Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
'n Opsomming van Dr Hennie Conradie se boek "Belhar, waarom gaan dit?" PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Dinsdag, 19 Augustus 2014 19:00

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk die indeks.

Dr Hennie Conradie was ‘n prominente leraar in die NG Kerk. Hy was bv visievoorsitter van die Kuratorium van die Kweekskool op Stellenbosch en van die Proponentseksamenkommissie. Hy was voorsitter van die Sinodale Kommisie van Barmhartigheid in die Kaap en hy was voorsitter van die Hugenote-Kollegeraad. Hy het meegewerk daartoe dat lidmate van die NG Sendingkerk kon inskryf as inwonende studente van die Hugenote-Kollege. Hy het in 1991 geëmeriteer.

Die boekie oor Belhar het in 2005 verskyn en beslaan 48 bladsye. Die voorwoord is deur prof Pieter Potgieter geskryf. Die Uitgewer is HURTER BELEGGINGSTRUST BK.

Hy wys daarop dat die kerstening van die inheemse bevolking (Koikoi) aanvanklik deur verskillende buitelandse sendinggenootskappe behartig is. In 1880 het daar ‘n behoefte ontstaan dat die NG Kerk die werk sal oorneem ter wille van beter organisasie. In 1881 is die NG Sending Kerk gestig. Dit is voorafgegaan deur ‘n sendingkonferensie waarby dr Andrew Murray en eerw JC Pauw was betrokke was. Die “Zendinggemeente” was dus nooit formeel deel van die NG Kerkverband nie.

Conradie gee heelwat aandag aan verskillende sendingwetenskaplikes wat daarop wys dat die kerk in die geskiedenis geneig was om 'n eie karakter aan te neem onder verskillende volke en in geografiese streke. Hy bespreek die standpunte van proff J du Preez, LS Latourette, Gijbertus Voetius, JH Bavink, BB Keet, Ben Marais, NJ Smith, Johannes du Plessis, TN Hanekom, JW de Gruchy, Martin Pauw, ens. Sommige van hierdie geleerdes in SA was openlike teenstanders van die beleid van apartheid, maar het nogtans begrip gehad vir die afsonderlikheid van kerke. Selfs die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het in 1963 verklaar dat die eenheid van die kerk nie noodwendig in een sinodale verband tot uitdrukking kom nie.

Kerkeenheid hoef dus nie vir die familie van NG Kerke die vorming van een sinodale verband te beteken, waardeur die samestellende kerke hulle selfstandigheid kan verloor nie. Dit kan in gesamentlike sinodesittings óf in 'n ander ekumeniese verband tot uitdrukking kom. Die teoloë van die NG Kerk het dus nie 'n afwykende standpunt ingeneem toe hulle ons kerk op die pad van die stigting van eie kerkverbande vir die afsonderlike bevolkings- en kultuurgroepe gelei het nie.

Die voorstel in 1857 dat die “heidene” in afsonderlike geboue hulle Christelike voorregte geniet is ingedien deur Andrew Murray se vader. Die besluit was eintlik net die bevestiging van ‘n praktyk wat toe reeds bestaan het omdat die mense uit die heidense volke nie die Nederlandse dienste kon volg nie.

Conradie verwerp dus die gedagte van die Belhar teoloë dat die stigting van verskillende kerke die gevolg is van ‘n “pseudo-evangelie”, 'n ketterse leer, wat besit geneem het van die geloofsvaders van die NG Kerk. Die een algemene kerk van Christus word oral in die wêreld sigbaar in plaaslike kerke of gemeentes, wat tesame die een ware kerk van gelowiges uitmaak. Die eenheid kom nie tot stand deur die vereniging van plaaslike kerke nie. Hierdie siening is grondliggend aan die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus.

Conradie verskil dus van die voorstel wat reeds in 2004 voor die Algemene Sinode gedien het dat Belhar in die belydenisgrondslag van die te stigte nuwe kerkverband opgeneem word met dien verstande dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate dit nie as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.

Hy sê:

Die kompromie kom daarop neer dat aan die voormalige NGS Kerk die reg gegee word om 'n belydenisskrif te bly handhaaf wat die NG Kerk permanent in die beskuldigdebank plaas. Dit is ons insiens 'n resep vir vootdurende botsings binne die sogenaamde verenigde kerk. Belhar sal 'n verdelende factor bly,'n stok in die hande van een lid van die samestellende kerke om 'n ander lid mee te slaan.

Interessant dat ds James Buys van die VGK in 2004 reeds die voorstel van ‘n sg “ruim huis” verwerp het.

Die reaksie van dr. Allan Boesak was nog skerper. Hy het die NG Kerk-Algemene Sinode se voorstelling van die te stigte verenigde kerk as 'n "ruim huis" (waarin toetredende kerke se eiendomlike belydensskrifte geakkommodeer word sonder dat van ander toetredende kerke verwag word om dit te aanvaar) in 'n artikel in Die Burger van 27.10.2004 beskryf as "verdeel-en-heers-taktiek".

Die debatte en korrespondensie oor Belhar was volgens Boesak gekenmerk, onder meer, deur "kwaadwillige verdraaiing van die waarheid "en “kwalik bedekte politieke agendas". Hy het na die NG Kerk verwys as "die wit kerk", noem die NG Kerk "halsstarrig" en sê die NG Kerk se dilemma is "hy praat kerk, maar dink steeds volk, hy praat eenwording, maar dink 'n wit NG Kerk toekoms". Hy plaas voorts die Belharbelydenisskrif op dieselfde vlak as die Heidelbergse en die Teologiese Verklaring van Barmen.

Conradie beskryf die klimaat wat geheers het in aanloop tot die daarstelling van Belhar as volg:

Een van die groepe wat voor Ottawa 'n onmiskenbare rol gespeel het was die Broederkring met dr Allan Boesak aan dle spits. Die Broederkring, wat hoofsaaklik uit swart leraars van die NGSK, NGKA en RCA bestaan het, is in die laat sewentigs gestig om onder meer apartheid in kerk en staat onverskrokke te beveg en die eenwording van die familie van NG Kerke te bewerkstellig “selfs sonder die NGK as dit moet". Hulle het lede van die NGKA en NGSK wat verdink is van lojaliteit teenoor die NG Kerk met mening die stryd aangesê.

Die NG Kerk moes dus geïsoleer word om vir goed as apartheidskerk gebrandmerk te word, soos dr Boesak in 2004 steeds gedoen het.

So is die weg voorberei vir die NGSK-sinode se besluit van 1978 dat apartheid in stryd met die Evangelie is, onder meer omdat dit sou berus op die oortuiging van die "fundamentele onversoenbaarheid" van mense. So is die weg ook voorberei vir die swart kerke se aanslag by Ottawa.

ln Augustus 1982 argumenteer dr Boesak by die Wereldbond van Gereformeerde Kerke te Ottawa dat apartheid 'n "pseudo-religieuse ideologie (is) wat gebore is en steeds geregverdig word uit die boesem van die Gereformeerde Kerke" en versoek die Wereldbond om hierdie "pseudo-evangelie" tot "kettery" te verklaar. Hy betoog verder dat die teologiese regverdiging van apartheid deur lidkerke van die Wêreldbond vir die Gereformeerdes 'n status confessionis daarstel. Wat volgens dr Boesak beteken dat die kerke apartheid as kettery, in stryd met die evangelie en Gereformeerde tradisie, moet erken en verwerp.

Die Wereldbond voldoen feitlik woordeliks aan die versoek, verklaar dat die situasie in Suid-Afrika vir ons kerke 'n status confessionis bewerkstellig, en verklaar voorts "saam met swart gereformeerde Christene van Suid-Afrika dat apartheid (afsonderlike ontwikkeling) 'n sonde is ... die teologiese regverdiging daarvan 'n bespotting van die evangelie en ....'n teologiese kettery". Dit was die aanloop tot die opstel van die Belydenis van Belhar. Dit was alles deel van 'n doelgerigte strategie (volgens prof Jaap Durand).

Elemente van Swart Bevrydingsteologie in Belhar.

God is op'n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en veronregte.

Prof J H Smit van die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Oranje Vrystaat, haal dr Boesak in sy teologiese geskrifte as volg aan:

"Black Theology believes that liberation is not only part of the Gospel or consistent with the Gospel, it is the content and frameword of the Gospel of Jesus Christ... Yahweh is the Liberator - the Word is Liberation ... The Gospel is the gospel of the poor”.

Bevryding beteken in Boesak se Swart Bevrydingsteologie om vrygemaak te word van die oorheersing en onderdrukking deur die "White power Structure". Dit gaan oorwegend om psigologiese, sosio-ekonomiese en politieke bevryding. Boesak sê self dat Swart Bevrydingsteologje 'n fundamentele ander benadering tot die Christelike teologie verteenwoordig – Jesus is ‘n Bevryder en nie meer Verlosser soos ons dit verstaan nie.

Die manier waarop hierdie teologie die Skrif hanteer, word duidelik uit die "uitleg" van die Eksodusverhaal. "The Exodus was a liberation movement”, sê Boesak. God het kant gekies vir die onderdrukte teen die onderdrukker. Dit is ook die tema van die Psalms en die profete. God is die bevryder van die arme, onderdrukte, die weduwees en die wese.

Conradie wys op die volgende vir die korrekte verstaan van armoede in die Bybel:

Wie daarenteen gereformeerd-teologies oor die wereldwye armoedevraagstuk wil saampraat, moet onder meer goed daarvan kennisneem dat die Bybel ook 'n verband lê tussen armoede en luiheid (Spr. 6: 6 -11; 10:4; 20:13) en eiesinnigheid (Spr. 13:'18), en dat daar ook 'n verband gelê word tussen natuurlike vermoëns (begaafdheid) en vermoendheid (prestasie) (Matt. 25:14-30)
Die Here se bekende woord in Deut. 15:11: "Daar sal altyd armes in jou land wees', en (Matt.26:11) "Die armes het julle altyd by julle' dui daarop dat die skadu van armoede altyd oor ons gebroke aardse bestel sal val. Daaom moes die lsraeliet van ouds nie hard en suinig" wees teenoor sy arm medemens nie, maar "vrygewig" (Deut. 15: 7-8), en is hulpverlening aan die arme vir die Christen in die nuwe bedeling een van die tekens van ‘n lewende getoof (Jak. 2: 15-17).

'n Heel ander siening van armoede word deur Boesak se Bevrydingsteologie aan ons voorgehou.

Conradie sluit af met die gedagte dat Belhar wat inhoud en agtergrond betref onaanvaarbaar is.

In die lig van ons ondervindinq met die NGSK sedert hulle Belhar aanvaar het – hul onversetlikheid en argwaan - behoort die NGK dit te heroorweeg of een sinodale verband waar besluite geneem word wat vir elkeen van die samestellende kerke bindend is, verkieslik is bo'n ekumeniese verband waarin ons eenheid gedemonstreer word sonder om mekaar te oorheers, byvoorbeeld die hou van gesamentlike sinodesittings óf 'n ander organisatoriese vorm soos voorgestel deur die Gereformeerde Ekumenise Sinode in 1963.

Lys van afkortings:

  • NGK = NG Kerk
  • VGK = Verenigde Gereformeerde Kerk
  • NGSK = NG Sendingkerk
  • NGKA = NG Kerk in Afrika