9 vrae aan Jan Lubbe ná Namibië besluit om uit verband te tree met Algemene Sinode en sodoende die samestellende sinodes van die NGK van 10 na 9 verminder

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

9 vrae aan Jan Lubbe ná Namibië besluit om uit verband te tree met Algemene Sinode en sodoende die samestellende sinodes van die NGK van 10 na 9 verminder

Deur Le Roux Schoeman / 22 Maart 2025

Die NG Kerk in Namibië het op 20 Maart tydens ’n sinodesitting in Windhoek ’n besluit geneem om uit verband te tree met die NG Kerk se Algemene Sinode (AS). Die dagbestuur van die AS se moderamen het daarna “met hartseer” reageer in ’n verklaring op 21 Maart. Kerkbode wou by die moderator van die NG Kerk se Algmene Sinode hoor…

1. KERKBODE (KB): WAAROP REAGEER DIE NAMIBIËRS HIER?

Jan Lubbe (JL): Die besluit van die Sinode van die NG Kerk in Namibië (NGKN) op 20 Maart lui dat daar “genoegsaam uitvoering gegee is” aan alle opdragte van hulle vorige Sinode (2022), dat prosesse soos voorsien “afgehandel” is en dat daardie besluit om uit verband met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika te tree, nou “van krag word”.

LEES OOK: NG Kerk Namibië tree ná jarelange proses uit verband met NG Kerk se Algemene Sinode

Die eintlike vraag is dus waarop die 2022-Sinode van die NGKN gereageer het? Dít weet ons, was kort ná die 2019 Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverbintenisse. Natuurlik het dit om méér gegaan in 2022 én in alle gesprekke sedertdien en óók rondom die 2023 Algemene Sinode – soos oor hoe ons die Bybel en ons gereformeerde belydenis lees en vertolk – maar in wese kom dit daarop neer dat die Matteus 18-pad waarvoor die NGKN in 2022 gekies het, volgens hulle 2025-Sinode tot ’n einde gekom het.

2. KB: WAT IS DIE PRAKTIESE KERKORDEREËLING WAT HIERDIE SKUIF MOONTLIK GEMAAK HET EN HOE HET DAARDIE REËLING TOT STAND GEKOM EN VIR WATTER DOEL?

JL: Die besluit van die 2022- én 2025-sinodes van die NGKN het berus op Hoofstuk 3 in ons gedeelde Kerkorde, wat handel oor ons kerkverband en vergaderings, en spesifiek Artikels 18 tot 22 en 32 tot 37. Dit is laasgenoemde Artikel (37) wat in 1962 ingevoeg is om die selfstandigheid van elk van die samestellende kerke in die Algemene Sinode te beskerm, wat in hierdie geval nou toegepas is. Die swaartepunt in daardie artikel is die frase dat só ’n uittrede uit die algemeen sinodale verband, “voor God in die lig van sy Woord geregverdig” moet wees – en dít is waarom die Namibiese gesprek die afgelope vyf jaar so intens was, ook in ander sinodes.

3. KB: WAT IS DIE VOOR- EN NADELE VAN DIE OPLOSSING WAT NAMIBIË GEKIES HET EN IN DIE BESLUIT UITGESPEL HET?

JL: “Voor-” en “nadele” is dalk nie die regte woorde nie, ook nie “wins” of “verlies” aan die Namibiese òf Suid-Afrikaanse kant van hierdie besluit nie. Die besluit sê in ’n sekere sin dat die “spanning” en “stryd” met en oor die Algemene Sinode van die NG Kerk nou tot die verlede behoort, en dat ’n nuwe pad voor die NGKN uitstrek.

LEES OOK: Lesse vir Suid-Afrika uit die NGKN se sinodale proses

Hulle het gekies vir tyd en ruimte om nou te fokus op wie hulleself is, om duidelikheid te kry oor hulle eie identiteit as ’n gereformeerde kerk, oor hulle belydenis van Wie God is en hoe hulle die Kerk van Christus verstaan, en oor hulle roeping in daardie land. En ín dit, hulle keuse vir die eenheid van daardie 43 gemeentes en hulle onderlinge versoening met mekaar. Dit kan alles “voordelig” vir die NGKN wees. Aan die ander kant, daar ís ook “verlies” in die verbygaan van ’n era van ses dekades waartydens die NGKN gebaat het by haar noue verhouding met die Algemene Sinode in Suid-Afrika, en die tyd sal uitwys wat dít op verskillende vlakke werklik was. Hulle nuwe pad is ietwat ongekaart – oor kerkbegrip, kerkverband en kerkorde – en dit sal eise aan hulle leierskap stel, veral ook omdat die NGKN in hulle besluit sê dat hulle wil soek na ’n plaaslike, breër “reformatoriese familieverband”; dít kan opwindend, maar beslis uitdagend wees.

4. KB: WATTER ASPEK VAN HULLE BESLUIT BEKOMMER JOU AS VOORSITTER VAN DIE ALGEMENE SINODE?

JL: Hoe hulle self as NGKN die 2025-besluit gaan verstaan, en hoe dit aan ons kant in die Algemene Sinode en NG Kerke hier vertolk gaan word – dit laat ’n mens besorgd. As dit as ’n “militante wegbreek” en “kwaadwillig” hanteer word, gaan dit baie skade doen, dáár én hier by ons. As ons egter teologies daaroor bly dink, en vanuit die diepte van die eenheid, heiligheid en algemeenheid van die Christelike Kerk wat ons bely, dan kán hierdie besluit ten minste die NGKN in hulle konteks help. Ek is wel besorgd oor die kragte van die NGKN; hulle is min dominees en daar is alreeds 12 gemeentes sonder ’n leraar. Mag hierdie besluit nie tot ’n uitputting van bedieningsbronne, teologiese isolasie en verdere versplintering lei nie.

5. KB: DINK JY DIE KLEM OP EENHEID EN SAMEHORIGHEID IN DIE NG KERK WORD SOMS GEPLAAS TEN KOSTE VAN BEGINSELSAKE WAAROOR MENSE VERSKIL?

JL: Wanneer “eenheid en samehorigheid” magsuitdrukkings word, wat gaan oor beheer en struktuur en om mense te dwing, ja. En dít kan van enige kant af gebeur. Ons “eenheid” en samewerking in ’n gereformeerde kerkfamilie, behoort egter juis op te kom vanuit ’n dieper beginsel, naamlik ons belydenis oor Christus en sy Kerk. Ons bely dat “die gemeenskap van die heiliges” beteken dat ons “elkeen en afsonderlik” deel het in Christus en sy gawes, en daarom “verplig is om (dit) gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend” (Heidelbergse Kategismus). Bonhoeffer se waarskuwing in sy boek Life together kom hier te pas: Oppas vir iemand wat nie alleen kán wees nie, oppas vir iemand wat nie saam kán wees nie. Daarom is wedersydse aanvaarding, onderlinge respek en ’n gepaste en ordelike optrede tussen mekaar so belangrik.

6. KB: WATTER ROL SPEEL DIE TYDSGEES IN DIE VERWIKKELINGE IN DIE NG KERK EN WAT IS DIE STERKSTE STROMINGE WAT JY SIEN?

JL: Tydsgees speel altyd en oral ’n groot rol in hoe kerke hulleself en hulle roeping verstaan; ons eie geskiedenis as kerkfamilie van vanjaar presies 360 jaar sedert 1665, illustreer dit op verskillende maniere, dit is nie iets nuuts òf noodwendig “boos” nie. Die vraag is eerder wát jy of ek as “die tydsgees” verstaan, en daarmee sê ons natuurlik veel meer oor hoe ons onsself en die konteks waarin ons leef, verstaan. Die bril waardeur ons kyk. In ons kerkfamilie leef daar verskillende teologiese strominge en spiritualiteite, komende uit ons oorspronklike gematigde Nederlandse herkoms, uit die vrome Skotse Presbiterianisme, uit die Anglo-Saksiese herlewings van die 19de eeu, uit die vroeg-twintigste eeuse Neo-Calvinisme, uit Amerikaanse fundamentalisme, uit die Duitse kerkstryd van die 1930’s en neo-Ortodoks gereformeerde teologie van Karl Barth, uit die protes-teologieë van die 1960’s. Meng daarby in ook nog ons “pioniersomstandighede” én die tipies Suid-Afrikaanse voorkeure vir selfstandigheid, vryheid én ’n weg van “rus en vrede”, dan hoor jy ál die aksente in ons huidige debatte. Ons is eintlik gewikkel in ’n gesprek oor onsself, oor “die siel van die NG Kerk”, wie ís ons tipies en kenmerkend? Die gevaar in só ’n gesprek, is dat ek mý standpunt as die enigste “Skriftuurlike” of “gereformeerde” wil voorhou, en dit ook nog op ’n onverdraagsame manier.

7. KB: WAT IS DIE PERKE VAN DIE OPLOSSING WAT JY NOU IN NAMIBIË SIEN? WAT SAL HULLE VIND IS DIE VOLGENDE GROOT UITDAGING, AS JY MOET VOORSPEL?

JL: Die perke van enige sinodebesluit of antwoord op ’n uitdaging, lê meestal in dit wat ons met ’n besluit nie kon voorsien nie, enersyds, en andersyds ons eie motiewe en agendas in die uitvoering van daardie besluite – dat ons op ’n manier magstryde sal wil voortsit, wíl wen. Die grootste uitdaging vir die NGKN gaan wees om binne hulle eie konteks, koers te vind en trou te bly aan hulle Christelike getuienis. Want die wesenlike vrae van ons tyd – oor hoe ons die Skrif lees en toepas, oor wat dit is om vandág en hier in Afrika gereformeerd te wees, oor etiese kwessies en oor demografiese ontwikkelinge in die Namibiese samelewing – gaan nie deur hierdie besluit “weg gaan” nie. Ons bid daarom die nuwe moderamen en die hele NGKN die leiding van Gods Gees en sy seën op hulle groot taak toe.

8. KB: OP ’N SEKERE VLAK HET DIE GESPREK MET DIE ASM TUSSEN 2022 EN 2025 NIE DIE STEMVERDELING OOR DIE VOORSTEL ENIGSINS GESKUIF NIE. WAT SÊ DIT VIR JOU OOR DIALOOG IN DIE KERK?

JL: My ervaring van die gesprekke in die ASM die afgelope vier jaar, was dat ons wél ’n dieper waardering en deernis vir mekaar gekry het, begrip vir verskillende kontekste en dat ons ’n versugting deel na vrede en ’n saam op weg gaan. Of ons dít egter in ons onderskeie sinodes, gemeentes en onder mekaar as kollegas ook oorgedra kon kry, is ’n ope vraag. Dáár lê die eintlike dialoog wat nodig is; plaaslik, konkreet, in persoon. Bygesê, ’n verskeidenheid van eksterne faktore het ook in hierdie tyd op ons gesprekke ingespeel, plus dan nog ons gewone menslike gebrokenheid – ja, die tydsgees van “mag is reg”.

9. KB: IS DIE GROEPSGEVOEL VAN APARTHEID SA, WAARTYDENS DIE AS ONTSTAAN HET, NIE BUITENDIEN UITGEDIEN NIE? MET ANDER WOORDE IS DAAR NOG BEHOEFTE ONDER LIDMATE OM ’N SINODE VAN SINODES TE HÊ?

JL: Die “groepsgevoel” onder Afrikaners – nasionalisme – van die middel-twintigste eeu is verby, ja. Maar dít was nie die enigste oorweging in die totstandkoming van die destydse Algemene Sinode nie. Die eerste “Raad van Kerke” uit 1907 en wat later ’n “Federale Raad” geword het, het opgekom uit ’n dieper verlange na mekaar en die belydenis dat ons één ís, én het ’n groot rol gespeel in die vervulling van ’n gesamentlike roeping in ons land. My belewenis is dat laasgenoemde al meer ons onderlinge en saakmakende band geword het; die oortuiging dat God ons hier geroep het om as Christelike kerk saam met ander en ín ons Suider-Afrikaanse konteks te getuig oor die kosbaarheid van sy Skepping, oor die waardigheid van lewe, oor die hoop wat daar vir almal in Christus se opstanding geleë is. Ons strukture – van gemeentes tot by sinodes én breër – moet ons daarin help. Hoe meer lidmate dít kan beleef, hoe duideliker sal die sin van saamwees en saamwerk vir hulle word. Ons is regtig nie só baie of só belangrik, dat ons versplintering kan bekostig nie.

Ds Jan Lubbe is voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen en predikant van die NG Gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein.

Lees die hieronder die volledige besluit soos verskaf deur die NG Kerk in Nambië hieronder. Asook die reaksie deur die dagbestuur van die ASM. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui