Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Spirituele begeleiding is "vreemde vuur" in die NG Kerk PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Donderdag, 21 September 2017 23:00

Kyk ook:

Ons moet kennis neem van die artikel van Neels Jackson in die Kerkbode van 25 Augustus 2017 oor dr. Willem Nicol as Spirituele Begeleier.

Ek lewer kommentaar hieroor aan die einde van die artikel.

Nicol sê:

alt

Dr Willem Nicol steek ’n kers aan by die weeklikse kontemplatiewe diens by die NG Gemeente Stellastraat, Pretoria.

'N SPIRITUELE BEGELEIER HELP OM OË VIR GOD TE OPEN

Spirituele begeleiding is 'n geloofsgewoonte wat baie waardevol kan wees en wat besig is om veld te wen in die NG Kerk. NEELS JACKSON het met dr Willem Nicol en sy vrou, Joke Nicol, daaroor gesels.

Dr Willem Nicol nooi 'n persoon om te kom sit. Daar word 'n bietjie gesels, gehoor hoe dit gaan. Dan staan hy op, steek 'n kers aan. Dis 'n ritueel om 'n heilige ruimte te skep. Hy gaan sit en nooi die persoon om te ontspan: bene, skouers en nek, arms en oë, asemhaling. Dan laat hy tyd vir stilte, tot die persoon self reg is om te begin praat. En as die mens wil begin, maar nie weet waar om te begin nie, vra hy 'n vraag soos:

"Watter aartappel lê nou bo in jou sak?"

So begin nog 'n sessie van spirituele begeleiding.

Nicol was jare gelede 'n voorloper daarin om die kontemplatiewe spiritualiteit aan en in die NG Kerk bekend te stel. Die spiritualiteit van stil word en om God se teenwoordigheid in jou lewe te beleef.

Nou is dit 'n gevestigde manier van doen in baie dele van die kerk, hoewel dit nie een is wat skares lok nie, en dit waarskynlik nooit sal wees nie.

Spirituele begeleiding, se die Nicols, is nog so 'n skat uit die kerkgeskiedenis wat nou deur die Protestantse wêreld herontdek word. Dit is een van die geloofsgewoontes wat dateer van lank voor die Reformasie en wat met die groot kerkhervorming verlore gegaan het.

Dit gaan daaroor dat 'n gelowige iemand het, 'n spirituele begeleier, wat hy of sy vertrou en met wie hy of sy volgens 'n ooreengekome ritme (maandeliks werk goed) oor sy of haar lewe en geloof gesels.

Die begeleier dui nie koers aan nie, maar stap as't ware langs die gelowige. Die begeleier is 'n klankbord wat luister, maar wat die gelowige ook help om self te ontdek waarmee God in sy of haar lewe besig is.

Die veronderstelling is dat 'n mens nie net uit die Bybel en uit die natuur iets oor God leer nie, maar ook deur jou eie ervaring. Die Reformasie het 'n verstandsding geword, sê Willem. Spirituele begeleiding gooi die net wyer. Dit gaan oor die daaglikse lewe saam met God en dat jy God ook daar leer ken.

Daarom begin die gesprek met die vraag na die aartappel bo in jou sak, die ding waarmee jou gedagtes nou besig is, dit wat nou jou lewe oorheers. En dan help die begeleier 'n mens om te dink oor waar en hoe God by hierdie saak betrokke is.

Dis soos twee bokke wat langs mekaar loop en die een blaas die stof uit die ander se oë sodat hy beter kan sien, sê hy.

Dit help 'n mens om te sien dat jou geloof deel is van jou alledaagse lewe. Geloof gaan nie net oor kennis, oor vrae en antwoorde nie. God is nie 'n veraf wese wie se reëls jy net moet gehoorsaam nie. Dit is die lewende God saam met wie jy hier leef.

Spirituele begeleiding is anders as 'n sessie met 'n sielkundige. Dit werk nie so diep nie, maar dit gaan wyer, want dit gaan oor God se teenwoordigheid.

Dit is ook anders as pastoraat, want pastoraat het 'n element van leiding gee. Daar is 'n probleem wat gehanteer moet word. Spirituele begeleiding is nie daar om probleme te hanteer nie. As iemand 'n probleem het wat gehanteer moet word, verwys die spirituele begeleier die persoon na iemand anders.

Dit beteken die aartappel wat bo in die sak le, hoef nie 'n vrot aartappel te wees nie. Dit kan 'n vreugdevolle saak wees waaroor 'n gelowige met die geestelike begeleier gesels.

Die begeleier se rol is om die gelowige te help om voortdurend bewus te wees dat God hier teenwoordig is. God is nie 'n veraf abstraksie nie.

Maar die gesprekke gaan tog dikwels na plekke van pyn, want dit is die plekke wat groeipunte in 'n mens se geestelike lewe kan word.

Daarom is spirituele begeleiding 'n goeie geloofsgewoonte wat enige gelowige kan oorweeg. Mense wat gaan vir spirituele begeleiding, vind dit waardevol. Daar is mense wat al 10 jaar lank gereeld na Willem Nicol toe kom daarvoor.

In Pretoria, waar die Nicols werk, word die opleiding van spirituele begeleiers gedoen deur die Sentrum vir Spiritualiteit van die NG Kerk se ring van Suidoos-Pretoria. Dit geskied in samewerking met Excelsus, die NG Kerk se sentrum vir bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

Sedert 2006 is daar reeds 113 spirituele begeleiers opgelei. Die sentrum ontvang nou aansoeke vir die volgende kursus wat in 2018 begin en oor 15 maande en sewe blokke strek. Meer inligting oor die kursus is by sentrumvirspiritualiteit.co.za beskikbaar.

Mense wat die kursus deur loop het, sê dit het ook baie vir hulle eie geestelike lewe beteken. Ds Derick du Toit van die NG gemeente Villieria skryf byvoorbeeld dat hy al baie kursusse bygewoon het waarvan die impak op lewenstyl en bediening maar min was. "Ek wil graag getuig dat die wyse waarop die kursus aangebied word waarskynlik die mees blywende veranderings van al die kursusse veroorsaak het."

- Vir meer oor spirituele begeleiding, lees Willem Nicol se boek: lngestel op die fluistering van God (Lux Verbi).

&&&&&&&&&&&

Om te help met die beoordeling van dit waarmee ons hier te doen het, lig ek het die volgende feite uit soos dit verskyn in die Kerkbode artikel. Ek het ook gaan kyk na die webblad van Excelsus, die NG Kerk se Sentum vir Bedieningsontwikkeling in Pretoria (sentrumvirspiritualiteit.co.za).

  • ’n Spirituele Begeleier tree in ’n een-tot-een verhouding met ’n persoon. Die twee kom ooreen oor gereelde samekomste (maandeliks werk goed). Die sessies kan jare duur.
  • Sommige begeleiers vra ’n donasie en ander ’n fooi van ongeveer R300 per sessie.
  • Die Spirituele Begeleier steek ’n kers aan om ’n” heilige ruimte” te skep.
  • Na ’n tyd vra die Spirituele Begeleier (bv): “Watter aartappel lê bo in jou sak”?
  • Die Spirituele Begeleier dui nie koers aan nie, maar help die gelowige om self te ontdek waarmee God in sy of haar lewe besig is.
  • ’n Spirituele Begeleier is nie ’n sielkundige nie want dit gaan oor God se teenwoordigheid.
  • ’n Spirituele Begeleier is nie ’n pastor nie, want pastoraat het ’n element van leiding gee.
  • Dit kan vergelyk word met twee bokke wat langs mekaar loop en stof uit mekaar se oë blaas.
  • Dit gaan oor ’n “geloofsgewoonte”, ’n kontemplatiewe spiritualiteit, wat (glo) met die Reformasie verlore gegaan het en nou in die Protestantse wêreld herontdek word.
  • Die veronderstelling is dat mens nie net uit die Bybel en uit die natuur iets oor God leer ken nie, maar ook deur jou eie ervaring. Jy leer God ken in jou alledaagse lewe.
  • Geloof gaan nie oor kennis, oor vrae en antwoorde nie.
  • God is nie ’n veraf wese wie se reëls jy net moet gehoorsaam nie.

1. VREEMDE VUUR

Dit is ’n mondvol en vra dat daar dieper ingegaan moet word op die onderliggende teologie waarmee Nicol en die 113 Spirituele Begeleiers wat reeds opgelei is besig is. Hoe meer ek gelees het, hoe meer ontsteld het ek geraak en tot die gevolgtrekking gekom: Hierdie is “vreemde vuur”, soos die waarvan ons lees in Levitikus 10:1-3:

(1)Nadab en Abihu, seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat en gloeiende kole daarin gesit. Hulle het wierook daaroor gegooi en dit vir die Here aangebied. Dit was egter ongeoorloofde vuur omdat dit teen die bevel van die Here was. (2)'n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer, en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here. (3)Toe sê Moses vir Aäron: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”Aäron was sprakeloos.

2. NEW AGE SPIRITUALITEIT

Nicol gebruik terminologie wat direk herleibaar is na Oosterse mistiek en New Age misleiding. Dit is wat ek wys geword het deur woorde soos spiritual guide, contemplative prayer en spiritualiteit te google.

Die Engelse term vir spirituele begeleier is spiritual guide. Dit blyk dat spirituele begeleiers in die New Age omgewing ’n algemene verskynsel is. ’n Spiritual guide verwys in daardie kringe nie na ’n aardse wese nie maar na iemand in die geesteswêreld. Dit is dus ’n spiritistiese praktyk en is demonies van aard.

Erin Pavlina wat haar in hierdie veld van spirituele begeleiding bevind sê:

Spirit guides are incorporeal beings that are assigned to us before we are born that help nudge and guide us through life. They’re responsible for helping us fulfill the spiritual contract we make with ourselves before we incarnate. Your higher self helps select these guides, who help us while we are living out our incarnation.

Who are these guides?

Some guides will stay with you throughout your entire life, and others will pop in every now and again to help you with specific areas of your life or goals you are trying to achieve. These guides are at varying levels of consciousness themselves. Some may be highly ascended masters (such as Jesus) and others might be your average spirit who just happens to be a master in a certain area. They may appear to have a male or female energy, though in reality they are just energy. They may be spirits who have had physical incarnations, or they might be spirits who have never taken corporeal form. You may be the only person they are guiding, or they may be on the “panel” for other people as well. They might be deceased relatives, but that is less likely. When it’s time for your spirit guides to help you, they tune in to your energy and help direct you to fulfill your earthly mission. (Uit Connecting with spirit guides.)

3. DIE TERM “SPIRITUALITEIT” IN DIE NG KERK

Dit is vir my duidelik dat die term spiritualiteit ’n hoogs kontroversiële term is en nie sommer ongekwalifiseerd gebruik kan word nie. Tog lyk dit of almal in ons tyd holderstebolder op die spiritualiteitswa wil klim.

Die Fakulteit Teologie en Religie in Bloemfontein bied MTh en selfs PhD grade aan in Spiritualiteit. In Wellington het Nelis Janse van Rensburg, die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op 9 Mei 2017 bekendgestel. Daar word in vooruitsig gestel dat dié Sentrum internasionaal deur besoekers benut moet word. In Pretoria is daar ’n Sentrum vir Spiritualiteit van die NG Kerk se Ring van Suidoos-Pretoria. Dit geskied in samwerking met die NG Kerk se Sentrum vir Bedieningsontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.

In Pretoria is daar ook ’n Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit met ’n uitgesproke intergodsdiens benadering. Dit staan bekend as SES (kyk www.spiritualiteit.co.za).

Dr. Abel Pienaar is die direkteur van SES. Hy het twee grade in Teologie (Universiteit van Pretoria) en 'n doktorsgraad in Filosofie van Godsdiens. Hy het vir elf jaar gewerk as voltydse leraar in die Ned. Geref. Kerk in 'n makro gemeente in Pretoria. Tydens hierdie tyd word hy verkies tot die Sinode se direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, 'n posisie wat hy behou tot hy in 2006 bedank uit die NG Kerk.

Pienaar het gestudeer onder Thich Nhat Hanh (Zen Boeddhis, Frankryk) en ook blootstelling gehad en geleer by o.a. die huidige Dalai Lama, Fr. Thomas Keating en Prof. Kobus Krüger.

Die Sentrum beskryf hulle waardes as volg:

Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie en die huidige wêreldbeeld neem ons ernstig op.

Wanneer ons oor die goddelike en spiritualiteit praat, aanvaar ons dat ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in geestelike leermeesters soos byvoorbeeld Boeddha en Jesus van Nasaret leer ken.

SES sê verder: Ons soek na nuwe vorme van spiritualiteit in 'n eietydse geloofsbelewing. Dit gaan vir ons daarom om 'n oop, eerlike en respekvolle verhouding (dialoog) op te bou tussen geloof, wetenskap en ons wêreld waarin ons leef.

4. WILLEM NICOL SE SPIRITUALITEIT

Nicol sê dat hy vanuit die Christelike geloof en die Bybel oor sy geloofsgewoonte skryf. Die feit dat hy egter ongenuanseerd gebruik maak van terminologie uit ander godsdienste, bring mee dat hy nie vertroue inboesem nie. Dié onrus word bevestig deur die feit dat hy hom blykbaar tuisvind tussen Oosterse denkers en hulle denkwyses.

By sentrumvirspiritualiteit.co.za is daar ’n video lesing oor Nicol se “Oop vir die Oomblik” Kursus (kyk HIER).

Die lesing begin met die volgende aanhaling van Anthony de Mello:

Ek leef teenwoordig as my bewussyn oop is om telkens die wonder van die huidige oomblik te ontvang. Ek kan dit lewenslank oefen deur my aandag telkens sonder beoordeling terug te bring na wat nou hier is, of gebeur, in my onmiddelike omgewing, my liggaam, my gedagte-patrone, en my emosies. So ontwikkel ek meer openheid vir myself, ander, die skepping en vir God.

Die inleidende woorde gee ’n goeie weergawe van die boodskap wat die dosent probeer oordra in die res van die lesing. Dit gaan daaroor om nie afwesig te wees in jou alledaagse lewe nie, maar om jouself in te oefen daarin om “bewustelik” te leef.

Nicol sluit met die “bewustelik leef” konsep aan by die filosofie van Anthony de Mello. Hy wil dit ’n Christelike geloofsgewoonte maak, maar wie was De Mello?

"Tony" de Mello was ’n Indiese Jesuite priester en psigoterapeut. Hy was die stigter van die Sadhana (Die Weg) Instituut. De Mello is bekend vir sy storievertelling wat hy saamgestel het uit beide die mistieke tradisies van die Ooste en die Weste.

In 1998 het die “Congregation for the Doctrine of the Faith”, onder leiding van Joseph Ratzinger wat later Pous geword het, De Mello se lewe en werk beoordeel en tot die gevolgtrekking gekom dat De Mello, Jesus nie as Seun van God erken het nie, maar alleen as iemand wat geleer het dat alle mense kinders van God is. Baie van de Mello se standpunte word as “onversoenbaar met die Katolieke geloof” beoordeel.

5. PREDIKANTE AS SPIRITUELE BEGELEIERS?

Leraars is veronderstel om Bedienaars van die Goddelike Woord te wees (Verbi Divini Minister). Daar gaan baie opoffering en koste in om leraars in die kerk toe te rus sodat hulle die Skrif kan uitlê en toepas in die alledaagse lewe van die lidmate. Lidmate sien oor die algemeen op na hulle leraars as Bedienaars van die Woord.

Die vraag ontstaan waarmee Nicol nou besig is? Is hy hoegenaamd nog ’n Bedienaar van die Woord? Hy sê pertinent hy wil nie koers aandui nie. Die klem is nie meer om God te leer ken uit die Bybel nie, maar uit jou eie ervaring. Nicol sê ’n Spirituele Begeleier is nie ’n sielkundige nie. Hy is ook nie ’n pastor nie, want daarin is ’n element van leiding gee. Hy sê dit kan eerder vergelyk word met ’n bok wat langs ’n ander bok loop en die stof uit sy oë blaas!

6. ’n ONTWYKING VAN DIE WESENTLIKE VAN DIE KERK

Nicol sê hy wil mense se oë vir God open en stof uit mense se oë blaas. Hy wil mense help met ’n “geloofsgewoontes” en mense help om self te ontdek waarmee God in sy of haar lewe besig is. Hierdie bediening, (as ons dit so kan noem) is op die mens en sy ervaring gerig en nie op God en sy verheerliking nie. As sulks is dit ’n ontwyking van die opdrag van ’n Bedienaar van die Woord in die kerk. Die wesentlike van Christenskap kom nie regtig ter sprake nie.

Wat is wesentlik van ons Christelike geloof? Ek volstaan met ’n klompie aanhalings uit die Bybel oor die Christelike lewe, soos wat Christus en die apostels dit vir ons nagelaat het.

7. CHRISTUS HET SY LEWE VIR ONS AFGELÊ EN VRA VAN ONS …

7.1. Opoffering

Mat 16:24 Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg,

Mat 7:13 Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. 14 Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.

Mat 18:9 En as jou oog jou van My afvallig maak, ruk hom uit en gooi hom van jou af weg. Dit is vir jou beter om met een oog die lewe in te gaan as om met altwee oë in die vuur van die hel gegooi te word.

Gal 5:24 Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.

1 Tim 4:7 Oefen jou om in toewyding aan God (a godly life) te lewe.

7.2. 'n Lewe van verbondenheid aan Christus.

Joh 15:5 Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.

Mat 25:11 ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ 12 Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’

7.3. Dat ons die waarheid sal liefhê.

Joh 18:37 Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

Ef 4:15 Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.

Ef 6:14 Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas,

1 Tim 3:15 Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid.

7.4. ’n Lewe van gehoorsaamheid.

Mat 7:21 Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.

Mat 12:50 Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.

Joh 15:14 Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.

1 Joh 2:4 Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is 'n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is.

7.5. Om rekening te hou met die wêreld.

Joh 17:14 Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.

Rom 12:2 Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.

1 Joh 2:16 Die wêreldse dinge – alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit – kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe.

7.6. Om die stryd teen die bose aan te knoop.

Ef 6:12 Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

1 Pet 5:8 Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

7.7. Om ’n heilige lewe na te streef.

Ef 4:23 Julle gees en gedagtes moet nuut word; 24 lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

1 Pet 1:15 Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees.

Heb 12:14 Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir 'n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie.

7.8. Om die Skrif hoog te ag.

Joh 7:38 Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.

Hand 8:35 Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

Ef 6:17 Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

2 Tim 3:15 Jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek,

7.9. Om tot die einde te volhard.

Mat 24:13 Wie tot die einde volhard, sal gered word.

1 Pet 1:7 Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

Openb 2:10 Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

7.10. Om deel te wees van sy kerk.

Luk 12:32 Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

Heb 10:25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

1 Joh 1:3 Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

7.11. Om gereed te wees, want Hy kom weer.

Mat 13:40 Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: 41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, 42 en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

8. SAMEVATTING

Daar is sekerlik ook nog baie ander belangrike temas aangaande ons geloof, wat vir Christus belangrik is, soos lering, vermaning en die gevaar van misleiding. Die briewe van die apostels is hoofsaaklik geskryf om te leer en te vermaan. Hulle moes waak en waarsku teen misleiding, maar by Nicol kom niks hiervan ter sprake nie. Paulus openbaar sy hart teenoor die lidmate in Korinte as hy sê: Ek waak oor julle met 'n ywer wat van God kom, want julle is soos 'n jongmeisie wat ek aan een man toegesê het as sy bruid en wat ek vlekkeloos na hom toe wil bring. Die man is Christus (2Kor 11:2).

My waarneming is dat Nicol die erns van dit waaroor dit vir ons in ons geloof gaan, wil ontwyk met sy kontemplatiewe spiritualiteit. Daar gaan rooi ligte aan as Nicol wil voorgee dat mense nie geleer of gelei moet word nie. Hulle moet God self ontdek in die daaglikse lewe. Hy praat negatief van ons geloof as ’n “verstandsding”. Hy hou ’n godsdiens voor waar die mens in die sentrum staan en sy eie oordeel gebruik oor wat hy by God hoor en wil hoor.

Alles in ag genome, moet Willem Nicol vir homself erken dat hy besig is om “vreemde vuur”, na die altaar van God aan te dra. Dit sou verkeerd wees voor die Here om hieroor stil te bly, net omdat ons probeer gaaf wees teenoor mekaar.