Glo die Bybel

Johannes 17:17 ...U Woord is die waarheid.

Sindikasie

Glo die Bybel Glo die Bybel
Hoe nie om ‘n nuwe geloof te begin nie PDF Afdruk E-pos
Geskryf deur Administrator   
Maandag, 12 Junie 2017 23:00

Kyk ook:

Die volgende artikel is ’n vertaling en opsomming van The Impossible Faith: A Defense of the Resurrection.

*******

Daar was baie dinge wat teen die Christelike geloof sou tel wat dit baie moeilik sou maak om die Christelike geloof te vestig ná Jesus se hemelvaart. Ten spyte daarvan het die Christelike geloof gegroei om die grootste geloof op aarde te word.

Hier volg 17 faktore wat dit baie moeilik sou maak om die Christelike geloof te vestig:

1. Wie sou inkoop by ’n gekruisigde?

1 Korintiërs 1:18 : Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.

1 Korintiërs 15:12-19 : (12)As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? (13)As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. (14)En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. (15)Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. (16)As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. (17)En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. (18)Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. (19)As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Met die uitsondering van mense wat Christus as ’n mite wil afmaak of dit as ’n sameswering wil sien (en ek plaas Moslems in hierdie kategorie), sou min mense die historiese realiteit van die kruisiging en die dood van Jesus ontken. Maar sodra hierdie deur oopgemaak word (dat Jesus aan die kruis gesterf het), bring dit die eerste van ons probleme op: Wie op aarde sou ’n godsdiens glo wat gebaseer is op ’n gekruisigde man?

In die tyd toe Jesus gekruisig is, was dit ’n skandelike en oneerbare dood. Dit is baie onwaarskynlik dat mense in ’n geloof sou glo wat gebaseer is op iemand wat gekruisig is. Kyk ook: Hebreërs 12:2, Galasiërs 3:13 en Deuteronomium 21:23.

2. ’n Jood van Galilea?

Johannes 1:46 : Maar Natanael sê vir hom: “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

Handelinge 21:39 : Daarop antwoord Paulus hom: “Ek is ’n Jood van Tarsus in Silisië, ’n burger van ’n belangrike stad. Laat my asseblief toe om die volk toe te spreek.”

In daardie tyd was jou plek van afkoms baie belangrik gewees. Dit kan duidelik gesien word uit bogenoemde twee verse.

Jesus se plek van afkoms sou nie vir hom enige status verwerf nie. Inteendeel, dit sou teen Hom tel.

Verder was Jesus ’n Jood. Die Romeine het dieselfde oor die Jode gevoel soos die Nazi’s oor die Jode gevoel het. Dit is baie hoogs onwaarskynlik dat die heidense nasies ’n geloof sou volg wat deur ’n Jood begin is. (Tensy Hy werklik wonderwerke gedoen het en werklik uit die dood opgestaan het.)

3. Opstanding uit die dood belaglik

Handelinge 17:32 : Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”

Volgens die heidene was opstanding uit die dood verregaande.

’n Fisiese opstanding was heeltemal onnodig om ’n godsdiens te begin. As jy dit aan die Grieke en Romeine wou verkoop, sou dit baie makliker gewees het om te sê dat Jesus se liggaam in die hemel opgeneem is, soos Moses of soos Elia of Henog.

So, waarom die pad moeiliker maak? Daar is net een logiese antwoord – Jesus het werklik uit die dood opgestaan.

4. Tradisie/oud = goed, innovasie/nuut = sleg

Die Romeinse letterkunde vertel ons dat "die primêre toets van die waarheid in godsdienstige sake was gewoonte en tradisie, die gebruike van ouds." Met ander woorde, as jou oortuigings die regte agtergrond en behoorlike afkoms gehad het, sou jy die Romeine se respek gehad het. Oud was goed. Innovasie was sleg.

Dit was ’n probleem vir die Christendom, want sy wortels kon slegs teruggespoor word na ’n onlangse stigter. Christene is beskou as "arrogante innoveerders" wie se godsdiens die nuwe kind op die blok was, maar tog die vermetelheid gehad het om daarop aan te dring dat dit die enigste weg was!

5. Moeilik om na te volg

Etiesgewys is die Christelike geloof moeilik om na te volg. Judaïsme was ook moeilik en daarom was daar so min Godvresendes. Christenskap het nie dronkpartytjies en orgies met tempelprostitute aangebied nie; inteendeel, dit is verbied. (Dit is baie anders as byvoorbeeld in die geval van die Hindoegeloof.) Dit het nie rykdom aangemoedig nie, maar eerder om van jou rykdom ontslae te raak of uit te deel. Wat van Christene verwag is, was nie altyd aanloklik nie – vir baie was dit ’n onbereikbare gedagte.

6. Verdraagsaamheid ’n deug?

Die Christelike geloof was nie net ’n nuwe innovasie nie, dit was ’n arrogante, eksklusiewe en onverdraagsame innovasie (soos genoem in #4 hierbo).

Baie skeptici en nie-gelowiges beweer vandag dat hulle deur Christelike "arrogansie" en eksklusiwiteit afgesit word. Soveel te meer in die antieke wêreld. Die Romeine was reeds baie onverdraagsaam. Hoeveel te meer so in die konteks van ’n baie nuwe geloof wat dieselfde spel gespeel het en wat beweer het dat die sosiale en godsdienstige orde omvergewerp moet word? Hoe sou dit wees as ’n geloof ons vertel dat ons moes ophou om ons kerke by te woon (en in werklikheid verkies om dit eerder af te breek), moes ophou met ons partytjies en moes breek met die sosiale orde wat in plek was van die tyd van ons vereerde voorouers af tot nou toe?

7. ’n Kykie na die geskiedenis

Handelinge 26:26Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in ’n hoekie gebeur nie.

As jy ’n nuwe godsdiens wil begin, maak jy op geen stadium nuwe en wilde bewerings wat nie waar is nie. Hier volg ’n paar bewerings wat die vroeë Christene gemaak het wat, indien dit nie waar was nie, sou gemaak het dat die Christelike geloof nie eers oorweeg sou word nie:

  • ’n Aardbewing (Mat 27:54)
  • Duisternis in die middag (Mat 27:45)
  • Die tempelgordyn wat in twee geskeur het (Mat 27:51)
  • ’n Teregstelling (Mat 27)
  • Genesings van siektes en lammes, selfs opwekking uit die dood, in hoogs openbare plekke.
  • ’n Triomfantlike ingang in Jerusalem in, ’n blatante vervulling van van Messiaanse profesie (Joh 12:13-16).

Dit alles in ’n klein stad en kultuur waar die woord vinnig versprei sou kon word.

Die kruisiging het tydens die pasga gebeur wat altyd gepaard gegaan het met miljoene mense wat daarvoor gekom het.

Toe die Heilige Gees uitgestort is (Hand 2) was daar ’n geluid uit die hemel en die apostels het in verskillende tale gepraat. Toe die mense die geluid gehoor het, het ’n groot skare saamgedrom en die evangelie in sy eie taal gehoor. Dit alles het tydens Pinksterfees gebeur, ’n byeenkoms wat gewoonlik ook deur miljoene bygewoon is.

In kort: die Christendom was hoogs kwesbaar vir inspeksie en weerlegging op baie punte. Indien een van hierdie punte verkeerd bewys kon word, sou dit sneeubal in verdere twyfel. Dit is nie die manier om ’n godsdiens te begin nie. Jy begin ’n godsdiens deur dit te koppel aan obskure en naamlose mense.

Jy praat nie van ’n hoof van die sinagoge [Krispus] of ’n lid van die Joodse Raad (Sanhedrin) [Josef van Arimatea en Nikodemus] nie, of selfs ’n offisier (“centurion”) [Mat 8:5-10] in jou geskiedenis nie (selfs al noem jy nie hulle naam nie; daar was min genoeg van elk van hierdie dat dit nie moeilik sou wees om dit te kontroleer nie ). Jy bly weg van name, soos byvoorbeeld die vrou by die put (Joh 4:5-42).

Dit sou onmoontlik wees vir die Christendom nie net om te oorleef nie, maar om te gedy, sonder om al sy eendjies in ’n ry te hê.

8. Maak martelare saak?

Daar was baie Christen martelare (selfs vandag nog). In Handelinge lees ons van Stefanus wat die eerste martelaar was (Handelinge 7). Paulus (op daardie stadium, Saulus) word ook genoem dat hy daar teenwoordig was. In Handelinge 26:9-10 erken Paulus dat hy self Christene vervolg en tereggestel het.

Maar martelare was nie slegs mense wat tereggestel is nie. Daar was baie Christene wat erge sosiale verwerping ervaar het – baie dieselfde verwerping wat Moslems beleef wanneer hulle Christene word. Die Bybel gee baie voorbeelde daarvan: Hebreërs 10:32-34, Hebreërs 11:35-39, 1 Petrus 2:12, 1 Petrus 3:16, 1 Petrus 4:12-16, Filippense 1:27-30, 1 Tessalonisense 1:6, 1 Tessalonisense 2:13-14, 2 Tessalonisense 1:4-5 en Openbaring 2:9-10,13.

Verder het mense soos Paulus en Matteus, en selfs Petrus en Johannes, aanloklike ambagte opgegee ter wille van ’n missie wat as vanselfsprekend niks anders as moeilikheid sou beteken nie. Al die dissipels, met uitsondering van Johannes, het (wreed) gesterf ter wille van hulle geloof (kyk bv Hoe is die 12 dissipels dood?). Dit is baie onwaarskynlik dat enigiemand hierdie opofferings vir die Christelike geloof sou gemaak het, tensy dit iets tasbaars vir hulle was.

9. God wat mens word?

Vir ’n Jood sou dit ondenkbaar wees dat ’n mens die seun van God kon wees.

Om te glo dat die gewone Jood bereid sou wees om al die titels van goddelikheid en volle identifikasie met die antieke God van Abraham aan enige mens toe te ken, maak nie saak hoe indrukwekkend hy was nie, is eenvoudig ondenkbaar. Tensy hierdie mens homself bewys het as die Seun van God. (Kyk Luk 19:37, Mar 2:12, Joh 7:46, Joh 9:32, Mat 11:3-5 en Luk 7:19-23.)

10. Geen klas

“Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.” (Gal 3:28) Jy mag dalk so gewoond wees om hierdie gedeelte applous te gee dat jy nie besef hoe radikaal hierdie stelling was in die antieke wêreld nie. En dit is nog ’n rede waarom die Christendom ’n wiegiedood moes sterf indien dit vals was.

In die antieke wêreld het mense hulle identiteit gekry in die groep aan wie hulle behoort het (kyk ook #2 hierbo). Vir mense uit ’n hoë klas om hierdie status prys te gee, sou baie gevra het.

Hierdie beginsel word bevestig in Handelinge 11:2-3 : (2)Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: (3)“Jy het mense [Kornelius] besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

Dus moes Jode hulle totaal weerhou van kontak met nie-Jode.

Ook in Johannes 4:9Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy, wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie.

11. Moenie op vroue staat maak nie

As die Christendom wou slaag, moes daar nooit erken word dat vroue die eerste was om die leë graf te ontdek of die eerste om die Opgestane Jesus te sien nie (Mat 28:1-10, Mark 16, Luk 24, Joh 20). Daar moes ook nooit erken word dat vroue hoof ondersteuners (Luk 8:3) of hoof bekeerlinge (Hand 16) van die Christendom was nie.

Baie skrywers het uitgewys dat vroue gesien is as “swak getuies” in die antieke wêreld. Vroue was as so onbetroubaar gesien dat hulle nie eens toegelaat is om getuies te wees van die opkoms van die maan as ’n teken van die begin van feeste nie. Vandag vind ons sulke sentimente absurd en polities inkorrek, maar dit was onbetwisbaar die tradisie in die antieke wêreld.

12. Moet ook nie op maplotters staat maak nie

In #2 hierbo is genoem hoe dit teen Jesus getel het dat Hy van Galilea afkomstig was. Petrus en Johannes het presies dieselfde probleem gehad. Hulle het die toets gedop in terme van sosiale stand:

Handelinge 4:13Die Joodse Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien, want die Raad het geweet dit is maar ongeleerde en eenvoudige mense. Die raadslede het hulle ook herken as volgelinge van Jesus.

Dit sou hulle prediking definitief negatief strem.

Baie min boodskappers van die Christendom sou hierdie stigma kon vermy. Slegs Paulus het ’n hoë sosiale stand gehad (Hand 22:25-29).

Om dit verder te neem, die Christendom is nie onderskryf deur die "kragstruktuur" van die dag nie: nie deur die Romeine nie en ook nie deur die Jode nie. Die Christendom kon deur outoriteit alleen gestop word indien nodig.

13. Jy kan nie ’n geheim hou nie

Apologete gebruik gereeld die argument dat bewerings deur vroeër Christene maklik geverifieer kon word (kyk #7 hierbo). Gewoonlik is skeptici se antwoord daarop dat niemand omgegee het oor hierdie bewerings nie. Skeptici is verkeerd. Nie net het die mens ’n natuurlike neiging tot nuuskierigheid nie, maar dit sou ook versterk gewees het deur die groepgerigte sosiale struktuur van die dag.

As jy waarde heg aan jou privaatheid, gaan woon in Amerika. In groepgerigte kulture is dit egter heeltemal anders. In sulke kulture is dit algemeen dat mense hulle neuse in ander mense se sake steek. Dit was waar in die antieke tye en dit is vandag ook waar. Dit is algemeen bekend dat stories baie vinnig versprei in klein dorpies. Dit gaan nie oor die fisiese grootte of inwonertal van die dorpies nie, maar oor die kultuur van daardie dorpies.

Die feit dat die Fariseërs gekyk het hoe Jesus en die dissipels koringare pluk (Mat 12) bevestig dat die Fariseërs baie duidelik Jesus en sy dissipels dopgehou het. Hulle het Hom ook gekritiseer dat Hy nie sy hande gewas het voor hy geëet het nie (Mat 15:2). Hulle het duidelik hulle neuse in Jesus se sake gesteek.

Die skeptici het dus ’n probleem. In ’n samelewing waar niks notisie ontsnap het nie, was daar inderdaad alle redes om te veronderstel dat mense wat die Evangelie-boodskap gehoor het, die feite sou kontroleer - veral waar ’n beweging met ’n radikale boodskap, soos die Christendom, betrokke was. Dinge soos:

  • Jesus se leë graf.
  • Die opwekking van dooies ná Jesus se dood: Mat 27:52-53(52)Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, (53) en hulle het uit hulle grafte uitgegaan. Na Jesus se opstanding het hulle in die heilige stad gekom, waar hulle aan baie mense verskyn het.
  • Lasarus se opwekking uit die dood (Joh 11).
  • Jesus se bewerings dat Hy God is (kyk Die Bybel oor Jesus se godheid)
  • Jesus verskyn aan meer as 500 mense ná sy opstanding: 1 Kor 15:4-8(4)Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte. (5)Hy het aan Sefas verskyn, daarna aan die twaalf, (6)en daarna aan meer as vyf honderd broers tegelyk, van wie sommige al dood is maar die meeste nou nog lewe. (7)Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en toe aan al die apostels. (8)Heel laaste het Hy ook aan my, die ontydig geborene, verskyn.

Verder moes nuwe bekeerlinge hulleself kon verdedig op hierdie punte indien hulle nie totale vernedering wou ondergaan nie. (In Hand 2:41 is 3000 mense gedoop en in Hand 4:4 is die totale gelowiges op 5000 beraam.)

Kortom, indien die Fariseërs Jesus dopgehou het toe Hy koringare gepluk het en dopgehou het toe Hy hande gewas het, sou hulle verseker ook dinge soos Sy opstanding baie krities geverifieer het.

14. ’n Onkundige godheid?

Indien jy ’n nuwe geloof wil begin, stel jy nie jou God as onkundig of swak voor nie:

  • Hy het nie die dag en uur geweet wanneer Hy sou terugkom aarde toe nie (Mat 24:36).
  • Jesus het blykbaar nie geweet wie aan Hom geraak het nie (Mark 5:30).
  • Jesus was bang in die tuin van Getsemane voor Sy kruisiging. Hy was so bang dat sy bloed soos sweet geword het (Mat 26:36-46 en Luk 22:44).

15. ’n Onteerde profeet

Markus 6:4Jesus sê toe vir hulle: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring en sy gesin.”

Onder punt 1 hierbo is reeds genoem dat Jesus ’n oneerbare of skandelike dood aan die kruis gesterf het. Dit was egter nie al nie. Kom ons kyk na nog gevalle waar Jesus skande verduur het wat ’n verleentheid vir Sy volgelinge sou wees:

  1. Bespotting voor die teregstelling: Hy het groot vernedering verduur deurdat hy gespot en geslaan is voor Hy tereggestel is (Mat 27:29-31, Mark 15:17-20).
  2. Aantuigings: Jesus was openlik godslasterlik en het skuld daaraan erken (Mat 26:64, Mat 27:11, Mark 15:2, Luk 22:70, Luk 23:3 en Joh 18:37). Diegene wat verkies het om so ’n ondermynende en onteerde man te volg, was dadelik verdag in die oë van die Jode en Romeine.
  3. Jesus se dood: Hierdie word bespreek in #1 hierbo.
  4. Jesus se begrafnis: Jesus was in Josef van Arimatea se eie graf begrawe, nie in ’n familiegraf nie. Dit opsigself was oneerbaar. Verder was die gebrek aan rouklaers by Jesus se begrafnis ook oneerbaar.

16. Diverse teenstrydighede

Hierdie afdeling bevat diverse punte oor leringe en denkwyses van Jesus en die vroeë Christene wat teenstrydig was met wat as normaal aanvaar is in daardie tyd. Sommige van hierdie punte oorvleuel met die punte hierbo genoem (bv nuutheid, #4). Hierdie afdeling is ná 1-15 bygevoeg.

Volgens Malina en Rohrbaugh se Social-Science Commentary on the Synoptic Gospels:

  • Jesus het geleer om, indien nodig, selfs met familie te breek ter wille van die Koninkryk (Mat 10:34-36) en dít in ’n baie inklusiewe gemeenskap. In ag genome dat ’n mens se sosiale stand afgehang het van die groep waaraan jy behoort het, sou dit soms ’n baie duur prys gewees het om te betaal.
  • Om ’n familie te verlaat het gewoolik ook beteken om afstand te doen van materiële rykdom. Jesus het dit van sy dissipels verwag (Lukas 5:11) en ook van die ryk jong man (Mat 19:16-22, Mar 10:17-23).
  • Met die gelykenis van die goeie Samaritaan (Luk 10:30-37) het Jesus weer ’n algemene verwagting, wat die meerderheid grootliks sou beledig het, omgekeer. Eerstens het niemand van die Samaritane gehou nie. Tweedens, min besef egter dat die slagoffer ook iemand was wat gehaat was. Beide die Samaritaan en die slagoffer was handeldrywers wat oor die algemeen hulleself verryk het ten koste van ander.
  • ’n Soortgelyke ommekeer was toe Jesus by Saggeus gaan eet het (Luk 19).
  • Ons mag dalk nie baie dink van Maria wat aan Jesus se voete gesit het terwyl Marta in die kombuis gewerk het nie (Luk 10:38-42). ’n Vrou se reputasie het egter afgehang van haar vaardigheid om ’n huishouding te bestuur. Marta se klagte was hoogs waarskynlik as geldig gesien en Maria se optrede onvanpas. By Jesus was dit egter anders om.

Volgens NT Wright se Jesus and the Victory of God:

  • Die algemene houding teenoor heidense magte soos Rome, was revolusie. Jesus het egter aangeraai om die ander wang te draai (Mat 5:39) en die soldaat se bagasie ’n ekstra myl te dra (vers 41). Die verskil is soos Malcolm X versus Martin Luther King, in ’n tyd toe X se metodes hoogs bevoordeel was.
  • Om die Sabbat streng te hou was ’n Joodse kenmerk; Jesus se optrede van genesing (Joh 9) en graan optel op die Sabbat (Mark 2:23-28 en Luk 6) het nie die eintlike wet geskend nie, maar die streng interpretasie daarvan deur diegene wat hierdie onderskeid wou behou en beklemtoon.
  • Jesus se wegdoening met die ritueel om jou hande te was voor jy eet (Mat 15 en Mark 7) het die persepsie van reinheid geskend.
  • Jesus se opdrag om Hom te volg, eerder as om die dooies te begrawe (Mat 8:22 en Luk 9:60), het een van die mees ingewortelde gebruike van die dag geskend om vir die gesin te sorg en na hul begrafnisbehoeftes te kyk.

17. Moedig mense aan om feite te kontroller

Om mense aan te moedig om bewerings te verifieer en bewyse te soek (en gevolglik hulle te ontmoediging om liggelowig te wees) is ’n gewaarborgde manier om verneder te word as jy leuens verkondig. Veronderstel vir ’n oomblik dat jy probeer om ’n vals geloof te begin. Om jou vals geloof te ondersteun, besluit jy om ’n paar historiese bewerings te fabriseer en hoop dat niemand dit sal nagaan nie. Met ander woorde, ten spyte van die raad wat gegee word in #7 (moenie historiese feite fabriseer nie) en #13 (mense gaan jou bewerings verifieer), besluit jy dat jy ’n kans gaan vat en hoop dat mense liggelowig sal wees en nie die feite nagaan nie. In so ’n geval gaan daag jy nie mense uit om die feite na te gaan nie.

Reg deur die Nuwe Testament moedig die apostels mense aan om die feite self na te gaan:

1 Tessalonisense 5:21maar toets dit alles, behou wat goed is (hierdie is nie direk van toepassing op hierdie onderwerp nie, maar wys ’n algemene ingesteldheid om mense aan te moedig om nie liggelowig te wees nie)

Handelinge 2:22Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self.

Handelinge 17:11Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.

Handelinge 26:26Die koning weet van hierdie dinge, en daarom praat ek openhartig met hom. Ek is seker dat dit nie sy aandag ontgaan het nie, want dit het nie êrens in ’n hoekie gebeur nie.