Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wie is Annari du Plessis? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Dinsdag, 20 Januarie 2015 22:00

Kyk ook:

Die artikel "God kyk anders as ons" hieronder gee 'n goeie aanduiding wie Annari du Plessis is.

Goth-kultuur

Sy vereenselwig haar met 'n Goth-kultuur. In die artikel hieronder wil sy dit afmaak as onskuldig. Ek wil egter mense aanmoedig om prentjies van "goth" te gaan soek op die internet. Besluit maar self.

Daarmee wil 'n mens haar nie tot die hel verdoem nie - net God weet wat in haar hart aangaan. 1 Korintiërs 10:23-33 kom egter by my op.

Anti skeppingsleer

Sy is ook baie uitgesproke daaroor dat sy glad nie in Genesis 1 se weergawe van die skepping glo nie. Sy het al gesê: "Die naam creation.com sit my summier af."

En dan het sy ook 'n bewondering vir Anton LaVey, wat die stigter en Hoëpriester van die Kerk van Satan is. Hy is ook die skrywer van The Satanic Bible.

Alternatief is sy verseker!

Interessant dat sy tans in die sinodale kantoor werk...

Kyk ook die volgende artikels:

************

God kyk anders as ons

(Het oorspronklik in Beeld verskyn.)

2012-05-25

Moenie proponent Annari du Plessis op haar baadjie takseer nie. Ook nie op haar lipring, die pennetjie deur haar linkerwenkbrou, die donker lipstiffie, die swart klere of die swart stewels waarmee sy haar goth-uitrusting afrond nie.

Dié klein en fyn mensie kan ’n baie waardevolle rol binne die NG Kerk speel. Dis in elkgeval wat verskeie kerkmense dink wat haar goed leer ken het.
Dis veral waar die kerk moet uitreik na randfigure in die samelewing, na mense wat nie tuis voel in die middelklas fatsoenlikheid waarmee die NG Kerk dikwels vereenselwig word nie, waar iemand soos sy ’n merkwaardige bydrae kan lewer.
Du Plessis, wat verlede jaar haar teologiestudie voltooi het, deur die NG Kerk gelegitimeer is en nou een van die kerk se beroepafwagtende proponente is, leef ’n lewe wat vir sommige kerkmense lyk na ’n skreiende ongerymdheid.
Sy’s ’n amperdominee, maar ook tuis in die goth-subkultuur met sy metalmusiek. Sy speel selfs DJ by die maandelikse Attrition-byeenkoms in Pretoria.
Daar is baie opvattings oor die goth-subkultuur, soos dat dit satanies is. Op skool is sy so gebrandmerk. Dit het so erg geraak, vertel sy, dat sy bang was sy sou geskors word, al het sy akademies uitgeblink.
Daar was selfs mense wat gesê het hulle dink sy misbruik dwelms, wat nooit die geval was nie. Die dwelmmisbruikers by die skool was kinders wat “normaal” gelyk het.
Haar integriteit is vir Du Plessis baie belangrik. By die kerk sal sy nie haar goth-drag dra nie, maar netjies en professioneel aantrek. Sy sal haar lipring uithaal as dit mense pla, maar sy gaan nie soos iemand anders aantrek nie. Sy wil nie voorgee dat sy iets is wat sy nie is nie.
“Ek lyk eerder soos ’n freak­show as wat ek mense misbruik, abuse, bedrieg en op mense trap om bo uit te kom,” sê sy.
Vir haar was die goth-ding nooit ’n soort rebellie nie. Toe sy op hoërskool metal en goth ontdek het, het sy net geweet sy hou daarvan. “Die estetika daarvan is vir my mooi,” sê sy.
Dis ook nie, soos mense soms dink, ’n ek-haat-almal-genre nie.
Daar is liedere wat gaan oor frustrasie en seerkry, maar Du Plessis sê dit kan baie terapeuties wees om daarna te luister.
Maar daar is ook baie liedere wat gaan oor sosiale onreg, oor armes wat onderdruk word en die euwel wat kapitalisme is.
Die lirieke is vir haar belangrik. Daar is godslasterlikhede in sommige liedere, sê sy, maar daarna luister sy nie. Dis maar soos in enige genre, daar is goeie en slegte liedere. ’n Mens moet jou onderskeidingsvermoë gebruik.
Sy verkies haar soort musiek in elk geval ver bo gewone popmusiek. Daar is in goth en metal baie minder van die seksuele en losbandigheid as in gewone popmusiek. In die goth-klubs waar sy kom, dra die meisies baie meer klere as op Hatfieldplein, waar die studente so graag uithang.
Boonop is daar op die plein baie meer bakleierye as in die goth-klubs. Daar is dit ’n seldsame verskynsel, sê sy.
By die fakulteit teologie het haar voorkoms nooit probleme met die dosente opgelewer nie.
Van haar klasmaats was egter aanvanklik baie skepties.
Een ou het later vertel hy was bang vir haar. Sy frons as sy daarvan vertel. Sy kon dit nie verstaan nie. Hy was dan byna twee keer so lank soos sy!
Maar toe hulle haar leer ken het, het dit beter gegaan. Boonop het sy uitgeblink in haar studie en haar skripsie met onderskeiding geslaag.

Sy het haar gemeentejaar gedoen by Echo Jeugontwikkeling in Pretoria. Dis ’n bediening wat veral uitreik na tieners en jongmense wat min of geen ondersteuningsbasis het nie, mense wat aan hul eie genade oorgelaat is en dikwels in krisisse beland.

Prof. Nelus Niemandt, moderator van die algemene sinode, sê van Echo af het daar baie goeie verslae teruggekom oor haar werk.
Ds. Jaco Strydom, wat aan die stuur van sake by Echo is, praat ook met lof van Annari.
Hy verwys na haar eerlikheid, haar goeie teologie, haar vermoë om anders na mense en situasies te kyk as ander dominees.
Strydom is een van die predikante wat haar andersheid sien as ’n potensiële bate vir die kerk.
Hy dink die NG Kerk het iemand nodig wat in die wêreld kan beweeg waar sy beweeg. Sy kom in wêrelde in waar ander dominees nie kan nie.
Mense gaan anders na haar luister as na ander dominees omdat hulle voel sy is een van hulle, sê Strydom.
Self sê sy dat sy lekker gewerk het by Echo. Die tieners het lekker met haar gesels.
“Hulle sien my nie as die tipiese dominee by wie hulle moet oppas wat hulle sê nie,” vertel sy.
Francois du Preez, departementshoof aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd, sê toe Du Plessis verlede jaar twee keer die saalopening daar kom behartig het, het die kinders aan haar lippe gehang.
Jy kan aan die geruis in die saal hoor of die kinders na ’n spreker luister en na haar het hulle geluister.
By die skool het hulle onlangs gesels oor die uitstaande sprekers wat hulle die laaste paar jaar daar gehad het – en Du Plessis was een van hulle.
Niemandt bestempel haar as ’n wonderlike sendeling wat iets verstaan van bepaalde subkul-ture.
Hy wys daarop dat die NG Kerk al hoe meer skuif na die begrip van ’n gestuurde kerk.
En luister ’n mens na die gesprekke in die kerk, is dit duidelik dat die besef op baie plekke groei dat die mense wat hulle in allerlei subkulture in die samelewing bevind, ook mense is na wie die kerk met die evangelie gestuur word.
Dit sal nie die eerste keer wees dat die NG Kerk so buite sy gevestigde patrone moet beweeg nie, sê Niemandt.
Met die verstedeliking van Afrikaners in die 1920’s en 1930’s het baie van dié mense verwyderd geraak van die kerk. Maar die NG Kerk het daarin geslaag om daardie mense in die nuwe myngemeenskappe te bereik.
Nie almal is middelklas mense nie, sê Niemandt, en Du Plessis verstaan randfigure.
Sy sal in elk geval nie die eerste dominee in die NG Kerk wees wat ringe en pennetjies dra nie. Daar is reeds mans met oorbelle wat nie in die middelklasprentjie pas nie – en dis goeie dominees, sê Niemandt.
Sal ’n ongewone mens soos sy in ’n gewone gemeente as dominee kan werk?
Ja, sê Niemandt. Hy het haar leer ken as iemand met diep integriteit.
Hy hoop daar is êrens ’n gemeente, dalk ’n groterige stadsgemeente, wat vir haar die ruimte en steun kan skep om ’n nuwe bediening onder randfigure te begin.

Self sê Du Plessis sy sien kans vir gewone gemeentewerk. Dis net klein kindertjies waarmee sy nie goed is nie. Sy het al senior burgers in die hospitaal besoek en dit het goed gegaan.
Haar belewenis is dat van die ouer mense baie oopkop is.
Maar sy sal ook hou daarvan om in die akademie in te gaan, of om by ’n bediening soos Echo te werk, of dalk by ’n kerk met ’n groot jeugbediening.
En dan sal sy steeds ook met randfigure wil werk.
“Ek is op ’n manier self een,” sê sy.
Vir haar is die wonder van die evangelie dat God se liefde so onvoorwaardelik is.
Mense beoordeel jou op jou uiterlike voorkoms, maar God kyk na ’n mens se hart.

’n Spesifieke soort smaak

Goth is ’n subkultuur wat in die vroeë 1980’s uit die postpunk-musiekgenre ontspring het.
Die goth-subkultuur het spesifieke smake in musiek, die estetiese en modes.
Goths luister na verskillende musiekstyle, soos goth rock, deathrock, post-punk, darkwave, ethereal darkwave en neoclassical.
Volgens Wikipedia wissel goths se kleredrag van death-rock, punk en Victoriaans, of ’n kombinasie daarvan. Hul klere en hare is swart.

Die Oxford dictionary sê goth is:

  • ’n Soort rockmusiek wat gekenmerk word deur apokaliptiese of mistieke lirieke; en
  • ’n Lid van ’n subkultuur wat swart klere en gothmusiek verkies.

Die Cambridge dictionary sê goth is:

  • ’n Soort rockmusiek wat dikwels woorde het wat idees oor dood en die einde van die wêreld uitdruk; en
  • Iemand wat hou van gothmusiek, swart klere en wit grimering.

Die Oxford Urban dictionary sê goth is:

  • ’n Musiekstyl wat in die 1980’s uit punk ontstaan het; en
  • ’n Subkultuur wat oorspronklik na gothmusiek geluister het. Dit het uitgebrei om industrial- en black/death metal-aanhangers in te sluit. Goths dra meestal swart en albei geslagte grimeer hulself. Hulle word beskou as ontvanklik vir ander kulture en seksualiteit.
  • Pretensieuses wat na new metal luister en dink hulle is goths, is in werklikheid tieners wat niks van musiek weet nie.

Goth/Industrial-groepe: Bauhaus, The Sisters of Mercy, The Cure, Nine Inch Nails, KMFDM.
NIE-goth-groepe: Korn,
Linkin Park, Slipknot.

Deur Neels Jackson

Proponent Annari du Plessis in haar Goth-drag en met ’n Bybel in die hand. Foto: Brendan croft