Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Opstanding en lewe na die dood PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Vrydag, 26 Mei 2017 20:00

Kyk ook:

Die volgende artikels van Fanie Cronjé het in Kerkbode verskyn.

Dit is baie duidelik dat Fanie twyfel skep by lidmate oor die opstanding uit die dood.

In die Apostoliese Geloofsbelydenis bely ons dat ons glo in: "11 die opstanding van die vlees;"

Fanie Cronjé het as NG predikant die volgende in sy legitimasie-eed belowe:

"Ek belowe om die voorgenome leer [Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls] ywerig en volhardend te leer en in my wandel getrou te handhaaf, sonder om iets teen die leer, hetsy regstreeks of onregstreeks, te leer of te skrywe. En net soos ek hierdie leer te goedertrou aanneem en van harte glo, so verwerp ek alle dwalings wat teen hierdie leer stry en beloof ek om dit te weerlê, teë te spreek en alles in my vermoë te doen om dit uit die kerk te weer"

Dit is baie duidelik dat hy sy legitimasie-eed verbreek. Miskien moet hy eerder uit die NG Kerk bedank...

*******

OPSTANDING EN LEWE NA DIE DOOD

18 April 2017, Fanie Cronjé, Verstaan die Bybel

Gedurende hierdie tyd wat ons as Christene Jesus se opstanding vier, is dit tog goed om in gedagte te hou dat die Bybelse getuienis oor die dood en wat daarna volg, deur die millennia heen gewissel het. Uit 'n noukeurige lees van die Ou Testament is dit duidelik dat geloof in lewe na die dood en geloof in die opstanding van dooies in die Ou Testament nie dieselfde is nie.

Die Ou Testament-skrywers wek die indruk dat daar tog 'n geloof in 'n soort lewe na die dood was (Prediker en Job 14:12 waarskynlik uitgesluit), maar dat daar nie eintlik sprake is van 'n opstanding van die dooies nie. Belangrik is om te besef dat ons nie 'n mooi uitgewerkte beskouing oor lewe na die dood in die Bybel vind nie en dat ons, behalwe die Bybel alleen maar kan put uit ander ou Nabye-Oosterse bronne en die argeologie.

Israel was 'n integrale deel van die destydse ou Nabye Ooste en het baie geloof-, taal- en kultuur-goedere met die volke rondom hulle gedeel. Hulle beskouing oor byvoorbeeld lewe na die dood het in daardie wêreld gestalte gekry. In sommige opsigte het hulle by veral die Mesopotamiese en Kanaänitiese godsdienste aansluiting gevind. As deel van en in aansluiting by die destydse denkraamwerke oor lewe na die dood, het Israel mettertyd 'n eie weg in die verband ontwikkel.

Die dood is die einde van lewe op aarde, met die oorledene wat oorbeweeg in 'n soort skimbestaan in die doderyk. lemand stel dit so: "Death is not extinction but transition" na 'n ander vorm van bestaan in die doderyk. Belangrik is om te onthou dat die doderyk vir hulle nie 'n plek van oordeel of straf was nie. Die doderyk is eerder 'n plek van stof en duisternis en rustigheid vir die dooies in die doderyk en as van uiterste belang beskou.

Esegiel 37:1-14, Jesaja 26:19 en Daniël 12:1-4 word deur sommige teoloe geïnterpreteer dat dit die indruk skep dat die Ou Testament wel 'n opstanding van die dooies sou verkondig. Oor sy 'n interpretasie van die tekste, is daar onder Ou-Testamentici egter nie eenstemmigheid nie. Al sou dit wel van 'n opstanding getuig, kan ons ons kwalik voorstel dat die opstandingsgeloof met ons hedendaagse verstaan van 'n opstandingsgeloof ooreenstem.

Wat eersgenoemde twee tekste betref, is daar 'n sterk saak daarvoor uit te maak dat dit verwys na 'n nasionale herstel. Die Daniël-teks (ongeveer 165 vC) is uiters kompleks en moet veral teen die agtergrond van die ontwikkeling van bepaalde godsdienstige sienings en sektariese bewegings in die Hellenistiese tyd verstaan word. Een navorser meen ons kan praat van geloof in lewe na die dood voor Daniël en die omarming van geloof in die opstanding van dooies na Daniël, maar dan ook net onder sekere groepe.

~ Dr Fanie Cronje is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria.

DIE OPSTANDING

26 Mei 2017, Chris van Wyk, Briewe

Dr Chris van Wyk van Somerstrand skryf:

Die rubriek "Opstanding en lewe na die dood" (Kerkbode, 21 April 2017) van Fanie Cronjé belig die konflik tussen OT-teoloë of daar 'n opstanding van die dooies in die Ou Testament verkondig word al dan nie. 'n Keuse word gemaak dat: "ons ons kwalik voorstel dat dié opstandingsgeloof met ons hedendaagse verstaan van 'n opstandingsgeloof ooreenstem."

Cronjé verkondig daarmee 'n idee wat nie net in stryd is met die Nuwe Testament se interpretasie van wat in werklikheid in die OT staan nie, maar sit ook nie die OT-getuienis volledig op die tafel nie. Job praat al reeds van 'n opstanding van die vlees na die dood, 'n teks wat Cronjé ignoreer: "MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou" (Job 19:25-26, AOV).

Cronjé verwys wel na Esegiel 37:1-14, Jesaja 26:19 en Daniël 12:1-4 wat dieselfde gedagte verkondig, maar bespreek nie Esegiël of Jesaja nie. In sy bespreking daarna, slegs van Daniël, ontkrag hy eintlik die hele idee van 'n opstanding van die dooies, omdat hy dink dat die opstandingsgeloof beperk was tot net sommiges wat so dink: "maar dan ook net onder sekere groepe."

Cronjé verwys ook op onverstaanbare wyse nie na Psalm 16:10-11 waarna Petrus in sy Pinkstertoespraak as 'n bewys van die opstanding verwys nie. Trouens, Psalm 16 is die fondament van sy hele betoog oor die opstanding (Hand 2:22-36).

Cronjé ignoreer ook die feit dat die Fariseërs 'n opstandingsgeloof gehad het op grond van die OT (Hand 23:8) en dat dit een van die dinge is waaroor Jesus en hulle sowel as die vroeë kerk saamgestem het (1 Kor 15:23). Dit is iets wat deur Kerkbode raakgesien moet word om te keer dat daar verwarring by lidmate ontstaan.

OPSTANDING EN LEWE NA DIE DOOD (2)

26 Mei 2017, Fanie Cronjé, Verstaan die Bybel

In 'n brief in Kerkbode word vermeld dat ek in 'n vorige bydrae oor die tema van opstanding en lewe na die dood, nie die "OT-getuienis volledig op die tafel" sit nie. In die verband word Job 19:25-26 en Psalm 16:10-11 genoem, terwyl daar ook vermeld word dat die tekste wat ek wel noem, nie bespreek word nie.

Ruimte hier is beperk en die bedoeling is om lesers se gedagtes te prikkel en hulle uit te nooi om self ook verder te lees en te dink. Bydraes hier word nie aangebied as uitgewerkte dogmas nie, maar bied perspektiewe vanuit die Ou Testament-navorsing met die bedoeling dat medegelowiges uitgenooi sal voel om opnuut die rykheid van Gods Woord binne sy antieke konteks te geniet.

In die boek wat sy naam dra, sien ons onder meer dat Job besig is met 'n hofgeding teen God. Hy voel hy het niks verkeerd gedoen nie en dat God hom onregverdig laat ly. Sy familie en vriende het hom almal versaak - hy voel afgesny van God en naaste. Een van die heel ergste dinge wat met iemand binne die wêreld van die Ou Testament kon gebeur was dat jy van die Here en van jou naaste afgesny is. Binne hulle wêreld was so 'n mens se dood byna onafwendbaar.

lndien ons ons interpretasie op die Hebreeuse teks begrond én Job 19 binne die konteks van die boek lees, sien ons dat Job onder meer soek na 'n skeidsregter wat onpartydig tussen hom en God sal beslis (9:33-34). Hy verlang na 'n losser (onder meer 'n naaste familielid wat byvoorbeeld iemand se dood wreek/skuld delg/met sy weduwee trou) wat laaste (in die hofgeding) sal opstaan en vir hom as losser sal intree - al is dit na sy dood.

Meer nog egter - sy wens is om God nog in hierdie lewe te sien Job 19:25-26.

In Psalm 16 ontmoet ons die gelowige wat ontdek dat die bron van ware vreugde God se teenwoordigheid in ons lewe is. Teenoor hierdie vreugde staan die doderyk. In die doderyk - so het die mense destyds geglo - is jy afgesny van God se teenwoordigheid.

Binne die konteks waarin Psalm 16 beslag gekry het gaan dit waarskynlik om 'n mens wat ten aansien van die dood of doodsgevaar uitstyg bo sy vrees vir die dood, omrede hy meer en meer bewus word van God se absolute teenwoordigheid. God se teenwoordigheid word bevestig daarin dat Hy die gelowige "die weg van die lewe bekend maak", met ander woorde, leer hoe om in hierdie lewe te leef.

Wanneer die skrywer van Handelinge in Petrus se toespraak Psalm 16 aan die bod laat kom, is dit om 'n nuwe teks (Hand 2) te skep en dit in die tradisie van Israel (Ps 16) te begrond. 'n Psalm wat kom uit 'n tyd lank voor die koms van Christus (tradisie van Israel), word binne 'n konteks na Christus deur die Handelingeskrywer/ Petrus herinterpreteer.

Met ons belydenis dat beide die Ou en die Nuwe Testament die Woord van God is, kan gelowiges enersyds aan die hand van 'n lees van Psalm 16 binne die konteks van die OuTestamentiese wêreld, vanuit die absolute oortuiging van God se teenwoordigheid, en vreesloos die uitdagings van ons dag die hoof bied. Andersyds kan gelowiges op grond van Handelinge 2 vandag sonder vrees en met oortuiging leef vanuit die teks se getuienis:

"God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan" (Hand 2:32).

Dr Fanie Cronje is predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda.