Bybel bekoor met eenvoud
2011-11-20 21:17
(Gekopieer vanaf Volksblad)
Ons het daaraan gewoond geraak om die regte verstaan van die Bybel oor te laat aan die “kundiges”. Asof “gewone” mense alleen deur andere – wat as kundiges erken word – die Bybel kan lees en die regte Boodskap hoor.
Daarom gryp baie gelowiges liewer na dagstukkies van kenners of na wat “kundiges” óór die Bybel sê, as die Bybel self.
Preke verwoord tot meditasies van spitsvondige mense oor Christelike temas. Mense wat ordentlikheidshalwe nog ’n Bybelteks bytrek, maar nie uitkom by die uitleg en toepassing van die Skrif nie. Dit word byna Middeleeus: Jy kan die Bybel alleen deur iemand uit die geleerde groep of die bemiddelende priesterstand verstaan.
Ook kry sinodes op hul agenda ’n soort Skrifuitleg wat vir baie gelowiges vreemde, ongekende praktiese implikasies het of eenvoudig niks vir elke dag oplewer nie. En erkende Godgeleerdes – die ou term – twyfel of hulle die Bybelse Boodskap as Woord van God kan verkondig.
Die teks van die Skrif word oorwoeker deur maatstawwe van buite. By sommige praat hul eie verstaan van die omstandighede of konteks van ’n Bybelgedeelte harder as die teks of die kern van die Boodskap.
Vir die modernis is dít wat die toets van sy verstand of rede slaag beslissend. By die post-modernis is ruimte vir verskille oor kernsake van die Bybel omdat elk se storie ’n plek moet hê en die Bybel volgens hulle geduldig daarby inval.
Baie word gesê oor die Bybel of wat die Bybel sou gesê het, terwyl die Bybel self nie aan die woord kom nie.
Ten minste twee duidelike gevolge spruit hieruit.
Die eerste is ’n bontpratery onder teoloë en predikante oor wat die Bybel oor sekere kwessies leer: die opstanding van Jesus Christus; die duiwel; homoseksualiteit; seks buite die huwelik. Handhaaf sommige nog die standpunt van geen seks buite die huwelik nie soos deur die staat erken, voeg hulle byna skoorvoetend die woordjie “verkieslik” daaraan toe. Niemand wil te absoluut klink of mense wat anders dink, uitsluit of vervreem nie.
Eerlike jong soekers na die waarheid vind dus meer by interkerklike figure soos Angus Buchan as by die tradisionele kerke. Soos jong Wes-Kaapse gemeentelede in ’n meningsopname aan kerkleiers gesê het: “Neem om vadersnaam net standpunt in, al is julle verkeerd!”
Die tweede is ’n weg-filosofering van Skrifwaarhede en ’n relativering van die Bybelse betekenis vir lewenskwessies of etiese sake. Daar is moderne teoloë wat die Bybeltekste oor homoseksualiteit so oorspeel met die destydse konteks dat hulle aflei die Bybel gee nie ’n mening oor moderne homoseksualiteit nie.
Asof die teks nie met die eintlike teks of konstantes en die konteks opereer nie. Asof die enigste Bybelse konstantes wat altyd geld, nie riglyne vir die alledaagse lewe is nie, maar slegs waarhede oor die God van die alledaagse lewe.
Asof die gelowige met net die Bybelteks as padkaart vir die lewe nie meer hoop het nie. Dit is nou die Bybel plus.
Mense wat die teks ernstig neem en as vertrekpunt gebruik, loop die gevaar om as fundamentaliste gebrandmerk en uitgeknikker te word.
Natuurlik moet Bybelse uitleg gepaardgaan met gesonde beginsels.
Ons as gelowiges bely ook dat die Bybel genoeg gee oor ons verlossing in alle lewensfasette en dat dit duidelik en verstaanbaar is. Dat die Skrif alleen – sola scriptura – een van die vertrekpunte van die hervorming van die kerk is.
Die Skrif laat ons in 2011 nie met ’n lugleegte of ’n verleentheid nie. Die Woord en Gees bevry ons om ’n groot, eenvoudige Skrifwaarheid na te jaag: ’n lewe tot eer van God! Hoe nader jy aan die Woord lewe, hoe duideliker en eenvoudiger word die betekenis daarvan vir jou lewe. ’n Eenvoud wat in 2011 steeds bekoor. ’n Eenvoud wat eenvoudig en ten diepste tot geloof en gehoorsaamheid lei.
– Volksblad