Kyk ook:
Daar is baie goeie rede om op ’n rasionele manier te glo dat daar ’n god moet wees. Hier volg ’n paar dinge wat ons nie kan verklaar sonder ’n god nie:
Inhoudsopgawe
1. Waar kom materie vandaan?
Die wet op behoud van massa sê dat geen materie geskep of vernietig kan word nie. Dus, as daar aan die begin niks was nie, waar kom al die materie van vandag vandaan?
Jy kan redeneer dat materie geskep kan word deur Einstein se formule E = mc2, maar dan moet jy die ontstaan van energie eers verklaar.
2. Waar kom energie vandaan
Die wet van behoud van energie, ook bekend as die eerste wet van termodinamika, sê dat energie nie geskep of vernietig kan word nie. Dit kan slegs omgesit word van een vorm na ’n ander. Byvoorbeeld, potensiële energie kan omgesit word in bewegingsenergie.
As daar geen energie voor die skepping (of oerknal) was nie, beteken dit die heelal sou by nul Kelvin, of -273.15 grade Celsius wees. Waar kom die hitte van die son en al die ander sterre in die heelal vandaan?
3. Waar kom nuttige energie vandaan?
Volgens die tweede wet van termodinamika raak alle energiebronne op. Daar word ook daarna verwys as entropie wat neig na ’n maksimum. Die beste voorbeeld van ’n nuttige energiebron, is die son wat letterlik alle energie op aarde vir ons gee. Ons weet egter dat die son stadig maar seker besig is om uit te brand en sal na beraming oor 7 tot 8 miljard jaar nie meer energie aan die aarde kan verskaf nie. Dit is waar vir al die sterre in die heelal: oor miljarde jare van nou af sal die hele heelal slegs een gemiddelde temperatuur wees. Vir meer hieroor, kyk Waar kom al die nuttige energie vandaan?
4. Waar kom die natuurwette vandaan?
Die natuurwette word soms as vanselfsprekend aanvaar, maar ook dit moes geskep gewees het. Hier volg ’n lys van natuurwette:
- Behoud van energie
- Behoud van massa
- Archimedes se wet
- Coulomb se wet
- Dalton se wet
- Newton se bewegingswette
- Newton se Swaartekragwet
- Ohm se wet
‘n Eenvoudige ding soos gravitasie is steeds ’n misterie vir wetenskaplikes (kyk Gravity, The mystery force). Sonder gravitasie sou die heelal egter nie kon bestaan nie omdat dit onder andere planete in hulle wentelbane hou.
5. Waar kom lewe vandaan?
Om die eerste lewe te verklaar is ’n reusagtige dilemma. Jy het basies die volgende dinge nodig:
- DNS inligting
- Aminosure
- Proteïene
- Lewe
Kom ons bespreek elkeen van hierdie dinge kortliks:
5.1. Waar kom DNS inligting vandaan?
Alle lewende dinge bevat DNS-inligting. Hierdie inligting is uiters noodsaaklik, want dit bepaal alle eienskappe van die lewende organisme. DNS word soms die boek van die lewe genoem. Geen regdenkende mens sal egter glo dat enige boek deur middel van ewekansige prosesse geskep kan word nie.
Kyk:
5.2 Waar kom aminosure vandaan?
Aminosure is die boublokke van proteïene wat nodig is vir lewe. Die Miller-Urey eksperiment het wel aminosure opgelewer, en is deur ateïste met ope arms verwelkom, maar daar is hopeloos te veel probleme om dit as ’n realistiese opsie te klassifiseer. Dus is daar tans nog geen realistiese hipotese hoe die regte aminosure spontaan kon vorm nie.
5.3 Waar kom proteïene vandaan?
Om alleen die boublokke van lewe (proteïene) te kry deur ’n ewekansige proses, verg ’n groot klomp geloof. In Meer oor waarskynlikhede en Hawking, word gewys hoe uiters onwaarskynlik die regte proteïene vanself tot stand sal kom.
5.4 Die probleem van abiogenese?
As jy die boublokke vir lewe het (proteïene) en daar is DNS inligting beskikbaar, beteken dit steeds nie dat jy lewe het nie. Wanneer jy ’n visblikkie oopmaak, kry jy ALTYD net dooie vis. Jy sal nooit, enige lewende ding in so ’n blikkie kry nie, ten spyte van die feit dat alles wat nodig is vir lewe teenwoordig is.
Netso, wanneer jy ’n padda in ’n voedselverwerker sit, het jy al die boublokke vir lewe, maar nooit sal daar ’n nuwe lewende vorm ontstaan uit ’n opgekapte padda nie.
Geen dokter kan ’n mens weer lewendig maak as hy eers dood is nie, ten spyte van die feit dat hy al die boublokke vir lewe tot sy beskikking het.
Kyk ook:
5.5 Panspermia
Panspermia is die idee dat buiteruimtelike wesens die eerste lewe op aarde geplant het. Die rede vir hierdie idee is niks anders nie as omdat dit so onwaarskynlik is dat die eerste lewe spontaan kon ontstaan het. Die probleem met panspermia is dat die probleem van eerste lewe sonder God bloot verder weg geskuif word. Die feit dat heelwat ateïste aanhangers hiervan is (onder andere Richard Dawkins) is op sy eie ’n bewys dat daar ’n god is.
Kyk ook Panspermia.
6. Wonderlike planeet aarde
Om lewe op aarde moontlik te maak, is daar ’n groot aantal faktore wat in plek moet wees, anders sal lewe onmoontlik wees. Dit sluit dinge in soos:
- Die aarde het baie water
- Somers en winters is nie te lank of te kort nie
- Die aarde is die regte afstand van die son sodat die temperatuur op aarde reg is
- Die aarde se wentelbaan is byna ’n perfekte sirkel wat sorg dat die temperatuur op aarde nie te veel skommel nie
- Die son is die regte grootte
- Die aarde se inklinasiehoek is reg sodat seisoene optimaal is
- Die aarde se rotasiespoed is reg sodat die dag en nag temperature nie te veel verskil nie
Vir meer inligting hieroor, kyk:
7. God in die wiskunde
God wys homself vir ons selfs in die wiskunde. Kyk God in wiskunde.
8. Die heelal het ’n begin
Soos genoem in Waar kom nuttige energie vandaan? hierbo, loop die heelal af. Oor miljarde jare sal al die sterre in die heelal uitgebrand wees en die heelal sal oral een gemiddelde temperatuur wees. Dit is daarom dat almal dit eens is dat die heelal ’n begin het. Ateïste en evolusioniste glo dat alles begin het met die oerknal.
Een van die mees gevestigde beginsels van logika / wetenskap / werklikheid is die oorsaaklikheidsbeginsel of kousaliteitsbeginsel (Engels=”principle of causality“):
Alles wat ’n begin het, het voldoende oorsaak.
Alles wat aan ons bekend is, in die fisieke wêreld, is die gevolg van een of ander oorsaak. Niks begin sonder ’n oorsaak nie.
Die begrip “oorsaak en gevolg” val ook hieronder.
Hier is ’n paar voorbeelde:
Begin | Oorsaak |
---|---|
Vuur wat brand | Vuurhoutjies, aansteker, vergrootglas |
‘n Persoon kry griep | Blootstelling aan griepvirus |
Tafel | Iemand het die tafel gemaak omdat hy dit nodig gehad het |
‘n Klip rol van ’n berg af en land op ’n kar | Erosie het die klip voldoende losgemaak sodat dit van die berg afgerol het |
Dus, omdat die heelal ’n begin het, het dit ’n oorsaak en kon dit dus nie vanself ontstaan nie.
Kyk ook:
- Who created God?
- Oor Oorsaak en gevolg (Kobus de Klerk, 18 Apr 2016)
********
9. Waar kom morele waardes vandaan?
Die ontstaan van morele waardes is streng gesproke nie ’n aanduiding dat daar wel ’n god is nie, maar indien daar nié ’n god is nie, dan is daar geen absolute morele waardes nie. Ek mag dalk dink dat diefstal of moord onaanvaarbaar is, maar die volgende persoon nie. Daar is geen gronde waarop ek so ’n persoon anders sal kan oortuig nie, tensy daar ’n hoër gesag is waarop ek my kan beroep.
Kyk:
- Die Transendentale Argument (Pieter van Deventer, 25 Des 2020, Youtube)
- Moraliteit
10. Waar kom God vandaan?
Alles hierbo in ag geneem is dit sinneloos om te vra waar God vandaan kom of wie het God geskep. Dit is iets wat ons nooit sal weet nie en ook nie sal verstaan nie. Die feite hierbo genoem maak die ontstaan van God baie meer waarskynlik as om die ontstaan van alles te probeer verklaar sonder God.
Dit is soos Norman L Geisler en Frank Turek sê met hulle boek se titel:
I Don’t Have Enough Faith to Be an Atheist
Dit is werklik soos die Psalmdigter in Psalm 14:1 sê:
Die dwaas dink daar is geen God nie.
En soos Paulus sê in Romeine 1:
(18)God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. (19)Wat ’n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. (20)Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, (21)omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. (22)Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas.
Kyk ook Waar kom God vandaan?
Die mens het god en gode geskep nie anders om nie! Yahweh, die Bybelse god, is bewys daarvan. Daar is geen manier dat so wese kan bestaan of bestaan het nie! Lees die Bybel met n oop gemoed en jy sal die lig sien en dankbaar wees dat so n ongebalanseerde siek wese deur siek mense op gemaak is en gelukkig nie kan bestaan nie! Daar is duisende gode en gelowe al geskep deur mense, so ook die christen geloof met duisende denominasies, maar moenie worry nie. Joune is die regte een🤔 Groetnis en laat leef en laat leef!
Apie, dit is vir my veel meer rasioneel om te glo dat daar ’n god is was geskep het en saam te leef met sommige dinge wat ek nie verstaan nie as om te glo dat alles vanself gebeur het.
Kyk Om God en die Bybel te verstaan en Sal ’n God van liefde opdrag gee om vroue en kinders dood te maak?. Miskien help dit met antwoorde. Ek het egter ’n idee dat ons mekaar nie gaan vind nie 🙂
Terloops, ek dink dit is “Leef en laat leef” 🙂
Apie, ek gaan nie so diplomaties soos Daniel wees nie. Ek lees die Bybel met ‘n oop gemoed en sien toe Spreuke 26:5 “Antwoord die dwaas na sy sotheid, sodat hy nie wys is in sy eie oë nie”. As die mens ‘n god geskep het, het hy maar ‘n groot gemors daarvan gemaak, gegewe die selfsug, wreedheid, die siektes waarvan jy praat, die oorloë en die duisende gelowe wat hy al geskep het. Jou woorde! Het jy al gehoor van die soeke na en vind van God wat by mense soos Anselmus (Engels Anselm), Thomas van Aquino (Engels Thomas of Aquinas) en Willem van Ockham (Engels William of Occam – ja die man van Occam se skeermes of Occam’s razor) in die middeleeue mee besig was? Hoe kan jy in die skoonheid van Euler se identiteit of die grootheid van Graham se getal God die Skepper miskyk? Ons is in die 21ste eeu en nog steeds weet jy minder as mense van 1000 jaar gelede! Ek bekommer (worry) nie, want Daniel en my God is die waaragtige Een, maar jou god, deur jouself geskep, is die probleem! Jy is die probleem. So ek lees weer die Bybel. In Spreuke 26:4: “Antwoord die dwaas nie na sy sotheid nie, sodat jy nie ook nes hy word nie”. As jy met godslasterlike ontkenning antwoord, was dit my laaste teks aan jou. Terloops, Spreuke is tussen Psalms en Prediker, maar ek is nie seker dat jy dit sal kry nie, want jy kan nie die Bybel met ‘n oop gemoed lees nie. Judas 1:10 “Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde”.