Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Benadering tot die homoseksuele persoon PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Gideon Aggenbag   
Saterdag, 10 Mei 2014 13:33

Kyk ook:

(Uit Die Trojaanse Perd in die NG Kerk, bl 68.)

In die debat oor homoseksualiteit is daar ’n roesemoes van standpunte. Dít maak dit baie moeilik om perspektief te behou. Daar is sommige heteroseksueles wat (op grond van Bybelse uitsprake) die homoseksuele summier uit die hoogte veroordeel sonder enige poging om hulle seksuele oriëntering en situasie te begryp. Diesulkes kan hulself gewoonlik nie indink in die wêreld van die homoseksueel nie, juis omdat hulle heteroseksueel georiënteer is en die blote gedagte van seksuele omgang met dieselfde geslag vir hulle afstootlik is. Hulle het natuurlik ’n dubbele argument vir hulle standpunt, naamlik hulle eie oriëntasie én die uitsprake in die Bybel.

Ander het simpatie met die homoseksuele en vra begrip vir hulle seksuele orëntasie en hulle gevoelens. Nog ander is neutraal en verklaar eenvoudig dat die homoseksuele toegelaat moet word om hul eie keuses te maak. En tussen hierdie standpunte is daar natuurlik ook verskillende vlakke van beoordeling.

Net so handhaaf die homoseksueles ook verskillende standpunte. Sommige sê eenvoudig: "Los ons uit! Ek is bly ek is gay." Ander wroeg daaroor en probeer verander, klop om hulp aan by sielkundiges, probeer om ’n verhouding met die teenoorgestelde geslag aan te knoop, selfs in die huwelik te tree, ensovoorts. Ander vra ’n simpatieke oor vir sy belewenis van sy oriëntasie. So het ene Wayne in Rapport geskryf dat hy in ’n goeie, liefdevolle gesin grootgeword het, dat hy van kleins af verlief geraak het op sy seunsmaatjies, en verder: "Ek's gay en as ek een wens kon kry, dan sal dit wees om "straight" te wees. Ek sou so graag ’n vrou en kinders wou hê. Ek kon nog nooit aanvaar ek’s gay nie … So baie gebid dat die Here my moet verander … Ek leef baie na aan die Here en ek weet, ek weet, Hy het my lief … So, hoekom is ek gay. Dis maar my kruis wat ek moet dra."[1]

Die heteroseksuele Christen wat werklik met die liefde van Jesus in sy hart lewe, kan nie so iemand summier veroordeel en sê dat Hy hom nie kan liefhê nie. Die feit is immers dat God die wêreld (geen uitsondering gemaak nie!) so liefgehad het dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh. 3:16). Daarteenoor leer die Bybel ook dat God die sonde haat. Dit is by hierdie punt dat baie die fout begaan om NIE ’n onderskeid te sien tussen die sonde en die sondaar nie. Dit is immers menslik om die kwaaddoener te haat, saam met die kwaad wat gedoen word.

Mag ons as heteroseksuele Christene dan iemand wat iets doen wat God duidelik en onomwonde verbied, veroordeel? Sekerlik nie! (Matt. 7:1-5). Wanneer ons teen sonde waarsku, is dit nie per se om die een wat gewaarsku word, te veroordeel of te verdoem nie. Dit is presies wat die "gay" persoon ervaar in die debat rondom homoseks. Hy ervaar dat hy dikwels summier veroordeel word.

God veroordeel in Sy Woord homoseks/sodomie as ’n gruwelike sonde en noem dit in dieselfde sin as die dade van onsedelikes, afgodsdienaars, egbrekers, diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters, bedrieërs, goddeloses, son-daars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, moordenaars, ontugtiges, ontvoerders, leuenaars ensovoorts. Geen twyfel word dus gelaat oor hoe God self oordeel oor homoseks nie.

Wat doen ons dan met ons simpatie/empatie vir die "gay" persoon?

Dit is juis waar die onderskeiding tussen die sonde en die sondaar geld. God het Sy liefde vir die sondaar verklaar en bevestig in Jesus Christus (Joh. 3:16 en ander). Terselfdertyd het Hy ook, in die wrede kruisdood van Jesus, Sy afkeer vir die sonde gedemonstreer. Die gelowige wat hierdie vaandel wil dra, sal dan ook sy liefde vir sy medemens uitleef, terwyl hy ook terselfdertyd teen daardie medemens se sonde getuig en dit bestry. In Lev. 19:17 gee God die opdrag: "Jy moet jou naaste vrymoedig berispe, sodat jy om sy ontwil geen sonde op jou laai nie."

Hierby kom dan ook die probleem van die hermafrodiet/tweeslagtige persoon. (Mens sou ook kon vra waarom sommige mense skisofrene, kleptomane ensovoorts is). As God dan die Albeskikker is, waarom is hy/sy dan so gebore? (Dit sluit ook die homoseksuele mense in wat daarop aanspraak maak dat hulle so gebore is). Dr. Don Batten skryf in hierdie verband:[2]

In the broadest sense, hermaphroditism is due to sin, though not the particular sin of the person or the parents, etc., but the general fallen nature of mankind since the Rebellion. So God has withdrawn some of His sustaining power from the creation and things are falling apart. Consequently we see mutations, cancer and developmental abnormalities.

Dr. Batten skryf ook: "Morality cannot be decided by biological abnormalities." Dit beteken óók dat homoseksuele aangetrokkenheid/ betrokkenheid in gehoorsaamheid aan God bestry moet word. Daarom is die aangewese weg vir gelowiges om die "gay" persoon wat getuig dat hy in God (en Sy Woord) glo, in liefde en deernis te begelei. Ons moet hom help om in te sien dat sy oriëntasie die gevolg van sonde is – die mens se sondige en vervalle bestaan as gevolg van die sondeval – maar dat daar verlossing, vryspraak en lewe is deur Jesus Christus (Rom. 5:12-21 en 7:21-24). Ons moet ernstig vir hulle bid en saam met hulle bid – sonder ’n gesindheid van "ek is beter as jy".

In so ’n benadering dra ons die liefde van God, die liefde vír God en die liefde vir ons medemens uit na die homoseksuele persoon. Om egter te redeneer dat die liefdesgebod wat Jesus ons gegee het (Luk. 10:27), beteken dat ons die sondaar saam met sy sonde moet akkommodeer, is ’n dwaling. Inteendeel, om dít te doen is liefdeloos en sou toon dat ons geen probleem het met die tragiese weg waarop die sondaar hom- of haarself bevind nie. Daar bestaan eenvoudig geen hermeneutiese of eksegetiese weg waarlangs ons iets waaraan God ’n afkeer het en ’n gruwelike sonde noem, kan regverdig nie.

Daarom is enige huwelik of verbintenis tussen persone van dieselfde geslag van meet af onversoenbaar met die Woord van God. Hy het onweerlegbaar man én vrou, mét hulle aangetrokkenheid tot die teenoorgestelde geslag, verskillend geskep met die doel dat hulle binne die huwelik (1 Kor. 7:8,9 en 36) sou voortplant: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde" (Gen. 1:27,28 en 9:1). Vir hierdie doel het Hy ook die huwelik tussen een man en een vrou ingestel. Jesus self het dit bevestig toe Hy gesê het: "Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wee(Matt. 19:4-5).

Om dieselfde redes verbied God ook seks buite die huwelik – en dít geld vir alle mense – van watter seksuele oriëntasie hy of sy ookal mag wees. Seks buite die huwelik is promiskuïteit. Daarom is dit skokkend dat die NG Kerk toelaat dat sy moderamenlede by die Regering aanbeveel dat "gay" huwelike gewettig word, in plaas van om onomwonde te getuig: "So sê die Here ..."

Die Kerk se leierskap moet besef dat lidmate na hulle opsien vir leiding. Daarom moet hulle óók besef dat "die wagters op die mure wat die vyand sien aankom en die stadpoorte vir hulle gaan oopmaak", ’n dure prys sal betaal:

Eseg. 33:6-8 : As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg—dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

Die skrywers van hierdie boek wil dus ’n beroep op u, die leser, doen om met deernis, liefde en verantwoordelikheid met homoseksuele mense om te gaan, maar terselfdertyd daaraan vas te hou dat ons daartoe verbind is om God se Woord "reg te sny", soos Paulus ook geskryf het:

2 Tim. 4:2-4 : ... verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Die kerk moet ook besef dat bekering noodsaaklik, maar net die begin van die pad van berading vir homoseksuele mense is. Dit is ongelukkig dikwels ’n eensame en lang pad. Homoseksuele mense moet baie vinnig kontak met hul homoseksuele vriende verbreek. Veral in die geval van mans, sal hulle onwaarskynlik ander mansvriende hê, want laasgenoemde assosieer nie graag met hulle nie. Maar hulle gaan juis op die pad van herstel gewone Christenmansvriende nodig hê. En dít is waar die kerk ’n geweldig belangrike rol kan en behoort te speel.

Voetnotas

[1] Uit Forum: Seksuele voorkeur – is dit veranderlik?, Rapport, 2010-05-20

[2] Hermaphrodites and homosexuality

Nog bronne