Kyk ook:
**********
Mag die liefde heel bly, al versplinter die kerk | Kerkbode
7 Januarie 2021
Lucas Visagie van Centurion skryf: In die Christelike geloofsgemeenskappe was daar nog altyd verlore mense, dié wat vrylik Protestants ’n eie rigting neem en konstant afsplinter, en dié wat soekend en akkommoderend, bloot eerlik vanuit hulle eie gebrokenheid, besef die enigste heling is die liefde.
Is enige vorm van uitsluiting nie blote liefdeloosheid nie? As die NG Kerk sy deure toemaak om enige iemand buite te hou, behoort die geloofsgemeenskap hulleself dringend en selfkrities af te vra: Nou waarvoor staan ons dan na alles? Die geloofsgemeenskap wat bely dat hulle Christus wil navolg, sal beslis ’n kerk wees vir alle mense.
[Kommentaar: “Is enige vorm van uitsluiting nie liefdeloos nie?” As jy nie ’n universalis is nie, dan glo jy dat God sommige (goeie) mense hel toe stuur. Hierdie vraag impliseer dus dat God ook liefdeloos is.]
Of gay-wees sonde is, betwyfel ek. [Kommentaar: Die Bybel is baie duidelik daaroor.] Waaroor ek seker is, is dat ons wat nie gay is nie, hierdie mense wat ’n ander seksuele oriëntasie het, al so verwond het, dat van hulle hulleself verskans in gedaantes wat hulle nie is nie. Dit opsigself behoort ’n klag teen elke lidmaat te wees wat die taal van verwerping onnadenkend uitspreek oor hulle wat gay is.
God se genade en die liefde van Christus kan nie net beskibaar wees vir hulle wat ’n Bybelse saak wil uitmaak dat hulle die enigste en ware standpunt beet het in hulle verstaan van die letter van die Woord nie. Die Woord – en die verstaan daarvan – is vir almal. Hierdie beskikbaarwees van die liefde en genade kan geen geloofsgemeenskap in voorwaardes verander nie.
Wanneer ons vorentoe storm met uitsluitingsklousules oor die liefde, speel ons God en speel ons liefdeloos onkant, wat die evangeliese boodskap se hart liefdeloos uitruk. Uitsluiting en veroordeling raak sinonieme.
[Kommentaar: En as jy nie die Bybel wil glo oor dinge wat baie duidelik daarin staan nie, dan skep jy jou eie god.]
Ons moet waak dat ons in hierdie lewe nie voorskriftelik en voorwaardelik reëls belangriker maak as die lewe self nie. Al sukkel ons om onsself te vind en te verstaan, mag dit nie tot uitsluiting van die liefde en mense wat dalk baie anders as ekself is, wees nie. Die liefde kom eerste, dit sluit almal in wat ernstig is daarmee, en dit oorbrug ons verskille waar ons bloot nie weet nie. En waar ons nie vir seker weet nie, kan ons ons veel eerder misgis met die diepte en omvang van Christelike liefde.
[Kommentaar: Die probleem met die liefde-is-liefde-beginsel is, waar trek jy die lyn? Kyk Liefde is liefde.]
Die liefde omarm sonder voorwaardes, dit maak heel sonder vrae, dit splinter nie op nie, en hou nie mense buite waar hulle saam in die kring hoort nie, ongeag hoe hulle aanmekaar gesit is. Die liefde bou brûe, dit skep nie fiktiewe grense van wie hoort en wie nie.
Ons soek saam, terwyl ons mekaar naby hou.