Kyk ook:
Die volgende artikel het oorspronklik in Netwerk24 verskyn. Dit laat ’n mens regtig wonder oor die NGK leierskap se motiewe.
**************
Vrae oor Belhar-uiteinde | Netwerk24
Donderdag 19 Februarie 2015 03:00
Ongelooflik! Ds. Helgard Jansen van Rensburg, moderator van die NG Kerk in die Vrystaat, noem in Dinsdag se hoofberig dat ’n proses van heling in die kerk begin gaan word en dat nie toegelaat moet word dat Belhar ’n skeuring veroorsaak nie.
Twee jaar gelede het ek op versoek ’n beskrywingspunt met dieselfde strekking op die Vrystaatse sinode van die NGK in die Vrystaat ingedien.
Dit is op obskure wyse verwerp. Dit het daarop neergekom dat die sinode ’n proses van heling en versoening verwerp, ongeag die bloedspoor van verguising wat lidmate al moes verduur.
Wat hordes lidmate hinder, is dat die kerkleiding steeds lidmate in die duister hou oor wat die uiteinde volgens hul visie gaan wees.
Ek verneem van ’n ooreenkoms dat die VGK vanjaar al sak en pak by die NGK se moderamenskantore gaan intrek; dat die NGK al die koste sal dra; dat daar een administrasie sal wees; dat die NGK se naam gaan verdwyn en die kerkorde gewysig gaan word; Belhar gaan ’n volledige belydenisskrif word; en ’n oudit van al die NGK se bates gaan gedoen word sodat die NGK restitusie aan die dan gewese VGK kan betaal. Dit beteken betaal vir jul apartheid-sonde.
Die VGK verwerp die huidige proses. Belhar volledig of niks.
Indien die kerkleiding ’n plan het om verwerping te omseil, is daar nog ’n plan om diegene wat nee gestem het, te begelei om om te keer. Die VGK het by geleentheid verklaar dit sal tydelik wees. Daardie lidmate sal dan moet padgee. Hul straf.
Belhar is ’n oorlogsverklaring wat die NGK moet vernietig. Die veroweraar sal met die hulp van joiners die buit verdeel.
Ná die Bothaville-sinode het di. Van Rensburg, Jan Lubbe en die skriba op ’n ontmoeting met my probeer om die “klippies uit jou skoen te verwyder” weens my teenstand oor die wyse waarop die proses gedryf word.
Ek het gevra wie gaan die rotsblokke uit jul skoene verwyder? Probeer liewer heel en versoen. Nou eers word die aas gesluk.
Sou dit ook gebeur het as die stemming ja was? Ek glo nie.
Piet Theron
Bloemfontein