Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Gay-huwelike in kinders se belang? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Daan Nortier   
Donderdag, 14 Mei 2015 20:00

Kyk ook:

Die volgende artikel het in die Volksblad verskyn. Kyk ook die kommentaar onderaan die artikel.

************

Gay-huwelike in kinders se belang?

Volksblad, Donderdag, 14 Mei 2015

Gay-huwelike waar kinders betrokke is, kan in die toekoms in die regsmilieu uitdagende tye meebring. Daan Nortier, ‘n afgetrede regsman, belig dié vraagstuk.

Die huwelike van die Kalahari-boesmans het in Amerika se hoogste hof weerklank gevind in 'n stryd om gayreg-huwelike oral in Amerika te wettig.

Sulke huwelike is nog net in sekere Amerikaanse state toelaatbaar. Die soort huwelike in Suid-Afrika is ou nuus nadat ons land dit in 2006 gewettig het.

Die Amerikaanse hof se nege regters het intens gestoei met die las en verantwoordelikheid waarmee hulle belas wou word om 'n goue tradisie van duisende jare deur die ganse mensdom oor die aardbol heen ongedaan te maak, naamlik dat 'n huwelik slegs tussen 'n man en 'n vrou wettig is.

"Vir duisende jare, in gemeenskappe oor die aardbol heen, het 'n huwelik 'n verbintenis tussen man en vrou behels. Skielik verwag julle van nege mense, buite om die stembus, om daardie regsfeit te verander," was regter Stephen Breyer se reaksie.

Die regter is 'n bekende voorstander van gayreg-huwelike. Al nege regters was diep onder die indruk van die enorme belang wat 'n beslissing oor die vraagstuk het, aangesien 'n huwelik tussen man en vrou deur die eeue heen diep in die mensdom se geskiedenis verweef lê. Moet só 'n diep gekoesterde, eeue oue tradisie somrner so goedskiks vir 'n nuwe gier ongedaan gemaak word, was die toonaard van die regters se bedenkinge.

Geskiedenis

Die gesprek in die hof het die geskiedenis verken. Op die een horison was Plato se Grieke aan die orde, 'n gemeenskap waarin sodomie oorbekend en alledaags was. Selfs daar was 'n huwelik slegs tussen man en vrou wettig.

Regter Kennedy het die ander een belig.

Selfs die Boesmans in die Kalahari, 'n mensegroep sonder 'n moderne regering soos in Amerika, ag 'n huwelik slegs tussen man en vrou wettig, was sy reaksie.

Die geveg in Amerika se hoogste hofwerp die lig opnuut op die diep omstredenheid van die onderwerp, wat steeds wêreldwyd woed. Waar die soort huwelike tot op hede in wette verskans is, was dit die gevolg van politieke besluite.

Dit is juis daarom dat die regters van die hof as't ware hul lot bekla het om met die verantwoordelikheid belas te word om so 'n ou regsbeginsel ander inhoud te gee as wat dit deur die mensdom vir millennia heen geleef is.

Dit is bloot 'n feit dat die debat voor die hof die regstreekse gevolg is van 'n narsistiese, internasionaal gedrewe gay-politieke offensief, wat juis in Amerika aangevoor is en verbete gerugsteun deur baie geld en passievolle agente vir so 'n leefstyl, wêreldwye omstredenheid tot gevolg het.

Nederland

Die eerste land wat die leefstyl gewettig het, was Nederland (2001), toe België (2003), Kanada en Spanje (2005), en daarna Suid-Afrika in 2006. Ons was eerste in Afrika.

Die omvang en reikwydte van die soort aktivisme is oral lewensveranderend. Teenstand word nie geduld nie en verbete beveg. Alles draai om persoonlike regte en beweerde diskriminasie. Dit is betekenisvol dat die regte steeds hoofsaaklik in Europa en gedeeltes van die Weste aanvaarbaar is.

In die Ooste, die Moslemwêreld en Kommunistiese lande is gaywees hoofsaaklik steeds bloot sodomie; 'n leefstyl wat jou in bepaalde lande jou kop kan kos.

Die politiek wat gayreg omweef, is nuut en die maatskaplike en regsgevolge daarvan in die meeste opsigte droewig min beproef.

Gemeet aan die mensdom se geskiedenis oor die millennia been, is die onderwerp maar 'n rapsie meer as 'n dekade in die lewe, maar die einde is ooglopend nie in sig nie. Nog eise is in die weer. Daar is reeds agitasie dat seuntjies so jonk as agt jaar toegelaat moet word om wettig tot homoseks te mag toestem. 'n Slagspreuk in die veld tog lui: “Eight is too late!” 'n Wesenlike vraag is waar die veldtog eindig.

Die statutêre inhoud van gayreg stel diegene wat daarop aanspraak maak op gelyke vlak met veel wat tevore vir eeue net in die huwelik tussen man en vrou bestaan het, soos onder meer die reg op onderhoud, die erfreg, die reg om kinders te mag hê of aan te neem, egskeiding en 'n veelvoud. ander.

Onbekook

Die veranderings, het politici gesê, is die vrug van die demokrasie. Dié vrug is op die keper beskou ontydig ryp gedruk en besonder onbekook. Dit is gelaai met die potensiaal van geweldige maatskaplike uitdagings en konflik in ons land waarin die meeste inwoners hulle die politiek laat welgeval, maar die leefstyl verfoei.

Dit is 'n land waar die Bybel vir miljoene inwoners nog 'n vername rol speel; hulle vir wie die Bybel die finale woord oor die onderwerp spreek.

Gayreg is egter nou stewig in ons grondwetlike bedeling gevestig, maar bepaalde gevolge sal ongetwyfeld nog vir die betrokkenes en baie onskuldiges veel trane veroorsaak en die reg met uitdagende vraagstukke taak. Die mees voor die handliggende is die regte van kinders wat in sulke huwelike te voorskyn gaan kom. Hulle is die onskuldige willose, meegevoer in 'n leefstyl waarvan die gevolge éérs ná geslagte behoorlik wetenskaplik geëvalueer sal kan word. Hulle beland in die huwelik óf deur kunsbevrugting van een van die vroue, óf deur aanneming. Biologies is sulke kinders tussen die egliede onmoontlik: maar eiebelang eis óók 'n kind of meer. Anders word teen hulle gediskrimineer, lui die argument. Wat egter van die kinders se regte weens sulke keuses?

Waar kinders se regte in ons land ter sprake is, is die onderliggende beginsel die kind se beste belang. Dit is so 'n belangrike beginsel dat dit in ons Grondwet verskans is. Wanneer 'n kind se beste belang beoordeel word, is die kind se bepaalde behoeftes, persoonlike verbintenisse en emosionele volwassenheid wesenlik.

Dié faktore kan in die nuwe soort huwelike in die toekoms veel regsdrama veroorsaak, want van 'n bepaalde ouderdom af het 'n kind die reg om oor sy beste belang te mag praat.

Rolmodelle

Dit is oorbekend en in honderde studies wêreldwyd afdoende bewys dat die rol van die natuurlike vader en moeder in kinders se lewe onontbeerlik is om hulle as goed aangepaste, gebalanseerde volwassenes te laat ontwikkel. Die ouers se rolmodelle onderskeidelik as man en vrou vir die seun en dogter is lewensnoodsaaklik. Dit behels spesifieke regspligte. Waar dit ontbreek, is die gevolge meestal tragies vir die betrokke kinders, want daar is dan nie 'n gedemonstreerde voetspoor om te volg nie.

Almal van ons, oud en jonk, sê die kundiges oor die onderwerp, het 'n aangebore behoefte aan identiteit: Wat en wie is ek en waarvandaan?

Biologies is mans en vroue immers uniek anders. In tradisionele gesinne is daar selde verwarring by kinders oor hul biologiese skepping; dis óf manlik óf vroulik.

Gayhuwelike is tussen twee vroue of twee mans. Dit plaas die regsplig van verantwoordelike rolvervulling teenoor die kinders in die hart van die debat. Wie gaan welke rol demonstratief leef? Hoe raak 'n vrou man, of omgekeerd wanneer 'n bepaalde rol daardie dimensie in belang van 'n kind verg? Wie is pa en wie ma?

Onbeproef

Dit is nuwe, onbeproefde terrein hierdie gelaai met veel onbeantwoorde vrae. Wat van die kind se seksuele oriëntasie? Is die kinders, op die patroon van die huis waarin hulle grootwoord, as volwassenes onafwendbaar vir dieselfde leefstyl bestem, of gaan die egpaar, met die sensitiwiteit wat die kind se beste belang regtens verg, die kind tot 'n selfstandige, eie en volwasse keuse begelei?

Juis hier setel die uitdagendste regsprobleem waarmee die huwelike gekonfronteer word. Gayreg is geskep weens die oordonderende aansprake op fundamentele mensereg. In dieselfde toonaard het 'n kind 'n fundamentele reg om in sy vormingsjare nie aan rolverwarring blootgestel te word nie.

Kinders in gayhuise gaan opgroei met of twee mans of twee vroue saam in die bed en in die normale wisselwerking in die huis, liefkosing inkluis. In die meeste normale huise waaraan hulle in hul wisselwerking met maats blootgestel gaan word, is dit totaal anders. Daar funksioneer gewoonlik 'n mamma en pappa; nie twee mammas of twee pappas nie. Watter invloed gaan hierdie verskil aan die kinders se vorming hê en hulle aan rolverwarring blootstel?

'n Seun het immers 'n reg om tot volwaardige man begelei word sodat hy sal groei tot 'n verantwoordelike, betrokke vader vir sy eie kinders. 'n Meisie moet soortgelyk gelei word tot die volle inhoud wat sorgsame moederskap behels.

Met soveel regte hieroor as’t ware in 'n regsvakuum is dit teelaarde vir veel potensiële gedingvoering. Dit is ooglopend 'n gebied waar die sielkunde en maatskaplike werkers 'n veel meer uitdagende en beduidende rol het om te speel.

Dit kan verwag word dat die hof groter professionele vaardigheid en oordeel by diegene gaan verg, veral wanneer die aanneming van kinders of die toesig oor hulle in egskeidings ter sprake is.

Kommentaar

Ek wil dankie sê vir Daan Nortier se uiters belangrike artikel in Volksblad van 14 Mei (Gay-huwelike in kinders se belang?). Hy wys op die duisternis regsimplikasies wat die nuwe gay-huwelike meebring en veral op die regte van kinders. Hy maak die stelling dat die kwessie rondom gay-huwelike die regstreekse gevolg is van ‘n "narsistiese, internasionaal gedrewe gay-politieke offensief".

Die Kerk wat veronderstel is om die Woord van Here te laat hoor, het die samelewing oor hierdie saak in die steek gelaat. Amptenare van die NG Kerk het gedien op ‘n parlementêre advieskomitee van die destydse Mbeki regering en ‘n sterk aanbeveling gemaak dat gay-huwelike in Suid-Afrika gewettig moet word. Steeds in lyn met hierdie sentimente het die Kerkbode as amptelike lyfblad van die NG Kerk onlangs (23 Jan 2015) ‘n artikel geplaas waarin ‘n huisgesin met gay-ouers rooskleurig en Christelik voorgehou word.

Uit die Bybel leer ons dat God ons manlik en vroulik gemaak het en dat Hy ‘n hoë aansien aan die huwelik gegee het. Nortier wys uit dat selfs die Kalahari-boesmans in hulle eenvoud respek vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou het. Gedrag wat die heiligheid van die huwelik aantas word deur die Bybel as onsedelik getipeer.

Mense met ‘n gay orientasie vra van ons ‘n gesindheid van barmhartigheid, maar uiteindelik kan ons tog seker van mekaar verwag dat elkeen in die Naam van Christus sy/haar kruis moet opneem en ‘n lewe sal nastreef waardeur God verheerlik word. Ons moet mekaar eerder help om ons kruise te dra, as om mense verder in die ongelukkige doodloopstrate van ‘n gay-lewensstyl in te begelei.

Jan Louw

Reitz

Opvolg artikels

Die volgende artikels het 'n paar dae later (19 Mei 2015) in Volksblad verskyn na aanleiding van die artikel hierbo.

Ek ervaar hierdie as 'n algehele oorreaksie op die artikel hierbo.

Dit wys weer dat die media so polities korrek geword het, dat hulle skoon subjektief geword het.

Repliek geplaas ter balansering

Gay-huwelike en kinders

DIE meningstuk "Gay-huwelike in kinders se belang? Kan in toekoms tot regsdrama lei.” (14/05) het betrekking.

Volksblad neem kennis van klagtes oor die stuk en dat die strekking van die stuk, asook spesifieke uitlatings daarin as onsensitief beleef word.

Die stuk is aan Volksblad aangebied as aanvullende stuk by 'n vroeëre artikel (“Twee mammas + baba = baie liefde; Huis vol Evas maak hart warm”, 21/03) met die spesifieke kapstok dat die regsimplikasies van gay-huwelike, as deel van die groter debat (ook in Amerika) hieroor ondersoek word.

By nabetagting erken Volksblad dat met die aanbieding van die stuk gefouteer is deurdat dit slegs van een kant van die debat kennis neem en veralgemenende menings as finale feite weergegee word sonder dat dit deur empiriese wetenskaplike navorsing gerugsteun word.

Veral die sinspeling dat gayregte/huwelike van dieselfde geslagslede ook op pedofilie (homoseks met seuntjies jonger as 8) sou kon neerkom, is ongegrond en kwetsend.

Volksblad vra verskoning vir die aanstoot wat gegee is.

Ter balansering verskyn meegaande twee stukke wat ter repliek ontvang is vandag hiernaas.

Met die instemming van alle partye, insluitend die skrywer van die oorspronklike artikel, Daan Nortier, word hierdie debat eers hiermee afgesluit.

- Gert Coetzee, waarnemende redakteur

Hegemonie oor gays lok reaksie

Geagte meneer die afgetrede regskenner,

Vir 'n afgetrede regskenner stel u vertolking van basiese menseregte, naasteliefde en persoonlike swaarkry my diep teleur as ek u artikel "Gay-huwelike in kinders se belang? Kan in toekoms tot regsdrama lei" (14/05) reg gelees het.

Dit stem my ook tot kommer dat iemand, wat aanspraak maak op regskennis, sulke stereotipiese vooroordele aan die wetenskap kan toeskryf.

Ek wil u graag op 'n reis neem oor hoekom gay-huwelike nie die koms van die sesde ruiter op die wat-ook-al-die-kleur-is-perd aankondig nie. Tersyde, ek kan eerlik nie glo dat ons nog hierdie debat in die jaar 2015 in Suid-Afrika voer met sy omarmende handves van menseregte nie.

Meneer die afgetrede regskenner, in die 1920's en 1930's het die Italiaanse filosoof Antonio Gramsci die konsep van hegemonie aan die wêreld bekend gestel. Dit behels dat die heersende groepe in 'n samelewing aktief, selfs doelbewus, meewerk om hul wêreldbeskouing by alle lede van die gemeenskap as die normale manier van dink te vestig. (So skryf die mediakenners David Croteau en William Hoynes.)

Wat is hierdie normale manier van dink? Dit behels, byvoorbeeld, dat 'n meisie moet "gelei word tot die volle inhoud wat sorgsame moederskap behels" en 'n seun het " 'n reg om tot volwaardige man begelei te word sodat hy sal groei tot 'n verantwoordelike, betrokke vader vir sy eie kinders". (Aanhalings in hierdie brief kom uit u artikel.)

Hierdie "diep gekoesterde, eeue oue" wêreldbeskouing het vir millenia swart mense tot slawerny en later ongeskoolde arbeid beperk. Dit het ook tot die oorrompeling van nie-wit rasse en die uitbuiting van vastelande gelei tot voordeel van die wit man.

Vroue moes hul plek ken – hoofsaaklik in die kombuis en verkieslik swanger met 'n manlike erfgenaam. Kan u, meneer die afgetrede regskenner, agterkom wat die hegemonie is?

Uitgedaag

Gelukkig het daar sedert die 1920's, toe vroue stemreg gekry het, 'n beskouing, alternatief tot die van 'n wit, heteroseksuele man, begin posvat en die hegemonie uitgedaag. In die 1950's en 1960's, met die Amerikaanse swartbewustheidsveldtogte en die onafbanklikwording van Afrika, het daar opnuut 'n bedreiging vir die heersende wêreldbeskouing verrys. En sedert die 1980's, al vir drie dekades lank en nie net "een" nie, is dit die "narsistiese, internasionaal gedrewe gay-politieke offensief”. (Met baie geld, want gays mag nie kinders gehad of getrou het nie. Albei is dúúr verwikkelinge.)

Dinge lyk nie te goed vir die wit, heteroseksuele manlike beskouing van die wêreld nie, ne?

'n Mens kan as't ware sê die heersende hegemonie, waartoe die oorgrote meerderheid van ons gebreinspoel is, word bedreig. En die gesegde van die kat se spronge kom onwillekeurig na vore.

Meneer die afgetrede regskenner, die feministiese, swartbewustheid en gayregte-bewegings het vir die wêreld, en veral vir Suid-Afrika soos u behoort te weet, die reg op menswaardigheid gegee. Dit is die belangrikste reg wat deur ons grondwethof in ag geneem word wanneer verskillende menseregte opgeweeg word.

U praat snedig van menseregte wanneer u in die meningstuk skryf dat "Gayreg is geskep deur die oordonderende aansprake op fundamentele mensereg". U geniet dieselfde "oordonderende aansprake" deurdat u toegang het tot 'n onafhanklike regsbank, u eiendom kan besit, die artikel kon

skryf waarop ek u antwoord en sonder beperkings in hierdie mooie land van ons kan rondbeweeg. Natuurlik sonder 'n dompas.

Veralgemenings

Meneer die afgetrede regskenner, u maak van growwe veralgemenings in u meningstuk melding. U

sê daar "is reeds agitasie dat seuntjies so jonk as agt jaar toegelaat moet word om wettig tot homoseks te mag toestem". Suid-Afrika se Kinderwet en selfs ons gemenereg is onomwonde waar dit kinders en seks betref: En geen gay vrou of gay man wat ek ken, sal hierdie stereotipiese "agitasie" ondersteun of bevorder nie. Dit walg vir my net soveel as vir u.

U veralgemening vergelyk sterk met die klassieke groep-stereotipering wat ek dikwels onder wit Afrikaanssprekendes ondervind omdat ek 'n wit Afrikaanssprekende is: daar word onvoorwaardelik

aanvaar dat ek 'n Christen, 'n rassis, taalregte op Stellenbosch ondersteun en gekant teen die ANC-regering is. Gesprekke by 'n braai begin uit dié voorveronderstelling.

Niemand vra eers uit nie. U doen dieselfde in u artikel.

En werklik waar, seks is seks. Of dit nou hetero of homo is, dis genotvol en dan vir sommiges voortplantingswaardig. Daarbenewens is die term "sodomie", waarna u in u artikel verwys, sedert 1993 uitgedien. Dit beteken nie meer die onwettige en doelbewuste seksuele omgang per anum tussen twee mans nie (soos beskryf deur die strafregkenners Jonathan Burchell en John Milton).

Meneer die afgetrede regskenner, die narsistiese gayreg-beweging "draai om persoonlike regte en beweerde diskriminasie", skryf u. "Teenstand word nie geduld nie en verbete beveg," meen u.

Ken u die pad van selfhaat wat 'n gay vrou of gay man uit 'n konserwatiewe, klein gemeenskap in Suid-Afrika moet loop? Weet u hoe dit voel om vir 21 jaar met God en jouself te worstel? Weet u hoe dit voel om na die TV te kyk, in die koerante te lees en Sondag na Sondag van die preekstoel af te moet hoor dat die normale liefde tussen een man en een vrou is? Dink u werklik dis 'n "gier", oftewel 'n kortstondige keuse, om bewustelik en selfs onderbewustelik gebreinspoel te word dat jy abnormaal is?

Randfiguur

Dit is nie 'n keuse nie, want dan sou ek al lankal anders gekies het. Niemand kies selfhaat nie, Niemand kies verwerping nie, niemand kies om die randfiguur in die samelewing te wees nie.

Goddank vir my ouers en broers, meneer die afgetrede regskenner, wat nie stiksinnig was nie en my omarm het en bereid was om, uit onvoorwaardelike liefde, hierdie moeilike paadjie saam met my te loop. Daar is soveel van my gay susters en gay broers wat nie hierdie voorreg het nie. So, dit was nie en sal nooit 'n keuse wees nie. Want geen kind sal haarself of haar ouers deur so iets sit uit vrye keuse nie.

Dus, meneer die afgetrede regskenner, ek duld nie teenstand nie en ek veg verbete, want ek veg nog my hele lewe lank teen mense soos u se wêreldbeskouing.

Selfhaat is 'n vreeslike ding en veral as dit die gevolg van 'n konstruksie van die samelewing is: mans moet vaders wees en vroue moet moeders wees. Die selfhaat, sal vele kliniese sielkundiges vir u kan sê, vatjare om af te takel. In die tydperk ontmoet jy iemand, van dieselfde geslag, vir wie jy lief wil word. Maar wat weet iemand wat haarself tot onlangs gehaat het, van selfliefde of selfs liefde vir 'n ander? Jy leer dit weer aan en dan leer jy om álmal lief te hê.

As u ooit wou weet hoe 'n Damaskus-oomblik voel, klim bietjie uit die kas uit.

Om dan twee mense van dieselfde geslag wat mekaar uiteindelik liefhet en 'n moeilike pad gestap het, te ontneem van die kans om hierdie liefde deur 'n huwelik te laat bevestig, is myns beskeie insiens selfsugtig. Die huwelik is bloot 'n ooreenkoms, in die oë van die reg, tussen twee mense wat bymekaar wil wees. Dit behels regte en verpligtinge. Ek sê nie mense moet voor die een of ander godsdiens trou nie. En die regsgeskil waarna u verwys het in u artikel, gaan oor die Amerikaanse federale reg. Dit bandel nie oor Islam, die Christendom, Boeddhisme of Hindoeïsme nie.

Rolmodelle

Meneer die afgetrede regskenner, u sê "die ouers se rolmodelle onderskeidelik as man en vrou vir die seun en dogter is lewensnoodsaaklik". Hierdie stelling is onregverdig teenoor so baie. Soos u weet, woon ons in 'n land waar siektes en die trekarbeider-beleid van die Nasionaliste tot tienduisende huishoudings gelei het waar 'n grootouer of selfs die oudste kind, die rol van ouer moet vervul.

Daar is ook 'n legio gevalle waar enkelma's of enkelpa's kinders moet grootmaak, om welke rede, ook al.

Deur die woord "lewensnoodsaaklik" te kies, impliseer u dalk dat dit kinders uit dié huishoudings se lot is om volwassenes te word wat nie hul volle potensiaal kan bereik of hul bydrae tot die samelewing sal kan maak nie? Ek dink u ken die kort antwoord op hierdie vraag.

Om dan ook te impliseer dat gay ouers noodgedwonge gay kinders sal grootmaak, is jammerlik. Ek is die oudste van drie seuns uit 'n huis met fantastiese en liefdevolle heteroseksuele ouers. Net ek het uitgedraai, meneer, net ek. Ons is al drie dieselfde grootgemaak. Ek moes dan volgens u beredenering vandag getroud gewees het en vier stoutgat-kindertjies sou iewers op 'n werf in voorstedelike Bloemfontein rondgehardloop het.

Maar my hart trek eerder elders, meneer die afgetrede regskenner. 'n Mooi boerseun wat dit uit my borskas gepluk het en in die Karoo daarmee sit. (En hy is ongeveer so oud soos ek.)

Hartlike groete,
Jaco Visser
Johannesburg
(vroeër van Kakamas)

Dié vrees en gedagte is agterlik en verregaande

DIE onlangse meningstuk van Daan Nortier wat bevraagteken of gay-huwelike in kinders se beste belang is en die bewering dat dit regsuitdagings sal meebring lees soos iets uit 'n era toe TV nog in Suid-Afrika verban is.

Dit wek die indruk dat enige huwelik wat nie in die boksie van agterlike konserwatisme val nie, verkeed is en dat die erkenning van dié huwelike op sigself en die uitbreiding van regte vir die homoseksuele egpare ‘n fundamentele fout is. Dit nadat Suid-Afrika reeds vir byna ‘n dekade een of ander vorm van gay-verbindings wettiglik erken.

Die oorsprong van die huwelik in die wettige sin, volgens veskeie brenne het sy ontstaan te danke nie aan die liefdevolle verbintenis wat dit vandag kenmerk nie, daar in die proses van alliansievorming tussen families om sake- en finansiële belange te bevorder.

Monogamiese huwelike, die enigste vorm van huweliksverbintenis wat die westerse reg tans toelaat, het sy ontstaan eers so onlangs as iewers tussen die sesde en negende eeu gehad.

Of die huwelik dus vir eeue bestaan het as 'n band slegs tussen een man en een vrou is van geen belang nie, omrede die hele regsdoel van die huwelik verskuif het van 'n sakebesluit waarby die egpaar weinig insette gehad het, tot 'n liefdesband en nou weer - uiteindelik - 'n liefdesband wat alle vorme van liefde onderskraag.

Dit is dus logies dat dieselfde regsgevolge die huweliksband tussen persone van dieselfde geslag moet volg as wat toegeken word aan sogenaamde tradisionele huwelike.

Dié debat is oor die afgelope dekade soveel keer afgehandel dat dit in die meeste kringe nie 'n wenkbrou laat lig nie. Die Amerikaanse Hoë Hof het egter nog tot onlangs toe gestoei met dié vraag, ver verwyder van hul beeld as die land van die vrye en die regverdige. Die dilemma het weer die vraag oopgestel oor wat die gevolge van só 'n huwelik is op kinders.

Daar bestaan 'n wanbegrip dat 'n kind nie normaal kan ontwikkel buite die raamwerk van die tradisionele gesin met ‘n ma én pa nie. 'n Utopiese gedagte wat uit pas geraak het met die realiteit dat life happens.

Die vrees dat kinders wat uit 'n huis met twee ma's of twee pa's aan die hoof daarvan gaan gootword om ook, soos hul ouers gay te wees is net so logies as om te beweer dat alle kinders wat met heteroseksuele ouers grootword onmoontlik homoseksueel kan wees. Die vrees en die gedagte is agterlik en verregaande.

Om te bepaal of dit natuurlik of korrek is, val nie binne die diskresie van die regsbank of politici of selfs die kerk nie. Dit is die individu se keuse. Deur dit uit te oefen ontneem die individu geen ander sy reg om ook hierdie keuse vryelik uit te oefen nie en moet daardie individu se reg beskerm word om so te doen. Op die DA se onlangse partykongres in Nelson Mandelabaai is 'n waardemanifes aanvaar wat, onder meer uitlig dat die waarde van families fundamenteel is tot enige gesonde samelewing. Dié besluit is nie gegrond op ideologiese oorwegings nie. Dit is gegrond op n universele gesegde wat ouer as die huwelik self is en steeds vandag deel vorm van die breër kultuur hier in Afrika: dit neem 'n hele gemeenskap om 'n kind groot te maak.

Dit onderskryf die waarde van die tradisionele gesin, die saamblyverhouding, die enkelouer-gesin, die enkeling met 'n uitgebreide gesin en ook die gesin met ouers van dieselfde geslag.

Die groot probleem en uitdaging vir kinders in die samelewing is nie twee ouers van dieselfde geslag wat vir daardie kind lief is met alles in hulle nie, maar eerder daardie ouers, van watter gesinsamestelling ook al, wat hul kirders mishandel, misbruik en misken.

As universiteitstudent in die regte was ek trots en is steeds om te dink dat ons, 'n land in Afrika, só progressief was om die vyfde land ter wêreId te word om hierdie fundamentele regte aan al ons landsburgers toe te ken. Daarvoor verdien die wetgewende gesag 'n pluimpie.

Om te erken dat enige huwelik, of gesin in watter vorm dit ook al aanvaarbaar is, respek regsbeskerming waardig is, is 'n basiese beginsel van enige regverdige samelewing. Dit is 'n band gegrond op liefde en só 'n band, in enige vorm, kan onmoontlik verkeerd wees.

Die argument dat een ouer die rol van 'n pa moet vervul, terwyl die ander as ma moet bontstaan, verklap nie net die eng wanbegrip van hoe die moderne gesin funksioneer nie; dit is ook 'n klap in die gesig van daardie honderde gay ouers wat reeds dié rol met goot sukses vervul het, sowel as in dié vall die duisende enkel-ouers wat ondanks die afwesigheid van óf 'n pa óf 'n ma hul kinders gevorm het tot afgeronde volwassenes.

Ek is onlangs in die bevoorregde posisie geplaas om gevra te word om peetpa te wees van die gelukkige baba van twee wonderlike ma's. Wanneer hy sy verskyning maak, sal daar 'n vaderfiguur vir hom ook wees, soos vir baie ander kinders met peetouers, grootouers en ander familie.

Natuurlik ontwikkel ons reg deurentyd, veral wat betref die verskuiwing na 'n oper samelewing soos in dié geval, en sal dit nie altyd uit die staanspoor perfek wees nie. Waar dit dus nog tekortskiet om voorsiening te maak vir die gelyke behandeling van gesinne wat nie in ons kartondosies pas nie, moet dit aangepas word om voorsiening te maak hiervoor en moet die kind se belang uiteraard eerste geplaas word, Die reg onder ons Grondwet het gelukkig in hierdie opsig die neiging om sonder veel moeite sinvol te kan ontwikket om regverdigheid, gelykheid en vryheid te bevorder. Ons kan trots wees, met reg, op dié stel waardes wat elkeen van ons se individualiteit uitlig - iets waarvoor ons nie vir die Amenkaners wie se regters tot nog onlangs toe kop gekrap het, hoef terug te staan nie.

Wat individue se persoonlike dilemma met die gesinsamestelIing van ander betref, is dit dalk belangriker om onsself te beywer vir 'n samelewing wat gekenmerk word deur liefde en begip, eerder as 'n vrees en afsku vir die onkonvensionele.

George Michalakis is ‘n Vrystaatse DA-wetgewerlid.