Die volgende artikel het oorspronklik in die Kerkbode van 6 Februarie 2015 verskyn. Kyk ook die kommentaar onderaan die artikel.
************
Proff Francois Tolmie en Jan van der Watt se boek, Ontdek die boodskap van die Nuwe Testament, het onlangs by CUM verskyn. Frits Gaum het met Francois gesels.
1 Wie is Francois Tolmie?
Ek is gebore op 11 November 1959 in Keetmanshoop in die destydse Suidwes-Afrika. My pa was ’n predikant en daardie dae was daar nog volop beroepe, en ek was dus gelukkig om my kinderdae op ’n paar plekke deur te bring: Stilbaai, Oudtshoorn en Middelburg (Kaap), waar ek ook gematrikuleer het. Ek het my teologiese opleiding aan die Universiteit Vrystaat (UV) ontvang en was ná my dienspligjare vir ’n kort rukkie ’n dominee in Walvisbaai-moedergemeente. Ek is in April 1990 as dosent in die departement Nuwe Testament aan die UV aangestel … en hier is ek nog al die jare. Ek is getroud met Ansa en ons het drie kinders. Ek is mal oor die Nuwe Testament – veral oor Johannes en Paulus. Ek is dus een van daardie gelukkige mense wie se stokperdjie sy werk geword het.
2 Waarom het jy en Jan van der Watt Ontdek die boodskap van die Nuwe Testament geskryf?
Dié boek is ’n populêre weergawe van wat ons in akademiese kringe “’n teologie van die Nuwe Testament” noem. Ons het besef dat daar nog nie so iets in Afrikaans in die populêre geestelike mark beskikbaar is nie en het toe besluit om dit saam te skryf. Dit is bedoel vir lesers wat belang stel in geestelike literatuur, maar op soek is na iets dieper. Ons verduidelik byvoorbeeld hoe sake soos God, Jesus en die Heilige Gees, verlossing en etiek in die Nuwe Testament uitgebeeld word – hoe die verskillende dele van die Nuwe Testament van mekaar hieroor verskil, maar ook hoe alles saamkom in groter gedagtestrome.
3 Jy skryf in die boek dat Jesus Christus die middelpunt van ons geloof is. Die afgelope tyd het daar ’n hele paar boeke in Afrikaans verskyn met vrae oor Jesus. Soos Anton van Niekerk wat in sy boek Geloof sonder sekerhede die maagdelike geboorte van Jesus bevraagteken. Hoe sien jy Jesus se geboorte “uit die maagd Maria”?
Ek kan verstaan dat dit vir baie mense van ons tyd moeilik is om so iets te glo omdat dit moeilik versoenbaar is met ons insigte oor hoe die mediese wetenskap en dinge soos genetika werk, maar dalk mis ons die eintlike punt van die saak as ons vanuit so ’n wetenskaplike hoek daarna kyk. As ons dit egter probeer verstaan deur die oë van die antieke mense en hoe hulle oor daardie soort dinge gedink het, ontdek ons dat dit ’n manier was om iets besonders oor Jesus te bely – dat Hy werklik van God af gekom het.
4 Sien jy Jesus se opstanding as letterlik op ’n dag en datum in die geskiedenis, of moet ons dit eerder metafories verstaan?
Ek verstaan Jesus se opstanding uit die dood as iets wat werklik gebeur het. Dit is moeilik om enige ander bevredigende verklaring te gee vir die opstandingsgeloof wat die vertrekpunt van al die Nuwe-Testamentiese geskrifte vorm. In die Nuwe Testament word die rykdom van Jesus se opstanding op verskillende maniere ontgin en op aangrypende wyse gebruik om sin aan mense se lewe te gee, en dit is iets wat nog steeds in ons tyd mense kan help om hulle bestaan as iets sinvols te beleef, omdat sy opstanding soveel nuwe moontlikhede vir ons ontsluit … ook in 2015 in die Suid-Afrika waarin ons lewe!
5 Sou jy sê dat die Bybel – en daarmee saam die Nuwe Testament – die énigste “Woord van God” is en dat die Koran, byvoorbeeld, dit nié is nie?
Ek glo dat die Bybel die enigste boek is wat ons God se Woord kan noem en waardeur ons God, Christus en die Heilige Gees werklik kan leer ken. Dit verg ’n interpreteringsproses waarby ons hele menswees betrek word en waar die gepaste houding een van nederigheid is, en van ’n voortdurende bereidheid om ook by ander gelowiges te hoor hoe hulle God se spreke verstaan. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe belangrik dit is om die verstaan van die Bybel as ’n gesamentlike proses te sien, en dan juis om ook regtig opreg te luister na mense wat die Bybel op ’n ander manier verstaan.
6 ’n Nuwe-Testamentikus kry in sy navorsing waarskynlik méér as die meeste van ons te doen met vrae oor die betroubaarheid van die Skrif en die evangelie. Bring dit ooit ’n mens se geloof in gedrang?
Dit hang af hoe ons die betroubaarheid van die Skrif verstaan. Vir my beteken die betroubaarheid van die Skrif nie dat ons alles wat in die Nuwe Testament gesê word, presies by mekaar moet laat inpas en probeer harmonieer nie. Ons moet al die Nuwe-Testamentiese geskrifte tot hulle reg laat kom en binne hulle eie ontstaanskonteks verstaan. Daarvoor is iets soos Historiese Kritiek onontbeerlik; anders kan ons nooit werklik ’n goeie greep op die teologie van die Nuwe Testament kry nie.
7 Die Vrystaatse teologiese fakulteit het destyds tot stand gekom met die gedagte by sommige dat dit ’n meer “behoudende” rigting in die teologie sou handhaaf. Is dit nog so?
Die fakulteit het oor die jare baie verander en daar is deesdae ’n redelike breë spektrum van teologiese sienings aan die fakulteit teenwoordig. Daar het intussen ook dosente van ander denominasies in die personeel bygekom met ook nog ander verrykende perspektiewe.
8 ’n Paar jaar gelede is die verwysing na God uit die leuse van UV weggeneem. Wat was die standpunt van die teologiese fakulteit daaroor?
Dit het gebeur in die tyd toe ek nog dekaan was. Nadat die besluit deur die UV geneem is (as deel van ’n groter herposisionering van die universiteit), het ons die saak indringend by een van ons personeelvergaderings bespreek, maar nie ’n amptelike besluit daaroor geneem nie. Daar was van die personeellede aan die fakulteit wat teen die stap gekant was, maar ook ander wat gedink het dit was ’n goeie besluit.
9 Hoeveel denominasies is betrokke by UV se teologiese fakulteit?
Ons het ’n paar jaar gelede ’n opname hiervan gemaak en in daardie stadium was daar alreeds studente van ongeveer 25 verskillende denominasies by die fakulteit ingeskryf – die meeste van hulle vir nagraadse studie. Die fakulteit het ook amptelike ooreenkomste met al vier kerke van die NG Kerkfamilie.
10 Wat is jou droom vir jou loopbaan verder?
Ek was tot aan die einde van 2013 dekaan van die fakulteit – in ’n baie interessante tydperk in die geskiedenis van die UV. Ek is nou weer voltyds terug in die departement Nuwe Testament en kan meer tyd aan navorsing bestee. Ek is besig met twee groot projekte waaraan ek heelwat tyd in die volgende paar jaar wil afstaan: die retoriese analise van Paulus se briewe en die narratiewe lees van die Johannes-evangelie. Dit sal my goed besig hou met my werk én met my stokperdjie!
Kommentaar
Jan Louw 2015-02-16
Daar kom heelwat gevaarligte aan in die 10 vrae wat die Kerkbode aan Tolmie gevra het:
- Oor die maagdelike geboorte reageer hy dat dit moeilik is vir mense van vandag om te midde van al ons wetenskaplike kennis in die maagdelike geboorte te glo. Weerstand teen die wonders van God is niks nuuts nie. Toe Paulus 2000 jaar gelede vir die Ateners van die opstanding vertel het, het hulle met hom begin spot en hulle het hom die rug gedraai. Dit is deel van ons geloof dat God nie gebind is aan natuurwette nie. Tolmie sê: “As ons dit egter probeer verstaan deur die oë van die antieke mense en hoe hulle oor daardie soort dinge gedink het, ontdek ons dat dit ’n manier was om iets besonders oor Jesus te bely – dat Hy werklik van God af gekom het.” Dit gaan nie oor ’n “antieke verstaan” van dinge nie. Dit gaan oor verwondering oor die groot dade van God. Dit vra dan ook dat Tolmie sal standpunt inneem teen Anton van Niekerk wat (as ’n “Christen”) die maagdelike geboorte bevraagteken.
- Oor die opstanding ervaar ek sy antwoord as verskonend. Hy sê die opstandingsgeloof help om sin te gee aan ons lewe en ontsluit nuwe moontlikhede vir ons in SA. (!)
- Sy opmerking oor die Koran is verstommend: “voortdurende bereidheid om ook by ander gelowiges te hoor hoe hulle God se spreke verstaan. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek hoe belangrik dit is om die verstaan van die Bybel as ’n gesamentlike proses te sien, en dan juis om ook regtig opreg te luister na mense wat die Bybel op ’n ander manier verstaan“. Tolmie praat van “ander gelowiges”. Is Moslems dan nou “medegelowiges”? Wil hy regtig sê dat mense van die Moslemgeloof ons moet help om die Bybel beter te verstaan? Tolmie sê ons moet bereid wees om (met die gepaste nederigheid) by die “ander gelowiges” te hoor hoe hulle “God se spreke verstaan”. In die konteks van die vraag oor die Koran moet ons daaruit verstaan dat die Vader van ons Here Jesus Christus en die god van Mohammed volgens sy siening dieselfde God is! Die implikasie is verder dat Mohammed nie meer ’n valse profeet is waarteen Jesus gewaarsku het nie, maar ’n profeet van God op wie ons moet ag gee!!
- Oor die Historiese Kritiek wat Tolmie propageer ’n paar opmerkinge: Die Ou Testamentikus kollega Jurie le Roux van Pretoria het iets oor die historiese kritiek gesê by Geskiedenis van Ou Testament eksegese, 23: Gerhard Von Rad, 03 – Jurie le Roux. Hy wil daar voorgee dat ons Historiese Kritiek eerder moet verstaan as Historiese Wetenskap. As mens egter dieper op die saak ingaan kom jy agter dat die Historiese “Wetenskap” Jurie daartoe gebring het om Abraham bv as ’n nie-historiese figuur te verstaan. Die Historiese Kritiek het Andries van Aarde daartoe gebring om sy eie weergawe van die maagdelike geboorte van Jesus te skep. (Sien Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”) Wat het Tolmie nou in gedagte as hy so gemaklik praat van die Historiese Kritiek wat onontbeerlik is om ’n goeie greep op die “teologie van die Nuwe Testament” te kry?
- Tolmie is ontwykend oor die vraag of Bloemfontein as “behoudend” gesien kan word as hy sê: Daar is deesdae ’n redelike breë spektrum van teologiese sienings aan die fakulteit teenwoordig. Elkeen moet dus maar sy eie gevolgtrekking maak oor die teologie van Bloemfontein, maar dit klink nie bemoedigend nie.
- Die verwysing na “God” is uit die leuse van Bloemfontein weggeneem. Die Afrikaanse vertaling uit die Latyn was: “In God is die lig van die wysheid”. Dit is verander na “In die waarheid is die lig van die wysheid”. Hieroor sê Tolmie: Daar was van die personeellede aan die fakulteit wat teen die stap gekant was, maar ook ander wat gedink het dit was ’n goeie besluit. Die teologiese fakulteit het nie ’n besluit daaroor geneem nie. Tolmie was op daardie stadium dekaan van die fakulteit. Dit is in my opinie ’n aanklag teen die Teologiese Fakulteit van Bloemfontein dat hulle nie ’n openbare standpunt oor die verandering van die leuse gehad het nie. Wat daar gebeur het, was ’n uitdrukking van sekularisasie waarin daar nie meer ’n plek vir God in die akademie en trouens in die samelewing is nie. Mens kan verder ook soos Pilatus vra wat is die “waarheid” waarvan die nuwe leuse praat. In ons tyd het elke mens mos sy eie waarheid. Ek dink die woorde van Jesus is hier van toepassing: “As julle, julle skaam vir My in hierdie owerspelige geslag sal Ek My vir julle ook skaam wanneer die Seun van die Mens met sy engele kom.” (Markus 8:38)
Dit is dan ’n paar opmerkings oor die standpunte van Prof Tolmie, aan wie die verantwoordelikheid toevertrou is om ons jongmense voor te berei om leraars in die kerk te word.