10 vrae aan Nelus Niemandt

Kyk ook:

Die volgende onderhoud het in Kerkbode verskyn. Let daarop dat die prioriteitsake van die NG Kerk Belhar/kerkeenheid, armoede en menswaardigheid (wat lyk my homoseksualiteit insluit) is. ’n Mens sou dink dat die Groot Opdrag volgens Matteus 28:19 ten minste genoem sou word. Hierdie kom egter nie noodwendig as ’n verrassing nie. Volgens Danie Mouton in Kerkbode sê nee vir Woordfees, is dit misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.

**********

10 vrae aan Nelus Niemandt

2013-05-02

Nelus Niemandt is professor in Godsdiens- en Sendingwetenskap aan die Universiteit Pretoria, moderator van die jongste Algemene Sinode van die NG Kerk en voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen. Sy boek, Nuwe leierskap vir nuwe werklikhede, het pas verskyn. FRITS GAUM het met hom gesels.

1 Wie is Nelus Niemandt?

Die kern van my identiteit is dat ek weet dat die lewende God my onvoorwaardelik liefhet. Dit klink te goed om moontlik te wees, maar ek is God se beminde. Dit bepaal my hele uitkyk op die lewe … Ek is baie lief vir my vrou, Marthinet, en ons drie kinders. Ek is passievol oor die kerk en die studente by Tukkies – waar ek klas gee. Ek geniet dit om te fliek, boeke te lees, rugby en krieket te kyk. Ek hou van vakansie by die see en geniet luilekker tye in die Wildtuin … en my vriende is kosbaar en maak die lewe die moeite werd.

2 Jou nuwe boek het te doen met nuwe leierskap vir nuwe tye. In watter opsig verskil goeie kerklike leierskap nou, na jou mening, van 30 jaar gelede – toe jou skoonpa moderator van die Algemene Sinode was?

Ons leef in ’n nuwe werklikheid. In 30 jaar het die wêreld geweldig baie verander. G’n wonder dat daar baie nuwe insigte oor leierskap is nie. Só word die waarde van onderlinge verhoudinge meer as ooit waardeer. Ons moet ons afhanklikheid van leiers-as-helde laat staan, en eerder soek na leiers wat respek het vir komplekse organiese sisteme. Die skeiding tussen leiers en volgelinge vervaag, en al die beheer kom nie van een sentrale punt af nie. Dít is juis van die kosbaarste lesse wat ek by my skoonpa, ds Kobus Potgieter, geleer het. Hy is iemand wat besondere waarde geheg het aan goeie verhoudings. In die tyd toe die Afrikaanse Protestantse Kerk weggebreek het weens die aanvaarding van Kerk en samelewing, het hy hard gewerk om kerkmense bymekaar te hou. Hy is ’n regte mens-mens. Ek wens ek kan soveel goeie grappe soos hy op die regte tyd vertel!

3 Is kerklike leierskap wesenlik anders as leierskap op enige ander lewensterrein?

Daar was ’n tyd toe mense in die kerk baie van die leierskaplesse in die sakewêreld op die kerk toegepas het. Dit het nie goed gewerk nie. Tewens, baie van die wêreld se probleme – soos die finansiële krisis – het te doene met swak leierskap. Deesdae sien ’n mens al hoe meer boeke oor sakeleierskap wat eerder tipiese Christelike beginsels begin toepas. Ons hoor nou van dinge soos dienskneg-leierskap, luisterende leierskap en empatiese leierskap.

4 Wat is die drie prioriteitsake wat op die NG kerkleiding se agenda is?

Die prosesse rondom die hantering van die Belydenis van Belhar, kerkhereniging en armoede in ons land. Ons begin ook met ’n omvattende seisoen waar ons aandag gee aan menswaardigheid.

[Wat van die Groot Opdrag volgens Matteus 28:19?]

5 Bepaal leiers self wat die prioriteitsake is of moet wees, of word dit deur omstandighede bepaal?

Dit is ’n mengsel van albei. Leierskap het alles met onderskeiding te doen – en dit beteken dat ’n mens die tekens van die tye goed moet lees en jouself moet afvra wat in God se toekoms op ons wag. Ek praat in my boek oor twee besonder belangrike vrae wat gelowiges kan vra: “Wat is God besig om te doen?” en: “Wat wil God doen?”

6 Jy het ’n jaar of twee gelede gesê dat die “gay issue” en die dinge wat daarmee verband hou, nie in daardie stadium op die kerklike agenda was nie. Is dit nog so?

In die boek praat ek van Christene se soeke na nuwe antwoorde op die nuwe omstandighede wat in en rondom ons groei. Dit is duidelik dat daar ’n geweldige groot verandering in die gemeenskap se siening oor seksualiteit aan die ontwikkel is. Daar is nuwe insigte oor menswaardigheid – en dit beteken dat ons sekerlik nog lank aan dié saak aandag sal gee.

[Die insigte wat die Bybel vir ons gee oor hierdie saak sal nooit verander nie (kyk Die Bybel oor homoseksualiteit).]

7 Jy is betrokke by teologiese opleiding. Wat is belangrik by die opleiding van toekomstige kerkleiers?

Ons moet leiers oplei wat kan onderskei. Daarvoor is kritiese denke en akademiese vaardigheid belangrik. Hulle moet die aanpassingsproses by ’n nuwe wêreld verstaan en kan begelei. Spiritualiteitsvorming lê aan die hart daarvan.

8 Dink jy die Afrikaanse media is onnodig krapperig teenoor die kerk – veral die NG Kerk?

Ek verbaas my soms oor die skerp fokus op die NG Kerk. Dit het sekerlik te doene met die feit dat baie mediamense nog die NG Kerk as ’n soort volkskerk sien. Daar is egter ook verslaggewers wat baie kundig en gebalanseerd en op ’n uitstekende manier verslag doen oor die kerk. Ek is byvoorbeeld nie verbaas oor die Andrew Murrray-toekenning aan Neels Jackson nie – hy is ’n wêreldklas-joernalis. Daar is egter ander joernaliste wat duidelik ’n byltjie te slyp het en elke kans gebruik om godsdiens en die kerk by te kom. Soms voel dit my dat hulle lanklaas regtig met die hart van die kerk in gemeentes te doene gehad het.

9 Hoe, meen jy, sal die NG Kerk oor tien jaar lyk?

Die hart van die kerk is gemeentes. Daar gaan al hoe meer gemeentes wees wat op ’n kreatiewe manier by die eise van die tyd aanpas en wat die evangelie vars bring. Daar gaan al hoe meer multikulturele gemeentes wees, en ook al hoe meer gemeentes sonder voltydse predikante. Die NG Kerk gaan – saam met ander kerke – baie erns maak met ons verantwoordelikheid teenoor die regering … en die omgewing. Die fokus gaan nie net wees op wat met ’n mens gebeur as jy doodgaan nie, maar hoe dinge is vóórdat ’n mens doodgaan. Op die vlak van sinodes en kerkverband is ek seker daarvan dat ons op die een of ander manier eenheid in die NG Kerkfamilie gaan geniet. Gereformeerde kerke gaan ook nader aan mekaar beweeg in eenheidstrukture. Ek dink nie die afname in lidmate gaan teen daardie tyd omgekeer wees nie, maar ek dink wel ons gaan ’n baie groot verdieping by mense sien. Die jongste Kerkspieël het al aangetoon dat meelewende lidmate besonder toegewyd is, en intens betrokke is by gemeenskappe – met ’n sagte hart vir armes, mense in nood en randfigure. Ek dink Christene gaan hulle geloof al hoe meer radikaal uitleef.

10 Wat is persoonlik jou grootste droom?

Ek sal baie graag meer kreatief wil wees. Ek wil so graag met ’n oop gemoed leef, sodat ek elke dag verras kan word deur die lewe in volheid wat die Here aan ons gee.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui