en ’n bediening van bevryding, ook onder NG lidmate. By die beoordeling van dié verskynsel wil die kerk sover moontlik ruimte skep vir verskillende skakerings van sprititualiteite sonder om sy bely­denis en roeping te ondermyn. Dit is hier belangrik om in gedagte te hou dat ons by die bediening van bevryding nie te doen het met ’n geloofsartikel of ’n sakrament nie. Dit gaan hier om ’n inter­pretasie van hoe gelowiges die oorwinning in Christus oor die Bose in hulle lewens moet toepas en aan ander moet bedien. Ons is dus op ’n terrein waar daar meer ruimte vir verskillende inter­pretasie en toepassing van die Bybelse boodskap toegelaat behoort te word as waar geloofs­artikels ter sprake is. Daarom kan ons nie hier argumenteer dat, net soos die kerk nie twee doopbeskouinge kan toelaat nie, sy ook moet kies tussen of ’n toelating of verbod op die bediening van bevryding. Hier is dit nodig en moontlik dat ruimte gegee word aan verskillende vorme van bediening. Ons het hier te doen met ’n kwessie wat sterk beïnvloed word deur die tipe spiritualiteit wat by sekere gelowiges of in ’n bepaalde gemeente die botoon voer.

12.4.2 Met ander woorde, die kerk behoort by sy beoordeling van ’n bediening van bevryding groter vryheid van interpretasie te gee as byvoorbeeld by die beoordeling van ’n duidelike leerkwessie. Daarom behoort daar eenheid te wees in die handhawing van dit wat almal in die kerk saam bely, naamlik dat “ons nie aan onsself nie, maar aan ons getroue Verlosser, Jesus Christus behoort, Hy wat met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal het en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het” (Heid Kategismus vr 1) – maar groter vryheid oor die konkrete bediening van hierdie belydenis.

12.4.3 Toegepas op die bediening van bevryding beteken dit dat riglyne van sinodale kant aan ge­meentes eerder moet fokus op grense waarbinne so ’n bediening moet bly as op die voorskryf van ’n formaat waarby almal moet inpas. Sinodale riglyne moet wys op slaggate wat vermy moet word eerder as op stappe wat gedoen moet word om so ’n bediening te beoefen.

12.5 GEVARE WAT VERMY MOET WORD, GRENSE WAT NIE OORSKRY MOET WORD NIE

Wat is dan die gevare wat vermy moet word, grense wat nie oorskrei moet word nie? Ons noem die belangrikstes:

12.5.1 Dat psigiatriese versteurings as demoniese besetenheid verstaan sou word.

*1 Die psigiater in die besprekingsgroep het ’n lys versteurings genoem wat dikwels met “besetenheid” verwar word: “skisofrenie, gemoedsteurings – depressie en manie, dwelm- of middel-intoksikasie en onttrekking, somatovorme steurings, dissosiatiewe steurings, impuls­kontrole-steurings, neuropsigiatriese siektes, bv Tourette-sindroom, epilepsie” (Pienaar 2007:2). Gys du Plessis, mediese dokter en medeleraar van Mosaïek-gemeente, skryf ’n hele hoofstuk hieroor in Bestaan die duiwel regtig? Hy wys daarop dat die mediese wetenskap in die laaste 30 jaar so groot vordering gemaak het op die gebied van kontrolering van psigiatriese versteurings dat epilepsie en endogene depressie, byvoorbeeld, baie goed deur medikasie beheer kan word. Selfs “skisofrenie is nou ‘n “beheerbare toestand... waar hospitalisasie slegs nodig is vir minder as twee weke per aanval” (2009:96).

*2 ’n Persoon kan groot skade berokken word deurdat gelowiges hom probeer genees deur demone uit te dryf en die persoon so die geleentheid ontneem word om die regte behandeling en medikasie te kry. Sou daar ’n bediening van bevryding toegepas word, rus daar ’n swaar verantwoordelikheid op die berader om seker te maak dat die persoon nie aan enige vorm van psigiatriese versteuring ly nie.

12.5.2 Dat die Christen se vryheid haar ontneem word.

*1 Vir iemand wat baie maak van die bediening van bevryding sal dit ’n groot versoeking bly om in alles wat rondom hom gebeur die duiwel se hand te sien. As pa nie kan slaap nie, is dit die Japanese skets teen sy muur wat die duiwel ’n vasstrapplek gee. Is die kind opstandig, is die oorsaak die “demoniese” strokiesprente of speelgoed se skuld. Breek ma se kar, wonder sy of dit nie ’n de­moon is wat deur die “heidense” nekhangertjie haarself besoedel het nie. Daarom moet die huis gereinig word en alles wat in die Ooste gemaak is mee weggedoen word (behalwe die Sony DVD-speler). Is daar moeilikheid in die familie, is dit omdat oupa ’n Vrymesselaar was en die familie langs die bloedlyn vervloek is. Is Ouboet in seksuele versoeking, is dit ’n demoon van wellus wat hom beheers.

*2 Die gevolg van so ’n denkwyse is dat Christene eerstens vrygestel word van verantwoordelik­heid vir hulle eie optrede (“dis die duiwel wat my maak drink het”) en tweedens vasgevang word in ’n heidense vrees vir die die Bose en vir die wêreld rondom hulle – in plaas daarvan om as vryge­maakte en vry sondaars met dankbaarheid te leef, om as “verloste mense te lewe... as ligdraers te midde van ontaarde en korrupte mense” (Fil 2:12,16)... “uit genade... gered... saam met Christus Jesus opgewek” (Ef 2:5,6)... In al ons swaarkry steeds “meer as oorwinners deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom 8:37,39).

*3 Daar moet dus ’n waaksaamheid en maatreëls wees wat Christene sal help om hierdie gevare te vermy. In hierdie verband is dit goed om te verneem van hoe ander kerke vorme van die bediening van bevryding reguleer.

13. POSISIE VAN ANDER KERKE

13.1 DIE ROOMS-KATOLIEKE KERK

13.1.1 In die Katolieke Kerk word ’n bediening van bevryding (“eksorsisme”) in sekere buitengewone omstandighede, en onderhewig aan streng reëls, toegelaat. Volgens die Katolieke dogma is eksorsisme ’n ritueel en nie ’n sakrament nie (The Original Catholic Encyclopedia, art exorcism by PT Toner). ’n Eksorsisme verkry dus nie sy legitimiteit deur die gebruik van ’n voorgeskrewe rite nie, maar van twee ander elemente, naamlik: a) toestemming van die regte kerklike strukture en b) die geloof en posisie van die eksorsis. Eksorismes word vandag selde gedoen. Daar is ten minste drie voorwaardes vir ’n eksorsisme: a) slegs ’n priester mag dit doen, en slegs na b) ’n mediese ondersoek en c) na die plaaslike biskop toestemming gegee het.

13.1.2 In geval van ’n eksorsisme word ’n voorgeskrewe rite gebruik. Die nuutste weergawe, De Exorcismus et supplicationibus quibusdam (Aangaande eksorsismes en sekere gebede), is in Oktober 1998 deur Pous Johannes Paulus goedgekeur. Die rite bestaan uit ’n inleidende lang litanie (wat insluit die Onse Vader, Ps 53 en nog lofgebede), wat dan uitloop op die eksorsisme-bevel:

“I command you, unclean spirit, whoever you are, along with all your minions now attacking this servant of God, by the mysteries of the incarnation, passion, resurrection, and ascension of our Lord Jesus Christ, by the descent of the Holy Spirit, by the coming of our Lord for judgment, that you tell me by some sign your name, and the day and hour of your departure. I command you, moreover, to obey me to the letter, I who am a minister of God despite my unworthiness; nor shall you be emboldened to harm in any way this creature of God, or the bystanders, or any of their possessions. Amen.”

13.2 DIE ANGLIKAANSE KERK

13.2.1 Eksorsismes vind selde plaas, maar die Church of England het ’n voorgeskrewe prosedure ingeval dit nodig is: “The ministry of exorcism and deliverance may only be exercised by priests authorized by the bishop, who normally requires that permission be obtained from him for each specific exercise of such a ministry.” Inligting verkry van Church of England se webblad: Common worship

13.2.2 Volgens die “diocesan manual” wat deur die Anglikaanse Kerk in Suid-Afrika gebruik word, mag ’n priester ’n eksorsisme doen, maar net met sy biskop se toestemming (e-pos aan ds Roy Thorne, lid van die SKLAS-gespreksgroep oor die bediening van bevryding, April 2010). Die formulier wat by dié geleentheid gebruik kan word, is die volgende:

“In the name of Jesus Christ our Lord, I command you, evil spirit, to come out of this person (or N), and to harm no one but to depart to the place appointed you and remain there for ever. Amen!”

13.3 DIE APOSTOLIESE GELOOFSENDING (AGS)

Volgens prof Jan Hattingh, prinsipaal van die Auckland Park Teologiese Seminarie, vind die “bevryding van bose geeste” wel in die AGS plaas hoewel dit baie minder voorkom as genesings. Hy verkies om nie te praat van ’n “bediening van bevryding” nie maar eerder ’n “bediening van evangelisasie waartydens genesing deur bevryding plaasvind” (e-pos aan ds Daan Wium, 16 April 2010). In die AGS is daar geen voorgeskrewe formule vir bevryding nie, want “situasies verskil”, maar ’n mens kan tog praat van ’n “tipiese gebed” wat die gedemoniseerde persoon gevra word om te bid:

“Here, ek bely my sonde van... Ek breek nou daarmee. Ek vra dat U my sal vergewe. Ek bestraf enige bose gees/geeste wat op grond van hierdie sonde in my lewe werk, en ek beveel julle om onmiddellik en heeltemal te gaan, in die naam van Jesus! Amen!”

14. AANBEVELINGS: BEDIENING VAN BEVRYDING

14.1 Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld.

14.2 Die Algemene Sinode aanvaar dat hierdie oorwinning in baie gevalle nog nie ten volle sigbaar is nie, dat ons dikwels oorweldig is deur hierdie boosheid wat groter is as onsself, ook juis weens die swakheid van die mens, die verleiding van die sonde en die gebroke werklikheid.

14.3 Die Algemene Sinode aanvaar daarom dat ons as kinders van God nog steeds in ’n geestelike stryd gewikkel is teen die boosheid in al sy manifestasies in die wêreld, maar veral teen die kwaad wat in elke mens skuil.

14.4 Die Algemene Sinode bevestig weer eens dat dit van uiterste belang is dat die kerk sal leef vanuit die geloofsperspektief dat, hoewel die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig, die bose deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van God se Gees oorwin en aan bande gelê is.

14.5 Daarom meen die Algemene Sinode dat enige sogenaamde bediening van bevryding wat die geloofswaarheid oor die lewe en werk van Jesus en die Gees van God misken, geen bediening van die evangelie is nie en ook geen vryheid bring nie.

14.6 Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus sodat die kerk die ware kenmerke van Evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.

14.7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

14.8 Die Algemene Sinode oordeel dat die getuienis van leraars en lidmate van die NG Kerk dat hulle in hulle bediening wel mense teëgekom het van wie hulle oortuig was dat hulle deur bose magte of demone gedemoniseer was – en ook hulle getuienis dat ’n bediening van bevryding baie van hierdie mense van kwellings, vreesagtigheid, haat teenoor God en sy gebod bevry het – nie sonder meer afgewys moet word nie. Die Sinode aanvaar dat daar verskillende interpretasies is oor die werklikheid al dan nie van gedemoniseerdheid. Dit geld ook vir die interpretasie oor wie en wat agter bepaalde bevrydinge lê.

14.9 In die lig daarvan is dit die oordeel van die Algemene Sinode dat ’n bediening van bevryding as ’n buitengewone bedieningshandeling onder bepaalde voorwaardes toegelaat sou kon word eerder as om dit geheel en al te verbied. Die voorwaardes waaronder so ’n bediening toegelaat sou kon word, hou in dat:

14.9.1 die bediening van bevryding as ‘n buitengewone bediening beoefen sal word en nie as deel van ’n roetine-pastoraat nie;

14.9.2 dit onder toesig van en met rapport aan die kerkraad en die ring gedoen word;

14.9.3 die persoon ook vir mediese evaluering verwys moet word. Daar rus ’n swaar verantwoordelikheid op persone wat so ’n bediening beoefen om mense nie skade te berokken deur siekte (onder meer psigiatriese versteurings) as besetenheid of gedemoniseerdheid te behandel nie;

14.9.4 daar met sorg gewaak word teen ’n animistiese verstaan van die skepping en teen die neiging om te dink daar skuil magiese kragte in sekere voorwerpe; teen lang konfronterende gesprekke met bose magte en afgestorwenes, asook teen die gepaard­gaande triomfalisme wat straal uit sensasionele byeenkomste van bevryding;

14.9.5 daar verreken moet word dat die Gees van Christus in mense wat aan Christus behoort en sy Naam bely, leef. Bedieningspraktyke wat die algenoegsaamheid van die werk van Christus minag en daarmee die gereformeerde belydenis van die volkome verlossingswerk van die genadige God in Jesus op die spel plaas, word afgewys.

14.10 Die Algemene Sinode besef dat die verskillende kulture in ons land ons duidelik bewus gemaak het van die veel-fasettige aard van die siening oor die Bose; dat daar kontekste is waarin daar ‘n werklike vrees vir eksterne bose magte is wat baie mense se lewens oorheers en dat hierdie lewenservaring ernstig opgeneem behoort te word. Die Algemene Sinode moedig daarom sy eie ampsdraers en lidmate aan, wat in sulke kontekste werk, om op verantwoorde wyse besondere aandag hieraan te gee met die doel om die radikale verlossingswerk van Christus met oorgawe te verkondig.

Bibliografie

Barth, H-M (& H Flügel, R Riess) 1974: Der emanzipierte Teufel. München: Claudius Verlag.

Barth, K 1957: Church dogmatics, vol 3, part 3.

Berger, K 2000: Zit de duivel achter alle kwaad? Kampen: Kok.

Berkhof, H 1973: Christelijk Geloof. Nijkerk: Callenbach.

Berkhof, H 1952: Christus en de machten. Nijkerk.

Berkouwer, GC 1958: Dogmatische studiën, De Zonde vol 1. Kampen: Kok.

Day, Peggy L 1988: An adversary in heaven. Satan in the Hebrew Bible. (Ph D Harvard University). Atlanta: Scholars Press.

Durand, JJF 1978: Die sonde. Wegwysers in die dogmatiek vol 3. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.

Erickson, Millard J 1992: Christian Theology. Grand Rapids: Baker.

Goodman, Felicitas D 1992: How about demons? Possession and alternate reality: religion in a pluralistic world. Bloomington: Indiania University Press.

Green, Michael 1981: I believe in Satan’s downfall. Grand Rapids: Eerdmans.

Haag, H 1974: Teufelsglaube. Tübingen: Katzmann.

Heyns, JA 1978: Dogmatiek. Pretoria: NG Kerkboekhandel.

Ivey, Gavin 1993: Psychodynamic aspects of demonic possession and satanic worship, in South African Journal of Psychology 23, 186-194.

Ivey, Gavin 2002. Diabolical discourses: demonic possession and evil in modern psycopathology, in South African Journal of Psychology 32 (4), 54-59.

Joubert, Stephan en Jan van der Watt en Gys du Plessis 2009: Bestaan die duiwel regtig? Vereeniging: CUM

König, Adrio 1972: Een wat sterker is. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.

Meier, SA 1999: Angel, in Dictionary of deities and demons in the Bible (DDD), ed K van der Toorn, B Becking, PW van der Horst. 2nd existensively revised edition. Leiden: Brill. 89-93.

Nürnberger, K 1975: Sistematiese teologie. Genadendal.

O’Kennedy, André 2008: ’n Getuienis. Voorlegging aan SKLAS-gespreksgroep oor die Bediening van Bevryding, 2008.

O’Kennedy, André 2007: Navorsingsgroep

Peck, M Scott1983: People of the lie. New York: Simon & Schuster.

Pienaar, Willie 2007: Die beoefening van bevryding – ’n psigiatriese perspektief, Voorlegging by SKLAS-besprekingsgroep oor die Bediening van Bevryding.

Riley, GJ 1999: Devil, in Dictionary of deities and demons in the Bible (DDD), ed K van der Toorn, B Becking, PW van der Horst. 2nd existensively revised edition. Leiden: Brill. 244-249.

Rogerson, JW 2003: Zechariah. In Commentary on the Bible (JDG Dunn & JW Rogerson, ed). Grand Rapids: Eerdmans.

Russell, JB 1977: The Devil, perceptions of evil from antiquity to primitive Christianity. Ithaca: London.

Russell, JB 1981: Satan, the early Christian tradition. Ithaca/London.

Schillebeeckx, E 1975: Jezus, het verhaal van het levende. Baarn.

Ter Haar, Gerrie 2009: How God became African. African spirituality and Western secular thought. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.

Thielicke, H 1982: The evangelical faith, vol 3. Grand Rapids: Eerdmans.

Toner, PT 1904: Art. Exorcism in The Original Catholic Encyclopedia.

Van der Hoeven, TH 1998: Het imago van Satan. Een cultuur-theologisch onderzoek oor een duivels tegenbeeld. (DTh-dissertasie). Kampen: Kok.

Van Peursen, CA 1972: Strategie van de cultuur. Een beeld van de veranderingen in de hedendaagse denk- en leefwêreld. Elsevier: Amsterdam

Van Zyl, HC 2000: Die duiwel ontmasker – ’n Nuwe-Testamentiese perspektief, in Die evangeliebediening aan demonies (okkult) gekweldes (red JH Smit). Universiteit van die Vrystaat Teologiese studies no 6, 9-22.

Verkuyl, Johannes 1992: De kern van het Christelijke geloof. Kampen: Kok.

Weber, Otto 1959: Grundlagen der Dogmatik vol 1. Neukirchen: Buchhandlung des Erziehungsvereins.

Weber, Otto 1975: Karl Barths Kirchliche Dogmatik. Ein einführender Bericht. Neukirchen: Neukirchener Verlag.


Voetnotas

[1]H Haag 1974:268: “Vor allem hat die jüdische Religion nie einem widergottlichen Prinzip irgendwelche schopferische Funktionene zugescrieben, wie die zarathustrische Religion dem Angra Manyu.”

[2]Konig skryf (1972:27): “Dit is dus volkome duidelik waarom die duiwelsuitdrywing so ’n oorheersende plek in Jesus se optrede inneem: so kom die koninkryk van God, so word openbaar dat God (Jesus) die herstel en sy skeppingsdoel deurvoer: om die mens in sy gemeenskap op aarde te laat woon en sy vreugde en geluk te laat smaak.”

[3]Volgens H-M Barth (1974:124) is die eerste teologiese verhandeling oor die Non-Existenz des Teufels in 1778 geskryf.

[4]H Berkhof, Christelijk Geloof (1973:214) verstaan die duiwel as “ideeënmateriaal van een cultuur of periode” waartoe ons nie vandag gebind is nie.

[5]Ivey 2002:57: “It is interesting to note that in both of the case studies mentioned, the individuals concerned experienced the presence of an evil demon, controlling their thoughts and actions from within their own minds. We could say that the mythological figure of Satan is this evil part of the mind, split off and projected, which offers omnipotence, omniscience, sensual gratification, and freedom from all moral authority...”

[6]Dit is insiggewend wat Gys du Plessis, mediese dokter en verantwoordelik vir hoofstukke oor verband tussen besetenheid en psigiatriese versteurings in die boek Bestaan die duiwel regtig? oor hierdie saak skryf. In die grootste deel van sy stuk bepleit Du Plessis dat psigiatriese versteurings nie met besetenheid verwar moet word nie. Die teologie moet die psigiatrie respekteer. Maar in die laaste deel van sy boek wys hy daarop dat die teenoor­gestelde ook waar is: “Hoewel baie deskundiges in die psigiatrie en sielkunde die bestaan van demone afskiet, is dit interessant dat die DSM IV-TR se hersiene uitgawe (Diagnostic Statistical Manual of Mental Disorders) nie totaal daarvan wegskram nie. Trouens, dié uitgawe beskryf ’n versteuring genaamd Dissosiatiewe transversteuring. Die beskrywing daarvan is baie tipies wat... Christengelowiges sou beskou as duiwelbesetenheid: Enkel- of episodiese versteurings in die bewussynstaat van die persoon, of die persoon se identiteit of geheue, wat kenmerkend van enige persoon in ’n bepaalde plek of kultuur is. Dit wil sê, die veranderde bewussynstaat is in stryd met wat as normaal gesien word in enige bepaalde kultuurgroep... Dit behels onder andere die vervanging van ’n persoon se gewone belewenis van persoonlike identiteit deur ’n nuwe identiteit wat toegeskryf word aan die invloed van ’n gees, krag of goddelike wese of ander persoon. Hierdie is die algemeenste dissosiatiewe versteuring in byvoorbeeld Asië. Voorbeeld sluit in amok (Indonesië), bebainan (Indonesië)... Hierdie transversteuring verskil, wat die diagnosering daarvan betref, van die veelvuldige persoonlikheidsteuring (multiple personality disorder). Mense met dié patologiese besetenheidstransversteuring meld meestal dat dit geeste of entiteite van buite is wat in hulle liggame inkom en beheer van hulle oorneem” (Du Plessis 2009:111).

[7]Ter Haar 2009:40: “It has been established that observable changes take place in the brains of persons with a multiple personality syndrome. A similar type of neurophysiological change of the brain is believed to take place during spirit possession..”