Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn. Kommentaar verskyn in [rooibruin blokhakies].
**********
10 vrae aan Anton van Niekerk
19 November 2014 deur Kerkbode
Anton van Niekerk se ingrypend hersiene en veranderde uitgawe van sy opspraakwekkende boek, Geloof sonder sekerhede – Hoe kan ek nog glo?, het pas by Lux Verbi verskyn. Frits Gaum het hom daaroor uitgevra.
Wie is Anton van Niekerk?
Ek is ’n professor in filosofie en direkteur van die Sentrum vir Toegepaste Etiek aan die Universiteit Stellenbosch. Behalwe my akademiese werk, lees ek graag geskiedenis en neem dikwels deel aan die openbare gesprek oor aktuele kwessies – nie omdat ek moedswillig of kontroversieel wil wees nie, maar omdat ek glo dat die oop gesprek die lewensbloed van ’n gesonde demokrasie is.
In die nuwe uitgawe van jou boek skryf jy dat dit belangriker is om in die daaglikse praktyk as Christen te léwe as om presies te weet wat jy as Christen gló. Verstaan ek jou reg?
Ek dink nie dat dit onbelangrik is om “te weet wat jy as Christen glo” nie. Ek dink bloot nie ons hoef so bekommerd daaroor te wees as ons almal nie presies met mekaar ooreenstem oor wat ons glo nie. In dié opsig is dit so dat ek meer waarde heg aan konsensus oor hoe ons as gelowiges moet lewe, as oor wat ons moet glo. Ek sê so omdat ek Jesus van Nasaret in ’n radikale sin as my rolmodel vir die geloof neem. Hy het, lyk my, met geen sistematiese dogmatiek oor die inhoud van wat ons glo, gewerk nie. Die geloof was vir Hom eenvoudig ’n lewenswyse waarin ons die belange van die naaste altyd soek en eerste stel. Geloof, wat my betref, is doodgewoon om te probeer lewe soos ons dit sien en leer by Jesus.
Maar dan moet ’n mens tog ook weet wát jy glo …?
Ek neem die aanspraak van talle teoloë (bv Karl Barth) – dat wat ons omtrent God weet, ons weet op grond van sy selfopenbaring in Jesus – baie ernstig op. Daar is, wat my betref, weinig meer oor God te sê as wat ons sien in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus. Ek luister goed na Jesus as Hy verklaar: “Vir sover julle dit aan die geringstes van my broeders (en susters) gedoen het, het julle dit aan My gedoen …” God het aan ons bekend geword in sover Jesus onder ons kom leef het. Ons leef met God in die lewe wat ons by Jesus leer. Jesus leer ons: In die naaste is die Heer self teenwoordig.
Jy skryf dat jy met integriteit wil bly glo in ’n tyd wat lankal afskeid geneem het van die wêreld-beeld waarvan die Bybel ons vertel. Maar het “die moderne mens” nie reeds onomkeerbaar afskeid geneem van God nie?
Ek is ’n moderne mens aangesien ek die erfgenaam van die Verligting is. Moderniteit is die proses van toenemende kritiese refleksiwiteit. ’n Eerlike kritiese ondersoek van ons leefwêreld moet myns insiens erken dat daar veel meer is as wat die wetenskap ons kan leer – hoe krities belangrik die wetenskap ook al is. Daar is sentraal belangrike vrae wat die wetenskap nie kan beantwoord nie. Daar is daarom ruimte vir die geloof as die erkenning van die misterie wat nie op die periferie nie, maar in die sentrum van ons lewe staan: Wie is ek? Waarom lewe ek? Watter soort lewe is die moeite werd om te lewe? Is daar iets waarop ek kan hoop?
Die belydenis van die maagdelike geboorte van Jesus is vir jou problematies. Waarom is die belydenis oor die opstanding van Jesus dan nie ook ’n probleem nie?
Die verhaal van die maagdelike geboorte is duidelik ’n gevolg van die oorweldigende vooroordeel teen seksualiteit in die vroeë kerk, veral as gevolg van die invloed van Plato op die kerkvaders. Die opstanding van Jesus is belangrik, nie primêr omdat dit verwys na ’n historiese gebeurtenis wat letterlik plaasgevind het nie (miskien het dit wel), maar vanweë die besondere betekenis daarvan: die belofte dat dood en lyding oorwin is en sal word, en omdat dit as sodanig buitengewone sin gee aan die lewe wat ons in die geloof probeer lei.
[Let op dat Anton hier sê: Hy sê dat die mense van daardie tyd ’n oorweldigende vooroordeel teen seksualiteit gehad het. Dus het hulle stories vertel om Jesus van ’n verleentheid te red. Dus glo hy dat Jesus ’n buite-egtelike kind was.
Van Jesus se opstanding sê hy “miskien het dit wel” plaasgevind. Ons moet egter aan die opstanding glo, nie noodwendig die letterlike opstanding nie, maar die boodskap van die opstanding dat dood en lyding oorwin is.]
Wat verstaan jy onder die begrip “ewige lewe”?
“Ewige lewe” verwys myns insiens na die ewigheidswaarde wat ’n lewe verkry as dit verloop volgens die voorbeeld van Jesus en in volwaardige diens van die medemens staan.
[Dit is nie baie duidelik wat hy hier sê nie, maar dit lyk baie of hy bedoel dat daar baie waarde daarin is om Jesus se voorbeeld te volg. Die voorbeeld wat Jesus lyk my gestel het is om volwaardig in diens van jou medemens te staan. Ek kry nie die idee dat Anton noodwendig Jesus se boodskap van redding hier bedoel nie. Kyk Die Nuwe Testament oor redding.]
Jy praat in jou boek van ” ’n etiek van verantwoordelikheid”?
Ja, dit dui op ’n lewenshouding wat altyd bereid en in staat is om verantwoordbare redes te verstrek vir elke morele besluit wat ’n mens neem (dit moet dus die uitkoms van behoorlike nadenke wees), wat aanvaar dat ons terselfdertyd moreel feilbaar is, en wat bereid is om, as dit nodig blyk te wees, verantwoordelikheid te aanvaar vir die foute wat ons met morele besluite maak.
[Dus bepaal mense self morele waardes. As ’n mens kan wys dat jy daaroor gedink het, kan jy self jou eie morele waardes bepaal. Dus word die Bybel nie as die hoof bron van morele waardes geag nie.]
Dit lyk soms in jou boek of jy Nazïsme en apartheid as voëls van eenderse vere beskou. Is dit nie ’n bietjie onbillik nie?
Apartheid en Nazïsme is natuurlik nie dieselfde ding nie. Nazïsme was ’n veel meer moorddadige ideologie wat onvergelyklike menslike lyding veroorsaak het. Sowel Nazïsme as apartheid was egter wesenlik rassistiese ideo-logieë wat sekere groepe mense as minderwaardig teen-oor die heersende groep beskou het. Vir my is dit ’n skrale troos dat apartheid vir die dood van veel minder mense as Nazïsme verantwoordelik was. Die ergste onmenslikheid van apartheid was om die een aspek van ons menswees waaraan ons niks kan verander nie, naamlik velkleur, te verhef tot maatstaf van volwaardige menslikheid.
Jy skryf in die boek heelwat oor “die Bybelse eis van geregtigheid”. Watter vorme van ónreg sou jy in die huidige Suid-Afrika wou uitwys?
Amper te veel om op te noem: misdaad (waaronder alle vorme van moord, insluitende plaasmoorde), geweld teen onskuldige mense, bedrog, korrupsie, gebrek aan diensvaardigheid, voorkombare armoede, onverantwoorde en onverantwoordbare regstellende aksie, ongebreidelde toe-eiening (“entitlement”), en vele meer!
[Alles belangrike onderwerpe, toegegee. Maar Anton sê niks oor die groot opdrag nie. ’n Mens wonder wat hy van sendingwerk dink? Kyk Die Bybel oor sending.]
Het jy hoop vir die NG Kerk waarvan jy steeds ook ’n proponent is?
Die kerk – insluitend die NG Kerk (waaraan ek steeds behoort, ten spyte van my ongeduld oor die gesukkel om Belhar as belydenis te aanvaar) – is nie primêr iets wat ons sien nie, maar iets wat ons glo; dit is een van die Twaalf Artikels. Die kerk behoort aan Jesus; dit het die moontlikheid om die versinnebeelding van sy gemeenskap met ons, en van ons met mekaar, te wees. Ek het daarom sinnigheid aan Calvyn se uitspraak dat elk-een wat God sy Vader noem, die kerk sy Moeder behoort te noem. Ek het daarom hoop vir die kerk – nie op sterkte van diegene wat die kerk vandag lei nie, maar op sterkte van dié God wie se beloftes alleen die kerk sal laat oorleef.