Spangenberg se weergawe van kerklike standpunte is simplisties
deur Prof. Nico Vorster van Potchefstroom skryf
2011-06-02 22:50
Sakkie Spangenberg se rubriek “Waarheen gaan Jesus terugkeer?” (Beeld, 2 Junie) het betrekking.
Uiteraard is dit moeilik om te debatteer met iemand wat die gesag van die Skrif verwerp aangesien ’n mens se Skrifbeskouing saamhang met geloofsvertrekpunte.
Jesus se siening van homself hang byvoorbeeld saam met die vraag of ’n mens die evangelies as betroubare selfgetuienis van Jesus beskou of as onbetroubare versinsels. As ’n leser die gesag van die Skrif aanvaar, is dit duidelik dat Jesus homself as die Seun van God en as Middelaar openbaar.
Die wesenlike probleem met Sakkie Spangenberg se rubriek is dat hy kerklike standpunte op ’n eensydige en uiters simplistiese wyse weergee. Hy gaan op ’n ongebalanseerde wyse om met ingewikkelde vraagstukke. Sinvolle diskussie is nie moontlik as die verskillende standpunte ter sake nie op ’n billike wyse weergegee word nie.
Dit is onjuis om te beweer dat alle kerke mense gevange hou in ’n antieke wêreldbeeld. In die reformatoriese tradisie word redelik algemeen aanvaar dat God met antieke mense in terme van die wêreldbeeld van die tyd spreek, maar dat die teologiese boodskap van die Skrif nie afhanklik is van ’n antieke wêreldbeeld nie.
Die Skrif dra teologiese waarhede oor en stel nie belang in die oordra van natuurwetenskaplike waarhede nie. Pleks daarvan om die Skrif te ontmitologiseer, moet die Skrifopenbaring eerder verantwoordelik binne sy antieke konteks verstaan word.
Verder is dit histories eensydig om kerke te beskuldig van onderdrukkende politieke mag. Hoewel kerke hulle deur die geskiedenis soms skuldig gemaak het aan geweld en onderdrukking, was kerke oor die algemeen deur die geskiedenis ’n instelling ten goede van die samelewing wat armoede, sosiale ongeregtigheid en onderdrukking beveg het.
In die 20ste eeu het intense verset teen Nazisme en apartheid juis gekom vanuit die kerklike wêreld. Dink maar aan verset van die Gereformeerde Ekumeniese Raad en die Wêreldraad van Kerke teen apartheid.
Verder word erns gemaak binne die teologie om die verhouding tussen geloof en wetenskap te ondersoek. In die reformatoriese tradisie word ’n hoë premie geplaas op die feit dat God homself ook in die natuur openbaar.
As die eiesoortige aard van die Skrif en sy teologiese gerigtheid verstaan word, en die grense van wetenskap aanvaar word, hoef geloof en wetenskap nie in stryd te staan nie.
Die wesenlike probleem met Spangenberg se aanpak is dat hy, veral ten opsigte van Genesis 1-3 en kerke se siening van sonde, ’n baie simplistiese en veralgemenende weergawe gee van kerke se sienings, en dan op grond van sy eie eensydige weergawe van kerklike standpunte die kerk verwerp.