Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Opsomming van die boek "Belhar geweeg" PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Dinsdag, 26 Augustus 2014 07:00

Kyk ook:

alt Vir nog artikels deur Jan Louw, kyk die indeks.

Die volgende opsomming van die boek Belhar geweeg, is deur Ds Jan Louw geskryf. Die boek kan teen R150 gekoop word by www.belhargeweeg.co.za.

Inhoudsopgawe

  1. Voorwoord: Prof Pieter Potgieter
  2. Uit die hart van ‘n lidmaat: Piet Theron (Redakteur)
  3. Die belydenisbeweging teen apartheid: Prof Piet Strauss
  4. Belhar en die rewolusionêre aanslag: Genl Johan van der Merwe
  5. Belhar is tien maal anders: Ds Theo Danzfuss
  6. Teologiese beoordeling van Belhar: Prof Sybrand Strauss
  7. Belhar: nie as belydenisskrif nie: Prof Johan Janse van Rensburg
  8. Gemeet aan die drie formuliere van eenheid: Prof Dries du Plooy
  9. Hoe geslaag is die kernwaarhede: Prof Piet Strauss
  10. ‘n Noodsaaklike getuienis, ‘n gebrekkige belydenis: Prof John Bolt
  11. Standpunt oor die Belydenis van Belhar: Kovilan Moodley
  12. Kerklike reaksie in die ekumene: Prof Dries du Plooy
  13. Belhar: verwoestende pad deur die NGKA: Dr Sarel Corrie
  14. Implikasies vir die NGK en die Hervormde Kerk: Dr Daan van Wyk
  15. Brug of bres? Belhar tussen teologie en ideologie: Dr Danie Langner
  16. Belhar oor kerkeenheid: in die lig van die skrif en die geskiedenis: Dr Bertus Cilliers
  17. Belhar in die plaaslike kerk: Ds Jannie Smith
  18. Belhar: kerkregtelike oorwegings in die NGK: Prof Pieter Coertzen
  19. Kerkordelike pad vorentoe: Ds Theo Danzfuss
  20. Algemene sinode se regsbevoegdheid: Chris du Plessis

***********

OPSOMMING VAN DIE BOEK: BELHAR GEWEEG

(Deur Jan Louw)

Die boek is in 2012 uitgegee deur Kraal Uitgewers. Agtien skrywers het meegewerk aan die boek en Piet Theron was die redakteur. Die boek beslaan 158 bladsye.

Besonderhede van die skrywers

  1. Prof Bolt, John, professor in Dogmatiek, Calvin College Grand Rapids VSA en Christian Reformed Church.
  2. Dr Celliers, Bertus, NGK-predikant Rietfontein (Winburg) en Lid van kerklike kommissies
  3. Prof Coertzen, Pieter, Afgetrede professor in Kerkreg en Kerkgeskiedenis, Universilteit van Stellenbosch, aktuarius Algemene Sinode NG Kerk 1998-2002.
  4. Dr Corrie, Sarel, NGKA-predikant Benede Oranje, Upington, voormalige aktuarius NGKA.
  5. Ds Danzfuss, Theo, NGK-predikant Witfield, aktuarius Sinode Hoëveld.
  6. Du Plessis, Chris, NGK-lidmaat. Prokureur van Alberton en lid van kerklike kommissies.
  7. Prof Du Plooy, Dries, GKSA-lidmaat en professor in Kerkgeskiedenis en Kerkreg, Noordwes Universiteit.
  8. Hurter, Pieter, NG Kerklidmaat en sakeman van Hermanus.
  9. Prof Janse van Rensburg, Johan, assessor NGK-Sinode van dle Vrystaat en afgetrede professor in Praktiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat
  10. Dr Langner, Danie, NGK-predikant Doornkloof en direkteur van die FAK
  11. Moodley, Kovilan, Evangelis van die Reformed Church in Africa (RCA) Shanti en skriba van die RCA-sinode.
  12. Prof Potgieter, Pieter, moderator Algemene Sinode van die NGK 1990-1994, 1998-2002 en aftrede professor in Dogmatiek Universiteit van die Vrystaat.
  13. Ds Smith, Jannie, NGK-predikant, De Bloem en lid van kerklike kommissies.
  14. Prof Strauss, Piet, professor in Kerkreg en Kerkgeskiedenis Universiteit van die Vrystaat, predikant NGK De Bloem en moderator van die NGK 2007-2011.
  15. Prof Strauss, Sybrand, NGK-lidmaat en afgetrede professor in Dogmatiek Universiteit van die Vrystaat en assessor NGK-sinode Vrystaat 1999-2003.
  16. Theron, Piet, NGK-lidmaat Onze Rust en afgetrede hoofredaksielid van Volksblad, en lid van kerklike kommissies.
  17. Genl Van der Merwe, Johan, NGK-lidmaat en algetrede SA Polisiekommisaris.
  18. Dr Van Wyk, Daan, NHKA predikant Wolmaransstad en voorsitter Algemene Kerkvergadering Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika.

Enkele afkortings wat in die dokument gebruik word:

  • AS: Algemene Sinode
  • ASM: Algemene Sinode Moderatuur
  • NGK: Nederduitse Gereformeerde Kerk
  • NGKA: Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika
  • VGKSA: Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika
  • RCA: Reformed Church in Africa
  • WVK: Waarheids- en Versoeningskommissie

VOORWOORD

Prof Pieter Potgieter

Daar is ‘n aanhoudende druk op kerkrade, ringe en sinodes is om vir eens en vir altyd die Belydenis van Belhar as vierde Belydenisskrif te aanvaar. Hierdie druk kom van kerklike kant af, maar ook vanuit die sekulêre pers. Die doel van die boek is om vir kerkmense geleentheid te gee om ook die ander kant te hoor.

UIT DIE HART VAN ‘N LIDMAAT

Piet Theron (Redakteur)

Hy sê dat hy as lidmaat ‘n bombardement van verhoë en kansels af en uit kerkvergaderings en die media verneem hoe sleg die NGK en die lidmate daarvan is omdat hulle nie Belhar wil aanvaar nie. Ons is as sondaars gebrandmerk.

Hy ervaar die VGKSA se houding en optrede van sekere NG-mense as liefdeloos jeens die NGK met ons trotse geskiedenis van naastediens oor grense heen. Hy maak ook melding van die VGKSA se hofsake teen NGKA om pastorië en kerk te beset, omdat hulle nie by die VGKSA wil aansluit nie. In die Vrystaat het 22 uit die 33 en in die Noord-Kaap het 70 uit 107 gemeentes verkies om in die NGKA te bly.

Die land pluk in ‘n sekere sin die vrugte van die wetteloosheid wat deur Belhar en sy aanhangers van stapel gestuur is: algehele verset teen gesag en wet en orde. Skynbaar is dit een van die oogmerke van die aanvalle op die Afrikaner: wis die Afrikaner, sy grootste kerk, taal en kultuur uit.

DIE BELYDENISBEWEGING TEEN APARTHEID

Prof Piet Strauss

Die name van dr Beyers Naude en dr Allan Boesak is hier sentraal. Boesak het sy doktorale proefskrif geskryf met die titel: Farewell to Innocence. Sy proefskrif adem die gees van ‘n swart bevydingsteologie, waarin hy swart met ‘n bepaalde kader van onderdrukwees vereenselwig. Hy verkry ‘n invloedryke posisie in die NGSK en word deel van ‘n radikale interkerklike groep, die NG Broederkring.

Boesak het saam met verskeie dosente aan die Universiteit van Wes-Kaapland die Belydenis van Belhar geskryf en dr Dirkie Smit het ‘n groot rol gespeel met die formulering en finale afwerking.

In 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in Ottowa Kanada plaasgevind. Boesak het daar ‘n prominente rol gespeel en uiteindelik het die ongehoorde ding gebeur dat twee kerke uit die WBGK geskors is: die NG Kerk en die Ned Herv Kerk, weens die kerke se vereenselwiging met apartheid.

Die artikel gaan verder oor die bevrydingsteologie. Gutiérrez ‘n invloedryke priester van Peru het bv gesê dat die evangelie van Christus vereis dat die kerk, mense op ‘n aktiewe manier uit hul armoede en verdrukking moet bevry, selfs met geweld.

Naas Belhar het daar ook in hierdie tyd die Kairos-dokument en The Road to Damaskus verskyn wat meer pertinent opstand teen owerheids instellings gepropageer het. The Road to Damaskus wil die Weste in die beskuldigdebank plaas oor die armoede van die Ooste. Suid-Afrikaners wat hierdie dokument geteken het is: L.A. Appies en VB. Appollis, dr Allan Boesak, proff. Russel Botman. C.D Cloete, J.J.F. Durand en D.J Smit (laasgenoemde twee is die opstellers van Belhar. Ander geestelikes sluit in dr. Beyers Naude, eerw Chikane, J Kinghorn, J.N.J. Kritzinger, B.C.Lategan en C. Lombaard.

Strauss sê die apartheidboek is toegemaak, ook wat die kerk betref. Die NGK het reeds in 1990 op die kerkberaad in Rustenburg verskoning en vergifnis gevra vir hulle rol in die apartheidsjare. As protesgeskrif het Belhar ‘n doel gedien en die rakleeftyd daarvan het sedertdien verstryk. Belhar het nou ‘n struikelblok geword in die NG Kerk se strewe na kerkeenheid.

BELHAR EN DIE REWOLUSIONÊRE AANSLAG

Genl Johan van der Merwe

Hy sê in Sechaba, amptelike mondstuk van de ANC/SAKP-alliansie wat gedurencle 1978 verskyn het is die alliansie se doelstellings as volg verwoord:

"The Freedom Charter lays a basis and is a pre-condition for further development and radicalisation of our revolution, its implementation will pre-suppose and demand the destruction of of the white racist regime and the abolition of national, cultural, religious and language previleges of whites over blacks.”

Op 13 Mei 1961 het die ANC/SAKP-alliansie besluit om tot geweld oor te gaan en op 16 Desember 1961 is Umkhonto weSizwe (MK) hul militêre vleuel, amptelik gestig. .

Daarna het protesoptogte, sabotasie en moorde op burgerikes gevolg. Enkele predikante van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) het in 1963 onder leiding van dr Beyers Naude, die Christelike Instituut (Cl) van Suid,Afrika gestig. Die doelstellings was om geld van Europese en later ook Amerikaanse kerke te bekom om die bedrywighede van die radikale organisasies te finansier. Die regering het die CI in 1977 weens radikale bedrywighede onwettig verklaar.

Boesak, visiepresident van die SARK asook voorsitter van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en Naude sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ‘n leidende rol in die bedrywighede van die SARK in SA gespeel.

Die ANC/SAKP alliansie het besef ‘n sentrale liggaam is nodig om die massas te mobiliseer en terselfdertyd ‘n kleed van geregtigheid oor hulle afgryslike terreurdade te trek.

Oliver Tambo president van die ANC het verklaar: “The church that the opressed people of our country demand is one that openly, publicly and actively fights for the political, economic and social liberation of man, as part of the world forces engaged in the process of bringing into being a new world order.”

Hy het ook gesê:

“When those who worshipped Christ shall have, in pursuit of peace taken up arms against those who hold the majority in subjection by force of arms, then shall it truly by said of such worshippers also: ‘blessed are the peacemakers, for they shall be called the sons of God’,”

Dit is opvallend dat pogings om Belhar tot stand te bring in 1982 begin het in dieselfde tydperk toe beplanning gedoen is om ‘n organisasie op die been te bring wat die massas teen die regering kon mobiliseer. In 1983 is die UDF gestig waarin Boesak, Naude en ander geestelike leiers ‘n leidende rol gespeel het. Die oogmerk van die UDF was om die massas te mobiliseer om grootskaalse burgerlike ongehoorsaamheid en verset aan te wakker om die destydse regering tot ‘n val te bring. Hierdie optrede het bykans sonder uitsondering op geweld uitgeloop.

Boesak se naam spring oral na vore in die belangrike kerklike gebeure van daardie tyd. Hy het die Wêreldbond van Geref Kerke in 1982 oorreed om apartheid tot ‘n “pseudo-evangelie”, ‘n sonde en kettery te verklaar. Hy is toe verkies as voorsitter van die WBGK en die NGK en die NHK is geskors uit die WBGK. In dieselfde jaar het die NGSK se sinode plaasgevind waar besluit is om ‘n nuwe belydenis op te stel. Daar was ernstige tweespalt en aanduidings van ‘n verborge agenda. ‘n Drukgroep onder leiding van Boesak het ‘n toonaangewende rol gespeel. Boesak het dieselfde strategie gevolg waarmee hy die WBGK oorreed het om apartheid tot ‘n kettery te verklaar.

‘n Voorstel onder Boesak se leiding dat apartheid sonde is, is deur die sinode aanvaar en die sinode het daarop besluit dat ‘n belydenisskrif opgestel moet word om aan die besluit gestalte te gee.

Boesak het te midde van die onrus en geweld steeds voorgegee dat hy ten gunste van vreedsame verset is, maar sy dade het sy woorde verswelg. Suid-Afrika het die wrange vrugte gepluk van ‘n kerk wat die bevrydings en swart-teologie deel van die rewolusie gemaak het. Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-aangeleenthede (SAIRR) is 3699 mense in 1990 alleen in die politieke magstryd vermoor. John Kane-Berman van die SAIRR het ‘n verklaring uitgereik waarin hy gesê het: “Christian leadership in South Africa has helped to legitimate violence as an instrument of liberation” en ook “black people in the townships are reaping a whirlwind of violence that churches have helped to sow.”

Wanneer daar oor Belhar gepraat word, word nooit ‘n enkele woord oor die ongeregtighede en gruweldade van die ANC/SAKP-alliansie gerep word nie. Dit skep die indruk dat skuldgevoelens oop apartheid steeds die deurslaggewende faktor is wanneer dié belydenisskrif beoordeel word. Voortdurende propaganda deur die ANC-regering met invloed deur die media het meegebring dat die feite van die verlede nou deur die persepsies van die hede verdring is. Mense word blykbaar aan hulle neus gelei deur teoloë wat sterk onder die invloed van die bevrydings- en swart teologie is.

Flagrante leuens wat tydens die verhore van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) oor skending van menseregte oor die veiligheidstak van die Polisiemag vertel is, is die wêreld ingestuur. Tutu en die politikus en teoloog Alex Borraine wat onderskeidelik as voorsitter en adjunk voorsitter van die WVK opgetree het, het die verigtinge so gemanimuleer dat die riglyne telkens omseil is. Die leuens wat so opgedis is, het veral onkundige en goedgelowige predikante mislei. Hulle het weer onkundige lidmate beïnvloed.

Belhar is onlosmaaklik in die ongeregtighede van die verlede verstrengel. Daar is maar min twyfel dat dié belydenisskrif self ‘n rol gespeel het om die ongeregtighede te bevorder. Dit is vir my moeilik om te begryp hoe leidende teoloë die standpunt kan huldig dat Belhar noodsaaklik vir die kerk is om die ongeregtighede van die hede te beveg.

BELHAR IS TIEN MAAL ANDERS

Ds Theo Danzfuss

Hy sê ons aanvaar en respekteer Belhar as die VGKSA sin, maar omdat Belhar in baie opsigte heeltemaal anders is as ons ander belydenisskrifte is dit vir ons totaal onmoontlik om dit "met hart en mond" te bely soos die inleidingswoorde van die Ned Geloofsbelydenis dit stel.

  1. Belhar wil iets anders sê. Dit gaan oor ‘n nuwe teologie wat die NGK in die plek van apartheid moet aanvaar. Dit gaan oor ‘n humanistiese godsdiens. Dit gaan oor gelykheid op alle vlakke.
  2. Belhar verstaan ‘n belydenis anders. ‘n Belydenisskrif is nie ‘n paar mooi gedagtes wat met ‘n sousie van ‘n paar teksverwysings toegesmeer kan word nie.
  3. Belhar ly aan teologiese skisofrenie. Belhar is ‘n poging om ‘n skisofeniese huwelik aan te gaan tussen die gereformeerde kerke en die bevrydingsteologie.
  4. Belhar het sy oorsprong in die bevrydingsteologie. Die skrywers van Belhar het ‘n opdrag gehad om iets tot stand te bring wat apartheid as ketterse dwaling en afgodsdiens veroordeel.
  5. Belhar plaas die antitese op die verkeerde plek. In die Rooms-Katolieke teologie is die antitese, natuur en genade. By die gereformeerde teologie is dit sonde en genade en by Belhar gaan dit oor ryk en arm.
  6. Belhar vul Bybelse woorde met vreemde inhoud. Dit gaan oor sigbare kerkformasie ten koste van eenheid in waarheid en liefde.
  7. Belhar het ‘n ander Skrifgebruik. Die gelykenis van die ryk man en Lasarus word bv gebruik om te bewys dat God op ‘n besondere manier die God van die armes en die verdruktes is.
  8. Belhar skiet van die heup af. In die begeleidende brief van Belhar word verklaar: “Ons spreek hierdie belydenis nie uit teen spesifieke mense of groepe mense of ‘n kerk of kerke uit nie. Ons spreek hierdie belydenis uit teen ‘n valse leer…” Dit is nie waar nie. Belhar was eerstens direk teen die NGK opgestel.
  9. Belhar het die potensiaal om baie vreemde dinge te sê. Boesak het bv wêreldwyd opslae gemaak toe hy Belhar gebruik het om die regte van homoseksueles van die kansel af te bepleit.
  10. Belhar dra die kiem van verdeeldheid. Belhar is een van die grootste verdelingsfaktore in die NG Kerk.

TEOLOGIESE BEOORDELING VAN BELHAR

Prof Sybrand Strauss

Belhar is opsigself genome nie met die Drie Formuliere van Eenheid in stryd nie, maar die punt is dat geen teks buite konteks gelees kan word nie. Na aanleiding van hierdie feit beoordeel hy Belhar aan die hand van:

  • Ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof
  • Sigbare kerkeenheid
  • Horisontale versoening
  • Sosiale geregtigheid

BELHAR: NIE AS BELYDENISSKRIF NIE

Prof Johan Janse van Rensburg

Aan die hand van hierdie onderwerp skryf hy oor:

  • Belhar en die Bybel
  • Die aard van ‘n belydenisskrif
  • Belydenis of getuienis. Die NGK het ook derglike dokumente soos: Kerk en Samelewing en So Glo Ons uitgereik, maar niemand het ooit daaraan gedink om dit tot ‘n belydenisskrif te verhef nie. Hy verwys ook na die Barmen verklaring in Duitsland. Almal was eietydse getuienisse en nie belydenisskrifte nie.
  • Formulering van ‘n belydenisskrif.
  • ‘n Belydenisskrif moet vry van politieke dienstigheid wees.
  • Morele hoëgrond. Prof Piet Naude het bv gesê dis ongehoorsaamheid aan die stem van die Here wat maak dat ons na ‘n kwarteeu nie wil bely nie.
  • Mense wat teen Belhar is, word beskou as mense wat teen kerkeenheid is.
  • Die ondertekening van belydenisskrifte. Hy vra die vraag of ‘n kerk ‘n belydenisskrif kan hê wat nie deur almal onderteken hoef te word nie.
  • ‘n Belydenis moet mense verenig. In ‘n meningspeiling het die meerderheid lidmate van die NGK hulle teen Belhar as belydenis uitgespreek.
  • Belhar en die liefde. Die liefde is in baie gevalle hier deur die belangrikheid van Belhar ingehaal.

Kyk ook Voordrag voor die buitengewone vergadering van die Vrystaatse Sinode.

GEMEET AAN DIE DRIE FORMULIERE VAN EENHEID

Prof Dries du Plooy

Die temas wat hier aangeraak word is:

  • Twee groot redes waarom Belhar aandag behoort te geniet. Dit raak die eenheid binne die NGK-familie, maar later ook alle gereformeerde kerke wat dieselfde of verwante belydenisskrifte handhaaf.
  • Die realiteit van die belydenis van Belhar.
  • ‘n Kritiese evaluering.
  • Slotsom: Belhar beantwoord nie aan die eiesoortige vereistes van ‘n gereformeerde konfessie nie.

HOE GESLAAG IS DIE KERNWAARHEDE

Prof Piet Strauss

Prof Strauss ondersteun die sinodale besluite dat Belhar deel gemaak word van die belydenisgrondslag van ‘n verenigde NGK-familie. Hy wil egter persoonlik die ruimte en die reg hê om Belhar nie as belydenisskrif te aanvaar nie.

Daar is ‘n oorverhitte klimaat van venynige aggressie. Strauss het hom persoonlik vasgeloop in die soort aggressie toe hy in 2008 ‘n groeteboodskap van die NGK by die sinode van die VGKSA moes oordra. Die venyn in woord en stemtoon van verskeie afgevaardigdes was vir hom ‘n kerklike laagtepunt. Op die voorpunt van die aanvalle was van die leiers van die VGKSA. Belhar was nou skielik weer ‘n voorwaarde vir kerkeenheid. Dit was ‘n verandering van die ooreenkoms wat in 2006 by Esselenpark bereik is dat die VGKSA Belhar nie langer as voorwaarde vir kerkeenheid beskou nie.

Die hoofsake waaroor Belhar gaan is die Bybelse begrip van eenheid, geregtigheid en versoening. Dit is kernwaarhede van die Skrif in ons aanvaarding van Belhar as belydenis.

  • Geloofsbelydenisse gaan oor kernwaarhede. Ons kan ook praat van essensiële waarhede.
  • Resente gereformeerde teoloë sluit hierby aan. Strauss noem hier die name van proff. Johan Heyns, Adriaan Pont en Dirkie Smit.
  • Slaag Belhar in sy formulering van kernwaarhede van die geloof? Kerkeenheid, die versoening in Christus met mekaar en die geregtigheid is kernsake van ons Christelike geloof. Daar is egter ‘n vraag of Belhar in sy formuleringe teen die Suid-Afrikaanse agtergrond van die 1980’s by kernaspekte van kerkeenheid geregtigheid en versoening bly.
  • Twee sake kom hier onder skoot.

Die eerste is Belhar se negatiewe verwysing na “aparte kerkformasie”. Die VGKSA beskou ‘n federale raad as ‘n “verwerplike apartheidstruktuur”. Selfs ‘n bykomende algemene sinode waarin die bestaande sinodes van die NGK-familie verenig word, word deur hulle in dieselfde lig beskou.

‘n Tweede saak is Belhar se verwysing na “gedwonge skeiding van mense op grond van ras”. Die saak waaroor dir hier gaan is die Suid-Afrikaanse rassebeleid van voor 1994.

  • Gevolgtrekking. Dit is duidelik dat Belhar in die formulerings nie by kernsake van die Christelike geloof bly nie. Alles rakende die NGK en die Suid-Afrikaanse staatsbestel van voor 1994 – die ontstaansjaar van die VGKSA – word skynbaar as vorms van apartheid beskou. Vir die VGKSA is die die aanvaarding van Belhar kerklik gesproke die lakmoestoets of die NGK apartheid verwerp en die VGKSA as gelyke kerklike vennoot aanvaar.

‘N NOODSAAKLIKE GETUIENIS, ‘N GEBREKKIGE BELYDENIS

Prof John Bolt

Die twintigste een sal altyd bekendstaan as die eeu van bloedgebaseerde geweld en volksmoorde. Bolt verwys na die Turkse slagting van Armeniërs in 1915-18, Joego-Slawië, Stalin in Rusland, Rwanda, die Joodse volksmoord deur die Nazi’s, die kulturele revolusie in China, Kambodja, ens. Die wêreld het ‘n evangeliewoord nodig wat bloedsondes verdoem en ‘n pad aanwys na genesing, versoening en eenheid.

Belhar gebore uit die rassekonflik van Suid-Afrikaanse apartheid hou die belofte in van ‘n duidelike antwoord op rassebotsings en bloedvergieting. Vergifnis speel ‘n belangrike rol om versoening en eenheid te bewerkstellig.

Daar is merkwaardige voorbeelde van indiwidue se vergifnis. Nelson Mandela staan hier uit. Die Waarheid-en-versoeningskommissie was ook ‘n poging om oorwinnaarsgeregtigheid te vermy.

Die toon van vergifnis deur die krag van Christus skitter egter in sy afwesigheid in Belhar. Kerklike belydenisse is ‘n verklaring van evangeliese waarheid aan die wêreld. Hulle is nie daar om die onreg van die verlede reg te stel, ‘n inklusiewe klimaat te skep of derglike terapeutiese doelwitte na te streef nie.

Belhar dring nie langs die weg van berou en vergifnis deur na die kern van versoening nie. Die praktiese gevolg is dat ons vasgevang word in die dualismes van onderdrukker en verdrukte, boosdoener en slagoffer, ryk en arm, swart en wit, sonder ‘n uitweg waardeur ons bo hierdie kategorië kan uitstyg. Dit is veral gevaarlik wanneer ‘n verskuiwing plaasvind soos in Sui-Afrika, waar die magtige blanke gemeenskap sy mag prysgegee en die grens oorgesteek het.

Ek kan my weens Bybels-teologiese en belydenisredes nie met die belydenis (van Belhar) vereenselwig nie. Ek glo dat die wêreld steeds wag op ‘n evangeliewoord van die kerk wat die vinger op sonde lê en dit veroordeel en wat die weg aanwys na genesing, versoening en eenheid.

STANDPUNT OOR DIE BELYDENIS VAN BELHAR

Kovilan Moodley

Onder leiding van die teoloog dr Allan Boesak het die NGSK ‘n dokument opgestel wat besondere klem lê op die kwessies van geregtigheid, versoening en eenheid. Die Reformed Church in Africa het ‘n vertaling van die dokument onvang en het besluit om die Belydenis van Belhar voorwaardelik te aanvaar. Ons voorbehoud en versoek by die voorwaardelike aanvaarding is dat die belydenisskrif nie ‘n verpligte en bindende belydenisskrif vir die eenheid en vir die lidmate en predikante van die RCA moet word tydens vereniging nie.

Na ons mening behandel Belhar ‘n maatskaplike euwel en ideologie in ‘n sosiale en politieke konteks. Ons glo dit hoort tot geskrifte soos die Verklaring van Barmen wat handel oor soortgelyke euwels.

Moodley het ‘n probleem met Belhar se ingesteldheid op ‘n sosiale evangelie. Hy wys daarop daar elke 10 sekondes 15 mense wêreldwys sterf. Die tragedie is dat 11 van die 15 mense sterf sonder dat hulle Jesus as Heer en Saligmaker ken. Belhar skiet ver tekort in sy proklamasiegetuienis aan die wêreld. Dit moedig sy lesers trouens nie aan om om die evangelieboodskap aktief te verkondig soos die ander belydenisskrifte nie.

KERKLIKE REAKSIE IN DIE EKUMENE

Prof Dries du Plooy

Prof du Plooy wys daarop dat die meningsverskil oor Belhar nie net beperk is tot die NGK-familie nie, maar ook buite die familie is daar uiteenlopende standpunte daaroor.

Die Gereformeerde Ekumeniese Raad het geen besluit oor Belhar geneem nie, omdat die VGKSA uit die GER onttrek het. Dit blyk dat ander Gereformeerde kerke in die wêreld ook skepties is daaroor om Belhar as ‘n vierde belydenisskrif te aanvaar.

Prof Koos Vorster van Potchefstroom sê dit is ‘n aantasting van die ekumenisiteit van die kerk wanneer een kerk (VGKSA) ‘n konfessie alleen en eensydig formuleer en dit beskou as die finale woord waarby ander kerke sonder enige inspraak of geleentheid vir kritiek en kommentaar behoort in te val.

BELHAR: VERWOESTENDE PAD DEUR DIE NGKA

Dr Sarel Corrie

Die NGKA is die enigste kerk ter wêreld wat die Belydenis van Belhar vyf jaar lank gehad het en dit toe verwerp het.

Voor 1986

Die NGSK het in 1982 die status confessionis afgekondig en besluit om die belydenis van Belhar vier jaar lank onder hulle gemeentes te sirkuleer. In daardie tyd het die NGSK nie een keer die NGKA amptelik genader om die belydenis saam met hulle te bespreek of krities te ontleed nie. Die boodskap was vir die NGKA duidelik: Die NGSK het Belhar as eksklusiewe dokument vir hulle Kairos-moment beskou. Dit was hulle eie oomblik van beslissing, oomblik van waarheid vir die kerk.

Na 1986

In 1987 het die Alg Sinode van die NGKA besluit om Belhar nie as vierde belydenisskrif te aanvaar nie. Die NGKA het gesê dat “gesindheid” belangrik is as daar oor kerkeenheid onderhandel word.

Algemene Sinodes van 1990 en 1991

In 1990 is ‘n buitengewone sitting van die Alg Sinode (NGSK en NGKA) in Kaapstad gehou. Dr Beyers Naude het die verrigtinge oor kerkeenwording gelei. Dit was duidelik dat die Moderatuur dit so beplan het dat kerkvereniging met die NGSK dadelik plaasvind. Daar was emosionele toesprake deur die Moderator en Moderatuurslede en selfs van besoekers, wat deeglik uitgesoek is. Daar is sonder voorafkennisgewing besluit om die kerkorde te verander en die Belydenis van Belhar is ook goedgekeur. Sam Buti het die beswaardes laat verstaan dat hulle met die proses voortgaan. Dit was asof hulle reeds besluit het en die Sinode moes net daarby inval. Buti se ergste persoonlike aanvalle was gerig teen blanke sendelinge (soos Buti hulle genoem het) en ‘n vorige moderator ds MJ Lebone. Dr Nico Smith, teoloog en apartheidsaktivis, het veral die blanke leraars in die NGKA, by name ds Nico Basson wat toe reeds afgetree het, en Lebone uitgesonder as diegene wat die NGKA as ‘n apartheidskerk wou hou.

Die ASK het besef dat die kerkordelike proses in 1990 nie heeltemaal korrek verloop het nie. Weens besware is besluit om weer ‘n AS sitting te hou en wel in 1991 in Pretoria. Dit was weer ‘n baie onsmaaklik geleentheid. Die afgevaardigdes van Swaziland (blankes) se sittingsreg is summier opgeskort. Die nydigheid van die moderatuur sal nog lank onthou word. Die notule was chaoties omdat die moderatuur dit self heelwat verander het. Dit is nooit gefinaliseer nie. In 1996 is die besluite in die hof aangehoor en regter Dries van Coller het verklaar dat die wysigings van die kerkorde ultra vires was.

In 1994, die jaar van die nuwe politieke bestel het die NGSK ‘n Sinode geskeduleer. Die Moderatuur van die NGKA het nie ‘n oop kommunikasielyn met die gemeentes gevolg nie, daarom was die meeste nie ingelig oor die drastiese besluite wat sou kom nie. Daar is niks gerep van ‘n stigtingsinode van die VGKSA nie. Al die afgevaardigdes se koste is ten volle betaal. Hulle is per vliegtuig na Kaapstad toe gebring, waar hulle in ‘n hotel tuisgegaan het. Die brief het gemeld dat die sakelyste by hulle aankoms beskikbaar gestel sou word.

Op die aand van 13 April het die afgevaardigdes van die NGKA ‘n afsonderlike vergadering gehad. Besware teen die stigting van die VGKSA het begin instroom. Die volgende dag is die VGKSA in die teenwoordigheid van buitelandse kerke en ‘n groot kontingent van die pers gestig.

Dit was vir die beswaardes duidelik die Moderatuur het dit so uitgewerk dat geen besware bespreek sou word nie. Toe die afgevaardigdes van Phororo en ander afgevaardigdes besef hulle besware gaan nie aangehoor en bespreek word nie het hulle die Vrydagoggend summier teruggekeer huistoe. Die nuutverkose skriba van die VGKSA het so min van die besware gedink dat hy dit nie eens genotuleer het nie. In die bespreking van die VGKSA is Belhar as vierde belydenisskrif aanvaar. Art 2 lui:

“Die kerk aanvaar die belydenis van Belhar soos dit tans van hom in die Suider-Afrikaanse situasie vereis word”.

Art 4 van die nuwe kerkorde is ook in pas met Belhar gebring. Dit beskryf die gemeente se verantwoordelikheid as volg:

“.... diens aan die mensheid en die wêreld wat daarin bestaan om God se versoenende en bevrydende handelinge in en vir die wêreld te verkondig: om God wat op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is .... by te staan, te getuig en te stry teen enige vorme van ongeregtigheid .... te getuig teenoor alle maghebbers ... en instansies wat uit selfsug hulle eie belang soek en oor andere beskik en hulle benadeel.”

Die politieke bestel waarteen Belhar gemik was sou oor minder as ‘n week dramaties verander en apartheid sou verdwyn.

Besluite van die NGKA na 1994

Phororo het hulle weens ‘n besluit in 1991 nie as gebonde aan die VGKSA beskou nie en voortgegaan om as NGKA op te tree. Hulle Sinode het eenparig besluit om aansoek te doen by die NGK Noordkaapland om in ringsverband toegelaat te word. Die moderamen van die NGK het die Noord-Kaapland Sinode versoek om nie met die uitvoering van die besluit voort te gaan nie, aangesien dit hulle verhoudings met die VGKSA ernstig in gevaar sou stel.

In die Vrystaat het ‘n groot stryd gewoed tussen diegene wat na die VGKSA wou gaan en die wat in die NGKA wou bly. Nadat die VGKSA die beswaardes nie kon oortuig om deel van die VGKSA te word nie is hulle met regstappe gedreig.

Op 25 September het die Sinodes van die Vrystaat en Phororo ‘n AS gehou. Daar is eenparig besluit om die kerkorde reg te stel na die bewoording van 1987 en Belhar is uit die belydenisbasis van die kerk verwyder.

Die VGKSA het toe begin met ‘n hofsaak teen die NGKA-gemeentes. Die hof moes verklaar dat die NGKA opgehou het om te bestaan en alle eiendomme na die VGKSA oorgedra moes word. Op 5 September 1996 is uitspraak in die guns van die VGKSA gelewer. In ‘n appèlsaak op 6 en 7 November 1998 in Bloemfontein het regter Viviers in sy uitspraak gesê dat al die besluite wat ten opsigte van vereniging in 1991 geneem is (insluitende die aanvaarding van van Belhar-belydenis) ultra vires en dus ongeldig is.

Ondanks die uitspraak het die VGKSA die gemeentes per skrywe ingelig om alles in hulle vermoë te doen om die eiendomme te behou.

Die NGKA het in 2007 besluit dat die gesprek moet voortgaan om helderheid te kry oor die geloof wat ons bely. Die versoek is nie deur die VGKSA of die NGK aanvaar nie. Dit lyk of die VGKSA en die NGK weer soos by Esselenpark, sonder die NGKA en die RCA die gesprek oor Belhar wil voer.

IMPLIKASIES VIR DIE NGK EN DIE HERVORMDE KERK

Dr Daan van Wyk

In gesprekke by die Tussenkerklike Raad (TKR) het hy telkens onder die indruk gekom van die diep emosie by voor- en teenstanders van die Belydenis van Belhar. Die NHK het nie enige uitsprake gelewer oor Belhar nie en dit is nie êrens by hulle op enige sakelys nie.

Verhouding tussen die NHK en NGK

Die verhouding tussen die twee kerke is die produk van dekades se gesprekke oor eenheid, eenwording en samewerking. Daar is ‘n onderskeid tussen eenheid en eenwording.

Die twee kerke stel dit duidelik dat kerkeenheid reeds sigbaar is waar die twee kerke:

  • Mekaar se lidmaatskap erken
  • Belydende lidmate onderling in albei kerke nagmaal mag gebruik.
  • Belydende lidmate hulle kinders onderling volgens ooreenkoms ten doop mag bring.
  • Gesamentlik hulle teologiese studente oplei.
  • Kanselruiling mag plaasvind
  • Beroeping van predikante uit albei kerke toelaat onderhewig aan kerkordelike reëlings.

Hierdie eenheid is slegs moontlik waar die betrokke kerke op dieselfde belydenisgrondslag staan.

Belhar is ‘n belaste dokument.

Daar is bedenkinge dat Belhar sinoniem is met die sg struggle en trekke van die rewolusie vertoon.

Belhar word ook gekoppel aan die persoon van die teoloog Allan Boesak. Uit gesprekke by die TKR het dit geblyk dat Boesak Belhar gebruik het om sy eie belange te bestendig en te bou.

Die NHK bly by sy standpunt dat die WBGK in 1982 van ‘n etiese kwessie ‘n belydenissaak gemaak het toe ‘n status confessionis (onder leiding van Boesak) afgekondig is.

Besinning oor Belhar kom vir die NHK op ‘n uiters ongeleë tyd. Daar is diepgaande gesprek en selfs stryd oor apartheid en die verlede. Kerke en gelowiges moet nie noodwendig verwyt word omdat hulle nie die bagasie kan afskud nie.

BRUG OF BRES? BELHAR TUSSEN TEOLOGIE EN IDEOLOGIE

Dr Danie Langner

Belhar is oorspronklik in Afrikaans geskryf omdat dit vir die Afrikaanse gemeenskappe iets wil getuig oor sake soos armoede en ongelykheid. Onderliggend aan hierdie getuienis lê die spanningslyn van die ideologiese stryd tussen Afrikaner- en Afrika-nasionalisme. Wat aan die einde van die 20e eeu met geweld teen mekaar opgestaan het.

In die bres teen apartheid

Toe die Nasionale Party in 1948 gepoog het om die voortbestaan van die Afrikaner te verseker deur die toepassing van apartheid, kon dit terugval op beginsels van die sendingbeleid wat reeds deur die NGK in praktyk uitgewerk is. Die maatskaplike onreg en die etiese onhoudbaarheid van apartheid het egter aan die verdedigers daarvan verbygegaan.

Die beleidmakers van die NGK het dit as hulle taak gesien on die NP te ondersteun in die rigiede strukturering van die hoogs ingewikkelde Suid-Afrikaanse samelewing. Waarskuwende stemme is geïgnoreer. Apartheid is onkrities in dogmatiese taal as Bybels geregverdig. Dié soort skrifgebruik het daartoe gelei dat die NGK toenemend ekumenies geïsoleerd geraak het. Dit is juis teen die soort Skrifgebruik waarteen die Belhar-belydenis met ‘n profetiese woord wou opstaan.

Die NGSK het onder leiding van teoloë soos Willie Jonker, Jaap Durand en David Bosch aansluiting gevind by Duitse teoloë soos, Barth, Bonhoeffer, Moltmann en by die Barmen verklaring. Allan Boesak het hier ‘n belangrike rol gespeel. Boesak se Godsbeeld is dié van ‘n swart Messias. Hy het gesê: “The only authentic confession in our age is the confession of Jesus Christ as the Black Messiah. The Jesus of the NT presented to us is one that identifies Him to a remarkable degree with the black experience, because he was poor."

Die bevrydingsteologie het die hermeneutiese sleutel geword vir die NGSK se Skrifgebruik en dit het neerslag gevind in die Belydenis van Belhar. Dit is ironies dat die Belhar-belydenis in die stryd teen die een vorm van ideologie self so teologies-ideologies verstrengel geraak het in die greep van ‘n ander teologie.

‘n Brug na versoening?

In 1986 is Kerk en Samelewing deur die Alg Sinode van die NGK aanvaar. Hierin het die NGK vir die eerste keer amptelik erken dat die “die hantering van apartheid ... nie op Christelike etiese gronde aanvaar kan word nie.” Kerk en Samelewing het ‘n meer gebalanseerde uitspraak gemaak oor Belhar se bewoording: “God van die armes”. Proff Willie Jonker en Pieter Potgieter het in 1998 op grond van Kerk en Samelewing verkoning gevra vir apartheid. Die Alg Sinode het in 1994 vir pres Nelson Mandela staande toegesing met Ps 134 se “Laat Heer U seën op hom daal”.

Daar het egter ‘n ander inkwisisie onder leiding van ‘n ander eksponent van die bevrydingsteologie, aartsbiskop Desmond Tutu, die SA toneel betree. Namate die WVK se verhore voortgegaan het om die gruwels van apartheid te ontmasker, is apologië gesoek en geeïs, sondaars uitgesnuffel en die verlede met eietydse inbeeldings oorvereenvoudig en veralgemeen. Afrikaners het ervaar hulle word in die proses gedemoniseer, terwyl ‘n geromantiseerde beeld van die struggle geskep is.

‘n Direkte gevolg van die WVK proses was dat die skuld-slagoffer benadering tot die SA vraagstukke patologies geword het. Hierdie patologie het ook die debatte oor Belhar gekenmerk. In die Kerkbode het die het die refrein weerklink: “Ons blanke Christene is skuldig aan dit waarvan Belhar getuig ... Deur Belhar te aanvaar erken ons dat ons verkeerd was en vergifnis nodig het”.

Selfs die sanger Steve Hofmeyr het in ‘n brief aan die media na die “Belharse verwarring” verwys.

In die tyd van Thabo Mbeki het ‘n nuwe, stille armoede die SA landskap binnegesluip. ‘n Nuwe armoede onder wit Suid-Afrikaners was te wyte aan faktore soos regstellende aksie se invloed op indiensneming, transformasie van die staatsdiens, die ineenstorting van maatskaplike dienste en ideologiese persepsies wat hulp aan arm wittes belemmer. Armoede onder Afrikaners is waarskynlik die enigste armoede in die wêreld wat nie polities korrek is om oor te praat nie.

Miskien sal Belhar dan vir arm Afrikaners geloofwaardig wees.

Op morele vlak het die Belhar-belydenis nie daarin geslaag om bo die ontstaansgeskiedenis daarvan uit te styg en onder ‘n nuwe regering, leiding aan armes, verontregtes en noodlydendes te bied nie. Die rede waarom Belhar in hierdie opsig gefaal het is juis omdat rewolusie en stryd aan die wortel van bevrydingsteologië en-ideologië lê.

Ten slotte

Die NGK-familie het al die kundigheid, finansiële vermoëns en kreatiwiteit om ‘n wesentlike bydra tot positiewe oplossings vir armoedebestyding te lewer. Die NGK het duur lesse geleer in gehoorsaamheid, tewyl ‘n nuwe bereidwilligheid tot diensbaarheid in talle gemeentes sigbaar is.

Dit bly egter ‘n ope vraag of die Belhar-belydenis deel moet wees van die belydenisgrondslag van ‘n nuwe kerkverband. Belhar het ‘n problematiese historiese agtergrond wat onder meer tot gevolg het dat Afrikaners hulleself as gedemoniseer en daarom as uitgesluit ervaar, juis die teendeel van wat ‘n belydenisskrif wil bereik.

BELHAR OOR KERKEENHEID: IN DIE LIG VAN DIE SKRIF EN DIE GESKIEDENIS

Dr Bertus Cilliers

In hierdie artikel word gewys op die feit dat dit ten diepste gaan oor eenheid van geloof en nie so seer oor ‘n oorkoepelende organisasie wat gemeentes aan mekaar verbind nie.

In die NT is die kerk veral uitgeken aan hulle gedeelde belydenis dat Jesus die Here is. Hulle lojaliteit aan die gekruisigde en opgestane Here was oral sigbaar.

In die Dortse kerkorde van 1619 is voorsiening gemaak vir ‘n afsonderlike klassis vir die Franssprekende gemeentes in die oorwegend Nederlandssprekende Nederlandse kerk.

Gereformeerde kerke uit uit verskillende lande, ten spyte van die feit dat hulle dieselfde belydenis en kerkregtelike denkwyse deel staan vandag slegs in ekumeniese verband met mekaar. Hulle vind hulle eenheid in hulle gedeelde geloof en nie in een struktuur nie.

Belhar gaan verder as die Skrif, as die die sigbaarmaking van kerkeenheid gelykgestel word aan een kerkverband.

BELHAR IN DIE PLAASLIKE KERK

Ds Jannie Smith

Daar is soveel oor Belhar gepraat en geskryf dat dit die indruk skep dat dit nie op sy eie bene kan staan nie. Lidmate moet nie met motiveringsgesprekke oortuig word van ‘n belydenisskrif nie. Dit moet uit die hart kom. Al die ander belydenisskrite was van meet af aan die stem van die gelowiges.

Belhar word egter deur die lidmate beleef as die spreekwoordelike stok waarmee die lidmate en die gemeente bygekom word – om nog ‘n laaste hou teen hulle in te kry. Andersdenkendes mag nie dink en vrae opper nie. Dit word alles afgewys as die “ou regime”.

Daar word natuurlik ook gevra wat geword het van vorige gesprekke waar onderhandel of ooreengekom is op ‘n moontlike “federale” verband wat ruimte maak vir meer of verskillende belydenisskrifte, terwyl daar tog in ‘n eenheidsband saam geleef en geglo kon word. Nou wonder lidmate: Is eenheid met net een van die gespreksgenote dan die enigste saak van belang? Is die VGKSA dan die enigste kerk wat die Lig gesien het, of is hulle dalk net astrant en vermakerig oor die saak? Waarom moet almal dan voor die wil van een buig?

Oor God wat aan die kant die onderdruktes is: Sou die vorige “onderdruktes” wat nou skielik die bevoorregtes is daarvan wou hoor dat God nie meer aan hulle kant is nie. Kan ons regtig vir God so voorskryf aan wie se kant Hy wanneer moet speel? Is dit die doel van ‘n belydenisskrif? Is dit nie eerder manipulasie as belydenis nie?

BELHAR: KERKREGTELIKE OORWEGINGS IN DIE NGK

Prof Pieter Coertzen

Prof Coertzen begin met Joh 17:21 en met die Heidelbergse Kategismus Sondag 21.

Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof, van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.

Vraag: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Eerstens dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met Christus gemeenskap het en aan al sy skatte en gawes deel het. Tweedens dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Wie van ons kan eerlik voor die Here sê dat ons as lidmate en kerke die gawes wat ons van die Here ontvang het gewillig en vreugdevol tot nut en saligheid van die ander lede van Christus se kerk aanwend? Die vraag is of die AS se besluit oor aanvaarding van die Belydenis van Belhar deur die NGK die aangewese weg is om die begeerde eenheid te bewerkstellig.

Coertzen bevraagteken die geldigheid van die AS se “besluit” om Belhar op kerkordelike wyse deel van die NGK se belydenisgrondslag te maak. Die kerkorde bepaal baie duidelik: “Die wysiging van die belydenis kan alleen geskied nadat elke sinode afsonderlik en twee derdes van alle kerkrade elk met ‘n tweederdemeerderheidstem ten gunste daarvan besluit het”. Eers “nadat” dit alles gebeur het sê Art 44.2 moet die AS met ‘n tweederdemeerderheidstem ten gunste van die wysiging besluit. Die NGK het homself dus ‘n bevoegdheid toegeien wat in stryd is met sy eie kerkorde. Die geskiedenis van hofsake tussen die VGKSA en die NGKA beklemtoon die feit dat geen hofsaak oor ‘n kerk wat sy eie kerkorde oortree die kerk goed doen nie.

Die kerkorde stel dit duidelik dat enige besluitnemingsproses tot belydeniswysiging by kerkrade begin en dan deur sinodes by die AS eindig. Hierdie besluit het by die AS begin.

Coertzen gaan voort om meer kerkregtelike probleme aan te dui soos die proses nou verloop. By die AS van 2011 is bv beklemtoon dat die hereniging ‘n inklusiewe proses moet wees waaroor tussen die vier kerke onderhandel moet word. Uit die bekikbare stukke wil dit lyk asof die vier kerke op die oomblik omtrent nie met mekaar praat nie. Die VGKSA het ‘n moratorium op gesprekke met die NGK geplaas.

‘n Baie belangrike saak wat deurgepraat sal moet word is die gesindheid wat op die oomblik tussen die vier kerke bestaan. Sover bekend het nog nie een van ander kerke die NGK se belydenis van skuld aanvaar nie. Daar is selfs in die verlede gesê dat die NGK nie vertrou kan word dat hulle belydenis opreg is nie. Dit is ook bekend dat die NGKA voel dat die NGK nie vertrou kan word nie en al dikwels in die verlede die NGKA in die steek gelaat het. Die NGK sal ernstig hierna moet luister.

Dit gaan nou oor ‘n nuwe kerkverband. Gaan ‘n meer haalbare manier nie wees vir die vier kerke om ‘n verband van trou tussen hulle as kerke te vorm nie? So kan ons in gemeenskap met Christus deel in al sy skatte en gawes. Mettertyd kan ons saam die beste vorm vind om uitdrukking te gee aan die eenheid van ons familie van kerke in Suider-Afrika.

KERKORDELIKE PAD VORENTOE

Ds Theo Danzfuss

Ds Danzfuss wys ook op die problematiek wat prof Coertzen uitgewys het toe die AS in 2011 besluit het: “Die Algemene Sinode besluit om die Belydenis van Belhar op kerkordelike wyse deel van die NG Kerk se belydenisgrondslag te maak ..”

Die aktuarius van die AS het met instemming van die Moderatuur (ASM) en die Taakspan Regte (ATR) ‘n amptelike vertolking van die Sinode se besluite oor Belhar gegee. In die artikel maak Danzfuss kritiese opmerkings oor besluite van die Sinode en die amptelike vertolking daarvan.

Die Sinode het besluit dat die Moderamen as deel van die proses ‘n deeglike studie sal maak van die historiese, teologiese en kontekstuele relevansie van Belhar. Die Sinode het dus besluit om Belhar as deel van die belydenisgrondslag van die NGK te maak terwyl hulle per implikasie erken dat die AS nog nooit ‘n deeglike teologiese studie daaroor gedoen het nie. Dit is om die kar voor die perde te span.

Die opsionele verbintenis van lidmate teenoor Belhar het ook ernstige implikasies. Die AS beweeg met die besluit weg van die gereformeerde betekenis van ‘n belydenis. Liberale teoloë, Nuwe hervormers en ondersteuners van die “Emerging Church” wat allerlei dwalings verkondig, sal heel gelukkig wees met die AS se nuwe siening van ‘n belydenis. Dan word leertug byna onmoontlik. So ‘n vertrekpunt word dan eerder ‘n bron van verdeeldheid as van eenheid.

Punt 2.3 van die ASM se interpretasie praat van ‘n “beginsel- of voorlopige aanvaarding van daardie belydenisskrif”. ‘n Sinode kan nie ‘n belydenisskrif in beginsel aanvaar nie. Die implikasies daarvan is dat ons nie oop kaarte speel met die VGKSA en met behoudende lidmate nie. Belhar is op hierdie stadium hoogstens ‘n gespreksdokument.

In die AS se besluite oor Belhar word die ander belydenisskrifte ook betrek nl die Apostoliese Geloofsbelydenis, Nicea en Athanasius. Verder kom die Drie Formuliere van Eenheid te sprake. Dan is daar die Belydenis van Belhar en die Laudiumdeklarasie, wat op ‘n ander vlak val. Die sinode se besluit impliseer duidelik dat ons Belhar:

  • Nie op die "quia" standpunt aanvaar nie
  • Nie soos die Drie Formuliere “in ooreenstemming met die Woord” wil bely nie.
  • Nie bely nie, maar weens sekere redes slegs erken; en dat Belhar
  • se aanvaarding vir alle lidmate en kerkvergaderings opsioneel sal wees.

Die vraag is waarom het die ASM dit nie ook duidelik in hulle vertolkings van die AS se besluite aan die VGKSA gesê nie? Gaan die VGKSA daarmee tevrede wees en gaan behoudende lidmate daarmee tevrede wees?

Die ASM sê by voorbaar dat hulle waarskynlik nie die gemeentes se stem teen Belhar sal aanvaar nie. As hulle die stemming verloor, wil hulle voorsiening maak vir aanhoudende druk op gemeentes totdat hulle hul sin kry. In punt 6 van hulle vertolking van die besluite van 2011 lees ons: “Indien daar nie aan die vereistes van Art 44 van die kerkorde voldoen word nie, kan herhaalde pogings aangewend word om die vereiste meerderheid te verkry. Daar kan ook aanvaar word dat die vereiste meerderhede nie verkry kon word nie en dat daarmee volstaan word”.

Dit sal rampspoedig wees vir die kerk indien die ASM beplan om so ‘n pad te loop.

ALGEMENE SINODE SE REGSBEVOEGDHEID

Chris du Plessis

‘n Maatskappy of trust funksioneer in die samelewing as ‘n regspersoon. Die regspersoon moet ‘n grondwet hê wat intern en met ander partye nagekom moet word.

In die NGK is aparte regspersone veelvoudig:

  • Elke gemeente tree op as ‘n regspersoon wat oor bates en laste beskik.
  • Elke ring wat ‘n verband vorm tussen gemeentes is ‘n regspersoon.
  • Elkeen van die nege streeksinodes van die kerk is ‘n aparte regpersoon.
  • Die Algemene Sinode bestaan uit afgevaardigdes van streeksinodes en tree ook as ‘n regspersoon op.

Elkeen van die gemelde regspersone beskik oor eie bates en laste. Hulle het slegs regsbevoegdheid oor wat deur die kerkorde aan hulle toegeken word.

Artikel 43 van die kerkorde bepaal die regsbevoegdheid van die AS. Dit gaan oor sake soos amptelike Bybelvertaling, vasstelling van belydenisskrifte en appèlsake wat voor hom gebring word. Indien die AS sou poog om die NGK se bestaan te beeïndig, ontstaan die vraag of Art 43 aan die AS die bevoegdheid verleen om so ‘n besluit te neem. Dit geld ook vir samesmelting met ‘n ander kerk.

Die huidige posisie waarin die NGK haarself bevind is nie uniek nie. Soortgelyke omstandighede hét al die aandag van ons howe geniet. Die uitspraak van die Appèlhof in die saak van die NGKA en die VGKSA is van uiterste belang en van toepassing op die situasie waarmee die AS gekonfronteer kan word. Die hof het uitspraak gegee: "Die AS waar die gemeente nie direk verteenwoordig was nie, kon nie eensydig die gemeente se kerkverband verander nie. Verder het die gemeente, as onafhanklike regspersoon, sy eiendom en bates besit en kon sy eiendom hom nie teen sy wil ontneem word nie.... Dat die AS nie by wyse van wysiging aan die kerkorde oor die regspersoonlikheid, voortbestaan, bates of laste van enige mindere vergaderings in die kerk kon beskik nie."

Alles in ag genome is dit selfs ‘n vraag of die VGKSA inderdaad regsgeldig ontstaan het en bestaan.