Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Geloof in God, of in die wetenskap? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Johan Smit   
Maandag, 13 Maart 2017 10:00

Kyk ook:

Jurie van den Heever se nuwe boek ‘Wat moet ons met ons kerk doen?’ is verlede week tydens die Woordfees in Stellenbosch bekendgestel. Hierin kies hy kant teen die Bybelse skeppingsverhaal in Genesis ten gunste van die ‘meer wetenskaplike’ teorie van evolusie. George Claassen is ook verlede week aangehaal waar hy beweer onderwysers wat nie self in die teorie van evolusie glo nie, moet summier afgedank word. As die teorie van evolusie so ‘n onbetwisbare wetenskaplike ‘feit’ is, hoekom is daar dan nog vandag so ‘n hewige teenkanting daarteen – en dit selfs vanuit wetenskaplike geledere?

‘Wetenskap’ is ‘n verleidelike woord. Dit word met soveel outoriteit gebruik om ‘n punt te beklemtoon soos bo genoem: “Dis wetenskaplik bewys.” (Baie soos Christene maak met die Bybel: “Dis Bybels”). Wetenskap verwys eintlik na die mens se soeke na kennis deur ‘n proses van waarneming en eksperimentering. Maar wat min mense besef is dat die wetenskap ‘n beperking het. Die beperking van moderne wetenskap lê in sy voorveronderstelling dat alles in die fisiese of natuurlike realm, ‘n noodwendige natuurlike verklaring moet hê. Hierdie naturalistiese voorveronderstelling is niks anders as ‘n geloof nie. Dis nie ‘n gevolgtrekking waarby wetenskaplikes op ‘n dag uitgekom het, en wat nou deel vorm van die wetenskaplike metode nie. Dis ‘n blinde geloof dat die slotsom van alle kennis opgesluit is in die tasbare natuurlike realm. Hoekom is dit ‘n beperking? Want dit sluit enige moontlikheid van ‘n geestelike of bonatuurlike dimensie of Entiteit uit.

Omdat die wetenskaplike metode beperk is tot wat in die natuurlike realm of dimensie waargeneem kan word (tasbaar met ons sintuie), en die God van die Bybel veronderstel is om ‘n geestelike Wese te wees wat in ‘n bonatuurlike realm bestaan, kan Hy dus nie wetenskaplik waargeneem en bewys word nie. Hierdie is een van die gunsteling aantuigings van ateïste: “Gee vir my wetenskaplik verifieërbare bewyse vir die bestaan van ‘n God en ek sal in Hom glo.” Maar hoe kan jy ‘n geestelike wese in die fisiese dimensie ‘bewys’? Dis soos om te vereis dat jy eers X-strale of radiogolwe met die blote oog moet kan sien voor jy glo dit maak deel uit van die elektromagnetiese spektrum. Dit val buite die realm van sigbare lig!

Wanneer dit by die ontstaan van die heelal en lewe op aarde kom, is daar hoofsaaklik twee afsonderlike maniere om die wêreld om ons te interpreteer. Óf dit is bonatuurlik geskep deur die God van die Bybel soos daarin geopenbaar, óf daar bestaan nie so ‘n God nie en alles het ‘n spontane, natuurlike ontstaan gehad soos “die wetenskap” ons wil wysmaak. Beide sienswyses verg geloof en dit is dus nie geloof versus wetenskap soos baie wetenskaplikes beweer nie.

Die ironie is dat die wetenskap gebore is vanuit ‘n Bybelse wêreldbeskouing wat ‘n ordelike skepping toedig aan ‘n rasionele Skepper. Hierdie orde is nodig om eksperimente uit te voer en logiese afleidings te maak. Al het die moderne wetenskap geloof in so ‘n orde-Skepper verruil vir geloof in pure naturalisme, leen dit nog steeds hierdie geloof in ‘n ordelike skepping. Dit is egter teenstrydig met die naturalistiese geloof dat alles ‘n lukrake, chaotiese begin gehad het sonder ‘n Skepper - want as dit die geval was, hoekom sou ons vandag enige orde durf verwag?

Wetenskaplikes is dus genoodsaak uit die aard van die naturalistiese voorveronderstelling van moderne wetenskap om natuurlike verklarings te vind. So byvoorbeeld is die wetenskap nie tevrede om mediese wonderwerke aan gebed toe te skryf nie. Daar móét natuurlike verklarings gevind word.

Net so móét die ontstaan van lewe op aarde natuurlik verklaar word. Omdat daar kwansuis nie ‘n Skepper bestaan nie (omrede ons Hom nie wetenskaplik kan waarneem nie), het alle lewe op aarde sy oorsprong te danke aan ‘n statisties-onmoontlike reeks gebeurtenisse. Die 20 verskillende aminosure (as proteïenboustene) moes iewers gelyktydig in ‘n oersop gevorm het deur ‘n toediening van energie soos ‘n weerligstraal. Dit in groot genoeg getalle dat ten minste 220 van hierdie verskillende aminosure op die regte tyd in die regte volgorde rangskik gewees het vir slegs een proteïen om te vorm – en daar is ten minste 200 proteïene in die eenvoudigste sel. Dis statisties meer waarskynlik om een gemerkte sandkorrel in die Sahara te vind –duisende kere na mekaar – geblinddoek.

Wat is dus meer vêrgesog; om te glo in ‘n onsigbare Skepper soos geopenbaar in die Skrif en die orde in die skepping (Rom 1:20), of om te glo dat hierdie orde in materie en lewe ‘n natuurlike verklaring móét hê, en dus ‘n blote toevallige vloekskoot is na ‘n oerontploffing?

 

Comments 

 
0 #1 Attie Claassens 2017-04-06 16:02
Die bekendstelling van Jurie vd Heever se boek “Wat moet ons met ons kerk doen?” en die debate en Algemene Sinode besluite oor selfdegeslag verhoudinge het my motiveer om weer na te dink oor hoe ‘n denkende Christen gelowige sy Bybel moet lees.
Hoe ons glo en wat ons glo bepaal hoe ons leef. Het dit nie tyd geword dat NG teoloë eenstemmigheid kry oor hoe geloofskennis en wetenskaplike werklikhede bymekaar gebring kan word sodat ons planeet aarde beter leefbaar kan maak vir almal en alles wat God Drieënig tot stand gebring het? Konflik tussen geloofskennis en wetenskaplike werklikhede kan net een gevolg hê, dat jongmense kerklos en uiteindelik Godloos word.
Ek wil nie in ‘n sinnelose debat betrokke raak nie. Daarom verwys ek na die volgende publikasies en webblaaie:
Jurie vd Heever se boek “Wat moet ons met ons kerk doen?”
Ernst Conradie se boek “Lewend en kragtig?” God se handelinge in die wêreld.”
E-Kerk se Publikasies - GLO VS WEET, NOORD VAN JOU HART GEBEUR DAAR 'N BREIN, OOP & BLOOT
http://www.factandfaith.co.za/
http://biologos.org/
http://www.reasons.org