Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Belhar - 'n Futiele oefening PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Vrydag, 15 Augustus 2014 09:40

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk Wie is Jan Louw?.

Die leierskap van die NG Kerk het nie ag geslaan op die herhaalde en ernstige waarskuwings van welmenende lidmate om nie op die Belhar pad te gaan nie. Nou is die NG Kerk in elke stad en dorp aan die praat en in baie gevalle in beroering oor die proses waarmee ons besig is. Ons word gevra om die Belhar Belydenis van die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA ook as Belydenisskrif van die NG Kerk te aanvaar.

WAAROOR GAAN DIT ALLES?

Die NG Kerk het deur die jare sendingwerk onder die Swart volke in Suid-Afrika en in Afrika gedoen. So het verskillende NG Kerke tot stand gekom. Mettertyd het daar in die geledere van die Swart NG Kerke ongelukkigheid ontstaan oor die Blanke NG Kerk se ondersteuning van apartheid. Sekere leiers in die NG Kerk het apartheid selfs met Bybeltekste verdedig. In die jare 1980 het leiers in die NG Sendingkerk (vir Kleurlinge) die sg Belydenis van Belhar opgestel om daarmee protes aan te teken teen die ideologie van apartheid. In 1986 is dit as ‘n belydenisskrif van die NG Sendingkerk aanvaar.

In 1994 het die NG Sendingkerk en ‘n groep van die NG Kerk in Afrika saamgesmelt en die Verenigende Gereformeerde Kerk in SA (VGKSA) gestig. Nou was daar twee groepe in die NG Kerkfamilie met twee stelle belydenisskrifte. Die NG Kerk en die res van die NG Kerkfamilie het steeds drie belydenisskrifte nl. die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dortse Leerreëls. Die VGKSA het vier belydenisskrifte omdat hulle die belydenis van Belhar bygevoeg het. Dit het ‘n dispuut veroorsaak. Die Belydenis van Belhar is vir die VGKSA ononderhandelbaar. Hulle verwag van die res van die NG Kerkfamilie om ook die Belydenis van Belhar te aanvaar indien ons as een kerk wil funksioneer.

Daar is ingewikkelde kerkordelike vereistes om konsensus te bereik vir ‘n kerk om belydenisskrifte te verander. Om die probleem te vererger is Belhar omstrede in die NG Kerk omdat dit as ‘n politieke dokument ervaar word.

Dit is kortliks die agtergrond vir die situasie wat ons nou het dat daar van die lidmate gevra word om die Belydenis van Belhar op 'n opsionele basis goed te keur.

DIE VOORSTEL

Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as belydenisskrif onderskryf nie.

Volgens die Kerkbode van 4 April 2014 is die oogmerk hiervan om eenheid in die kerk te dien en om skeuring te voorkom. Belhar moet deel word van die belydenisgrondslag van die kerk op so ‘n manier dat daar ruimte is vir mense in die kerk wat dit aanvaar sowel vir mense wat dit nie aanvaar nie.

Die leierskap van die NG Kerk skep hier vir ons ‘n hoogs problematiese situasie. ‘n Belydenisskrif is nie ‘n opsionele aangeleentheid in die kerk nie. Die Bybel en die belydenisskrifte word beskou as die grondwet van die kerk en word as sulks in die hof gerespekteer. Dit kan vergelyk word met die grondwet van ‘n organisasie. ‘n Maatskappy kan in die hof aangekla word as hy in stryd met sy grondwet optree. Die implikasies van die besluit waarvoor ons nou gestel word is dus onvoorsienbaar en bring meer vrae na vore as wat dit oplossings bied.

ARGUMENTE VAN DIE LEIERSKAP

In ‘n spesiale Belydenisuitgawe van die Kerkbode van 1 Augustus word meer as 20 invloedryke persone in die kerk aan die woord gestel om te verduidelik hoe belangrik dit is dat die NG Kerk Belhar as belydenisskrif moet aanvaar.

Die argumente wat aangevoer word is:

  • Die voorstel (soos geformuleer) bied ruimte vir almal.
  • Dit is ‘n voortsetting van ‘n kerklike gebruik om geloofswaarhede te formuleer.
  • Belhar is ‘n regstelling van dwaling wat plaasgevind het.
  • Dis ‘n kreet uit die hart van die NG Sendingkerk.
  • Belhar gee ‘n kykie in God se hart.
  • Belhar is ‘n veiligheidsreling om op die pad van God se Ryk te bly.
  • God roep ons om ‘n verskil te maak.
  • Dit is ‘n Bybelse weg uit ‘n konfliksituasie.
  • Ons moet iets dapper doen.
  • Belhar is ‘n geskenk aan ons.
  • Daar is ruimte vir diversiteit.
  • Ons moet bly reformeer.
  • In België en in die VSA is daar kerke wat Belhar hoog ag.
  • Ons moet aan mekaar vashou.
  • Ons moet sáám vorentoe.
  • Belhar is nie teen Afrikaners gemik nie.

Geeneen van die argumente bring helderheid oor die werklike probleem nl waarmee ons met kerkeenheid op pad is nie.

REALISME MET KERKEENHEID

Dit is onduidelik wat die NG leierskap in gedagte het met kerkeenheid.

In die Kerkbode van 1 Augustus, word gewag gemaak van ‘n besluit van die Kaapse Sinode van 1857:

“De Synode beschouwt het wenschlijk en schriftmatig, dat onze ledematen uit de Heidenen in onze bestaande gemeenten opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geschieden kan; maar waar deze maatregel, ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak van Christus onder de Heidenen, in de weg zouden staan, de gemeenten uit de Heidenen opgerigt, of nog op te rigten, hare Christelijke voorregten in een afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal.”[1]

Die besluit van destyds word in die Kerkbode voorgehou as die begin van die sg apartheidsteologie van die NG Kerk. Dit is ‘n gruwelike oorvereenvoudiging van die werklike situasie. Ons weet dat dit in die eerste plek kulturele- en taaloorwegings is wat aanleiding gegee het tot die ontstaan van afsonderlike kerke. Die tyd toe die Sinode van 1857 die betrokke besluit geneem het was dit in die era van Andrew Murray. Daar het in daardie tyd ‘n groot sendingoplewing vanuit die NG Kerk plaasgevind. Kerke is destyds geplant onder baie nasies in Suid-Afrika en ook in Suidelike Afrika. Die feit dat daar afsonderlike kerke begin is vir die verskillende nasies was doodgewoon uit pragmatiese oorwegings. Selfs binne die Swart kerke was Sinodale vergaderings problematies omdat die lidmate van verskillende volke mekaar nie verstaan het nie.

Op politieke vlak is wetgewing gepromulgeer in ‘n poging om die verskillende volke wat die land gedeel het in vrede te laat saamwoon. Dit het reeds in die Engelse bewind plaasgevind in die Kaap-Kolonie en in Natal. In die apartheidstyd het hierdie wetgewing ongelukkig ‘n drakoniese karakter bereik. Die NG Kerk se leraars en leiers was in baie gevalle hierby betrokke. As Afrikaners en NG lidmate het ons ook politieke strewes gehad wat ons ten koste van ons medelandgenote nagestreef het.

Die vraag is nou: Hoe moet ons hierdie foute van die verlede regstel? Met die hulp van die Here het ons polities onder leiding van baie van die NG Kerk se leiers en lidmate ongehoorde deurbrake gemaak sodat ons ‘n nuwe bedeling kon betree. Hoe moet ons nou kerklik die pad vorentoe? Is die antwoord daarin geleë dat ons moet teruggaan na 1857 en die NG Kerk onder een dak bymekaar moet maak? Geld dit ook van die kerke in die buiteland, wat deur die sendingwerk van ons kerk in Mosambiek, Zimbabwe, Malawi en Namibië tot stand gekom het? Het al die realiteite van taal- en kultuurverskille nou in die niet verdwyn?

Ander vrae is: Wat gaan die naam van die nuwe kerk wees? Dit is nie so maklik om ‘n kerk se naam te verander nie. Sal ons weer deur al die prosesse moet gaan waardeur ons nou gaan om eenstemmigheid te kry oor ‘n naamsverandering. Die VGKSA wat Belhar as belydenisskrif aangeneem het staan bekend as die Uniting Reformed Church of South Africa (URCSA). Gaan dit nou die nuwe naam vir die NG Kerk word? Wat gaan die taal wees waarin ons kerklike vergaderings en kommunikasie plaasvind? URCSA het nou oorgeskakel na Engels. Gaan die aanvaarding van Belhar as Belydenisskrif vir die NG Kerk oplossings bring vir al hierdie kwessies wat deel is van kerkwees?

WAAR STAAN ONS WERKLIK MET DIE VGKSA?

In die Kerkbode en amptelike kommunikasie vanaf die leierskap word die inisieerders van Belhar se motiewe baie rooskleurig voorgestel. As mens egter bietjie gaan krap in die geskiedenis van Belhar, kan jy nie anders as om ernstige bedenkinge te ontwikkel nie. Die Sinode waar Belhar in 1986 as belydenisskrif aanvaar is was in omstredenheid gehul. Die stigting van die VGKSA in 1994 het die begin van bitterheid en skeuring in die geledere van die Swart NG Kerke ingelui.

‘n Groot deel van die NG Kerk in Afrika was nie ten gunste van die nuwe kerk wat gestig is met sy nuwe belydenis nie. Die VGKSA het toe begin met ‘n reeks hofsake teen die NG Kerk in Afrika (NGKA) om beslag te lê op die kerke en pastorieë van die NGKA. Die hof het telkens die aansprake van die VGKSA van die hand gewys. Op ‘n stadium was daar meer as 100 hofsake getel in die gemeentes van die Swart Kerke oor eiendomskwessies. Die VGKSA het ten spyte van die uitsprake van die hof beslag gelê op die eiendom van die NGKA. In baie dorpe in SA het hierdie ongelukkige situasie ontstaan. Getroue lidmate van die NGKA moes hulle kerke en pastorieë ontruim en het eredienste begin hou in skole en in huise.

In ons eie huishouding is die situasie as volg: Ons tuinwerker is in die NGKA en hy vertel dat hulle in ‘n skool kerk hou. Die vrou wat in ons huis werk sê sy en haar man het in die NGKA grootgeword en is daar getroud, maar hulle is oor na een of ander International Church omdat daar so baie “rusie” in hulle kerk gekom het.

Verhoudinge tussen die Blanke Kerk en die Swart Kerk het ook ‘n ernstige knou gekry. Lidmate in die Blanke kerk wat oor jare heen gehelp het om kerke en pastorieë vir die Swart lidmate te bekom, weet nie meer by wie om betrokke te raak nie. Moet hulle by die VGK gemeente staan of by die NGKA? Die skade wat die afgelope dekades in die NG Kerkfamilie gekom het is onberekenbaar.

Daar was egter geen einde aan die opstellers van Belhar se drif om voort te gaan op hulle ingeslane weg nie. Hulle het toegesien dat die NGKA geskeur het. Daar is geen tekens van pogings van die VGKSA om met die NGKA te versoen nie. In hulle onderhandelinge met die NG Kerk staan hulle onverbiddelik op die aanvaarding van Belhar as Belydenisskrif.

Selfs die nuwe kerk se naam dra ‘n klank van arrogansie: Wat moet ons lees in die naam “Verenigende” Gereformeerde Kerk (Uniting Reformed Church)? Wil hulle daarmee sê: “Ons het die ‘morele hoë grond’ betree en vanuit daardie posisie neem ons die inisiatief om die NG Kerk familie op die regte pad te kry en te verenig?”

Die NG Kerk se leierskap het oor jare met groot geduld, en kostes van die NG Kerk se kant af probeer om die VGKSA se leierskap oor hulle Belhar standpunt tegemoet te kom. Uiteindelik word daar nou van die ganse NG Kerk met al sy leraars en lidmate verwag om ons belydenisgrondslag te verander sodat ons aan die eise van die VGKSA kan voldoen.

Die VGKSA se meerderwaardige ingesteldheid teenoor die NG Kerk kom ook na vore in die feit dat hulle gemeentes se besonderhede lankal nie meer in die NG Kerk se Jaarboek verskyn nie. Wat wil hulle daarmee vir ons sê? Dat hulle nie meer deel is van die NG Kerk familie nie?

Daarteenoor verskyn al die ander kerke wat Belhar nie aanvaar het nie en ook nie deel wou wees van die Verenigende Kerk se prosesse nie, se inligting steeds in ons Jaarboek. Dit is nl. die Ned Geref Kerk in Afrika van:

  • Die Vrystaat
  • Phororo
  • Noord en Suid-Transvaal
  • Reformed Church in Africa (Indiërs)

Verder verskyn ook al die buitelandse kerke wat deur ons sendingwerk tot stand gekom het in die Jaarboek naamlik die:

  • Reformed Church in Zimbabwe
  • Church of Central Africa Presbyterian (Nkhoma Synod en Harari Synod)
  • Swaziland Reformed Church
  • Reformed Church in Zambia
  • Dutch Reformed Church in Botswana
  • Igreja Reformada em Mocambique
  • Igreja Reformada Evangelica, Portugal

Dit is net die inligting van die VGKSA se gemeentes wat uit die NG Kerk se Jaarboek onttrek is.

Ons het so baie om oor dankbaar te wees oor wat deur die jare tot stand gekom het deur die NG Kerk se sendingwerk in Afrika. Is dit nie vreemd dat al ons energie nou opgaan daarin om aan een ontevrede groep se eise te voldoen nie. Dit terwyl hulle, hulle skynbaar in elk geval nie meer deel ag van die NG Kerk familie nie.

Het dit nie tyd geword dat die leiers van die VGKSA kennis moet neem dat hulle optrede deur baie ander mede-gelowiges as onchristelik en onsmaaklik ervaar word nie? In die Belhar Belydenis lees ons die soetklinkende woorde: “Ons glo dat God aan sy kerk die boodskap van versoening in en deur Jesus Christus toevertrou het …. omdat hulle vredemakers is.” In die begeleidende brief lees ons pragtig: “Ons bely saam met vele ons skuld ….“ In die praktyk ervaar ons egter 'n ongeërdheid oor al die bitterheid en skeuring wat hulle optrede in die NG Kerk familie tot gevolg gehad het en steeds het. Begryp hulle enigsins iets daarvan?

BELHAR AS BELYDENISSKRIF

Die Belhar dokument maak ’n klompie uitsprake wat op die oog af heel Bybels lyk. ’n Teoloog wat ingestel is om tred te hou met die teologiese strominge van die tyd sal egter spoedig in dele van die bewoording, die teologiese wortels van waaruit die dokument voortgekom het raaksien en uitwys.

Woorde soos “God van die noodlydende, die arme en die verontregte” is weliswaar Bybelse temas, maar dit is ook spesifiek die woorde wat herhaaldelik in die sg bevrydingsteologie voorkom. Teoloë van die bevrydingsteologie interpreteer die Bybel op so ’n wyse dat hulle konkludeer:

  • God is aan die kant van die onderdruktes.
  • Christene moet opgeroep word om deel te neem aan die stryd vir die bevryding van die armes.
  • Burgerlike ongehoorsaamheid en selfs geweldadige verset is deel van die stryd.

Heelwat van die teoloë van die VGKSA was juis by hierdie dinge betrokke toe die Belhar Belydenis opgestel was. Behalwe die Belhar Belydenis was hulle ook ondertekenaars van die Kairos-dokument en die Road to Damaskus. In hierdie dokumente word meer eksplisiet gesê dat God aan die kant van die onderdruktes is en dat Christene opgeroep word tot deelname aan die stryd vir bevryding. Dit laat ’n vraagteken oor die konteks waarin Belhar ook oor hierdie temas praat.

Dit is ook opvallend dat die Sinodale Kommissie van die VGKSA oor die bewoording, “God van die noodlydende, die arme en die verontregte” verklaar het: God’s preferential option for the poor - is proposed for full subscription by every office in the new re-unified Church. Daardie bewoording is vir hulle dus spesifiek ononderhandelbaar vir elke leraar in die herenigde kerk wat in vooruitsig gestel word.

‘n Ander probleem met die Belhar Belydenis is dat ‘n groot deel van die NG Kerkfamilie dit nie as relevant ervaar nie. Belhar verwerp met stelligheid sekere leerstellings. Voorbeelde hiervan is:

“Daarom verwerp ons enige leer wat óf die natuurlike verskeidenheid of die sondige geskeidenheid so verabsoluteer dat hierdie verabsolutering die sigbare en werksame eenheid van die kerk belemmer of verbreek of selfs lei tot ’n aparte kerkformasie”

“Daarom verwerp ons enige leer wat in die naam van die evangelie of die wil van God die gedwonge skeiding van mense op grond van ras en kleur in so ’n situasie sanksioneer”

“Daarom verwerp ons enige ideologie wat vorme van veronregting legitimeer en enige leer wat nie bereid is om vanuit die evangelie so ’n ideologie te weerstaan nie.”

Teen wie word daar regtig hier te velde getrek? Wie is daar wat sulke ideologieë of leerstellings in Suid-Afrika voorstaan en dus aangespreek moet word?

Belhar het die spreekwoordelike “heilige koei” van die VGKSA geword waarmee hulle, hulle uniekheid wil bevestig, maar die feit van die saak is dat die res van die NG Kerk familie nie weet waaroor dit gaan nie en nie hulle entoesiasme vir Belhar met hulle kan deel nie. Belhar is in werklikheid die grootste enkele struikelblok vir eenheid in die NG Kerk familie.

WAARHEEN IS DIE LEIERSKAP MET ONS OP PAD?

Ons is besig met ’n ingrypende proses in die kerk. Dit word gedoen om die VGKSA tegemoet te kom, maar die VGKSA het reeds by voorbaat kennis gegee dat hulle nie die uitkoms aanvaar nie!

Die VGKSA se Sinodale Kommissie het reeds volgens die dokumente wat by die Vrystaatse Sinode op 29 Julie 2014 gedien het laat weet:

1. The General Synodical Commission of URCSA in session in Durban has taken note of the decision of the DRC General Synod 2013 on the Confession of Belhar.

4. It is the conviction of the GSC that the proposed wording of Article 1 clause 2.2 in the confessional basis of the DRC is not acceptable as it stands for a church order of a finally re-united church.

7.4 Every minister/office in the Church is given time of one recess after re-unification to consider and subscribe to the confession of Belhar formally.

In Beeld van 23 Februarie 2014 is as volg berig oor samesprekings met die VGKSA:

“Die verteenwoordigers van die NG Kerk het kennis geneem van die besluite van die VGKSA se Algemene Sinodale Kommissie (ASK) en dat hulle nie ten volle gelukkig was met die ASK van die NG Kerk se besluit oor die status van die Belydenis van Belhar in die NG Kerk se belydenisgrondslag nie.” Die koerant berig ook in dieselfde artikel: Die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suidelike Afrika (VGKSA) en die NG Kerk sê hulle wil “die destruktiewe mag van rassisme” regstel.

Die moderator van die VGKSA, Dr Plaatjies van Huffel het aan Rapport (9 Nov 2013) met beslisdheid gesê: “Sou die VGK en NGK herenig, sal dié dubbelopsie nie kerkregtelik houdbaar wees nie en ons sal moet besluit hoe ons dit gaan hanteer.” Sy het ook in ’n akademiese Joernaal geskryf: Kerkverband tussen kerke wat nie dieselfde belydenis het nie, of wat dieselfde belydenisskrifte verskillend vertolk en kerkregtelik verskillend georganiseerd is, is nie moontlik nie aangesien eenheid in belydenis die samebindende faktor by die kerkverband is.

Die vraag wat in die harte van die lidmate leef is: Waarmee is ons besig? Die leierskap wil die lidmate toets oor die “dubbelopsie” aangaande Belhar, maar wat het ons uiteindelik bereik as ons deur die hele oefening is? Die VGKSA het voor die tyd duidelik gesê dat hulle nie aanvaar waarmee ons besig is nie. Dr Plaatjies van Huffel het duidelik aan ons uitgewys dat die “dubbelopsie” waarmee ons na die lidmate toe gaan onkerkordelik is. DIT IS DUS ’N FUTIELE OEFENING! Waarom doen ons dit?

Gewone lidmate verstaan nie die geweldige prioriteit wat ons kerklike leierskap aan Belhar gee asof die toekoms van die NG Kerk daarvan afhang nie. Die voortdurende hoëvlak kerklike samesprekings, buitengewone sinodale vergaderings en ‘n spesiale uitgawe van die Kerkbode, wat met groot kostes aangegaan word in belang van die Belhar dokument is in ons oë onregmatig.

AANBEVELINGS VIR DIE PAD VORENTOE:

  1. Ons sal moet aanvaar dat die VGKSA weggebreek het uit die NG Kerk familie. Hulle het ’n nuwe naam, ’n ander belydenisgrondslag en het hulle inligting uit ons kerk se Jaarboek onttrek. Die gebeure het ’n geskiedenis en dit is jammer, maar dit is finaal.
  2. Die geskiedenis het ook bewys dat as ’n kerk eers eenmaal geskeur het, dit haas onmoontlik is om die groepe weer bymekaar te kry. Dit het in Suid-Afrika gebeur toe die Gereformeerde Kerke, die Ned Herv Kerk en ook toe die APK van die NG Kerk afgeskei het. Ons het jarelank probeer om weer eenheid te bewerkstellig, maar die beste wat ons kon regkry was om op sekere punte soos ’n Liedboek saam te werk.
  3. Ons staak alle verdere uitgawes en aksies van die kerkleiding om Belhar as belydenisskrif van die Kerk gevestig te kry Die saak is nou eenmaal te kontroversieel.
  4. Die kerkleiding neem aksies om waardering uit te spreek teenoor die lidmate in die NG Kerkfamilie wat deur die stormagtige politieke tye wat ons belewe het, by die NG Kerk gestaan het en nog deel van die familie wil wees.
  5. Die NG Kerk voldoen dringend aan die versoeke binne die kerkfamilie om te werk aan strukture wat die bande in die NG Kerk familie versterk.
  6. Die NG Kerk bedink aksies om genesing op plaaslike vlak na te streef in die lig van die pynlike implikasies van die skeuring in die geledere van die NG Kerk familie.

Voetnotas:

[1] In Afrikaans vertaal: "Die Sinode beskou dit wenslik en skriftuurlik, dat ons lidmate uit die heidene in ons bestaande gemeentes opgeneem en ingelyf word, oral waar dit kan geskied; maar waar hierdie maatreël, as gevolg van die swakheid van sommige, in die weg sou staan vir die bevordering van die saak van Christus onder die heidene, die gemeentes wat uit die heidene opgerig word of wat nog opgerig staan te word, hul Christelike voorregte in 'n afsonderlike gebou of instelling sal geniet."

 

Comments 

 
+6 #3 Henrietta Klaasing 2014-08-18 07:10
Die Bybel plaas 'n hoë premie op EENHEID. Hierdie voorstel vir die verandering van Artikel 1 van die Kerkorde is VERDELEND. Die inbring van Belhar verdeel. Die Drie Formuliere word die formuliere van EENHEID genoem. Wanneer Belhar in watter vorm ook al ingebring word, sal ons kan praat van die VIER formuliere van EENHEID?? Ek dink nie so nie.

Nie net verdeel dit lidmate in gemeentes nie, maar ook gemeentes onderling. Wat van die ander NG Kerke, soos Gehard hierbo al genoem het? Die "swart" en "Indiër" kerke wil al jare niks met Belhar te doen hê nie ... 'n Mens wonder waarom nie - sou hulle fyner op die Heilige Gees ingestel wees?

Daar is ook die ander twee ander "susterskerke" ( eintlik DRIE, maar die APK is mos "persona non grata" in hierdie familie!) - hoe gaan dit hierdie verhoudings raak? Gaan daar nog kanselruiling plaasvind soos daar tans gebeur?
 
 
+4 #2 Henrietta Klaasing 2014-08-17 14:56
Waarom is daar nie geluister na Gen. Johan van der Merwe se oproepe nie?

http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2012/02/03/B1/2/tnjmerwe.html
 
 
+5 #1 Henrietta Klaasing 2014-08-15 19:35
BAIE dankie Jan, vir hierdie deeglike stuk werk en indiepte studie wat jy gedoen het. Dit is geweldig leersaam en broodnodig - mens wens dat elke NG-lidmaat dit onder oë kan kry!