Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Wie is Lina Spies? PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Woensdag, 19 April 2017 20:10

Kyk ook:

Lina Spies is ‘n digter en het sommige woorde vir die Psalms en Gesange geskryf. Sy beoefen egter baie liberale teologie. Sy is pro-homoseksualiteit en glo nie dat ‘n mens slegs deur geloof in Jesus Christus gered word nie.

Artikels oor Lina Spies:

In die artikel SPIES, CARELLINA PIETERNELLA (LINA) word die volgende oor haar gesê:

SPIES, CARELLINA PIETERNELLA (LINA) (1939–) is op Harrismith gebore. Haar doktorale proefskrif handel oor DJ Opperman*. Tussen 1971 en 2017 publiseer sy elf digbundels. As digter beoefen sy ’n persoonlike poësie met ’n sterk outobiografiese element. Kinderloosheid, die kind, die beminde, die teleurstelling in die liefde, en bepaalde plekke kom dikwels in haar poësie voor. Sy slaag met Bybelse* en literêre verwysings daarin om die persoonlike problematiek en belewenis te objektiveer. Haar religieuse gedigte belig ’n vreugde in die aardse dinge, maar getuig ook van ontnugtering en teleurstelling. In Dagreis (1976) verken sy ’n verhouding tussen mens en God in verband met die kunstenaarskap. Hiernaas staan Hiermaals (1992) wat op ’n aardse wending dui waar God steeds aanwesig is. Met Duskant die einders (2004) reken sy af met ou stereotipes wat in die tradisionele godsdiensbeoefening voorkom. In die gedig “Hemel” draai sy weg van die gedagte aan die hiernamaals as ’n stad met “pêrelpoorte” en “goue strate” en gee sy voorkeur aan ’n hemel waarin die mens haar/sy geliefde werksaamhede kan voortsit. Dan volg “Die geloofsbelydenis van ’n afvallige” waarin sy ’n geloofsbelydenis skryf wat baie anders as die tradisionele voorstellings is. Agt van Spies se omdigtings van psalms is in die Liedboek van die kerk (2001) opgeneem.

In 2013 het sy uit die NG Kerk* bedank (waarvan sy vroeër in Stellenbosch een van die eerste vrouediakens was), teleurgesteld oor die ontrekking van die Kerkbode* se borgskap aan die Stellenbosse Woordfees daardie jaar. Sy het dit gesien as kerklike onverdraagsaamheid oor die oop gesprek en die bevraagtekening van dogmas*.

Vir Lina Spies was ’n liedsiklus wat die komponis Hendrik Hofmeyr vir haar 75ste verjaarsdag gekomponeer het, ’n kroon op haar digterskap (Die Burger, 18 Julie 2015). Vier van die ses gedigte in die siklus is geneem uit haar sesde bundel, Die skaduwee van die son – ook die titel van die siklus: “Pisces” (“die dood en verganklikheid in opposisie met ’n vasgryp van die lewe”), “Tweespalt” (“’n verklanking van die digter se verskeurdheid tussen die Boland en Nederland as haar twee geliefdste aardse tuistes”), “Musiek” (“die belewenis van die misterieuse verband tussen die tydelike en die ewige wat tot dié kunsvorm behoort”), “Protes teen poësie” (“’n protes teen die vaslê van verdriet eerder as die bevryding daarvan deur die skeppende woord”), en “Kringloop” (“waarin die tema van vreugde – son – en verdriet – skaduwee – saamgevat word in die wete dat die tyd albei ervarings as ’t ware harmoniseer”). In 2017 verskyn nog ’n bundel van Lina Spies, Sulamiet, waarvan Daniël Hugo skryf: “Een van die hoogtepunte van dié bundel is die kort vers ‘Hipotese’. Hier oorheers die onsekerheid oor die liefde en dit word deur ’n verruklike beeld geillustreer: ‘’n Laat liefde is dalk bedoel / net vir onpaar maats; / twee eensaamhede wat mekaar bewaak / soos wat ’n halfmaan / in ’n helder poel weerkaats.’ Lina Spies is as ambagsvrou vaardig genoeg om die leser nog steeds te kan meevoer en verras.” (Rapport Weekliks,19 Feb 2017)

Spies is die eerste vrou wat professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch geword het.

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaapstad: Human&Rousseau.