*******
10 vrae aan … Jaap Durand | Kerkbode
(Verskyn in Kerkbode op 02/08/2013)
PROF JAAP DURAND is in sy tagtigste jaar steeds een van die mees gerespekteerde teoloë in Suid-Afrika. Hy was in sy leeftyd sendeling in die Oos-Kaap, medeskrywer van die belangrike teologiese boekereeks, Wegwysers in die Dogmatiek, dekaan van die Teologiese Fakulteit en waarnemende rektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland, en mede-opsteller van die Belydenis van Belhar. Vroeër vanjaar het die belangwekkende Evolusie, wetenskap en geloof uit sy pen verskyn. FRITS GAUM het tien vrae aan hom gestel.
1 Wie is Jaap Durand?
’n Afgetrede sendeling-teoloog, wat tog steeds met sy beperkte vermoëns iets probeer vertel van sy eie verstaan van die evangelie van Jesus Christus binne die soms wisselende historiese kontekste waarbinne ons vandag leef. Dat ek nie altyd daarin slaag om reg te interpreteer nie, en ook nie om hierdie beperkte insig duidelik genoeg oor te dra nie, is ’n gegewe wat deur myself en ander aanvaar moet word.
2 Cas van Rensburg skryf onlangs in Rapport na aanleiding van Evolusie, wetenskap en geloof (2013): “Dit is ’n dapper man om in sy 80ste jaar ’n veld te betree wat hom sekerlik ’n paar klappe gaan besorg.” Jou kommentaar?
Om oor evolusie te skryf, hou altyd die gevaar van misverstand in omdat baie mense dit moeilik vind om te onderskei tussen evolusionisme as ’n natuurfilosofiese denkstelsel waarin daar vir God nie plek is nie, en evolusie as iets waarmee natuurwetenskaplikes op verskillende gebiede daagliks worstel – sonder dat dit noodwendig hulle Christelike Godsgeloof aantas. ’n “Paar klappe” is te wagte in enige poging om aan te toon dat daar niks in die Bybelse skeppingsverhaal is wat die moontlikheid van evolusie uitsluit nie.
3 Wentzel van Huyssteen van Princeton skryf in die boek God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles (2012) dat evolusie dié manier is waarop God geskep het. Stem jy met hom saam?
Ek wil my antwoord kwalifiseer. Omdat voortgaande ontwikkeling op mikro- en makrovlak volgens natuurwetenskaplikes ’n vasstaande feit is, vorm evolusie deel van God se voortgaande skeppingsdaad. Wat God se oorspronklike skeppingsdaad behels het, gaan bokant alle menslike teorieë en bespiegelinge uit. Daarom gebruik die natuurwetenskappe, net soos die Bybel, metafore om iets daarvan vir ons te probeer vertel. Die groot knal (“Big Bang”) van die teoretiese fisika is een van sodanige metafore.
4 In ’n onlangse artikel in Kerkbode (21 Junie 2013) het jy geskryf: “Maar wat weet enige iemand – wat weet die kerk, selfs die Bybel – oor wie God werklik is?”
Weet ons te min van God? Die onbegryplike God het Hom in Jesus Christus geopenbaar. Meer oor God kan ons nie weet nie en hoef ons nie te weet nie.
5 Hoe sien jy die lewe ná die dood?
Ons lewe is met Christus verborge in God (Kol 3:3). Die dood is die oorgang na ons nuwe lewe wat nou nog by God vir ons in bewaring gehou word. Hiervan het ons die eerste paaiement en waarborg ontvang – die Gees van Christus wat in ons woon (2 Kor 5:5).
6 Jy het destyds ’n groot rol gespeel met die opstel van die Belydenis van Belhar. Meen jy dat die aanvaarding van dié belydenis deur die NG Kerk noodsaaklik behoort te wees vir die hereniging van die NG Kerkfamilie?
Ja. Die Belydenis van Belhar speel so ’n groot religieuse en emosionele rol in die lewe van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) dat dit nie van hierdie kerk verwag kan word om daarsonder in ’n kerkhereniging in te gaan nie.
7 Hoort die Belydenis van Belhar in dieselfde groep belydenisskrifte as die Drie Formuliere van Eenheid, of pas dit eintlik in ’n ander orde van belydenisskrifte?
Die Belydenis van Belhar is van dieselfde orde as die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls. Die drie sake waarom dit in Belhar gaan – die eenheid van die kerk, die versoening tussen mense onderling en geregtigheid – word feitlik nie, of slegs vlugtig, in die genoemde Formuliere van Eenheid hanteer.
8 Jy was dekaan van die teologiese fakulteit, vise-rektor en waarnemende rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland toe dié universiteit nog in ’n mate “Afrikaans” was. Hoe voel jy oor die stille vertrek van Afrikaans as akademiese taal aan die UWK?
Ek het ’n groot rol daarin gespeel om die UWK ook vir swart studente oop te stel. In daardie stadium was hierdie universiteit kragtens die apartheidswette uitsluitlik bedoel vir bruin studente. Groot getalle swart studente het gevolglik na die UWK gestroom. Hierdeur het Afrikaans as onderrigtaal noodwendig agteruitgegaan. Ek was nog nooit spyt dat ek hierin aktief meegewerk het om bestaande landswette te ignoreer nie. Wat by die UWK gebeur het, is nie noodwendig die patroon wat gevolg moet word by ander universiteite – byvoorbeeld Stellenbosch – nie. Situasies verskil.
9 In jou boek, Ontluisterde wêreld – Die Afrikaner en sy kerk in ’n veranderende Suid-Afrika (2002), skryf jy dat die NG Kerk-leierskap “die Nasionale Party in hierdie proses (om van apartheid afstand te doen) minstens begelei het”. Die NG Kerk hét dus, naas foute wat gemaak is, na jou mening in dié verband in die 1980’s en 1990’s ’n konstruktiewe rol gespeel. Hoe sou jy die rol wat die NG Kerk en die NG Kerkfamilie tans in die samelewing behoort te speel, wil beskryf?
Die kerk se profetiese roeping word nooit uitgespeel nie. In Die Rynlander, die nuusbrief van die Rynse VGK-gemeente waaraan ek en my vrou behoort, lees ek: “Het jy geweet die VGK gaan die Belydenis van Belhar gebruik om die regering tot orde te roep sodat ekonomiese ongeregtigheid in die land aangespreek kan word?” Dit is maar net ’n beginpunt.
10 Jy was ’n lewenslange vriend en vakgenoot van Jaap Furstenberg, wat onlangs oorlede is. Wat onthou jy veral van hom?
Jaap was soos ’n Bybelse Nataniël, ’n man in wie daar geen bedrog was nie. Hy het die genade ontvang om iets van die onmeetlikheid van God se genade te besef en in sy lewe waar te maak.
Evolusie, wetenskap en geloof word uitgegee deur Bybel-Media en kan bestel word by 0860 26 33 42. Dit kos R169,50. Sien ook bl 2.