Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wat moet ons van die reuse sê waarvan ons in die Bybel lees? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Jan Louw   
Dinsdag, 11 April 2017 21:00

Kyk ook:

Die Hebreeuse woord vir reuse is nefilim. Die woord kom net tweemaal in die Bybel voor en wel in Genesis 6:4 en Numeri 13:33. Ons lees egter op verskeie ander plekke in die Bybeld van mense met buitengewone proporsies wat as reuse gesien kan word.

Om reg te laat geskied aan die verskynsel waarvan ons in die Bybel lees moet ons onderskei tussen die tydperk voor die sondvloed en die tyd na die sondvloed. Die rede hiervoor is dat die hele menslike geslag, die reuse van daardie tyd ingesluit, deur die sondvloed vergaan het. Dit is vir my duidelik dat ons met verskillende verskynsels te doen het vóór en ná die vloed.

Die Sumeriese held Gilgamesj. Hy staan met ’n slang in die een hand en met die ander is hy besig om ’n leeu te verwurg. Volgens Hettitiese oorlewering was hy meer as 5 meter lank. Hy was 2/3 god en 1/3 mens.

Die Gilgamesh verhaal is die oudste letterkundige verhaal (buite die Bybel) wat vir ons oorgebly het (ongeveer 2500 vC). Volgens die verhaal was Gilgamesh se pa die priesterkoning Lugalbanda en sy ma was die godin Ninsun. Met bo-menslike krag het hy eiehandig die mure van die stad Uruk gebou.

Die standbeeld het oorspronklik in Irak gestaan maar is nou in die Louvre Museum, Parys.

1. DIE REUSE VOOR DIE SONDVLOED

Die eerste keer waar ons van reuse in die Bybel lees is in Genesis 6:4. Dit was net voor die sondvloed.

Genesis 6:1-4 (1953 vertaling)

(1) Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, (2)sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. (3)Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar. (4)In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.

Daar word woorde en uitdrukkings hier gebruik wat selde in die Bybel voorkom en moet dus vanuit ’n groter konteks verstaan word. Ek gaan nie in op al die opinies en verklarings oor die gedeelte nie en bied alleen ’n weergawe aan van my eie insig, waartoe ek met verloop van tyd gekom het:

1.1. Die scenario

Die geskiedskrywer beskryf gebeure kort voor die sondvloed en waarskynlik ook gebeure wat uiteindelik meegebring het dat God besluit het om die aarde met die sondvloed te verwoes. Ons praat van die tyd ongeveer 1000 na die skepping of 3000 vC.

1.2. Die mense op aarde het begin vermeerder

Die Here het die mens aan die begin by die skepping geseën en vir hulle gesê:“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen 1:28). Ons moet aanvaar dat die menslike geslag na ’n millenium vermeerder het tot baie miljoene mense. Van Ádam lees ons dat hy na die geboorte van Set nog 800 jaar geleef het en “seuns en dogters” gehad het. Die refrein word telkens by die name van sy ander nageslagte herhaal. Volgens die beginsel van saamgestelde vermenigvuldiging moes Adam en Eva in hulle eie leeftyd beleef het hoedat hulle nageslag na baie miljoene mense aangegroei het.

1.3. Die seuns van God het gesien dat die dogters van die mense mooi was

Wie is hierdie seuns van God? In die 1983 Afrikaanse vertaling word hierdie seuns van God myns insiens korrek vertaal met hemelwesens.

Ons kry die uitdrukking seuns van God ook op die volgende plekke in die Bybel wat daarop dui dat daarmee nie gewone aardse wesens bedoel word nie:

Job 1:6 en Job 2:1: En op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die HERE te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.

Job 38:7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?

Psalm 29:1 Prys die Here, julle hemelinge (seuns van God)! Prys die Here om sy eer en mag!

Psalm 89:6 (89:7) Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens (seuns van God) is soos die Here?

Die gebeurtenis waarvan ons in Genesis 6 lees was ’n unieke gebeurtenis. Hemelwesens het as aardlinge onder die mense begin beweeg. Hulle het verder gegaan en seksuele verhoudinge met vroue op aarde aangegaan. Dit is wat ek in hierdie gedeelte in Genesis 6 lees.

Dit beteken:

1.3.1. Nie al die hemelinge was dienaars van God nie. Daar was goeie en slegte hemelwesens. Die slegte seuns van God was in diens van die die Satan.Petrus praat van engele wat gesondig het (2 Pet 2:4). Interessant dat Petrus onmiddelik nadat hy gepraat het van die engele wat gesondig het, oorgaan om te praat van die sondvloed (vers 5), wat die idee gee dat hy juis Genesis 6 in gedagte gehad het toe hy geskryf het van die engele wat gesondig het.

1.3.2. Al die hemelwesens, goed en sleg, het toegang gehad tot die teenwoordigheid van God. Dit is die verstandhouding van waaruit die Bybelskrywers geskryf het oor die seuns van God. Uit ander tekste kry ons bevestiging dat die Satan toegang gehad het tot die teenwoordigheid van God. Hy het bv opgetree as aanklaer van die mense by God (Sag 3:1; Openb 12:10). Die Satan is nie alleen in sy optrede nie. Hy het ook ’n legio bondgenote. Christus se oorwinning het meegebring dat die satan en sy bondgenote/demone, nou nie meer toegang het tot die teenwoordigheid van God nie (Luk 10:18; Joh 12:31).

1.3.3. Hemelwesens wat geestelik van aard is, is geïnkarneer (het vlees geword). Dit was ’n duiwelse daad van opstand teen God. Die duiwel het sy mag gebruik om op ’n nuwe manier in te meng in die skepping van God. Bose hemelwesens het onsedelike dade met die mense gepleeg. Judas verwys waarskynlik hierna as hy sê: Jud 1:6-7 : (6)En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar; (7)soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het ...

1.4. Hulle het vir hulle vroue geneem, almal wat hulle verkies het

Dit klink vergesog om die teks so te verstaan, dat wesens uit die hemel geïnkarneer kon word en in staat was om liefdesverhoudings met vroue op aarde te kon aangaan. Ek is nogtans van opinie dat dit die enigste manier is waarop ons eerlik met die teks kan omgaan. Ek meen dit is presies wat die skrywer aan ons wou en wil oordra.

Die volgende dien ter oorweging:

1.4.1. Die verklaring dat die seuns van God die goeie mense (Set se nageslag) was, wat met die slegte mense op aarde begin vermeng het, maak nie sin in die konteks nie. Daar is niks unieks aan die verskynsel dat goeie en slegte mense ondertrou nie. Dit het van die begin af gebeur. Hoe anders het die mensdom die punt bereik dat die skrywer gesê het: “Elke mens op aarde se lewe was verrot” (Gen 6:12).

1.4.2. Jesus, die Seun van God, is deur ’n wonder van die Heilige Gees geïnkarneer. God het vlees geword en op dié wyse het God ’n nuwe mensheid deur sy Gees begin. Die Satan is ’n nabootser van God en ek wil die teks so verstaan dat die Satan op ’n stadium ’n inisiatief geneem het om deur menslike inkarnasie en onsedelike dade die mensheid te demoniseer.

1.4.3. In die okkultiese wêreld is dit vandag steeds ’n redelik algemene verskynsel dat mense hulleself seksueel beskikbaar stel om sataniese werktuie te word. In die Afrika konteks moet vroue bv ’n nag saam met ’n bok slaap en met die bok gemeenskap hê om as ’n sangoma geïnisieer te word. Dit gaan steeds oor bose rituele en strategieë van die Satan om mense onder sy beheer te kry.

1.4.4. In die Griekse mitologie kry ons die pantheon van gode en halfgode. Volgens hierdie verhale was daar seksuele verhoudinge tussen die gode en die mense en hulle het kinders gekry. Dit is heel moontlik ’n nalewing in die mense se sondige bewussyn van ’n sataniese werklikheid wat voor die sondvloed ontstaan het.

1.4.5. Die gedagte dat buiteruimtelike wesens (aliens) in die verre verlede met die menslike ras vermeng het, het om een of ander rede tot vandag ’n aantrekkingskrag by sekere mense. Plato het ’n verhaal vertel van ’n utopiese eiland met die naam Atlantis. Die gode het daarin ’n rol gespeel. Atlantis het later ’n eindelose bron geword vir menslike verbeelding en inbeelding. Selfs gerespekteerde skrywers kom met voorstellings van wesens uit die buitenste ruimte wat ’n rol sou gespeel het om die merkwaardige bouwerke op aarde, soos die piramides tot stand te bring.

1.5. In dié dae was die reuse (nefilim) op die aarde

Die skrywer wil blykbaar sê dat die vermenging van die hemelwesens en die aardse vroue, oorsprong gegee het aan ’n nageslag van reuse, want daar staan: In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het.

1.6. Die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam

Daar is 887 van hierdie merkwaardige verskynsels op die Paaseiland in die Stille Oseaan. Hulle dateer uit antieke tye. Dit is duidelike dat “gewone mense” nie in staat kon wees om sulke kolossale standbeelde tot stand te bring nie. Ek sien dit as ‘n nalatenskap van die reuse voor die sondvloed.

Die nefilim het buitengewone vermoëns gehad. Hulle word beskryf as die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam”.

Die Hebreeuse woord vir die geweldiges is gibbor. Wat sou daarmee bedoel word? Ons moet kyk hoe die woord verder in die Skrif gebruik word om die betekenis daarvan beter onder oë te kry:

Gam het ’n kleinseun met die naam Nimrod gehad (Gen 10:8). Hy was ’n gibbor. Nimrod se mag het gelê in sy buitengewone vermoë om te jag. Hy kon diere onderwerp, maar hy kon ook mense aan hom onderwerp. Hy het die koninkryke Babel, Erek, Akkad en Kalne in Sinar gevestig. Hy het ook die stede Nineve, Regobot-Ir, Kalag en Resin in Assirië gebou. Dit is name van stede wat tot vandag nog in die midde-ooste bekend is.

In Deuteronomium 10:17 word God ook beskryf met die naam “gibbor”: Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige (gibbor), wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Jerigo se koning met sy soldate word beskryf met die woord “gibbor” (Jos 10:2). Verder word Jefta (Rig 11:1) en Dawid (1 Sam 16:18) albei ook met die woord “gibbor” beskryf.

As die nefilim (die reuse) in Genesis 6, uit die tyd voor die sondvloed, ook beskryf word met die woord gibbor, moet ons aflei dat hulle in vergelyking met die ander mense oor buitengewone vermoëns beskik het, vermoëns wat nie nader omskryf word nie.

1.7. Die reuse het “spore” nagelaat

Twee reuse voetspore by die Ain Dara Tempel in Aleppo Sirië.

Michael Tellinger by die spoor van ‘n reus naby Mpaluzi in Suid-Afrika. Die klip waarin die afdruk gemaak is, is van graniet.

Prof Pieter Wagner van UPE meen “daar is ‘n groter kans dat klein groen mannetjies uit die ruimte die voetspoor met hulle tonge gelek het, as dat dit deur natuurlike erosie gevorm kon word.”

Daar is talryke voorbeelde aangeteken van menslike voetspore wat in rotse vasgelê is. Vanuit die heersende geologiese tydskale is hierdie spore ’n onverklaarbare verskynsel, want dit impliseer dat mense reeds miljoene jare gelede op die aarde moes rondgeloop het, omdat die rotse veronderstel is om miljoene jare gelede reeds gevorm is.

Geoloë soek dus na allerhande verklarings vir die voetspore behalwe om te erken dat ménse die spore met hulle voete gemaak het. Die spore krap alle heersende geologiese aannames deurmekaar.

Ek het egter vir myself uitgemaak dat geeneen van die pogings van geoloë om die verskynsel deur natuurlike prosesse te verklaar sin maak nie. Daar is te veel voorbeelde van hierdie spore om dit te kan ignoreer of wegredeneer. Reg rondom die aarde, in baie lande van die wêreld kry ons fotos van hierdie mensespore in die rotse. Ons kan sê: Selfs die klippe roep dit uit dat daar reuse op die aarde was!

Vanuit ’n Bybelse wêreldbeskouing is daar ’n eenvoudige verklaring vir hierdie spore in die rotse. Kreasioniste verklaar dit op dieselfde manier as waarop ons die verskynsel van fossiele verklaar: Dit is naamlik dat die mensdom saam met die diere tydens die sondvloed vergaan het. Die sondvloed is vir kreasioniste ’n historiese werklikheid en die oorblyfsels van mense en diere in die aardkors is vir ons ’n bevestiging van die ontsaglike waterramp wat die aarde getref het. Die rotse is ook ’n boek waarin God sy groot dade van die verlede vir ons opgeskryf het. Vir hulle wat dit kan raaksien gaan daar groot lig op.

Die spore wat in die rotse verewig is, dien dus as bevestiging van die gebeure wat vir ons in Genesis 6 beskryf word.

2. REUSE NÁ DIE SONDVLOED

Daar was drie stamme in Kanaän wat liggaamlik buitenwone proporsies gehad het, naamlik die Refaïete, Enakiete en Emiete. In die tyd van Abraham (2000 vC) word reeds melding gemaak van hierdie stamme (Gen 14:5), alhoewel ons nog nie dáár reeds hoor dat hulle sulke lang mense was nie. Dit is eers 500 jaar later, in die tyd van Moses dat ons hoor dat hierdie stamme so reusagtig groot was. Die 12 verkenners wat die beloofde land gaan verken het, het teruggkom met die boodskap: “Ons het daar ook die reuse gesien. Die Enakiete stam van hulle af. Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë” (Num 13:33).

Die verkenners gebruik die woord nefilim om dié mense van Kanaän wat hulle ontmoet het te beskryf – hulle was reuse! Dit is die enigste ander plek in die Bybel behalwe Gen 6:4 waar die woord nefilim gebruik word. Die verkenners verklaar egter self die rede waarom hulle so groot was – hulle was afstammelinge van die Enakiete.

Moses praat verder in Deut 1:28 van die Enakiete in die land Kanaän. Hulle was groot en lang mense. Moses vertel ook van die Refaïte. Een van hulle konings was Og van Basan. Hy was ’n Refaïet. Sy bed was 4 meter lank en amper 2 meter breed (Deut 3:11).

Ons kry ook die volgende beskrywing van die mense van daardie tyd in Deut 2:10-11: (10)Die Emiete het voorheen in die gebied gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk. Net soos die Enakiete was hulle groot mense. (11)Die Moabiete het hulle Emiete genoem, maar net soos die Enakiete is hulle as Refaïete beskou.

Nog 500 jaar later in die tyd van Dawid hoor ons weer van die reuse. Goliat, die man teen wie Dawid geveg het was so ’n reus. Hy word beskryf as ’n “baasvegter” van die Filistyne (1 Sam 17:4). Baie van die Refaïete het blykbaar tussen die Filistyne gelewe en die Filistyne het hulle gebruik om vir hulle te veg.

Die volgende gedeelte uit 1 Kronieke 20 gee vir ons ’n prentjie:

(5)In 'n ander geveg teen die Filistyne het Elganan seun van Jaïr vir Lagmi, die broer van Goliat uit Gat, verslaan. Sy spiessteel was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel. (6)Op 'n ander keer was daar oorlog in Gat. Daar was 'n lang man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet; saam was dit vier en twintig. Hy was ook 'n Refaïet van geboorte. (7)Hy het die Israeliete getart, en toe het Jonatan, seun van Dawid se broer Samma, hom doodgemaak. (8)Dit was dan die Refaïete wat in Gat gebore is. Dawid en sy manskappe het hulle laat sneuwel.

Interessant dat ons lees dat een van hierdie Refaïete genetiese afgewykings gehad het. Hy het ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet gehad. Dit is vandag ook ’n bekende genetiese mutasie wat bekend staan as polidaktilie.

3. SAMEVATTING

Dit is belangrik om die onderskeid raak te sien tussen die reuse in Genesis 6 vóór die sondvloed en die reuse ná die sondvloed. Die verskynsel van reuse vóór die vloed moet toegeskryf word aan kontaminasie van menslike gene deur demoniese betrokkenheid. Daar is min bekend oor hulle. Hulle word met die woord gibbor “geweldig” beskryf.

Ek kan nie ’n uitspraak gee of hierdie “geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam” betrokke was by die oprigting van die bo-menslike strukture wat op ’n stadium op aarde gebou is nie. Ek het iets daaroor geskryf in ’n ander artikel: The dividing of the continents in the days of Peleg according to Genesis 10:25

Die reuse waarvan ons in die tyd ná die sondvloed lees, het as Refaïete bekend gestaan. Hulle liggaamlike misvormdheid kan nie toegeskryf word aan genetiese kontaminasie soos in die geval van die nefilim nie, maar was waarskynlik die gevolg van mutasies (korruptasie) van hulle gene. Dit kon dalk deur ondertrouery ontstaan het. Soos alle liggaamlike misvormdheid deur mutasies is dit ’n skadelike afwyking, wat nie volhoubaar is nie. Die Refaïete het eenvoudig mettertyd uitgesterf.

Die vraag kan gevra word of die kontaminasie van gene wat voor die sondvloed plaasgevind het oorgedra kon word in Noag se nageslag. Ek sien dit nie as ’n moontlikheid nie. God het Noag juis uitgekies omdat hy regverdig was. Hy en sy nageslag het nie deel gehad aan die opperste seksuele losbandigheid waardeur ’n hele mensdom na gees, sien en liggaam verrot geraak het nie. Dit is dus nié moontlik dat die gekontamineerde gene van die sondige mensheid oorgedra kon word in die mensheid ná die vloed nie.

Die besoedeling wat in die harte van die mense ingetree het, kon ongelukkig nie met al die water van die wêreld skoongewas word nie. Daarvoor was die afwassing van die bloed van Christus en die vernuwende werking van die Heilige Gees nodig.