Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
TP-vermelding in die "Verslag van die Taakspan vir Diversiteit" PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Hennie Mouton   
Donderdag, 30 Junie 2011 21:43

Die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme, het soos volg in die “Verslag van die Taakspan vir Diversiteitsbestuur” (te vinde op www.ngkerk.org.za / Diversiteitsforum / Dokumente) aan die moderamen ter sprake gekom:

 

  • “Een van die groeperings wat baie aktief aan die gesprek op die webwerf deelneem, het sovêr gegaan as om die hele gesprek oor diversiteit onder verdenking te bring, in ’n publikasie genaamd die Trojaanse Perd.”
  • “Herman Toerien wys tereg daarop dat met die koms van sosiale netwerke het die grense ook meer onduidelik geword.Hy sê onder meer ‘die interkerklike aard van die slagordes blyk daaruit dat die TP (Trojaanse Perd) nie net op die Diversiteitsforum en ook Kletskerk, wat ook sterk NG Kerk gerig is, onder die loep gekom het nie, maar ook op die GKSA-gespreksforum en op die Facebook profiele van die NH en van die Steedshervormers.Selfs die bespreking van die TP deur die oud-moderator van die NG Kerk se Noord-Transvaalse Sinode, dr. Mike Smuts is in die verskillende forums bespreek.’ ”
  • Dr. Carin van Schalkwyk beskou die bespreking van die Trojaanse Perd ook as een van die kernsake wat op die Diversiteitsforum bespreek is.

 

Die vraag is natuurlik of die Diversiteitsforum ten onregte of ten regte in die TP onder verdenking gebring is.Op bl. 193 – 198 van die TP word die Diversiteitsforum soos volg bespreek:

“ Die sogenaamde Diversiteitsforum het einde Mei 2010 sy verskyning gemaak op die NG Kerk se webwerf – www.ngkerk.org.za. Dié forum het kort daarna al meer en meer publisiteit op Kerkbode begin kry. ’n Aanhaling uit die forum se visie en missie wys hul doelwit, en ook hul reëls:
Die Taakspan vir Diversiteit het na raadpleging van streeksinodes ’n visie en missie vir die groter diversiteitsgroepering saamgestel. Die ideaal en basiese visie is om binne die NG Kerk positiewe diversiteit ter wille van Christelike naasteliefde te bevorder sodat die Kerk ’n model vir die gemeenskap kan wees. Die Taakspan wil as missie doelgerig bepaalde kernaspekte van diversiteit bevorder, veral ten opsigte van geslag, ras, kerkverband, kultuur, seksuele oriëntasie, materiële verskille, gestremdheid en kommunikasie.
Hier is nie ruimte vir beledigende en rassistiese boodskappe nie. Bydraes moet in die praktyk toon hoe daar ten spyte van kritiek verdraagsaam en met respek met “die ander” gekommunikeer kan word. Slegs boodskappe oor diversiteit en dus nie oor ander irrelevante en geloofsake nie, moet hier geplaas word.
(Einde van aanhaling)
Die kommentare en bydraes het ’n rukkie na die afskop baie vinnig verdeel tussen Bybelgelowiges wat diversiteit aan die hand van die Bybel wou bespreek, en Bybelliberales wat óf die Bybel glad nie wou gebruik nie, óf wat dit net “geherinterpreteerd” wou gebruik. Die webbestuurder dr. Charles Malan het hom heel gou openlik aan die kant van laasgenoemdes geskaar, met sterk ondersteuning van die teoloë drs. Gerhard Bothma en Fanie Cronjé. Talle van die Bybelgelowiges se skrywes is baie vinnig deur die webbestuurder verwyder, met die dikwels ongeregverdigde beskuldiging van belediging of ontoepaslikheid, terwyl talle Bybelliberales se bydraes behou en aangeprys is, ondanks selfs Godslasterlikhede. Die laaste sin in bogenoemde visie en missie is ook eers later bygevoeg omdat geloofsake uiteraard gedurig opgehaal is en die webbestuurder besprekings daaroor wou verhoed.
Een van die skrywes wat verwyder is, en vreemd genoeg eers ná vyf dae, al het die webbestuurder verskeie kere daagliks die forum besoek, is die volgende:
Hennie (Verwyder deur Webbestuurder, maar eers op 2010-07-11)
2010-07-06
Henry, sluit jou idee van die liefde van Christus vir alle mense die nood-saaklikheid dat hulle in Hom as enigste Verlosser moet glo, in of uit? As jou idee dit uitsluit, hoe maak jy vrede met Joh. 3:16, waarin God sy grootste liefdesgawe beskryf? Maar as jy niks wil weet van sonde nie, sal jy heel moontlik nie die noodsaaklikheid van verlossing insien nie.
Fanie Cronjé skryf elders "Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen dat die Bybel nie oor homoseksualiteit, soos ons dit vandag ken, praat nie." As die "her" in sy herinterpretasie die teenoorgestelde begin sê as die oorspronklike, is dit sekerlik nie verdedigbaar nie.
Hy skryf ook "Die vroeër/heersende wyse van Christen wees meen dat net Christene die ewige lewe beërwe. Die opkomende/ontluikende wyse van Christen wees meen die christelike geloof kan nie daarop aanspraak maak dit die enigste ware geloof is nie." Ek meen dis moeilik om uit daardie artikel van hom af te lei dat hy nie met die ontluikendes saamstem nie. Sy skrywes hier bevestig dit. Hoekom Fanie dus nie maar net hier reguit erken dat hy nie glo dat Christus die enigste Verlosser is nie, is vir my tot ’n mate duister.
Gerhard Bothma, dankie vir jou weliswaar indrukwekkende skrywe, nes dié van Fanie. Jy skryf "Ons aanvaar die versoening" ["deur Christus – wat vir almal ... gesterf het"]. Die vraag is hoe ongelowiges (daarmee bedoel ek nie-Christene) dié versoening kan aanvaar as dit nie aan hulle vertel word nie. Of meer nog – hoekom sal ons dit aan enigeen vertel as dit nie nodig vir hulle is om te weet nie?
In die Bybel word ons plig om die evangelie uit te dra, en dus ’n instrument te wees in die geloof wat God bewerk, onder andere soos volg gestel: Rom. 10:14-15 : "Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!" Daar is geen rede om te dink dat hierdie evangelie oor enigiets anders as die evangelie van Christus kan gaan nie.
Gerhard, ek het nie ’n probleem om te verkondig dat Christus vir almal gesterf het nie, want ek glo dit is wat in die Bybel staan. Maar dit beteken nie dat almal outomaties gered is nie – dit beteken dat Christus gesterf het om aan almal die geleentheid te bied om Sy offer in geloof te aanvaar. Om dit te verkondig is ons taak – om enige ander weg (buiten Christus) te probeer goedpraat of verdedig, is ’n verloëning van Christus. Dit is eintlik waaroor my gesprek met Fanie gaan. ’n Christen mag nooit maar net ontspan as Christus verloën word nie. "Het jy my waarlik lief?" het Jesus drie maal vir Petrus gevra.
Charles, ek verstaan dat jy die diversiteitsbesprekings hier net wil beperk tot sekere aspekte, en dat jy daarom Daniel se antwoorde oor slawerny165 en sogenaamde foute in die Bybel verwyder het. Maar hoekom het jy dan nie terselfdertyd die vrae en stellings daaroor van die ander manne, wat eintlik daardeur die Bybel probeer diskrediteer, en waarop Daniel geantwoord het, verwyder nie? Hoe kan die antwoord verwyder word, maar die oorspronklike vrae en bewerings bly?”
(Einde van aanhaling)
Onderstaande is nie net deur die webbestuurder behou nie, maar hy het selfs later probeer verduidelik waarom dit glo nie Godslasterlik of beledigend is nie. Dit is geskryf deur dr. Gerhard Bothma.
Gerhard Bothma
2010-07-06
...
Wanneer ons "die versoening aanvaar" – as deel van ons reaksie daarop – doen ons dit nie om verlos te word nie. In die praktyk beteken dit dat mense kan ophou om hulle te verknies oor God se houding jeens hulle. Hulle hoef nie asof met ’n blommetjie te sit en blaartjies uittrek terwyl hulle sê "He loves me ... He loves me not ... He loves me ... He loves me not ..." nie. Hulle kan hulle energie aanwend om – soos Jesus die hongeres te voed, blindes en lammes by te staan en gevangenes te besoek. Daar is fricken baie werk wat gedoen moet word. Is die eksterne motivering wat die Kerk dikwels aan mense voorhou ("As jy nou mooi nice is teenoor God en sy geskenkie vat, gaan Hy nie sy moer strip, ’n tantrum gooi en jou hel toe stuur nie" – ek stel hier doelbewustelik ’n karikatuur om die absurditeit van dié verlossingsmodel te illustreer) nie een van die redes waarom mense nie volhoubaar "goeie werke" verrig nie? ’n Innerlike motivering – soos byvoorbeeld dankbaarheid vir die versoening/ verlossing/genade/liefde/gawes/... – behoort mense myns insiens baie verder te bring. In die paradigma van hierdie perikoop is God se versoening met mense – en nie sonde, die hel of enigiets anders nie – die gelowiges se motiveringsbron.
(Einde van aanhaling)
Toe daar later by herhaling vir Gerhard Bothma gevra is of hy glo dat alle mense in elk geval gered is, het hy uiteindelik laat blyk dat hy dink dat dit miskien so is.
Daar is ook later met goeie motivering uitgewys dat een van die gereelde skrywers op dié forum, ene Jan Allemantig, die webbestuurder dr. Charles Malan self was. Al het die webbestuurder sekere gemaakte verskille tussen hom en Jan Allemantig probeer bluf. Jan Allemantig het regdeur ook vir die Bybelliberale kant geargumenteer. Ook dié beswaar en navraag van die Bybelgelowiges is blitsvinnig verwyder, maar daarna het geen nuwe bydraes van “Jan Allemantig” verskyn nie. Die afleiding was dus klaarblyklik in die kol. Die webbestuurder het dit waarskynlik gedoen om sy liberale sienings deur die skyn van groter ondersteuning as die werklike, te probeer bevorder.
Na ons mening is die grootste probleem met die Diversiteitsforum dat hulle allerlei onbybelse diversiteite in die Kerk probeer invoer. Hul reaksie op Bybelgelowige besware is dat ons nie met ongelowiges en ander gelowiges wil praat nie, maar toe hulle by herhaling daarop gewys is dat ons wel met hulle wil praat, maar met die uiteindelike doel van bekering, is enige gesprek oor bekering met alle mag belemmer. “Jan Allemantig”, die webbestuurder, Gerhard Bothma en Fanie Cronjé het soos in ’n koor begin beswaar aanteken teen enige gesprekke oor bekering. Die webbestuurder het selfs beweer dat Christene nie van Hindoes moet verwag om tot bekering te kom nie, want God verwag glo van niemand om sy geloofsankers prys te gee nie. Hy het dit soos volg gestel (ons onderstreping):
En as daar van geen bekering deur enigeen sprake was nie? Dan het ons niks in die gesprek verloor nie, maar baie gewen. Veral begrip, kennis en ’n besef van die wonder van geloof in God wat wêreldwyd is en nêrens vereis dat jy jou eie geloofsankers moet prysgee nie.
Die opvolgende skrywe waar aan die webbestuurder gevra is of hy hieroor reg verstaan is, naamlik dat God ook nie van die Hindoe verwag om sy geloofsankers prys te gee nie, het hy eenvoudig verwyder sonder enige antwoord.
Soos die Diversiteitsforum tot dusver bedryf is blyk dit om eenvoudig die doel na te streef om onbybelse liberale standpunte in die NG Kerk in te voer. Die kritiek wat gereeld op die gebruik van Bybelverse as gronde uitgespreek is, en die selektiewe toelating van slegs sekere Skrif-beskouings, het dit duidelik gedemonstreer. Dit is ook insiggewend dat dr. Ben du Toit een van die inisieerders van dié forum was – miskien sê dit amper alles, in die lig van sy uitsprake wat vantevore bespreek is (op bl. 12, 28 en 55).
Ten slotte kan mens aanvoer dat dit vir enige regdenkende mens duidelik behoort te wees dat hier mense in leiersposisies is wat probeer om die NG Kerk in ’n bepaalde liberale rigting te stuur. Die Diversiteitsforum is maar net nog ’n nuwe poging om die Ontluikende Kerk se postmodernistiese idees, wat dikwels met die Nuwe Hervorming se sienswyses ooreenkom, in die NG Kerk in te sleep.
Vir die aanvanklike debat met die verwyderde kommentare, kyk www.glodiebybel.co.za – die debat is opgebreek in ’n paar dele omdat dit so lank is. Soek gerus enige van bogenoemde aanhalings op laasgenoemde webblad. Alle kommentare wat deur die Diversiteitsforum se webbestuurder verwyder is, is in grys gemerk.

Nog enkele opmerkings oor die “Verslag van die Taakspan vir Diversiteitsbestuur”:

  • Weereens word wat die grense van aanvaarbare diversiteit binne die kerk is, blatant geïgnoreer – dit is juis wat die Bybelgelowiges van die begin af bepleit het.
  • Om enigiets af te baken is waarskynlik “modernisties”, terwyl die diversiteitsforummense duidelik postmodernisties is en klaar: “Die gesprek oor diversiteit word gevoer binne die kader van postmodernisme, of die gespreksgenote voorstanders van die filosofie is, of nie, dit klee die hele konteks.” (bl. 13 van die diversiteitsverslag)
  • Dit is ook interessant dat homoseksualiteit, wat van die begin af pertinent op die Diversiteitsforum as een van die diversiteite genoem word, nie in die opdrag aan die Diversiteitstaakspan genoem is nie. Maar op die Diversiteitsforum is dit van die begin soos volg ingesluit: “Die Taakspan wil as missie doelgerig bepaalde kernaspekte van diversiteit bevorder, veral ten opsigte van geslag, ras, kerkverband, kultuur, seksuele oriëntasie, materiële verskille, gestremdheid en kommunikasie.”  Die man wat dit volgens die volledige verslag ingesleep het, is dr. Ben du Toit: “Ben du Toit wys tereg daarop dat die kerk se gebrek aan ’n verantwoordbare mensbeskouing ten grondslag lê vir die gesukkel in die NG Kerk om diversiteit in sy midde teologies verantwoordelik te hanteer.Hy sê onder meer: ‘Hierdie gebrek geld nie alleen net vir on siening oor gelykheid van ras en geslag (gender) nie, maar is ook onderliggend aan die vooroordele wat by ons spook oor mense van seksuele oriëntasie . . .’ ” (bl. 12 van die diversiteitsverslag)

 

Die volgende artikel het in Julie 2011 op Kerkbode-aanlyn verskyn.

Kerkeenheid en diversiteit

Piet Strauss

Dat die een kerk van die Here Jesus te make het met ’n verskeidenheid – die nuwe woord is “diversiteit” – wat in bykans alle fasette van sy bestaan voorkom, is waar. So sal nie twee dominees presies dieselfde preek oor dieselfde Bybelgedeelte lewer nie. Hulle mag saamstem oor die basiese betekenis van die teks, maar hulle inleiding, opbou en toepassing sal verskil.

Net so sal die lede van ’n Bybelstudiegroep wat sê wat Christus se liefde vir hom of haar beteken, met verskillende “verhale” kom. En lidmate wat waardering vir ’n erediens uitspreek, sal verskillende redes noem – oor dieselfde diens, dieselfde inhoud, dieselfde atmosfeer.

Vir ’n kerk wat daarop aanspraak maak dat hy ’n Christelike kerk is, eindig dit egter nie hier nie.

Vir hom is die relevante vraag – wat veel ouer as die term “diversiteit” is: Wat is ’n wettige of Bybelsverantwoorde verskeidenheid in die kerk? Of, oor watter Bybelse waarhede mag lidmate verskil sonder om die eenheid van die kerk aan te tas?

As kerkeenheid ’n konstante Bybelse voorskrif is, watter konstante Bybelse waarhede bou hierdie eenheid? Aan watter Bybelse waarhede of konstantes moet kerkeenheid wat ten diepste ’n geloofseenheid is, gemeet word?

Of eindig ons by die miserabele – ek het nie ’n ander woord daarvoor nie – antwoord wat ek anderdag hoor: Kerkeenheid bestaan daarin dat ons saamstem dat ons verskil! Anders gesê: Kerkeenheid as geloofseenheid bestaan darem uit die gelofie dat ons verskil!

Vir die postmodernis wat die kerk verskraal tot ’n kletsklub of gespreksforum of ’n vrywillige vereniging waar die deelnemers vanuit hulleself hulle reg en verkeerd bepaal, is so ’n antwoord aanvaarbaar. Dit geld egter nie ’n gereformeerde kerk as deel van die liggaam van Christus wat die Sola Scriptura (Skrif alleen) as vertrekpunt neem nie.

Nie dat kerkeenheid vir gereformeerdes ’n kerklike eendersheid is nie. As hulle oor niks mag verskil nie, sal daar ook nie ruimte vir ’n reformasie of ’n verantwoorde groei in die geloof en in die kerk as geloofsinstelling wees nie.

Kerkeenheid word “belyn” deur dieselfde kernwaarhede van die geloof soos verwoord in ons belydenisskrifte. Kernwaarhede van ons geloof oor sake soos God-Drieënig, sonde, verlossing en dankbaarheid, uitverkiesing en volharding, die sakramente (vir ons die verbondsdoop en die nagmaal as verbondsmaaltyd), die Bybel as Woord van God, ens.

Ons eenheid bou op hierdie kernwaarhede waarin die Bybel as die norm van die norme en ons kerklike belydenisse as norme wat van die Bybel afgelei is, geld. Deur saam ons geloof in God en sy genade in ons erkende belydenisskrifte te bely, maak ons onderling ’n afspraak vir kerkeenheid as ’n eenheid in die geloof. Dit is waartoe nuwe lidmate óók instem by hulle belydenisaflegging.

Ons mag verskil in kerklike standpunte, styl, gebruike, seremonies, kleredrag of taal. Maar oor hierdie kernwaarhede mag dinge nie uiteenloop nie. Dit bring die Bybelsverantwoorde eenheid van die kerk in gedrang. Dan weerspreek ons die belydenis van “een, heilige, algemene Christelike kerk” elke Sondag.

- Prof Piet Strauss is moderator van die vorige Algemene Sinode van die NG Kerk.

 

Kommentaar

Aanvaarbare grense

2011/07/02

Dankie prof. Piet dat jy dit duidelik stel dat daar grense ten opsigte van aanvaarbare diversiteit binne die NG Kerk behoort te wees. Dit is waarvoor van die begin af in die NG-diversiteitsforum gevra is om die gesprek daar op 'n sinvolle basis te plaas, maar die Diversiteitsforumbestuur was nie daarvoor te vinde nie en het later skrywes met verwysings na sulke grense verwyder.

- Hennie Mouton

 

 

Terug na die Skrif!

2011/07/03

Professor Strauss, baie dankie dat u ons kom waarsku teen postmoderniste “wat die kerk verskraal tot ’n kletsklub of gespreksforum” en dat u ons aan die belangrikheid van Bybelse waarhede en konstantes kom herinner.

Dit is verblydend dat daar stemme uit die leierskap begin kom om te waarsku teen die “in-ding”: om mens se “twyfel te bely”, soos Stefan Joubert op Ekerk sê onder die titel: “Twyfel is nie ‘n deug nie” .

Daar is geen rede waarom teruggeval moet word op menslike opinies as God vir ons sy Woord, sy Seun en sy Heilige Gees gegee het nie. ‘n Mens kan vra: As die Skrif sy outoriteit verloor, na wie van miljoene mense se menings en opinies moet mens luister?

- Henrietta Klaasing

 

 

Eenheid en diversiteit

2011/07/04

Prof. Strauss, baie dankie vir die wyse, weldeurdagte uiteensetting van wat kerklike eenheid en diversiteit behels en wat nie daarby ingesluit is nie. Dit is ook 'n duidelike riglyn om bedag te wees teen vreemde diversiteite wat nie in die kerk van Jesus Christus hoort nie. Groot waardering.

- Ds. Gideon Aggenbag

-------------------------------------------------

Bostaande kommentare is eers deur Jean Oosthuizen op 2011/07/06 op Kerkbode-aanlyn geplaas, alhoewel dit al heelwat vroeër geskryf is.  Saam met die plasing daarvan het onderstaande kommentaar deur ene Tiaan verskyn.  Die vraag is of Jean onderstaande gereël of dalk sommer self geskryf het (die tyd van verskyning saam met die verwysing na Henrietta Klaasing en Gideon Aggenbag lyk verdag).

-------------------------------------------------

Strauss leef in ou paradigmas

2011/07/06

Die feit dat selferkende fundamentaliste soos Henrietta Klaasing en emeritus dominees soos Gideon Aggenbag die skrywe van prof Piet Strauss so besing behoort selfs vir hom ’n verleentheid te wees. Selfs behoudende gelowiges soos Strauss behoort ongemaklik te voel as godsdienstige ver-regses jou so begin prys.

Prof Strauss is ’n kenner op die gebied van kerkreg en kerkgeskiedenis. Sy antwoorde pas mooi in binne die raamwerk van die kerk se dogmatiese uitsprake. Sy taalgebruik en formulering is altyd netjies verwoord in kerktaal.

Die probleem is dat prof Strauss vanuit ’n ouwêreldse paradigma funksioneer. Vir hom is homoseksualiteit nog sonde, evolusie verstaan hy nie en ongetroudes wat saamwoon is taboe. Mens sou graag met prof Strauss in gesprek wou tree goed soos “Bybelse waarhede”, sy verstaan van postmoderne mense en sy verwysing na die kerk wat tot ’n “kletsklub” verskraal word en wat hy daarmee bedoel. Dit sal egter slegs moontlik wees as prof Strauss self hieroor met ons in gesprek wil tree en in gewone Afrikaans verduidelik waarom die Belydenis van Belhar byvoorbeeld nie vir hom oor die kernwaarde van die evangelie gaan nie.

Intussen sal die kerk as “kletsklub” voortgaan om oor aktuele sake te debatteer en ou paradigmas met nuwes te vervang. Diversiteit en die beoefening daarvan is nie iets wat in ‘n vraag en antwoord-sessie vanuit die kategismus afgehandel kan word nie. Niemand beskik meer oor daardie “sekerhede” nie. Ook nie die kerk en sy ampsdraers nie.

- Tiaan